Coram Deo Cover Image

Coming soon...

22 February 2015

God se geheim

Top Secret

Sue hou daarvan om in haar geheime dagboek te skryf.  Na ‘n paar maande kry haar broer die dagboek in haar laai.  Dit pla haar, maar sy bekommer nie te veel nie, omdat hy in graad 1 is en nie goed kan lees nie.  Maar haar nefie is 12 en hy het dit ook gelees.  Nou is haar geheim uit.

 

Al sou jy God se Woord in jou eie taal lees, kan jy dit nie reg verstaan sonder die Heilige Gees nie.  Dit is ‘n geheim wat net God bekend kan maak.  En dis die punt van 1 Korintiërs 2:6-16.

 

Die evangelie (v.6-10a)

Vir ongelowiges is die evangelie soos die stof van ‘n mynhoop.  Al wat hulle sien is vuil grond.  Hulle is nie bewus van die oneindige rykdom onder die grond nie.  Die evangelie is vir hulle soos kleur vir ‘n blinde man, soos musiek vir ‘n dowe man.  Sowat 8 jaar gelede het ‘n oom vir my vertel van sy seun wat ‘n ateïs geword het.  Sy seun het vir hom gesê:  ‘Noudat ek die Bybel verwerp het, het die oogklappe van my oë afgeval.’  Die waarheid is dat hy nog nooit kon sien nie.  John Piper vertel hoe hy saam met sy seun op die bed gesit het, en die evangelie aan hom verduidelik het.  Sy seun het gesê:  ‘I just don’t see it dad.’  Ek het eenkeer die evangelie met iemand gedeel en vir hulle gesê hulle is verlore.  Hulle het my aangekyk asof ek vir hulle gesê het daar is ‘n nuwe Pick ‘n Pay in Kempton Park.  My woorde het nie ‘n duik in hulle gemaak nie.  Toe ek met ‘n Jehova Getuie die evangelie deel het ek verduidelik hoekom Jesus God móét wees:

 

‘Ons kan nie uit onsself na God toe kom nie.  Ons is mense en Hy is God.  Jesus is God en het mens geword.  Omdat Hy ‘n mens is kan Hy ons by God verteenwoordig, en omdat Hy God is kan Hy God by die mens verteenwoordig; Hy kan sy hand op beide kante lê en sodoende ons Advokaat wees.  Die vrou het gesê:  “Hy hoef nie God en mens te wees om dit te doen nie.  Oscar Pistorius se advokaat is nie God en mens nie, maar tog kan hy hom in die hof verteenwoordig.”’

 

Ek het nie eers moeite gedoen om te probeer verduidelik nie.  Sy kon duidelik nie geestelike dinge verstaan nie.  Sy was soos Nikodemus wat oor fisiese geboorte gedink het toe Jesus oor geestelike geboorte praat (Johannes 3); soos die vrou by die put wat oor letterlike water gedink het toe Jesus oor geestelike water praat (Johannes 4).

 

Die wysheid van die wêreld en haar leiers gaan verby.  Iemand wat volwasse is soek nie dié wysheid nie, maar begeer die wysheid van die evangelie (v.6).  Paulus wou hê dat die Korintiërs hierdie wysheid moes soek:  “En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus.  Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie, omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie?  Want as die een sê:  Ek is van Paulus; en die ander:  Ek van Apollos—is julle nie vleeslik nie?” (3:1-4).

 

Die wêreld is blind vir hierdie wysheid.  Net gelowiges kan dit sien.  Ons sien dit nie omdat ons beter is as ander nie, maar omdat God van ewigheid af besluit het om dit vir ons te wys – hier en in die hemel:  “Maar ons spreek die wysheid van God, wat bestaan in verborgenheid wat bedek was en wat God van ewigheid af voorbeskik het tot ons heerlikheid” (v.7).  Die Skrif sê elders:

 

  • “Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het.” (Matteus 11:25).
  • “Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af.” (Matteus 25:34).
  • “[God] wat ons gered en geroep het met ‘n heilige roeping, nie volgens ons werke nie, maar volgens sy eie voorneme en genade wat ons van ewigheid af in Christus Jesus geskenk is” (2 Timoteus 1:9).
  • “Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer... en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.” (Romeine 8:29-30).
  • “soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees, deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil” (Efesiërs 1:4-5).

 

As God voor die skepping reeds besluit het om ons te red, is die evangelie nie ‘n plan-B omdat plan-A misluk het nie.

 

Ten spyte van hulle natuurlike wysheid, het die Joodse en Romeinse leiers nie die heerlikheid van die Seun van God gesien nie (Handelinge 13:27, Psalm 24:7-10).  Dis asof sy menslike liggaam sy Goddelike heerlikheid bedek het (vgl. 2 Korintiërs 3:15).  Hulle het Hom nie as hulle God en Skepper erken nie, maar Hom doodgemaak (v.8).  Deur die evangelie openbaar die Gees die verlossing en hemelse heerlikheid wat mense nie met hulle oë of ore kan ontdek, of met hulle verbeelding uitdink nie:  “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.  Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar” (v.9-10a, vgl. Jesaja 64:4, 65:17).

