Coram Deo Cover Image

Coming soon...

21 December 2013

Hemel op aarde

Deer by tree

8 Ook het die HERE God ‘n tuin geplant in Eden, in die Ooste, en daar aan die mens wat Hy geformeer het, ‘n plek gegee. 9 En die HERE God het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet; ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van die kennis van goed en kwaad. 10 En daar het ‘n rivier uit Eden uitgegaan om die tuin nat te maak; en daarvandaan is dit verdeel en het vier lope geword. 11 Die naam van die eerste is die Pison.  Dit is hy wat om die hele land Háwila loop waar die goud is. 12 En die goud van dié land is goed.  Daar is ook balsemgom en onikssteen. 13 En die naam van die tweede rivier is die Gihon.  Dit is hy wat om die hele land Kus loop. 14 En die naam van die derde rivier is die Hiddékel [Tigris].  Dit is hy wat oos van Assur loop.  En die vierde rivier is die Frat [Eufraat]. 15 Toe het die HERE God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak. 16 En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê:  Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, 17 maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.” (Genesis 2).

 

Die mens in die tuin (v.8, 15)

God beskryf Homself in v.8 as 'n landskap-argitek wat 'n tuin ontwerp, plant en uitlê.  Die tuin van Eden was in die ooste (v.8).  Hiermee bedoel Moses natuurlik oos van waar hý was toe hy Genesis 2 geskryf het.  Die tuin se naam (Eden) beteken plesier.  Jesaja 51:3 beskryf dit so:  “Want die HERE vertroos Sion; Hy vertroos al sy puinhope en maak sy woestyn soos Eden en sy wildernis soos die tuin van die HERE; vreugde en blydskap sal daarin gevind word, danksegging en die klank van liedere.”  Eden was so en Jerusalem (Sion) sou ook so word.  Jesus is juis besig om hierdie ewige Paradys vir ons voor te berei:  “In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het.  Ek gaan om vir julle plek te berei.  En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.” (Johannes 14:2-3).  God self het die stad ontwerp (net soos met die tuin van Eden).  “Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is...Maar nou verlang hulle na ‘n beter een, dit is ‘n hemelse.  Daarom skaam God Hom nie vir hulle om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle ‘n stad berei.” (Hebreërs 11:10, 16).  Hoe sal dit wees?  Ons kan hiervan lees in die Skrif:  “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.  Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar” (1 Korintiërs 2:9-10).  Hoe kan jy by hierdie stad inkom?  “Blessed are those who wash their robes [in the blood of the Lamb, cf. 7:13-14], so that they may have the right to the tree of life and that they may enter the city by the gates.” (Openbaring 22:14, ESV).  Hoe was jy jou ‘klere’ in die bloed van Jesus?  Jy bely jou sondes, bekeer jou daarvan, en vertrou met jou hele lewe op Jesus (sy Persoon en sy verlossingswerk) om jou te red en te vergewe.

 

God het die mens in die tuin gesit om dit te bewerk en te bewaak (v.8, 15).  Waarvan moes hy die tuin bewaak:  daar was mos nog nie gevaarlike diere nie?  Ja, maar selfs 'n mak hond lê jou viooltjies plat en grawe jou gesiggies uit.  Voëls en muise is nie gevaarlik nie, maar hulle saai verwoesting in jou groentetuin.  Daarom het God vir Adam gesê om die tuin te bewerk en te bewaak.  God het werk uitgedink dat ons sy beeld kan weerspieël (1:26-28, 2:1-3, 15), en ook sodat ons vervulling kan hê (kyk maar hoe gefrustreerd en sleg raak mense wat nie wil werk nie).  Voor die sondeval was werk 'n plesier (soos dit in die hemel sal wees, cf. Openbaring 22:3).  Na die sondeval het dit moeiliker geword (3:17-19).  As werk dan een van die goeie dinge is wat God gemaak het (1:31), moet ons nie lui wees en werk haat nie.  Ons moenie dink:  ‘Ek wil 'n miljoenêr wees voor ek 40 is, sodat ek vroeg kan aftree en nie verder hoef te werk nie’.  Ons moenie wens ons kan altyd slaap of vakansie hou nie.  Ons moet hard werk en nie ons ure by die werk om klets, op Facebook sit, ekstra koffie breke vat, dagdroom of swak gehalte werk lewer nie (dit geld ook vir skoliere se huiswerk en take).  As jy werkloos is, moet jy pasop dat jy nie die verskoning gebruik dat werk skaars is as jy nie eintlik baie hard vir werk soek nie.  Christene moet harde, deeglike en goeie werk doen.

