[column width="1/1" last="true" title="" title_type="single" animation="none" implicit="true"]
Die Mariana trog in die Atlantiese Oseaan is 11 km diep. Berg Everest is 8.8 km hoog. God se wysheid, egter, het geen bodem of piek nie. Die sand en die sterre kan nog getel word, maar daar is geen einde aan God se kennis en wysheid nie – dit is méér as die sterre en die sand. Die Skrif sê: “Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God! Hoe geweldig is hulle volle som nie! Wil ek hulle tel, hulle is meer as die sand…Hy bepaal die getal van die sterre; Hy gee hulle almal name. Onse Here is groot en ryk aan krag; sy verstand is oneindig.” (Psalm 139:17-18, 147:4-5). Wat is God se wysheid? Wayne Grudem skryf: “God’s wisdom means that God always chooses the best goals and the best means to those goals.” (Systematic Theology, Inter-Varsity Press, LEICESTER, 1994, 2000, p.193). Dit impliseer dat God nie 'n beter keuse kón maak nie. Indien Hy kon, beteken dit dat sy besluite nie die beste is nie. Daar is te veel kleure in die prisma van God se wysheid vir ons klein verstand. Dit is te diep om te peil: “O Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë!” Efesiërs 3:10 praat van “die menigvuldige wysheid van God”. Die Griekse teks praat letterlik van sy veelkleurige wysheid. God kan doen ver bo wat ons kan bid of selfs dink (Efesiërs 3:20).
Veelkleurige wysheid in die skepping
Oor die afgelope 150 jaar was daar heftige aanvalle teen Genesis 1. Evolusioniste sê dat toeval die oorsaak van die wonderskone natuur is. Maar Genesis 1 sê dat 'n wyse God agter alles staan. Die manier waarop Hy geskep het sal dit vir ons wys.
- Spreuke 24:27 sê: “Maak jou werk buitekant reg, en bring dit vir jou op die land in orde; daarna moet jy dan jou huis bou.” As daar koring in die lande en beeste in die stal is, sal jy genoeg brood en melk hê om jou te voed (en krag te gee) terwyl jy jou huis bou. En dit is hoe God geskep het. Hy het eers die habitat geskep, en dit daarna gevul met die skepsels wat daarby pas. Hy het die oop hemelruim gemaak, die oseane, en die droë land met plante wat daaruit groei. Toe dít gereed is, het Hy sterre en planete in die ruimte geplaas, voëls in die lug, visse en ander skepsels in die see, en diere en mense op die droë land. Hy het die mens laaste geskep, omdat Hy eers sy habitat perfek gereed wou maak.
- God het alles volgens sy soort gemaak: vrugtebome, plante, seediere, voëls, mak diere, en wilde diere (Genesis 1:11-12, 21-22, 24-25). Maar die mens is na Gód se beeld en gelykenis gemaak (Genesis 1:26-27). Daar kon nie evolusie van een soort dier na 'n ander gewees het nie. DNA bewys dit. Gestel 'n hond met lang hare en een met kort hare het kleintjies. Party kleintjies sal kort hare hê, ander lang hare, en nog ander medium lengte hare. As die honde op 'n baie koue plek bly, sal die honde met kort hare vrek. Die honde met medium en lang hare sal oorleef. As hulle vir 'n lang tyd daar bly, sal die geen vir lang hare oorheersend wees. Jy sal nie meer kort haar honde hê nie. Die nodige inligting (gene) vir kort hare het verlore gegaan. Inligting kan verlore gaan. Maar jy kan nooit inligting in die DNA byvoeg nie. Honde is honde en visse is visse (‘volgens hulle soorte’). Visse word nooit honde nie. Evolusie van een soort na 'n ander is onmoontlik. En omdat net die mens na God se beeld en gelykenis gemaak is, kan 'n aap-soortige dier nooit in 'n mens verander nie. Evolusie is 'n feëverhaal vir kinders.
- Die verskeidenheid van skepsels is 'n toonbeeld van God se veelkleurige wysheid. Daar is diere met strepe en kolle, lang nekke en slurpe, hoewe en sagte pote, skubbe en pelse. Die kleure en ontwerp van God se skepsels is verstommend. Daar is groot sterrestelsels en mikroskopiese elektrone. Swaeltjies het 'n beter navigasie sisteem as enige GPS in die winkel. Die jagmetode van humpback (boggelrug?) walvisse en swart reiers is briljant. Die krag van God se skepsels laat die sterkste man lyk soos 'n donsveer in die wind. “Hoe talryk is u werke, o HERE! U het hulle almal met wysheid gemaak; die aarde is vol van u skepsele! Daar is die see, groot en alkante toe wyd—daar is ‘n gewemel sonder getal, klein diere saam met grotes.” (Psalm 104:24-25).
