Coram Deo Cover Image

Coming soon...

29 December 2017

God se prioriteite vir 2018 en die res van jou lewe

Resolutions 2018

Toe Jonathan Edwards 19 was, het hy 70 voornemens vir homself neergeskryf.[1]  Hier is ‘n paar van hulle:

 

‘#7. Voorgeneem, Om nooit iets te doen wat ek bang sou wees om te doen as dit die laaste uur van my lewe was nie.

 

#10. Voorgeneem, As ek pyn voel, om aan die pyne van marteling en die hel te dink.

 

#15. Voorgeneem, Om nooit in die minste kwaad te word vir irrasionele wesens [bv. honde] nie.

 

#46. Voorgeneem, Om nie toe te laat dat ek in die minste geïrriteerd of omgekrap raak met my ouers nie...

 

#56. Voorgeneem, Om nooit op te gee of te verslap in my stryd met sonde nie, al is ek ook hoe onsuksesvol.’

 

Hoe het Edwards hierdie voornemens onthou; hoe het hy daarin geslaag om dit in sy lewe toe te pas?  Ek glo dat daar ‘n paar redes vir sy sukses is.

 

Eerstens:  Hy het nie op sy vasberadenheid, selfdissipline en geheue staatgemaak het nie.  Reg aan die begin van die voornemens sê hy:  ‘Ek besef dat ek tot niks in staat is sonder God se hulp nie.  Daarom smeek ek Hom nederig om my deur sy genade in staat te stel om hierdie voornemens te hou, in soverre dit ooreenstem met sy wil en vir Christus se onthalwe.’

 

Tweedens:  Voordat hy die voornemens begin sê hy:  ‘Onthou om elke week hierdie voornemens deur te lees.’  Sodoende het hy dit beter onthou.  Omdat hierdie lewensvoornemens was en nie net voornemens vir die nuwe jaar nie, het hy nie na 3 maande opgegee nie maar daarin volhard.

 

Derdens:  In die eerste voorneme sê hy dat hy hierdie dinge vir God se eer wil nakom.  Is dit dan enige wonder dat die Here hom hierin geseën het?

 

Vierdens:  Edwards se voornemens was hoofsaaklik geestelik.  Sy doel in die lewe was nie om wêreldse sukses, rykdom of ‘n mooi liggaam te hê nie.  Hy het op geestelike dinge gefokus.

 

Die doel, motivering en krag agter Edwards se voornemens klink nogal soos Paulus s’n in 2Tess. 1:11-12.  As jy hierdie verse ernstig opneem, sal dit meer as net 2018 verander - dit sal jou hele lewe verander.

 

Hoe moet jy bid? (v.11)

Wyle dr. Martin Holdt het ‘n groot invloed op my gehad.  Hy het wonderlike dinge gesê, maar sy lewe het my die meeste beïndruk.  Met Paulus se gebede is dit ook so.  Dit is nie net sy lering oor gebed wat ons help nie, maar sy voorbeeld.

 

Toe die gelowiges in Tessalonika vervolg is (1Tess. 2:14-16, 3:3-4, 2Tess. 1:4), het Paulus só vir hulle gebid:  “Daarom bid ons ook altyd vir julle dat onse God julle die roeping waardig mag ag, en dat Hy alle welgevalle aan wat goed is, en alle werk van die geloof met krag volkome mag maak” (v.11).  Die Nuwe Lewende Vertaling stel dit soos volg:  “Met dit in gedagte bid ons altyd vir julle.  Mag ons God julle waardig maak vir die lewe waartoe Hy julle geroep het.  Mag Hy elke goeie voorneme en geloofsdaad met krag tot uitvoering bring.”

 

Wat leer ons uit hierdie gebed?

 

Soos in 1Tess. 3:12-13, 5:23 bid Paulus hier in die konteks van die wederkoms (v.11, 7-10).  Dit was ook in hierdie konteks wat die gelowiges in Tessalonika hulle voornemens moes maak.  Dit was nie genoeg om net voornemens vir die nuwe jaar te hê nie.  Paulus het vir hulle lewensvoornemens gebid.

