1Tessalonisense 5:1-11
Hiper-preteriste is mense wat nie in die wederkoms glo nie. Volgens hulle is al die Bybelse profesieë in die eerste eeu n.C. vervul. Maar dit is kettery en sorteer onder die dwaling van “Himenéüs en Filétus...wat van die waarheid afgedwaal het, omdat hulle sê dat die opstanding al plaasgevind het” (2Tim. 2:17-18). [Keith Mathison en ‘n paar ander outeurs het ‘n reaksie teen hiper-preterisme geskryf. Die boek se titel is, When Shall These Things Be?].
Hopelik glo nie een van my lesers sulke snert nie. En tog is ek besorg dat baie Christene nie regtig in die wederkoms glo nie. Ons sê dat ons daarin glo, maar ons lewe asof dit nie gaan gebeur nie. Ons teologie is reg, maar in die praktyk is ons hiper-preteriste. Twee of drie maande gelede het ‘n oom dit vir my gesê: ‘Ons leef nie met die verwagting dat Jesus enige oomblik weer kan kom nie.’ Ek stem met hom saam. Hoe moet ons die probleem regstel? Dit is wat Paulus ons in 1Tess. 5:1-11 wil leer.
- Verwag dit (v.1-3)
Een van my vriende is bekommerd, omdat ek glo dat ‘n groot deel van Matt. 24 en Openbaring nie oor die sogenaamde eindtyd gaan nie, maar oor die verwoesting van Jerusalem en die tempel in 67-70 n.C. Ek is nie ‘n hiper-preteris wat dink dat alles al vervul is nie. Ek is eerder ‘n gedeelte-preteris wat glo dat dinge soos die 666, die vier perde van Openbaring, die 144 000 en die Groot Verdrukking in die eerste eeu vervul is, en dat die wederkoms, die finale oordeel, die opstanding van die dooies en die nuwe hemel en aarde nog vervul moet word.
Ek is ook ‘n postmillennialis wat glo dat dinge nie slegter gaan word voor die einde nie, maar beter. Die Jode sal in groot getalle tot bekering kom, wat daartoe sal lei dat daar ‘n massa herlewing onder die nasies is. Op grond hiervan dink my vriend dat ek nie ‘n wederkomsverwagting het nie. Maar volgens elke siening (syne ingesluit) moet daar nog sekere dinge gebeur voordat Jesus weer kom. Dit demp egter nie ons verlange dat Hy gou moet kom nie. Dink maar aan Paulus en Petrus. Beide van hulle het geweet hulle gaan sterf. En tog het dit nie hulle verwagting van die wederkoms beïnvloed nie (2Tim. 4:6-8, 2Pet. 1:14, 3:10, 12). Volgens die Bybel is dit spotters wat nie die wederkoms verwag nie (2Pet. 3:3-4). Laat ons dit dan verwag en daarvoor uitkyk.
Ons het in die vorige verse gesien dat Jesus die dooies sal opwek wanneer Hy weer kom (4:13-18). In 1Tess. 5 wissel Paulus ratte en sê hy dat ons daarvoor gereed moet wees. God wat die tye en seisoene bepaal, het ‘n spesifieke dag vasgestel waarop Jesus weer sal kom om die wêreld te oordeel (v.1, Dan. 2:21, Hand. 1:7, 17:31, Matt. 24:36). Omdat ons nie weet wanneer dit sal wees nie, moet ons altyd gereed wees. Ek weet dat jy dit weet en dat jy nie noodwendig ‘n hele preek hieroor hoef te hoor nie (v.1-2). En tog is dit goed om jou geheue te verfris soos wat Paulus hier met die Tessalonisense doen.
Al is daar baie dinge omtrent die eindtyd wat ons nie verstaan nie, kan ons verseker weet dat niemand die presiese dag van Jesus se koms ken nie. Dit sal so skielik en onverwags wees soos ‘n dief wat in die aand by jou huis inbreek (v.2, Matt. 24:42-44, 2Pet. 3:10). Dit sal ‘n doodgewone dag wees. Jy sal by die werk, of by ‘n troue wees; dalk sal jy lê en slaap (Matt. 24:38-41, Mark. 13:35). Jy sal nie weet dat jy vandag vir die laaste keer opgestaan het, of dat jy vir die laaste keer gaan slaap het nie.