Moenie verby die skepping lewe nie. Let op God se werke en prys Hom vir sy wysheid. En moenie bang wees om Genesis 1 vir ander te leer nie. Staan teen evolusie, want dit betwyfel God se veelkleurige wysheid.
As iemand wat na God se beeld gemaak is, moet jy sy wysheid weerspieël in:
- Jou kreatiwiteit; die manier waarop jy kos voorberei, ‘n brug ontwerp, ‘n koffietafel maak.
- Jou logiese denke en redenasie. Gedagtes wat georden is sê dat ‘n wyse God jou gemaak het.
- Jou besluite. Neem wyse besluite – nie net goeie besluite nie, maar die beste.
- Jou werk. Een van my kinders se kamer was onnet. Ek het die kind voor die blombedding laat staan:
Ek: “Sien jy die dag lelies?
Kind: Ja.
Ek: Watse kleur is hulle?
Kind: Geel.
Ek: Hoeveel blare het die blom?
Kind: Ses.
Ek: Hoeveel dun blare met skerp punte is daar?
Kind: Drie.
Ek: En hoeveel breë blare met geriffelde kante?
Kind: Drie.
Ek: Watse kleur is die breë blare?
Kind: Ligte geel aan die binnekant en donker geel aan die buite kant.
Ek: En die dun blare?
Kind: Donker geel aan die binnekant en ligte geel aan die buitekant.
Ek: Is God se werk ordelik en netjies?
Kind: Ja.
Ek: Is jy na sy beeld gemaak?
Kind: Ja.
Ek: Hoe moet jou kamer dan lyk?
Kind: Ordelik en netjies.
Sorg dat die ordelikheid en netheid van jou werk God se wysheid weerkaats. En as jy wysheid nodig het, vra vir God (Jakobus 1:5). Deursoek sy Woord en jy sal wys word (Psalm 19:8).
Veelkleurige wysheid in voorsienigheid
In 2008 het my suster radikaal tot bekering gekom deur John Bunyan se Pilgrim’s Progress. Hoekom het Bunyan die boek geskryf? Want hy was in die tronk en kon nie preek nie – toe skryf hy maar. Hoekom was hy in die tronk? Want hy het die evangelie verkondig. Hoekom het hy dit gedoen? Want hy was lief vir die Here en wou sy Woord met ander deel. Hoekom? Want hy was 'n Christen. Hoe het hy 'n Christen geword? Hy het Martin Luther se Galasiërs-kommentaar gelees. Hoekom het Luther 'n kommentaar oor Galasiërs geskryf? Want daar is so 'n boek in die Bybel, geskryf deur die apostel Paulus. Hoekom het Paulus Galasiërs geskryf? Want daar was Christene in die Galasië provinsie: hulle het goeie lering nodig gehad om teen valsheid te staan. Hoe het die Galasiërs Christene geword? Paulus was siek en kon nie verder reis nie. Terwyl hy gewag het om gesond te word, het hy die evangelie vir hierdie mense gepreek (sien Galasiërs 4:13). Dus kan ons sê my suster het tot bekering gekom, want Paulus het siek geword. God is wys.
God se wysheid vlug nie van moeilikheid nie, maar werk in en deur dit. Die eindste Nyl waarin Farao die Hebreërs se baba seuntjies verdrink het, is die plek waar God vir Moses gered en bewaar het. Die leser van Eksodus 2:1-10 wil die grensende baba Moses se mond toestop, sodat Farao se dogter hom nie vind nie. Maar God hits hom aan om te huil, sodat die prinses hom moet jammer kry. Moses se ma word betaal om haar eie kind groot te maak! Die ouers het probeer om Moses sover as moontlik van Faroa af weg te hou. Maar God het gesorg dat hy onder Farao se neus grootword. En dít het Hy gedoen om sy volk uit Egiptiese slawerny te bevry; die volk uit wie die Messias moes kom.