 

Adam moes die tuin kultiveer, sodat dit nie sou toegroei of onversorg lyk nie.  God sê nie noodwendig dat almal groen vingers moet hê nie, maar Hy wil hê dat jou lewe en werk nie onversorg lyk of ‘toegroei’ nie.  Moenie laat werkies in die huis, projekte by werk, papierwerk, jou gesondheid, jou voorkoms, jou huwelik, jou gesin, jou kerk lewe, jou vriendskappe, jou stiltetyd agterweë bly en deurmekaar raak nie.  Werk hard en bly op datum.  Dit was nie nodig vir Adam om die tuin te verwoes nie; as hy net sy plig versuim het, sou dit self agteruitgaan.  Net so bly jou werk en lewe nie noodwendig agterweë omdat jy dit haat nie.  Maar om na te laat en min aandag daaraan te gee is genoeg om 'n vernietigende effek te hê.  As daar dinge in jou lewe is wat toegegroei het, moet jy hard werk om herstel te bring.  As jy eers die ‘tuin’ in orde gekry het, is dit baie makliker om te onderhou.  Watse dinge moet jy ophou doen om jou onversorgde ‘tuin’ reg te ruk?  Wat moet jy begin doen om orde te handhaaf?  As jy 'n lui mens is (fisies, emosioneel, intellektueel, geestelik, watookal) is daar hoop in Christus.  Hy kan die lui man van Spreuke 24:30-34 in 'n hardwerkende persoon verander.

 

Die riviere in die tuin (v.10-14)

Toe God die tuin klaar geplant het, was daar nog nie reën nie (v.5-6).  God het 'n rivier in die tuin laat vloei, sodat Adam dit kon natlei (v.10).  Vir die eerste lesers (onthou hulle was in die woestyn) het riviere en bome gespreek van lewe, voorspoed en oorvloed (cf. Jeremia 17:5-8).  Die rivier wat uit Eden ontspring het, het in vier sytakke verdeel (v.10-14):

 

[a] Die Pison (die naam beteken ‘toeneem’) het om die land van Hawila gevloei (oos van Egipte, cf. 25:18).  Daar was goud, oniksstene en 'n geurige boomgom wat gebruik is om parfuum mee te maak.  [b]  Die Gihon (die naam beteken ‘uitborrel’) het om die land van Kus gevloei (nie moderne Etiopië nie, maar 'n land naby Babilon cf. 10:8-11).  [c] Die Tigris (Hiddekel beteken ‘vinnig’, cf. Dan.10:4) en [d] Eufraat (Efrat beteken ‘vrugbaar’, cf. 15:18) vloei oos van Assirië (suid-Irak soos ons dit vandag ken).  Om vir ewig te lewe het ons meer as water uit 'n rivier nodig.  Die Bybel praat van lewende water:  “En hy het my getoon ‘n suiwer rivier van die water van die lewe, helder soos kristal, wat uitstroom uit die troon van God en van die Lam...En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.” (Openbaring 22:1, 17).  Hoe kry jy hierdie lewende water?  Jesus antwoord:  “Hy wat in My glo, soos die Skrif sê:  strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.” (Johannes 7:38).

 

Die bome in die tuin (v.9, 16-17)

Professionele kokke se kos proe nie net lekker nie – dit lyk lekker.  So was die vrugte in Eden:  “En die HERE God het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet...En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê:  Van al die bome van die tuin mag jy vry eet” (v.9, 16).  1 Timoteus 6:17 sê God het “ons alles ryklik verleen om te geniet”.  Voordat God in v.17 'n verbod op een boom geplaas het, het Hy in v.16 beveel dat Adam die vrugte van elke boom moes geniet.

