Iemand wat ‘n vriend van God en die wêreld wil wees, laat my dink aan ‘n persoon wat op Ellis Park sit en ‘n bont rugby trui aan het: een helfte van die trui is die Leeus se rooi en wit, en die ander helfte is die Bulle se ligte blou. God deel sy eer met niemand nie. As jy in sy Koninkryk wil wees kan jy nie saam met die honde blaf en saam met die hase hardloop nie. Jy moet besluit wie se vriend jy wil wees: God s’n of die wêreld s’n? Dit is basies die punt wat Johannes in 1 Johannes 2:12-17 wil oordra.
God se vriende (v.12-14)
Charles is ‘n ryk sakeman op ‘n plattelandse dorp. Hy besit die helfte van die dorp, twee wildsplase, ‘n vyf ster lodge teen die wildtuin se grens, en twee vakansie huise in Knysna en Vancouver. Hy het gedurig vriende wat oor naweke op die plaas kom kuier, braai, en jag.
Op ‘n dag toe tref ‘n ramp hom en loop sy vrou weg met ‘n prokureur. Met die prokureur se hulp los sy vir Charles met niks. Binne ‘n paar maande nadat sy vrou hom gelos het, huur hy ‘n twee slaapkamer woonstel in die dorp. Sy vriende ken hom nie meer nie. Net Theuns staan by hom, bel hom gereeld, kuier ‘n paar keer per week by hom, en bring ten minste drie dae per week vir hom kos. Anders as die res is Theuns ‘n ware vriend. Hy is nie soos die res wat net vriende was vir wat hulle by Charles kon kry nie. Theuns is lojaal aan Charles en nie aan sy rykdom nie. Net so is God se ware vriende nie dié wat Hom volg vir wat Hy vir hulle kan gee nie, maar vir wie Hy is.
In v.12-14 wys Johannes dat hy nie die ware gelowiges se redding betwyfel nie, maar die vals leraars s’n.
[1] Hy bemoedig die geestelike kinders (nuwe gelowiges). God het hulle sondes vergewe in Jesus se Naam – op grond van sy lewe, kruisdood, en opstanding (v.12). Hy herinner hulle daaraan dat dit nie die ‘geestelike’ gnostici is wat ‘n hoë kennis bereik het nie, maar dat dit húlle is wat God as hulle Vader ken (v.13, 3:1, Galasiërs 4:5-6, Efesiërs 1:5, 2 Korintiërs 6:18, Romeine 8:15-17, Johannes 1:12-13, Openbaring 21:7). God is nie net ‘n Regter wat die misdadiger vergewe en dan wegstuur nie. Hy neem hom as sy kind aan en maak hom ‘n erfgenaam van die Koninkryk.
[2] Johannes bemoedig die vaders wat geestelik volwasse is, want hulle ken die ewige God (v.13-14, 1:1-2). Hulle kennis is nie ‘n mistiese kennis soos die gnostici s’n nie, maar is ‘n intieme kennis wat ‘n mens se hele lewe verander.
[3] Johannes bemoedig die geestelike jong manne. Hulle is nie meer baba gelowiges nie, maar is ook nog nie vaders nie (v.13-14). Hy wil hulle bemoedig, omdat hulle geestelik sterk is in die Skrif (v.14). Hulle is nie altyd wys soos die vaders nie, maar kan vir ure die swaard styf vashou terwyl hulle teen die vyand veg. Hulle is nie soos kinders wat maklik val vir vals lering nie (Efesiërs 4:14). Hulle bêre die Skrif in hulle harte, sodat hulle teen die bose kan veg (v.13-14, Psalm 119:11, Efesiërs 6:17).
Wees God se lojale vriend soos Abraham (Jesaja 41:8, Jakobus 2:23). Moenie jouself deel tussen Hom en die wêreld, of vriende wees met sy vyande, sodat jy Hom soos ’n Judas in die rug steek nie (v.15, Jakobus 4:4, Matteus 26:47-50). Moenie stilbly as mense sy Naam belaster nie. Veg teen sy bose vyande: die duiwel, die vlees, en die wêreld (v.13-14). Moenie vergeet dat Hy vir jou ‘n goeie Vriend is nie: Hy is lief vir jou, het sy lewe vir jou gegee, en deel sy geheime met jou (Johannes 15:13, 15).