As die wederkoms nie gereeld in jou gedagtes is nie, sal jy lewe asof daar nie ‘n oordeel op pad is nie, maar asof alles vredevol en veilig is (v.3). Dit sal wees soos toe die vals profete in die Ou Testament vrede aangekondig het, terwyl Israel op die randjie van God se oordeel gestaan het (Jer. 6:14, Eseg. 13:10). Dit sal wees soos die Romeine in Paulus se tyd wat op hulle munte en monumente die inskripsie gegraveer het: Pax et Securitas—Vrede en Veiligheid! (v.3).
Terwyl mense hulleself in die wêreld verlustig en selfvergenoegd lewe, sal Jesus in vuur en vlam op donker stormwolke kom. Hy sal met die heerlikheid van sy Vader kom en al sy heilige engele sal by Hom wees (2Tess. 1:7-8, Matt. 16:27, 25:31). Hy sal die goddelose skielik, tot die uiterste toe en vir ewig in die hel verwoes (v.3, Matt. 10:28, 2Tess. 1:8-9, Op. 14:10-11). Dit sal so seker oor hulle kom soos kraampyne oor ‘n swanger vrou (v.3, Gen. 3:16).
Omdat jy weet wat kom, moet jy jouself toets om te sien of jy gereed is om voor die Here te staan. Moenie rustig voel omdat jy gedoop is, of omdat jy bekeringsdatum het nie. Volg jy nóú Here? Vertrou jy nóú op sy Persoon, lewe, kruisdood en opstanding? Is jy nóú gehoorsaam?
Vrees vir die wederkoms en die hel is nie die enigste motivering om jou van jou sonde te bekeer nie, maar dit is ’n motivering (bv. Matt. 5:29-30). Dit moet jou aanspoor om nie vir jouself te sê: ‘Ek kan met my sonde aanhou en sal nie in die hel beland nie.’ Los jou sonde en vertrou op Jesus om jou te red. Waarsku ook ander en vertel hulle dat Jesus gekom het om mense van die hel te red. “Omdat ons dan die vrees van die Here ken, probeer ons om die mense te oortuig” (2Kor. 5:11). ‘n Goeie begrip van die wederkoms en die hel is goed vir evangelisasie.
Hierdie leringe help ons ook om God se genade meer te bewonder en Hom te aanbid. Leon Morris haal ‘n sekere Heinrich Vogel aan wat sê: ‘whoever thinks he can smile at God’s wrath [Afr. toorn] will never praise him eternally for his grace’ [Heinrich Vogel, The Iron Ration of a Christian (London: SCM, 1941), 102 aangehaal in Leon Morris, Tyndale New Testament Commentaries: 1 and 2 Thessalonians (Leicester: Inter-Varsity Press, 1984 [1956]), 100]. Moet daarom nie wegskram van die lering van God se toorn nie. Dink eerder daaraan dat jy die hel verdien en dat die Here jou gered het. Sien die helder lig van sy genade teen die donker agtergrond van die oordeelsdag en die hel. Sing dan met ‘n hart vol van lof tot die Here.
- Wees waaksaam (v.4-10)
Vroeër vanjaar het hulle my hekmotor gesteel en twee keer by my garage ingebreek. My hond het deur dit alles gelê en slaap. As jy soos hy is, sal Jesus soos ‘n dief op jou afkom (v.2). Hy sal kom wanneer jy dit die minste verwag. As jy egter waaksaam is, sal Hy jou nie omkant vang nie. Jy sal nie soos iemand wees wat wakker skrik as die dief al in die huis is nie (v.4).
