Jakobus 1:27a
George Müller (1805-1898) was ’n Duitser wat weeshuise in Engeland begin het. John Piper skryf die volgende oor hom:
‘He built five large orphan houses and cared for 10,024 orphans in his life. When he started in 1834 there were accommodations for 3,600 orphans in all of England and twice that many children under eight were in prison. One of the great effects of George Müller’s ministry was to inspire others so that “fifty years after Mr. Müller began his work, at least one hundred thousand orphans were cared for in England alone.”
He prayed in millions of dollars (in today’s currency) for the orphans, and never asked anyone directly for money. He never took a salary in the last sixty-eight years of his ministry, but trusted God to put in people’s hearts to send him what he needed. He never took out a loan or went into debt. And neither he nor the orphans were ever hungry.’1
George Müller se bediening was ’n praktiese toepassing van Jak. 1:27a: “Dít is suiwer en onbesmette godsdiens voor ons God en Vader: om na weeskinders en weduwees om te sien in hulle ellende”.2 Hoe kan ons Jakobus se woorde toepas?
1. Hoekom moet ons hulle help?
Verskeie webtuistes wys die verskil tussen suiwer en vervalste heuning. In die vers onder bespreking let Jakobus op die verskil tussen suiwer en valse godsdiens. Volgens hom is ’n opregte liefde vir weeskinders een van die toetste wat suiwer en valse godsdiens van mekaar onderskei. Die ander toetse vind ons in v.26 en die res van v.27: “As iemand dink dat hy godsdienstig is en nie sy tong kan beheer nie, mislei hy homself; so ’n mens se godsdiens is vergeefs. Dít is suiwer en onbesmette godsdiens voor ons God en Vader: om...jouself onbesmet van die wêreld te hou.”
Hoekom sê Jakobus nie dat geloof in Jesus ware godsdiens is nie? Want belydenis sonder werke, dui op ’n vals geloof (2:14-26). Ware geloof (Ef. 2:8-9) lei altyd tot goeie werke (Ef. 2:10).
Maar wat van die Katolieke, Jehovas Getuies, Mormone, Hindoes, Boeddhiste, Jode, Moslems en ateïste wat verkeerd glo, maar goeie werke doen? Volgens Rom. 3:12 is daar niemand wat goed doen nie. Die ongelowige se goeie werke is ’n selfregverdige poging om die hemel te verdien. The Gift of the Givers help die armes, omdat dit een van die vyf pilare van Islam is. Sonder hierdie goeie werke kom hulle nie in die hemel nie. Net so word die Jehovas Getuies, Mormone en Jode se goeie werke deur selfliefde en vrees gedryf. As hulle nie genoeg daarvan doen nie, verbeur hulle die ewige lewe. Hindoes en Boeddhiste doen goeie werke, sodat hulle goeie karma of meriete verkry: belonings in hierdie lewe, ’n beter lewe hierna en uiteindelike vryheid van die reïnkarnasie siklus.
Bybelse Christene doen goeie werke Coram Deo: voor die aangesig van God (v.27a, Ps. 116:9, 119:168). ’n Ware Christen besef dat die Here nie alleen sy dade sien nie, maar sy motiewe (Matt. 6:1-4, Rom. 2:16, Heb. 4:12-13). Hy is nie soos die wêreld wat ’n parkie opruim en sy geld vir ’n kinderhuis gee, omdat hy sy naam in die koerant wil hê nie. Die ware Christen wil God behaag en sy naaste bevoordeel (v.27a, Matt. 7:12, Rom. 15:2, Kol. 1:10, Heb. 13:16). Hy wil nie net ’n hoorder van die Woord wees nie, maar ’n dader (v.27, 22-25). Hy wys God se hart vir die weeskind, naamlik dat Hy ’n Vader vir die vaderlose is en vir hom omgee (v.27a, Ps. 68:6, Hos. 14:4). Volgens die Bybel beskerm, vertroos en versorg God die weeskind (Deut. 10:18, Ps. 10:14, 17-18, 146:9, Spr. 23:10-11, Jer. 49:11).
As Hy dan ons Vader is, moet ons nie sy gesindheid aan weeskinders openbaar nie? Hoe moet ons dit doen?
2. Hoe moet ons hulle help?
In die week het ek die evangelie met ’n groep dertigjariges gedeel. Hulle was arrogant en het gesê dat God niks vir die wêreld doen nie. ‘Hy gee nie om nie!’ het hulle uitdagend gesê. Ek het hulle daarop gewys dat elke goeie gawe van God af kom: ‘Hy gee vir ons sonskyn, reën, kos, asem, sintuie en sy eie Seun om vir ons sondes te sterf.’ ‘That is not enough!’ het hulle gereageer.