 

Ons moet dieselfde doen.  ‘Waarvoor lewe jy?’ is die vraag wat jy jouself moet afvra.  Lewe jy om suksesvol te wees, ‘n top posisie by die werk te hê, akademiese grade te hê, mooi te lyk, fiks te wees, geld te maak, in luuksheid af te tree, jou gesin bymekaar te hou, in die kollig te wees, of wat?

 

Dalk het jy nog nie hieroor gedink nie.  Dit sal goed wees om daaroor te dink as jy jou planne vir die nuwe jaar maak.  Die doel en voorneme wat jy vir jou lewe het, moet groter as jou kort bestaan van 70 of 80 jaar wees.  Dit moenie stop as jy jou asem uitblaas nie, maar dit moet voortleef as jy nie meer hier is nie.  Jy moet dus nie net voornemens en planne vir 2018 hê nie, maar vir jou hele lewe.  Die voornemens wat jy maak moet jou lewe hierna beïnvloed.

 

As jy net vir hierdie wêreld lewe sal jy teleurgesteld wees, “want die gedaante van hierdie wêreld gaan verby.” (1Kor. 7:31).  “En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid” (1Joh. 2:17).  Binnekort sal jy in die graf lê.  En wat sal jou skoonheid, geleerdheid, rykdom, gesondheid, roem, status, geluk, ens. dán beteken?  Jy kan nie eers seker wees dat jou lewensmaat en kinders die erfdeel sal kry wat jy vir hulle agtergelaat het nie.

 

Leef daarom vir Christus.  Sorg dat Hý en nie jý nie, die middelpunt van jou voornemens is.  Dink daaraan dat jy eendag voor Hom gaan moet staan.  Wat gaan jy vir Hom sê as Hy jou oor jou lewe vra?  Wat gaan jy sê as Hy jou vra hoekom jy vir jouself en hierdie wêreld gelewe het, en nie vir Hom wat lewe, asem en alles vir jou gegee het nie?  Hoe gaan jy jou begeertes, motiewe, gedagtes, woorde, dade en lewe vir sy alsiende oë wegsteek?

 

Pla dit jou nie dat die God van hemel en aarde van jou rekenskap gaan eis nie?  Sal die plankhuisie van jou lewe voor die geweldige stormwind van sy regverdige oordele staan?  Gaan jy maar net hoop dat jy meer goed as sleg gedoen het, en dat jou goeie werke swaarder geweeg het as jou sonde?  Dink jy die Here gaan daarmee tevrede wees?

 

Verseker nie (Ps. 1:5, 5:5-6, Jes. 64:6, Hab. 1:13, Rom. 3:10-12, 23).  Om vir God aanneemlik te wees kan daar nie een fout op jou rekord wees nie - jy moet ‘n perfekte ‘track’ rekord hê (Matt. 5:20, 48).  Dit werk nie soos by jou skool nie.  As jy by die Here selfs net een demeriete teen jou naam het, sal Hy jou nie aanvaar nie (Jak. 2:10).  In sy hof is daar nie ‘n eerste, tweede en derde dissiplinêre verhoor soos by jou werk nie.  As jy een keer oortree het is jy vervloek, en kan jy nie in sy heilige teenwoordigheid inkom nie (Gal. 3:10).

 

Miskien wonder jy watse hoop daar dan vir jou is.  Deur Jesus Christus kan jy na die Vader toe kom (Joh. 14:6, 1Tim. 2:5).  Moet dan nie langer op jou Christelike opvoeding, goeie werke of godsdienstige pogings vertrou nie.  Dit kan so min maak dat die Here jou aanneem, as wat ‘n swart sak vol gemors vir jou ‘n Ferrari kan koop.  Beskou jou eie pogings en werke as gemors, en moet asb. nie daarop staatmaak om jou in die hemel te kry nie (Fil. 3:4-7).  Draai 180° weg van jou sonde en jou eie pogings af na die Here toe.  Ontvang sy vergifnis en die perfekte rekord van sy geregtigheid deur die geloof (Fil. 3:8-9).  Jy kan niks doen om dit te verdien nie; dit is ‘n gratis geskenk - ontvang dit net (Rom. 3:24, 6:23b, Ef. 2:8-9).

