Coram Deo Cover Image

Coming soon...

16 September 2017

God se dagboek

God's diary

Tommie is 11 en sy sussie 14.  Hy weet baie meer van haar as wat sy dink, want wanneer sy in die middag by die skool is, lees hy haar dagboek.  Jy kan raai dat sy ‘n hartaanval sal kry as sy dit weet.

 

Met die Here is dit anders:  Hy gee nie om dat ons sý dagboek lees nie.  In Jes. 25 het Hy vir ons die hooftrekke van die geskiedenis in twaalf verse opgesom, van die ewige verlede af tot in die ewige toekoms.

 

Sy planne (v.1-5)

Ek het oor die afgelope 3 jaar probeer om verder te studeer.  Ek het by drie plekke aangeklop, maar my planne het misluk.  God se planne is nie so nie.  As Hy iets besluit gebeur dit.  Hy kan nie onsuksesvol wees nie.  Kom ek wys vir jou hoekom ek so sê.

 

God het vir Jesaja en Israel gered (Eks. 15:2).  Daarom het hy gesê dat die Here sý God is en het hy Hom daarvoor geprys (v.1).  Hy het ‘n persoonlike verhouding met die Here gehad:  “U is my God!” (v.1).  Omdat hy aan die Here behoort het, was sy hoogste doel in die lewe om Hom te prys (v.1).

 

Hy het die Here vir sy wonderlike dade geprys (v.1).  God se wonderlike dade verwys na:

 

  • Die donker blou Stille Oseaan wat Hy in die holte van sy hand afgemeet het.
  • Sy onderhouding van die sonnestelsel en die res van die heelal.
  • Sy beheer oor die wind en die weer.
  • Sy sorg vir die mens, leeus, wurms en plankton.
  • Sy betrokkenheid in die detail van ons lewens.
  • Sy beheer oor die nasies en hulle konings.
  • Die vervulling van sy planne in die geskiedenis.
  • Jesus se kruisdood vir sondaars en sy opstanding uit die dood.
  • Sy onsigbare werk in die gekruisigde moordenaar se hart, sodat hy daardie oggend nog oppad hel toe was, en die aand saam met Jesus in die hemel was.
  • Die goeie werke wat Hy in en deur ons doen.
  • Die hemelse stad wat Hy gebou en ontwerp het.

 

Hierdie dade het Hy in die ewige verlede beplan (v.1, 46:10, 2Kon 19:25, Matt. 25:34, Hand. 2:23, 4:27-28, 17:26, Ef. 2:10, 2Tim. 1:9, Tit. 1:2, 1Pet. 1:20, Op. 13:8).  Sy planne is so waaragtig en getrou soos Hy; dit kan nie misluk nie (v.1, 14:24, 27, Job 42:2, Ps. 33:11, Spr. 19:21, Dan. 4:35, Ef. 1:11).

 

God het o.a. beplan om sy volk uit die Babiloniërs se mag te bevry, en om hulle vestingstad in bou rommel te verander (v.2).  Hy het besluit om die heidene se paleis af te breek (v.2).  God sou sý stad oprig, maar Babilon sou nie herbou word nie (v.2, 26:1).

 

Hiervoor sou sterk en gevreesde stede en nasies Hom verheerlik en voor Hom bewe (v.3).  Kon dit anders as Hy die magtigste ryk op aarde soos ‘n sandkasteel omgegooi het, en sy verdrukte volk deur dit alles behou het (v.3-4)?  Babilon se vesting kon hulle nie teen God se toorn beskerm nie, maar die Here was Israel se veilige vesting (v.3-4, Ps. 48:4).

 

In Israel se benoudheid en armoede, het die Here hulle soos berge, ‘n muur van vuur, ‘n laer en ‘n skild omring en beskerm (v.4, Ps. 34:5, 115:9-11, 125:2, Sag. 2:5).  Hy was vir hulle ‘n skuilplek, klipmuur en skaduwee teen die hitte en stormwind van Babilon se verdrukking (v.4, 4:5-6, Ps. 105:39).

 

Die hitte was intens en die geraas oorverdowend (v.5).  God het egter die Babiloniërs se monde toegestop en die geraas gedemp; Hy het hulle toorn afgewend soos ‘n groot wolk wat die son se hitte uitblok (v.5).  Babilon het gedink hulle gaan die oorwinningslied sing, maar God het hulle stilgemaak (v.5).

