Johannes 19:25-27
Daar is meer weduwees as wewenaars. Volgens een webtuiste is 80% van mense wie se lewensmaats sterf vroue, terwyl slegs 20% mans is.1 Dit is omdat mans oor die algemeen meer roekeloos is as vroue. Hoeveel vroue jaag met hulle karre, skiet op mekaar, speel rugby, rook, drink, of raak betrokke in vuisgevegte? Sekerlik ’n klompie, maar definitief nie soveel soos mans nie.
Vroue leef ook langer, omdat mans se hormone (testosteroon) nie die immuunstelsel help soos vroue s’n (estrogeen) wat gifstowwe verwyder nie. Gevolglik is mans byvoorbeeld meer vatbaar vir hartsiektes as vroue.2 Vroue sal ook makliker ’n dokter besoek as mans. En dan het mans in die Bybelse tyd fisiese werk gedoen en in oorloë geveg. ’n Mens kan verstaan hoekom daar baie meer weduwees is as wewenaars.
Maar al beperk ek vandag se lering tot weduwees, geld baie van die beginsels vir wewenaars (Gen. 23, Eseg. 24:15-18) en vir enigiemand wat oor ’n geliefde rou. Wat verwag die Here van jou? En wat verwag Hy van die mense om jou: jou gesin, jou familie, en die gemeente?
1. Wat verwag die Here van jou (v.25)?
Partykeer spot mans met vroue deur hulle te herinner dat ’n vrou eerste van die boom se vrugte geëet het en sodoende probleme in die wêreld veroorsaak het. Hulle laat egter na om te sê dat Joh. 19 se vroue nie soos die dissipels gevlug het nie, maar dat hulle tot aan die einde by Jesus gebly het waar Hy aan ’n boom gehang het, en dat hierdie selfde vroue eerste by die leë graf was en die opgestane Jesus gesien het (v.25, Joh. 20).
Dit is hoe elke weduwee moet wees wat haarself ’n Christen noem: lojaal aan Jesus. Wy jouself geheel en al aan Hom (v.25, Luk. 2:36-38). Doen dit deurdat jy soos tannie Babs Grové ander gelowiges dien. Verwelkom mense in jou huis (1Kon. 17:8-16, Matt. 25:35-40). Skryf briewe vir sendelinge soos wat tannie Bessie van Rooyen doen. Bemoedig ander mense met die troos waarmee die Here jou bemoedig soos tannie Nellie Nel en tannie Anna Engelbrecht doen (2Kor. 1:3-6). Bid vir die Here se werk soos tannie Bessie van Rooyen en baie van die ou mense doen (1Tim. 5:5). Moenie nutteloos voel as jy oud en sieklik is nie. Die Here sien jou dienbaarheid en hoor jou gebede. Hy sal jou beloon.
Ongelukkig is nie alle weduwees so nie, omdat party van hulle ongered is. Hulle moet saam met die vroue in v.25 en die weduwees in ons gemeente by die kruis staan. Hulle moet berou hê dat hulle vir hulleself gelewe het en nie vir die Here wat hulle gemaak het nie. Hulle moet Jesus se liefde sien waar Hy vermink aan kruis hang, omdat Hy die straf vir óns sonde op Homself geneem het. Hulle moet hulle skuld erken en Jesus vertrou om hulle van die ewige oordeel te red. Eers as hulle dít gedoen het, kan hulle ’n troos en toevlug by Hom vind.
Doen jy dit? Gee jy jou pyn en probleme vir Hom? Of probeer jy self daardeur werk? Moenie. Jesus verstaan jou pyn, omdat Hy self in sy hele menswees gely het toe Hy aan die kruis gehang het. Hy het ook sy ma se pyn gesien, dat dit vir haar gevoel het of ’n swaard deur haar siel steek, omdat sy nie net haar man verloor het nie, maar haar Seun (v.25, Luk. 2:35).
