Efesiërs 6:4
Baie ouers is uit die veld geslaan as hulle tiener skielik rebelleer of as hy universiteit toe gaan en sê dat hy nie meer in God glo nie. Hulle dink dit is die universiteit of sy vriende se skuld, maar in die meeste gevalle staan die ouers skuldig. Hulle vergeet dat rebellie deel van die kind se natuur is (Ps. 51:7) en dat hulle dit moes teëwerk. Baie ouers doen dit nie, maar moedig rebellie aan (wetend of onwetend). Sodra die kind ’n tiener word, breek sy rebellie uit soos die pes.
Tedd Tripp skryf van ’n pa wat sy seun gedurig voor ander gekorregeer het. Voor ander het hy sy seun gedwing om te luister. Die kind het kwaad geword, maar was te klein om iets te doen. Toe hy sy tienerjare bereik, toe rebelleer hy.1
Ouers is baie keer die sondebokke as dit by tiener-rebellie kom. Alhoewel die kind se sonde in sy eie hart lê, steek die ouers ’n stok in die byenes. Hulle druk die verkeerde knoppies om die kind kwaad te maak. Volgens die Grieks van Ef. 6:4 doen hulle dit aanhoudend, totdat die kind voluit rebelleer. Om hierdie rede vermaan Paulus ouers om nie hulle kinders kwaad te maak, te irriteer of te frustreer nie (Gk. parorgizō). Die eerste helfte van Ef. 6:4 gebeur omdat ouers die tweede helfte nie nakom nie: “En vaders: Moenie julle kinders uittart nie, maar voed hulle op deur die dissipline en teregwysing van die Here.”
1. Partydige ouers
Ek weet van ’n ouma wat vir twee van haar kleinkinders geskenke en klere gekoop het, maar nie vir die derde een nie. Dit het hom opstandig gemaak. Jy sien dieselfde patroon in Gen. 37:3-4 toe Jakob vir Josef voorgetrek en vir hom ’n mooi kleed gemaak het. Sy boeties was jaloers. Hulle het hom gehaat en aan slawehandelaars verkoop.
Moenie partydig wees en een van jou kinders voortrek nie. Ef. 6:4 gebruik die meervoud wanneer Paulus sê jy moet jou kinders in die tug en vermaning van die Here opvoed. Die meervoud impliseer dat jy almal van hulle gelyk hanteer en dieselfde standaard vir hulle almal het. Sodra jy meer liefde en aandag aan een kind gee of ’n ander een verkwalik dat hy nie meer soos sy boetie of sussie is nie, maak jy hom opstandig. Hy sal rebels raak, omdat hy aandag soek; al is dit ook negatiewe aandag.
2. Afwesige ouers
Twee weke gelede het een van my kinders met my gepraat en basies gesê: ‘Moet asseblief nie te veel werk nie, pa; ek het pa nodig.’ Ek moes my sonde bely en vergifnis vra.
Kinders raak opstandig as hulle ouers afwesig is. Volgens Ef. 6:4 moet jý jou kinders opvoed en daarin volhard (Gk.). Dit is nie net jou plig as jou kinders babas is, waarna jy die taak aan die kleuterskool, naskool, skool, Sondagskool, au pair, bediende, oupa en ouma, TV of vriende oorgee nie. Ek sê nie ander kan nie betrokke raak nie. Maar dit is nie primêr hulle plig nie. God het die kind vir jóú gegee en daarom is jý verantwoordelik om hom groot te maak (v.4). As jy die taak aan ander oorgee en onbetrokke is, maak jy jou kind opstandig. Hy voel verwerp en voel dat jy hom nie liefhet nie. Rebellie is sy manier om te sê: ‘Sal iemand my asseblief liefhê!’
Iemand sal sê: ‘My kind weet ek het hom lief, omdat ek hard werk en net die beste vir hom gee.’ Jou kind sien dit nie so nie. Hy soek jóú en nie wat jy hom kan gee nie. Hy sal liewer elke dag saam met jou bal skop as wat jy hom drie keer per jaar Gold Reef City toe vat. Hy soek kwantiteit tyd eerder as kwaliteit tyd. Hy benodig dit nie net as hy klein is nie. Die Griekse woord vir opvoed (ektrephō) beteken letterlik om tot volwassenheid op te voed. Prakties beteken dit jou tiener kort baie liefde, aandag en kommunikasie. Gesels baie en oor alles met jou tiener. As jy ’n afwesige ouer is, sal jou kind hom teen jou verset (v.4). TikTok sal hom opvoed en op ’n verkeerde pad lei.
