Jesaja 38
In sy boek oor genesing skryf Andrew Wommack dat siekte nooit God se wil vir ons is nie. Hy vertel van ’n ouerpaar wie se vierjarige ernstige breinskade gehad het. Die ouers het die Here vir ’n wonderwerk gesmeek, maar die kind het gesterf. Toe Wommack die ouers besoek, het hy gesê dat sonde die kind se siekte en dood veroorsaak het. Die ouers het bely dat hulle kleingelowig en bang was.1
Wat my betref was mnr. Wommack se raad onsensitief en wreed. Wat van ’n bietjie troos vir die bedroefde ouers? Is sy lering enigsins Bybels? Wat sê die Bybel regtig oor siekte?
1. Hiskia se siekte (v.1-8, 21-22)
Ek en my gesin geniet dit om Hallmark se moordraaisels (Eng. murder mysteries) te kyk. Ons gunsteling een is Aurora Teagarden. In een episode vind die moord in die begin plaas. Na die tema lied staan daar: ‘Two weeks earlier’.
Dit is hoe Jesaja 38 begin. Hierdie hoofstuk en die volgende een gebeur voor die Assiriese aanval van Jesaja 36-37. Jesaja vertel ons wat voor die aanval gebeur het: “In dié tyd het Hiskia dodelik siek geword...” (v.1, vgl. 2Kron. 32:24-26). Die storie begin waar Jesaja ’n boodskap van die Here vir Hiskia bring: “So sê die Here, ‘Gee die laaste opdragte oor jou huisgesin, want jy gaan sterf; jy sal nie leef nie.’” (v.1). Die Here het geweet dat Hiskia vyftien jaar later sou sterf (v.5, Job 14:5). Maar Hy wou hom toets. Wat was in Hiskia se hart? Siekte het die geneigdheid om te wys wie ons regtig is (Spr. 17:3, 24:10). Bowendien is dit ’n genade om te hoor dat jy binnekort gaan sterf. Jy kan oor die dood dink en dinge gereed kry: jou testament en begrafnisreëlings, geliefdes vaarwel heet, gebroke verhoudings herstel, jou sonde bely, met die Here regmaak, Hom vir jou lewe dank en die evangelie met ongelowiges deel (Ps. 90:12, Genesis 48-49).
Jesaja se boodskap het Hiskia gelei om te bid: “Hiskia het sy gesig na die muur gedraai en tot die Here gebid. Hy het gesê: ‘Ag, Here, dink tog daaraan dat ek in getrouheid en met ’n onverdeelde hart voor U geleef het, dat ek gedoen het wat goed is in u oë!’ Hiskia het toe bitterlik gehuil.” (v.2). Siekte dryf ons soms om sonder ophou te bid (1Tess. 5:17). Waarvoor moet jy bid? Wil jy hê die Here moet jou genees? Bid daarvoor. Wil jy hê die dokter moet met wysheid werk? Bid daarvoor. Wil jy hê die Here moet jou deur die beproewing lei? Bid daarvoor. Soek jy hulp om die beproewing geduldig te verduur? Bid daarvoor. Wil jy hê die Here moet jou veilig deur die vallei van die dood dra? Bid daarvoor. Waarvoor het jy geloof? Bid daarvoor (Matt. 9:28-29). Bid met smeking (v.3, Fil. 4:6). Die Heilige Gees sal vir jou intree as jy nie weet hoe om te bid nie (Rom. 8:26-27). Bêre God se Woord in jou geheue alvorens jy siek word (Ps. 119:11). Dit sal jou help wanneer jy te swak is om die Bybel op te tel.
