wolf-growling

Ek het ‘n kort videosnit gesien van hoe ‘n buitelandse polisiemag hulle Duitse Herdershonde oplei. Die hond word geleer om net op sy baas se stem te reageer.  As die baas sê sit, dan sit hy.  As sy baas hom beveel om te lê of in die ronde te draai, dan doen hy dit.  As die baas vir hom sê om aan te val, dan gehoorsaam hy.  Terwyl hy op ‘n persoon afstorm, beveel sy baas hom om te stop.  Hy gaan lê dadelik en wag totdat sy baas weer ‘n bevel gee.

 

Die duiwel is nie ‘n goeie karakter nie, en God het niks sleg in Hom nie. En tog is die duiwel en sy demone soos ‘n gevaarlike waghond, wat niks kan doen totdat die Hemelse Baas sy toestemming gee nie.  Op.9:13-21 sal vir jou wys wat ek bedoel.

 

Die demone se mag (v.13-15)

Wanneer die regter ‘n gevaarlike misdadiger op parool vrylaat, is daar sekere reëls wat geld. Die misdadiger kan nie doen wat hy wil nie.  En tog kan hy die regter minag, die reëls oortree en in die moeilikheid kom.  Maar met demone is dit anders:  as hulle op parool vrygelaat word, kan hulle niks meer doen as wat die Here toelaat nie.  Ja, hulle kan verwoesting saai.  En tog kan hulle nie doen wat hulle wil nie.  Hulle kan net beweeg binne die perke wat God vir hulle stel.  So leer v.13-15 vir ons.

 

Die sesde engel het op sy trompet geblaas om God se oordele oor sy vyande aan te kondig (v.13). Johannes het ‘n stem gehoor tussen die vier horings van die goue altaar wat voor die Here was (v.13).  Die wierook op die altaar was simbolies van die geurige gebede van God se kinders (8:3-4, Ps.141:2).  ‘Neem wraak teen ons vyande wat ons vermoor het!’ het hulle in 6:10 gebid.  Die altaar se horings was simbolies van God se mag om hulle gebede te beantwoord en hulle vyande te oordeel (Eks.30:3, 1 Kon.22:11).

 

Die stem het vir die sesde engel met die trompet gesê om die vier engele wat by die Eufraatrivier was los te laat (v.14). Lg. verwys nie na heilige engele nie, maar na gevalle engele of demone wat weens hulle boosheid en sonde gebind was (vgl. 2 Pt.2:4).  Maar hoekom spesifiek by die Eufraatrivier?

 

Hierdie rivier was die ideale noordelike grens van Israel (Dt.11:24). In die Ou Testament het die Assiriërs en die Babiloniërs oor hierdie rivier gekom om die Israeliete aan te val (Jer.1:14-15).  Dit sal my nie verbaas as die vier gevalle engele van v.14 Israel se vyande teen haar aangehits het nie.  Ons sien in Jes.14, Esg.28 en Dn.10 hoe Satan agter die konings van Babilon, Tirus, Persië en Griekeland gestaan het.  En was dit nie hy en sy demone wat in 66 n.C. die Romeine teen Israel aangehits het nie?  Is dit toevallig dat die Romeine se tiende legioen Israel van die Eufraatrivier af binnegeval het?[1]  En is dit nie presies wat Johannes in v.14 voorspel het nie?

 

Die engel met die sesde trompet het die vier gevalle engele losgelaat op die uur, dag, maand en jaar wat God in sy soewereine raadsplan bepaal het (v.15, Jes.46:10, Ef.1:11). God het die duiwel teen sy ongehoorsame volk losgelaat (v.20-21).  Hy het vir die demone toestemming gegee om nie net die mense te pynig nie (v.5), maar om ‘n derde van hulle dood te maak (v.15, Esg.5:12).  Die feit dat hulle net ‘n derde van die mense kon doodmaak, wys weereens dat hulle sonder God se toestemming nie ‘n vinger kan verroer nie (v.14-15, 1-5, Job 1-2, Lk.8:32-33).

