Kallie is 16 jaar oud. As sy pa vir hom sê om iets te doen, doen hy die teenoorgestelde. Hy doen wat sy vriende wil en volg nie sy ouers se raad nie. Hulle het hom al gedreig, gestraf, gewaarsku, mooi gepraat en hom beloon, maar niks werk nie - hy is rebels en hardkoppig.
Deur die geskiedenis was Juda soos Kallie. In Deut. 9:24 het Moses vir die volk gesê: “Wederstrewig was julle teen die Here van die dag af dat ek julle ken.” Stefanus se boodskap aan die Jode was: “Julle hardnekkiges en onbesnedenes van hart en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees; net soos julle vaders, so ook julle.” (Hand. 7:51). In Jes. 30:1-17 wys die profeet dat die volk ook in sy tyd rebels was.
Juda se ongeloof (v.1-7)
Rebelse kinders glo nie wat hulle ouers sê nie. Wendy se ouers waarsku haar om nie met Leonard uit te gaan nie. ‘Hy is nie die man vir jou nie,’ sê hulle. Sy glo hulle nie en dink hulle wil hê sy moenie gelukkig wees nie. ‘Julle hou net nie van hom nie,’ sê sy vir hulle. Vir haar vriendinne sê sy: ‘My pa en ma weet nie waarvan hulle praat nie. Hulle ken nie vir Leonard nie. Ek ken hom; hy is ‘n oulike man.’ Drie maande ná sy vir Leonard ontmoet het, trou hulle. Ses maande later is hulle geskei.
Juda was so rebels soos Wendy (v.1, 1:2). Omdat Juda nie geglo het die Here kan haar help nie, het sy slim planne beraam wat nie in lyn was met God se wil nie (v.1). Sy het vir Egipte gevra om haar teen Assirië te beskerm, maar dit was nie die Heilige Gees wat haar gelei het om hierdie ooreenkoms te sluit nie (v.1). Dit was sonde om God se leiding te verag en onder Farao se vlerke skuiling te soek; dit sou haar niks in die sak bring nie (v.1-3).
Maar dit het haar nie gepla nie. Juda se afgevaardigdes het na Soan en Hanes toe gereis om Farao se amptenare te ontmoet en ‘n verbond te sluit (v.4). Die verbond was egter so leeg soos Dingaan se beloftes aan Piet Retief: dit het nie vir Juda bevoordeel nie, en uiteindelik tot hulle en Egipte se vernedering en skande gelei (v.5, 3).
Juda sou skade lei nog voordat sy in Egipte aangekom het. Die pad daarheen deur die Negev woestyn (die Suidland) was gevaarlik. Soos in die Kalahari of die Namib woestyn, was daar leeus en giftige slange (v.6, Deut. 8:15). Volgens die Ou Vertaling was daar ook vlieënde drake (v.6). Selfs as Juda veilig by haar bestemming uitgekom het, was Egipte so nutteloos soos ‘n draak wat stilsit of ‘n riet kierie wat in jou hand breek (v.6-7, 36:6, 51:9, Ps. 89:11). Egipte se blaf was erger as haar byt.
Moet dan nie soos Juda op nuttelose hulp vertrou nie, maar vertrou op God se Gees en sy planne (v.1). Dit is makliker gesê as gedaan, omdat talle mense in ons tyd nie weet hoe die Gees se leiding in die praktyk lyk nie. Moenie die Heilige Gees se leiding met emosionele impulse verwar nie. Onthou dat die duiwel, die vlees, jou hormone, te min slaap, siekte, drank, dwelms, en baie ander dinge jou emosies kan beïnvloed.
As jy op jou impulse staatmaak, sal jy dom dinge sê, soos dat die Heilige Gees vir jou gesê het om te skei. Jou emosies sal jou bedrieg om te dink dat die Here dit op jou hart gelê om R2500 vir ‘n dwelm verslaafde boemelaar te gee, en dan vir jou kinders te sê dat jy nie geld het om vir hulle nuwe skoene te koop nie. Jy sal jou onsensitiewe, lelike en harde woorde verskoon deur te sê dat die Heilige Gees vir jou gesê het om dit vir iemand te sê.
Iemand wat op sy of haar impulse staatmaak, sal ook die Bybel afskeep, misverstaan of misbruik. Sommige mense sal soos mev. X sê: ‘As die sang lekker was, gee ek nie om of die preek sleg is nie.’ Ander lees weer die Bybel soos ‘n geheime kode boek om sekere probleme uit te werk en op te los. Hierdie mense lees bv. van Filippus wat suid gereis het, en glo dat die Here vir hulle sê om Bloemfontein of Kaapstad toe te trek (hoekom nie Vereeniging of Colesberg toe nie?).