***
Hiskia het die Here aan sy opregte lewe herinner (v.3, 2Kon. 18:3-6). Ek voel nie ek kan dit doen nie. My sonde is te groot. Daarom wil ek die Here aan Christus se meriete herinner en vra dat Hy vir my intree (Joh. 14:14-15, Heb. 4:14-16, 1Joh. 2:2, 5:14-15). Die Here sal jou hulpgeroep hoor net soos Hy Hiskia se trane gesien het (v.3-5, vgl. Gen. 21:16-17, Eks. 2:23-25, 3:7, Matt. 15:21-28, 20:29-34, Mark. 9:20-27). Hy het sy antwoord deur Jesaja gestuur: “Die woord van die Here het tot Jesaja gekom: ‘Gaan sê vir Hiskia, So sê die Here, die God van jou voorvader Dawid: Ek het jou gebed gehoor; Ek het jou trane gesien. Kyk, Ek sal vyftien jaar by jou lewensdae voeg, en Ek sal jou en hierdie stad red uit die greep van die koning van Assirië. Ek sal hierdie stad afskerm...’” (v.4-6).
Die korrekte toepassing van hierdie verse is nie om die profeet te probeer speel, sodat jy genesing vir almal belowe nie. Dit doen meer skade as goed. ’n Sogenaamde profeet in Johannesburg het ’n predikant van genesing verseker. Die predikant het gesterf. ’n Jong seun se familie het lewe oor hom gespreek. Kort daarna is hy oorlede. Bring liewer trooswoorde uit God se hart en bemoedig die siek gelowige met God se beloftes:
“Soos ’n herder laat Hy sy kudde wei; in sy arms maak Hy lammers bymekaar; teen sy bors dra Hy hulle; die lammerooie lei Hy.” (40:11).
“Weet jy dit nie? Het jy dit nie gehoor nie? ’n Ewige God is die Here, Skepper van die eindes van die aarde. Hy word nie moeg nie, Hy raak nie afgemat nie—ondeurgrondelik is sy insig. Dit is Hy wat vermoeides krag gee, wat lewenskrag vermeerder vir dié wat geen vermoëns het nie. Jong seuns word moeg en raak afgemat; jong manne struikel en val. Maar wie op die Here wag, herwin hulle krag; hulle kry nuwe vere soos arende. Hulle hardloop, maar raak nie afgemat nie, hulle loop, maar word nie moeg nie.” (40:28-31).
“Moenie bang wees nie, want Ek is by jou; moenie vrees nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou; ook help Ek en ondersteun Ek jou met my seëvierende regterhand.” (41:10).
“’n Geknakte riet sal Hy nie afbreek nie, ’n dowwe lamppit sal Hy nie uitdoof nie; in getrouheid sal Hy reg laat deurbreek.” (42:3).
“’Maar nou,’ so sê die Here, jou Skepper, Jakob, die Een wat jou gevorm het, Israel, ‘moenie bang wees nie, want Ek het jou losgekoop, Ek het jou op jou naam geroep—aan My behoort jy. As jy deur water moet gaan—Ek is by jou, of deur riviere—hulle sal jou nie oorspoel nie. As jy deur vuur moet gaan—jy sal nie geskroei word nie, en die vlam sal jou nie brand nie.” (43:1-2).
“Luister na My, huis van Jakob, die hele oorblyfsel van die huis van Israel, julle wat gedra is vanaf die baarmoeder, wat opgetel is van die moederskoot af. Tot in julle ouderdom is Ek daar; tot in julle gryse ouderdom is Ek die Een wat julle dra. Dit is Ek wat dit gedoen het: dit is Ek wat optel, dit is Ek wat dra en verlos.” (Jes. 46:3-4).
“Kan ’n vrou haar suigeling vergeet, haar nie ontferm oor die seun van haar moederskoot nie? Selfs al sou hulle vergeet, Ek, ja, Ek sal jou nie vergeet nie. Kyk, op twee handpalms het Ek jou ingegrif; jou stadsmure is steeds voor My.” (49:15-16).
“‘Ja, die berge mag wyk en die heuwels wankel, maar my troue liefde sal nie van jou wyk nie, en my vredesverbond sal nie wankel nie,’ het jou ontfermer, die Here, gesê. (54:10).
