Open/Close Menu Ken Christus, Maak Christus Bekend

Efesiërs 6:4

John Paton vertel dat sy pa hulle sonder uitsondering twee keer per dag in die Woord, gebed en lofgesange gelei het.1 Hy beskryf sy pa se smeekgebede gedurende hierdie tye as volg:

‘…he poured out his whole soul with tears for the conversion of the Heathen World to the service of Jesus, and for every personal and domestic need, we all felt as if in the presence of the living Saviour, and learned to know and love Him as our Divine Friend. As we rose from our knees, I used to look at the light on my father’s face, and wish I were like him in spirit,—hoping that, in answer to his prayers, I might be privileged and prepared to carry the blessed Gospel to some portion of the Heathen World.’2

Die Here het mnr. Paton se gebede verhoor en drie uit die elf kinders tot die evangelie-bediening geroep met John as ’n sendeling na die kannibale van die Suid-See eilande.3

Wie weet wat die uitkoms sal wees as jy ’n konstante Christelike lewe lei en jou kinders getrou van die Here leer? “Rig die jongmens af ooreenkomstig die pad

wat hy moet loop; selfs wanneer hy oud geword het, sal hy nie daarvan afwyk nie.” (Spr. 22:6)? Alhoewel ons nie altyd ’n goeie uitkoms kan verseker nie, kan ons deur middel van huisgodsdiens ’n rotsvaste fondasie vir ons kinders se lewe en toekoms lê.

 

1. Wie moet huisgodsdiens lei?

Ek ken ’n vrou met ’n sterk Christelike karakter. Sy het ’n positiewe invloed op haar kinders. Tog erken sy dat haar man die gesin moet lei (5:23, 1Tim. 3:4, 12). Beteken dit dat hy alleen God se Woord vir die gesin moet leer en moet bid? Nee, maar dit beteken dat hy die leiding moet neem en moet toesien dat huisgodsdiens gereeld plaasvind (v.4). Om dit effektief te doen, moet hy self deur gereelde stiltetyd met die Woord en die Gees gevul word (5:18, Kol. 3:16, Ps. 1:2, 119:97, Mark. 1:35, Luk. 5:16, 1Tess. 5:17). Dit is nie genoeg dat hy die Woord lees en bid nie. Hy moet die God van die Bybel liefhê en Hom gehoorsaam, sodat sy kinders ’n voorbeeld het om na te volg (Deut. 6:1-9). ’n Pa wat vir sy kinders die Bybel leer maar dit nie doen nie, sal hulle van Jesus en die evangelie afsit. Laat jou lewe daarom ’n kommentaar op die Bybel wees, sodat jou kinders dit kan lees en navolg (1Kor. 4:16, 11:1). Erken en bely as jy ’n verkeerde voorbeeld gestel het (1Joh. 1:9).

Vir jou kinders om jou voorbeeld na te volg, moet jy baie by die huis wees. As jy by tye weg werk, sal dit goed wees as jy elke dag oor WhatsApp huisgodsdiens hou. Indien dit nie moontlik is nie, moet die ma die kinders leer (Spr. 1:8, 31:1, 26, 1Tim. 2:15). Dit is veral nodig as die man ’n ongelowige is (2Tim. 1:5, 3:15, Hand. 16:1). As albei ouers ongered is, moet die grootouers of ander geredde familielede die kinders vir die Here beïnvloed. So het Timoteus se ouma (2Tim. 1:5) en John Elias se oupa gedoen.4

Dit is nie hoofsaaklik die kerk en Sondagskool se plig om jou kinders van die Here te leer en hulle in sy Woord te onderrig nie. Jý moet hulle leer (v.4). En tog kan die kerk help deurdat ouers en kinders teenwoordig is wanneer daar uit die Bybel voorgelees en gepreek word (v.1-4, Deut. 31:9-13, Jos. 8:35, Neh. 8:3-4). Laat jou kinders onder die geklank van die Woord groot word. Hiervoor moet die leraar eenvoudig genoeg preek, sodat die kinders kan verstaan. As die Woord verstaanbaar verkondig word, sal kinders en volwassenes dit begryp en kan volwassenes dit by die huis vir hulle kinders leer (v.4, Deut. 4:10, 31:12-13, 2Sam. 6:18, 20, Neh. 8:14).