Moet asseblief nie dink dat die Here onkundig is oor wat jy deurmaak nie. Hy verstaan jou pyn (Jes. 63:9, Heb. 4:15). Hy het medelye as jy self die begrafnis moet reël, die boedel moet afhandel, en die finansies moet behartig. Hy voel vir jou as jy alleen in die vreemde sit, omdat julle ’n jaar voor jou man se dood see toe getrek het, of geïmmigreer het (vgl. Rut 1:5). Hy is vol simpatie en empatie as jy na jou kinders, of na ’n kleiner huurhuis toe moet trek, omdat jou man nie finansieel voorsiening gemaak het nie; as jy in die aand in ’n leë bed moet klim; as jy op Kersdag, ’n verjaarsdag, of jou huweliksherdenking huil; as jy bewoë raak wanneer jy jou man se gunsteling lekkergoed op die winkelrak sien, of as jy sy handskrif sien; as jy alleen by jou seun se troue is; as jou man nooit sy kleinkind ontmoet het nie; as mense maak of die lewe net moet aangaan en hulle ná die begrafnis van jou vergeet; as jy ’n jong weduwee is wat skielik die pa én die ma se rol moet ineem; as jy elke dag jou kinders moet rondry; as jy eensaam voel.3
Moenie bitter wees teen die Here nie (Rut 1:13, 20-21), maar sê vir Hom hoe jy voel (Ps. 62:9). Sê: ‘Ek verstaan nie hoekom U my maat weggevat het nie. Ek verstaan nie hoekom U hom nie genees het toe ek gevra het nie. Ek berus my egter by U wil. Help my asseblief om deur die pyn te werk.’
Dit is nie nodig dat jy jou trane terughou nie. Jy hoef nie te dink dat jy na ’n jaar al oor jou man se dood moes gewees het nie. Almal treur verskillend. Een vrou wil haar man se baadjie hou, terwyl ’n ander een die fotos van die mure wil afhaal. Dit is eenvoudig nie waar dat almal deur Elisabeth Kübler-Ross se stappe van rou gaan nie: ontkenning, woede, onderhandeling met God, depressie, en aanvaarding.4 Solank jy die Bybel se beginsels onthou en nie hopeloos treur soos ’n ongelowige nie (1Tess. 4:13), kan jy deur die rouproses werk soos dit vir jou die beste is. Onthou egter die volgende punte wanneer jy dit doen:
[a] Moenie besluite soos trek, of hertrou oorhaastig neem nie. Die gevolge is te groot om gou te besluit. Bespreek liewer die saak met jou geestelike leiers, ’n betroubare vriendin, of ’n Bybelse berader.
[b] Moet jouself nie heeltemal onttrek nie. In die begin is dit verstaanbaar dat jy alleen wil wees. Maar uiteindelik moet jy weer tussen mense wees, by jou geestelike familie inskakel, en jou gawe gebruik om ander te dien (Luk. 8:1-3, 1Tim. 5:1-2).
[c] Trou weer as jy die begeerte het (Rut 1:9, 13, 3:1). Maak egter seker dat dit iemand is wat die evangelie verstaan, wat weergebore is, wat die vrug van bekering dra, en wat nie op onbybelse gronde geskei is nie (Matt. 19:9, 1Kor. 7:15, 39). Dit is beter om te trou as wat jy in seksuele sonde val (1Kor. 7:8-9, 1Tim. 5:11-15). Jy sal ’n fout maak as by ’n man intrek soos twee weduwees wat ek ken.
[d] Wees by ander vroue wat die Here getrou dien. In v.25 lees ons van Jesus se ma, Maria (Matt. 13:55). Ons lees van Maria se suster Salome, die vrou van Sebedeus en die ma van Johannes en Jakobus (Matt. 27:56, 4:21, 20:20, Mark). Ons lees van Maria, die vrou van Klopas en die ma van jong Jakobus en Josef (Matt. 27:56, Mark. 15:40, Luk. 24:10). Ons lees van Maria Magdalena uit wie Jesus sewe demone gedryf het (Luk. 8:2). Net soos wat hierdie vroue saam by Jesus was, moet jy Hom saam met ander vroue by ’n boekklub, biduur, of Bybelstudie ontmoet.
2. Wat verwag Hy van die mense om jou (v.26-27)?
’n Man en vrou in ons gemeente se ma het by hulle gebly. Hulle het mooi vir haar gesorg en ’n voltydse verpleegster gehad wat na haar omgesien het. Ek ken ’n man en sy susters wat betaal het dat hulle ma in ’n siekeboeg versorg kan word. Hulle het ook gereeld vir haar gaan kuier. ’n Gemeente in Alberton koop elke maand kruideniersware vir die arm weduwees onder hulle.
