Coram Deo Cover Image

Coming soon...

11 September 2021

Familie, Huisgesin en Huwelik: Genesing na Egbreuk

Hosea 3

Op 10 Desember 1914 het ’n vuur in Thomas Edison se fabriek uitgebreek. Hy het vir sy seun gesê: ‘Go get your mother and all her friends. They’ll never see a fire like this again.’ Toe sy seun beswaar aanteken, toe sê hy: ‘It’s all right. We’ve just got rid of a lot of rubbish.’ Hy het die volgende dag begin om te herbou. Daar was byna $1 miljoen se skade. Edison het geld by Henry Ford geleen. Binne die volgende jaar het Edison byna $10 miljoen gemaak.1

Ongelukkig is ’n huwelik nie ’n fabriek nie. As dit afbrand, is dit nie maklik om te herbou nie. Jare na haar man egbreuk het gepleeg het, het ’n vrou my met groot hartseer daarvan vertel. Alhoewel dit moeilik is om ’n huwelik te herbou, is dit deur die Here se genade moontlik. Ek weet van twee gevalle waar dit suksesvol gebeur het.

 

Liefde (v.1-2)

Die wêreld verwar liefde met verliefdheid en vlinders in die maag. Volgens die Bybel is liefde meer as ’n gevoel. Dit gaan oor toewyding en opoffering waardeur jy iemand anders se belange bo jou eie stel (1Kor. 13:3-7, 1Joh. 3:16-18). Hosea het dit gedoen toe hy Gomer terugvat na sy egbreuk gepleeg het (v.1). Ek twyfel of hy verlief was. Hy wou die Here eer en die huweliksverbond herstel. Dus het hy haar weer liefgehad soos die Here Israel liefgehad het na sy geestelike egbreuk gepleeg en rosynkoeke vir Baäl geoffer het (v.1, 2:15-16, Jer. 3:20).

              In 1:2 het Hosea met ’n prostituut genaamd Gomer getrou. Terwyl hulle getroud was, het sy kinders by ’n ander man gehad (1:8-9). Die Hebreeuse pi’el of intensiewe vorm beteken sy was baie ontrou. Is jy in so ’n huwelik? Was jou maat ontrou soos Gomer? Die Here verstaan jou pyn en kan jou help om daardeur te kom (Heb. 4:15). Volg die Bybel as jy besluit om jou huwelik te herbou. Vra jouself wat tot die verbrokkeling van die huwelik gelei het en werk daaraan. Was dit swak kommunikasie, bitterheid, seksuele koudheid, bakleiery oor geld, skoonfamilie probleme, ’n onbybelse beskouing van die huwelik, ’n verkeerde toepassing van die huweliksrolle, pornografie of iets anders? Is jy die skuldige party? Bely jou sonde aan God (Psalm 51). Moet jouself nie aanhou slaan as die Here jou vergewe het nie. Bid die volgende verse: “Aan die sondes van my jeug en my oortredings moet U nie dink nie; dink aan my in u troue liefde, omdat U goed is, Here.” (Ps. 25:7). “So ver as wat die ooste verwyder is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredings van ons.” (Ps. 103:12). “Ek, ja, Ek is die Een wat ter wille van Myself jou oortredings telkens uitgewis het, jou sondes nie in herinnering geroep het nie.” (Jes. 43:25). “Ek het jou oortredings soos ’n newel, jou sondes soos ’n wolk weggevee. Keer terug na My, want Ek het jou losgekoop.” (Jes. 44:22). “Wie is ’n God soos U? U is ’n God wat skuld vergewe, wat by die oortreding verbygaan tot voordeel van die oorblyfsel van sy eiendom, wat nie vir altyd vasklem aan sy toorn nie, maar wat vreugde vind in troue liefde, wat ons weer genadig sal wees, ons skuld sal vertrap. U sal al ons sondes in die dieptes van die see gooi.” (Miga 7:18-19). “In Hom het ons die bevryding deur sy bloed, die vergewing van ons oortredings uit die rykdom van sy genade” (Ef. 1:7). “Ek sal genadig wees oor hulle ongeregtighede, en aan hulle sondes sal Ek glad nie meer dink nie.” (Heb. 8:12). “maar as ons in die lig leef, soos wat Hy in die lig is, is ons aan mekaar verbonde, en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde... As ons ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, en daarom sal Hy ons ons sondes vergeef en ons van alle kwaad reinig.” (1Joh. 1:7, 9).