 

Vir die mense in Tessalonika wat dit ontvang het, het Paulus twee dinge gebid:

 

[1] Dat die Here hulle sou help om waardig te lewe soos mense wat uit die dood na die lewe geroep is (v.11, vgl. 2:14, 1Tess. 2:12, Ef. 4:1, Fil. 1:27, Kol. 1:10).  Hy het m.a.w. gebid dat hulle nie ‘n swak advertensie vir die evangelie sou wees nie, maar dat hulle soos Christene sou lewe.  Deur hulle heilige lewens moes hulle Jesus se Naam hoog hou, en dit nie deur die modder sleep nie (v.3-4, 1Tess. 1:8-9, 3:6).

 

Ons moet dit ook vir onsself en ons kinders bid.  Leef jy soos ‘n Christen by die kerk?  Is jy getrou aan die liggaam van Christus?  Dien jy ander gelowiges en bid jy vir hulle?  Gebruik jy jou geld om die Here se werk te bevorder?  Prys jy die Here uit ‘n opregte hart?  Doen jy wat Hy in die Bybel vir jou sê?  Bid jy saam met ander Christene?

 

Leef jy soos ‘n Christen in jou gesin?  Is jy lief vir jou vrou?  Stel jy haar belange bo jou eie?  Spandeer jy tyd met haar?  Is haar geestelike groei vir jou belangrik?  Hou jy jouself rein vir haar?  Stel jy haar bo jou kinders?

 

Is jy onderdanig aan jou man?  Respekteer jy hom in die manier waarop jy met hom praat?  Ondersteun jy hom?  Bid jy vir hom?  Behoort jou hart aan hom alleen, en aan niemand anders nie?  Stel jy hom bo jou kinders?

 

Is jy lief vir jou kinders?  Spandeer jy tyd met hulle, of is jy te besig?  Gesels jy met hulle?  Leer jy hulle van die Here?  Verloor jy jou humeur met hulle, of dissiplineer jy hulle met waardigheid en liefde?

 

Respekteer jy jou ouers?  Gehoorsaam jy onmiddellik wanneer hulle met jou praat, of praat jy terug?  Bid jy vir hulle?  Is jy lief vir hulle?  Sê jy dankie dat hulle jou versorg en liefhet?

 

Leef jy soos ‘n Christen by die skool en by die werk?  Doen jy jou beste?  Werk jy hard?  Luister jy vir die mense wat oor jou aangestel is?  Werk jy eerlik en opreg, of kroek jy?  Mors jy jou ouers of baas se tyd en geld?  Praat jy terug?  Hou jy jou lewe skoon?  Is jy stiptelik?  Praat jy soos ‘n Christen?

 

Leef jy soos ‘n Christen in jou wyer familie, vriendskappe, stokperdjies, vermaak, ontspanning, ens.?  Wat van jou kinders:  bid jy dat húlle die Here sal dien en soos Christene sal lewe?  Volgens D.A. Carson bid ons meer dat ons kinders hulle eksamens sal deurkom, ‘n goeie werk sal hê, gelukkig sal wees en nie sal wegdwaal nie, as wat ons bid dat hulle vir die Here sal lewe.

 

‘Many of us have had the experience of asking a parent, “How are your children doing?” only to get an answer like this:  “Oh, Johnny’s doing very well now.  His career as a research physicist has really taken off.  He is the youngest person in his company to have been appointed to the board.  And Evelyn is doing very well, too.  She’s into computer programming and is already ahead of her section.”

 

“And how are they doing spiritually?”

 

A long pause.

 

“I’m afraid they’re not really walking with the Lord at the moment.  But we’re hoping they’ll come back some day.”’

 

Carson is reg as hy sê dat sulke antwoorde iets van ons verdraaide prioriteite wys.  Ons is verheug oor ons kinders se materiële voorspoed, maar dit pla ons nie juis dat hulle traak-my-nie-agtig is oor die God wat hulle gemaak het nie.  Maar hoe sal jou kinders se toewyding aan wêreldse waardes hulle in die ewige toekoms help?[2]

 

Verstaan jy hoekom jy geestelike dinge vir jouself, jou kinders en ander gelowiges moet bid, en nie net materiële en tydelike dinge nie?  Wees soos die jong dame in 1892 wat op die innerlike en geestelike dinge gefokus het.  Sy het die volgende in haar dagboek geskryf:

