Coram Deo Cover Image

Coming soon...

25 July 2021

Familie, Huisgesin en Huwelik: Manipulasie en Mishandeling

Genesis 3:16b

Gesinsgeweld strek weier as die huwelik. In Genesis 4 het Kain sy broer doodgemaak. In Genesis 16 het Sarai haar slavin mishandel. In Genesis 37 het Josef se boeties hom aan slawehandelaars verkoop. Ek ken ’n vrou en haar volwasse dogters wat mekaar aangerand het. ’n RSG luisteraar het eenkeer gesê dat hy sy ma slaan en dat die mense vir hom moet bid. Toe ek in die laerskool was, het ’n hoërskool seun sy ma en sy suster geslaan. Sy sussie was histeries toe sy na ons huis toe kom om vir hulp te vra. Ek het onlangs van ’n vrou gehoor wat haar bejaarde ma slaan.

Manipulasie en mishandeling is algemeen. Ek wil dit egter op die huwelik toepas. Ek weet van ’n paar sulke gevalle. Ek het ’n man en sy vrou beraad wat vreeslik baklei het. Toe ons hulle uiteindelik van die gemeente afsny, toe vind ons uit dat hulle mekaar aanrand. ’n Paar jaar gelede het ek ’n paartjie beraad. Ek het later uitgevind dat die man sy vrou geslaan het. Hulle huwelik het in die skeihof beland.

Toe ’n predikant van Zimbabwe erken het dat hy sy vrou slaan, toe sê my vriend dat hy die bediening moet verlaat en toe onttrek hy sy steun. Ek weet van ’n man wat sy vrou met ’n geweer gedreig het. Deur die Here se genade het Hy hulle en hulle huwelik gered. ’n Ander man het sy vrou gereeld geslaan en haar selfs gewurg. Sy het hom by die polisie gaan aangee en is van hom geskei.

Sommige mans slaan nie hulle vroue nie, maar hulle kraak hulle af en vloek hulle. ’n Man wat gereeld verby die pastorie geloop het, het dit gedoen. Voor sy seuntjie het hy die vieslikste woorde gebruik om sy vrou mee te beledig. ’n Ander man het sy vrou belet om kerk toe te kom. Toe sy by ’n middernagdiens opdaag, toe kom hy kerk toe om haar te haal. Hy het op haar geskreeu en haar gevloek.

Mishandeling is ’n ernstige probleem. Hoe moet ons dit uit die Bybel uit aanspreek?

 

1. Manipulasie

In Charlie and the Chocolate Factory is daar ’n karakter genaamd Veruca Salt. Sy is wat ons in Engels noem ’n ‘spoiled brat.’ Haar pa gee haar alles wat sy wil hê. As sy nie haar sin kry nie, gooi sy ’n ‘tantrum’. ’n Mens wens dit gebeur net in films, maar dit is die harde werklikheid. Dit gebeur ook in huwelike. Getroude mense gebruik verskillende taktieke om hulle sin te kry: skuldgevoelens, trane, geneul, vuil woorde en geskel. Hulle sê mekaar sleg, maak of hulle die slagoffer is, raak dikbek, kry stilstuipe, slaan mekaar, manipuleer mekaar met seks, dreig om moord of selfmoord te pleeg. Dié dinge gebeur onder mans sowel as vroue. Ons sien dit in Gen. 3:16b: “Na jou man sal jou begeerte wees, maar hy sal oor jou heers.”1

Die konteks van hierdie vers is negatief en nie positief nie. God spel die negatiewe gevolge van sonde uit. Een gevolg is dat ’n vrou teen haar man sal begeer. Die 2016 teks van die English Standard Version sê: “Your desire shall be contrary to your husband”.2 Dit is ook hoe die New Living Translation dit vertaal: “And you will desire to control your husband, but he will rule over you.” Hierdie interpretasie pas by die konteks van die sondeval. In Genesis 2 het God die man as leier geskep en die vrou as sy helper (1Kor. 11:3, 8-9, 1Tim. 2:12-13). Toe sonde in die wêreld inkom, toe draai die rolle om. Die vrou het leiding geneem en haar man het haar gevolg (v.1, 6). Van toe af wou sy haar man se rol as leier oorneem (v.16b). Gen. 4:7 bevestig hierdie interpretasie. Sonde het Kain begeer en wou hom oorheers (Heb. teshuqah). Net so sou die vrou in Gen. 3:16 begeer om haar man te oorheers; om die broek te dra en die leier te wees (Heb. teshuqah).