Wees dan ‘n goeie vriend soos Hy: gehoorsaam sy gebooie (Johannes 15:14, 14:15). Spandeer tyd in die Woord en gebed om Hom beter te leer ken. Moenie bloot tevrede wees met ‘n oppervlakkige vriendskap, waar jy Bybelse feite oor Hom ken nie: ‘Hy vergewe my sonde en is my Vader en Vriend’ (v.12-13). Bou aan jou verhouding en vriendskap met Hom, en groei daarin. Moenie net die Skrif lees om meer te weet nie, maar om Hom beter te ken en gemeenskap met Hom te geniet.
Dit is goed en reg as jy soos ‘n geestelike jongman ‘n dors het om sy Woord beter te ken, as jy suiwer leerstelling najaag, goeie teologie lees, na soliede preke luister, Bybelverse memoriseer. Pasop egter dat hierdie dinge nie jou hoogste doel word nie. Dit moet ‘n middel tot ‘n doel wees: om soos Paulus ‘n geestelike vader te word wat God dieper en beter ken (v.13-14, Filippense 3:8, 10). As jy so leef sal mense op jou begrafnis sê wat hulle van die Puriteine gesê het: ‘Die hemel was in hom voordat hy in die hemel was.’ As jy ‘n lojale vriend is, is dit nie jou goed-uitgewerkte teologie wat jou hart warm maak nie, maar jou Here en sy wonderbare liefde vir sondaars (v.13-14).
Hoekom moet jy ‘n lojale vriend wees? Ten spyte van die feit dat jy ‘n rebelse vyand was, het God jou sonde vergewe en jou as sy kind aangeneem om die hemel en al sy skatte te erf. Kan jy ‘n ondankbare vriend wees wat dislojaal is, en nie jou hele lewe aan Hom toewy nie?
Die wêreld se vriende (v.15-17)
Toe diamante in die 1860’s en 1870’s in die Kimberley-omgewing ontdek is, het mense van dwarsoor Suid-Afrika daarheen gestroom. Binne ‘n baie kort tydperk was Kimberley die tweede grootste dorp in Suid-Afrika. Die dorp het gespog met ‘n populasie van 43 000 mense.
Maar daar was nie net myners-tente nie. Die wêreld se bose ingesteldheid het gesorg dat daar nie ‘n tekort was aan drank, dobbel, en prostitusie nie. Vir elke 100 tente was daar twee of drie kroeë met ‘n hele paar prostitute. Teen 10 uur in die oggend kon jy ‘n klomp dronklappe buite die kroeë sien. ‘n Skotse dokter, Josiah Matthews, het gesê dat twee derdes van sy pasiënte siek geword het as gevolg van alkohol misbruik.
Die myners wou ryk word, en het hulle geld uitgedobbel. Selfmoord was algemeen onder myners wat alles verloor het. Blankes het toegelaat dat swartes vir hulle werk, maar het nie toegelaat dat hulle self grond koop en myn nie. Diamant diefstal het ‘n probleem geraak. Die rykes het ‘n lus vir mag ontwikkel. Cecil John Rhodes het gesê: ‘Money is power, and what can one accomplish without power? That is why I must have money... For its own sake I do not care for money. I never tried it for its own sake but it is a power and I like power.’
Kort op die hakke van Rhodes se lus vir mag, was daar omkoopgeld, leuens, moord, aggressie, en arrogantheid.[1] Hierdie gebeure is vir ons ‘n illustrasie van die wêreld en sy vriende soos Johannes dit in v.15-17 opsom.
Die ware gelowige is nie lief vir die wêreld nie, maar oorwin dit (v.15, 14, 5:4). Met ‘die wêreld’ bedoel Johannes nie die planeet of die mensdom nie (Johannes 17:11, 3:16), maar die bose sisteem wat vir Satan volg (5:19, Efesiërs 2:2-3). Ware gelowiges is lief vir God en die broers (v.5-11), nie vir die wêreld en sy dinge nie (v.15-17). As iemand die wêreld en sy dinge liefhet, is die liefde van die Vader nie in hom nie (v.15). Vir hom gaan die lewe oor sy eie plesier en sensasie, en nie oor ‘n liefde vir God, gehoorsaamheid aan Hom, en liefde vir sy naaste nie.