 

Resolved, not to talk about myself or my feelings.  To think before speaking.  To work seriously.  To be self restrained in conversation and actions.  Not to let my thoughts wander.  To be dignified.  Interest myself more in others.’[3]

 

Kontrasteer dit met ‘n tienermeisie se dagboek inskrywing in die 1990’s:

 

‘I will try to make myself better in any way I possibly can with the help of my budget and baby-sitting money.  I will lose weight, get new lenses, already got new haircut, good makeup, new clothes and accessories.’[4]

 

Laat ons in ons voornemens op die innerlik mens en ons verhouding met die Here fokus, en nie op uiterlike dinge nie.  Dit is tog wat vir die Here belangrik is (1Sam. 16:7, Spr. 31:30, 1Pet. 3:3-4).

 

[2] Paulus het verder gebid dat God die gelowiges se goeie voornemens sal vervul (v.11).  Weereens gaan dit hier oor voornemens wat jy vir jou lewe het, en nie net oor nuwejaarsvoornemens nie.  Dit gaan oor goeie voornemens.  Die Here weet wat goed is vir jou, en soos ‘n goeie Vader sal Hy nie dinge in jou lewe vervul as dit jou gaan benadeel nie (Matt. 7:9-11, Rom. 8:28).  Oor 20 jaar sal jy terugkyk en dankie sê dat Hy partykeer ‘nee’ gesê het.  Soms sal Hy ‘nee’ sê, omdat Hy jou karakter wil vorm en jou meer soos Jesus wil maak.

 

Jy bid bv. dat die Here ‘n sekere probleem moet wegvat, omdat dit vir jou te moeilik is.  Jy is soos ‘n atleet wat te moeg is om verder te hardloop.  Maar sodra jy wil uitsak skreeu die afrigter van die kantlyn af dat jy nie mag ophou nie.  Aanvanklik is jy vies, maar as jy eerste oor die wenstreep hardloop is jy bly dat hy ‘nee’ gesê het.

 

Jy is soos Paulus.  Hy het drie keer vir iets gebid, maar die Here het ‘nee’ gesê.  Toe hy later terugkyk, toe besef hy dat die Here iets beter vir hom gegee het (2Kor. 12:7-10).  So sal die Here ook vir jou ‘nee’ sê, omdat Hy iets beter vir jou wil gee.

 

Wanneer dinge nie uitwerk soos jy gehoop het nie, sal jy dink dat die Here teen jou is en soos Jakob sê:  “Alles is teen my! ... vol teëspoed was die dae van my lewensjare” (Gen. 42:36, 47:9).  Later sal jy egter terugkyk en saam met Jakob getuig van die God “wat my as Herder my lewe lank gelei het tot vandag toe, die Engel wat my uit elke teëspoed verlos het” (Gen. 48:15-16).

 

God is getrou en sal al jou goeie voornemens vervul (v.11).  Daar is twee maniere hoe Hy dit doen.

 

  • Jy moet bid. Dit help nie dat jy net harder probeer en op jouself staatmaak om te verander nie (bv. diëte).  Jy moet aanhoudend die Here se hulp vra en op sy krag steun (v.11).
  • Jy moet werk. Dit help nie dat jy oor jou goeie voornemens bid, maar passief sit en wag dat die Here vir jou die krag moet gee om dit te doen nie.  Neem aksie.  Doen wat die Here jou beveel, en glo dat Hy vir jou die krag sal gee om sy wil uit te voer (v.11).

 

Daar is ‘n Latynse spreekwoord wat sê:  ora et labora - bid en werk.  Jy kan nie net een of die ander doen nie.  Volgens Paulus in 2Tess. 1:11 moet jy beide doen.

 

As jy in gebed op die Here se krag staatmaak, is enigiets moontlik (Matt. 17:20).  Dink jy dat jy nie vermoë het om ‘n Bybelstudie by die werk te begin of siek mense te besoek nie?  Dalk wil jy met iemand die evangelie deel of by ‘n biduur inskakel, maar jy het nie die vrymoedigheid om voor ander te bid of met hulle oor die Here te praat nie.  Bid daaroor, tree uit in die geloof, en vertrou dat die Here vir jou die krag sal gee om dit te doen (v.11).

