Coram Deo Cover Image

Coming soon...

1 October 2016

God se Outobiografie

bible

Ek het op ‘n video gesien hoe ‘n man in Amerika onderhoude met die publiek voer. ‘Wie dink jy het George Washington (of was dit Abraham Lincoln?) se outobiografie geskryf?’ is een van die vrae wat hy gevra het.  Een man het gesê:  ‘Ek weet nie – seker sy vriend.’

Duidelik het hy nie die verskil tussen ‘n biografie en ‘n outobiografie geken nie.  ‘n Biografie is wanneer iemand anders jou lewensverhaal skryf.  ‘n Outobiografie is wanneer jy jou eie lewensverhaal skryf.  Die Bybel is God se outobiografie, die Boek waarin Hy Homself en sy werke aan ons bekendmaak.  Dit is die punt wat Dawid in Ps.19:8-15 wil maak.

Die beskrywing van God se Woord (v.8-10)

Ek het eenkeer vir my swaer ‘n boek van Wayne Grudem gekoop. As ek dit reg onthou was die boek se titel Bible Doctrine.  Dit is omtrent 250 bladsye lank en is ‘n kort samevatting van Grudem se Systematic Theology, wat 1200 bladsye lank is.  Op dieselfde manier gee v.8-10 ‘n bondige opsomming van Ps.119, wat 176 verse lank is.

Dawid het klaar vir ons gesê dat die skepping God se bestaan en sy karakter verkondig. In v.8-10 wissel hy ratte en wys hy vir ons hoe ons hierdie God kan ken:  deur die Woord.  Hy gee ses beskrywings, eienskappe en funksies van God se Woord.

Die woorde van hierdie Boek is die Here se wet, getuienis, voorskrifte, gebod, vrees en bepalings. Dit is volmaak, seker, reg, suiwer, rein en waar.  Die Woord van God verkwik, gee wysheid, bring vreugde, gee lig, bestaan vir ewig en is heeltemal regverdig.

Die Bybel is nie maar net feilbare menslike woorde soos wat sommige dink nie. Ses keer in v.8-10 sê Dawid dat dit ‘van die Here’ is – dit is God se woorde (1 Ts.2:13, 4:8, 15, 2 Tm.3:16).  Elke Bybelse outeur het sy eie persoonlikheid en styl gehad, maar dit was die Heilige Gees wat hulle gehelp het om God se presiese woorde neer te skryf (Jh.14:26, 16:13-16, 2 Pt.1:19-21).  Hy het hulle nie meganies beheer soos ‘n robot nie.  Hy was eerder soos ‘n ma wat vir haar dogter die presiese woorde vir die toespraak leer, terwyl die dogter dit dan met haar eie persoonlikheid en styl voordra.

Die wet van die Here is volmaak, foutloos en perfek (v.8a, 119:96, Rm.7:12). Baie mense het al probeer om foute daarin uit te wys, maar hulle is soos iemand met ‘n gekrapte bril wat sê dat jou nuwe BMW krapmerke op het.  Die fout lê by húlle en nie by die kar nie.  En so lê die fout by die sondaar en nie by die Bybel nie.  Daar is al baie hamers teen hierdie aambeeld stukkend geslaan, maar die aambeeld staan steeds.  Die geslagte het gekom en gegaan, maar die Woord van die Here bly vir ewig (Jes.40:8).

Deur die Woord gee God lewe in die diepste deel van ons menswees: die siel (v.8a, 23:3).  Die Bybel is die masker waardeur God vir die dooie sondaar mond tot mond asemhaling gee.  Deur hierdie Woord het God die wêreld geskep, en deur dieselfde Woord roep Hy die sondaar tot nuwe lewe (Rm.10:17, Jk.1:21, 1 Pt.1:23, 25).

Die Woord van God getuig van die Here se karakter en sy wese (v.8b, Eks.25:16). Hierdie getuienis is so vas, seker en betroubaar soos ‘n rots (v.8b, 111:7).  Dit is so omdat God self onveranderlik is (Mal.3:6, Heb.13:8).  Om dit te weet help baie; veral in ‘n wêreld wat vol van onsekerheid is oor die toekoms, jou lewe, jou werk, mense se beloftes, die ekonomie, die reënseisoen, die voortbestaan van Afrikaans, die petrolprys, Wayde van Niekerk se wêreldrekord, die eerlikheid van die mense met wie jy besigheid doen, die betroubaarheid en akkuraatheid van die nuus, ens.  Bou daarom jou huis op die rots van God se Woord – Hy sal jou nie teleurstel nie.

