Lukas 17:7-19
Wat soek die Here van my; wat is sy wil vir my lewe? Baie gelowiges vra dit, veral as hulle swaarkry of groot besluite moet neem. Jy hoef nie oor God se wil te wonder nie. Sy Woord sê vir jou wat dit is (eie beklemtoning):
“Hy het aan jou, mens, bekend gemaak wat goed is: Wat anders eis die Here van jou as om net te doen wat reg is, om troue liefde te bewys en om nederig die pad saam met jou God te loop?” (Miga 6:8).
“Want dit is die wil van my Vader: Dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo die ewige lewe sal hê, en Ek sal elkeen van hulle op die laaste dag laat opstaan.” (Joh. 6:40).
“Wees altyd bly; bid sonder ophou; wees in alle omstandighede dankbaar; want dit is God se wil vir julle in Christus Jesus.” (1Tess. 5:16-18).
“God wil immers hê dat julle, deur goed te doen, die onkunde van dwase mense stopsit.” (1Pet. 2:15).
“Dus moet ook hulle wat, in ooreenstemming met die wil van God, ly, hulle lewe aan die getroue Skepper toevertrou deur te doen wat goed is.” (1Pet. 4:19).
“Moenie die wêreld, of wat in die wêreld is, liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die liefde van die Vader nie in hom nie, want alles in die wêreld—dit wat die liggaam begeer, en dit wat die oë begeer, arrogante spoggery oor besittings—is nie uit die Vader nie, maar uit die wêreld. En die wêreld en sy begeertes gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly tot in ewigheid.” (1Joh. 2:15-17).
“I delight to do your will, O my God; your law is within my heart.” (Ps. 40:8, ESV).
Vir God is die belangrikste nie dat jy met Marie of Sarie trou nie, maar dat jy seksueel rein is, met ’n Christen trou en jou vrou liefhet (1Kor. 7:39, Ef. 5:22-33, 1Tess. 4:3-8). Waar jy werk is nie belangrikste nie, maar dat jy jou werk reg doen, jou baas respekteer en jou werkernemers regverdig behandel (Ef. 6:5-9). God besluit waar jy bly, waar jy werk, of jy trou en met wie jy trou (Deut. 29:29a, Jak. 4:13-17). Jou plig is om in hierdie dinge God se wil in die Bybel te gehoorsaam (Deut. 29:29b). Sy wil is onder andere dat jy nederig en dankbaar moet wees.
1. Nederigheid (v.7-10)
Die Bybel sê Jesus kom soos ’n dief in die nag. Die feit dat Jesus hierdie beeld gebruik, beteken nie diefstal is goed nie. Die wederkoms is slegs in een opsig soos ’n dief wat inbreek: dit is onverwags.
Net so beteken Jesus se illustrasie van slawe en ’n meester nie Hy keur slawerny goed nie. Ons is slegs in een sin soos slawe (Gk. doulos), naamlik dat ons nie ons eie is nie, maar aan ons meester behoort. Daarom sê Jesus: “Wie van julle sal, as hy ’n slaaf het wat besig is om te ploeg of skape op te pas, vir hom sê, wanneer hy van die veld af kom, ‘Kom leun dadelik aan om te eet.’ Sal hy nie eerder vir hom sê, ‘Maak vir my iets gereed om te eet, omgord jou heupe en bedien my, totdat ek geëet en gedrink het; en daarna kan jy eet en drink!’ nie? Hy bedank tog nie die slaaf net omdat hy sy opdragte uitgevoer het nie! Dieselfde geld vir julle: Wanneer julle alles gedoen het wat aan julle opgedra is, sê dan, ‘Ons is nikswerd slawe. Ons het net gedoen wat ons moes doen.’ ” (v.7-10).
Jesus het ons geskep en ons verlos (Jes. 43:1, 1Kor. 6:19-20). Daarom is ons nie ons eie nie, maar slawe van Christus (1Kor. 7:23, Joh. 13:13, Fil. 1:1, doulos). Jy is nie jou eie god nie (Gen. 3:5). Jy lewe nie vir jouself nie, jy sterwe nie vir jouself nie (Rom. 14:7). As Christene lewe ons vir Christus wat vir ons gesterf het en weer opgestaan het (2Kor. 5:15). Hy alleen is ons leermeester (Matt. 23:8-10). Ons hang nie mense aan nie—ons gunsteling predikers is onwaardige slawe (1Kor. 3:4-5, 4:1). Laat niemand jou manipuleer nie (2Kor. 11:20). Moenie na mense se pype dans en sodoende ’n slaaf word nie. Wie mense probeer behaag, word hulle slaaf en is nie ’n slaaf van Christus nie (Gal. 1:10).