 

Vir gelowiges behoort dit ‘n troos te wees: as God vir jou is, sal Hy selfs die demone tot jou voordeel gebruik (Rm.8:31, 28).  Hy sal vir sy waghond sê om jou vyande te byt.  Is dit nie wat Hy in v.13-15 gedoen het nie?  Die vermoorde Christene het vir die Here gevra om hulle saak te beveg (6:10).  Hy het toe die duiwel en sy demone toegelaat om die kerk se vyande te byt (v.13-21).

 

Hier gaan dit nie oor ‘n persoonlike wrok wat jy teen iemand het, sodat jy vir die Here vra om die duiwel teen hulle los te laat nie. Dit gaan oor mense wat die kerk vervolg.  Ons moet vir hulle bekering bid (v.20-21), maar in dieselfde asem moet ons bid dat geregtigheid sal seëvier (6:10, 8:3-4).  Dit is nie verkeerd om te bid dat die Here sy kinders sal bevry van ‘n regering wat hulle onderdruk en vervolg nie.  Dit is heeltemal reg om te bid dat die Here vals kerke en hulle leraars, Islam, Kommunisme, en ander vals godsdienste soos die Titanic sal laat sink.

 

As die Here die duiwel en demone wil gebruik om dit te doen, is dit sy keuse. Ons moet net sorg dat ons nie self wraak neem soos wat die Westlike Katoliekekerk dit in die Middeleeuse Kruistogte gedoen het toe hulle die Moslems in Jerusalem aangeval het nie.  Ons moet dit in die Here se hande los.  “Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here.” (Rm.12:19).

 

Hoe versoen ons God se werk met die duiwel s’n in hierdie verse: God is tog nie die oorsaak van enige boosheid of sonde nie?  In 2 Sm.24:1 staan daar dat God vir Dawid aangehits het om die volk te tel, en in 1 Kron.21:1 lees ons dat die duiwel hom aangehits het (vgl. 1 Kon.22:19-22, Job 12:16, 2 Ts.2:10-12).  Sit God en Satan dan om dieselfde vuur?

 

Nee. God is soos ‘n goeie regter wat die polisie stuur om ‘n skelm te arresteer.  Die polisiemanne rand die skelm aan voordat hulle hom boei en in die polisiewa gooi.  Die regter is nie verantwoordelik vir die polisiemanne se bose optrede nie.  En so is dit ook met God en die duiwel:  die duiwel voer God se regverdige en goeie opdragte uit, maar hy doen dit met bose intensies (v.13-15, vgl. Jes.10:5-7).

 

Die demone se getal (v.16)

Die getal van die troepe wat deur die vier gevalle engele opgekommandeer was, was 2 x 10 000 x 10 000 (v.16). Dit was te veel om te tel, en daarom het Johannes gesê dat hy die getal gehoor het (v.16).  Dit is heeltemal moontlik dat daar letterlik ‘n weermag van 200 miljoen demone was.  Ek dink egter dat Johannes ‘n simboliese getal in gedagte gehad het.  Kom ek wys vir jou hoekom ek so sê.

 

As ons ‘n groot getal wil uitdruk, gebruik ons ‘n miljoen: ‘Daar was miljoene mense in die mall.’  In die Bybelse tyd het hulle tienduisend gebruik om ‘n onbepaalde getal uit te druk.  Saul het sy duisende doodgemaak het, maar Dawid sy tienduisende (1 Sm.18:7).  God se strydwaens is tienduisende, duisende maal duisende (Ps.68:18).  Die engele voor God se troon is duisende maal duisende, tienduisend maal tienduisend (Dt.33:2, Dn.7:10, Heb.12:22, Jud.14, Op.5:11).  As Johannes dan sê dat daar twee keer 10 000 x 10 000 was, sê hy eintlik dat ‘n ontelbare skare van demone die Romeine aangehits het om die Jode te oorweldig.

