Coram Deo Cover Image

Coming soon...

24 February 2022

Geseënd is die uitverkorenes

Lukas 10:21-24

Toe ek die vorige keer hierdie teks gepreek het, was ek in die moeilikheid. My senior leraar het my aangespreek en by die deur het iemand geweier om my hand te skud. Mense haat uitverkiesing. Toe ’n vrou een van my preke hieroor op die internet raaklees, het sy vir my ’n brief geskryf. ‘Ek is sedert die 1960’s ’n gelowige en ’n Baptis,’ het sy gesê. ‘Hoe kan jy hierdie goed sê? In al my jare in die Baptistekerk het ek nog nooit hiervan gehoor nie.’ Eintlik is dit ’n tragedie dat haar leraar selde of nooit hieroor gepreek het nie. Dit staan immers in die Bybel.

Nog ’n Baptis het uit sy gemeente bedank toe ’n besoekende prediker by hulle oor uitverkiesing gepreek het. Ek het die preek gehoor. Dit was baie bemoedigend. Wat my betref was daar niks in die preek om aanstoot te gee nie. In die Bybel is uitverkiesing nooit ’n twispunt nie. Dit bestaan nie om vrees in te boesem nie. God leer dit vir ons, sodat ons Hom alleen vir ons verlossing sal prys (1Kor. 1:26-31, Ef. 1:4-6). Uitverkiesing is in die Bybel om ons te troos (Ps. 103:17, Jer. 31:3, Rom. 8:29-30, 33, 2Tess. 2:13, 1Pet. 1:1-2, 2:9). Dit is asof die Here vir ons wil sê: ‘Jy is Myne; Ek sal jou nooit verlaat nie.’ (Joh. 10:28-29, Rom. 8:38-39, Fil. 1:6). God se uitverkorenes is waarlik geseënd.

 

1. Hulle ken die Seun (v.21, 23-24)

Ek onthou toe ek vir die eerste keer oor uitverkiesing gelees het. In my woede het ek die boek neergegooi. Jesus se reaksie was heeltemal anders as myne. Hy het die Vader vir sy soewereine verlossing gedank (v.21). Volgens die Grieks (agalliaō) was Jesus se blydskap so groot dat Hy gespring het. Hy was bly, omdat Hy en die Vader sondaars red. Lukas sê:

“En tog moet julle nie bly wees net omdat die geeste hulle aan julle onderwerp nie. Wees eerder bly dat julle name reeds in die hemel opgeskryf is. Op daardie oomblik het Jesus deur die Heilige Gees dit uitgejubel en gesê: ‘Ek loof U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg en dit aan kindertjies bekend gemaak het. Ja, Vader, want so het U dit goedgevind. Alles is deur my Vader aan My toevertrou. En niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader, en niemand ken die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom bekend wil maak.’” (v.20-22).1

Hoe min is ons nie soos Jesus nie? Wanneer laas het jy die Here vir uitverkiesing gedank? Mense stry hieroor en vind dit moeilik om te aanvaar. Hoekom?

[1] Ons is trots en wil sê dat ons ’n aandeel in ons redding het. Volgens 1Kor. 1:29 kies God wie Hy wil, “sodat geen mens iets het waarop hy hom voor God kan beroem nie.”

[2] Ons vrees vir ons ongeredde geliefdes. As uitverkiesing waar is, gaan sommige van hulle nie hemel toe nie. Wyle Martin Holdt se vrou het dit vir hom gesê. Toe hy aankondig dat hy besluit het om Romeine 9 se lering oor uitverkiesing te aanvaar, toe sê sy: ‘Wat van my pa?’ Sy reaksie was: ‘As dit van jou pa afhang, is daar nie hoop nie. Maar as dit van die Here afhang, is daar hoop.’

