Lukas 14:12-24
Ons goeie vriende in Parys is ’n toonbeeld van gasvryheid. Ons kuier een of twee keer per jaar by hulle. Ek en my vriend bid saam. Ons eet lekker. Ons voer geestelike gesprekke. Toe my vriend se ma siek was, het hulle haar in hulle huis verwelkom. Hulle het dinge so ingerig dat sy by hulle kon bly. Hulle huis was oop vir ’n lidmaat wie se vrou hom gelos het en uitgeskop het. Jongmense is gedurig in hulle huis. Een van hulle het so tot bekering gekom. ’n Tweede een is in hulle visier. Ons vriende se gasvryheid is ’n skadubeeld van God se gasvryheid en sy feesmaal vir sondaars.
1. Christelike gasvryheid (v.12-14)
Gasvryheid is ’n kenmerk van toegewyde gelowiges deur die geskiedenis. Toe Paulus ’n huis in Rome gehuur het, het hy almal verwelkom en die evangelie met hulle gedeel (Hand. 28:30). Martin Luther en Jonathan Edwards het alewig studente, leraars en selfs vreemdelinge in hulle huise verwelkom. Uit die vier Evangelies weet ons Jesus het in huise lering gegee, wonders gedoen, die nagmaal ingestel en by mense gekuier. Wie soos Jesus wil lewe (1Joh. 2:6), sal Hom hierin volg (1Tim. 3:2).
Hoe moet ons gasvryheid betoon? ’n Leier van die Fariseërs het sy familie, vriende en ryk bure genooi (v.12, 1). Jesus hom afgeraai om dit te doen (v.12). Jesus het nie bedoel jy mag nooit vriende, familie of ryk mense uitnooi nie. In v.8 keur Jesus goed dat jy vername mense uitnooi (v.8). Volgens Deut. 14:26 moes die Israeliete saam met hulle familie fees vier en die Here geniet. Jesus het saam met ryk mense geëet (5:29).
Wat beteken v.12 dan? Die Grieks staan in die voortdurende tyd en beteken: ‘Moenie altyd net jou vriende, familie, en ryk bure nooi nie.’ Moenie net mense nooi wat soos jy is nie. Moet hulle nie met die intensie nooi dat hulle jou moet terug nooi nie. In die Nuwe Testament verwys gasvryheid na ’n liefde vir vreemdelinge (Heb. 13:2, Gk. philoxenia). Dit beteken nie jy nooi enige vreemdeling van die straat af nie. Dit gaan oor Christene wat jy nog nooit ontmoet het nie.
Maar wat as die persoon homself ’n Christen noem, maar nie een is nie? Wat as hy jou goedhartigheid wil misbruik? Om dit te verhoed, sê die Bybel jy moet niemand wat die lering van Christus ontken in jou huis verwelkom nie (2Joh. 10-11). Die eerste Christene het briewe geskryf en mense aanbeveel (Rom. 16:1-2). So sou jy weet of die persoon werklik ’n Christen is, of nie. Bewys gasvryheid aan gelowiges al ken jy hulle nie persoonlik nie (Rom. 12:13, 1Pet. 4:9).
Maar wat as die persoon ’n ander velkleur of fisieke gebrek het? Wat as die persoon arm is? Verwelkom hulle: “...wanneer jy ’n feesmaal aanbied, nooi die armes, kreupeles, verlamdes, en blindes.” (v.13).1 So het hulle die Ou Testament feeste gevier: nie alleen met familie en vriende nie, maar met vreemdelinge, weduwees, en wese (Deut. 14:27-29, 16:14). Koning Dawid het Jonatan se seun met verlamde voete aan sy tafel laat eet (2Sam. 19:13). Onthou dit by gemeente etes, verjaarsdae en ander sosiale geleenthede. Onthou dat jy gasvryheid aan Jesus bewys wanneer jy ’n arm gelowige in jou huis verwelkom (Matt. 25:40). Sonder dat jy dit besef verwelkom jy miskien ’n engel wat hom as ’n mens voordoen (Heb. 13:2, Genesis 18-19, Rigters 6, 13).
Verwelkom arm gelowiges in jou huis. Doen dit ook vir ongelowiges: “Laat ons dan, terwyl ons die geleentheid het, aan almal goed doen, maar veral aan die huisgesin van die geloof.” (Gal. 6:10). God se huis is oop vir die armes, kreupeles, blindes en lammes (v.21). Toe ons geestelike arm was, het die Here ons verwelkom (1Kor. 1:26-29). Volg sy voorbeeld (v.13) en beskou gasvryheid as ’n geleentheid vir die evangelie. Die Here sal jou seën en beloon al kan die armes jou nie vergeld nie (v.14). Hy sal jou finansieel voorspoedig maak, sodat jy nog armes kan uitnooi (Spr. 19:17, 2Kor. 9:9, 11, 1Tim. 6:17-19). Wie dit doen, het ware blydskap. Jy nooi mense nie met die motief dat hulle jou terug nooi nie. Jy deel eenvoudig, omdat jy God en jou naaste liefhet (Luk. 10:27). Jy verstaan uit persoonlike ervaring dat dit meer geseënd is om te gee as om te ontvang (Hand. 20:35).