“Selfs as ek in die donkerste kloof ingaan, is ek nie bang vir gevaar nie, want U is by my. Dit is u staf en u stok wat my gerusstel.” (Ps. 23:4).
“Maar in dit alles is ons selfs meer as oorwinnaars deur Hom wat sy liefde aan ons bewys het. Ek is immers daarvan oortuig dat nóg dood, nóg lewe, nóg engele, nóg magte, nóg teenswoordige, nóg toekomstige gebeure, nóg kragte, nóg hoogte, nóg diepte, nóg enigiets anders in die skepping, ons sal kan skei van die liefde van God in Christus Jesus, ons Here.” (Rom. 8:37-39).
“Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê, ‘Ek sal jou beslis nie verlaat nie, en ook nie in die steek laat nie’” (Heb. 13:5).
Die God van Dawid het Hiskia se lewe met vyftien jaar verleng (v.5). Geen dokter, dieet of genoeg oefening kan jou lewe verleng, tensy die Here dit besluit nie (v.5). Lewe en dood is in sy hande (1Sam. 2:6, Op. 1:18). Genesing is nie altyd die beste opsie nie. Hiskia se seun Manasse is gebore in die vyftien jaar wat hy by gekry het. Manasse was die slegste koning wat Israel ooit gehad het (2Kron. 33:1-9). Gewoonlik is dit beter om te sterf, behalwe as die Here nog vir jou werk het (Fil. 1:22-25).
Toe die Here vir Hiskia genesing belowe, het Hy hom vir ’n teken laat vra. Hiskia het dit nie uit ongeloof gedoen nie, maar juis omdat sy pa vroeër gesondig het deur nie ’n teken te vra nie (v.22, 7, vgl. 7:10-13). Hiskia wou nie kleingelowig wees soos sy pa nie. In antwoord op Hiskia se versoek, het die Here gesê: “‘Kyk, Ek sal die skaduwee van die sonwyser van Agas wat met die son afgeskuif het, tien eenhede laat terugskuif.’ Toe het die son die tien eenhede wat dit gesak het op die sonwyser, teruggeskuif.” (v.8). As die Here die son kan terugdraai, kan Hy sekerlik vir Hiskia genees! Dit het Hy deur medisyne gedoen (v.21). Vye het verskeie medisinale eienskappe.2 Dit sou die infeksie in Hiskia se sweer genees.
Duidelik is die Here nie teen medisyne soos sommige gelowiges dink nie (v.21, Eseg. 47:12, Op. 22:2, Kol. 4:14). Tog moet ons nie daarby sweer nie, maar onthou dat God mense genees, al is dit deur medisyne (v.21). Moenie soos koning Asa jou hoop op ’n spesialis stel nie: “In die nege-en-dertigste jaar van sy regering het Asa ’n voetkwaal ontwikkel. Sy siekte het later ernstig geword. Selfs in sy siekte het hy nie die Here geraadpleeg nie, maar by genesers raad gesoek.” (2Kron. 16:12). As die Here wil, kan Hy jou sonder ’n dokter genees (Mark. 5:26, Luk. 8:43-44). Toetse het bewys dat my ma galstene het. Ons gemeente in Louis Trichardt het vir haar gebid. Toe sy voor die operasie verdere toetse ondergaan, toe is daar nie ’n teken van galstene nie.
Soms bly mense siek as gevolg van sonde. James lewe losbandig en kry ’n seksueel-oordraagbare siekte. Hennie drink te veel en ontwikkel probleme met sy lewer. Marie is angstig en kry pyne op haar bors. Moira rook al vir 47 jaar en kry emfeseem. Die Korintiërs misbruik die nagmaal en haal die Here se dissipline oor hulleself (1Kor. 11:30). In sulke gevalle help dit nie jy besoek ’n dokter nie. Jy moet jou bekeer. Bid Ps. 41:5: “Here, wees my genadig, genees my tog, want ek het teen U gesondig.” Vra die ouderlinge om vir jou te bid, terwyl jy jou sonde bely (Jak. 5:14-16). Raak ontslae van jaloesie, bitterheid, slegte gedagtes en ander sondes wat siekte veroorsaak:
“Moenie wys wees in jou eie oë nie. Jy moet ontsag hê vir die Here, bly weg van die kwaad. Genesing sal dit bring vir jou liggaam en verkwikking vir jou gebeente.” (Spr. 3:7-8).
