Coram Deo Cover Image

Coming soon...

15 January 2022

Familie, Huisgesin en Huwelik: Geboortepyne

Genesis 3:16a

Met die geboorte van ons eerste kind was my vrou vir 12 ure in kraam. Sy het geweldige pyn gehad. Op die einde moes hulle ’n noodkeiser doen.

Dit is nie al wat ek met geboortepyne bedoel nie. Die Bybel sê: “Vir die vrou het Hy gesê: ‘Ek sal jou swaarkry met jou swangerskap baie erger maak; met pyn sal jy kinders in die wêreld bring.” (Gen. 3:16a).1 Waaroor gaan hierdie geboorte pyne?

 

1. God se straf

’n Ou grappie lui: mans kry verkoue, sodat hulle kan weet hoe vroue voel as hulle geboorte gee. Die punt is dat die meeste mans maar pieperig is. Hulle het nie ’n idee wat geboortepyne is nie. Die geboortepyne van v.16a is ’n unieke straf oor die vrou, omdat sy die opdrag in 2:16-17 geminag het: “Die Here God het die mens beveel: ‘Van al die bome van die tuin mag jy na hartelus eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie, want die dag wanneer jy daarvan eet, sal jy beslis sterf.’” Dié straf raak selfs vroue wat nooit kinders het nie. Jy sal later sien hoekom ek so sê.

Let op dat die straf nie van die duiwel af kom nie, maar van die Here af (v.16, 14-15). Verskeie tekste in die Bybel wys dat die Here mense onvrugbaar maak en dat Hy geboortepyne veroorsaak (20:17-18, 29:31, 30:2, Num. 5:27, 2Sam. 6:23, Hos. 9:14). Moet dan nie aflei dat die duiwel steel en verwoes as iemand ’n miskraam of moeilike swangerskap het nie. Selfs waar demone agter swangerskap probleme sit, bly God die eerste oorsaak: “Ek sal jou swaarkry met jou swangerskap baie erger maak; met pyn sal jy kinders in die wêreld bring.” (v.16a, vgl. Job 1-2, Ef. 1:11). Dit is nie anders as die persoon ’n gelowige is nie (v.16a). Volgens Gen. 16:2 en 1Sam. 1:5-6 het die Here Sara en Hanna se moederskoot gesluit. Die groot verskil tussen gelowiges en ongelowiges lê daarin dat die Here die gelowige deur haar pyne nader trek en haar meer soos Jesus maak (Rom. 8:28-29).

Bid jy oor jou swangerskap probleme? Die Here sal jou verhoor. Hy doen dit nie altyd op dieselfde manier nie. Vir sommige open Hy die moederskoot (30:22, 1Sam. 1, Ps. 113:9). Hy het dit vir ’n predikant en sy vrou gedoen wat vir nege jaar nie kon kinders hê nie. Hy het dit vir ’n Joodse vrou in Durban gedoen. Sy het vyf miskrame gehad. Haar bediende het voorgestel dat William Duma vir haar bid. ‘Is jy simpel?’ het sy die bediende geantwoord. ’n Ruk later toe kontak sy vir mnr. Duma. ‘As ek vir jou bid, moet dit in Jesus se Naam wees,’ het hy gesê. Die Jodin was kwaad en wou dit nie toelaat nie. Ek sal jou ’n paar minute gee om daaroor te dink. Na sy vir tien minute daaroor gedink het, toe sê sy: ‘Dit is reg.’ Duma het vir haar gebid en ’n paar maande later toe besoek sy en haar man mnr. Duma se gemeente. Sy was byna nege maande swanger. Toe die seuntjie gebore is, het die Joodse paartjie mnr. Duma gevra om hospitaal toe te kom om vir hom ’n naam te gee.2

Soms is in vitro-bevrugting die Here se antwoord: ’n mediese tegnologie waardeur hulle ’n man en ’n vrou se saad oes, due eiersel bevrug en dit in die vrou se baarmoeder plant. ’n Paar jaar gelede het ’n vrou in ons gemeente so swanger geraak.