 

As jy ‘n gelowige is, hoef v.16 jou nie bang te maak nie. God sal sy engele stuur om jou te beskerm (Ps.91:11, Heb.1:14).  Daar is twee keer soveel engele as wat daar demone is (12:4, 7-9).  Dié wat vir ons is, is meer as dié wat teen ons is (2 Kon.6:16).  God op sy eie is oneindig keer groter en sterker as al die magte van die hel.  As jy aan sy kant is, is jy veilig, “omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is.” (1 Jh.4:4).

 

Die demone se wapens (v.17-19)

Ek en my vrou het op ‘n tyd dokumentêre oor vliegtuie, die Navy Seals, skerpskutters, ens. gekyk. In een dokumentêr het ons gesien hoe vegvliegtuie ontwikkel het.  In die begin het hulle gewone masjiengewere gebruik.  Later het die gewere groter en beter geword.  Aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog het hulle missiele gebruik.  En vandag kan hulle ‘n onbemande vegvliegtuig in die lug instuur.  Maar t.s.v. die tegnologiese ontwikkeling, kan ‘n mens nog weerstand bied, omdat daar nie net een land is wat tegnologies gevorder het nie.  Wanneer dit egter by demone kom, kan nie eers die mees gevorderde wapens jou help  nie.

 

In 2 Kon.6:17 lees ons van strydwaens en perde van vuur wat die berge omring het om vir Elisa te beskerm. Uit Heb.1:7 weet ons dat dit engele was:  “[God maak] sy dienaars vuurvlamme.”  In Op.9 het Satan ook ‘n weermag van perde.  Johannes se beskrywing van die perde wys baie duidelik dat daar demoniese magte was wat die Romeine aangehits het.

 

Johannes sê dat hy ‘n visioen gesien het, asook dat die perde soos dit en dat was (v.17, 19).  Ons moet dan verstaan dat hy weereens simboliese taal gebruik.  Die demoniese perde se koppe soos leeus s’n het gewys dat hulle gevaarlik is (v.17, 8b, vgl. 1 Kron.12:8, Jes.5:29).  Die ruiters se borsharnasse was rooi-oranje soos vuur, blou soos ‘n saffiersteen, en swawelgeel (v.17).  Dit stem ooreen met die vuur, grysblou rook, en swawel wat uit hulle bekke uitgekom het (v.17, vgl. Jes.30:33).  Elders in Openbaring sien ons dat Johannes vuur, rook en swawel met die hel assosieer (14:10-11, 19:20, 21:8).  Duidelik het ons in v.17 te doen met demone.

 

Die plae van vuur, rook en swawel het ‘n derde van die land se mense doodgemaak (v.18). Toe God vir Sodom geoordeel het was daar vuur, rook en swawel (Gn.19:24, 28).  Die punt is dan dat Jerusalem so goddeloos geword het soos Sodom (v.20-21, 11:8), en daarom het sy Sodom se straf gekry (Dt.29:23-25).  Dit was maar net ‘n voorsmake van die vuur, rook en swawel van die hel (14:10-11).

 

Die demoniese sprinkane se sterte was soos skerpioene s’n, en die demoniese perde s’n soos giftige slange (v.19, 10, 12:9, 14-15, 20:2, Lk.10:17-19).  In v.5-6, 10 het die demoniese sprinkane se sterte die mense seergemaak, maar in v.17-19 het die demoniese perde se bekke en sterte hulle doodgemaak (v.17-19).

 

Wat beteken dit? Ons weet reeds dat Sataniese magte die Romeine teen Jerusalem aangehits het.  Die voorste troepe (die kop) het die hekke en die stadsmure afgebreek om die Jode dood te maak.  Die agterste troepe (die stert) het hulle doodgemaak met enjins wat spiese, pyle en reuse klippe geskiet het.[2]  Die weermag se kop en die stert was dodelik – daar was geen wegkom kans vir die Jode nie.