Dit is so dat God verhewe is, maar dit is ook waar dat Hy Hom neerbuig om ons te help (Ps. 113:4-9, Fil. 2:6-8). Hy gee om vir die weeskinders en weduwees (v.27a). Die Griekse woord vir weeskind (orphanos) verwys nie bloot na iemand wat albei sy ouers verloor het nie. Dit kan ook na iemand verwys wat sy pa verloor het. In die Bybelse tyd het vroue nie in die sake sektor gewerk nie. Derhalwe kon hulle nie so maklik ’n inkomste verdien nie. As ’n pa gesterf het of sy gesin versaak het (Spr. 27:8), het dit sy vrou en kinders finansieel laat ondergaan. Waar ’n jong kind albei sy ouers verloor het, was die situasie ellendig (v.27a). Hy kon nie uitgaan om vir ’n salaris te werk nie. Hoe sou hy oorleef?
Hiervoor het die Here sekere wette in plek gestel. Deur Moses het Hy die volk beveel om nie weeskinders te mishandel of onreg aan te doen nie (Deut. 24:17, Ps. 82:3, Sag. 7:10). God het dit in ’n baie ernstige lig beskou as mense hierdie wette oortree het en het hulle as boos bestempel (Eseg. 22:7, Job 24:3, 9, Ps. 94:6). Die Here sou sulke mense se gebede ignoreer, streng teen hulle optree, hulle kinders vaderloos maak en die persoon vervloek (Eks. 22:22-24, Deut. 27:19, Ps. 109:9, 12, Jes. 1:15-17, 23, 10:1-2, Jer. 5:28-29, Klaagl. 5:3, Mal. 3:5). Indien mense vir die weeskinders gesorg het, sou die Here hulle help (Jer. 7:5-7, 22:3-4).
Hoe moes God se volk weeskinders help? Hulle moes tiendes gee en iets tot Israel se Feeste bydra, sodat die weeskinders kon eet (Deut. 14:22, 28-29, 16:10-11, 13-14, 26:12-13). Hulle moes nie hulle landerye, boorde en wingerde kaalstroop nie, maar iets vir die weeskinders los (Deut. 24:19-21).
Hierdie reëls het nie net vir die Israeliete gegeld nie. God het dit op elke mens se hart geskryf. Job was nie ’n Israeliet nie en tog het hy van jongs af vir die wese gesorg, sy kos met hulle gedeel en vir hulle opgestaan (Job 29:12, 31:17-18, 21, kontra 22:9).
Vandag is God se hart nog dieselfde. Daarom beveel Hy ons in v.27a om na weeskinders om te sien. Die vroeë kerk het dit goed gedoen en weggooi kinders in Christene se huise geplaas.3 In Justinus die Martelaar (100-165 n.C.) se tyd het hulle ’n offergawe vir die weeskinders opgeneem.4 Tertullianus (160-220 n.C.) het ’n vrywillige fonds gestig waaruit hulle weeskinders gehelp het.5 ’n Dokument uit die tweede eeu n.C. leer gelowiges om weeskinders te help eerder as om nog grond vir hulleself te koop; om te vas en die kos wat jy sou eet vir die weeskind te gee.6
’n Christelike dokument uit 380 n.C. sê dat as ’n Christen ’n weeskind word, die gelowige wat nie kinders het nie, so een moet aanneem. Verder sê dit: ‘...they which do so perform a great work, and become fathers to the orphans, and shall receive the reward of this charity from the Lord God.’ As ’n ryk gelowige hom vir ’n weeskind geskaam het, sou die Vader van weeskinders en die Beskermer van weduwees vir die weeskind gesorg het en vir die ryk persoon ’n erfgenaam gegee het wat sy spaargeld verkwis.7
Teen die begin van die vierde eeu n.C. het Christene weeshuise geopen.8 Nie elke gelowige sal dit doen nie, maar almal moet v.27a gehoorsaam en weeskinders in hulle ellende besoek (Ou Vertaling). Om weeskinders te besoek is nie dieselfde as om by hulle te kuier nie. Die Griekse woord (episkeptomai) beteken letterlik om inspeksie te hou; om uit te gaan en te kyk wat die nood is. Die woord word elders in die Nuwe Testament gebruik van God wat mense met verlossing en elke goeie gawe besoek (sien Luk. 1:68, 78, 7:16, Hand. 15:14, Heb. 2:6).
Hoe doen ’n mens dit vir die weeskind? Moenie die oudste goed gee wat jy nie meer gebruik nie. Gee goeie klere wat jou kinders nie meer dra nie. Koop toiletware vir ’n weeskind. Maak ’n finansiële bydra as die Here jou in staat stel en dit op jou hart lê. Ek weet van ’n kinderhuis in Kemptonpark wat ’n finansiële tekort het. Hulle kry eers in Maart hulle subsidie en benodig fondse vir Januarie en Februarie. Indien jy besluit om hiervoor by te dra, moet jy Paulus se beginsel in Gal. 6:10 volg: “Laat ons dan, terwyl ons die geleentheid het, aan almal goed doen, maar veral aan die huisgesin van die geloof.” Moenie jou normale bydrae van die gemeente weghou nie, maar merk dit as ’n bydra vir die kinderhuis. Die diakens sal sorg dat dit by hulle uitkom.