Enkele Bybelse beginsels is in orde as dit by in vitro-bevrugting kom. Dit is nie vir ’n ongetroude persoon, ’n saambly-paartjie of homoseksueles mense bedoel nie. ’n Kind het ’n getroude pa en ma nodig (Psalm 128) en dus is in vitro-bevrugting vir hulle bedoel.

Verder moet die man en vrou se saad apart gevries word. Dit raak problematies as jy die embrios vries. ’n Embrio is ’n menslike lewe en daarom moet jy almal inplant. Om die oortollige embrios te vernietig, is moord. Omdat ’n mens net soveel embrios kan inplant, is dit beter om die man en die vrou se saad apart te vries.

Wat van embrio-aanneming? Omdat baie mense nie die oortollige embrios wil vernietig nie, gee hulle dit op vir aanneming. Ek ken ’n paartjie wat ’n kind so aangeneem het. Hulle het die embrio in die ma se baarmoeder ingeplant. Sy het dit vir nege maande gedra en vandag is haar kind twee jaar oud. Onthou dat Jesus se stiefpa Hom aanvaar het, terwyl Hy nog in sy ma se baarmoeder was. As jy ’n embrio aanneem en inplant, red jy ’n lewe.

Dit beteken nie dat surrogaatskap noodwendig ’n goeie idee is nie. Surrogaatskap gebeur as ’n vrou om een of ander rede nie ’n bevrugte eiersel in haar baarmoeder kan dra nie. In so ’n geval besluit party paartjies om ’n surrogaat ma te vra om namens hulle die embrio te dra. Dit is gevaarlik, omdat dit maklik tot jaloesie, bitterheid en ’n bakleiery kan lei (vgl. die beginsel in Gen. 16:1-6). Die beste is dat die man en sy vrou hulle saad gee, sodat die embrio in die ma se baarmoeder ingeplant kan word. Indien dit nie moontlik is nie is gewone aanneming ’n opsie (Jak. 1:27).

Wat as jy nie in vitro-bevrugting of aanneming kan bekostig nie? Wag die op Here. Abraham en Isak het albei vir dekades gebid voordat hulle kinders kon hê (11:30, 12:4, 21:5, 25:20-21, 26). Hoe lank moet jy bid? Jerry Bridges sê: ‘How do we know how long to pray? As long as we can pray trustingly, with an attitude of acceptance of His will, we should pray as long as the desire remains.’3

 

2. Die vrou se pyn

Wat is die ergste pyn wat jy al ooit gehad het: tandpyn, nierstene, galstene, kanker, slanggif in jou liggaam, iets anders? Geboortepyne moet seker êrens voor in die ry wees. Enige pyn is ’n gevolg van die sondeval (v.16-17). Gen. 3:16a gaan nie net oor geboorte- of kraampyne nie. Die Hebreeuse woord hayron verwys na konsepsie en swangerskap. Die vers beskryf ’n swanger vrou se pyn vir die volle termyn, emosioneel, sowel as fisiek: deurmekaar hormone, velprobleme, huilerig wees, ’n abnormale eetlus, naarheid, swaar loop, moeilik slaap, preëklampsie (lewensgevaarlike bloeddrukprobleme), infeksie, miskrame, ’n buis swangerskap, kontraksies, sukkel om te ontsluit, ’n stilgeboorte, ’n kind wat liggaamlik of verstandelik gestremd is, ’n ma wat met geboorte sterf (Gen. 35:16-19).

’n Keisersnee kan party van hierdie probleme uitskakel, maar nie almal nie. Pyn is deel van die pakket (v.16a). Die pyn van die sondeval is ’n voorskou van die ewige pyn van die hel wat ons verdien (Op. 16:10-11, 14:10-11). Hoe kan jy hierdie pyn ontvlug? Jesus het fisieke, emosionele en geestelike pyn ervaar om ons van die hel se pyn te red, sodat ons die gemak van die hemel kan hê (Matt. 27:45-46, Mark. 15:15, 23, Luk. 23:61, 16:24-25, ens.). Geboortepyn en die ander pyne van hierdie wêreld is tydelik as jy in Jesus glo. Wanneer jy by Hom is, sal jy geen pyn meer hê nie (Op. 21:4).

