Jakobus 1:16-18
Angsaanvalle en kalmeermiddels word al hoe meer algemeen onder Christene. Die Here wil nie hê ons moet vol angs lewe nie. Paulus sê in Fil. 4:6-8: “Moet oor niks bekommerd wees nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend. En die vrede van God, wat alle begrip oortref, sal in Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak. Verder, broers, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat lof verdien, ja, watter deug of watter prysenswaardige saak daar ook mag wees: rig julle gedagtes daarop.”1 Maurice Roberts sê: ‘life’s secret very largely consists in holding [God] in our thoughts as much as possible...’2
Daar het jy God se kalmeermiddels in beproewing: regte gedagtes oor Hom. Dit is wat vandag se verse ons leer.
1. Heilige liefde (v.16)
Ons sondig maklik in beproewing. Wat binne is kom uit. Ons raak ongeduldig, geïrriteerd, bitter, angstig, twisgierig, kleingelowig, wêreldsgesind (v.14-15). Moet jouself nie bedrieg en sê dit is God se skuld nie (v.16). Toe ’n sekere man egbreek gepleeg het, het hy dit gedoen. Hy het sy leraar gaan sien en die volgende gesprek met hom gehad:
‘Ek is kwaad vir die Here.’
‘Hoekom is jy kwaad vir die Here?’
‘Want ek het gisteraand egbreek gepleeg.’
‘Ek kan verstaan as die Here vir jou kwaad is, maar hoekom is jy kwaad vir Hom?’
‘Want Hy het my nie gekeer nie. As Hy ingegryp het, het ek nie gesondig nie.’
‘Het jy die vrou vermy? Het jy jou vrou vertel jy word versoek? Het jy iemand gevra om jou aanspreeklik te hou?’
‘Nee.’
Ons blameer maklik die Here vir ons sonde. Jakobus sê as jy aan versoeking toegee, is dit jou eie skuld (v.14-15). Die Here is onskuldig (v.13). God is altyd goed, ook in beproewing (v.17). Die duiwel sê vir jou God is sleg:
‘Jy gaan deur ’n moeilike tyd. Dit lyk nie of die Here omgee nie. Is dit hoe God sy kinders behandel? Is dit hoe Hy jou vir jou getroue diens vergeld? Help jouself uit. Hoekom moet jy langer op die Here wag? Dit lyk nie of Hy gaan deurkom nie. Beeïndig jou lewe, dan is die hartseer verby.’
Die duiwel laat na om te sê Christene is God se geliefdes (v.16, agapētos). Beproewing is nie daar om jou seer te maak nie. God geniet dit nie as jy swaarkry nie (Klaagl. 3:33). Hy stuur beproewing om jou karakter te vorm en volharding te kweek; Hy stuur dit om jou soos Jesus te maak (v.3-4, Rom. 8:29). Hy stuur dit om jou heilig te maak, sodat jy goeie vrugte dra (Heb. 12:10-11). Hy stuur dit uit liefde om te wys jy is sy kind (Heb. 12:6-8). Baie ander Christene moes al dieselfde as jy deurmaak. In al jou beproewings bly die Here getrou. Hy sal nie toelaat dat jy bo jou kragte versoek word nie, maar sal saam met die versoeking die uitkoms gee, sodat jy dit kan verdra (1Kor. 10:13).
Al word geen gelowige bo sy kragte versoek nie, is beproewing iets anders. Soms voel dit vir ons te swaar. Tog gebeur dit met ’n rede. Paulus sê in 2Kor. 1:8-9: “Want, broers, ons wil nie hê julle moet onkundig wees oor die verdrukking wat ons in Asië beleef het nie, dat die swaarkry wat ons verduur het, ver bo ons kragte was, sodat ons selfs aan ons lewe gewanhoop het. Trouens, wat onsself betref, het ons al as’t ware die doodsvonnis oor ons ontvang; maar dit was sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God, wat die dooies opwek.”
Iemand wat dit onthou, sal nie angstig rondkyk nie, maar vrede hê: “’n Standvastige gesindheid sal U in volkome vrede bewaar, omdat daar op U vertrou word.” (Jes. 26:3). “Moenie bang wees nie, want Ek is by jou; moenie vrees nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou; ook help Ek en ondersteun Ek jou met my seëvierende regterhand.” (Jes. 41:10).
2. Onveranderlike goedheid (v.17)
Lank gelede het ’n Boeddhis vir my gesê: ‘Die God van die Bybel is sleg. Die King James Version van Jes. 45:7 sê: “I form the light, and create darkness: I make peace, and create evil: I the Lord do all these things.” ’ Die Bybel onderskei tussen situational evil en moral evil. God is verantwoordelik vir situational evil, maar nooit vir moral evil nie. Om die goddelose te straf, verwoes Hy stede soos Sodom en Gomorra (Genesis 19, vgl. Klaagl. 3:37-38, Amos 3:6). Maar in die proses doen Hy geen morele kwaad nie (v.13). God doen net goed—elke goeie gawe kom van Hom af (v.17, Matt. 7:11). Hy gee ons goeie gawes soos wysheid in ons beproewing (v.5). Die beproewing self is ’n goeie gawe van God (v.17). Die Psalmdigter sê: “Gelukkig is die mens vir wie U teregwys, Here, vir wie U leer uit u wet” (Ps. 94:12).