              Bely ook jou sonde aan jou lewensmaat. Wees spesifiek oor jou egbreuk, skynheiligheid en leuens. Moenie die sonde verskoon of jou maat blameer nie. Erken dat jy skuldig is en vra om vergifnis. Vergewe jou as maat as hy of sy skuld erken (Luk. 17:3-4). Onthou hoe die Here jóú sonde vergewe het en doen dit vir jou maat: “terwyl julle mekaar vergewe, soos God in Christus julle ook vergewe het.” (Ef. 4:32). Moenie oor die situasie dagdroom en die saak vir jou maat of ander mense ophaal nie: “Aan hulle sondes en aan hulle wettelose dade sal Ek glad nie meer dink nie.” (Heb. 10:17). Bid die Here se seën oor jou maat en jou huwelik as gedagtes van die verlede opkom; dank die Here vir sy vergifnis en herstel (2Kor. 10:4-5, Fil. 4:8). As jy jou maat nie vergewe nie, sal die Here jou nie vergewe nie (Matt. 6:12, 14-15). Los daarom die saak by die Here en vertrou Hom om jou deur te help (1Pet. 2:23, 4:19, 5:7). Dink aan sy liefde vir jou. Sien dit veral in die kruis as jy die nagmaal herdenk (Rom. 5:8, 1Joh. 3:16, 4:10). Luister na preke oor die kruis. Dink aan die bebloede Lam van God wat vir jou sonde aan die kruis gesterf het. So kan jy jou maat vergewe en liefhê soos Jesus jou liefgehad het (v.1, 1Joh. 4:19). In v.2 het ons ’n voorskou hiervan: Hosea het sy vrou vir 15 sikkels silwer en 330 liter gars teruggekoop. Die gars sou vir die uitstaande sikkels opmaak, aangesien ’n slaaf vir 30 sikkels silwer verkoop is (Eks. 21:32). Hoe het Gomer ’n slaaf geword? Die man met wie sy egbreuk gepleeg het, het haar verkoop. Sy het dit nie verwag nie (v.2). Min mense wat egbreuk pleeg, dink die ander persoon sal hulle los. ’n Vrou wat egbreuk pleeg, besef nie die man het haar nie lief nie. Hy soek iemand om sy luste te bevredig. Hy sal jou soos ’n vrot vel los as hy jou klaar gebruik het (v.2). ’n Man wat egbreuk pleeg besef nie die vrou het hom nie lief nie. Sy soek sekuriteit, daarom val sy baie keer vir iemand met geld. Mens sien dit in die feit dat ’n huwelik wat as ’n buite-egtelike verhouding begin het, maklik op die rotse beland, omdat dit van die begin af op selfsug gebou is. ’n Christelike huwelik daarenteen is op ware liefde gebou. Hosea het sy vrou liefgehad en haar teruggekoop (v.1-2). Dit het hom iets gekos (v.2). Om ’n gebroke huwelik te herbou sal jou vergifnis, gebed, opoffering, tyd, moeite en trane kos. Matt. 19:9 gee jou die opsie om te skei. As jy egter besluit om jou huwelik te herbou, moet jy nie na ’n jaar sê jy het ’n fout gemaak nie. As jy kies om jou huwelik te herbou, moet jy dit met jou hele hart doen. Gee jou beste net soos Jesus vir 30 stukke silwer verkoop is en sy lewe gegee het om ons sy bruid te maak (v.2, Matt. 26:14-16, Ef. 5:25). Deur hierdie selfde kruisdood kan jy jou verkoolde huwelik herbou. Joël 2:25 is van toepassing: “Ek sal julle vergoed vir die jare toe die treksprinkane, die voetgangers, die kaalvreters en die ruspes alles opgevreet het”.