 

Hoe moet jy v.1-5 toepas?  Laat dit jou troos en bemoedig dat God jou redding, die detail van jou lewe en die ganse geskiedenis beplan het.  Die dag van jou geboorte en jou dood is nie aan jouself, die duiwel, mense, toeval of iets anders oorgelaat nie; God het dit bepaal (Gen. 18:14, Job 14:5, Pred. 3:1-2).

 

Hy het ook die detail van jou lewe bepaal (Ps. 139:16, Spr. 16:1, 9, 33, Jak. 4:13, 15).  As iets sleg met jou gebeur, kan jy weet dat dit deel van God se goeie plan is (Job 23:13-14).  As jy Hom liefhet en syne is, sal Hy sorg dat dit jou bevoordeel (Gen. 50:20, Rom. 8:28).

 

Wie beheer die siklone in Amerika, of die dinge wat tans in Suid-Afrika plaasvind?  Klaagl. 3:37-38 sê:  “Wie spreek daar, en dit gebeur?  Het die Here dit nie beveel nie?  Gaan uit die mond van die Allerhoogste nie kwaad sowel as goed nie?”

 

Wat van jou redding - wie het dít bepaal?  Was dit nie die Here nie (Rom. 8:29-30, 2Tess. 2:13, 1Pet. 1:2)?  Moenie vergeet om Hom te prys en dankie te sê dat Hy in sy ewige en liefdevolle raadsplan aan jou gedink het nie (v.1, Ef.1:4-6, Rom. 9:23).

 

Ek het ongelukkig nie tyd om vir jou te sê hoe sonde en die mens se vrywillige keuses in God se raadsplan werk nie.  Ek wil egter die volgende drie foute uitwys.

 

[1] Hiper-Calvinisme:  Jou besluite speel nie ‘n rol in God se planne nie.  Hy gaan sy planne uitwerk, of jy nou die evangelie deel, bid en ongehoorsaam is of nie.

 

[2] Arminianisme:  Voordat God die wêreld gemaak het, het Hy geweet wat jy gaan besluit.  Hy het sy planne volgens jou vrye keuses gemaak.  Sy raadsplan het nie jou redding bepaal nie; jou vrye wil het (a het dit nog nie bestaan nie).

 

[3] ‘Open-Theism’:  God weet nie alles nie.  Hy raai wat mense gaan kies en besluit daarvolgens.  Partykeer raai Hy verkeerd.

 

As jy meer hieroor wil weet, kan jy Randy Alcorn se boek Hand in hand lees.  Na my mening is dit een van die beste boeke oor die onderwerp.

 

Sy fees (v.6)

Ons het eenkeer by mense in die kerk gaan eet.  Die man het twee filette en ‘n rugstring gebraai.  Hy het die vleis met murg gestop.  Hy het my vooraf gewaarsku om handskoene te bring, omdat ek blykbaar my vingers sou afeet.  Ek hét byna.

 

Maar dit is niks in vergelyking met die fees wat God in Jes. 25:6 vir die nasies voorberei het nie.  Die volke van v.3 sal uiteindelik na berg Sion of Jerusalem toe kom (v.6, 2:2-3).  Daar sal hulle ‘n feesmaal van ryk kosse en goeie ou wyn geniet (v.6).  Wanneer sal dit wees?

 

Ons geniet reeds die voorgereg hiervan in Jesus wat die Brood van die Lewe en die Ware Wingerd is (Joh. 2:1-11, 6:35, 15:1, Op. 3:20).  Ons geniet dit o.a. deur die Woord, gebed, die nagmaal en die kerk (Hand. 2:42).  Óns is berg Sion of die Nuwe Jerusalem (Heb. 12:22, Op. 21:9-10).  In die hemel en daarna op die nuwe aarde sal die nasies in die Nuwe Jerusalem inkom en die fees ten volle geniet (Op. 19:7-9, 21:24, 26).