Elke gelowige se beproewing is perfek vir hom gemaak, sodat hy daardeur volmaak en volwasse kan word (v.4, 17). Die Here weet wat elkeen van sy kinders nodig het (Jes. 28:23-29). Moenie God se wysheid bevraagteken nie. As Hy gedink het ’n beproewing is sleg vir jou sou Hy dit nie in jou lewe toelaat nie. Selfs as die duiwel of slegte mense in jou beproewing betrokke is, bly dit ’n goeie gawe van God (v.17). Satan en mense het slegte bedoelings, maar God se intensie met jou beproewing is goed (Gen. 50:20).
Dit beteken nie jy kan sonde doen, omdat God beproewing vir die goeie kan uitwerk nie. Rom. 8:28 geld net as jy God liefhet: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir hulle wat Hom liefhet, vir hulle wat volgens sy voorneme geroep is”. As jy sonde kies, sal dinge nie vir die goeie uitwerk. Die Here sal sy goeie plan uitwerk, maar jy sal aan die kortste ent trek. Ons sien dit in die lewe van Jakob. In Genesis 25 het God gesê die reg as eersgeborene sal syne wees. Toe sy ma dink hy gaan dit nie kry nie, toe beplan sy om dit te steel. Jakob het sy ma se plan verwelkom en was saam met haar skelm. Die plan was suksesvol. God het sy eie goeie planne uitgewerk. Maar omdat Jakob dit deur sonde verkry het, het hy vir hom eindelose familie probleme oor die hals gehaal.
Het jy in jou beproewing gesondig? Bely jou sonde en aanvaar jou beproewing as ’n goeie gawe van God (v.17). Bewonder die Here as die God van goeie gawes (v.17). Hy gee baie goeie gawes soos die son, maan en sterre (v.17). Die son laat water verdamp en wolke vorm. Dit bak op die aarde en laat warm lug styg, sodat lugstrome vorm. Die wind waai die wolke binneland toe, sodat dit op die aarde reën. Die son laat plante fotosinteer, sodat dit suurstof afgee. Die son laat vrugte ryp word. Desember se oggendson is heerlik. Kort na 05:00 verlig die son die boomtoppe soos verjaarskerse op ’n koek (vgl. Pred. 11:7). Die winterson is net so heerlik as dit deur die venster op jou skyn. Hoe voel ’n Arktiese winter met twee ure sonskyn per dag? Of wat van ’n Arktiese somer met 22 uur sonskyn per dag? Sonder dik gordyne sal jy moeilik aan die slaap raak (soos as iemand ’n Maglite in jou oë skyn). Om te rus, moet dit donker wees.
Maar nie te donker nie, anders val jy oor goed as jy in die aand badkamer toe loop. Daarom het God die maan en die sterre gemaak. Soos die son het God die maan vir dae, jare, tye en seisoene gemaak (Gen. 1:14-18). Die maan bepaal die getye van die see. Getye is nodig om sekere minerale in die see terug te sit, sodat seediere en -plante kan lewe. Getye maak die see skoon soos ’n siek mens wat opbring.
Wat van die sterre? In Jakobus se tyd het seevaarders dit gebruik om rigting te kry. Die sterre lyk ook mooi soos diamante op ’n donker fluweel doek.
Die son, die maan en die sterre is wonderlik.
Maar hulle is nie gode nie.
Jy mag hulle nie aanbid of jou sterretekens in die Huisgenoot volg nie (Deut. 4:19). Hulle is skepsels. God alleen is die Skepper. Hy het die hemelligte gemaak (v.17). Hy is bo alles en almal. Hy verander nie soos die hemelligte nie (v.17). Die son kom op en gaan onder. Dit veroorsaak langer en korter skaduwees. Die maan het verskillende fases. Die son en die maan verduister. Die son het kolle op. Dik wolke kan maklik die son, maan en sterre uitblok. Sterre verskiet of ontplof.
