
Deur Ivor Jefferies
Waar kom pyn en lyding vandaan? Dit was nie deel van God se oorspronklike goeie skepping nie: “God het na alles gekyk wat Hy gemaak het, en kyk, dit was baie goed.” (Gen. 1:31).
Pyn en lyding is die gevolg van Adam en Eva se sonde in die tuin van Eden: “Vir die vrou het Hy gesê: ‘Ek sal jou swaarkry met jou swangerskap baie erger maak; met pyn sal jy kinders in die wêreld bring. Na jou man sal jou begeerte wees, maar hy sal oor jou heers.’ Vir die mens het Hy gesê: ‘Omdat jy geluister het na jou vrou se stem, en geëet het van die boom waarvan Ek jou beveel het, “Jy mag nie daarvan eet nie!” is die grond deur jou toedoen vervloek. Met swaarkry sal jy daarvan eet, solank jy leef; dorings en dissels sal dit vir jou laat uitspruit, en jy sal veldplante eet. Met sweet aan jou gesig sal jy brood eet, totdat jy terugkeer na die grond; want daaruit is jy geneem—ja, stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.’ ” (Gen. 3:16-19).
“Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld gekom het en as gevolg van die sonde die dood, so het die dood ook tot alle mense deurgedring, omdat almal gesondig het... Want die skepping is onderwerp aan ’n sinlose bestaan, nie uit eie keuse nie, maar deur Hom wat dit daaraan onderwerp het. Die skepping hoop om self vrygemaak te word van verslawing aan die verganklikheid...” (Rom. 5:12, 8:20-21).
Omdat mense die sondeval ontken en nie kan verduidelik waar pyn en lyding vandaan kom nie, glo hulle die onsin van skeptiese filosowe soos David Hume: “Is he [God] willing to prevent evil, but not able? then is he impotent. Is he able, but not willing? then is he malevolent. Is he both able and willing? whence then is evil.”1
Vir hierdie mense is die maklikste oplossing om God te ontken. Maar dit vat nie die lyding weg nie—dit maak dit net doelloos en sinloos. Jy ly verniet.
Met God in die prentjie is ons lyding nie doelloos nie, maar het dit ’n goeie, wyse en regverdige doel. Wat is hierdie doel? Om slegte mense te straf en hulle tot bekering te roep (Amos 4, Lukas 13:1-5, Openbaring 9, 16). God se doel met die regverdige is ’n bietjie meer kompleks. Ek kon meer as twintig redes vind vir waarom Christene swaarkry, maar ek is seker daar is heelwat meer. Hier is die redes wat ek kon vind:
Deur lyding maak God ons meer soos Jesus (Rom. 8:28-29).
Deur lyding troos Hy ons, sodat ons ander kan troos (2 Kor. 1:3-7).
Deur lyding gee Hy ons ’n unieke geleentheid om met ongelowiges die evangelie te deel (Hand. 16:25-34, Fil. 1:12-18, 1 Pet. 3:14-15).
Deur lyding gee Hy ons die geleentheid om mekaar te dien (Fil. 4:11-15, Hand. 11:28-30).
Deur lyding verhinder Hy ons om te sondig (2 Kor. 12:7).
Deur lyding seën Hy ons met ’n dieper ervaring van sy genade en krag (Matt. 5:10-12, 2 Kor. 12:8-10, 1 Pet. 4:14).
Deur lyding maak Hy ons nederig (1 Pet. 5:6, 2 Kor. 12:7).
Deur lyding leer Hy ons die dieper dinge van sy Woord, sodat ons meer gehoorsaam kan wees (Ps. 119:67, 71).
Deur lyding reinig Hy ons van sonde en maak Hy ons heilig (Heb. 12:10, 1 Pet. 4:1-2).
Deur lyding bring Hy goeie vrugte, rus en vrede in ons lewe voort (Joh. 15:2, Heb. 12:11).
Deur lyding bevestig Hy dat Hy ons Vader is en ons sy kinders (Heb. 12:7-8).
Deur lyding toets Hy of ons geloof eg is (1 Pet. 1:7).
Deur lyding laat Hy ons geloof groei (2 Tess. 1:3-4).
Deur lyding leer Hy ons om mekaar lief te hê (2 Tess. 1:3-4).
Deur lyding kweek Hy in ons ’n verlange na die hemel (Rom. 8:23-25, 2 Kor. 4:16-18).
Deur lyding maak Hy die hemel soeter as ons eendag daar uitkom (2 Kor. 4:17).
Deur lyding leer Hy ons volharding en om standvastig te wees (Rom. 5:3, Jak. 1:2-4).
Deur lyding vorm Hy ons karakter (Rom. 5:4).
Deur lyding leer Hy ons om te bid (2 Kor. 1:11, Jak. 5:13).
Deur lyding laat Hy die kerk groei (Hand. 8:3-4).
Deur lyding leer Hy ons om dankbaar en tevrede te wees (Fil. 4:11-12).
Deur lyding leer Hy ons om nie op onsself te vertrou nie, maar op Hom alleen (2 Kor. 1:9).
Deur lyding openbaar Hy sy heerlike krag deur ons swakheid (2 Kor. 12:9, Joh. 9:1-3, 11:3-4).
Deur lyding smaak ons sy goedheid wat beter is as die lewe self (Ps. 63:4).
Jy ly nie verniet nie; God het ’n goeie doel. “Julle het gehoor van Job se volharding, en julle het die Here se einddoel met hom gesien, en dat die Here vol medelye en ontferming is.” (Jak. 5:11, eie beklemtoning).
Moenie in jou lyding sê God verstaan nie, of dat Hy nie omgee nie. Volgens Jes. 53:3 was Jesus ’n man van smarte en bekend met ons lyding. Hy verstaan jou swaarkry en is vol medelye: “Want ons het nie ‘n Hoëpriester wat nie medelye met ons swakhede kan hê nie, maar Een wat, soos ons, in alle opsigte versoek is, en dit sonder dat Hy gesondig het. Laat ons dan met vrymoedigheid die troon van genade nader, sodat ons ontferming en genade kan ontvang om op die regte tyd gehelp te word.” (Heb. 4:15-16).
Jesus self het onder die vloek gesterf, sodat ons nie hoef nie (Gal. 3:13). Dit beteken ’n gelowige se pyn word altyd deur God se liefde aangedryf en nooit deur haat nie (Rom. 5:3-5, 8:1). In die hemel sal God al die trane uit jou oë vee (Rev. 21:4). Die oomblik wat jy Hom sien, sal jy sy doel met elke beproewing verstaan (1 Kor. 13:12). Jy sal nie meer vra hoekom nie, maar jy sal sê: “As ek dit oor moes hê, sou ek dit nie wegwens nie. Nou verstaan ek God se wyse plan van liefde met my lyding. Hy is goed en doen goed.”
1 Millard J. Erickson, Christian Theology (Grand Rapids: Baker Book House, 1983, 1984, 1985), 412.