 

Wanneer dit by die fees kom is daar drie soorte mense.  Vir sommige lyk die vrot vrugte en rioolwater van sonde lekkerder as die smaaklike vleis en goeie wyn van Jesus.  Gevolglik ignoreer hulle God se uitnodiging, en kom hulle nie na die fees toe nie (Matt. 22:1-6).  Vir ander lyk die fees aantreklik.  Hulle kom, maar trek nie die feesklere van Christus se geregtigheid aan nie (Matt. 22:11-14).  Op papier is hulle deel van die kerk, maar in hulle harte is hulle nie deel nie.  Dan is daar dié wat met dankbare harte aan die fees smul.  Hulle is lief vir Jesus en kan nie genoeg van Hom kry nie.  Ek hoop jy is deel van die laaste groep.

 

Sy oorwinning (v.7-8)

Lank gelede wou ek met ‘n ongelowige die evangelie deel.  Ek het vir haar van ‘n man vertel wat kanker gehad het.  Toe ek van sy dood praat, het sy die onderwerp verander.  Ek het haar na die onderwerp toe teruggebring, maar toe ek oor die dood praat het sy wéér die onderwerp verander.

 

Ongelowiges is bang vir die dood, maar gelowiges het geen rede om die dood te vrees nie.  Jes. 25:7-8 sê vir ons hoekom.  Soos wat die graf en die hel mense insluk, sal die Here op berg Sion die dood insluk (v.7-8).  Hy sal afreken met die dood wat ‘n laken oor Adam se nageslag gegooi het (v.7, Rom. 5:12, 1Kor. 15:22).  Hy sal die sluier afhaal waarmee die dood sy bedroefde kinders se gesigte bedek het (v.7).  Hy sal die trane van hulle oë afvee (v.8, Op. 7:17, 21:4).  Hy sal die skande van die dood en die hartseer gevolge daarvan wegvat (v.8).

 

Deur sy kruisdood en opstanding op berg Sion in Jerusalem het Hy die dood oorwin (Heb. 2:14-15, Op. 1:18).  Dié wat in Hom glo sal in die hemel voortlewe, en by die wederkoms opstaan en die dood oorwin (Joh. 11:25-26, 1Kor. 15:54-55).  Daarna sal Jesus die dood in die poel van swael en vuur gooi, sodat dit ons nie weer kan skaad nie (v.7-8, 1Kor. 15:26, Op. 20:14).

 

Op die nuwe aarde sal daar nie begrafnisse en grafte wees nie, maar ons sal vir ewig bly wees.  Hoe weet jy dit?  Want die Here het so gesê (v.8).  Kan ons dan sê dat Christen so-en-so die stryd teen kanker verloor het?  Of sal kanker uiteindelik die stryd teen háár verloor?  En wat van al die Christene wat voor jou gesterf het oor wie jy hartseer is:  sal jy hulle weer sien?  Gaan jy hulle herken?  Dit blyk die punt van 1Tess. 4:13-18 te wees.  As dit jou nie oortuig nie, lees asb. 2Kor. 1:14 en 1Tess. 2:19-20.

 

Alhoewel die dood eers by Christus se wederkoms vernietig gaan word, kan dit nou al vir jou ‘n wins wees.  Maar dan moet die lewe vir jou oor Jesus gaan (Fil. 1:21).  As Hy alles vir jou is, is die dood ‘n wins omdat dit jou na Hom toe neem.  Alhoewel die dood die laaste vyand is, is dit ook die goue koets wat jou hemel toe vat.

 

Sy verlossing (v.9)

In die 1600’s het John Owen ‘n boek met ‘n treffende titel geskryf:  The Death of death in the death of Christ.  Dit is ook waaroor die nasies in v.9 bly was:  Jesus het die dood doodgemaak.  Wanneer die Here kom om die dood te oorwin (v.7-8), sal die volke van v.3 en 6 sê:  “Kyk, dit is onse God op wie ons gewag het, dat Hy ons kan verlos; dit is die Here op wie ons gewag het:  laat ons juig en bly wees oor sy hulp.” (v.9).  Hulle sal nie kan glo dat dit Hy is nie; hulle sal hulle oë uit staar en sy heerlike skoonheid bewonder (v.9, 2Tess. 1:10, Op. 22:4).  Hulle sal trots wees dat Hy húlle God is (v.9, 1).