Dalk voel jy gelei om emosioneel te help en ’n weeskind gereeld te besoek. Miskien wil jy die kind vir ’n naweek of ’n vakansie uitvat. Dit is ’n goeie idee, maar daar is ’n proses om dit reg te kry. Kontak die kinderhuis as jy meer hieroor wil uitvind.
Wil jy ’n kind in pleegsorg neem? Dit beteken nie dat jy die kind aanneem nie, maar dat jy die kind tydelik inneem voordat iemand anders hom aanneem. Ek weet van twee mense wat dit doen. Dalk wil jy self die kind aanneem, permanent by ’n kinderhuis werk of jou eie huis begin.
Is daar êrens ’n weeskind wat hierdie preek lees of luister? Voel jy eensaam, hulpeloos en verwerp; onseker oor die toekoms? Jy is moeg om ’n weeskind te wees. Dit is vir jou erg dat almal jou so sien. Jy wens jy kan normaal wees. God is ’n Vader wat sondaars deur sy Seun aanneem (Ef. 1:5). Hy maak hulle deel van sy huisgesin, die kerk (Ps. 68:6-7, 1Tim. 3:15). Vra Hom om die nuwe geboorte in jou siel te skenk (1Pet. 1:3). Glo in sy Seun en dan sal Hy jou as sy eie aanneem (Joh. 1:12-13). Jesus het nie net aan die kruis gesterf om mense van hulle sonde en die hel te red nie, maar sodat God ons as sy kinders kan aanneem. Indien jy Jesus as jou persoonlike Verlosser en Here ontvang, sal Hy sy Heilige Gees stuur om in jou te woon, sodat jou identiteit van ‘weeskind’ na ‘kind van God’ verander (Joh. 14:16-18, Gal. 4:4-7, Rom. 8:15-16).
Roep die Here jou miskien om hierdie boodskap met weeskinders te deel; om Bybelstudies of Bybelse berading met hulle te doen? Ek het ’n vriend wat dit doen. Wie weet wat die impak van so ’n bediening in die toekoms sal wees? Ek dink aan ’n weeskind wat na sewe en ’n half jaar in Spurgeon se weeshuis die volgende brief vir hom geskryf het:
‘Dear Mr. Spurgeon,
...I must, first of all, tell you that I am one of your old orphan girls; but the Lord having found me, and made me His child, before I left the Orphanage, I knew it would cheer your heart if I wrote and told you. I thought, when my father died, I could never have another to equal him; but when I came to your Orphanage, I discovered my mistake, for I found a better and truer Father, who will never leave me nor forsake me, and to whom I can take my every trouble, however small it may be. It seems almost too good to be true that Jesus was really crucified to save me. When I think of all the years I grieved and pained Him, it only makes me want to try and please Him ever so much more for the future.
...Now I think I must close, thanking you for your kindness in giving us such a beautiful home to live in. It will always be something to look back on with pleasure for the rest of our lives, and for which we can never thank you enough. I myself hope shortly to come forward, and, by baptism, publicly let the world know that I have accepted Jesus as my Saviour; or, rather, I should say, that He has accepted me as His child.
I remain,
One of your old orphan girls,
_____.’9
Dit spyt my dat ek tot nou toe niks vir sulke kinders gedoen het nie, veral in die lig van die feit dat v.27 dit ware godsdiens noem! Mag die Here ons leer om ’n suiwer godsdiens voor Hom te hê en om weeskinders te help.
1 John Piper, 21 Servants of Sovereign Joy (Wheaton, Illinois: Crossway, 2018), 775
2 Aanhalings uit die 2020 Vertaling.
3 Alvin Schmidt, How Christianity Changed the World (Grand Rapids, Michigan: Zondervan, 2001, 2004), 53
4 Justin Martyr, First Apology, par. 67. Verkry by https://www.newadvent.org/fathers/0126.htm
5 Tertullian, Apology, par. 39. Verkry by https://www.newadvent.org/fathers/0301.htm
6 The Shepherd of Hermas, Book 3, Similitude 1 & 3. Verkry by https://www.newadvent.org/fathers/02013.htm
7 Apostolic Constitutions, Book 4, sect. 1, par. 1. Verkry by https://www.newadvent.org/fathers/07154.htm
8 Schmidt, ibid., 132
9 C.H. Spurgeon, Autobiography: Vol. 2 (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1973), 465