Hoe kan jy seker maak dat die wederkoms jou nie onverhoeds en op heterdaad betrap nie? Moenie in die duisternis van sonde en die wêreld lewe nie (v.4). Lewe soos ‘n kind van die lig en die dag (v.5, Rom. 13:13, Ef. 5:8). Om iemand se kind te wees, beteken dat jy aan hulle behoort. Om dan ‘n kind van die lig of die dag te wees, beteken dat jy aan die lig of die dag behoort (v.8). Jy is nie deel van die duisternis van die wêreld se sonde nie. Jy is deel van Christus se Koninkryk van lig (Kol. 1:12-13). Jy is ‘n kind van die Dag van die Here, of die wederkoms (v.5, 2).
Om ‘n kind van die lig te wees, beteken dat jy nie twee lewens leef nie: een waar mense jou kan sien en ‘n ander een agter toe deure, in die donker, en in jou gedagtes. Jy is dieselfde mens voor ander as wat jy is waar net die Here jou sien. Jy is ‘n kind van die lig wat deursigtig en opreg is; jy haat jou sonde en is gehoorsaam aan die Bybel (Joh. 8:12, 1Joh. 1:5-7). Jy is nie ‘n nagdier wat die dinge van die duisternis liefhet nie: pornografie, seksuele sonde, nagklubs, drank, dwelms, ens. (v.7, Job 24:13-17, Joh. 3:19-21).
Omdat ons kinders van die lig is en aan die dag behoort, moet ons nie geestelik slaap soos die wêreld nie (v.6-7, Rom. 13:11-12). Wees nugter en waaksaam. Sien deur die duiwel se taktiek. Hy wil jou d.m.v. politieke agendas, televisie en die media aan die slaap sus en gewoond maak aan sonde: homoseksualiteit, aborsie, die afbreek van gesag in die huisgesin en die samelewing, transgender kwessies, materialisme, vals lering, die omkeer van rolle in die huwelik, ens.
Moenie dat die duiwel jou uitvang soos hy met die wêreld doen nie, maar wees nugter en waaksaam (v.6, 8, 1Pet. 5:8). Om deur sy planne te sien, moet jy naby die Here lewe; baie tyd in gebed deurbring; jou Bybel goed ken; aktief deel wees van ‘n goeie gemeente, sodat die wêreld jou nie intrek nie; jouself herinner dat die wêreld met sy plesiere vernietig gaan word, maar dat dié wat die wil van die Here doen vir ewig sal lewe (1Joh. 2:17).
Jy moet ook geloof, hoop en liefde soos ‘n borsharnas en helm aantrek om jou teen die duiwel en die wêreld te beskerm (v.8, 1:3, 1Kor. 13:13, Ef. 6:14-17, Jes. 59:17). Hoe doen ‘n mens dit prakties? Moet jouself nie teen die wêreld en sy plesiere vasstaar nie, maar kyk deur geloof na Christus wat weer sal kom (v.8). Wees lief vir Hom en gehoorsaam Hom, eerder as wat jy die wêreld volg (v.8). Kyk met hoop en verwagting na die wederkoms; bid dat Jesus weer sal kom om jou van die bose wêreld te red (v.8).
Dit is tog waarvoor die Vader ons bestem het (v.9). Hy het ons nie bestem om onder sy regverdige toorn in die hel te ly nie, maar om die ewige verlossing deur ons Here Jesus Christus te verkry (v.9). Hy het ons al voor die skepping hiervoor bestem (v.9, Rom. 8:29-30, Ef. 1:4-5, 2Tim. 1:9, Tit. 1:1-2). John Flavel (1630-1691) het hom voorgestel dat die Vader en die Seun die volgende gesprek gehad het voor hulle die wêreld gemaak het:
Vader: My Seun, hier is ‘n groep ellendige siele wat hulleself geheel en al ongedaan gemaak het en nou my geregtigheid verdien! My geregtigheid vereis dat daar vir hulle sonde betaal moet word. Anders sal my geregtigheid deur hulle ewige vernietiging versadig moet word. Wat sal vir hierdie siele gedoen word?