 

Soos Jesaja in v.1, sal hulle juig en bly wees; hulle sal Hom vir sy verlossing prys (v.9).  Hulle was vir eeue in die donker greep van die dood, maar nou het Jesus hulle verlos.  Toe Hy aan die kruis gesterf het, het Hy die dood gevonnis; by die wederkoms sal Hy dit teregstel.  Hiervoor sal die nasies Hom prys en erken dat Hy die soewereine Here is (v.9).  Hulle sal weet dat hulle nie verniet op Hom gewag het nie (v.9).

 

Het jy onlangs oor Satan se versoeking gesug?  Het jy dalk gesug, omdat die wêreld se boosheid vir jou erg is?  Het jy miskien oor jou eie sonde gesug, omdat dit ‘n moeilike stryd is?  Sug jy oor die droogte in die Kaap en die gebrek aan reën in die res van die land?  Sug jy oor jou ongeredde kinders, oor siekte, of oor ‘n beproewing wat jy moet deurmaak?

 

Die lyding wat jy hier ervaar is so lig soos ‘n veer teen die triljoen ton gewig van God se heerlikheid en blydskap wat op ons wag (v.9, Rom. 8:18, 2Kor. 4:17).  Vyf sekondes in die hemel sal opmaak vir al die lyding wat jy op die aarde deurgemaak het.  ‘Earth has no sorrows that heaven cannot heal.’[1]

 

Sy straf (v.10-12)

Saartjie het vandag verjaar.  Dit was die beste verjaarsdag wat sy nóg gehad het.  Vandat sy wakker geword het, het elke oomblik net beter en beter geword.  Die geskenke in die oggend, haar vriende in die dag, die lekkergoed in die middag, haar oupa en ouma toe die son sak, ‘n fliek en uiteet in die aand.  Dit was fantasties, maar nou is dit verby.

 

Wanneer Jesus kom sal dit nie so wees nie.  Dit sal vir ewig beter word en nie ophou nie.  Nooit weer sal jy hartseer wees nie (v.8), maar vir ewig op die bergtop van blydskap te wees (v.9).  Kan dit anders wees as God se hand op die hemelse berg Sion rus, en jy altyd in sy direkte teenwoordigheid is (v.10)?  Dit is nie asof Hy nie rééds met ons is nie, maar daar sal jy dit nie vir ‘n oomblik betwyfel nie.

 

Goddelose volke soos Moab sal gestraf word (v.10).  Soos met al sy vyande, sal die Messias hulle koppe onder sy voete verbrysel (v.10, Gen. 3:15, Num. 24:17, Ps. 110:1).  Hy sal hulle vertrap soos wat ‘n mens strooi op die mishoop vertrap (v.10, vgl. 63:1-6).  God se vyande sal op die mishoop wees, terwyl sy kinders by ‘n feesmaal aansit (v.10, 6)!

 

Wanneer die Here Moab en sy vyande so vertrap, sal hulle nie poog om hulle te bekeer nie.  Hulle sal hulle hande soos ‘n swemmer oopsprei en probeer om uit die toiletwater van hulle hopelose omstandighede uit te swem (v.11)!  In hulle hoogmoed sal hulle nog steeds nie na die Here toe draai nie, maar hulle hande na hulle mensgemaakte gode toe uitstrek (v.11, 16:3-6, 12).  Gevolglik sal die Here hulle en hulle kunstig-gemaakte gode verbrysel (v.11).  Hy sal die hoë vestings van hulle mure afbreek totdat daar net stof oorbly (v.12, 2-3).

 

Die les is duidelik:  geen mens se goeie werke, toewyding, godsdiens, afgode, rykdom, status, doop, lidmaatskap, amp in die gemeente, of enigiets anders kan hom of haar teen God se oordele beskerm nie.  Net Jesus kan.  Toe Hy aan die kruis gesterf het, het die volle straf van God soos vallende rotse op Hom neergekom.  Dié wat deur geloof en bekering in die berg van sy kruisdood skuil, sal nie deur die rotse verpletter word nie.  Vlug na Hom toe as jy nog in die oopte ronddwaal (Spr. 18:10).  As jy dít doen sal jy mettertyd agterkom dat jou naam op ‘n ander plek in sy dagboek geskryf staan.  As jy my nie glo nie, kan jy wag tot jy in die hemel kom en Hom self vra.

 

[1] Iain Murray, D. Martyn Lloyd-Jones: The Fight of Faith, p.742

Kategorieë