“My seun, slaan ag op my uitsprake; spits jou ore vir my woorde. Laat hulle nie aan jou oë ontglip nie; bewaar hulle diep in jou hart. Want dit is die lewe vir hulle wat dit vind; vir die hele liggaam bring dit genesing.” (Spr. 4:20-22).
“’n Knap vrou is ’n kroon vir haar man, maar soos verrotting in sy gebeente is ’n vrou wat skande maak.” (Spr. 12:4).
“’n Kalm hart gee lewe aan die liggaam, maar naywer is verrotting in die gebeente.” (Spr. 14:30).
“Helder oë verheug die hart, ’n goeie berig verfris die liggaam.” (Spr. 15:30).
“Vriendelike woorde is ’n heuningkoek wat oorloop—soet vir die keel en helend vir die gebeente.” (Spr. 16:24).
“’n Vrolike hart is goed vir herstel, maar ’n neerslagtige gees sal die gebeente uitdroog.” (Spr. 17:22).
“Aangesien ons hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons reinig van alle besoedeling van liggaam en gees, terwyl ons met diep ontsag vir God ons heiligheid verwesenlik.” (2Kor. 7:1).
“Verder, broers, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat lof verdien, ja, watter deug of watter prysenswaardige saak daar ook mag wees: rig julle gedagtes daarop.” (Fil. 4:8).
’n Dokter in Australië het vir sy ma gesê: ‘Baie van my pasiënte se siektes is psigosomaties: dit word deur emosionele probleme en verkeerde gedagtes veroorsaak.’ Baie siektes kan uitgeskakel word as jy die Here deur jou emosies, gedagtes en dade gehoorsaam. Oor die algemeen sal jy ook gesond bly as jy goed eet, hard werk, ’n bietjie oefen, genoeg slaap en vakansie hou.
2. Hiskia se lofgesang (v.9-20)
Soos Simson heuning uit ’n dooie leeu gevind het, kan die Here goeie dinge uit slegte situasies bring: “Julle het kwaad teen my beplan, maar God het dit vir iets goeds in gedagte gehad...” (Gen. 50:20). Hiskia se siekte het daartoe gelei dat ons Jesaja 38 in die Bybel het. Net so kan die Here goeie dinge uit jou siekte bring. Paulus se siekte het daartoe gelei dat die Galasiërs tot bekering kom: “Julle weet dat ek die eerste keer weens my siekte die evangelie aan julle verkondig het” (Gal. 4:13). Toe John MacArthur op ’n keer siek was, het hy sy dokter besoek. Toe die dokter uitvind dat hy ’n predikant is, toe sê hy: ‘As jy weer op die been is, wil ek julle gemeente besoek.’ Die dokter het sy belofte nagekom. MacArthur het uit Kol. 4:14 gepreek: “Lukas, die geliefde dokter...groet julle.” MacArthur se dokter het weer gekom en ’n Christen geword. Die Here het MacArthur se siekte vir die goeie bedoel.