Hierdie mense is soos Jesus, omdat Hy juis dít vir sy weduwee-ma gedoen het. Terwyl Jesus besig was om te sterf, het Hy Maria se eensaamheid en pyn gesien (v.26). Hy het nie sy ongelowige broers (Joh. 7:5) gevra om haar te versorg as Hy weg is nie, maar die dissipel vir wie Hy lief was (v.26-27)—Johannes volgens Joh. 21:20, 24.
Doen jy dit vir die weduwees in jóú gesin en familie? Die Here verwag dit van jou. Dit is jóú plig voor dit die kérk se plig is (1Tim. 5:4, 16). Maak dus plek in jou begroting vir die weduwees in jou familie (Job 29:13, 31:16, 18). Maak plek in jou huis, sodat jou weduwee-ma, of -ouma daar kan bly. Huur ’n voltydse verpleegster as dit nodig is, of dra by dat sy in ’n siekeboeg versorg kan word. Kuier gereeld vir haar as sy in ’n tehuis bly. Vat jou kinders, of kleinkinders saam, omdat ouer weduwees dit geniet. Ons sien dit in Rut 4:13-15. Ek het ook gesien hoe my ouma dit geniet om die agterkleinkinders te sien. Ek onthou hoe een tannie in die oue tehuis bly was toe ek my kinders saamgevat het om haar te sien. ‘Ek het net vanoggend gewens dat iemand ’n baby sal bring om vir my te kuier,’ het sy gesê.
As jy die weduwees in jou famlie afskeep, is jy nie soos Jesus nie, al lees jy ook jou Bybel, bid jy baie, woon jy die eredienste by, en gee jy geld vir die kerk (v.26-27). Jy is skynheilig (Matt. 15:4-9) en leef nie soos ’n Christen nie. Jy is slegter as ’n ongelowige, omdat selfs húlle hulle weduwees versorg (1Tim. 5:8). Ek ken ’n ongelowige wat baie goed vir haar weduwee-ma gesorg het. As jy die weduwees in jou familie se hulpgeroep ignoreer, sal die Here jou gebede ignoreer (Jes. 1:17, 12-15, Sag. 7:9-11, 13). Wil jy die Here behaag? Glo in sy Seun en ondersteun die weduwees in jou familie (1Tim. 5:4, Heb. 11:6). Dít is ware godsdiens (Jak. 1:27).
Hierdie opdrag geld nie net vir familielede nie, maar vir die kerk. Net soos Johannes vir Maria moes sorg, moet ’n gemeente haar weduwees help (v.26-27, Hand. 6:1-6, 9:36, 39). Wie is hierdie weduwees wat ons moet help? Dit is dié wat nie gelowige kinders en kleinkinders het nie, wat oor 60 is en nie vir hulleself ’n inkomste kan genereer nie, wat ’n goeie reputasie het, omdat sy ’n lojale vrou en ma was wat haarself aan goeie werke gewy het (1Tim. 5:4-5, 9-10).
As ons buite hierdie reëls beweeg, sal ons op die einde weduwees help wat net in die gemeente belangstel as hulle geld soek. Of ons sal die jonger weduwees aanmoedig om nie te werk nie, omdat die kerk hulle ondersteun. Hulle sal van huis tot huis rondgaan en skinder, of by mans se huise rondlê (1Tim. 5:11-15). Laat ons dan die regte weduwees ondersteun. As ons dit nie doen nie, sal die Here ons tugtig soos Hy die Israeliete getugtig het toe hulle van die weduwees vergeet het (Ps. 82:3, Jes. 1:23, 10:1-2, Jer. 7:6, 22:3, Eseg. 22:6-7).
Maar wat as daar nie sulke weduwees in ons gemeente is nie, omdat almal van hulle gelowige kinders en kleinkinders het? Party van hulle se kinders woon in ander dorpe en dus moet ons maniere vind om hulle te help. Koop vir hulle geskenkies vir Kersfees, vir verjaarsdae, of net om te sê: ‘Ons gee om.’ Gaan kuier by hulle. Kuier meer gereeld vir hulle as hulle nie by die kerk kan wees nie. Ek moes die Here onlangs om vergifnis vra, omdat ek dit nie genoeg doen nie.