In uitsonderlike gevalle waar ’n vrou sterker is, rand sy haar man aan of dreig sy hom met ’n wapen. In die Verenigde Koninkryk is 40% van alle slagoffers van gesinsgeweld mans.3 Selfs waar die vrou nie sterker is nie, gebruik sy soms geweld as sy weet dat haar man haar nie sal terugslaan nie. ’n Fris man met ’n klein vroutjie het vertel hoe sy vrou hom aan die privaatdele gryp en hom met geweld aanrand.

As jy so ’n vrou is, moet jy jou bekeer. Dalk dink jy dat manipulasie en geweld die enigste manier is om jou man se aandag te kry en om te maak dat hy jou punt insien. Eintlik maak jy hom net bitter en dryf hom verder van jou af weg. Dit het met ’n man gebeur wie se vrou hom so hanteer het. Hy kon dit nie meer vat nie en het weggehardloop. Manipulasie en geweld is nie die antwoord nie. Jesus is. Hy kan jou lewe en jou huwelik verander (Matt. 19:26, Ef. 3:20). Maar dan moet jy Hom vertrou. Sê vir Hom jy is moeg vir baklei. Vra vergifnis dat jy jou maat gemanipuleer, afgebreek en geweld gebruik het. Vra Hom om jou op grond van Jesus se kruisdood en opstanding nuut te maak (Tit. 3:5-7). Vul jouself met die Woord en vra dat Hy jou met sy Heilige Gees vul. Waar dit gebeur, sal jy ’n vrou wees wat jou man respekteer (Ef. 5:18, 22-24, 33, Kol. 3:16, 18). Dit mag selfs wees dat die Here jou goeie optrede gebruik om jou man vir Hom te wen (1Pet. 3:1-2).

 

2. Mishandeling

’n Mens hoor soms grappies oor mans wat hulle vroue mishandel, maar dit is geen grap nie. Dit is ’n tragedie. Waar ontspring die bitter en slegte water van hierdie rivier? Ons kan sê dit het begin toe die man drie jaar oud was en sy ouers hom toegelaat het om hulle of sy sussies te slaan. Ons kan sê dat hy as klein seuntjie gesien het hoe sy pa sy humeur met sy ma verloor en haar slaan. Ons kan sê dat dit uit sy hoogmoedige hart spruit, sodat hy homself as ’n god beskou en dink dat sy opinie altyd reg is (Spr. 21:24). As sy vrou hom dan teëgaan, lig hy sy vuiste vir haar (Spr. 9:7). Hy hou daarvan om te voel dat hy in beheer is en dat almal voor sy ‘almag’ ineen moet krimp. Daarom regeer hy sy vrou met ’n ystervuis en monitor hy haar bankkaart en haar foon. Daarom sluit hy haar in die huis toe en hou hy haar weg van familie en vriende wat haar ‘breinspoel’. Daarom boelie hy haar met die Bybel en haal hy tekste aan wat haar laat voel dat sy ’n slegte vrou is en dat die Here is vir haar kwaad. ‘Jy is nie onderdanig nie!’ skreeu hy. ‘Ef. 5:22 sê dat jy aan jou man onderdanig moet wees!’ Hy vergeet van Ef. 5:25 wat sê dat hy sy vrou met opoffering moet liefhê soos Jesus die kerk liefhet. Hy gebruik die Bybel soos dit hom pas.

Die rede hoekom hy sy vrou slaan, is omdat hy nie soos Jesus is nie. Hy is ongered. Sy sonde ontspring uit die sondige natuur wat in Genesis 3 begin het. God het vir die mens gesê: “Van al die bome van die tuin mag jy na hartelus eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie, want die dag wanneer jy daarvan eet, sal jy beslis sterf.” (2:16-17). Toe sonde in die wêreld inkom, toe beskuldig Adam sy vrou (v.12). Hy het indirek vir die Here gesê: ‘As daar iemand is wat moet sterf, is dit sy!’ Daar het ons die heel eerste geval van mishandeling in die huwelik. Van toe af het die man sy fisieke voordeel gebruik om sy vrou te boelie (v.16). Dit is wat die Hebreeuse woord mashal beteken. In 4:7 gebruik die Here dit om vir Kain te sê hy moet oor die sonde heers (mashal). As jy ’n goeie huwelik wil hê, moet jy hard op jou eie sonde wees en sag op jou vrou. Gebruik die krag wat jy het om jou vrou te lei en te beskerm; nie om haar te boelie nie (1Pet. 3:7). Kry haar lief soos jy jouself liefhet (Ef. 5:28-30). Jy mishandel nie jouself nie, maar sorg vir jou liggaam. Doen dieselfde vir haar, sodat jy haar voed en koester.