 

Miskien lê hierdie dinge soos ‘n berg voor jou en dink jy dat jy dit nooit sal regkry nie.  By die Here is niks onmoontlik nie.  As jy glo dat Hy jou kan help en in geloof uittree, sal Hy vir jou vlerke gee om oor die berg te vlieg.  Nee, ek jok!  Hy sal die berg verwyder.  “Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare.  Wie is jy, groot berg?  Voor Serubbábel sal jy tot ‘n gelykte word!” (Sag. 4:6-7).  “Want, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir hierdie berg sê:  Hef jou op en werp jou in die see—en nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, sal gebeur—hy sal verkry net wat hy sê.” (Mark. 11:23).

 

Waarvoor wag jy dan?  Moenie ‘n sekonde langer aan die voet van die berg staan en wonder nie; gee die eerste tree.  Kom aanddiens toe, lees jou Bybel meer, dissipeleer ‘n jong Christen, kry ‘n jeug bediening van die grond af, bestel traktaatjies en begin om dit uit te deel, gaan slaap vroeër en staan 15 minute vroeër op sodat jy langer kan bid, trek R100 en gee dit vir ‘n sendeling, stuur vandag vir jou ongelowige kollega ‘n boodskap en nooi hom kerk toe, bel hierdie week ‘n broer of suster en nooi hulle vir ete.

 

Dalk is jy skepties, omdat jy al in die verlede probeer het om te verander, maar dit het nie gewerk nie.  Jy is soos 8-jarige Jannie wat eendag vir die Springbokke wil speel.  Hy vra sy ma om vir hom ‘n bal te koop, en gaan vol ywer na die eerste oefening toe.  Na die derde oefening kla hy dat dit hom te moeg maak, en dat hy nooit ‘n Springbok sal wees nie.

 

Jy moet eerder soos Brandon Burlsworth (1976-1999) wees.  Hy was ‘n oorgewig jong man wat professionele voetbal wou speel.  Almal het vir hom gelag; dit het gelyk of sy drome onrealisties is.  Na sy eerste jaar op kollege het hy nie die span gemaak nie.  Maar hy was vasberade en het nie opgegee nie.  Met toewyding en harde oefening het hy sy vet omgesit in spiermassa.  Uiteindelik was hy een van die mees geëerde spelers in die geskiedenis van Amerikaanse voetbal in die staat van Arkansas.

 

Wat kan jy doen om op ‘n geestelike vlak so te volhard?

 

  1. Bely jou sonde en raak ontslae van die dinge wat keer dat jy die Here se wil uitvoer (Matt. 5:29-30). Dit geld vir slegte vriende en ander verkeerde invloede in jou lewe (Rom. 13:14, 1Kor. 15:33, 1Tess. 5:22, Heb. 12:1).

 

  1. Bid, bid, bid (v.11, 1Tess. 5:17). Salomo sê: “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.  Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.” (Spr. 3:5-6).  Vra elke oggend dat die Here jou sal help om deur die dag te kom (Klaagl. 3:23).

 

  1. Onthou dat jy die Here se krag tot jou beskikking het (v.11). By Hom is niks onmoontlik nie; Hy kan doen ver bo wat jy kan bid of dink (Matt. 19:26, Ef. 3:20).

 

  1. Neem een tree op ‘n slag, en moenie ‘n kits oplossing verwag nie. Jy gaan elke dag die Here moet volg (Luk. 9:23). Dit gaan tyd neem om te verander.  ‘n Gewoonte van 15 jaar verander nie binne 2 maande nie.

 

  1. Moenie opgee as jy geval het nie. Staan op, bely jou sonde en probeer weer... en weer... en weer. As jy ‘n slegte gewoonte kan aanleer, kan jy dit afleer en met ‘n goeie een vervang.  Gal. 6:9 sê:  “En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.”

 

  1. Vra ander gelowiges om vir jou te bid en jou aan te moedig (v.11, Heb. 3:13, 10:24). Hiervoor is dit belangrik dat jy aktief deel moet wees van ‘n goeie gemeente.

 

  1. Hou die wederkoms voor oë, omdat jou goeie voornemens dán eers finaal vervul sal wees (v.11, 1Tess. 5:23). Dit is makliker om in die wedloop te volhard as jy die wenpaal sien (Heb. 12:2).