Waar ’n kind uit ’n ongelowige familie kom, kan individuele Christene hom met die evangelie beïnvloed. Wyle Martin Holdt het dit met sy bure se dogters gedoen. Hy het hulle kerk toe genooi waar albei van hulle later tot bekering gekom het. Ek hoop om dieselfde met ons bure se kinders te doen. Ek hoor gereeld hoe hulle buite speel. Ek het vir hulle redding begin bid en soek ’n geleentheid om ’n gereelde jeugbyeenkoms te reël, sodat ons hulle vir die Here kan bereik.

 

2. Hoe moet jy dit lei?

In die eerste plek moet jy jou kinders die evangelie leer (hfst. 1-3). Besef dat hulle in sonde gebore is en geestelik dood is (2:1-3, Ps. 51:7). God moet hulle opwek om die waarheid te verstaan, in Jesus te glo, hulle te bekeer en nuut te lewe (2:4-10).

Moenie aanneem dat jou kinders gered is en dat hulle name in die boek van die lewe geskryf is nie. My ouma se predikant het dit geglo. Toe ek een Sondag saam met haar kerk toe is, toe doop die predikant ’n baba en sê: ‘Hierdie kind se naam is nou in die boek van die lewe.’ ’n Ander predikant het vir my vriend gesê dat hy nie die evangelie met sy kinders deel nie. Wat hom betref is hulle redding ’n gegewe. ’n Sekere Gereformeerde predikant sê dat dit hom bekommer dat sekere predikante in sy denominasie aanneem dat die kinders van gelowige ouers weergebore sal word. Maar onder die Nuwe Testament is jy nie outmaties deel van God se volk, omdat jou ouers die Here ken nie. Om deel van die verbond te wees, moet die Here jou nuut maak, sy wet op jou hart skryf en jou sonde vergewe (Jer. 31:31-34, Eseg. 36:25-27, Joh. 3:3, Tit. 3:5-7, Heb. 8:8-12).

Deel daarom die evangelie met jou kinders. Doen dit veral as jy hulle vir sonde tugtig. Moet hulle nie ’n halwe en onbybelse evangelie sonder God se heiligheid, die hel, Jesus se kruisdood vir ons sonde, bekering en geloof leer nie. Ek ken ouers wat dit doen. Hulle laat na om oor die hel te praat, omdat hulle die kinders nie wil bang maak nie.

Gebruik ook Bybelse terme wanneer jy die evangelie deel. Jou kinders sal dit nie verstaan nie, maar jy kan dit illustreer en verduidelik. Dit is wat John Piper met sy dogter gedoen het. Toe sy 6 jaar oud was, het sy hom gevra wat regverdigmaking beteken. Hy het dit aan hand van ’n illustrasie verduidelik:

Twee mans word van ’n misdaad beskuldig. Toe hulle in die hof verskyn, toe word een van hulle skuldig bevind en die ander een onskuldig. Die regter het die onskuldige man regverdig verklaar en gesê dat hy ’n wetsgehoorsame burger is. ‘Jy is vry om te gaan,’ het hy gesê. Vir die skuldige het hy gesê: ‘Ek beskou jou as ’n wetsgehoorsame burger; jy is vry om te gaan.’