3. Sagte ouers
Jare gelede het my niggie my van ’n ma vertel wat nie haar kinders tugtig nie. Toe die vrou en haar dogtertjie by my niggie kom kuier, toe spring die kind op haar meubels. Die ma het gemaak of sy dit nie sien nie. Uiteindelik toe sê sy vir die kind: ‘Do you think it is a good or a bad thing to jump on other people’s furniture? You can choose to continue or to stop jumping on the couches. What do you choose?’ Toe die kind besluit om af te klim, toe sê die ma: ‘Good choice!’
Later het die ma vir haar kind ’n appel gesny. ‘Do you want mommy to cut the apple in four or eight pieces.’ ‘Four pieces,’ het die kind gesê. ‘Good choice!’ het die ma weer gereageer.
Hierdie kind kon doen wat sy wou sonder dat daar gevolge was. Sulke kinders raak rebels (v.4). Hoekom? Want ’n kind se hart is rebels en neig na sonde (Gen 8:21, Ps. 58:4). As jy hom nie tugtig en van sonde terughou nie, sal hy homself daaraan oorgee. Dissipline is nodig om die rebellie uit sy hart te dryf (Spr. 22:15). Sonder tug dink ’n kind hy kan met sonde voortgaan en niks sal gebeur nie. Hy sal homself in die gereg vasloop, in die tronk beland en jou verkwalik, omdat jy hom nie geleer het sonde het gevolge nie (Num. 32:23, Spr. 6:27-28).
As jy jou kind se lewe wil red, moet jy hom dissiplineer (v.4, Spr. 23:13-14). Al geniet hy dit nie, laat dit hom veilig voel. Hy weet dat jy sterk is en hom teen gevare kan beskerm. Die volgende storie illustreer dit.
Toe my dogter klein was, het sy daarvan gehou om by my swaer en suster in die kerk te sit. My swaer is 187 cm. Hy is sterk gebou en weeg oor 100 kg. Ek is 177 cm en redelik skraal gebou. Ek weeg net oor die 70 kg. Toe my dogter langs my swaer sit en sy groot arms sien, toe sê sy: ‘Jo! Oom se muscles is groot!’ Sy dadelik bygevoeg: ‘Maar my pa s’n is groter.’ Omdat ons ons kinders liefhet en tugtig, het sy geweet ek is sterk en kan haar beskerm.
’n Kind wat getugtig word weet waar die grense van vrede, blydskap, sekuriteit, voorspoed en seën is. Ek bedoel nie dat reëls en dissipline jou kind kan red nie. Maar dit dryf hom na Jesus toe, sodat hy vir redding en vergifnis vra. “Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe” (Gal. 3:24, Ou Vertaling).
4. Outoritêre ouers
Ek ken ’n man wat sy kind vir elke rede geslaan het. Toe die kind klein was, het hy sy pa gevrees. Later was hy nie meer bang nie en het hy opstandig geraak. Kinders raak opstandig as jy nie God se dissipline toepas nie (v.4); as jy te streng is en nie met liefde tugtig nie (Spr. 3:12). As jy te streng is, sal jou kind jou haat. Hy sal bitter en opstandig raak as jy jou humeur verloor, hom uit woede tug of mishandel, as jy hom afbreek met woorde: ‘Jou stupid! Ek wens jy is nooit gebore nie!’ As jy jou kind slegsê, vloek of skel, sal hy rebels raak (Spr. 12:18, 15:4).
Ken jy ouers wat op hulle kinders skreeu? Dit is ’n oortreding van Ef. 4:31: “Laat vaar alle bitterheid en woede en gramskap en geskreeu en gelaster, saam met elke vorm van kwaad.”2 Ouers wat so optree, maak hulle kinders opstandig (v.4). Spr. 15:1 sê: “’n Sagte antwoord keer woede weg, maar ’n krenkende woord laat toorn opvlam.”
Ek ken ’n vrou wat haar kinders op ’n sagte manier tugtig. Wanneer hulle sonde doen, hurk sy langs hulle. Sy bly kalm en praat saggies met hulle. Daarna vat sy hulle eenkant en tugtig hulle. Sy bly te alle tye in beheer van haarself en haar kinders respekteer haar.