 

As jy ‘n ongelowige is kan jy nie teen die duiwel en sy demoniese magte veg nie (v.17-19). Jou wapens kan hulle nie seermaak nie; hulle is geeste (Ef.6:12).  In Mk.9:22 lees ons van ‘n demoon wat ‘n seuntjie in water en vuur gegooi het om hom dood te maak.  In Hd.19:13-16 het ‘n man met een bose gees sewe volwasse mans geslaan dat hulle gebloei het.  Die besete man in Mk.5 het ‘n paar duisend demone in hom gehad.  Hy het kettings gebreek soos wat ek en jy papier skeur – niemand was sterk genoeg om hom te boei nie (Mk.5:3-4).

 

Hoe kon die Jode dan teen ‘n weermag van demone gestaan het (v.16)?  Hulle was veral hulpeloos omdat God vir vir die demone toestemming gegee het om die Romeine teen Jerusalem aan te hits.  Jy kan nie eers teen demone wen nie.  Hoe wil jy dan teen die Here wen wat die mag het om vir hulle te sê wat hulle mág en nié mag doen nie?

 

As jy die Here ken hoef jy nie bang te wees nie, omdat God sy eie wapenrusting en krag vir jou gee (Ef.6:10-13, Jes.11:5, 59:17). Jy meer as genoeg toegerus om teen die duiwel en sy bose magte te staan.  Hoe veg ‘n mens teen hom?  Moenie geestelike oorlogvoering verwar met dinge wat nie in die Bybel staan nie:  gebiedsgeeste bind, Sataniese vestings neerwerp voor jy die evangelie in ‘n sekere woonbuurt kan preek, mense se huise met olie salf, vloeke breek, ‘n gees van wellus of skinder in iemand bind, demone se rangorde wil ken om meer effektief te veg, ens.

 

Veg eerder deur nuuskurigheid oor sonde en die okkulte te vermy, asook deur ‘n heilige lewe, ‘n liefde vir die waarheid, evangelisasie, geloof in Jesus, ware verlossing, die Bybel, volhardende gebed, heilige en nugter denke, nederige onderdanigheid aan God, waaksaamheid, weerstand teen versoeking (Mt.4:1-11, 6:13, Mk.9:29, Hd.26:18, Rm.16:20, 2 Kor.10:4-5, Ef.6:10-18, Jk.4:6-7, 1 Pt.5:8-9, Op.12:11).

 

Wees ook bekend met die duiwel se taktiek (2 Kor.2:10-11): hy lieg, saai twyfel, sê dat God nie goed is nie, versoek jou deur dié wat naby jou is, vermom hom as ‘n engel van die lig, werk deur vals lering, haal die Bybel buite konteks aan (Gn.3:1-5, Mt.4:1-11, 2 Kor.11:14, 1 Tm.4:1).  Wees dan op jou hoede.

 

Die demone se versoeking (v.20-21)

Josefus, die Joodse geskiedkundige wat tydens die verwoesting van Jerusalem geleef het, gee vir ons ‘n beskrywing van die hongersnood, die massa moorde, die kannibalisme, die kruisiging van 500 Jode per dag, en baie ander grusame gebeure. Hy vertel dan hoe die Jode t.s.v. al hierdie dinge, die vals profete se profesieë van oorwinning geglo het.[3]  Van sy mede-volksgenote in Jerusalem het hy gesê:  ‘…as though thunderstruck, blind, senseless, [they] paid no heed to the clear warnings of God.’[4]

 

Dit is presies wat Johannes in v.20-21 voorspel het. Alhoewel ‘n derde van die mense doodgemaak is, het die res dit nie ter harte geneem en hulle bekeer nie (v.20).  Hulle het aangehou om die eerste (v.20), sowel as die tweede helfte (v.21) van die Tien Gebooie te oortree.  Hulle het nie opgehou om die mensgemaakte afgode van goud, silwer, koper, klip en hout te aanbid nie (v.20, Dt.31:29, Jer.1:16).  Daardeur het hulle ook die demone aanbid wat agter hierdie gode gestaan het (v.20, 2:9, 3:9, Dt.32:17, Ps.106:37-38, 1 Kor.10:19-20).  Die demone het hulle verblind, sodat hulle nie agtergekom het dat die afgode hulle nie kan sien, hoor of help nie (v.20, Ps.115:4-8, Jer.2:5, Dn.5:23, Hos.9:10).