[3] Mense wil God se liefde en geregtigheid verdedig. Jy hoef nie. Paulus sê in Rom. 9:11-18:

“want nog voordat haar kinders gebore is, of iets goeds of kwaads gedoen het, is vir haar gesê: ‘Die oudste sal die jongste dien.’ Dit het gebeur, sodat God se voorneme volgens sy uitverkiesing sou bly staan, nie op grond van mense se dade nie, maar op grond van Hom wat roep. Soos daar geskryf staan: ‘Jakob het Ek liefgehad, maar van Esau het Ek ’n afkeer gehad.’ Wat sal ons dan sê? Is daar dan enige onreg by God? Geensins! Vir Moses sê Hy tog: ‘Ek sal My ontferm oor wie ook al Ek My wil ontferm, en Ek sal barmhartig wees teenoor wie ook al Ek barmhartig wil wees.’ Dit berus dus nie by die mens wat wil en hom inspan nie, maar by God wat Hom ontferm. Die Skrif sê immers vir die farao: ‘Juis hiervoor het Ek jou verhef, sodat Ek deur jou my krag kan toon, en sodat my Naam oor die hele aarde verkondig kan word.’ Hy ontferm Hom dus oor wie Hy wil, en Hy maak hardkoppig wie Hy wil.”

Moenie sê uitverkiesing is onregverdig nie. As God regverdig moet wees, gaan almal hel toe. Dit is genade dat enigiemand gered word. Om te sê uitverkiesing is onregverdig is om jouself die standaard van geregtigheid te maak. God besluit wat regverdig en onregverdig is. Hy hoef nie rekenskap vir sy dade te gee nie. Hy doen wat Hy wil. As Hy vir Moses eerder as Farao kies of vir Israel eerder as Edom, dan doen Hy dit. Paulus sê:

“Jy sal nou vir my sê: ‘Hoe kan Hy dan nog ’n mens die skuld gee? Want wie kan sy wil teengaan?’ Wie is jy tog, o mens, om God te weerspreek? Sal die maaksel vir sy maker sê: ‘Waarom het jy my so gemaak?’ Of het die pottebakker dan nie die reg om uit dieselfde stuk klei ’n voorwerp vir edele gebruik of vir onedele gebruik te maak nie? As God dan die voorwerpe van sy toorn wat vir ondergang bestem is, met groot geduld verdra het, omdat Hy sy toorn wil vertoon en sy krag bekend wil maak, het Hy dan nie ook die reg om die rykdom van sy heerlikheid bekend te maak oor die voorwerpe van sy ontferming wat Hy vooraf vir heerlikheid bestem het nie?” (Rom. 9:19-23).

Niemand het die Here verplig om ons te red nie. As Hy wou, kon Hy ons in ons sonde gelos het soos Hy met die gevalle engele gedoen het. Maar Hy het nie. Hy het ’n plan gemaak om ons te red (Heb. 2:16).

Jy hoef nie uitverkiesing te verstaan nie net soos jy die Drie-Eenheid nie verstaan nie. Wanneer dit by uitverkiesing kom, moet jy waak dat jy nie dinge wil weet wat God nie geopenbaar het nie (Deut. 29:29). Sorg liewer dat jy Dawid se gesindheid in Psalm 131 jou eie maak: “Here, my hart is nie hoogmoedig en my oë nie verwaand nie. Ek hou my nie besig met groot dade of wat te wonderbaar is vir my nie. Maar ek het my siel tot kalmte en bedaring gebring. Soos ’n kindjie by sy moeder, soos ’n kindjie, is my siel in my. Israel, vestig jou hoop op die Here, nou en vir altyd.”

Glo eenvoudig in uitverkiesing, omdat die Bybel dit leer. God het vir Abraham uitgekies (Gen. 18:19, Neh. 9:7). Uit al die nasies het Hy vir Israel gekies (Deut. 7:6-8, Jes. 41:8-9). Baie verse in die Nuwe Testament praat van uitverkiesing:

“Baie is immers geroep, maar min is uitgekies.” (Matt. 22:14).2

“As daardie dae nie ingekort word nie, sou geen mens gered word nie. Maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae ingekort word... Want vals christusse en vals profete sal na vore tree, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, indien moontlik, selfs die uitverkorenes te mislei... Hy sal sy engele stuur met luide trompetgeskal, en hulle sal sy uitverkorenes uit die vier windrigtings versamel, van die een uithoek van die hemele tot by die ander.” (Matt. 24:22, 24, 31).

“Sal God dan nie reg laat geskied aan sy uitverkorenes wat bedags en snags na Hom roep nie?” (Luk. 18:7).

Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My kom, en Ek sal die een wat na My kom, nooit verstoot nie... En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: Dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie ’n enkele een verlore sal laat gaan nie, maar hulle op die laaste dag sal opwek... Niemand kan na My kom as die Vader, wat My gestuur het, hom nie na My toe trek nie, en Ek sal hom op die laaste dag laat opstaan... Niemand kan na My toe kom as dit nie deur die Vader aan hom gegee is nie.” (Joh. 6:37, 39, 44, 65).