***
Nog ’n manier hoe ouers te streng is, is as hulle vir alles nee sê. Dit maak die kind opstandig. Moenie nee sê net omdat dit moeite is om ja te sê nie. Sê net nee as jy ’n goeie rede het en as dit die kind sal benadeel as jy ja sê.
Dit geld ook vir reëls: moenie te veel hê nie. God het sy wet in Tien Gebooie opgesom en dit na twee toe verminder (Eks. 20:1-17, Matt. 22:34-40). Minder reëls is beter, omdat kinders dit maklik kan onthou. Dit help jou ook om te onthou, sodat jy nie vandag ja sê en more nee vir dieselfde ding nie. Dit help jou om konsekwent te bly. As jy aanhoudend die reëls verander, maak jy jou kind opstandig. Later sien hy die reëls nie meer as iets wat hom beskerm nie, maar as ’n swaar juk waarvan hy ontslae wil raak.
5. Nalatige ouers
As jou kar se wielsporing uit is, hoef jy dit nie van die pad af te ry om ’n ongeluk te maak nie. As jy net die stuurwiel los, sal dit vanself gebeur. Net so hoef jy ’n kind nie verkeerd te leer om hom opstandig te maak nie. As jy net die stuurwiel van gereelde Bybellering los, sal jou kind vanself rebelleer (v.4). Ons sien dit in Rigt. 2:10-12:
“Nadat ook daardie hele geslag met hulle voorouers verenig is, het daar ’n ander geslag ná hulle opgestaan wat nie die Here geken het, en ook nie die dade wat Hy vir Israel gedoen het nie. Die Israeliete het toe gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here; hulle het die Baäls gedien. Hulle het die Here, die God van hulle voorouers, wat hulle uit Egipteland laat wegtrek het, verlaat, en agter ander gode aangeloop, van die gode van die volke wat rondom hulle was. Hulle het voor hulle in aanbidding neergebuig en die Here uitgetart.”
Ps. 78:4-8 sê dieselfde:
3 Wat ons gehoor het en weet,
wat ons voorouers aan ons vertel het,
4 mag ons nie vir ons kinders
wegsteek nie.
Aan die volgende geslag sal ons
die roemryke dade
van die Here vertel:
van sy mag en die wonders
wat Hy gedoen het.
5 Hy het ’n bepaling neergelê in Jakob,
’n wet vasgestel in Israel:
Wat Hy ons voorouers beveel het,
moet aan hulle kinders
bekend gemaak word,
6 sodat die volgende geslag
dit sal weet,
die kinders wat nog gebore
moet word, sal opstaan
en dit aan hulle kinders vertel,
7 en sodat húlle weer hulle
vertroue in God kan stel,
God se dade nie vergeet nie
en kan hou by sy bevele.
8 Hulle mag nie soos hulle
voorouers wees nie—
’n hardkoppige en opstandige
geslag, wie se harte
onbestendig was en wie se gees
nie aan God getrou was nie.
Vir kinders om die Here te ken en op die regte pad te loop, moet gereelde huisgodsdiens, die evangelie, interaksie uit die Woord, gebed en betrokkenheid in die kerk ’n normale deel van die gesin se lewe wees (Deut. 6:4-9). Die kanse is goed dat sulke kinders vir die res van hulle lewe nie daarvan sal afwyk nie: “Rig die jongmens af ooreenkomstig die pad wat hy moet loop; selfs wanneer hy oud geword het, sal hy nie daarvan afwyk nie.” (Spr. 22:6).