Ander skeep die Bybel af, omdat die Here kamtig direk met hulle praat. Sowat vyf jaar gelede het iemand vir my gesê: ‘As my Christenskap net uit die Bybel bestaan, wil ek nie ‘n Christen wees nie.’ In haar teologie is die Bybel nie die primêre manier waarop die Here met ons praat nie - ons impulse en intuïsie is.
In sommige gevalle raak dit so erg, dat mense in die Here se Naam sonde doen. ‘n Kanadese prediker genaamd Todd Bentley het bv. ‘n ou tannie in die gesig geskop, omdat die ‘Gees’ vir hom gesê het om haar op dié manier van kanker te genees.[1]
Wees asb. versigtig om nie te maklik sê: ‘Die Here het vir my gesê... die Here het dit op my hart gelê... die Heilige Gees het my gelei om...’ nie. Dink voor jy dit sê, want as jy dinge aan die Heilige Gees toeskryf wat Hy nie gesê het nie, sal Hy jou oordeel (Jer. 23:21, 31-32). Hy sal jou as ‘n rebel beskou wat besig is om leuens te versprei.
Hoe kan jy weet of die Heilige Gees met jou praat, en of dit Hý is wat sê: “Dit is die weg, wandel daarop!” (v.21)? Die Heilige Gees sal jou nooit lei om sonde te doen nie, maar om gehoorsaam te wees (Gal. 5:19-23). Hy sal jou ook nie lei om beheer te verloor oor jou emosies, gedagtes, woorde en dade nie (1Kor. 14:32, Gal. 5:22-23).
Hy sal jou in die waarheid lei (Joh. 16:13). Hy sal nie dinge in jou plant wat met die Bybel bots nie, maar Hy sal jou aan Jesus se woorde herinner (Joh. 14:26, 16:14-15). As die Heilige Gees jou lei, sal Jesus en die Bybel prominent wees. Om God se leiding te volg moet jy die Bybel volg. Dit is immers die boek wat Hy geïnspireer het (2Tim. 3:16, 2Pet. 1:20-21).
Omdat die Bybel dan die geïnspireerde, algenoegsame, onfeilbare, foutlose en gesaghebbende Woord van God is, durf ons dit nie afwater om op onsself, ons impulse en die wêreld te vertrou nie. Hoe is dit dat belydende Christene die Bybel se raad rakende ouerskap, die huwelik, verhoudings, werk, geld, ens. ignoreer, en vir ongelowiges (vriende, sielkundiges en beraders) vra om hulle te help? Ps. 1:1 sê baie duidelik dat ons nié die wêreld se raad moet volg nie. Soms volg ons dit nie direk nie, maar sonder dat ons dit besef beïnvloed die wêreld ons. Ons glo hulle twak soos om in jouself te glo en jou hart te volg. As ons die Bybel geken het, sou ons geweet het dat dit slegte raad is (v.1-7). “Wie op sy eie hart vertrou, hy is ‘n dwaas” (Spr. 28:26). “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?” (Jer. 17:9).
‘Maar het die Here nie vir ons ‘n gesonde verstand gegee nie?’ wil iemand weet. Ja, Hy het. Maar die Bybel moet nog steeds die finale gesag wees. Dit is die maatstaf waarvolgens jy moet meet of jou verstand ‘gesond’ is of nie. Dit geld ook vir die vrede wat jy ervaar wanneer jy ‘n besluit geneem het. Jy kan nie bloot op grond van die rustigheid of angs wat jy ervaar, sê dat ‘n besluit reg of verkeerd is nie. Die Bybel bly die maatstaf. As die Bybel bv. in Matt. 18:15 sê jy moet ‘n broer oor sy sonde aanspreek, moet jy dit doen - al is angstig. En as die Bybel in 1Kor. 7:39 sê jy moenie met ‘n ongelowige trou nie, moet jy dit nie doen nie - al voel jy heeltemal rustig.
Wat van oop en geslote deure? Soos jou verstand en emosies, speel gunstige of ongunstige omstandighede ‘n rol, maar weereens moet dit nie die finale gesag wees nie. Die vraag bly steeds: wat sê die Bybel? As die deur skielik vir jou oopgaan om in Switserland te bly maar jy skuld die bank R750 000, is die gunstige omstandighede nie die Here wat vir jou sê om te immigreer nie.