God is nie so nie. Hy lewe vir ewig en kan nie sterf nie (Ps. 90:2, 1Tim. 1:17, 6:16). Hy is lig en daar is geen duisternis in Hom nie (1Joh. 1:5). Hy verander nie (v.17, Heb. 1:12, 13:8). Sy wese en karakter bly altyd dieselfde. Hy is nie vandag almagtig, alwetend en goed, maar môre swak, onkundig en sleg nie. God is onveranderlik (v.17, Mal. 3:6). Sy beloftes ook (Num. 23:19, Deut. 32:4, Jos. 21:45, Heb. 6:18, 10:23). Hoe sou jy tot die Here bid as dit nie so was nie? Die Moslems se god—Allah—vergewe as hy in ’n goeie bui is. Hy is ’n onstabiele persoonlikheid wat jou vandag omhels en môre wegjaag. Hy is soos ’n baas vir wie ek in matriek gewerk het. Die man sou eendag in ’n vrolike bui wees en die volgende oomblik sy werkers vloek. Die Here is nie so nie. Hy verander nie soos die skepping, jou lewe en omstandighede nie. Selfs in beproewing bly Hy goed (v.17). Moenie soos Asaf in Ps. 77:10-11 agterdogtig wees en dink die Here verander nie: “Het God vergeet om genadig te wees, of het Hy in toorn sy ontferming opgehef? Toe het ek gesê: ‘Dit is wat my kwel—die verandering van die Allerhoogste se regterhand.’ ”
Moenie dink God het sy mes in vir jou nie. Ja, Hy het ’n snoeimes waarmee Hy sy wingerd snoei. Maar dit doen Hy, sodat ons meer vrug kan dra (Joh. 15:2b). In sulke tye is Hy naby jou. ‘The farmer is never nearer to the vine than when He is pruning it.’ God se liefde vir jou bly vas. Dit is vaster as die berge (Jes. 54:10).
3. Soewereine verlossing (v.18)
God gee ons goeie gawes uit die hemel (v.17). Die grootste gawe is verlossing (v.18, Ef. 2:8). Verlossing is meer as ’n abstrakte idee of ’n warm sentiment. God gee ons sy verlossing in ’n Persoon. Christus is God se gawe uit die hemel (2Kor. 9:15). Die Heilige Gees ook (Joh. 4:10, Hand. 2:38). God se hele ingesteldheid teenoor ons is een van vrygewige liefde. Dit geld nie net vir verlossing nie, maar vir beproewing. Rom. 8:32 sê: “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom ter wille van ons almal oorgelewer het—hoe sal Hy nie ook saam met Hom alles aan ons skenk nie?”
God se liefde vir ons is groot. Jesus het vir ons gesterf toe ons nog sondaars en God se vyande was (Rom. 5:8, 10). Hy het jou eerste liefgehad en jou gekies voor jy Hom gekies het (Joh. 15:16, Ef. 1:4, 1Joh. 4:19): Verlossing is deur sy wil voor dit deur jou wil is: “Volgens sy wil het Hy ons verwek” (v.18). God bepaal jou redding. Net so is Hy soewerein—in beheer van—jou beproewing. Hy besluit wat Hy in jou lewe toelaat, hoe lank die beproewing duur, wat Hy daardeur wil bereik, wat die duiwel mag en nie mag doen nie (Job 1:12, 2:6, 23:10, 14, 42:2, Jes. 14:24, 27, 46:10, Dan. 4:35, Ef. 1:11). Die Here en nie die duiwel nie, beheer jou lewe en omstandighede. Vrees en vertrou Hom. Buig voor Hom neer, al is dit deur trane. Vertel Hom jou sorge en stort jou hart voor Hom uit (Ps. 62:9, 1Pet. 5:6-7).
Jy kan dit doen, want deur Jesus Christus is Hy jou Vader. God het geestelike lewe in jou verwek soos ’n man sy kind verwerk (v.18, 1Pet. 1:3, 1Joh. 3:9). Toe jy die evangelie gehoor het, het God jou hart geopen om dit te glo (Hand. 16:14). Derhalwe sê Jakobus (en Petrus) God het ons deur die Woord van die waarheid verwek (Jak. 1:18, 1Pet. 1:23-25).
Het dit al met jou gebeur? Vra God vir die goeie gawe van verlossing (v.17). Vra dat die Heilige Gees jou sonde uitwys (Joh. 16:8). Vra dat Hy jou ’n nuwe mens maak (Joh. 3:3, 5). Vra vir geopende oë om Christus te sien en in Hom te glo (Joh. 3:14-15).
Jy benodig hierdie dinge meer as bevryding van siekte, depressie, armoede en ander vorme van swaarkry. Jy benodig die hemel meer as ’n beter lewe op aarde. Jesus het aan die kruis gesterf om jou vir die nuwe wêreld te red. Hy red verlorenes as die eerste vrug van sy skepsels (v.17). ’n Bietjie agtergrond sal ons help om hierdie woorde te verstaan.
In die Ou Testament moes die volk hulle eerste oes vir die Here bring (Lev. 23:10). Daarna sou die Here die res van die oes seën (Spr. 3:9-10). Gelowiges is die eerstevrug van die skepping (v.17). As Jesus weer kom, sal Hy die res van die oes inbring: Hy sal die hele skepping van verganklikheid red en dit herstel (v.17, Jes. 11:6-9, Rom. 8:19-23, Op. 21:1). Ons verwag ’n wêreld sonder siekte, beproewing, versoeking, sonde, hartseer, pyn en dood (2Pet. 3:13, Op. 21:4). Jou huidige beproewing sal nie vir ewig duur nie. Dit is net ’n toets. Voor jy weet is die toets verby. Geen meer eksamenstres nie. Die vakansie wat nooit ophou nie het begin.
1 Aanhalings uit die 2020 Vertaling.
2 Maurice Roberts, The Thought of God (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1993), 8.