Piper se dogter het hom verward aangekyk. Sy het geweet dat die oortreder gestraf moes word. Piper het uit Rom. 4:5 verduidelik dat God die goddelose regverdig verklaar. ‘Ek en jy is so skuldig soos die tweede misdadiger. Jesus het die wet in ons plek nagekom en die straf vir ons wetsoortreding gedra. As jy op Jesus vertrou, sal die Regter sy lewe en dood in jou plek aanvaar en jou regverdig verklaar. Jesus is jou geregtigheid en jou strafdraer.’5

Wanneer jy die evangelie met jou kinders deel, moet jy nie dinge sê wat nie in die Bybel staan nie. Die Bybel sê byvoorbeeld nie dat jy jou hart vir die Here moet gee nie. Toe ’n ma dit vir haar kind sê, toe kniel hy langs sy bed en maak hy die knope van sy naghemp los. Hy was bekommerd dat Jesus nie deur sy nagklere in sy hart kon inkom nie.

Deel die evangelie reg. Gebruik byvoorbeeld Jes. 6:1-7. Sê vir jou kinders dat God ’n groot en wonderlike Koning is. Al die engele en ander hemelwesens aanbid Hom. Sy glans is so helder, dat hulle nie direk na Hom kan kyk nie. Hulle sê dat Hy uniek en spesiaal is en dat die hele aarde dit weet. Toe Jesaja Hom sien, het hy gebewe. Hy was baie bang en het geweet dat hy ’n sondaar is. Hoe kan ’n sondaar voor hierdie perfekte God staan; voor hierdie God wat sonde haat? Een van die hemelwesens het vir Jesaja gesê dat God ’n offer sal voorsien om die straf vir sy sonde te dra. Op grond hiervan het die Here Jesaja se sonde vergewe. Soos Jesaja moet ons erken dat ons sondaars is. Ons kan nie na God toe kom nie. As Hy ons op grond van Jesus se offer vergewe, kan ons voor Hom staan. Ons ontvang hierdie vergifnis as ons in Jesus glo.

Indien jou kind onder sonde oortuiging kom, moet jy dit nie met bekering verwar (2Kor. 7:10) en hom van sy redding verseker of hom manipuleer om ’n sondaarsgebed te bid nie. Leer hom eenvoudig die Woord en laat dit aan die Heilige Gees oor om hom van sy sonde te oortuig, wedergeboorte te skenk en sekerheid van redding te gee (Joh. 3:5, 16:8, Rom. 8:16, 1Pet. 1:3, 23, 25). Terwyl jy die Heilige Gees vertrou, moet jy jou kinders aanhoudend in die vermaning van die Here opvoed (v.4, Gk. ektrephete). Huisgodsdiens is nie iets wat jy nou en dan doen nie. Doen dit gereeld—daagliks as jy kan. Skerp die Woord by jou kinders in, totdat dit die bril word waardeur hulle die lewe sien (Deut. 6:7). Doen dit deur formele en informele instruksie (Deut. 6:7).

Formele instruksie

Ek verwys hier na amptelike huisgodsdiens. Dit gebeur nie spontaan nie. Jy moet ’n vasgestelde tyd kies. Moet dit nie voor afsprake of jou kinders se sportoefening doen, sodat jy dit aframmel nie. Kort voor bedtyd werkook nie die beste vir kleintjies nie. Hulle is moeg en hulle aandag dwaal. Na etes behoort goed te werk. Hou dit kort as jou kinders klein is; 15-30 minute is goed vir ouer kinders. Samuel Lee (1627-1691) het gesê: ‘A young plant may quickly be overloaded with manure and rotted with too much watering.’6

Hoe moet jy die tyd wat jy vir huisgodsdiens afstaan, indeel? Die Bybel skryf nie voor nie; solank jy jou kinders die Woord leer, bid en die Here met lofgesange prys. Ek en my gesin doen dit as volg:

[a] Almal moet regop sit. Niemand mag lê of speel terwyl ons besig is nie. Ek wil my kinders leer om respek vir God en sy Woord te hê.

[b] Ek of iemand anders open met gebed. Ons bid dat die Here ons oë sal open om sy Woord te verstaan (Ps. 119:18).