“Ek sê dit nie van julle almal nie; Ek weet wie Ek uitgekies het, maar die Skrif moet vervul word, ‘Die een wat my brood geëet het, het sy hakskeen teen my gelig.’” (Joh. 13:18).

As julle van die wêreld was, sou die wêreld julle as sy eie liefhê. Omdat julle egter nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitgekies het, juis daarom haat die wêreld julle.” (Joh. 15:19).

Ek bid vir hulle. Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir hulle wat U aan My gegee het, omdat hulle aan U behoort... Vader, Ek wil hê dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My kan wees, sodat hulle my heerlikheid kan sien, die heerlikheid wat U My gegee het, omdat U My van voor die grondlegging van die wêreld liefgehad het.” (Joh. 17:9, 24).

“want Hy het hulle wat Hy reeds tevore geken het, ook vooruit bestem om gelykvormig aan die beeld van sy Seun te word, sodat Hy die Eersgeborene onder baie broers kan wees; en diegene wat Hy vooruit bestem het, het Hy ook geroep; en diegene wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek; en diegene wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik... Wie sal die uitverkorenes van God aankla? God is die Een wat vryspreek!” (Rom. 8:29-30, 33). 

“‘God het nie sy volk verstoot’ wat Hy reeds tevore gekies het nie... Waarop kom dit dan neer? Dat Israel dit wat hulle soek, nie gekry het nie. Maar die uitverkorenes het dit wel gekry. Die res is egter verhard” (Rom. 11:2, 7).

“So het Hy ons voor die grondlegging van die wêreld in Hom uitgekies, sodat ons heilig en onberispelik in liefde voor Hom sou wees, nadat Hy ons voorbestem het om ons deur Jesus Christus as sy kinders aan te neem, soos Hy dit volgens sy wil goedgedink het... In Hom is ons ook as erfgename uitverkies, voorbestem volgens die voorneme van die Een wat alles volgens sy raad en wil laat gebeur” (Ef. 1:4-5, 11).

“Daarom, omdat julle God se uitverkore heiliges en geliefdes is, beklee julleself met innige meelewing, goedheid, nederigheid, sagmoedigheid en geduld.” (Kol. 3:12).

“Ons, egter, broers, behoort God altyd vir julle te dank, julle vir wie die Here liefhet, omdat God julle as eerstelinge gekies het om verlos te word, deurdat die Gees julle heilig, en deurdat julle die waarheid glo.” (2Tess. 2:13).

“Hy het ons verlos en geroep met ’n heilige roeping—nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en genade. Reeds van ewigheid af is dit in Christus Jesus aan ons geskenk” (2Tim. 1:9).

“Maar tog staan die fondament van God stewig, met hierdie inskripsie, ‘Die Here ken diegene wat aan Hom behoort’” (2Tim. 2:19).

“Paulus, ’n dienskneg van God en apostel van Jesus Christus, ter bevordering van die geloof van die uitverkorenes van God, en hulle kennis van die waarheid, wat ooreenstem met godvresendheid, in die hoop op die ewige lewe wat God, wat nie kan lieg nie, reeds voor alle tye beloof het” (Tit. 1:1-2).

“Petrus, ’n apostel van Jesus Christus, aan die vreemdelinge van die Diaspora in Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië, hulle wat uitverkies is volgens die voorkennis van God, die Vader, om deur die heiligmaking van die Gees gehoorsaam te wees, en met die bloed van Jesus Christus besprinkel te word” (1Pet. 1:1-2).

“Julle, egter, is ‘’n uitverkore geslag’, ‘’n koninklike priesterdom’, ‘’n heilige nasie’, ‘’n volk wat aan God behoort’, ‘sodat julle die deugde kan verkondig’ van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderlike lig” (1Pet. 2:9). 

“Al die aardbewoners sal hom aanbid, elkeen wie se naam sedert die grondlegging van die wêreld nie opgeskryf is in die boekrol van die lewe van die Lam wat geslag is nie... Die aardbewoners wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boekrol van die lewe opgeskryf is nie, sal verbaas wees wanneer hulle die dier sien... Hulle sal teen die Lam oorlog voer, maar die Lam sal hulle oorwin, omdat Hy die Heerser van die heersers en die Koning van die konings is, en saam met Hom is die geroepenes, uitverkorenes en getroues.” (Op. 13:8, 17:8, 14).