 

Groeipyne (v.3)

Ek en my vrou is baie gelukkig getroud. Hoe langer ons getroud is, hoe liewer het ons mekaar. Dit was nie so vir die eerste 5 tot 7 jaar nie. Daar was groeipyne en ons moes mekaar vind. So was dit vir Hosea en Gomer toe hulle hulle huwelik herbou. Gomer moes vir ’n lang tyd by die huis bly en nie rondloop nie (v.3). Sy en Hosea sou vir ’n hele maand nie seksueel verkeer nie (v.3, Deut. 21:10-13). Dalk was dit om hulleself soos in 1Kor. 7:5 aan die Here te wy: “Moet julle nie van mekaar weerhou nie, behalwe as julle ooreenkom om dit vir ’n tyd lank te doen om julle aan gebed te kan wy.” Daarna sou hulle weer bymekaar kom. Om na egbreuk ’n seksuele verhouding te herstel, neem tyd. Tog kan jy dit nie onbepaald uitstel nie. Dit is ’n belangrike deel van die huwelik wat sal help dat niemand verder versoek word nie (1Kor. 7:2-5). Hoe sal jy weet as jy en jou maat gereed is vir seks? Moenie by seks begin nie. Wen eers jou maat se vertroue terug. Moenie kwaad word as jou maat lank vat om te vertrou nie. Jy was in die verlede oneerlik en het trou gebreek. Wees geduldig en werk hard om die vertroue te herstel. Doen dit deur in klein dinge oop en eerlik te wees (Ef. 4:25). Sê waar jy gaan, al het jou maat nie gevra nie. Gaan dadelik huistoe as jy klaar gewerk het. Probeer om nie laat te werk nie. Vat jou maat saam as jy buite werksure êrens heen gaan. Verbreek alle kontak met die derde party (Gen. 39:10, Spr. 5:8). Moenie sê jy wil vriende bly, omdat die persoon deur ’n moeilike tyd gaan of dreig om selfmoord te pleeg nie. Jy is nie die persoon se verlosser nie. As jy kontak hou, gee jy jou maat rede om agterdogtig te wees. Toe ’n man en vrou my hieroor kom sien, was die man vol berou oor wat hy gedoen het. ’n Paar weke later het hy op Facebook met die ander vrou kontak gemaak. Hy het homself in die voet geskiet en sy vrou se vertroue gebreek. Verwyder die persoon van jou vriendelys af. Blok haar nommer op jou foon; vee dit uit. Verander jou nommer as dit nodig is. Gee jou lewensmaat volle toegang tot jou rekenaar, selfoon en bankrekening. Installeer gratis sagteware om jou maat te verseker dat jy niks wegsteek nie, maar oop kaarte speel. Raak ontslae van geskenke wat jy by die derde party gekry het. Kontak die persoon en verbreek die verhouding, terwyl jou leraar, ’n betroubare vriend of jou lewensmaat by jou sit.

     Is jy die onskuldige party? Moenie polisieman speel en elke uur bel om te hoor wat jou maat doen nie. Jou maat sal soos ’n gevangene voel en wil uitbreek. Net God is 24/7 by jou maat. As jou lewensmaat ontrou is, sal die Here dit uitbring (Num. 32:23). Moenie jou huweliksprobleme met iemand van die teenoorgestelde geslag bespreek nie. Jy kan maklik in ’n emosionele of seksuele strik beland. Moenie probeer verstaan hoe jou maat vir iemand geval het wat leliker is as jy nie. Sonde maak mens onnosel. Moet jouself nie vir jou maat se sonde kasty nie. As jy wel op sekere gebiede skuldig was (soos om seks te weerhou), moet jy dit bely en aanbeweeg. Moenie op Facebook soek om te sien hoe die ander persoon lyk nie. Moenie die derde party se maat kontak om die situasie te bespreek nie. Moenie oor die detail van jou maat se egbreuk uitvis nie: ‘Hoe baie het julle dit gedoen... Doen sy dit beter as ek... Wat het julle gedoen?’ Hierdie inligting help nie en sal net tot bitterheid lei. Moenie na ’n paar maande traag raak om jou maat aanspreeklik te hou nie. Beskerm jou maat teen versoeking en wys dat jy regtig jou huwelik wil red. As die vertroue herstel is, stel ek voor dat julle julle huweliksbeloftes hernu. Moet dit nie in ’n kamer by die huis doen nie; doen dit voor die Here en getuies. Teken ’n amptelike dokument wat jy raam en in jou huis ophang. Praat oor julle seksuele verhouding en werk deur die Bybelse lering oor seks. Lees C.J. Mahaney se boek Sex, Romance, and the Glory of God, of die hoofstuk oor seksuele probleme in The Christian Counselor’s Medical Desk Reference deur Robert Smith.