 

Vertrou die Heilige Gees wanneer jy die evangelie met mense deel.  Moenie dink jy is beter as dié wat geestelik blind en verlore is nie.  Voel jammer vir hulle; bewys barmhartigheid.  Jy was ook eens blind (Johannes 9:25).  God het Hom oor jóú ontferm toe jy onkundig en verlore was (1 Timoteus 1:13).

 

Moenie probeer om ‘n ateïs of jou rebelse kind te oortuig deur staat te maak op goeie logika of redenasie vermoeë, glashelder illustrasies, ‘n vrees-taktiek wat hulle tot bekering sal dwing, of skuldgevoelens nie.  Vertrou die Heilige Gees om hulle te oortuig.  Bid vir hulle en deel die evangelie.  Dit is die Gees wat hulle van sonde oortuig (Johannes 16:8).  Die evangelie is die krag van God tot redding (Romeine 1:16).  God wederbaar ons deur die Woord (1 Petrus 1:23).  Paulus sê:

 

“Maar hulle sinne is verhard. Want tot vandag toe bly by die lesing van die Ou Testament dieselfde bedekking sonder dat dit opgelig word, die bedekking wat in Christus vernietig word.  Ja, tot vandag toe, wanneer Moses gelees word, lê daar ‘n bedekking oor hulle hart; maar wanneer hulle tot die Here bekeer is, word die bedekking weggeneem.  Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid.  En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is.” (2 Korintiërs 3:14-18).

 

As jy nie op die Gees vertrou nie, sal jy gefrustreerd en ontmoedig raak as jy sukkel om mense te oortuig; as hulle nie tot bekering kom nie.  Jy sal jou tot Charles Finney se metodes wend:  jy sal mense wil dwing om gou ‘n besluit te neem, hulle hart vir die Here te gee, of ‘n sondaarsgebed op te sê.  So sal jy baie vals bekeerlinge maak.  Dalk sal jy veroorsaak dat jou kind vals sekerheid het.

 

Die Bybel (v.10b-16)

Verbeel jou daar is ‘n pikdonker kamer vol mense.  Kan hulle sien?  Iemand sit die lig aan.  Maar omdat hulle blind is, kan hulle nogsteeds nie sien nie.  Deur ‘n wonderwerk genees iemand hulle blindheid.  Tog kry hulle oor die jare wat kom nog katarakke en ander oogsiektes.  Dit maak dat hulle nie altyd goed kan sien nie.  Maar wanneer dié siektes genees word, het hulle weer 20/20 visie.

 

So is dit met ons:  deur die inspirasie van die Skrifte openbaar die Heilige Gees God se wil aan ons (iemand sit die lig aan).  Die Gees maak ons oë oop om die waarheid te verstaan (ons word van ons blindheid genees).  Selfs na ons gered is, sien ons nie altyd die waarheid so duidelik nie.  Daarom verlig die Heilige Gees ons oë om die Skrif te verstaan (die katarakke word verwyder).  Dit is die les in v.10b-16.

 

Soos net jou gees weet wat jy dink, weet net God se Gees wat Hy dink (v.10b-11).  God weet alles.  As die Heilige Gees al God se gedagtes ken, dan weet Hy alles en is Hy God.  Die Heilige Gees is ook ewig en alomteenwoordig (Hebreërs 9:26, Psalm 139:7-8).  Daarom is dit logies dat Hy ook God is.  Toe Ananias in Handelinge 5:3-4 vir die Heilige Gees gelieg het, het Petrus gesê:  “Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God.”

 

Paulus sê dat die Heilige Gees uit God is (v.12).  Die Vader en die Seun het Hom gestuur; Hy is die Gees van Jesus en die Vader (Romeine 8:9, Johannes 15:26, Handelinge 2:33, 16:6-7).  Deur Jesus woon hierdie Gees ook in ons en openbaar Hy God se gedagtes aan ons.  Daarom kan ons die Woord wat God vrylik aan ons gegee het, verstaan:  “Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het.” (v.12, vgl. 1 Johannes 4:4).

 

Dit was die Gees wat die apostels, soos Paulus, geïnspireer het om die Woord neer te skryf:  “Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer” (v.13).  Jesus het gesê dat die Gees die apostels sou herinner aan alles wat Hy hulle geleer het (Johannes 14:26, 16:13-15).  Daarom het die apostels nie foute gemaak toe hulle Jesus se woorde neergeskryf het nie.  Ja, die persoonlikheid en styl van elke Bybelskrywer het nie verlore gegaan nie.  Maar die Gees het ook gesorg dat hulle presies God se woorde neergeskryf het:  “Die hele Skrif is deur God ingegee” (2 Timoteus 3:16).  “geen profesie van die Skrif [is] ‘n saak van eie uitlegging...nie; want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.” (2 Petrus 1:20-21).

 

1 Korintiërs 2 is Paulus se woorde, maar dis ook God se woorde.  En so met die res van die Bybel.  Die Tessalonisense het Paulus se woorde aanvaar as God se woorde (1 Tessalonisense 2:13, 4:15).  Om sy woorde te verwerp is om die Heilige Gees te verwerp (1 Tessalonisense 4:8).