As ’n slaaf van Christus skuld jy Hom jou danksegging, lofprysing en jou hele lewe (v.18, Jes. 43:7, Rom. 12:1). Hy skuld jou niks (v.10). Hy benodig jou nie en jou diens bevoordeel Hom nie (Hand. 17:25). Jy is bevoorreg om Hom te kan dien (1Tim. 1:12). Hy verloor niks as jy Hom afskeep nie. Jy ly skade. Wees dankbaar en gebruik die geleentheid wat Hy jou gee om Hom te dien. Moenie ’n dankie verwag, omdat jy jou Bybel lees, bid, kerk toe kom, tiendes gee of in die gemeente dien nie. Jou beste opoffering is klein in vergelyking met Christus se opoffering om mens te word en aan ’n kruis te sterf. Bely dat Hy jou niks skuld nie: “Wanneer julle alles gedoen het wat aan julle opgedra is, sê dan, ‘Ons is nikswerd slawe. Ons het net gedoen wat ons moes doen.’ ” (v.10).
Al gee jy R1 miljoen vir die Here, gee jy net terug wat in die eerste plek syne was (1Kron. 29:14). Jou beste gawes het jy by Hom ontvang (1Kor. 4:7). As jy dit gebruik, doen jy dit met sy krag en tot sy eer (1Pet. 4:10-11). ’n Sendeling wat die evangelie preek, kan in niks roem nie—hy doen net sy plig. Weë hom as hy die evangelie nie verkondig nie (1Kor. 9:16).
Ons beste diens aan die Here geskied deur sy krag (1Kor. 15:10). Jesaja sê: “Here, U beskik vir ons vrede; ja, ook alles wat ons vermag het, het U vir ons bewerk.” (Jes. 26:12).
Moenie optree asof die Here jou iets skuld nie. Politieke partye betoog en sê: ‘We demand!’ Prosperity predikers leer hulle mense: ‘Name it and claim it!’ As die Here nie aan hulle eise voldoen nie, word hulle kwaad. Tydens 2015 en 2016 se droogte, het ons vir reën gebid. In November 2016 het die Here geantwoord en binne een uur 90 mm reën gegee. Die baie reën het vloede veroorsaak. In reaksie het een minister gesê: ‘We feel we have been robbed. We prayed for rain, not floods.’
Hoe arrogant! God skuld ons nie ’n greintjie genade nie. Al wat Hy ons skuld, is die hel (Rom. 6:23). Enigiets buite die hel is genade. Prys die Here dat daar ’n hemelse beloning op sy kinders wag, selfs al verdien ons niks nie (v.10, Matt. 25:20-23, 1Kor. 3:14).
Wat is ons voor ’n ewige God? Hy is ver bo ons verhewe, tog ontferm Hy Hom oor dié wat nederig van hart is (Jes. 57:15). Ons is vuil sondaars, tog het Jesus in ons plek kom sterf (Rom. 5:6, 8, 10). Wie is jy dat Hy dit vir jou sou doen? Laat die gedagte hieraan jou nederig maak.
2. Dankbaarheid (v.11-19)
Steve Lawson is ’n Amerikaanse prediker. ’n Sekere gemeente het sy Woordbediening weerstaan. Na ’n geruime tyd het hy ’n beroep na ’n ander gemeente aanvaar. Die dag toe hy wegry, toe trek hy sy skoene uit voor hy in die kar klim. Hy het die stof van sy skoene afgeskud, sy skoene aangetrek en weggery.
Dit is die gedagte met v.11. Op ’n kaart van Israel lê Galilea in die noorde en Judea in die suide. Tussen die twee lê Samaria, die tuiste van uitgebasterde Jode. Israel se Jode het hulle gehaat. ’n Jood wat van Galilea af Judea toe gereis het, sou nie deur Samaria gaan nie. Hy wou nie hê die Samaria se onrein stof moet nie aan sy voete kleef nie.