 

In die middel van die tuin het God die Boom van die Lewe geplant (v.9).  Dié vrugte kon 'n mes vir ewig laat lewe (3:22, Ek twyfel dat daar bonatuurlike krag in die vrug self was.  In die nagmaal gebruik ons gewone brood en wyn, en tog gee God bonatuurlike sterkte vir ons groei en geloof wanneer ons dit gebruik).  Anders as die Boom van die Lewe, sou die Boom van Kennis van goed en kwaad tot die dood gelei het (v.9, 17).  Dit kan nie wees dat die vrugte giftig was nie, want anders sou God nie in 1:31 gesê het dat sy skepping baie goed was nie.  Die rede waarom die boom se vrugte tot die dood sou lei, is omdat dood die uiteindelike gevolg van sonde is (Romeine 6:23).  Die dood waarvan hier gepraat word sluit fisiese, geestelike en ewige dood in.  Die dag toe Adam en Eva gesondig het, is hulle van God geskei (3:21).  God was genadig en het hulle nie onmiddellik doodgemaak nie.  Hy het eerder 'n offer gebring en diere in hulle plek doodgemaak (3:21).  Baie jare later het hulle tog gesterf (5:5).  Die geestelike, en uiteindelik ewige dood, was hulle voorland... as dit nie vir die belofte van Christus was nie (3:15).

 

In die hemel kan ons weer van die Boom van die Lewe eet (Openbaring 22:2, 14).  Anders as in Eden, is daar nie 'n Boom van die kennis van goed en kwaad nie.  En anders as in Eden, bestaan daar in die hemel nie die moontlikheid dat ons kan sonde doen en sterf nie.  In die hemel sal jy nie (soos Adam) 'n stoflike liggaam hê nie, maar 'n verheerlikte liggaam.  Hoe kan jy hierdie wonderlike voorregte geniet?  As Adam vir God geluister het en nie van die verbode vrugte geëet het nie, sou sy gehoorsaamheid aan ons toegereken word (net soos wat sy sonde aan ons toegereken is).  Ongelukkig het Adam nie die toets geslaag nie.  Maar daar is goeie nuus.  Jesus (die tweede Adam) hét die toets geslaag.  Adam was in die Paradys toe hy die toets gedop het.  Jesus was in die woestyn toe Hy die toets geslaag het (cf. Matteus 4:1-11).  Deur sy hele lewe was Jesus volmaak gehoorsaam.  Sy perfekte geregtigheid word nou aan ons toegereken (Romeine 5:12-21).  In Christus het ons dan nou meer as wat Adam ooit gehad het.  Ek glo die Heilige Gees het Genesis 2 in die Bybel gesit om vir ons te wys wat ons kón gehad het, asook wat ons kan herwin deur Christus.  Hoe kan jy dit terugkry?

 

Die Boom van die Lewe is deur Adam se ongehoorsaamheid van ons af weggeneem.  Deur Jesus se gehoorsaamheid en kruisdood is dit aan ons teruggegee:  “Want soos deur die ongehoorsaamheid van die een mens baie tot sondaars gestel is, so sal ook deur die gehoorsaamheid van die Één baie tot regverdiges gestel word.” (Romeine 5:19).  “Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ‘n vloek te word—want daar is geskrywe:  Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout [Gk. boom] hang” (Galasiërs 3:13).  Die kruishout waaraan Jesus gehang het is ons ‘Boom van die Lewe’, want daardeur het daar vir ons lewe gekom.  Omdat Jesus God is, weet Hy alles en ken Hy sonde soos wat 'n spesialis (onkoloog) kanker ken.  Omdat Jesus mens was en ons sonde op Homself geneem het aan die kruis, ken Hy sonde soos wat 'n pasiënt kanker ken (2 Korintiërs 5:21).  Hy het dus namens ons die straf gekry vir sy ‘kennis’ van ons sonde (cf. die Boom van die kennis van goed en kwaad).

 

Jy hoef nie vir die hemel te wag om die Boom van die Lewe te geniet nie.  Enigiemand wat die wysheid van die evangelie omhels kan die boom se vrugte eet (Spreuke 3:13, 18, 1 Korintiërs 1:30).  As jy met die Gees gevul is en sy vrug dra, kan jy 'n idee kry van watse plesier die Boom van die Lewe gee (Spreuke 11:30, Galasiërs 5:22).  Moenie tevrede wees met klein plesiere nie, maar vind jou hoogste plesier in Jesus Christus (Psalm 37:4).  As jy dít doen sal jy 'n voorsmaak hê van die Boom van die Lewe (Spreuke 13:12).  Goeie woorde is 'n Boom van die Lewe vir die wat dit hoor (Spreuke 15:4).  Watse beter Woord is daar as God s'n?  As jy sonde en vals lering oorkom sal jy deel hê aan die Boom van die Lewe (Openbaring 2:7).  As jy die Woord suiwer bewaar en nie daarvan wegneem of byvoeg nie, sal jy van die Boom van die Lewe eet (Openbaring 22:19).  Soos in die begin, sal dit hemel op aarde wees.

Kategorieë