Wat moet jy doen as jou man jou nie so liefhet nie en jou mishandel? Kom na Jesus toe. Hy is daar vir dié moeg en oorlaai is (Matt. 11:28). Hy self is mishandel en verstaan wat jy deurmaak (Jes. 53:3, 7-8, Heb. 4:15). Stort jou hart voor Hom uit. Lees en bid veral die Psalms in hierdie tye. Psalm 55 is ’n goeie begin:

1Vir die musiekleier. Met snarespel. ’n Maskiel. Van Dawid.

 

2O God, luister na my gebed,

verberg U nie vir my smeekbede nie.

3Luister tog aandagtig na my

en antwoord my.

Klaend dwaal ek rond;

ek is verward

4oor die geraas van vyande,

oor die getier van goddeloses,

want hulle laat onreg op my neerstort,

en in toorn is hulle vyandig teenoor my.

 

5My hart krimp ineen in my binneste,

doodsangs het my oorval.

6Vrees en bewing oorweldig my,

’n rilling trek deur my liggaam.

 

7Ek het gedink,

het ek maar vlerke gehad soos ’n duif!

Ek sou wegvlieg en ’n tuiste vind;

8ja, ek sou ver weggaan om te ontvlug;

ek sou in die woestyn oornag. Sela

9Ek sou haastig vir my ’n skuilplek soek,

weg van die rukwind,

van die hewige storm.

 

10My Heer, verwar,

verdeel hulle tonge,

want in die stad sien ek net

geweld en stryd.

11Dag en nag doen dit die rondte

op die stadsmure,

en binne die stad

is daar onreg en geweld.

12Vernietiging is binne-in die stad,

verdrukking en bedrog wyk nie

van die stadsplein nie.

 

13Dit is immers nie ’n vyand

wat my uittart nie—

ek sou dit nog kon verduur;

dit is nie my hater wat selfvoldaan

is teenoor my nie;

ek sou my vir hom kon versteek.

14Maar dat dit jy is, ’n mens soos ek,

my boesemvriend en vertroueling—

15ons wat vertroulike gesprekke

saam geniet het

terwyl ons in die huis van God loop

in die gedrang van mense!

 

16Mag die dood hulle

onverhoeds betrap,

mag hulle lewendig afdaal

na die doderyk;

want boosheid is by hulle tuis,

dit is in hulle midde.

 

17Ek, ek roep tot God,

en die Here sal my verlos.

18In die aand, in die oggend

en in die middag

het ek gekla en gesteun;

maar Hy het my stem gehoor.

19Met vrede koop Hy my lewe vry

van ’n geveg wat teen my gerig is,

al is hulle in hulle hordes teen my.

 

20God hoor en sal hulle verneder

—Hy regeer immers van die voortyd af,— Sela

hulle by wie daar geen

verandering is nie,

en wat nie ontsag het vir God nie.

 

21Teen sy vriende het hy

sy hand uitgesteek;

hy het sy verbond geskend.

22Sy mond is gladder as botter,

maar sy hart is die ene oorlog.

Sy woorde is strelender as olie,

maar dit is ontblote swaarde.

 

23Werp jou las op die Here;

Hy sal jou versorg,

Hy sal nooit toelaat

dat die regverdige wankel nie.

 

24U, o God, laat hulle afdaal

in die put van die graf.

Die manne van bloed en bedrog

haal nie eers die helfte

van hulle jare nie.

Maar ek, ek vertrou op U.