 

3. Die kind se pyn

Gistermiddag (15 Januarie 2022) het die worldometer se statistiek vir aborsie op 1.72 miljoen aborsies vir die jaar gestaan! Dit is meer as 113 000 aborsies per dag!

Aborsie is onder meer ’n poging om v.16a uit te skakel en nie die beslommernis van swangerskap, geboorte en ouerskap te hê nie. Maar eintlik maak dit die pyn erger. Buiten vir die kind se pyn en dood, verkrag die ma haar eie gewete. Sy gaan deur geweldige trauma om te weet dat sy haar kind vermoor het.

Party mense sal sê die embrio is nie ’n kind nie, maar die Bybel stem nie saam nie. Die feit dat jy by konsepsie reeds ’n sondaar is, wys dat die ongebore baba ’n mens is (Ps. 51:7). God gee konsepsie (Rut 4:13). Dit is Hy wat die baba in die moederskoot vorm en vir hom ’n gees gee (Job 31:15, Ps. 139:13-15, Pred. 11:5 ESV).

Omdat Hy alleen lewe gee, het net Hy die reg om die kind se lewe te beeïndig. Dit is nie die ma se keuse nie. Om te sê: ‘My body, my choice,’ is verkeerd. Die baba is nie die vrou se liggaam nie maar het sy eie DNA, vingerafdrukke, hart, brein en soms ook sy eie bloedgroep. Die baba kan ’n ander geslag as die ma wees. In die geval van surrogaatskap kan die baba selfs ’n ander nasionaliteit wees. Die baba het sy eie lewe en kan voortleef as die ma dood is. Vir ’n ma om te besluit om ’n nier te verwyder is nie dieselfde as om te besluit sy wil haar baba aborteer nie.

‘Maar die kind kan nie sonder die ma leef nie,’ sal iemand sê. ‘Dit beteken dat sy die reg het om die kind se lewe te beeïndig.’ As dit waar is, beteken dit ons kan iemand tydelik van masjiene afhanklik is, laat doodmaak. Hulle kan immers nie sonder die masjiene lewe nie.

Aborsie is moord en verdien die doodstraf. Eks. 21:22-25 sê: “Wanneer mans baklei en hulle beseer ’n swanger vrou, sodat haar kind te vroeg gebore word, maar daar nie ’n ernstige besering is nie, moet die een wat haar beseer het, beslis die boete betaal wat die vrou se eggenoot hom oplê. Hy moet dit vasstel met die hulp van beregters. Maar as daar ’n ernstige besering is, moet jy bepaal: ’n lewe vir ’n lewe, ’n oog vir ’n oog, ’n tand vir ’n tand, ’n hand vir ’n hand, ’n voet vir ’n voet, ’n brandwond vir ’n brandwond, ’n wond vir ’n wond, ’n kneusplek vir ’n kneusplek.”

Enige besering op die ma of haar kind, moet gestraf word. Die feit dat aborsie die doodstraf verdien, wys dat die ongebore kind ’n mens is. ’n Man van Bangladesh het vir my gesê dat aborsie in sy land, die doodstraf verdien. Sover ek weet, is dit nie meer so nie. Dit sal egter goed wees as die weste die doodstraf vir aborsie toepas.

Enige Christen wat aborsie goedkeur, moet vra of dit sonde sou wees as Maria vir Jesus laat aborteer het. Natuurlik sou dit verkeerd wees, omdat Jesus van die baarmoeder af aan die Vader behoort het (Ps. 22:10-11). In Maria se baarmoeder het die Vader Hom voorberei om die Verlosser van die wêreld te wees (Jes. 49:1, Matt. 1:21). God het ook vir Dawid (Ps. 71:6), Paulus (Gal. 1:15) en Jeremia (Jer. 1:5) in die baarmoeder vir hulle bediening voorberei. Dit veronderstel dat ’n ongebore baba spesiaal is en dat hy ’n mens is.

Party sal sê dat die kind nie volkome mens is voor sy liggaam nie gevorm is nie. Maar beteken dit iemand soos Nick Vujicic is nie volkome mens nie, net omdat hy nie arms en bene het nie? Beteken dit ons moet hom doodmaak?