 

Wat moet jou doel wees? (v.12a)

Soms het ons goeie voornemens met slegte motiewe.  Dit is soos Hans wat ‘n oor boek nederigheid skryf, maar hoogmoedig is omdat hy die nie-fiksie titel van die jaar gewen het.

 

Net so kan jy jou voorneem om die Here met jou eetgewoontes te eer, en dan met jou neus in die lug te loop omdat jy baie gewig verloor het.  Jy kan jou voorneem om meer vir die armes te gee, en dan in jou hart wens dat iemand dit sal raaksien en iets daaroor sal sê.  Jy kan besluit om meer te bid, terwyl jy in die geheim hoop dat mense jou as ‘n man of vrou van gebed sal ken.

 

Hoe weet jy of jou motiewe verkeerd is?

 

[1] Jy dagdroom oor hoe mense jou goeie werke sien en jou prys.  Jy is soos die Fariseërs:  hulle het goed gedoen om deur die mense gesien te word (Matt. 6:1-5, 16-18).

 

[2] Jy is kwaad of depressief, omdat niemand vir jou dankie gesê het nie.  Iemand met suiwer motiewe soek nie die lof van mense nie, maar van God (Joh. 12:43, Rom. 2:29, 1Tess. 2:4).

 

[3] Jy doen goed, omdat jy ‘n beter huwelik, ‘n soet kind, meer geld of iets anders by die Here soek.  Maar die Here sal nie toelaat dat jy Hom met goeie werke omkoop nie.  Jy kan nie sy genade verdien nie.  Hy gee dit soos Hy wil, wanneer Hy wil, vir wie Hy wil.  As jy goed gedoen het moet jy nie ‘n dankie verwag nie, maar erken dat selfs jou goeie werke van die Here af kom, en selfs dít ‘n genade is (Ef. 2:10).

 

“Bedank [die Meester sy] dienskneg, omdat hy gedoen het wat hom beveel is?  Ek glo nie.  So ook julle, wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan:  Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen.” (Luk. 17:9-10).

 

[4] Jy roem oor die sukses wat jy bereik het.  Die Bybel beveel jou om in die Here te roem en nie in jouself nie (Jer. 9:23-24, 1Kor. 1:31, 2Kor. 10:17-18).  Laat iemand anders se lippe jou prys en nie jou eie nie (Spr. 27:2).

 

As jy jou voornemens reg wil uitvoer, moet jy mik om die Here verheerlik en nie jouself nie (v.12).  Doen goed, omdat jy wil hê dat mense deur jou die Here sal ken en Hom sal prys (Matt. 5:16), en nie omdat jy die aandag op jouself wil vestig nie.  By die wederkoms sal jy ‘n verheerlikte liggaam ontvang, en sal almal Christus se heerlikheid in jou sien (v.12, 10, Rom. 8:18).  Dit moet jou doel wees, die teiken waarvoor jy mik (Fil. 3:10-11).  As jy enige ander motief het, is jou voornemens tevergeefs.

 

Hoe sal jy dit regkry? (v.12b)

Ons kan 2Tess. 1:11-12 soos volg illustreer.  Jou lewe is die kar, God se krag die enjin, sy genade die petrol, en jou goeie voornemens die pad waarop jy moet ry.  Gebed is die tweerigting radio waardeur jy die Here vra om die pad aan te wys en nog petrol te voorsien.

 

Om die reis suksesvol te voltooi het jy al hierdie dinge nodig - jy kan nie iets uitlos nie.  Vir nou wil ek jou oor die petrol van God se genade leer.  God se genade kos nie geld nie - dit is gratis.  Dit is tog wat sy genade genade maak, want as jy dit verdien het is dit nie meer genade nie.

 

Genade is God se onverdiende guns waardeur Hy sy Seun en baie ander goeie dinge vir ons gee (Rom. 8:32).  Dit is hierdie genade wat ons elke dag nodig het om ons goeie voornemens te vervul (v.11-12):  “sonder My kan julle niks doen nie ... deur die genade van God is ek wat ek is” (Joh. 15:5, 1Kor. 15:10).