God se Woord gee wysheid aan dié wat eenvoudig is (v.8b, 119:130, Sp.1:4). Deur die Woord kan gewone mense wyser wees as die slimste wetenskaplikes in die wêreld (119:98-100).  Mense wat gedurig die leë bottel van hulle harte met hierdie nektar volmaak, sal wysheid hê oor God, hulleself, die lewe, die dood, sonde, vergifnis, verlossing, mense, geld, selfbeheersing, vriendskappe, die huwelik, ouerskap, politiek, rykdom, armoede, harde werk, verslawings, slaap, kos, seks, besluitneming, emosies, die tong, goeie karakter, moraliteit, siekte, gebed, tafelmaniere, troeteldiere, waar alles vandaan kom, die toekoms en baie ander dinge.

Die voorskrifte van die Here is reg (v.9a). Dit is die standaard waarvolgens ons moet meet wat reg en verkeerd is.  Wanneer ons dít doen dan weet ons dat gay mense nie so gebore is nie, en dat dronkenskap nie ‘n siekte is nie.  Ons leer ook dat dit reg is om partykeer vir jou kinders roomys te koop, maar om vir hulle pak te gee as hulle stout is.

Die Woord van God verbly die hart (v.9a). Die Bybel is beter as Prozac:  dit onderdruk nie net die simptome nie, maar werk met die oorsake van mense se depressie (v.9a).  As jy elke dag God se woorde soos ‘n spons indrink en doen wat dit sê, kan jy selfs in jou swaarkry blydskap hê en lofliede sing (Hd.16:25, Fil.4:4).

Die gebod van die Here is so suiwer soos silwer of goud wat geen dros in het nie (v.9b, 11, 12:7). Dit lei ons in die pad van reinheid en suiwerheid, omdat dit self ook suiwer is soos skoon water wat ‘n mens se liggaam, bloed en sisteem skoonwas (Jh.15:3, Ef.5:26).  Om die onreinheid uit jou gedagtes en lewe uit te was, moet jy hierdie Woord gedurig lees, oordink en toepas (119:9, 11, Fil.4:8).

Soos wat die son lig vir die oë gee (v.5b-7), gee die Skrif lig vir ons geestelike oë (v.9b). Dit is soos ‘n flits of ‘n latern wat ons help om in hierdie donker wêreld nie oor die boomstompe van valsheid te struikel, of in die gate van sonde te trap nie (119:105, 2 Pt.1:19).  Hierdie lig help veral as ons verward en rigtingloos is.  Wanneer dit by besluitneming kom, is daar te veel Christene wat bid sonder om die Skrif te bestudeer.  Hulle wag vir die Here om hulle in die nag te antwoord, en vergeet dat sy Woord die lig is om hulle te help (v.9b).

Die vrees van die Here is rein (v.10a). Die Bybel leer vir ons hoe ons die Here moet vrees, eerbiedig en respekteer.  Die grappe waarvoor ons lag, die films en TV programme wat ons kyk, die manier waarop ons in ons huwelike en gesinne optree, ons gesindheid by die werk moenie Jesus se Naam goedkoop maak nie.  Ons moet Hom vrees (v.10a).  As ons die Skrif se waarskuwings ernstig opneem, sal dit ons help om rein te wees en om nie op die pad van sonde en verwoesting te loop nie (v.10a).

Die Woord van die Here duur vir ewig omdat Christus self die Woord is (v.10a, Jh.1:1).  As hierdie Woord die pasaangeër in ons harte is dan sal ons, net soos die Woord, vir ewig in die hemel voortduur.

Die bepalings van die Here is regverdig en waar (v.10b). Die Hebreeuse woord vir bepalings [mishpât] verwys na ‘n regter se uitsprake.  Die vers impliseer dan dat die Bybel se uitsprake oor die mens regverdig en waar is (v.10b).  Wat leer die Bybel in hierdie verband?