[c] Ons lees stelselmatig deur ’n Bybelboek. Ek lees ’n paar verse en verduidelik soos ons aangaan. Ek vra vrae en gee toepassings. Dit lei tot bespreking. Die evangelie bly sentraal, asook hoe die Here wil hê dat ons moet lewe (v.4, Matt. 28:19-20, 2Tim. 3:16). Toe my kinders klein was, het ek nie gelees nie, maar ’n Bybelstorie vertel om hulle aandag te hou. Wees evangelies as jy dit doen. Waak ook dat jy nie die Bybelkarakter die held maak nie. God is die held. Die manier om Bybelstories toe te pas, is nie om alles te doen wat die Bybelkarakter gedoen het nie. Die feit dat Dawid vir Goliat met ’n klip gegooi het, beteken nie ons moet klippe gooi nie. Die les is dat God mag het om sy vyande te oorwin. Dit is wat Jesus aan die kruis gedoen het toe Hy ons sonde, die dood, die duiwel en die hel oorwin het.

Toe ek dit vir my kinders vertel, het hulle kort na ons huisgodsdiens op die klimraam gespeel. ‘Kom ons gooi klippe,’ het my oudste dogter gesê. My seun was omgeroer: ‘Het jy nie nou-net gehoor wat pappa gesê het nie? Die feit dat Dawid klippe gegooi het, beteken nie ons moet klippe gooi nie.’

Doen jou bes om die Bybelstorie akkuraat te vertel. Meet die Kinderbybel aan God se Woord, sodat jy jou kinders nie verkeerd leer nie. Let ook op hoe jy die storie vertel. Moenie vir jou kinders Veggietales wys nie. Dit sal vir hulle ’n lae beeld van God gee. In een episode word Moses as ’n agurtjie (Eng. gherkin; pickle) uitgebeeld. God praat uit die brandende bos met die agurkie. Kinders moenie hierdie verkeerde beeld van God kry nie. Hulle moet Hom vrees, bewonder en begeer om Hom te ken.

[c] Ons leer die kategismus, sodat ons groot waarhede in kort sinne kan saamvat. Ek gebruik die Westminster Shorter Catechism (alhoewel ek oor die doop verskil). Toe my kinders klein was, het ons die kategismus vir kinders gebruik. Hulle het al 114 vrae gememoriseer. Aanvanklik was dit pappegaaiwerk. Hulle het nie geweet wat hulle sê nie. Soos hulle ouer geword het, het ek die vrae en antwoorde verduidelik. Ons doen dit nog steeds en meet die kategismus aan die Bybel. By tye het ons bypassende verse gememoriseer. Dit help ons om Ps. 119:11 uit te voer: “In my hart koester ek u woord, sodat ek nie teen U sondig nie.”

[d] Ek of iemand anders lees ’n bladsy of twee uit ’n goeie Christelike boek. Ons bespreek dit indien nodig. Ons meet wat ons lees aan die Bybel as ons hoofbron. Ons wil ons kinders immers in die vermaning van die Here opvoed (v.4).

[e] Ons sing saam. Moenie lawwe en onbybelse liedjies vir jou kinders leer nie. Dit leer hulle nie eerbied vir Jesus as jy sing:

Ek spring soos popcorn as ek vir Jesus spring,

popcorn as ek vir Jesus sing,

popcorn want ek is baie bly

Jesus het gekom vir jou en myyyy.

Net so is dit nie Bybels om te sing:

Vader Abraham het baie seuns,
Baie seuns het Vader Abraham.
Ek is een van hul en so ook jy,
Kom sing saam en wees bly.

Dit is nie waar dat gelowiges se kinders die kinders van Abraham is nie. Gal. 3:7-9 sê duidelik dat slegs gelowiges die kinders van Abraham is.

Jy kan vir jou kinders eenvoudige liedjies leer as hulle klein is:

Daar’s vissies in die water,

kyk hoe swem hulle rond.