6. Skynheilige ouers
Volgens party mense sal kinders ’n weersin teen God en die Bybel ontwikkel as hulle te veel daarvan kry. Die waarheid is dat hulle opstandig sal raak as jy hulle die Woord leer, maar nie doen nie. Dit was John Paton se getuienis oor sy eie opvoeding:
‘It has been amazing to me, occasionally to meet with men who blamed this “chatechizing” for giving them a distaste to religion; every one in all our circle thinks and feels exactly the opposite. It laid the solid rock-foundations of our religious life... none of us have ever once dreamed of wishing that we had been otherwise trained. Of course, if the parents are not devout, sincere, and affectionate,—if the whole affair on both sides is taskwork, or worse, hypocritical and false,—the results must be very different indeed.’3
Om rebelsheid in kinders te voorkom, moet jy hulle in die tug en vermaning van die Here opvoed (v.4). Jy kan dit net doen as jy deur geloof aan die Here behoort en vir Hom lewe. Jou kind sal opstandig raak as jy hom die Bybel leer sonder dat jy dit leef; as jy hom by die kerk aflaai, terwyl jy by die huis sit; as jy hom straf wanneer hy ’n tantrum gooi, terwyl jy self jou humeur op die pad verloor; as jy hom tugtig omdat hy jou gesag uitdaag, terwyl jy die landswet oortree.
Moenie soos Jannie se pa wees nie. Toe die skoolhoof hom bel en sê dat Jannie die kinders se potlode steel, toe raas sy pa met hom en sê: ‘Jannie, jy moenie die kinders se potlode steel nie! As jy vir my gesê het, het ek vir jou potlode van die werk af gebring!’
Kinders wat so groot word, rebelleer. Hulle wil nie soos hulle ouers wees nie en rebelleer teen alles wat jy sê. Of hulle raak rebels, omdat jy die verkeerde voorbeeld stel, naamlik dat mens die regte dinge moet sê, al doen jy dit nie noodwendig nie.
Sommige kinders se rebellie kom nie deur ’n losbandige lewe tot uitdrukking nie. Hulle reaksie is eerder om depressief te raak: “Vaders, julle moenie julle kinders treiter, sodat hulle moedeloos word nie.” (Kol. 3:21).4 Die Griekse woord vir moedeloos (athumeō) praat van iemand wie se gees gebreek is. Dit verwys hier na ’n kind wat geen motivering het nie. Hy voel ontmoedig, omdat hy nie die sin van die lewe sien nie. Dit breek hom dat sy ouers alewig fout vind; dat hy niks reg kan doen nie.
Ken jy sulke ouers of is jy miskien een? As jou kind ’n A+ vir Engels kry, vra jy hoekom hy dit nie in al sy vakke kry nie. As hy vir jou ’n kaartjie maak, vra jy hoekom hy oor die lyne inkleur. Dit maak hom moedeloos dat hy nie teen jou standaarde kan opmeet nie. Dit het met Wayne Mack gebeur toe hy ’n kind was. Toe sy pa op ’n dag dorp toe is, toe besluit hy om die lande te ploeg. Hy het gedink sy pa sal trots wees op hom. Toe sy pa by die huis aankom, toe kyk hy oor die landerye en sê: ‘As jy besluit het om te ploeg, kon jy dit ten minste reguit gedoen het.’5
Kinders wat so hanteer word, raak bitter en depressief (v.4, Kol. 3:21). Die ouers sien hulleself nie as die probleem nie, maar vra die dokter om hulle kind op antidepressante te sit. Dit verlig miskien die simptome, maar dit kom nie by die wortel uit nie. In baie gevalle is die wortel die ouers wat wil hê dat die kind soos hulle moet wees. Of hulle wil hulle drome en ideale deur die kind vervul. Die kind moet hoofmeisie wees, op die top 10 wees en SA’s wen, omdat die ouers dit nie kon regkry nie.
’n Ma wat dit doen, raak jaloers en baklei soos ’n kat as iemand anders haar dogtertjie wen. ’n Pa wat dit doen, borg die skool se rugbyspan, sodat sy seun span kry. Party kinders wat onder hierdie druk lewe, is aantreklik, sportief, slim en ’n hoofleier wat op die einde selfmoord pleeg. John MacArthur vertel van so ’n geval. Die meisie was mooi, slim en het goed presteer. Maar haar ouers het haar gedruk om beter te wees. Dit het gemaak dat sy in ’n inrigting beland. Sy het in ’n kamer op die vloer gelê en bewe. Toe sy uit die inrigting ontslaan is, was sy weer in die drukpot van haar ouers se onrealistiese verwagtinge. Sy het vir MacArthur geskryf: ‘No matter what I do, it never satisfies my mother.’ Kort daarna het sy selfmoord gepleeg.6
Ek weet dat ’n kind vir sy eie optrede verantwoordelik is. Maar dit is nie reg dat ouers vuur op die biskruit gooi nie. Dalk doen jy dit nie deur onrealistiese verwagtinge nie, maar jy het ’n slegte huwelik. Kinders wat in sulke omstandighede grootword, raak opstandig en wil so gou as moontlik die huis verlaat.
