Jakobus 4:1-3
Toe ek as kind saam met my nefies by my ouma gekuier het, het ons klippe by die spruitjie opgetel. As mens die klippe teen mekaar gekap het, het dit vonke gemaak. Ons het die vuurklippe genoem.
Dit is ook wat gebeur wanneer jy sondaars bymekaar sit; daar is vonke. Sommige getroude paartjies en gesinne sal sê dat hulle nie konflik het nie. ’n Getroude man het in my sitkamer geroem dat hy en sy vrou nooit baklei nie. Sy het nie ’n woord gesê nie. Na alle waarskynlikheid was sy te bang om iets te sê, omdat dit petrol op die vuur sou wees. Dalk het sy in haar hart van hom verskil, maar sy wou dit nie sê nie, omdat dit ’n derde Wêreldoorlog kon beteken. Sy was tevrede om die oorlog in haar hart te laat woed.
Wayne Mack vertel van so ’n geval. ’n Paartjie wat vir 45 jaar getroud was, het voor hom gesit. ‘Ons het nog nooit baklei nie,’ het die man gesê. Mack het na die vrou toe gedraai. ‘Is dit waar?’ het hy gevra. ‘Ja,’ het sy gesê. ‘Hoe so?’ het Mack gevra. Die vrou het verleë afgekyk en gesê: ‘Ek verskil baie van hom, maar ek sê dit nie. Toe ek dit eenkeer in die begin van ons huwelik probeer het, toe sê hy: ‘Hou op stry! Ek hou nie van argumente nie!’ Daar het ek geleer dat dit beter is as ek my mond hou.’1
Vir iemand om te sê dat daar nooit konflik in sy huwelik of gesin is nie, is onsin. Die vraag is nie of jy konflik het nie, maar hoe jy dit hanteer.
1. Die oorsaak van konflik (v.1-2b)
Toe ek op skool was, het party kinders die reputasie van ‘bakleier’ gehad. Ek onthou een seun wat altyd êrens in ’n geveg betrokke was. Party mense se huwelike, gesinne en families is so: hulle is altyd aan die baklei. Hulle dink dat dit normaal is en dat almal dit doen. Alhoewel niemand sonder konflik is nie, is Christene nie gedurig besig om te baklei nie (Gal. 5:22-23). Om te alewig te baklei is ’n kenmerk van ongelowiges (Gal. 5:19-21).
Tog sal selfs Christene by tye verskil en verdeeld wees (Luk. 22:24, Hand. 15:36-41, 1Kor. 1:10-12). Iemand wat egter so optree, wys dat hy geestelik onvolwasse en kinderagtig is (1Kor. 3:1-4). Is jý so? Dra jy by tot ’n stormagtige huwelik en ’n verdeelde familie of gesin? Baklei jy gedurig? Indien wel moet jy jouself ondersoek. Ken jy die Here? Is jy miskien geestelik onvolwasse? Indien die simptome van geestelike siekte in jou huwelik, gesin en familie teenwoordig is, moet jy hulp kry. Ek sal later vir jou wys hoe.
Vir eers moet jy by die wortel van die probleem uitkom deur te vra wat die konflik, rusie, struweling, stryery, bakleiery, woordewisseling en oorlog veroorsaak (v.1a)? Party sal sê dit is omdat die betrokke partye verskillende persoonlikheidstipes het. Of hulle blameer dit op werkstres, bloedlynvloeke, hulle herkoms (‘Ek het Hollandse bloed... Ek is ’n Rautenbach), moegheid, skildklier probleme, PMS, hulle hormone, sensitiwiteit vir geraas, ’n demoon van rusie, die newe effek van pille, iets anders.
Ander blameer die mense rondom hulle: ‘My vrou wil nie intiem wees nie... My man soek te veel seks... My skoonma meng in... Mense verstaan my nie... My ouers maak die lewe vir my moeilik... My kind druk die verkeerde knoppies... My broer maak my kwaad... My suster laat my aan slegte ervarings van die verlede dink... My ouers sit te veel druk op my... My kinders dryf my teen die mure uit... My ouers is onregverdig... My vrou ontneem my van my regte... My man neem my nie in ag nie... My ouers hanteer my asof ek nog ’n kind is en beperk my vryheid.’