Jesus het Hom in die Gees verbly oor die Vader se soewereine besluit in verlossing (v.21, Rom. 15:13, Gal. 5:22). Duidelik is die Vader, die Seun en die Heilige Gees bly oor uitverkiesing. Die vraag is nie of jy in uitverkiesing glo nie, maar of jy jou daaroor verbly (v.21). Maak dit jou hart warm?

Party gelowiges dank God nie vir uitverkiesing nie (v.21), omdat hulle wonder of hulle uitverkies is of nie. Hoe weet ’n mens of jy uitverkies is? As jy in Jesus glo, sodat Hy jou persoonlike Here en Verlosser is, is jy uitverkies. Paulus sê: “Broers, julle vir wie God liefhet, ons weet van julle verkiesing; want ons evangelie het nie alleen deur die woord nie, maar ook met krag en deur die Heilige Gees en in volle versekering na julle gekom.” (1Tess. 1:4-5). Moet dan nie vra of jy uitverkies is nie, maar of jy jou van jou sonde bekeer het en in Jesus glo. Petrus sê: “Daarom, broers, lê julle soveel te meer daarop toe om julle roeping en verkiesing stewig te vestig.” (2Pet. 1:10). Hoe kan jy jou verkiesing vestig en daarvan seker maak? Kyk of jy geloof het en of jou geloof vrugte dra (2Pet. 1:5-9).

Party mense dank God nie vir uitverkiesing nie (v.21), omdat hulle godsdienstige ouers het en hulleself daardeur oortuig dat hulle uitverkies is (Joh. 8:33). Volgens Joh. 3:3 moet selfs godsdienstige mense weergebore word.

Party dank God nie vir uitverkiesing nie (v.21), omdat hulle dit verkeerd glo. In hulle denke het God hulle gekies, omdat Hy vooruit geweet het hulle in Hom sou glo. Sulke mense maak hulle geloof die basis vir God se keuse. Maar volgens Joh. 15:16 het Jesus ons gekies voor ons Hom gekies het. Volgens Hand. 13:48 glo ons, omdat ons uitverkies is. Ons is nie gekies, omdat ons glo nie: “Toe die heidene dit hoor, was hulle bly en vol lof oor die woord van die Here. En diegene wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword.” Volgens Rom. 9:11-12 het God ons voor ons geboorte gekies. Hy kies ons nie op grond van iets wat ons doen of volgens ons eie wil nie, maar volgens sy soewereine besluit: “Dit berus dus nie by die mens wat wil en hom inspan nie, maar by God wat Hom ontferm.” (Rom. 9:16).

Dank die Vader vir jou verkiesing (v.21). Die Grieks vir dank (exomologeō) beteken om ten volle saam te stem. Jesus, die Vader en die Heilige Gees stem ten volle saam oor uitverkiesing (v.21). Ek vind dit interessant dat Jesus die Vader in ’n evangelisasie-konteks dank (v.1-21). Moenie sê uitverkiesing is teen evangelisasie nie. Jesus, die Bybel en die geskiedenis dink anders. Paulus het uitverkiesing as ’n motivering vir evangelisasie gesien: “Die Here het een nag deur ’n visioen vir Paulus gesê: ‘Moenie bang wees nie, maar hou aan praat en moenie stilbly nie! Ek is immers met jou en niemand sal ’n vinger op jou lê om jou kwaad aan te doen nie, want in hierdie stad is daar baie mense wat aan My behoort.’” (Hand. 18:9-10). “Daarom verduur ek dit alles ter wille van die uitverkorenes, sodat ook hulle die verlossing in Christus Jesus met ewige heerlikheid kan verkry.” (2Tim. 2:10).