[1] Die mens is na God se beeld geskep (Gn.1:26-27), en daarom het renosters en geelhoutbome nie dieselfde regte as ons nie.

[2] Die mens is geestelik dood in sy sonde en kan homself nie deur sy vrye wil red nie (Ef.2:1, Rm.8:7-8).

[3] Die mens se grootste probleem lê nie in die omstandighede buite hom nie, maar in die sonde wat soos ‘n aggressiewe kanker binne hom werk (Mk.7:21-23).  Daarom lê die oplossing nie binne hom nie, maar buite hom, naamlik in Jesus en sy kruisdood vir sondaars.

[4] God is nie onregverdig omdat Hy vir Jakob, Israel en Petrus gekies het, en nie vir Esau, Egipte en Judas nie (Rm.9). Hy is ook nie onregverdig omdat Hy dié wat Hom haat vir ewig hel toe stuur nie.

[5] God se Woord moedig nie ongeregtigheid aan nie. Moet dan nie die persoon glo wat sê dat die Here of die Bybel vir hom gesê het om swart mense te haat, by sy meisie in te trek, met ‘n ongelowige te trou, gay te wees, op onbybelse gronde te skei, ens. nie.  Die Skrif sal nooit vir ons sê om iets te doen wat verkeerd is nie.

Die reaksie op God se Woord (v.11-15)

Omdat die Bybel so waardevol is, is dit begeerliker as ‘n hele skatkamer vol van die fynste en suiwerste goud (v.11a). Dit is beter as ‘n bankrekening vol geld, ‘n huis in Clifton, ‘n Rolls Royce, ‘n seiljag, ‘n diamantring, ontwerpersklere wat van Parys af ingevoer is, ‘n privaat jet, jou persoonlike eiland, ‘n versameling van Swiss horlosies en Italiaanse sportkarre.  Die skatte wat die Woord jou bied kan nie gesteel word of agterbly wanneer jy doodgaan nie.

Wat sal jy kies as die volgende keuse voor jou gestel word? Jy kan alles kry wat die wêreld jou kan bied, maar dan mag jy nooit weer ‘n Bybel sien, lees, aanhaal, hoor, of besit nie.  Dit word ook van jou selfoon en rekenaar afgevee, asook uit jou geheue uit.  Aan die ander kant kan jy arm wees en die Bybel kies.  Wat sal jy kies?

Miskien wil jy soos Dawid sê dat jy die Bybel bo enige rykdom sal kies (v.11a, 119:14, 72, 127, Job 28:17, Sp.8:10, 19). As dit regtig bedoel wil ek vir jou vra hoekom jy dit nie meer lees, liefhet, gehoorsaam en oordink nie?  As jy dit nié bedoel nie wil ek jou vra of jy nie liewer jou Bybel vir iemand wil gee wat dit beter sal benut en meer sal waardeer nie?

Die Bybel is soeter as goudkleurige heuning wat van ‘n heuningkoek afdrup (v.11b, 119:103). Soos wat heuning of Belgiese sjokolade in jou mond wegsmelt, so is God se Woord soet en aangenaam vir die siel (v.11b, Sp.16:24).

Ek wil jou uitdaag om die Bybel meer te lees, te oordink, te memoriseer en daarna te luister. As jy dít doen sal jy ‘n aptyt daarvoor ontwikkel.  As jy dit eers geproe het sal jy nóg wil hê; jy sal nie met iets anders tevrede wees nie.  Wyle Martin Holdt het op ‘n tyd 10 hoofstukke per dag in die Bybel gelees.  Later het hy dit 20 gemaak.  Aan die einde van sy lewe het hy elke dag 30 hoofstukke gelees.

Die Bybel is soos ‘n rooi lig wat in ons gewetens flits om ons te waarsku (v.12). Dit help ons om versoeking van ‘n myl af uit te ken, om te weet dat dié program verkeerd is, dat daardie vriende gevaarlik is, of dat dié boek wat ‘n Christelike titel en ‘n mooi buiteblad het, vals is.

Die tragedie van die westerse kerk is dat talle Christene hulle vingers verbrand; hulle het die gevaartekens gemis, omdat hulle nie hulle Bybels ken nie. As jy die Woord bewaar sal dit jou bewaar.  Die Here sal jou daarvoor beloon; nou en in die hemel (v.12, 1 Tm.4:8).