Hoekom is God se liefde nie in jou as jy die wêreld liefhet nie? Want die wêreld en alles daarin is teen God en haat Hom (v.16, Johannes 7:7). Hoe lyk hierdie dinge wat teen God is? Dit is ‘n hartsgesindheid wat gaan oor onheilige begeertes vir dinge wat jy nie het nie, en ‘n arrogante trots oor die dinge wat jy het (v.16).[2] Johannes som dit só op:
[1] Die begeertes van die sondige vlees of natuur (v.16). Dit praat van ‘n sterk en onversadiglike lus vir sonde. Dit is nie net wat jy soek wat ‘n probleem is nie, maar dat jy dit te veel soek.[3] Hierdie persoon gee homself oor aan sy begeertes en het geen selfbeheersing nie (Efesiërs 3:3, Titus 3:3, Genesis 3:6).
[2] Die begeertes van die oë (v.16). Dit praat van ‘n lus om dinge te sien en te wil hê. Hier is die grootste sondebokke films, TV, en advertensies wat ‘verkoop’ word deur materialisme en seks (Genesis 3:6, Matteus 5:27-28, Josua 7:21, 2 Samuel 11:2, Openbaring 18:6, Matteus 6:22-23).
[3] Die grootsheid of trotsheid van die lewe (v.16). Dit praat nie van geld of besittings nie, maar van ‘n trots daarin (Genesis 3:6). Sulke mense leef met hulle neuse in die lug as gevolg van hulle duur karre, groot huise, nuwe of ontwerpersnaam besittings, en duur honde. Vir hulle doen hulle kinders goed vir hulleself as hulle ‘n groot salaris verdien. Hulle dagrdroom oor hoe hulle die LOTTO wen. Hulle voel trots omdat hulle kinders ‘n sekere opvoeding kry of ‘n graad het. Hulle roem daarin dat hulle bekende mense ken. Hulle is lief vir hulleself (selfies en Facebook). Hulle is jaloers op ander se beter besittings, sodat hulle haat en baklei. C.S. Lewis het gesê: ‘The problem is not with nice cars and big houses, but with nicer cars and bigger houses.’
Volgens die Skrif kom al hierdie dinge nie van God af nie, maar van die bose wêreld wat in rebellie teen Hom is (v.16). As jy vir jouself, die wêreld, en sy dinge leef en nie vir God nie, is jy ongered (v.15).
Die wêreld en alles wat hulle begeer skaaf deur soos die broek van ‘n seuntjie wat te veel boom geklim het (v.17, 1 Korintiërs 7:31). Daarom is dit dom as jy leef vir die wêreld en sy begeertes wat verbygaan. En wat help dit jy wen die hele wêreld, maar verloor jou siel (Matteus 16:26)? As jy vir die wêreld leef, sal jy saam met hulle vergaan. As jy God se wil doen soos in die Skrif opgeteken, sal jy vir ewig lewe (v.17, vgl. Johannes 6:40). Moenie dom wees en die wêreld se tydelike rykdom verruil vir die hemel se ewige rykdom nie (Matteus 6:19-20).
Moenie ‘n vriend van die wêreld wees nie. Moenie met die stroom gaan en maar doen wat almal doen, omdat jy bang is jy sal soos ‘n seer duim uitstaan nie. Moenie soos Lot met die wêreld speel en jou siel beskadig nie (Genesis 19, 13:12-13, 14:12, 2 Petrus 2:7-8). Voor jy weet gee jy een tree te ver, en ruil jy Jesus vir die wêreld soos Demas (2 Timoteus 4:10). Om te keer dat jy dit doen, moet jy jou hart vul met ‘n liefde vir God (v.15). Bid Johannes 17:15 saam met Jesus: “Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar.”
Wêreldsgesindheid gaan nie net oor drank, dwelms, en seksuele losbandigheid nie. Dit is ‘n bose denkwyse wat van die Bybel s’n verskil soos dag van nag. Joel Beeke sê: ‘Worldliness... is human nature without God.’[4] Só beskou die wêreld dinge:
- Die lewe gaan oor kits plesier.
- God bestaan om die lewe beter te maak.
- Sonde is dit wat jou of ander mense skade aandoen. God word nie in berekening gebring nie.
- Moraliteit is dit wat goed is vir die grootste meerderheid.
- Die Big Bang en evolusie is die oorsaak van alles.
- Die dood is die einde. Ander dink weer die dood is ‘n toegang tot die hemel vir almal wat gaaf was.
- Geld is die beste skat.
- Plesier en vermaak is enigiets wat lekker voel, al is dit sonde.
- Opvoeding is dit wat jou kind moet help om baie geld te verdien.
- Menswaardigheid is dit wat jou beter oor jouself laat voel.