David Brainerd, William Carey, David Livingstone, John Paton, Charles Spurgeon, George Whitefield is van die grootste sendelinge en evangeliste in die geskiedenis. Almal van hulle het in onvoorwaardelike uitverkiesing geglo. Hulle het geweet dat God die Here van hemel en aarde is wat sy wil in die hemel en op die aarde uitvoer (v.21, Ps. 103:9, Dan. 4:35). In die hemel en op aarde, onder mense en engele, kies Hy wie Hy wil (Rom. 9:11-13, 1Tim. 5:21). Dit is soos as jy trou: jy besluit self met wie jy wil trou, asook wie jy na die troue toe nooi. Net so is Jesus vry om sy bruid en gaste te kies. Geseënd is jy as Jesus jou kies en na sy troue toe uitnooi: “Gelukkig [geseënd] is hulle wat uitgenooi is na die bruilofsfees van die Lam.” (Op. 19:9).

In sy soewereine raadsplan het God besluit om sy verlossing vir party mense weg te steek en dit aan ander te openbaar: “Ek loof U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg en dit aan kindertjies bekend gemaak het.” (v.21). God steek dit weg vir geleerde mense wat Hom en sy Woord veroordeel (v.21, 25-29). Soos liberales en ateïste beskou hierdie mense hulleself as wys. Hulle dink hulle weet beter as God. Derhalwe steek Hy die waarheid vir hulle weg:

“Want daar staan geskryf: ‘Ek sal die wysheid van die wyses tot niet maak en die insig van die verstandiges verwerp.’ Waar is die wyse man, waar die skrifkenner, waar die redevoerder van hierdie wêreld? Het God dan nie die wysheid van die wêreld dwaasheid laat word nie? Trouens, deur die wysheid van God het die wêreld Hom nie deur hulle wysheid leer ken nie. God het verkies om hulle wat glo, te verlos deur die dwaasheid van die verkondiging.” (1Kor. 1:19-21).

Omdat hierdie mense in hulle wysheid roem, laat die Here hulle toe om alewig te studeer, maar nooit die kennis van die waarheid te bereik nie (2Tim. 3:7). Daardeur sê ek nie studie is onbelangrik nie (2Tim. 2:15). Dit gaan hier oor hoogmoed; oor mense wat dink hulle weet beter as God en sy Woord. Party ongeleerdes is net so arrogant. Toe ek die evangelie met ’n ongeleerde ongelowige wou deel, toe maak hy my stil. Ten spyte van sy geringe kennis van die Bybel het hy Genesis 3 volgens sy eie verdraaide interpretasie probeer verduidelik. Dit is vir sulke mense wat God die waarheid wegsteek.

God openbaar Homself aan klein kinders; aan dié wat nie in hulle wysheid roem nie. Met kinders verwys Jesus na mense wat nederig en eenvoudig is. Hulle gebruik nie allerhande slim redenasies om die Bybel te probeer weerlê nie. Hulle glo en aanvaar wat God sê, selfs al verstaan hulle nie alles nie.

Weereens is die Bybel nie teen studie nie. Volgens 1Kor. 13:11, 14:20 moet ons nie kinders in ons verstand wees nie. Die bedoeling is eerder dat jy nie moet dink jy weet beter as God, sodat jy tien redes het vir hoekom jy nie in uitverkiesing glo nie. As jy die gesindheid van Jes. 66:2 het, sal God die waarheid aan jou openbaar (vgl. v.21, Matt. 16:17): “Op so iemand sal Ek ag slaan: op ’n magtelose met ’n verslae gees, wat sidder vir my woord.” So iemand verstaan meer as geleerde mense (v.21, Ps. 119:99). William Tyndale het dit geweet. Met verwysing na sy plan om die Bybel in Engels te vertaal, het hy vir ’n geleerde man gesê: ‘...if God spare my life, ere many years I will cause a boy that driveth a plough shall know more of the Scripture than thou dost’.3

Hoekom kies God kinders bo geleerde mense—is dit omdat daar iets beter in hulle is (v.21)? Nee. God se verkiesing is nie gebaseer op iets in ons nie, maar op God se goeie wil; op sy genade, guns en plesier (v.21, Gk. eudokia). Paulus sê: “Net so is daar ook in die huidige tyd ’n oorblyfsel, deur genade uitgekies. Maar as dit uit genade is, is dit nie meer op grond van dade nie; want anders sou die genade nie meer genade wees nie.” (Rom. 11:5-6, eie beklemtoning).