Die Skrif sal jou help om die gevare buite jou raak te sien (v.12), asook die gevare binne jou (v.13). Dit sal jou help om nie blind te wees vir jou eie sonde nie.  Soos ‘n vlymskerp swaard sal dit jou hart oopsny, sodat jy die motiewe daarin kan raaksien (Heb.4:12).  Niks kan vir die son se hitte wegkruip nie (v.7), en net so kan niks vir die lig van die Woord wegkruip nie (v.13, Heb.4:12-13).  Die Gees sal sy Woord gebruik om vir jou te wys waar jy verkeerd gedink het oor iets, verkeerd gepraat het, en verkeerd opgetree het.

Iemand wat homself nie gereeld in die spieël van die Bybel sien nie, sal nie sy blindekolle raaksien nie (v.13). Ander mense kan sien dat hy op ‘n verkeerde pad is, maar soos ‘n armsalige sot sien hy dit nie raak nie.  Sy onvermoeë om te onderskei is direk verwant aan sy swak kennis en verstaan van die Bybel.  As jy jouself goed wil ken, moet jy die Bybel goed ken.

Daar is sonde in jou en my lewe wat ons nie raaksien nie. Daarom bid Dawid dat die Here hom hierdie skulde sal kwytskeld (v.13, Lk.23:34).  Hy bedoel nie dat die Here ‘n blinde oog daarvoor moet gooi nie, maar eerder dat Hy dit deur sy Woord sal uitwys, sodat Dawid dit kan raaksien, bely en vergewe kan word (Job 34:32).

Dawid bid nie net dat die Here versteekte sonde in sy lewe sal uitwys nie, maar ook dat Hy hom van moedswillige sonde sal bewaar, sodat dit nie sy baas is nie (v.14, 119:133, Nm.15:30, Rm.6:12, 14). Is jy aan iets verslaaf; maak jy ‘n afgod van iets:  kos, drank, seks, geld, sport, soetgoed, Facebook, jou selfoon, films, musiek, troeteldiere, fiksheid, mense se opinies, tabak, jou tuin, jou voorkoms, of wat?

As die Woord in jou hart heers, sal sonde nie jou baas wees nie (v.14). Wanneer dit by die verbreking van verslawings kom, moet ons nie die krag van God se Woord onderskat nie (v.14).  Vir die Here is dit maklik om te keer dat jy sonde doen (v.14).  Hy het dit met Abimeleg en Dawid gedoen (Gn.20:6, 1 Sm.25:33-34, 39), en Hy kan dit met jou ook doen (v.14, Mt.6:13, 1 Kor.10:13).

As jy onskuldig wil wees en nie in die slagyster van sonde wil beland nie, moet jy naby die Here en sy Woord bly en nie opsetlik sondig nie (v.14). Moenie dat dit van jou gesê word:  ‘Jy het geweet wat reg is – hoekom het jy dit nie gedoen nie maar jou eie kop gevolg?’  Volg die Bybel.  Moenie soos ‘n tiener wees wat dink hy weet beter nie.  Die Here weet wat goed is vir jou; luister na Hom en jy sal jouself baie moeite, probleme en trane spaar.

As die Woord jou hart vul sal dit ook jou mond vul (v.15, Mt.12:34). Dit sal jou help om reg te praat en te dink (v.15).  Jy sal die waarheid praat, lofliede sing, ander bemoedig en mooi dink voordat jy sommer net iets sê (v.15).  Jou gedagtes en dagdrome sal ook vir die aanneemlik wees (v.15).

Omdat jy hierdie Rots onder jou voete het, sal jy nie maklik sink in die moeras van dwase woorde en sondige gedagtes nie (v.15). En waar jy wel sonde gedoen het, is daar ‘n liefdevolle Verlosser wat wag om jou te vergewe (v.15).

John Paton se outobiografie is een van die beste boeke wat ek in my lewe gelees het. Om dit egter met God se outobiografie – die Bybel – te vergelyk, is soos om ‘n 3-jarige kind se plastiek kroon met die koningin van Engeland s’n te vergelyk:  God s’n is net soveel beter.

Kategorieë