Volgens die Jode se gebruik het Jesus nie deur Samaria gereis nie, maar teen die grens tussen Galilea en Samaria. Nie dat Jesus die Samaritane as onrein beskou het nie. In Johannes 4 het Hy ’n klomp Samaritane gered. Dit was egter die uitsondering, omdat Hy eers vir die Jode gekom het (Matt. 10:5-6, 15:24). Daarna sou die evangelie na Samaria en die res van die aarde toe versprei (Hand. 1:8, 8:4-25).
Op pad na Jerusalem in Judea (v.11, 9:51), het Jesus tien melaatses buite ’n dorp gesien (v.12). Die wet het hulle as onrein beskou. Hulle siekte was aansteeklik, daarom kon hulle nie in die dorp kom nie, maar moes hulle buite bly (Num. 5:1-4, Lev. 13:46). Toe hulle vir Jesus sien, toe roep hulle hard uit (v.13). Volgens die wet moes hulle uitroep dat hulle onrein is (Lev. 13:45), maar hier het hulle om genade geroep (v.13). Hulle het Jesus ‘Meester’ genoem. Daardeur het hulle erken hulle is slawe wat niks verdien nie (v.13, 7-10). Hulle het Jesus se genade benodig om hulle van seremoniële onreinheid, verwerping, armoede, siekte en die dood te red (v.13).
Lukas sê Jesus het hulle raakgesien (v.14). In Gen. 16:13 het Hy Hagar se nood raakgesien. In Gen. 21:17 het Hy Ismael se trane gesien. In Eks. 2:23-25 het Hy Israel se noodkreet onder die Egiptenare se slawejuk gehoor. In Lukas 17 het Hy die tien melaatses met ’n hart vol deernis aangesien. Hy het vir hulle gesê om hulleself aan die priesters te wys (v.14). Volgens Levitikus 14 moes die melaatse wat gereinig word verskeie reinigingsrituele ondergaan en offers bring. Toe Jesus die melaatses beveel om dit te doen, het hulle sy woorde geglo en gegaan. Op pad na die priesters toe, is hulle genees (v.14). Toe een van die melaatses dit sien, het hy God met ’n harde stem geprys (v.15). Sy harde noodkreet (v.13) het in ’n harde uitroep van lof verander (v.15). Hy het God geprys (v.15) en voor Jesus se voete neergeval (v.16). Hy het besef Jesus is die God en Meester wat melaatses met ’n woord kan reinig (v.16).
Jesus het hom nie weggestoot nie. Toe Cornelius voor Petrus neerbuig, toe sê Petrus: ‘Staan op! Moenie voor my buig nie. Ek is ’n mens net soos jy’ (Hand. 10:25-26). Toe Johannes voor die engel buig, toe sê die engel: ‘Staan op! Moenie voor my buig nie. Ek is ’n engel en nie God nie’ (Op. 19:10, 22:8-9). Toe die melaatse voor Jesus buig, toe aanvaar Hy die lof soos Hy die engele en die hele skepping se lof aanvaar (Heb. 1:6, Op. 5:9-14). Toe Thomas vir Jesus sê: ‘My Here en my God!’ het Hy hom nie ontmoedig nie (Joh. 20:28). Net so het Jesus die melaatse se lof aanvaar.
Die feit dat Jesus ’n Samaritaan se lof aangeneem het, wys Hy is meer as die Koning van die Jode. Jesus is die Verlosser van die wêreld (v.16, Joh. 4:42). Hy red ook Samaritane. Dit sou die Jode skok, want die Samaritane het hulle met die heidene vermeng en ander gode aanbid (2Konings 17). Toe in Esra en Nehemia se tyd die Jode wou help om die tempel te bou, toe sê die Jode: ‘Dankie, maar nee dankie!’ (Esra 4). Sedertdien het die Samaritane die Jode gehaat en andersom. Die Samaritane het hulle eie plek van aanbidding gehad en die Here nie saam met die Jode in Jerusalem aanbid nie (Joh. 4:20). Die vyandskap tussen die twee groepe was so erg dat hulle nie eers mekaar se eetgerei sou deel nie (Joh. 4:9).
Dit is vandag nog so. Party mense haat dit as God hulle vyande red. Toe ek eenkeer ’n man kerk toe nooi, toe sê hy: ‘Kom daar anderskleuriges na julle kerk toe, want dan kom ek nie.’
Langs my by ’n troue het ’n vrou van die Israel-visie gesit. Sy het onomwonde gesê swart mense kan nie gered word nie en gaan nie hemel toe nie. ‘Maar Hand. 17:26 sê alle nasies kom van Adam af. Op. 5:9 sê daar sal mense uit elke stam, taal, volk en nasies in die hemel wees. Wat sê jy daarvan?’ Sy kon my nie antwoord nie.