 

Vir die ongelowige of natuurlike mens is die Gees se woorde dwaasheid (v.14).  Die wêreld kan immers nie die Gees ontvang nie (Johannes 14:17).  Die gelowige of geestelike mens verstaan die Woord.  Die Gees help ons om deur die Woord goed en kwaad van mekaar te onderskei (v.15).  Omdat ongelowige mense nie geestelike dinge verstaan nie, verstaan hulle ons ook nie, en kan hulle ons nie reg opsom of beoordeel nie (v.15).  Die mens kan nooit God se verstand peil nie.  Tog kan ons deur die Gees iets van God se gedagtes verstaan (v.16, 10b-11, Jesaja 40:15).  Jesus het besluit om dit aan ons bekend te maak:  “alles wat Ek van my Vader gehoor het, [het Ek] aan julle bekend gemaak” (Johannes 15:15).

 

Dis belangrik dat jy verstaan hoe God die geheime waarhede van die Skrif aan gelowiges bekend maak.  Alles wat God wil hê jy moet weet, is in die Skrif opgeteken.  Die Skrif is voltooi; ons mag daarby niks byvoeg nie (Spreuke 30:6, Deuteronomium 12:32, Openbaring 22:18-19).  Moet dus nie ‘n hoorbare stem uit die hemel verwag nie.  Moenie nuwe profesieë soek of vra dat die Here in drome en visioene met jou praat nie.  Moenie so na hierdie dinge soek, dat jy uiteindelik jou Bybel eenkant toe skuif nie.  God praat nie meer op hierdie maniere nie:  “Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun” (Hebreërs 1:1).  Miskien het jy iets gedroom wat waar geword het, of dalk het jy ‘n voorgevoel gehad wat so gebeur het.  Tog moet ons nie op dié dinge fokus nie, maar op die Woord.

 

Baie mense wens dat die Here, soos in die Ou Tesament, in drome of met ‘n hoorbare stem moet praat.  Maar het jy vergeet dat jy meer bevoorreg is as die gelowiges in die Ou Testament?  In die Ou Testament was daar lang tye van stilte; tye waarin die Here nie met sy volk gepraat het nie (1 Samuel 3:1).  In die Nuwe Testament kan jy enige tyd jou Bybel oopmaak en die Here se stem hoor.  In die Ou Testament het hulle net enkele boeke gehad om uit te lees.  In die Nuwe Testament het jy al 66 boeke – ‘n hele Bybel.  Die rede hoekom ons nie die Here se stem in die Woord hoor nie, is omdat ons lui is om te bid en te soek vir antwoorde (Psalm 119:18, 2 Timoteus 2:15).

 

Natuurlik moet ons die Here dank vir predikers en Christelike boeke (Efesiërs 4:11-12).  Maar ons moenie te veel op hulle steun, dink dat hulle nooit verkeerd is, of die idee kry dat ons hopeloos en hulpeloos is sonder hulle nie.  Moet hulle nie verafgod nie (1:12).  As jy die Gees het kan jy die Woord reg verstaan (v.10b-12, 16).  Bid dat Hy jou sal help om te verstaan (Efesiërs 1:17-18, Matteus 13:11).  As jy gehoorsaam is aan wat Hy jou leer, sal Hy jou help om nog meer te verstaan (Johannes 7:17).

 

As jy dink dat die Gees vandag nog nuwe openbaringe gee, en dat die Skrif nie die finale gesag is nie, dan is daar geen beperking nie.  Hoe kan ons meet wat reg en verkeerd is as daar vandag nog nuwe openbaringe is?  Mense kan oor enige ding sê:  ‘Die Gees het vir my gesê,’ en wie is ons om te stry?  As jy sê dat ons dit aan die Skrif moet meet, dan kan dit nie nuut wees nie – dis immers net ‘n herhaling van die Skrif.

 

In die Donker-eeue kon net die Priesters die Skrif lees en interpreteer.  Die Bybel was in Latyn geskryf.  Die Katoliekekerk het gevrees dat gewone mense dit sou verdraai, en wou nie hê dit moes vertaal word nie.  As iemand dit vertaal het, het hulle die kopieë en die vertaler verbrand.  Maar hulle kon nie wen nie.  God wou hê sy geheim moes bekend word – nie net vir predikers nie, maar vir die man in die bank.  In die 1500’s het William Tyndale aan een Roomse Priester gesê:  ‘I defy the Pope and all his laws.  If God spares my life, ere many years I will cause a boy that driveth a plough shall know more of the Scriptures than thou dost.’[1]  Tyndale het die Bybel in Engels vertaal.  Baie jare later is dit in Afrikaans vertaal.  God se Gees het die lig aangesit, die blindes genees, en help vandag nog dat hulle die waarheid sien.  Die geheim is uit.

[1] Brian H. Edwards, God’s Outlaw: The Story of William Tyndale and the English Bible, p.61

Kategorieë