Hoekom kies God mense op grond van sy eie wil? Hy doen dit, sodat niemand sal roem nie, maar dat ons God alleen sal prys soos Jesus hier doen (v.21). Paulus sê: “Broers, slaan ag op julle roeping: Menslik gesproke, is daar onder julle nie baie wyses, nie baie invloedrykes, of mense van adellike afkoms nie. Maar die dwaashede van die wêreld het God uitgekies om die wyses te beskaam, en die swakhede van die wêreld het God uitgekies om die sterkes te beskaam, die onbelangrike en veragtelike dinge van die wêreld het God uitgekies—dit wat niks is—om wat wél iets was, tot niet te maak, sodat geen mens iets het waarop hy hom voor God kan beroem nie. Deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons die wysheid geword het wat van God kom, regverdiging sowel as heiliging en bevryding. Daarom, soos daar geskryf staan: ‘Wie hom op iets wil beroem, moet hom beroem op die Here.’” (1Kor. 1:26-31).

Die dissipels was baie geseënd dat Jesus hierdie dinge aan hulle bekend gemaak het (v.23, 8:9-10, Matt. 13:16-17). Jesus onderskei nie net tussen gelowiges en ongelowiges nie (v.21-22), maar tussen gelowiges en gelowiges (v.23-24). Ek bedoel nie soos Augustinus dat net party Christene uitverkies is nie.4 My punt is eerder dat God vrywillig kies aan wie en wanneer Hy sekere waarhede wil openbaar (v.23-24). Omdat dit so is, moet jy nie met ander Christene baklei as hulle waarhede soos uitverkiesing of die doop nie kan insien nie. Los hulle. Bid vir hulle. Praat met hulle as die Here vir jou ’n deur oopmaak en die mense vrae het. Vertrou die Here om hulle op die regte tyd te leer (24:45, Joh. 16:12-13, Fil. 3:15). Die Here het onlangs ’n Bybelse waarheid aan my bekendgemaak, nadat ek dit vir twintig jaar nie kon insien nie (selfs toe ander mense probeer het om my daarvan te oortuig).

As jy doen wat jy in die Bybel leer, sal die Here meer dinge aan jou openbaar: “As iemand bereid is om sy wil te doen, sal hy, wat hierdie leer betref, weet of dit van God is en of Ek uit my eie praat.” (Joh. 7:17). Hoekom moet die Here nuwe waarhede aan jou bekendmaak as jy die dele wat jy ken nie gehoorsaam nie?

Bid vir meer. Vra die Here om jou sy Woord te leer: “Maak oop my oë, sodat ek die wonders uit u wet kan raaksien... Here, onderrig my in die pad van u voorskrifte, sodat ek enduit daarby kan hou. Gee my insig, sodat ek by u wet kan hou, dit met my hele hart kan nakom.” (Ps. 119:18, 33-34). Dank die Here vir wat Hy jou leer en moenie in jouself roem nie (v.21-24): “Want wie ag jou belangrik? En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie? As jy dit dan ontvang het, waarom beroem jy jou daarop asof jy dit nie ontvang het nie?” (1Kor. 4:7). Moenie trots wees, omdat jy in uitverkiesing glo, terwyl ander dit nie verstaan nie.

 

2. Hulle ken die Vader (v.22)

Simon het ’n goeie begrip van uitverkiesing, maar ken God nie as sy Vader nie. Stefan verstaan uitverkiesing verkeerd, maar Hy ken God as sy Vader. Ek wil liewer in Stefan se skoene wees as in Simon s’n. Ken jy God as die Vader wat jou liefhet? Of is Hy ’n geheimsinnige figuur wat jy nie ken nie?

Hoe kan jy Hom ken? Nie deur ’n goeie begrip van uitverkiesing nie, maar deur ’n persoonlike kennis van Jesus Christus (Joh. 1:18, 14:6). Die Vader het aan Jesus alle mag gegee om Hom bekend te maak en die ewige lewe aan sy uitverkorenes te gee: “Alles is deur my Vader aan My toevertrou. En niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader, en niemand ken die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom bekend wil maak.” (v.22). “net soos U aan Hom gesag oor die hele mensdom gegee het, sodat Hy aan elkeen wat U aan Hom gegee het, die ewige lewe kan gee... Ek het u Naam bekend gemaak aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord gehoorsaam.” (Joh. 17:2, 6).