 

Waar het die Jode afgode aanbid? Hulle het dit dwarsdeur hulle geskiedenis gedoen.  Israel se verwerping van Jesus as die Messias was ook niks anders as afgodery nie (1 Jh.5:20-21).  Die demone het hulle aangehits om daarmee aan te hou (v.20), asook om baie ander sondes te doen (v.21).  Hulle het hulle nie bekeer van die moorde op die profete, die Messias en God se kinders nie (v.21, Lk.11:47-51, Hd.7:52).  Hulle het ook nie opgehou met die heksery en towery waartoe die demone hulle versoek het nie (v.21, Dt.18:9-14).  En dan het hulle ook in allerhande seksuele misdrywe en diefstal volhard (v.21).  Die volk was ryp vir God se ewige oordeel in die hel (21:8, 22:15).

 

Moet dan nie soos hulle wees nie. Ons moenie nog ná die droogte, korrupsie, plaasmoorde, misdaad, studente-chaos, gay kwessie in die NG-Kerk, rasse haat, aborsie, ens. weier om te verander nie.  Moenie vir een oomblik dink dat die mense wat slagoffers van hierdie Goddelike oordele en demoniese aanvalle is, slegter is as die res nie.  As ons ons nie bekeer nie, sal die hele land onder dieselfde verskriklike oordele sterf (Lk.13:1-5).

 

Ons moet dan daarop fokus om ons te bekeer. Ons moet wegdraai van ons afgode af (v.20):  ons materialisme, die malle gejaag na luuksheid, geld en besittings.  Ons moet die Here saam met ander gelowiges aanbid en nie ons eie gemak en begeertes bo sy heilige dag, sy Woord, en sy huis stel nie.  Ons moet ons bekeer van die duisende moorde in ons land – ook die moorde op ongebore babas.  Ons moet ons ook van moordlustige en haatdraende gedagtes bekeer.

 

Ons moet geen aangetrokkenheid tot towery en heksery in ons harte koester nie; nie in die Huisgenoot, die koerant, TV-programme, films, of op die radio nie. Ons moet eens en vir altyd ontslae raak van die idee dat seks nie beperk is tot die huwelik tussen ‘n man en ‘n vrou nie, maar dat elke mens vry is om te kies hoe en wanneer hy dit wil doen.  Ons moet ons van ons diefstal bekeer, en nie verskonings daarvoor maak omdat die regering self korrup is, of omdat hulle ons in elk geval te swaar belas nie.

 

Johannes kon baie ander sondes genoem het, maar hy het genoeg genoem om sy punt te maak. As ons ons bekeer en na Jesus toe draai sal die Here ons genadig wees en ons vergewe.  Jesus het immers gekom om die straf vir sulke sondes aan die kruis te dra, en om dié wat so gelewe het en hulle bekeer, van binne af te reinig (1 Kor.6:9-11).  Het Hy nie juis in die wêreld ingekom om die werke van die duiwel te verbreek nie (1 Jh.3:8)?

 

In Griekse mitologie is daar ‘n duiwelse hond genaamd Cerberus. Hy behoort aan Hades, die god van die onderwêreld, en is veronderstel om te keer dat die dooies ontsnap.  Hy het drie koppe en sy stert is ‘n slang.  Die beelde wat Johannes in Op.9 gebruik klink net so skrikwekkend.  Die groot verskil is natuurlik dat die duiwel en sy demone nie maar net ‘n mite is soos Cerberus nie.  Indien jy dink dat die duiwel ‘n mite is, sal jy sleg tweede kom.

 

[1] Flavius Josephus, The Wars of the Jews, Book VII, 1:3

[2] Wars, Book III, 7:9

[3] David Chilton, Days of Vengeance, p.108

[4] Wars, Book VI, 5:3