Om ander gelowiges vir raad te vra is goed en reg (Spr. 11:14), maar dit kan nooit die Bybel vervang nie. Net die Bybel kan vir jou die sekerheid gee dat dit regtig die Heilige Gees is wat jou lei, en nie die duiwel of jou emosies nie. “U Woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad.” (Ps. 119:105). As jy nie die Bybel volg nie, sal jou lewe en planne op die einde van die dag soos ‘n vliegtuig in die see verongeluk.
Juda se ongehoorsaamheid (v.8-17)
Ek het by ‘n vorige geleentheid vertel dat mense vir my gesê het: ‘Ons glo in ‘n God van liefde en soek nie ‘n gemeente wat dissipline toepas nie.’ Soos hierdie mense, wou Juda nie God se Woord hoor nie. Hulle het profete gesoek wat nie die gladde oppervlak van hulle lewens sou omroer nie.[2] Hulle wou dinge op húlle manier doen, en dus het Jesaja die Woord van God as ‘n permanente getuienis teen hulle geskryf (v.8). Maar t.s.v. sy getuienis het hulle God soos rebelse en bedrieglike kinders geïgnoreer (v.9). Hulle wou sieners en profete hê wat nie op hulle tone trap nie, wat nie oor God se heiligheid preek nie, wat net goeie dinge sê en nie teen hulle sonde preek nie (v.10-11, 1Kon. 22:8, 13, Amos 2:12, Miga 2:11).
Omdat hulle die Woord van God verag het, kan ons sê dat hulle op verdrukking en slinksheid vertrou het (v.12). Dit is wat afgodery doen: dit bedrieg en verdruk die mense wat daaraan vashou. ‘n Toordokter sê bv. vir iemand wat dodelik siek is om nie hospitaal toe te gaan nie, maar ‘n mengsel van modderwater en kruie te drink. Soos jy kan raai sterf die persoon.
Omdat Juda haar rug op God se Woord gedraai en op Egipte vertrou het, was sy soos ‘n hoë muur met los klippe wat enige oomblik sou omval (v.13). God sou haar soos ‘n kleipot stukkend slaan (v.14, Ps. 2:9). Die skerwe was te klein om kole uit die kaggel te skep of water te hou (v.14). Die verwoesting sou m.a.w. totaal wees.
Maar die Here was nie oorhaastig om vir Juda te oordeel nie. Hy het haar tyd gegee om haar te bekeer (v.15). Om gered te word moes sy na Hom toe terugkeer, en deur stille geloof en vertroue in Hom rus (v.15). Sy was egter nie bereid om dit te doen nie, maar het op Egipte se vinnige perde vertrou (v.15-16, 31:1, Ps. 20:8, 33:17, 147:10-11, Spr. 21:31). Om haar te oordeel het die Here Assirië se perde vinniger as Egipte s’n gemaak (v.16, Deut. 28:49, Jer. 4:13, Hab. 1:8).
A.g.v. God se oordeel sou een Assiriër ‘n duisend Jode op hol jaag; vyf Assiriërs sou Juda se hele weermag laat vlug (v.17, Deut. 32:30, kontra Lev. 26:8). Toe die Here klaar sy volk geoordeel het, was daar byna niks van haar oor nie - net ‘n vlagpaal en ‘n banier om te wys dat daar eens op ‘n tyd mense was (v.17).
Laat dit vir ons ‘n waarskuwing wees om nie rebels en ongehoorsaam te wees soos Juda nie. Moenie soos Juda vir jou ‘n ds. soek om jou ore te streel nie (v.10-11, 2Tim. 4:3-4). In ons tyd soek mense ‘n ds. wat sê dat homoseksualiteit en saambly nie sonde is nie. Hulle soek ‘n ds. wat sê hulle kan in sonde lewe en nog steeds hemel toe gaan. Hulle soek ‘n ds. wat sê dat hulle iets kan doen om hulle redding te verdien.
Hulle soek ‘n ds. wat hulle motiveer om goed oor hulleself te voel, wat sê dat Jesus vir hulle gesterf het omdat hulle spesiaal is. Hulle soek ‘n ds. wat nie oor die hel preek nie, omdat God ‘n God van liefde is. Hulle soek ‘n ds. wat sê dat hulle wonderwerke, geld en gesondheid sal kry as hulle die Here volg.