***
Is jy die pligsgetroue ouer van ’n rebelse kind? Jy het alles in jou vermoë gedoen om ’n goeie ouer te wees en nogtans het jou kind opstandig geraak. Israel was so, al was God die perfekte Vader (Jer. 2:30, 5:3, 7:28). As jy in so situasie is, hoef jy jouself nie te kasty, asof jy vir jou kind se redding verantwoordelik is nie (Deut. 21:18, 24:16, Eseg. 18:20). Vra die Here om jou kind se hart te verander soos Hy met Ernest Reisinger se seun gedoen het. Reisinger se seun het ver van die Here af gedwaal. Hy het sy vrou verlaat en is van sy gemeente afgesny. Gedurende hierdie tyd het Reisinger vir sy seun gebid en briewe vir hom geskryf. Na 17 jaar het sy seun na die Here toe teruggekeer.7
William Carey se seun Felix was dieselfde. Die skip waarop hy en sy gesin gevaar het, het gesink. Hy het sy vrou en seun bo die water probeer hou, maar hulle het verdrink. Na die tragedie het Felix homself vir ’n paar jaar aan drank oorgegee. Sy pa het briewe vir hom geskryf. Dit het hom deurgehelp en op die einde het hy hom tot die Here bekeer.8
Sulke beproewings is nie maklik nie. Dit breek ’n ouer se hart. Sê egter vir die Here dankie dat Hy hierdie beproewing gebruik om jou karakter te vorm en jou meer soos Jesus te maak (Rom. 5:3-5, 8:28-29, Jak. 1:2-4). Sê dankie dat die Here jou liefgehad het toe jy nog ’n sondaar was (Rom. 5:6, 8, 10). Doen dieselfde vir jou kind en wys jou liefde aan hom al is hy rebels.
Partykeer beteken dit dat jy ’n saak by die polisie maak (Deut. 21:18-21). Waar ’n kind jou lewe bedreig of by misdaad en dwelms betrokke raak, is dit tot sy, jou en die samelewing se voordeel dat jy hom aangee. As jy niks aan die saak doen nie, is dit omdat jy jou kind haat (Spr. 13:24). Jou nalatigheid sal maak dat hy op die verkeerde pad bly, sy siel verloor en sterf. Ek weet van twee gevalle waar kinders in die tronk beland het. Hulle ouers het hulle uitgehelp. In albei gevalle het die kinders van sleg na erger gegaan en gesterf.
Is jy ’n rebelse kind wat bitter is teen jou ouers? Is jy ’n ouer wat jou kind opstandig gemaak het? Die Here kan jou sonde vergewe en die stukkende verhoudings herstel. Ons sien dit in die gelykenis van die verlore seun (Luk. 15:11-32). Soos jy weet het die seun van die huis af weggeloop en sy erfdeel op drank en los vroue uitgegee. Eers toe hy alles verloor het, het hy tot sy sinne gekom, teruggekeer huistoe, sy sonde bely en is hy herstel.
Die punt van die storie is dat almal van ons die verlore seun is. As jy gered is, het jy na die Vader toe teruggekeer en sy vergifnis ontvang. Die rede hoekom Hy jou vergewe het, is omdat sy volmaakte Seun die straf vir jou sonde gedra het. En is Jesus se dood nie genoeg om jou rebelse kind te red en hom in ’n nuwe mens te verander nie?
1 Tedd Tripp, Shepherding a Child’s Heart (Wapwallopen, PA: Shepherd Press, 1995), 186
2 Tensy anders aangedui, kom aanhalings uit die 2020 Vertaling.
3 John G. Paton: Missionary to the New Hebrides (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1965 [1889, 1891]), 16
4 Aanhalings uit die 2020 Vertaling.
5 Ek onthou hierdie storie uit een van Wayne Mack se beradingklasse.
6 John MacArthur, Successful Christian Parenting (Nashville: Word Publishing, 1998), 140
7 Geoffrey Thomas, Ernest C. Reisinger: A Biography (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2002), 155-67
8 S. Pearce Carey, William Carey (London: The Wakeman Trust, 1993 [1923]), 320-3