Seun: O my Vader! My liefde en deernis vir hulle is so groot dat Ek as hulle Borg vir hulle verantwoordelik sal wees, eerder as wat hulle vir ewig verlore moet gaan. Bring al u rekeninge vir My, sodat Ek kan sien wat hulle U skuld. Bring hulle almal Here, sodat daar geen agterstallige rekeninge is nie. Van my hand kan U dit eis. Ek sal eerder kies om onder u toorn te ly as wat húlle moet ly. Laat al hulle skuld op My wees, my Vader.
Vader: Maar, my Seun! As Jy vir hulle onderneem, moet Jy besef dat Jy die laaste sent sal moet betaal; moenie enige afslag verwag nie. As Ek húlle nie spaar nie, sal Ek Jóú ook nie spaar nie.
Seun: Ek is tevrede Vader. Laat dit so wees. Reken dit alles op My. Ek het die vermoë om daarmee af te reken. Al maak dit My klaar, verarm dit my rykdom en maak dit my skatkis leeg; nogtans is Ek tevrede om hierdie taak op Myself te neem [Vry vertaal uit Mark Jones, Knowing Christ (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2015), 17-18].
Die plan het in aksie oorgegaan toe Jesus aarde toe kom om aan die kruis te sterf en ons van die Vader se toorn te red (v.9-10, Rom. 3:25). Hy het God se toorn afgeweer soos wat ‘n skild brandende pyle afweer, of soos wat ‘n groot boom ‘n kar keer wat teen 100 km/h op jou afkom.
As jy in Hom glo, sal die wederkoms vir jou nie ‘n dag van toorn wees nie (v.9, 1:10), maar ‘n dag van blydskap omdat jy vir altyd saam met die Here sal lewe (v.10). Dit geld of jy nou ‘wakker’ is wanneer Jesus kom, en of jou liggaam al in die graf slaap (v.10). Geen gelowige hoef dus die wederkoms te vrees nie. Jesus kom weer, nie om jou te straf nie, maar sodat jy saam met Hom kan lewe: “...Ek lewe en julle sal lewe.” (Joh. 14:19).
- Bemoedig mekaar (v.11)
Een van ons lidmate het onlangs gehoor dat hy maagkanker het. ‘n Ander een is met Parkinson’s gediagnoseer. ‘n Ander een moes ‘n heup vervanging kry. Een paartjie se kinders is voortdurend siek. ‘n Paar van ons mense sukkel finansieel.
Dit is geen geheim dat gelowiges moeilike dinge deurmaak nie. Een oplossing om hierdie dinge te verduur, is om op Jesus se koms te hoop. Wees soos die Tessalonisense en bemoedig mekaar met die groot waarhede van die geloof (v.11, 4:18). Sê vir mekaar: ‘God het ons vir die hemel bestem, Jesus het vir ons gesterf, Hy het opgestaan, Hy kom weer sodat ons vir altyd by Hom kan wees.’
Terwyl jy op die Here wag, moet jy jou gawe gebruik om ander op te bou en hulle voor te berei vir die Here se koms (v.11). Hiervoor moet jy gereeld by die gemeentelike samekomste wees. As jy wegbly, benadeel jy nie net jouself nie, maar jou broers en susters. Om veilig te wees teen die wêreld se aanslae en gereed te wees vir die wederkoms, het ons mekaar nodig. Die beginsel wat die Hebreërskrywer in Heb. 10:24-25 neerlê, geld ook hier: “en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.”
Ek wonder of die geestelike traagheid van sommige Christene daarin lê dat hulle nie regtig glo Jesus kan enige oomblik kom nie?
Toe ek 12 was, het die tannie by ons jeug gesê ons moet vuil jeug toe kom. Toe ons daar aankom, toe sê sy baie ernstig dat ons gou moet skoon kom, omdat Jesus oor 5 minute kom. Ek het gedink sy is ernstig en het gewas soos nog nooit in my lewe nie.
As ons regtig geglo het Jesus kan enige dag weer kom, sou ons lewens anders gelyk het. Ons sou nie so vasgevang raak in die wêreld nie, ons sou heiliger gewees het, ons sou ‘n groter ywer vir evangelisasie gehad het en die kerk sou vol gewees het.