Dokters sê te maklik: ‘Die kanse is goed dat jou baba Down Sindroom is; ek stel voor dat jy aborteer.’ In daardie geval moet ons alle Down Sindroom mense uitsoek en hulle doodmaak, nie waar nie?

God het die mens na sy beeld gemaak (1:26-27). Dit verwys nie na die mens se liggaam nie, omdat God ’n Gees is (Joh. 4:24). Om na God se beeld gemaak te wees, verwys na mense se uniekheid en dat ons ’n verhouding met God kan hê. Selfs ’n baba het hierdie geestelike komponent. Ons sien dit in Johannes die Doper wat van die moederskoot af met die Heilige Gees vervul was (Luk. 1:15, 41). Omdat dit so is, kan selfs ’n baba hemel toe gaan soos 2Sam. 12:23 aandui: “Maar nou is hy [my baba seuntjie] dood. Waarom sou ek dan vas? Kan ek hom weer terugbring? Ek gaan na hom toe, maar hy sal na my nie terugkeer nie.”

Die ongebore baba is ’n mens. Reeds by konsepsie kry hy ’n menslike DNA en ’n siel. Omdat hy God se beelddraer is, kan jy hom nie soos ’n rooibok of ’n muskiet doodmaak nie (9:6). Dit is reg as die mens oor die diere heers en hulle domineer (1:28). God het ons egter nie hierdie mag oor mense gegee nie, en daarom is aborsie, slawerny, moord, vroueslanery, kindermishandeling, verkragting, genadedood en selfmoord onaanvaarbaar en sonde.

Maar wat as die ma nie die kind kan bekostig nie? As sy haar ongebore kind om dié rede kan vermoor, hoekom nie ook haar kinders wat reeds gebore is nie?

Wat as die ma se lewe bedreig word? In so ’n geval moet die dokters die baba uit haar baarmoeder verwyder met die doel om haar en die kind se lewe te red. Indien die kind in die proses sterf, is dit nie moord nie. Die doel was nie om ’n lewe te neem nie, maar om twee lewens te red.

Wat as die ma verkrag is? Moenie die kind vir die oortreder se sonde straf nie (Deut. 24:16). Gee eerder die kind op vir aanneming.

Wat as die kind ’n kondisie het wat maak dat hy net vir ’n paar ure of weke kan lewe? Ek ken ’n man en vrou met wie dit gebeur het. Na geboorte het die kind vir 18 ure bly lewe. Die ouers het dit aan die Here oorgelaat om die kind se lewe te beeïndig. In ’n ander geval het ’n man by sy dokter gehoor dat sy kinders net vir ’n paar maande sal lewe. Hy het die masjiene afgesit.

Om dit te doen, is moord. Wie weet of die kinders nie langer sou lewe nie? Selfs al lewe die kind net vir ’n paar ure is dit beter dat God sy lewe neem as wat jy met die skuld van aborsie sit en op die einde hel toe gaan. Die Bybel sê dat moordenaars nie in die koninkryk sal ingaan nie (1Joh. 3:15, Op. 21:8, 22:15).

Het jy miskien jou ongebore baba vermoor of iemand aangemoedig om dit te doen? As jy jou sonde bely, sal die Here jou vergewe. Hy het dit in die verlede vir moordenaar gedoen en Hy kan dit vir jou ook doen (Psalm 51, Hand. 2:36-41, 7:52, 58-60, 8:1-3, 9:1-18).

***

Ons moet kinders liefhê eerder as om hulle dood te maak. Moenie vir ’n politieke party stem wat aborsie voorstaan nie. As jy dit doen, is jy ’n medepligtige al sê jy dat jy in jou persoonlike hoedanigheid teen aborsie is. Jy is soos Pilatus wat vir Jesus onskuldig verklaar het, maar Hom toe laat kruisig het (Matt. 27:24-26). In John Piper se woorde: ‘I am personally pro-life, but politically pro-choice—Pontius Pilate.’4