Volgens Jakobus is nie een van hierdie dinge die ware rede vir hoekom mense baklei nie. Hierdie dinge is net die sneller en die slagpen wat die patroon laat ontplof. Die vermoë om te ontplof lê in die patroon. Net so kom bakleiery en kwaad uit die mens se hart en is dit nie ander mense of omstandighede wat dit daar sit nie (Spr. 4:23, Matt. 12:34, Mark. 7:21-23). Hulle trek maar net die sneller, sodat dit wat reeds binne was, uitkom. Ek sê nie dat dit wat hulle doen reg is nie. Wat ek sê, is dat ons nie ander vir ons sonde moet blameer nie. Solank as wat jy dit doen, sal jy nie jou eie sonde raaksien, dit bely en vergewe word nie (Spr. 28:13, 1Joh. 1:9).
Laat ons dus persoonlike verantwoordelikheid vir ons sonde neem, selfs al is ons nie die enigstes wat verkeerd is nie. Sê: ‘Ek moes nie my humeur verloor het, geskreeu het, jou naam swartgesmeer het en jou geïgnoreer het nie. Sal jy my vergewe?’ Erken dat die oorlog tussen jou en ander mense ’n gevolg van die oorlog in jou hart is; van die luste en begeertes wat in jou stry (v.1, Gal. 5:17, 1Pet. 2:11). Partykeer het jy ’n slegte begeerte na dinge soos pornografie of drank. Partykeer is jou begeertes goed—’n begeerte vir liefde, respek, rus en vrede, aanvaarding, begrip— maar soek jy dit te veel, sodat dit afgod word.
Hoe sal jy weet of jou goeie begeerte vir jou ’n afgod geword het? Dit oorheers jou gedagtes, gesprekke, beplanning, begroting en tydsverdryf. Dit beheer jou emosies. As jy dit het, voel jy gelukkig en het jy vrede. As jy dit nie het nie, voel jy neerslagtig, depressief en angstig.
Die lus of begeerte wat ’n afgod geword het is so sterk, jy sal sonde doen om dit te kry. ’n Ma wat byvoorbeeld haar woelige kinders skel en vloek, maak ’n afgod van haar begeerte om vrede en gemak te hê. Party mense sal letterlik moord pleeg as jy tussen hulle en hul afgod kom (v.2). Dit is wat Kain met Abel gedoen het (Gen. 4). Dit is hoekom Agab toegelaat het dat sy vrou vir Nabot vermoor (1Kon. 21). Dit is hoekom die Joodse leiers vir Jesus gekruisig het. Dit is hoekom ’n jong man in die 1990’s ’n tannie in Louis Trichardt vermoor het, nadat sy vir hom gesê het: ‘Jy kan nie met my dogter uitgaan nie.’
Die meeste van ons het nog nooit so iets gedoen nie, maar dalk beplan jy dit of dagdroom jy daaroor. As dit so is, moet jy pasop. As Dawid ’n moord kon pleeg, is enige van ons daartoe instaat.
Ander beplan nou wel nie moord nie, maar haat jy iemand in jou gesin of familie? Volgens die Bybel is jy dieselfde as ’n moordenaar, omdat moord in die hart begin (Matt. 5:21-22, 1Joh. 3:15). Miskien sê jy dat jy nie die persoon haat nie, maar wat is dit anders as jy iemand verwens; as jy kwaad is wanneer jy aan die persoon dink; as jy bitter is; as jy skreeu, baklei, skinder, vloek en slaan?
Die persoon het tussen jou en jou afgod gekom: geld, respek, sukses, blydskap, vrede, roem, aanvaarding (v.1-2). Eintlik maak jy ’n afgod van jouself. Dit gaan oor wat jý wil hê. Dit word veral duidelik as mense jou wil kruis en jy vir hulle sê: ‘Nou sal jy weet dat jy met die verkeerde persoon gemors het. Jy sal sien dat ék reg was en jý verkeerd. Verwag ’n oproep van my prokureur. Ek gaan jou verwoes. Jy gaan om genade smeek as ek met jou klaar is.’
Eina! Ek sê dit nie vir die ander persoon nie, maar vir jou. Jou optrede wys wat in jou hart is. Jy is behep met jouself en beskou jouself as die middelpunt van die heelal. En moet die Here maak of dit niks is as jy Hom van sy troon wil afstoot nie?