- Seks is iets wat bedoel is vir enige twee mense wat daartoe instem.
- Die natuur is iets wat regte het, waar die mens ‘n indringer is.
- Die huwelik soos die Skrif dit sien is opsioneel, want saambly is net so goed. Twee mense van dieselfde geslag kan ook trou.
- Die weer is goed of goor namate dit met ons planne inmeng of nie.
- Politiek is die oplossing vir die wêreld se probleme.
- Om vir vyf ure voor die TV te sit is nie tydmors nie.
- Die creche, TV, ouma, en die naskool moet my kind groot maak, want ek is ‘n professionele vrou en het nie tyd nie.
- Dit maak nie ‘n verskil of my kinders heel Saterdag buite speel, en of hulle die hele dag rekenaar speel nie.
- Pyn en lyding is altyd sleg. Die hoogste doel is om so gou as moontlik daarvan ontslae te raak.
- Jy moet werk totdat jy 65 is. Daarna het jy die reg om heeldag op jou stoep te sit of die wêreld te toer.
- Jou uiterlike voorkoms is een van die belangrikste dele van wie jy is.
- Omdat ek ouer as 21 is, kan ek drink, rook, rondslaap, sonder my ouers se toestemming trou, en films met ouderdomsbeperkings kyk.
- Sukses is om ryk te wees en status te geniet.
Jy sal nie reg dink totdat Jesus jou uit die bose wêreld gered het, en vir jou ‘n nuwe hart gegee het nie. Om die wêreld reg te beskou en nie te val vir hulle skewe idees nie, moet jy jou gedagtes volprop met die Skrif (Spreuke is ‘n boek vol van lewenswysheid).
Luister na die verskil tussen iemand wat die wêreld uit ‘n Bybelse oogpunt beskou, en iemand wat ingestel is volgens die kultuur. Die eerste is ‘n dagboek inskrywing van ‘n tiener meisie in 1892, en die tweede inskrywing kom uit ‘n tiener meisie se dagboek in 1990.
‘Ek neem my voor om nie oor myself of my gevoelens te praat nie. Ek sal dink voordat ek praat. Ek sal ernstig werk. Ek sal myself inhou in my gesprekke en aksies. Ek sal nie toelaat dat my gedagtes dwaal nie. Ek sal myself waardig gedra. Ek sal meer belangstel in ander.’
‘Met die geld wat ek kry om kinders te baby sit, sal ek probeer om myself op elke manier beter te maak. Ek sal gewig verloor en nuwe kontaklense kry. Ek het reeds ‘n nuwe haarsny, goeie grimmering, nuwe klere en juwele.’[5]
As jy met die stroom gaan, gaan jy hel toe (Matteus 7:13). Ons sal nooit die wêreld wen as ons soos hulle is nie (Romeine 12:2). Spurgeon het gesê: ‘I believe that one reason why the church of God at this present moment has so little influence over the world is because the world has so much influence over the church.’[6]
Op my studeerkamer deur het ek ‘n plakaat van twee paaie. Soos jy weet is dit gebasseer op Matteus 7:13-14: die smal weg en die breë weg. Op die smal pad is daar ‘n kruis, mense wat by ‘n fontein water drink, mense wat bid en die Skrif lees, mense wat hard werk, goed sorg vir hulle diere, skape oppas, ‘n ou persoon help, siekes versorg, God prys, ‘n kind help, rein is, ‘n leeu doodmaak, ens.
Op die breë pad is mense wat steel, roof, moord pleeg, dwelms gebruik, geldgierig is, mekaar aanrand, veg, ooreet, aborsie en prostitusie adverteer, dronk word, diere en kinders mishandel, die wet oortree, lui is, ens. Die mense op die prent is op een pad of die ander een, en kan nie gelyk op beide wees nie.
Sedertdien het niks verander nie. Jy kan nie God se vriend wees en die wêreld s’n nie. Saam met die Israeliete moet jy kies wie jy wil dien, “maar ek en my huis, ons sal die Here dien.” (Josua 24:15).
[1] Martin Meredith, Diamonds, Gold, and War, pp.34-37, 42-44, 163, 232-233, 259
[2] Findlay aangehaal in John Stott, Tyndale New Testament Commentaries: Epistels of John, p.101
[3] Calvyn aangehaal in C.J. Mahaney, Worldliness, p.30
[4] Ibid, p.27
[5] Ibid, p.134
[6] Spurgeon aangehaal in Ibid, p.23