Toe ’n sekere leraar hoor ’n groep teologie studente kom sy gemeente besoek, het hy dit stopgesit. Hy het gehoor daar is ’n anderskleurige tussen hulle en het gesê: ‘Ek laat ’n k&#%!r in my gemeente toe nie.’
’n Gemeentelid of -lede het vir hulle jong leraar gesê: ‘Die evangelisasie stop nou! As jy aanhou na buite uitreik, gaan anderskleuriges in die kerk in kom.’
In ons eie gemeente het een of twee mense hulle ontevredenheid uitgespreek, omdat swart mense ons besoek.
Hierdie mense se harte is soos die Jode s’n. Toe hulle hoor Paulus gaan na die heidene toe, toe sê hulle: ‘Weg met hom! So ’n man moenie op die aarde wees nie!’ (Hand. 21:21-22). Mense wat so optree, dink hulle is beter as ander. Hulle dink hulle verdien om gered te word. Hulle beskou verlossing as ’n reg en vergeet dat dit ’n voorreg is.
Die Samaritaan het geweet hy het geen reg op God se genade nie. Daarom het hy die Vader en die Seun geprys (v.15-16). Jesus het hom nie hiervoor gedank nie. Dit was sy plig (v.10). Daarom was Jesus eerder verbaas dat die ander nege melaatses nie dieselfde gedoen het nie: “Is daar dan nie tien gereinig nie? Waar is die ander nege? Was daar niemand onder hulle te vinde wat omgedraai het om God te loof, behalwe hierdie vreemdeling nie?” (v.17-18).
Dank jy die Here gereeld? Of bestaan jou gebede uit ’n lang lys van versoeke met min danksegging? Dank jy die Here vir wat jy het of is jy ondankbaar vir wat jy nie het nie?
Jare gelede het ek en my vrou ’n arm man gevat om klere te koop. Hy het deur die winkel geloop en gesê: ‘Daar is niks wat ek wil hê nie. Kan julle my liewer die geld gee?’ Toe die gemeente aanbied om vir die man kruideniers te koop, toe kom hy met ’n lys van English Leather parfuum en ander duur items.
Dit is nie verkeerd om te vra nie. Die Here wil hê ons moet vra, omdat ons daardeur ons afhanklikheid van Hom bely. Maar ons moenie vergeet om die Here te dank as Hy ons gebede antwoord nie (v.16, Ps. 50:15, 23, 2Kor. 1:11, Kol. 4:2). Dit is God se wil dat ons dankbaar lewe (1Tess. 5:18).
Dank Hom vir sy goeie skepping en elke goeie gawe (1Tim. 4:4-5). Dank Hom veral dat Hy jou gered het (Ef. 1:3-14). Die redding van jou siel is belangriker as die genesing van jou liggaam. Wat help dit Jesus genees jou melaatsheid, maar jou siel bly ongered? Daarom het Jesus vir die melaatse gesê: “Staan op en gaan! Jou geloof het jou gered.” (v.19). Hier gaan dit oor meer as redding van siekte en die dood. Jesus het die man van sy sonde gered (Gk. sōzō). Laat ons dan nie bowenal tydelike genesing en reiniging soek nie. Bid dat die Here jou siel sal red.
Is jy gered? Wys jou gedagtes, gewete, privaat lewe, gewoontes, gesin, verhoudings, vriendskappe, selfoon, stiltetyd en emosies jy is geestelik genees? Sonde maak ’n mens geestelik siek. Glo in Jesus deur wie se wonde daar vir ons genesing gekom het (1Pet. 2:24). Roep om genade (v.13). Glo in Christus wat God se wil namens ons volmaak onderhou het (Joh. 4:34, 5:30, 6:38). Bid om God se wil te kan uitvoer (Matt. 6:10, Fil. 2:13). Soek God se wil eerder as ’n lekker lewe en ’n gemaklike dood (Matt. 26:39, Fil. 1:21-25).
Vir die een wat God se wil doen, verander ’n tronk in ’n paleis. As jy jou eie wil doen, verander ’n paleis in ’n tronk. Die beste plek op aarde is nie ’n stil en rustige aftrede op Hermanus nie. Die senter van God se wil is die beste plek op aarde.