Wanneer Jesus weer kom en die dooies opwek (Joh. 5:28-29), sal jy onder die regverdiges wees (v.14). Ek bedoel nie soos die Katolieke en Moslems dat liefde vir die armes jou red nie. Maar dit is ’n bewys van redding (v.14, Matt. 25:35-45, Ef. 2:8-10, Jak. 2:14-16). Hoe staan sake met jou? Is jou hart en huis oop vir mense uit enige agtergrond (v.13-14)? Doen jy dit met die regte motief?
2. Goddelike gasvryheid (v.15-24)
“Toe een van diegene wat saam aangeleun het om te eet, dit hoor, sê hy vir Hom: ‘Gelukkig is die een wat aan die maaltyd in die koninkryk van God sal deelneem.’ ” (v.15). Dit is asof die man vir Jesus gesê het: ‘Ware seën is nie vir hulle wat die armes, blindes, lammes en kreupeles uitnooi nie (v.13-14). Dit is vir God se uitverkore volk Israel. Ons sal in die koninkryk wees2 en die verborge manna eet.3 Ons sal Jes. 25:6 se ryk kos en goeie wyn drink eet en drink.’ Verskeie Rabbi’s praat van die hemelse brood as ’n groot fees met vleis, vis en hoender. By die fees is daar ’n groot os of Behemot uit die boek Job. Die Here sal Leviatan gaarmaak en mooi versier. Daar is ’n gaar hoender genaamd Ziz, so groot soos ’n berg. Daar is ou wyn gemaak van druiwe wat by die skepping geplant is, en vrugte uit die tuin van Eden.4
Jesus wys dat die Jode dit verkeerd het. Israel is nie al wie na die hemelse fees toe genooi is nie. God het hulle inderdaad eerste uitgenooi (v.16). As voorsmaak van die hemelse fees het Israel die sewe Ou Testament feeste gehad, die offers, manna uit die hemel en die land van melk en heuning. God se profete het as knegte opgetree om Israel na die fees toe te nooi (Matt. 22:3-4). Toe hulle die profete verwerp, het Hy sy Seun, die belangrikste Kneg, met ’n uitnodiging gestuur (v.17, Jes. 42:1, 52:13, Fil. 2:7). Het hulle die uitnodiging aanvaar? “Maar een ná die ander het almal verskonings begin aanbied. Die eerste een het vir hom gesê, ‘Ek het ’n stuk grond gekoop, en dit is noodsaaklik dat ek daarna gaan kyk. Ek vra u, verskoon my tog.’ ’n Ander een het gesê, ‘Ek het vyf paar osse gekoop, en ek gaan hulle uittoets. Ek vra u, verskoon my tog.’ Nog ’n ander een het gesê, ‘Ek is pas getroud, en daarom kan ek nie kom nie.’ ” (v.18-20). Israel het geweet God sal laer klas mense ook nooi (v.13, v.21). Daarom het hulle weggebly, asook omdat hulle eiendom, boerdery, die huwelik en soortgelyke dinge bo God en sy koninkryk gestel het (v.18-20).
Leer hieruit dat dit nie net skandelike sonde is wat mense uit die hemel hou nie. Soms hou God se goeie gawes mense uit die hemel! Die feit dat hierdie dinge mense van die aanbidding van Christus weerhou, wys hoe hulle oor Hom en sy koninkryk voel. ‘Hoekom is so-en-so nie vandag by die kerk nie?’ Niemand sê: ‘Hy is by die kroeg of strip club’ nie. Eerder: ‘Haar kinders moet leer... Hy speel vandag krieket... Sy kook, want hulle kry gaste... Hulle familie is hier... Hulle het gisteraand tot laat gekuier... Hulle is moeg en ontspan ’n bietjie... Hy het baie werk om in te haal... Sy maak vandag huis skoon... Sy het nie gister by die winkel uitgekom nie, en moet vandag inkopies doen.’
Stel jy God se gawes bo Hom; het dit vir jou ’n afgod geword? Nie alleen hou dit jou uit die kerk nie, maar dit sal jou uit die hemel hou (v.18-20). Hoekom wil jy die Here in die hemel aanbid as jy dit nie op die aarde doen nie? Jy moet jou prioriteite her-evalueer en vra wat regtig vir jou belangrik is. Moenie sê dit is Christus as jou toewyding iets anders wys nie. Wees eerlik met jouself en die Here.