Herinner die Here aan sy beloftes (Jes. 62:6-7). Glo dat Hy jou sal antwoord en reg laat geskied (Eks. 2:23-25, Matt. 7:7-11, 1Pet. 2:23). Moenie met geweld vergeld en soos die vrou wees wat haar man met ’n pan geslaan het toe hy slaap nie (Rom. 12:19). Partykeer werk dit soos toe ’n 11-jarige seun sy ma se kêrel met ’n swaarboom pan oor die kop geslaan het. Die man het uit sy ma se lewe verdwyn en nie weer aan haar geslaan nie. En tog is dit nie die beste oplossing nie, omdat dit ’n erger reaksie kan ontlok (vgl. Rigt. 15).

Moet ook nie jou man uittart, voor sy gesig staan en hom uitdaag om jou te slaan nie. Bid eerder vir hom en oorwin die kwaad met die goeie (Luk. 6:27-28, Rom. 12:14, 17-21, 1Pet. 3:9). Die goeie beteken onder andere dat jy vir die polisie sê, sodat hulle God se wraak oor jou man kan uitvoer (Rom. 13:4). Maak seker jy oordryf nie. Moenie sê dat hy jou slaan as hy jou eenkeer gestamp het nie. Ek weet van ’n vrou wat dit gedoen het. Dit was nie reg dat haar man haar gestamp het nie, maar sy moes ook nie ‘wolf!’ skreeu toe dit net ’n Jack Russell was nie.

As jou man ’n vroueslaner is, moet jy dit nie wegsteek nie. Moenie die merk aan jou gesig wegsteek en sê dat jy teen die kas geval het nie. Sê vir jou geestelike leiers wat aangaan. As jou man ’n lidmaat is, moet die gemeente hom tugtig (Matt. 18:15-17). Laat hulle jou help om die saak by die polisie aan te meld (Spr. 24:11-12, Ef. 5:11). Dalk vrees jy om dit te doen, omdat jou man gesê het hy sal jou doodmaak. Dalk dreig hy om homself dood te maak en sê hy dit sal jou skuld wees. Of hy sê dat jy hom dryf om jou te slaan, omdat jy ’n slegte vrou is. Dalk belowe hy om te verander. Of hy dreig om jou te los. Dit maak jou bang, omdat jy geen ander heenkome het nie. Jy kan nie sonder sy salaris klaarkom nie. Dalk dreig hy hy gaan die kinders vat en vir die hof sê dat jy onbevoeg is om na hulle te kyk. Jy is bang, omdat jou man kontakte het.

Die Here kan jou beskerm soos Hy Dawid beskerm het toe Saul elke beweging dopgehou het en hom wou doodmaak (1Sam. 18-26). Die Here sal maak dat die geweldenaar aan die kortste ent trek (1Sam. 31). Ek het ’n man geken wat sy vrou so geslaan het. Hy het probeer om haar dood te maak. Toe die hele storie op die lappe kom en hy in die hof beland, toe maak hy homself dood.

As jy met so iemand getroud is en jou lewe in gevaar is, moet jy vlug en by ’n Christen vriend of familielid skuiling soek (Matt. 10:23, Hand. 14:5-6). As jou gemeente hiervan weet, moet jy hulle vra om saam met jou te bid, omdat hierdie ’n geestelike stryd is (2Kor. 10:3-5, Ef. 6:10-18). Vertrou die Here om in jou materiële behoeftes te voorsien (Ps. 68:6-7, Hand. 2:45). Glo ook dat Hy jou omstandighede tot jou voordeel sal uitwerk as jy Hom liefhet (Gen. 50:20, Rom. 8:28).

Doen jou beste om die volgende twee dinge te verhoed:

[a] Moenie die saak terugtrek as die polisie jou man arresteer nie (Spr. 19:19). As jy die saak terugtrek, bied jy skuiling vir ’n misdadiger wat ’n gevaar vir homself, sy gesin en die samelewing is.

[b] Moenie ’n ongelowige familielid, vriendin, kollega, sielkundige of berader vir raad vra nie (Ps. 1:1). Hulle sal jou aanmoedig om dadelik te skei en jou man ’n narsis of psigopaat noem sonder dat hulle die hele storie ken. Ek bedoel nie dat jy in ’n gevaarlike situasie moet bly nie, maar dat jy gelowiges vir raad moet vra voordat jy besluit om te skei (Spr. 11:14). Dit is veral nodig waar fisieke geweld nie ’n fakor is nie.