Daar’s voëltjies in die lug

en daar’s diere op die grond.

Daar’s blomme in die velde,

daar’s riete in die vlei.

Wie sou dit als gemaak het?

Die Here, ja dis Hy!

Memoriseer Bybelverse deur sang. Deut. 31:19 sê: “Teken dan nou hierdie lied vir julle op en leer dit vir die Israeliete; lê dit vir hulle in die mond, sodat hierdie lied vir My ’n getuie kan wees teen die Israeliete.” Volgens Kol. 3:16 moet God se Woord ons harte vul en moet ons dit sing: “Laat die woord van Christus in sy volle rykdom in julle woon. Leer en vermaan mekaar, in alle wysheid, deur met dankbare harte psalms, lofgesange en geestelike liedere tot eer van God te sing.”

Om verse deur sang te memoriseer, kan jy vir jou Steve Green se CD’s vir kinders aanskaf: Hide ‘em in your Heart vol. 1 & 2. Soos wat jou kinders ouer word, kan jy hulle diep teologiese waarhede deur sang leer. Baie van die ou gesange is goed. Stuart Townend, Keith en Kristyn Getty en Sovereign Grace se musiek is baie Bybels.

[f] Bid saam. Toe my kinders klein was, het ons hulle in gebed gelei. Die oomblik toe hulle kon praat, het ons hulle geleer om te bid: ‘Dankie Jesus. Amen.’ Vandag kry elkeen van hulle ’n beurt om te bid. Ons bid vir ons gemeente, ouderlinge, die prediking, sendelinge, bekerings, vir mekaar, die siekes en dringende versoeke. Ons dank die Here vir antwoorde op gebed.

 

Informele instruksie

Leer jou kinders die Bybel as dinge deur die dag opduik. Dit is ’n Bybelse beginsel om met jou kinders oor die Here en sy Woord te praat as julle op reis is (Deut. 6:7, 11:19). Ek onthou een spesifieke gesprek wat ons in die kar gehad het. Ons het met ons kinders gepraat oor hoe mens die regte huweliksmaat kies. Dit was interessant om hulle opinies en gedagtes te hoor en om hulle in die Bybel te skool.

Gee jou kinders ’n Bybelse perspektief op wat vriende en onderwysers by die skool sê; oor wat hulle op die internet, sosiale media, in films en op televisie sien; oor wat rondom hulle in die wêreld aangaan. Ek dink aan dinge soos die volgende:

  • Evolusie in die handboek.
  • Die onderwyser wat sê dat alle godsdienste gelyk is.
  • ’n Skamele gekleede vrou op ’n advertensiebord.
  • ’n Advertensie wat sê dat jy hulle produk nodig het of dat jy twee ure per dag kan werk en binne ses maande ’n miljoenêr kan wees.
  • Rassistiese opmerkings deur Julius Malema of iemand anders.
  • ’n Vrou wat haar hare soos ’n man s’n skeer en soos ’n man aantrek.
  • Graad 4 kinders in jou seun se klas wat selfone het en op TikTok is.
  • Aknee op jou seun se gesig.
  • Jou kind se kamer wat onnet is, terwyl hy op die bed lê en iPad speel.
  • Iemand naby jou wat sterf.
  • Jou gesin wat Finding Nemo kyk. Die pa is ’n swak karakter wat sy seun nie kan beheer nie, terwyl die seun die held is.
  • ’n Christen familielid wat aan ’n ongelowige verloof raak.
  • ’n Gay paartjie wat jou na hulle troue toe nooi.
  • ’n Werklose Christen wat by ’n kroeg werk kry.
  • Aborsie plakate teen die lamppale in jou woonbuurt.