Help hulle met vervoer, omdat baie van hulle nie karre het nie. Vat hulle kerk toe, winkel toe, dokter toe, apteek toe, kliniek toe, of waar hulle ook al moet wees. Nooi hulle vir ete, of maak eenkeer per week vir hulle kos, sodat hulle gesond kan eet. Bid weekliks, of daagliks vir hulle. Sê vir hulle dat jy hulle getroue gebede en diensbaarheid raaksien. Bied aan om dinge by hulle huis reg te maak, of om hulle huise vir hulle skoon te maak. Maak duidelik dat jy nie daardeur impliseer dat hulle huise vuil is nie.
Om die weduwees so te help, wys iets van God se hart, omdat Hy vir hulle omgee. In die Ou Testament moes Israel die weduwees uit hulle tiendes, landerye, wingerde en boorde versorg. God het hulle beskerm teen dié wat hulle wou uitbuit. Hy het hulle ook deel van sy geestelike huisgesin gemaak en individue aangestel om hulle te versorg (sien v.26-27, Num. 27:1-11, Deut. 14:28-29, 24:19-21, 26:12-13, Rut 1-4, Ps. 10:14, 68:6-7, Ps. 146:9, Jer. 49:11).
Kan jy ’n weduwee help? Kan jy keer dat iemand wat haar kar, of huis moet regmaak, haar uitbuit (Eks. 22:22-24, Deut. 27:19, Spr. 15:25, Mal. 3:5)? Kan jy haar teen mans beskerm wat ’n oorlas van hulleself maak (vat jou vrou, of ’n ander man saam as jy dit doen, sodat jý nie onder verdenking kom nie)? Kan jy haar teen die vals leraars op TV beskerm wanneer hulle geestelike seën belowe as sy haar man se pensioengeld vir hulle stuur (Luk. 20:47-21:4)?
Dit is nie genoeg dat jy hierdie dinge weet nie, maar jy moet Johannes se voorbeeld volg dit dóén (v.27). Doen dit met die wete dat jy sal moet opoffer: jou tyd, jou geld, jou huis, jou gesin, jou roetine, jou skedule. Weet dat dit jou emosioneel gaan tap. Weet ook dat dit nederigheid en geduld gaan verg as jy jou ma in die badkamer moet help, as sy stadig is, as sy vergeet, as sy die hele tyd jou geselskap soek, en as die res van die familie nie hulle kant bring om haar te versorg nie. Doen jý egter wat reg is en weet dat die Here sal jou daarvoor sal beloon.
***
Dit is dan wat die Here van weduwees en die mense om hulle verwag. Hy wil veral hê jy moet onthou dat die dood nie die einde is nie. As jy ’n gelowige weduwee is en jou maat die Here geken het, sal julle mekaar weer sien. Julle sal mekaar selfs herken soos Matt. 17:3-4, Luk. 16:23-24, 2Kor. 1:14, 1Tess. 2:19, 4:13-18 aandui. Ek onthou toe ’n sekere wewenaar my hieroor gevra het. Hy was bekommerd dat hy nie sy vrou in die hemel gaan herken nie. Toe ek egter hierdie verse aan hom verduidelik, was hy baie bly.
Alhoewel jy nie weer met jou maat sal trou nie (Matt. 22:30), sal julle ’n sondelose verhouding hê, beste vriende wees, en nie ’n skewe woord vir mekaar sê nie. Julle sal veral bly wees dat julle deel is van die groot huwelik tussen Jesus en sy kerk (Ef. 5:31-32, Op. 19:7-9). Mag hierdie vooruitsig jou help om deur die eensaamheid en pyn te volhard.
Dit sal ook help om te onthou dat Jesus jou nie vir ’n oomblik alleen los nie, maar dat Hy by jou is (Matt. 28:20). Dit is wat wyle Martin Holdt gehelp het toe hy ’n wewenaar word. Volgens hom het geen boodskap hom soveel gehelp het soos Stuart Olyott s’n nie:5
Dear Martin,
Now you are alone, yet not alone.
Sincerely Yours,
Stuart
1 http://www.ipsnews.net/2020/02/widowhood-stressful-unprepared/
2 https://time.com/5538099/why-do-women-live-longer-than-men/
3 Ek het enkele van hierdie punte uit Elizabeth Groves se boekie gekry: Becoming a Widow (Greensboro, NC: New Growth Press, 2012).
4 Elisabeth Kübler-Ross, On Death & Dying (New York: Scribner, 1969)
5 Olyott het hierdie woorde by John Paton geleen. Sien John G. Paton: Missionary to the New Hebrides (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1965 [1889, 1891]), 200