***

Is jy die oortreder? Jy is ’n lafaard en ’n sissie; ’n kind van die duiwel en ’n vyand van geregtigheid. Jy is ’n hiëna wat die swakkes uitsoek en op hulle pik. As die Leeu van Juda kom, sal Hy jou verskeur (Eks. 22:22-24, 2Tess. 1:7-9). Daar is egter nog kans om jou te bekeer. Roep tot die Here en vra vergifnis dat jy jouself as ’n god beskou het en jou vrou verniel het. Vra dat Hy jou van jou selfsug sal red; dat Hy jou sal vergewe en jou in ’n man sal verander wat sy vrou liefhet en nie vol woede is nie (Ef. 5:25-33, Kol. 3:19). Kry geestelike hulp. Raak betrokke by ’n gemeente waar jy die Bybel kan leer en saam met gelowiges kan bid. Maak vriende in die gemeente, sodat jy ’n geestelike ondersteuningsbasis het. Vra ’n sterk Christen man om ’n pad met jou te stap en jou uit die Bybel te leer hoe ’n man met sy vrou moet saamlewe. Vra hom om jou aanspreeklik te hou oor jou humeur.

Memoriseer Ef. 4:29-32 en vra die Here om jou te help om dit toe te pas: “Nie ’n enkele afbrekende woord moet uit julle mond kom nie, maar eerder ’n woord wat goed is vir noodsaaklike opbou, sodat dit voordeel mag bring vir diegene wat dit hoor. En bedroef nie die Heilige Gees van God, deur wie julle met die oog op die dag van bevryding verseël is nie. Laat vaar alle bitterheid en woede en gramskap en geskreeu en gelaster, saam met elke vorm van kwaad. Wees goedgesind teenoor mekaar, met innige meelewing, terwyl julle mekaar vergewe, soos God in Christus julle ook vergewe het.”

Bid vir jouself, jou vrou en julle huwelik. Glo dat Christus jou die krag kan gee om te verander, omdat sy opstandingskrag in jou werk (Ef. 1:19). ’n Vriend het my vertel van sy pa wat sy ma geslaan het. Dit het vir jare aangehou, totdat die Here hom gered het.

Vra ’n sterk Christen-vrou om ’n pad met jou vrou te stap en haar deur die trauma te help. Vra jou vrou om jou te vergewe en stap die ekstra myl om haar met liefde en respek te hanteer. Verwag dat dit tyd sal neem voordat sy jou weer vertrou.

Vir die enkellopendes wil ek sê: leer hieruit om nie met die eerste beskikbare man te trou nie. Let op hoe hy sy ma en sy sussies hanteer, omdat hy jou dieselfde sal hanteer. Vra jou ouers en jou broers om hom te leer ken voor jy eers daaraan dink om met hom te trou. Vra jouself of hy bitter is en wrokke dra. Het hy ’n kort humeur op die pad.

Beeïndig dadelik die verhouding as hy ’n drinker is, omdat sulke mans dikwels ook aggressief is (Spr. 20:1). Het die man al sy humeur met jou verloor? Moenie vir jouself sê dinge sal verander as julle trou nie. Dit sal nie. Breek die verhouding en bid vir ’n man wat jy kan respekteer.

Dalk wil jy dit nie doen nie, omdat jy bang is jy kry niemand as jy nie met hierdie man trou nie. Daarom redeneer jy soos twee vroue wat ek ontmoet het: ‘Ek sal eerder ’n man hê wat my slaan as om alleen deur die lewe te gaan.’ As jy dom is, moet jy ly: “’n Slim mens sien gevaar en skuil, maar onverstandiges gaan voort en betaal die prys.” (Spr. 22:3). Dit is onnodig. Bly liewer enkel as wat jy sielsongelukkig getroud is en jou aggressiewe man se maniere aanleer: “Moenie vriende maak met ’n humeurige mens nie, en met ’n opvlieënde man moet jy nie saamgaan nie; anders raak jy vertroud met sy paaie en stel jy só ’n valstrik vir jouself.” (Spr. 22:24-25).

Let op jou karakter, sodat jy die tipe vrou word wat ’n goeie man na jou toe aantrek. As jy ’n slegte karakter het, sal jy slegte mans aantrek soos hondemis vlieë lok.


1  Aanhalings uit die 2020 Vertaling.

2  Sien https://www.esv.org/Genesis+3/

3  https://www.theguardian.com/society/2010/sep/05/men-victims-domestic-violence

Kategorieë