Hiskia het dit nie verstaan nie: “Ek het by myself gedink, in die middel van my lewensdae moet ek deur die poorte van die doderyk gaan. Ek is opgeroep vir die res van my jare.” (v.10). Hiskia was maar 39 toe hy op sy sterfbed was (v.5, 2Kon. 18:2). Siekte en die dood vra nie hoe oud jy is nie. Kinders, jongmense, middeljariges en ou mense word siek en sterf. Dit gebeur as gevolg van die sondeval (Genesis 3). Hiskia het dit gevrees. Hy was bang vir die dood (v.10). Is dit omdat Ou Testamentiese gelowiges by hulle dood na ’n somber plek toe is? Nee. Genoeg tekste bewys dat Ou Testamentiese gelowiges hemel toe is (2Kon. 2:11, Pred. 12:7, Matt. 22:32, Luk. 9:30-31, 16:22, Heb. 11:5). Het Hiskia ’n algemene vrees vir die dood gehad? Miskien. Jesus het tog om ons hiervan te verlos (Heb. 2:14-15).
Wat my betref is daar ’n ander rede hoekom Hiskia die dood gevrees het. Ons sal net-nou hierna kyk. Vir eers moet jy besef dat ’n goeie teologie van die dood noodsaaklik is. Anders sal jy ’n bitter siekbed hê. Tog is ’n goeie teologie op sigself nie genoeg nie. Jy moet ook seker wees jy is gered. Wat help ’n goeie teologie van die dood as jy ongered is en in die hel eindig?
***
Hiskia wou die Messias op aarde sien en by sy geliefdes wees (v.11). Wens jy jy kan jou kinders sien grootword? Vrees jy dat die dood dit by jou sal wegvat (Job 14:21)? Moenie bang wees nie. As jy in Christus glo, is daar wonderlike dinge wat op jou wag (Ef. 2:7, Heb. 12:22-24). Verder sal jy ’n hemelse perspektief op God se werke in die wêreld hê. Jy sal saam met die engele bly wees wanneer iemand tot bekering kom (Luk. 15:7). Jy sal die Here vir sy oordele oor die goddelose prys (Op. 19:1-3).
Vrees jy, omdat siekte en die dood onverwags en skielik kom? Dit het vir Hiskia bang gemaak. Sy lewe was soos ’n swerwer of nomadiese herder se tent. Omdat weiding in die Midde-Ooste skaars is, moes die herder sy tent gereeld opslaan en vir nuwe weiding soek. Net so het die Here Hiskia se lewe gou opgeslaan en soos ’n weefstuk van die spoel losgeknip (v.12). In die oggend was Hiskia gesond en in die aand was hy op sy sterfbed (v.12). Wyle Martin Holdt was so. Hy is op ’n Dinsdag met kanker gediagnoseer en Saterdag was hy in die hemel.
***
Soos vir baie sieke mense was die nag vir Hiskia die ergste. Hy het homself getroos dat dinge teen die oggend beter sou wees, maar dit was nie: “Soos ’n leeu, breek Hy
al my beendere. Dag en nag laat U my dit ontgeld. Soos ’n swaeltjie, soos ’n kraanvoël, so kerm ek; ek kla soos ’n duif. My oë word klein soos ek kyk na die hemel. My Heer, dit druk swaar op my; staan U vir my in!” (v.13-14). Terminale- of langtermyn siekte kan die sterkste gelowige breek (Ps. 103:14, Spr. 18:14). In sulke gevalle help dit om te onthou dat die Here soewerein is oor siekte. Hy het jou hele lewe beplan (46:9-10, Ps. 139:16). Jou siekte kom van Hom af (Eks. 4:11, Deut. 32:39, Pred. 3:1, 3). Selfs waar die duiwel siekte veroorsaak, is God die eerste oorsaak (Job 2:6-7, 10). Hy doen dit nie van harte nie (Klaagl. 3:33), maar Hy wil jou meer soos Jesus maak (Rom. 8:28-29).