 

Hoop (v.4-5)

As jou maat ontrou was, voel dit of jou wêreld in duie stort. In twee gevalle het mense dit vir my gesê. Dit lyk of daar geen hoop is nie. Maar soos met Israel by die Rooi See kan die Here ’n weg maak as daar geen weg is nie. Dit is wat Hy in Hosea 3 vir Israel gedoen het. Vers 4 sê: “Want vir ’n lang tyd sal die Israeliete sonder ’n koning en hoë amptenare, sonder offers en gedenkstene, sonder efod en huisgode moet bly.” Dit verwys na die ballingskap toe die koning van Assirië die Israeliete in 722 v.C. gevange geneem het. Hulle het nooit weer teruggekeer of ’n koning gehad nie (v.4, 10:3, 7). Hulle sou nooit weer offers bring of ’n priester hê wat die efod (’n frokkie) dra nie (v.4, 9:4, Eks. 28, 39, Lev. 1-7). Hulle sou nooit weer Kanaänitiese gode en pilare aanbid nie (v.4, 10:1-2, Gen. 31:19, Deut. 7:5, Rigt. 8:27, 17:5). Volgens v.5 was daar hoop dat Israel in die toekoms sou terugkeer. Hosea bedoel nie hulle sou in 1948 na hulle land toe terugkeer nie. Hulle het van die Here af weggedraai en sou hulle in die toekoms van hulle afgode tot die Here en die Seun van Dawid bekeer (v.5, 1, Ps. 132:11, Jer. 23:5, 50:4, Eseg. 34:23, 37:24-25 Jer. 23:5, Matt. 20:30-31, 21:9, 22:41-46, Luk. 1:31-33, Rom. 11:25-26).

         Om jou huwelik met jou maat te herbou, moet jy dieselfde doen: bekeer jou tot die Here bekeer voor jy na jou maat toe terugkeer. Soek Hom tot jy Hom vind (v.5, Jer. 29:13). Eer en vrees Hom; wend jou tot sy goedheid (v.5). Sidder, omdat jy teen ’n heilige God gesondig het. Rus in sy goedheid, omdat Hy elkeen vergewe wat in Hom glo (Joh. 3:16). In Christus is daar vergifnis en herstel vir die grootste sondaar (Luk. 23:34, 43, Joh. 8:11, 1Tim. 1:13, 15). Dit geld ook vir egbrekers wat hulle tot die Here wend (Jes. 55:6-7, 1Kor. 6:9-11). Van nou af moet jy die Here vrees, sodat jy nie weer ontrou is nie (v.5). Erken sy goedheid (v.5). Moenie die duiwel se leuen glo dat Hy goeie dinge van jou weerhou, of dat jy gelukkig sal wees met iemand anders nie (Gen. 3:1, 4-5). Dank die Here vir sy vergifnis en dat Hy jou nog ’n kans gee. Dank Hom dat sy liefde onwankelbaar en vaster as die berge is (Jes. 54:10). Bid dat Hy sy liefde in jou hart uitstort, sodat jy jou maat getrou kan liefhê (Rom. 5:5). Wees in jou hart getrou (Matt. 5:27-30). Dink aan jou lewensmaat as jou gedagtes wil dwaal.

         Is jy die onskuldige party? God kon keer dat jou maat egbreuk pleeg (Gen. 20:6). Hy het nie, maar sal hierdie sonde tot jou voordeel uitwerk (Gen. 45:5, 8, 50:20, Hand. 2:23, 4:27-28, Rom. 8:28-29). Moenie net die donker wolk sien nie. Sien die silwer rand en weet daar is ’n helder son agter die wolk.

Ye fearful saints fresh courage take,

the clouds you so much dread,

are big with mercy and will break

in blessings on your head.

 

Judge not the Lord by feeble sense,

but trust Him for his grace;

behind a frowning providence,

He hides a smiling face.

 

His purposes will ripen fast,

unfolding every hour;

the bud may have a bitter taste,

but sweet will be the flower.

                    —William Cowper (1731-1800)


1  https://www.businessinsider.com/thomas-edison-in-the-obstacle-is-the-way-2014-5?IR=T

 

Kategorieë