Spreek die Here jou gewete aan? Wat moet jy omtrent die saak doen? Moenie jou skuldgevoelens ignoreer tot dit weggaan nie. Moenie jou sonde probeer uitskakel deur vir ’n volle dag Bybel te lees, of vir die volgende maand by elke gemeente byeenkoms te wees nie. Bely eenvoudig jou sonde en vra die Here om jou gewete te reinig (1Joh. 1:9, Heb. 9:14, 10:22). Sê ja vir sy uitnodiging na die hemelse ete, en oefen solank deur Hom gereeld saam met ander gelowiges te aanbid (Heb. 10:24-25).
Die meeste Jode wou dit nie doen nie (v.18-20). Daarom het die Here dié genooi wat weet hulle is geestelik arm en het Jesus nodig (v.21, 4:18, Matt. 5:3). Besef jy dit? Weet jy jy benodig sy feesmaal om vir ewig te lewe? Eet sy liggaam en drink sy bloed deur geloof (Joh. 6:47-58). Herdenk dit deur die nagmaal (Matt. 26:26-29, Op. 3:20).
Die Jode het God se feesmaal geïgnoreer. Hierop het Hy die nasies volgens sy ewige plan uitgenooi (v.22-23, Gen. 12:3 Matt. 28:19, Hand. 1:8). Dit wys die Vader se ruim hart. Die Jode se reaksie het Hom nie gekeer nie, maar Hy het aangehou om mense te nooi om sy huis vol te kry (v.23, Joh. 3:16, Joh. 14:2, Op. 7:9). Daar is nog plek in sy huis (v.23). Nooi wie jy kan. Gee vir iemand ’n traktaatjie, deel die evangelie, bid vir ’n geleentheid om te praat, nooi ’n vriend na jou gemeente se Kerssangdiens toe, stuur die preekskakel vir iemand. Bid dat ek en ander leraars die Woord met oortuiging sal verkondig: “...dwing hulle om in te kom...” (v.23). Dit beteken nie die regering moet mense vervolg om by die kerk aan te sluit nie. So het Augustinus v.23 geïnterpreteer. Toe die Donatiste nie by die Katoliekekerk wou aansluit nie, het Augustinus gesê die staat moet hulle dwing en straf toepas as hulle nie wil saamwerk nie.5 Augustinus het baie goeie dinge gesê, maar hierin was hy verkeerd. Die Griekse woord anagkazō beteken ook om dringend te pleit. Die voortdurende tydsvorm beteken jy moet aanhoudend by mense pleit. Gebruik elke argument moontlik om hulle van die van komende oordeel en die lieflikheid van Christus te oortuig (Hand. 14:1, 17:3, 18:28, 28:23). Kry God se hart. Hy is meer gewillig om sondaars te red as wat hulle is om gered te word (Eseg. 18:32, 1Tim. 2:4, 2Pet. 3:9). Doen wat jy kan om mense na die fees toe te nooi (v.23). Onthou egter, dit is Gees wat mense oortuig (Joh. 16:8).
As mense nie wil luister nie, sal hulle die koninkryk en die hemelse feesmaal mis (v.24). Moenie soos hulle wees en jou kans weggooi nie. Moontlik is dit die laaste uitnodiging (v.24). Ek wil jou oortuig soos ’n mens iemand probeer keer wat sy lewe wil neem. Moet tog nie die ewigheid vir aardse besigheid, plesier, geld, of so iets weggooi nie. Ek pleit by jou soos Adoniram Judson (1788-1850) sy broer gesmeek het om in Jesus te glo. Sy broer wou nie. Judson is Burma toe en het nooit weer sy broer gesien nie. Sewentien jaar later toe kom die nuus dat sy broer gesterf het. Hy het in Christus geglo voordat hy oorlede is.6
Dit spyt my dat party mense in ons gemeente na my 18 jaar van bediening nog dieselfde is. Hulle het nie verander nie. Ek hoop van harte ek sien hulle eendag in die hemel.
1 Aanhalings uit die 2020 Vertaling.
2 Mishnah Sanhedrin 10:1. Verkry by https://www.sefaria.org/Mishnah_Sanhedrin.10.1?lang=bi
3 G.K. Beale & D.A. Carson, Commentary on the New Testament use of the Old Testament (Grand Rapids, Michigan: Baker Academic, 2007), 446
4 J.C. Ryle, Luke: Vol. 2—Expository Thoughts on the Gospels (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2012, 1986 [1858]), 122-3 en https://www.biblestudytools.com/commentaries/gills-exposition-of-the-bible/luke-14-15.html
5 N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1 (London: Grace Publications Trust, 1997), 246-7
6 John Piper, 21 Servants of Sovereign Joy (Wheaton, Illinois: Crossway, 2018), 566