Matteus 19:3-9
Die wêreld maak dit maklik om te skei. Jy kan aanlyn skei as jy wil. ‘Affordable, fast, without hassle,’ sê een webtuiste.1 In 2019 was daar 129 600 troues in Suid-Afrika en 23 700 egskeidings.2 Die skeisyfer sou hoër wees as mense getrou het eerder as om net saam te bly.
Party sal sê dat die skeisyfer onder evangeliese Christene dieselfde of hoër is as in die samelewing. Dit is nie waar nie. Die skeisyfer onder mense wat hulleself Christene nóém is hoog. Dit is tot 50% laer onder dié wat weergebore is, gereeld tyd in die Woord spandeer en aktief deel van ’n goeie gemeente is.3
Tog bly egskeiding ’n nare werklikheid selfs onder Christene. In baie gevalle het hulle geen Bybelse gronde om te skei nie. Die vraag ontstaan wat die Bybelse gronde vir egskeiding is en of dit enigsins toelaatbaar is.
1. Die Fariseërs se vraag (v.3)
Onder die Jode en hulle leiers was daar twee sienings oor egskeiding. Dit het oor die interpretasie van Deut. 24:1-4 gegaan. Rabbi Hillel (110 v.C.-10 n.C.) het gesê: ‘Volgens Deut. 24:1 kan ’n man sy vrou vir iets skandeliks (Heb. ervah) skei. In Deut. 23:13-14 word ervah van menslike uitskeiding gebruik. As ’n man dink sy vrou het sy skandelik opgetree, kan hy haar skei; selfs as sy die roosterbrood brand.’
Rabbi Shammai (50 v.C.-30 n.C.) het gesê: ‘Volgens Deut. 24:1 kan ’n man sy vrou vir iets skandeliks skei. Die woord vir skandelik beteken letterlik naaktheid (vgl. Lev. 18). Moses bedoel dus dat ’n man sy vrou mag skei as sy seksuele sonde gepleeg het.’4
Die Fariseërs en die gemiddelde Jood op straat het Hillel se siening gevolg (v.3, 10). Hulle wou weet wat Jesus dink (v.3). Jesus se neef, Johannes die Doper het koning Herodes aangespreek toe laasgenoemde sy broer se vrou gevat het. Hiervoor het Herodes hom laat arresteer en onthoof (14:3-12). Die Fariseërs het gehoop dat Jesus dieselfde as Johannes en Shammai sou sê, sodat hulle Hom kon aankla (v.3).
Vandag se samelewing het dieselfde los siening oor egskeiding. Dit is omdat hulle nie die Here vrees nie (Ps. 36:2). Soos in die dae van die Rigters doen elkeen wat reg is in sy eie oë (Rigt. 21:25). Ons het nie meer die ingesteldheid van Josef nie. Toe Potifar se vrou hom verlei het, toe sê hy: “Hoe kan ek dan hierdie verskriklike kwaad doen en teen God sondig?” (Gen. 39:9).5 Ek ken ’n ouer leraar wat dit insien. Toe ’n groep leraars oor die huwelik praat, toe sê hy: ‘Daar is een rede hoekom ek nog nooit aan my vrou ontrou was nie: ek vrees God.’
Wees soos hy en moenie trou belowe as jy nie van plan is om dit na te kom nie. Doen wat jy belowe (Matt. 5:37, Jak. 5:12). Moenie soos ’n sekere leraar se eerste vrou wees nie. Almal het gedink sy sal die perfekte predikantsvrou maak. Mense in die kerk het die troue aangemoedig. Toe die leraar en sy vrou op hulle wittebrood ry, toe sê sy: ‘As jy dink ek gaan aan jou getrou bly, kan jy dit vergeet. Ek gaan my lewe geniet.’ Sy het vinnig ontrou geraak en ander mans se aandag gesoek. Sy het nie haar huweliksbeloftes eerbiedig nie. Moenie so wees nie, maar sê wat jy bedoel en bedoel wat jy sê. Vrees die Een in wie se Naam jy trou belowe het. Om dit reg te kry, moet jy Hom ken, sodat jy jou huwelik en die res van jou lewe coram Deo leef: in God se teenwoordigheid, onder sy gesag en tot sy eer (Gen. 17:18, 2Kron. 16:9, Ps. 115:1, 116:9, 139:1-10, Matt. 28:18, 1Kor. 10:31).