 

Hoe kan jy hierdie genade ontvang?  Bely dat sonde jou arm gemaak het, dat jy niks kan bydra om God se genade te koop nie.  Glo dat Jesus hierdie peperduur genade aan die kruis gekoop het, en dat dit gratis beskikbaar is vir almal wat vra (Jes. 55:1, Op. 21:6, 22:17).  Gebruik gedurig die tou en emmer van geloof en gebed om uit die put van God se genade te skep.  Laat God se genade ook deur lofprysing, die Woord, die doop, die nagmaal, broederlike gemeenskap, diensbaarheid, dissipline, offergawes, evangelisasie en ander se geestelike gawes na jou toe vloei.

 

Deur die Gees wat in jou woon, sal die Vader en die Seun se genade jou help om v.11-12 te vervul:  om aan te hou bid, soos ‘n Christen te lewe, jou goeie voornemens uit te voer, nie op jou eie krag te steun nie maar op syne, ‘n God-gesentreerde doel te hê.  Om hierdie dinge te doen maak jou nie ‘n Christen nie, maar dit wys verseker dat die Here se genade in jou lewe teenwoordig is.

 

Op hierdie punt is dit belangrik dat jy nie net jou voornemens vir 2018 aan die Bybel meet nie, maar dat jy jouself toets om te sien of jy ‘n Christen is (2Kor. 13:5).

 

  • Is Jesus se wederkoms iets waaraan jy dink, of is jy te besig met jou lewe in hierdie wêreld (v.11, 7-10)?
  • Bid jy gedurig, of bid jy net as jy die Here nodig het (v.11)?
  • Leef jy soos ‘n Christen, of lyk jou lewe nie anders as die wêreld s’n nie (v.11)?
  • Het jy heilige voornemens en begeertes, of beheer sondige drange jou hart (v.11)?
  • Kry jy dit reg om die Bybel se goeie begeertes uit te voer (v.11)?
  • Het jy die krag om daarmee vol te hou, of gee jy op (v.11)?
  • Is dit jou begeerte om die Here te verheerlik (v.12)?
  • Besef jy dat jy God se genade nodig het, of dink dat Hy jou goeie dinge skuld (v.12)?

 

As jy eerlik kan sê dat Paulus se begeerte in hierdie verse joune is, wil ek Dawid se woorde vir jou bid:  “Mag [die Here] u gee na u hart en al u voornemens vervul! ... Mag die HERE al u begeertes vervul!” (Ps. 20:5-6).  “U het hom die wens van sy hart gegee en die begeerte van sy lippe nie geweier nie.” (Ps. 21:3).  “en verlustig jou in die HERE; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart.” (Ps. 37:4).

 

Mag die Here jou in 2018 en die res van jou lewe help om sy prioriteite joune te maak, en dit dan in jou lewe vervul.

 

‘...Ek stuur my seilboot die onbekende waters van hierdie jaar in,

met U, O Vader, as my hawe,

met U, O Seun, aan die stuur,

met U, O Heilige Gees, wat my seile [vul].

 

Lei my na die hemel, voorberei vir die stryd,

met my lamp wat brand,

my ore oop vir U roepstem,

my hart vol liefde

en my siel vry.

 

Gee my U genade om my te heilig,

U troos om my op te beur,

U wysheid om my te leer,

U regterhand om my te lei,

U raad om my te onderrig,

U wet om my te oordeel,

U teenwoordigheid om my standvastig te maak.

 

Mag eerbied aan U my doel wees,

U oorwinnings my vreugde.’[5]

 

[1] Vry vertaal uit The Works of Jonathan Edwards: Vol.1, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1834, 1974, pp. xx-xxii

[2] D.A. Carson, A Call to Spiritual Reformation, Baker Academic, Grand Rapids: Michigan, 1992, 2009, p. 55

[3] Aangehaal in C.J. Mahaney (Red.), Worldliness, Crossway Books, Wheaton: Illinois, 2008, p. 134

[4] Ibid.

[5] Arthur Bennett, Vallei van Gebed, WoordVerspreiding: Vereeniging, 2009, p. 122.  Vertaal deur Antoinette van Rooyen uit Arthur Bennett, The Valley of Vision, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland: 1975, p. 112

Kategorieë