Staan teen die sonde van aborsie. Reeds van die eerste eeu af het Christene dit gedoen. Paulus en Johannes het hulle teen medisyne gespreek wat aborsie meebring (Gal. 5:20, Op. 21:8). Die Griekse woord (pharmakeia, pharmakois) wat hier met ‘towery, towenaars’ vertaal word, verwys na medikasie wat deur towenaars gemaak is en onder andere gebruik is om aborsies te veroorsaak. Verskeie antieke skrywers uit die eerste vier eeue n.C. praat van vroue wat hulle ongebore babas deur pharmakeia vermoor het.5

Ondersteun en bevorder lewe (Spr. 24:11-12). Moenie dat die wêreld jou beïnvloed om aborsie as normaal te beskou nie. Laat ons kinders as ’n seën van die Here beskou (Ps. 127:3, Mark. 10:13-16). As die Here wou, kon Hy Eva vir haar sonde laat sterf het (2:16-17). Hy het nie, maar het besluit om deur haar lewe vir ander te gee (v.16a).

Ja, die geboortepyne is seer. Maar die vreugde van kinders is baie groter, veral as jy hulle in die Here se weë opvoed (1Tim. 2:15). Dink maar aan Timoteus se ma wat hom vir die Here grootgemaak het. (Hand. 16:1-2, 2Tim. 1:5, 3:15). Dink aan Augustinus se ma Monica wat ’n geweldige invloed op hom gehad het.6

Spurgeon se ma het dieselfde gedoen deur gedurig vir sy redding te bid. Op Sondae aande het sy haar kinders uit die Bybel en die Puriteine geleer. Spurgeon se gevolgtrekking was: ‘Never could it be possible for any man to estimate what he owes to a godly mother.’7

Beïnvloed jou kinders vir die Here en beskou hulle as ’n gawe van God. Tog moet jy hulle nie verafgod, sodat jy ten alle koste kinders wil hê nie: “Toe Ragel sien dat sy nie vir Jakob kinders in die wêreld kan bring nie, was sy afgunstig op haar suster. Sy het vir Jakob gesê: ‘Gee vir my kinders! Indien nie, dan sterf ek!’” (Gen. 30:1). Die Here kan jou iets beter as kinders en ’n familienaam gee. Hy kan jou ’n ewige naam gee wat jy nie kan verloor nie (Jes. 56:3-5).

Selfs in hierdie wêreld skep die Here dikwels ’n spesiale band tussen kinders en mense wat nie kinders het nie. Ek ken ten minste drie sulke mense. Hulle het nie kinders van hulle eie nie en tog is die kinders mal oor hulle.

Baie keer gee die Here ook geestelike kinders vir mense wat nie kinders kan hê nie. Ek bedoel dat mense deur hulle tot bekering kom en dat hulle sulkes in God se Woord opvoed (Tit. 2:3-5, 2Joh. 1, 4).

Vrugbaarheid bepaal nie jou identiteit nie net soos die getroude lewe dit nie bepaal nie. Mense was verkeerd om Elisabet ‘die onvrugbare’ te noem (Luk. 1:25, 36). As jy op jou sterfbed lê of as Jesus weer kom, maak dit nie saak of jy kinders gehad het of nie. Al wat tel, is of Jesus jou persoonlike Verlosser en Here was. Sodra jy Hom sien, sal die pyne van hierdie wêreld verdwyn soos ’n ma se geboortepyne in vreugde verander as sy haar kind vir die eerste keer vashou.


1  Aanhalings uit die 2020 Vertaling.

2  Kevin Roy, The Story of the Church in South Africa (Carlisle, UK: Langham Global Library, 2017), 177-8

3  Jerry Bridges, Trusting God (Colorado Springs, CO: NAVPRESS, 1988, 2008), 108

4  John Piper, Brothers, We Are Not Professionals (Nashville, Tennessee: Broadman & Holman Publishers, 2002), 212

5  Alvin Schmidt, How Christianity Changed the World (Grand Rapids, Michigan: Zondervan, 2001, 2004), 57-8. Philip E. Hughes, Christian Ethics in Secular Society (Grand Rapids, Michigan: Baker Book House, 1983), 178

6  Faith Cook, Singing in the Fire (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1995), 63-73

7  Aanhalings uit C.H. Spurgeon, Autobiography: Vol. 1—The Early Years (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1962), 44-5

Kategorieë