In baie gevalle genees die Here mense soos Hy met Hiskia gedoen het (v.15). Hiskia se bitter ervaring het hom versigtig laat lewe (v.15). Leer uit sy voorbeeld. Moenie dieselfde lewe as voor jy siek geword het nie. Verander. ‘Learn your lessons well,’ het ’n ouer sendeling vir my gesê. As jy nie leer wat die Here wil hê nie, sal Hy jou weer daardeur vat. Ongelukkig leer party mense nie. Op hulle siekbed belowe hulle om te verander as die Here hulle genees, maar sodra hulle beter is, lewe hulle volgens hulle ou patroon. Die moeilikste ervarings kan nie ’n dwaas se hart verander nie: “Selfs as jy ’n sot tussen garskorrels in ’n stampblok stamp met ’n stamper, sal sy sotheid nie van hom wyk nie.” (Spr. 27:22).
Genadiglik is daar mense wat verander. God stuur siekte en genesing om hulle na Hom toe te draai; weg van die paaie van die dood na die pad van die lewe (v.16, Spr. 5:23, 6:23, 15:10, 1Kor. 5:5). My vrou se pa en my oupa het so tot bekering gekom: die Here moes hulle op ’n siekbed gooi om hulle te red. Soos met Hiskia het hulle siekte hulle bevoordeel (v.17, vgl. Ps. 119:67, 71, Joh. 9:1-3, 11:4, Heb. 12:10-11, Jak. 1:2-4). ’n Siekbed bevoordeel ook die gelowige wat sterf. Hy kry die hoogste seën, naamlik om by Christus te wees en sy heerlikheid te aanskou (Joh. 17:24, Fil. 1:23).
Die belangrikste is nie die genesing van die liggaam nie, maar dat die Here jou sonde vergewe. Hiskia het dit besef (v.17b-c). Hy het sy siekte as Goddelike dissipline beskou. As die Here hom nie vergewe het nie, sou hy na die doderyk toe neerdaal en nie weer opkom nie (v.17-18). Dit is hoekom hy die dood gevrees het. Natuurlik is siekte nie altyd ’n straf vir sonde nie (Job se vriende het so gedink), maar soms is dit. Talle tekste wys dat die Here party mense met siekte straf (Gen. 12:17, Eks. 9:8-11, 12:29, 15:26, Num. 12:10-11, 16:45, 49, 25:3, 9, Deut. 7:15, 28:22, 59-61, 1Sam. 5:6, 9, 11-12, 2Sam. 12:15, 18, 24:15, 2Kron. 21:18-19, Ps. 32:3-5, 38:1-23, 41:4, 106:15, 107:17-20, Jes. 10:16, 37:36, Spr. 5:11, 1Kor. 11:30, Op. 2:22, 16:1-2). Hoe sal weet of jou siekte God se dissipline is of nie? Pla jou gewete jou? Het jy die Bybel oortree? Indien wel, moet jy jou sonde bely en in die eerste plek vir geestelike genesing bid (v.17, Luk. 5:31-32, 1Pet. 2:24, 1Joh. 1:9). Prys die Here en getuig van sy goedheid as Hy jou genees (v.19-20). Prys Hom in die hemel as jy van die siekte sterf (Op. 7:9-10). Prys Hom as jy siek bly, omdat sy troue liefde beter as die lewe is (Ps. 63:4). Gebruik jou siekte om die Here en ander te dien (Fil. 2:25-30).
Ek ken iemand wat so is. Hy het terminaal siek geword met kanker. God se Gees het hom hierdeur tot bekering gebring. Hy is te siek om te werk en gebruik nou sy tyd om die Bybel te lees, traktaatjies uit te gee en vir sy kinders se redding te bid. Die Here se genade is vir hom genoeg (2Kor. 12:9-10). Hy sien uit na ’n nuwe aarde waar niemand siek sal wees nie (33:24); na ’n nuwe liggaam wat altyd sonder siekte en sonde sal wees; ’n liggaam wat ewig jonk en onsterflik is (1Kor. 15:42-44, Op. 21:4).
1 https://www.thegospelcoalition.org/themelios/review/god-wants-you-well-what-the-bible-really-says-about-walking-in-divine-health/
2 https://www.healthline.com/nutrition/figs-benefits#bottom-line