Hulle soek nie ‘n ds. wie se preke hulle skuldig laat voel nie. Hulle soek nie een wat sê dat God heilig is en sonde haat, dat die hel regtig is, dat jy hel toe gaan as jy met jou sonde aanhou, dat jy niks kan doen om die hemel te verdien nie, dat jy jou moet bekeer, dat jy jouself moet verloën, dat geloof nie bloot ‘n intellektuele oefening is nie, maar dat dit tot ‘n lewe van gehoorsaamheid lei, ens. nie. ‘n Ds. wat die waarheid preek sal een van die volgende reaksies kry:
- Hy is nie populêr nie, maar het min dissipels (Joh. 6:66).
- Hy word vervolg. Die bokke wil van hom ontslae raak en hom met iemand anders vervang.
- Mense verlaat die kerk en soek ‘n ds. wie se boodskappe sagter op die oor val.
- Mense bly by die huis, en soek op die internet ‘n ds. wat preek soos wat húlle daarvan hou.
Die punt wat ek wil maak is nie dat ‘n ds. hard en gevoelloos moet wees nie. Hy moet met deernis en liefde preek. Maar hy moenie God se waarheid verdraai, omdat hy mense se opinies vrees nie. Hy moet sê wat die Here sê en die resultate in sý hande los. Die vraag is nie of mense aanstoot neem nie, maar of dit wat hy sê waar is, en of die Here daarmee tevrede is (1Tess. 2:4, 2Tim. 4:1-2).
‘n Ds. moet soos my vriend wees. Iemand het hom streng bestraf oor ‘n artikel wat hy geskryf het. Hy het nie die bestraffing aanvaar nie, maar gesê: ‘Is it true?’ Wanneer iemand ná die preek ‘n e-pos vir die ds. skryf en sê: ‘Ek stem nie saam met wat jy gesê het nie en gaan vir my ‘n ander gemeente soek,’ moet hy sê: ‘Het ek gesê wat die teks sê?’ Weë hom as hy sy eie gedagtes preek en nie die Bybel verkondig nie. Maar as hy wél die Bybel gepreek het, rus God se oordeel op dié wat dit verwerp en ‘n ds. soek om hulle ore te streel.
Hierdie mense is rebelle wat die Here uitnooi om sy toorn soos lawa oor hulle uit te stort. Iemand wat die geskrewe Woord van God verwerp, verwerp ook die vleesgeworde Woord (Jesus). Moet dan nie soos Juda rebels wees nie. Wees lief vir die Bybel en luister wanneer die Here deur sy Woord met jou praat.
“Want as die woord deur engele gespreek, onwankelbaar was, en elke oortreding en ongehoorsaamheid regverdige vergelding ontvang het, hoe sal ons ontvlug as ons so ‘n groot saligheid verontagsaam wat, nadat dit eers deur die Here verkondig is, aan ons bevestig is deur die wat dit gehoor het...?” (Heb. 2:2-3). “As iemand die wet van Moses verwerp het, sterf hy sonder ontferming op die getuienis van twee of drie; hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?” (Heb. 10:28-29).
Is jy ‘n rebel wat God se Woord en sy Gees ignoreer en op jouself vertrou? Jou enigste hoop is om deur geloof en bekering onder die graniet sambreel van Jesus se kruisdood te staan. As jy in enige ander skuiling wegkruip, sal die stormwind, vloed en haelstene van God se oordeel jou daar kom uithaal. Draai daarom met vrees en bewing na die Here toe, sodat Hy jou kan omhels en deel van sy gelukkige familie kan maak (Luk. 15:20-24).
Jy sal wees soos die rebelse seun wat van sy ouerhuis af weggeloop het. Na ‘n baie jare het hy tot sy sinne gekom en was hy jammer oor wat hy gedoen het. In ‘n brief het hy vir sy pa gesê hy wil huis toe kom. ‘Bind asb. ‘n wit sakdoek aan ‘n tak naby die trein stasie as pa my vergewe het,’ het hy gesê. Toe die trein by die stasie inkom, was daar ‘n wit sakdoek aan elke tak van al die bome langs die stasie. Sy pa het hom ten volle vergewe.
En sal die Here dit nie ook met jou doen as jy jou bekeer nie (v.15)? Is dit nie wat Hy in Hos. 14:5 belowe het nie: “Ek sal hulle afkerigheid genees, hulle vrywillig liefhê, want my toorn is van hulle afgewend”?
[1] https://www.youtube.com/watch?v=OeAZ5IuydBA
[2] Alec Motyer, The Prophecy of Isaiah, Inter-Varsity Press, Leicester: England, 1993, p. 248