Jesus se almag om te red wie Hy wil, dien as ’n waarskuwing vir dié wat die ewige lewe uitstel en dink hulle sal later in Jesus glo. Spr. 1:28 sê: “Dan sal hulle na my roep, maar ek sal nie antwoord nie; hulle sal my soek, maar my nie vind nie.” Jesus staan onder geen verpligting om jou te red nie.

Jesus se mag om te red wie Hy wil, is ’n troos vir die wat dink dat uitverkiesing sy of haar kans op redding verhinder. Die Vader het ’n ruim hart: “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.” (Joh. 3:16, eie beklemtoning). “Dit is goed en reg in die oë van God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense verlos word en tot kennis van die waarheid kom.” (1Tim. 2:3-4, eie beklemtoning). In Jesus het ons ’n identiese afdruksel van die Vader se hart (Heb. 1:3). Jesus se lering oor uitverkiesing verhinder Hom nie om alle mense na Hom toe uit te nooi nie. In Matt. 11:25-30 sê Hy:

“...‘Ek loof U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg en dit aan kindertjies bekend gemaak het. Ja, Vader, want so het U dit goedgevind. Alles is deur my Vader aan My toevertrou. En niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader, en niemand ken die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom bekend wil maak. Kom na My toe, almal wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle, en leer van My, omdat Ek sagmoedig en nederig van hart is, en julle sal rus vind vir julle gemoed. Want my juk is draaglik en my las is lig.’”

Hoe pas Jesus se vrye uitnodiging by sy lering oor uitverkiesing? Ek weet nie en dit pla my nie. Die Bybel leer albei en daarom glo ek albei. Wie kan die Here verstaan? Net die Vader en die Seun ken mekaar ten volle deur die Heilige Gees (v.21-22, 1Kor. 2:10-11). Geen mens of engel kan die ewige God ten volle verstaan nie (Rom. 11:34). Ons kan altyd meer van Hom leer (Jer. 33:3, Fil. 3:8). Selfs in die hemel sal ons voortdurend meer van die Here leer (Ps. 145:3, 147:5, Ef. 2:7). Dit geld ook vir engele wat nog baie het om te leer (Ef. 3:10, 1Pet. 1:12). Prakties beteken dit die hemel sal nie vervelig raak nie. God se grootheid is soos ’n ui waarvan die lae nie ophou nie; ’n diamant met ’n oneindige hoeveelheid fasette. As die Vader en die Seun mekaar nie kan uitput nie, sal hulle jou nie verveel nie.

Ag jouself bevoorreg dat God jou gekies het om voor Hom te kom: “Gelukkig is die mens vir wie U uitkies en laat nader kom” (Ps. 65:5). Jy is waarlik geseënd: “Dan sal die Koning vir dié aan sy regterhand sê, ‘Julle, geseëndes van my Vader, kom beërf die koninkryk, wat vir julle gereedgemaak is van die grondlegging van die wêreld af.” (Matt. 25:34).

Moet jou nie vir uitverkiesing skaam nie. Die Bybel bloos nie daarvoor nie, maar verwys onbeskaamd na gelowiges as God se uitverkorenes: “Rufus, uitverkorene in die Here” (Rom. 16:13). “Julle mede-uitverkorene in Babilon...groet julle.” (1Pet. 5:13). “...aan die uitverkore vrou en haar kinders... Die kinders van jou uitverkore suster groet jou.” (2Joh. 1, 13). In ons gemeente kan ons van uitverkore Josua, Marene, Neels, Marietjie, Susan, Hannie, Alwyn, Riaan, Tammy, Paul, Lazetha en meer praat.

Die titel van die populêre Christelike TV reeks het dit reg: The Chosen. As die program se temalied speel, is daar grys visse wat in die rondte swem. Elke nou en dan word een van die visse turkoois en swem in die teenoorgestelde rigting. Dit is suggestief van mense wat gekies is, omdraai en vir Jesus volg.

Is jy ’n uitverkorene wat nog nie vir Jesus volg nie? Roep Hy jou vandag by die naam om sy dissipel te wees? Wat hou jou terug? Slaan ag op die Meester se roepstem en volg Hom.


1  Aanhalings uit die 2020 Vertaling.

2  Beklemtoning my eie in die tekste wat ek hier aanhaal.

3  Brian Edwards, God’s Outlaw (Welwyn, UK: Evangelical Press, 1976, 1982), 61

4  N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1 (London: Grace Publications Trust, 1997), 250

Kategorieë