2. Die oplossing vir konflik (v.2c-3)
Die gesegde lui: ‘The family that prays together stays together.’ Dit is waar en beteken ook dat die teenoorgestelde waar is. Ek het dit al in huweliksberading gesien. ’n Man en sy vrou baklei, omdat hulle nie die liefde en respek kry wat hulle dink hulle verdien nie. Ek vra: ‘Het julle al oor die saak gebid? Bid julle dat die Here julle sal verander? Bid julle vir mekaar? Bid julle vir julle huwelik?’ Gewoonlik is die antwoord nee. Hulle kry nie wat hulle wil hê nie, omdat hulle daaroor baklei eerder as om daaroor te bid (v.1-2).
Om rusie in jou huwelik en huisgesin te oorkom, moet julle saam bid. Kom in ’n regte verhouding met God, sodat julle in ’n regte verhouding met mekaar kan lewe. As jy leer om met jou Skepper en Vader te kommunikeer, sal jy beter met ander mense kommunikeer. Ek bedoel nie dat jy net moet bid voordat julle eet nie. Ek bedoel dat gebed ’n sentrale deel van jou lewe, huwelik en gesin moet wees. Bid in jou stiltetyd. Bid as julle huisgodsdiens hou. Bid voor jy gaan slaap. Bid as jy opstaan. Bid as julle teen mekaar gesondig het. Bid as daar ’n krisis is. Bid as die Here jou gebede verhoor. Bid met lofprysing. Bid, bid, bid (1Tess. 5:17).
Moet dit nie net vir ’n week of ’n maand doen nie, maar volhard daarin (Luk. 18:1, Ef. 6:18). As almal en veral die leier van die gesin dit doen, sal die Here julle wysheid gee om julle probleme op te los (1:5). Kom daarom in die gewoonte om gereeld saam te bid. Doen dit as julle in die oggend opstaan, as julle klaar geëet het of voor julle gaan slaap. Gee elke persoon ’n kans om te bid en bid ook vir mekaar. Doen dit met die regte bedoeling. Moenie net bid dat die Here jou maat, ouers, broer of suster sal verander nie, maar vra Hom om jóú te verander en meer soos Jesus te maak. Om net vir ander mense se sondes te bid, wys dat jy hulle as die probleem beskou en dat jy blind is vir jou eie sonde.
Ek bedoel nie dat jy nie vir ander mag bid nie, maar dat jy met die regte motiewe en die regte doel moet bid. Moenie sê: ‘Here, maak my man se oë oop om te sien dat ek reg is’ nie. ‘Vat asseblief my ma uit my lewe, sodat ek rus en vrede kan hê.’ ‘Verander my rebelse kind, sodat ons nie soos ’n mislukking sal lyk nie.’ As jy so bid, het jy ’n verkeerde motief. Die Here sal jou nie antwoord nie (v.3). Dit gaan oor jou eie eer en nie syne nie. En hoekom moet Hy jou iets gee as dit jou gaan benadeel en Hom van sy eer gaan roof (Jes. 48:11)? Verwag jy regtig dat die Here vir jou ’n afgod moet gee wat jou van Hom gaan skei (v.4-5)?
Vra die Here om jou hart en motiewe te ondersoek. Bely dat jy vir jouself die belangrikste was en nie ander bo jouself gestel het nie (Fil. 2:3-4). Vra vergifnis dat jy jouself Christen noem, maar Jesus se goeie Naam deur die modder gesleep het. Sê dankie dat Jesus se kruisdood voldoende is om jou sonde weg te vat en jou hart te verander. Hy het die mag om jou van ’n selfsugtige na ’n nederige mens toe te verander. Bid dat Hy jou en jou gesin sal help om soos nuwe mense op te tree, sodat julle in vrede sal lewe om Hom te verheerlik en sodat ongelowiges kan sien dat julle aan Hom behoort.
Bid vir mekaar se verhouding met die Here en vir mekaar se geestelike groei. Bid vir geleenthede om aan mekaar goed te doen, om mekaar op te bou en te bemoedig. Bid vir oë om te sien as iemand goed doen en nie net as hulle verkeerd doen nie. Bid vir ’n nederige hart wat sal erken as jy verkeerd was. Hier moet jy die Bybel volg en nie soos die wêreld vergewe nie. In die wêreld sê mense: ‘Ek is jammer, maar as jy nie...’ Dit is ’n hoogmoedige mens wat nie wil erken as hy verkeerd was nie; wat sy sonde verskoon en ander blameer (Gen. 3:12-13). Die hoogmoedige mens sê: ‘Ek het dit nie bedoel nie... As ek iets verkeerd gedoen het (ek weet nie wat dit was nie)...’ Erken eenvoudig dat jy verkeerd was, dat jy kwaad geword het en dat jy dit bedoel het. As jy ’n halwe belydenis maak, moet jy ’n halwe vergifnis verwag.