Gee jou kind ’n Bybelse perspektief op hierdie dinge. Hiervoor moet jy die Bybel ken en uitvind as jy nie weet nie. Spreuke is goed as jy jou kinders oor die lewe wil leer: ‘My seun… my seun…’ (Spr. 1:8, 2:1, ens.). Spreuke sluit waarskuwings in. Die pa waarsku sy seun teen verkeerde vriende, slegte vroue, verslawing, geldgierigheid, ’n kort humeur, rebellie, luiheid en meer.

Dit is ook wat Paulus bedoel as hy in v.4 sê jy moet jou kinders vermaan. Die Grieks vir vermaning (nouthesia) beteken letterlik waarskuwing deur lering, sodat die kind deur ’n gedagteproses God se oplossing bereik. Dit beteken nie jy kan jou kind deur sy intellek red nie (kontra 1Kor. 1:21), maar dat die pad na sy hart deur die verstand loop (Rom. 12:2, Ef. 4:23). Bid dat die Heilige Gees sy verstand sal open om die waarheid te verstaan (Hand. 16:14).

Wat sal gebeur as jy nalaat om jou kinders te waarsku en hulle in die Bybel te onderrig? Die wêreld sal hulle ’n verkeerde en verdraaide uitkyk op die lewe gee (Rom. 12:2). Leer hulle reg, sodat hulle nie op die verkeerde pad beland en verlore gaan nie (Rigt. 2:10-12, Ps. 78:3-8). Doen wat Abraham gedoen het en voed jou kinders in die Here se weë op (Gen. 18:19). Wees soos Josua en Jakob wat hulle gesinne gelei het om die Here te dien (Gen. 35:1-15, Jos. 24:15).

As jy jou gesin getrou deur jou voorbeeld en lering onderrig, sal die Here julle gebruik om ongelowiges vir Hom te wen en gelowiges te beïnvloed (1Kor. 16:15, 1:16, 2Tim. 1:16-18, 4:19). Wees die mondstuk deur wie die Here jou kinders kan leer (v.4) en die regte weg kan wys, sodat hulle Hom sal ken en die ewige lewe mag hê (Joh. 17:3). Die kanse is goed dat dit so sal wees. Handelinge praat van hele gesinne wat die Here gedien het, omdat die hoof van die huis dit gedoen het (Hand. 2:39, 11:14, 16:15, 31-34, 18:8).

Ek het dit onlangs in ’n vriend se gesin gesien. Hy is ’n model en voorbeeld van hoe iemand sy gesin vir die Here moet lei. Buiten dat hulle elke Sondag by hulle gemeente betrokke is, poog hy om sy gesin twee keer per dag in huisgodsdiens te lei. Hy sal die vrug hiervan sien as sy kinders ouer is. Dit is reeds duidelik dat die Here in hulle harte werk. Die afgelope week het sy 12 jarige dogter ’n brief geskryf om hom vir sy geestelike leiding te dank en te vra dat hy haar meer sal leer. Sy het gesê:

‘I believe Christ is King of kings, and Lord of lords. I believe and trust that Jesus died for my sins. I was guilty and evil but he loved me so much he died for me. Would you please talk and help me more on this? I want to give my life to Christ, and I don’t want to fall away like so many others. The days are short, and we do not know when Christ will come. I do not want to be taken by surprise. I want to say, yes I am a Christian.’7

Ek weet dat ons kinders se redding nie in ons hande is nie, maar in die Here s’n. Tog kan ons hulle deur ons voorbeeld, Bybelse dissipline en getroue huisgodsdiens na die Verlosser toe wys.


1  John G. Paton: Missionary to the New Hebrides (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1965 [1889, 1891]), 14

2  Ibid., 21

3  Ibid.,15

4   Iain Murray, Seven Leaders: Preachers and Pastors (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2017), 3-5

5  John Piper, Counted Righteous in Christ (Wheaton, Illinois: Crossway Books, 2002), 28-30

6  In Jeff Pollard & Scott T. Brown, A Theology of the Family (Wake Forest, North Carolina: NCFIC, 2014), 138

7  Gebruik met toestemming.