God is wys en werk die slegste omstandighede tot jou voordeel: “Want júlle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om ‘n groot volk in die lewe te hou.” (Genesis 50:20). “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.” (Romeine 8:28). Die klein dinge wat verkeerd loop in jou lewe, word dikwels deur die Here gebruik as keerpunte in die geskiedenis. Dink maar aan Josef wat as 'n slaaf verkoop is na Egipte. Die Here het hom vooruit gestuur om die uitverkore volk aan die lewe te hou (lees maar gerus weer Genesis 37-50). Calvyn het beplan om Strasbourg toe te gaan, maar daar was 'n oorlog op die pad wat hy moes reis. Hy neem toe 'n ompad deur Geneva. En daar het die Here hom gehou om te preek, kommentare en boeke te skryf, en 'n hele kontinent te beïnvloed. 'n Paar jaar gelede het Time gesê dat Calvinisme een van die top tien invloede in 21ste eeu Amerika is. Moenie kla oor die weer, jou omstandighede, jou salaris, of jou huweliksmaat nie. As jy dit doen of iets anders begeer, dan sê jy God is onwys en kon beter gedoen het. Moenie twyfel of kla wanneer dit lyk of dinge skeefloop nie. Loof die Here en dank Hom vir sy veelkleurige wysheid.
Veelkleurige wysheid in verlossing
In die 1700’s het Engeland se wysheid gefaal. Die regering was raadop oor die morele verval en misdaad. Hulle het dinge probeer regstel deur die doodstraf vir 126 verskillende misdade op te lê. Hulle het skole gestig om vir die mense maniere te leer. Niks het gewerk nie. En toe het die alwyse God Engeland omgekeer deur 'n eenvoudige metode en boodskap.
- God gebruik nie wonderwerke, filosofie, of apologie om mense van die waarheid te oortuig nie. Hy gebruik prediking (sien 1 Korintiërs 1:18-2:5). Jesus sê: “As [mense] na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.” (Lukas 16:31).
- God red sondaars deur geloof in die evangelie van 'n arm Man wat die doodstraf ('n haatlike kruisdood) gekry het: “maar ons verkondig Christus wat gekruisig is, ‘n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke...want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde.” (1 Korintiërs 1:23, 2:2).
- God kies en red arm en eenvoudige mense, sodat niemand in homself mag roem en sê nie: “God het my gekies en gered omdat ek spesiaal en talentvol is.” Jesus het gesê: “In dieselfde uur het Jesus Hom in die gees verheug en gesê: Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het. Ja, Vader, want so was dit u welbehae. Alles is aan My oorgegee deur my Vader; en niemand weet wie die Seun is nie, behalwe die Vader, en wie die Vader is nie, behalwe die Seun en hy aan wie die Seun dit wil openbaar.” (Lukas 10:21-22). “Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing. Daarom, soos geskrywe is: Die wat roem, moet in die Here roem.” (1 Korintiërs 1:26-31).
Moenie skop en kla teen die uitverkiesingsleer en sê God is onregverdig of onwys nie. Aanbid God eerder daarvoor. Na 'n lang lering oor God se uitverkiesing (Romeine 9-11), sluit Paulus af met hierdie lied: “O Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees? Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Romeine 11:33-36). Die uitverkiesingsleer bestaan nie sodat jy God moet bevraagteken nie. Dit is in die Bybel, sodat jy in self-vernedering en aanbidding voor Hom sal neerbuig. Vertrou Gód se wysheid en nie jou eie nie.
In reaksie op God se gekose metode (prediking), wil Hy hê dat predikante hulself daaraan sal wy. Moenie dink jy sal mense oortuig deur apologie of debat nie. In ons kerke mag musiek, jeugbediening, besoeke, en berading nie die sentrale plek inneem nie. Evangeliese en Bybelse prediking moet sentraal wees. Die Woord van God sê: “maar ons sal volhard in die gebed en die bediening van die woord.” (Handelinge 6:4). “Totdat ek kom, moet jy aanhou met voorlesing, vermaning en lering. Verwaarloos nie die genadegawe wat in jou is nie, wat jou gegee is deur die profesie met die handoplegging van die ouderlinge. Wees vlytig in hierdie dinge, leef daarin, sodat jou vooruitgang vir almal duidelik kan wees.” (1 Timoteus 4:13-15). “verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering” (2 Timoteus 4:2).
Sielkunde kan nie mense se harte verander nie. Politiese aksie, opvoeding, en seminare kan nie. Net Jesus deur sy evangelie kan. Hý is immers die wysheid van God (1 Korintiërs 1:24). Alle skatte van kennis en wysheid is verborge in Hóm (Kolossense 2:3). Hý is die veelkleurige Wysheid deur Wie God die wêreld geskep het; die Een wat wyser is as Salomo (Spreuke 8:22-31, Matteus 12:42). Verkondig en roem in Hom as die gekruisigde (sien Galasiërs 6:14).
“Aan die Koning van die eeue, die onverderflike, onsienlike, alleenwyse
God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid. Amen.”
–1 Timoteus 1:17–
[/column]