Wees spesifiek in jou belydenis. Sê wat jy verkeerd gedoen het en waarvoor jy vergifnis vra. Moenie net jammer sê nie, maar plaas die skuld op jouself: ‘Vergewe my...’ Sodoende gee jy die ander persoon ’n kans om te reageer.
Leer ook om dadelik vergifnis te vra. As jy dit vir dae, weke en maande los, kom daar sonde by en raak dit ’n gemors. Bely dadelik as jy gesondig het en sorteer dinge uit (Ef. 4:26-27). Doug Wilson gebruik die voorbeeld van iemand wat iets op die mat laat val. As hy dit dadelik optel, bly die huis skoon. Maar as almal wat iets laat val dit daar los en die huis na ses maande probeer opruim, word dit ’n onmoontlike taak.2 Doen daarom moeite om jou sonde te bely en die saak uit te praat, sodra jy oortree het. Wilson stel voor dat jy nie uitgaan of kuiergaste ontvang voordat julle nie dinge uitgepraat het nie. As jy die verhouding vinnig kon verbreek, kan jy dit net so gou herstel.3
Maar wat as ek nie verkeerd was nie en ander mense teen mý oortree het? Maak dubbel seker dat jy nie die splinter in iemand anders se oog raaksien, terwyl daar ’n balk in jou eie oog is nie (Matt. 7:1-5). As jy eerlik kan sê dat daar geen onbelyde sonde in jou lewe is nie, moet jy Matt. 18:15-17 volg met die doel om die persoon te help: “As jou broer teen jou sondig, moet jy hom teregwys waar julle twee alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen. As hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat in die mond van twee of drie getuies elke saak bevestig mag word. As hy weier om na hulle te luister, sê dit vir die gemeente. En as hy ook weier om na die gemeente te luister, laat hy vir jou wees soos die heiden en die tollenaar.”4
Bid vir ’n sagmoedige en liefdevolle gees wanneer jy die proses volg: “Broers, as iemand deur een of ander sonde oorval word, moet julle wat met die Gees vervul is, so iemand in ’n gees van sagmoedigheid reghelp; maar let op jouself, dat ook jy nie versoek word nie. Dra mekaar se laste, en vervul so die wet van Christus.” (Gal. 6:1-2).
As die persoon sy sonde erken, moet jy hom vergewe soos die Here jou vergewe het (Ef. 4:32). Moenie soos die wêreld sê: ‘Toemaar, dis okei’ nie. Dit is nie okei nie. Die Here sê dit is sonde en daarom moet jy die persoon se belydenis aanvaar en vergifnis bied. As die persoon nie sy sonde wil erken nie, moet jy sorg dat jou kant skoon is en dit in die Here se hande los (Luk. 23:34, Rom. 12:18, 1Pet. 2:23).
As julle dinge uitgeklaar het en daar later ’n uitval is, moet jy maar weer die Bybelse pad van belydenis, versoening en vergifnis volg. As jy dit nie op jou eie kan uitwerk nie, vra ’n volwasse gelowige of jou gemeente se leiers om as middelaars op te tree. Ken Sande se boek The Peacemaker sal ook van groot waarde wees.
***
Onthou wat Jesus gesê het: “Gelukkig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.” (Matt. 5:9). Moet dan nie net sê dat jy ’n kind van die Here is nie, maar wys dit deurdat jy ’n vredemaker is. Wees soos John Bunyan wat voor sy dood 50 myl te perd afgelê het om vrede tussen ’n pa en sy seun te bewerk. Met Bunyan se terugkeer het dit hard gereën. Hy het siek geword en gesterf.5
Eintlik moet jy nie soos John Bunyan wees nie, maar soos die grootste Vredemaker van almal: Jesus Christus wat sy lewe vir ons afgelê het, sodat ons vrede met God kan hê (Rom. 5:1).
1 Wayne Mack, Your Family God’s Way (Phillipsburg, New Jersey: P&R Publishing, 1991), 181-2
2 Doug Wilson, Reforming Marriage (Moscow, Idaho: Canon Press, 1995), 68
3 Ibid., 74
4 Aanhalings uit die 2020-Vertaling.
5 John Piper, 21 Servants of Sovereign Joy (Wheaton, Illinois: Crossway, 2018), 161