Om so te lewe, moet Jesus jou Verlosser wees. Erken dat jóú sonde en nie net jou maat s’n nie, afstootlik is en dat jy nie tot eer van jou Skepper gelewe het nie (Rom. 3:23). Glo dat Jesus se offer genoeg is om jou te vergewe. Glo dat Hy gesterf het, begrawe is, en opgestaan het om jou Here te wees. As Hy jou Here is, kan jy nie self besluit hoe jy wil lewe nie. Onderwerp jou liewer aan Hom en sy Woord.
Hoe doen mens dit prakties? Jy en jou maat lewe in Woord: elkeen op sy eie, gesamentlik in die huwelik en by ’n gemeente wat die Bybel preek en leer. Moenie kies hoe jý die Bybel wil verstaan en hoe dit vir jou werk nie (v.3). Bewe voor die Woord en buig jou nek onder wat dit sê (v.4-5, Ps. 119:120, Jes. 66:2). Dit geld ook vir jou huwelik. Vervul jou rol volgens Ef. 5:22-33 en bly getrou tot die dood julle skei (v.6). As albei van julle dit doen, sal jy ’n vrugtevolle huwelik hê (Ps. 128).
2. Jesus se antwoord (v.4-9)
[a] Genesis 1-2 (v.4-6)
As ’n huis groot krake het, is dit omdat die fondasie swak is. Die Fariseërs het die huwelik en egskeiding misverstaan, omdat hulle fondasie swak was. Hulle het God se instelling van die huwelik in Gen. 1-2 vergeet. Dit is nog steeds die rede hoekom mense die huwelik en egskeiding verkeerd verstaan: hulle het ’n swak fondasie (Ps. 11:3). Hulle vewerp Gen. 1-2 en vervang dit met evolusie. Hulle glo nie dat God van die begin af een man vir een vrou gemaak het nie (v.4, Gen. 1:1, 27, 2:7, 18-25). Hulle glo nie jy is die geslag wat jy gebore is nie. ‘Daar is 50+ geslagsidenteite,’ sê hulle. ‘Jy kan enige geslag wees wat jy wil wees; jy kan trou met wie jy wil.’ Maar ’n huwelik tussen mense van dieselfde geslag is so min ’n huwelik as wat jy met ’n veldmuis of ’n renoster kan trou (Gen. 2:19-20). Net so is ’n huwelik met meer as een maat sonde. Poligamie is teen God se wil en egskeiding ook. Adam en Eva was die enigste mense op aarde en kon nie tegelykertyd meer as een maat hê of mekaar vir iemand anders los nie.
As jy God se goedkeuring in jou huwelik soek, moet jy jou ouers verlaat, aan jou maat verbind wees, ’n ekslusiewe seksuele verhouding hê en as een mens lewe (v.5, Gen. 2:24). Volgens die Bybel is ’n huwelik iets wat God saamvoeg (v.6). Geen huweliksbevestiger, prokureur, hof, magistraat, man, vrou of iemand anders het die reg om die huwelik saam te voeg of te beeïndig soos hy wil nie. God alleen het die reg om dit te doen (v.6). Moet dus nie mense aanmoedig om te skei of self skei nie (1Kor. 7:10-11). Moenie soos ’n ma wees wat haar dogter aangemoedig het om te skei, omdat haar man oortyd moes werk nie. Moenie soos die sielkundige en familielede wees wat ’n vrou aangemoedig het om te skei, omdat haar man klaarblyklik sielkundige probleme het nie (die sielkundige het nog nooit die man ontmoet nie).
Moenie soos die populêre Afrikaanse sanger wees wat gesê het: ‘Die Here het gesê ek moet skei’ nie. God haat egskeiding (Mal. 2:16). As Hy ’n huwelik beeïndig, is dit deur die dood of volgens die gronde vir egskeiding in sy Woord (Matt. 19:9, 1Kor. 7:15).
Waar ’n huwelik nie by God se definisie inpas nie, moet jy dit beeïndig. In daardie geval het God dit nie saamgevoeg nie: ’n man met ’n man, ’n vrou met ’n vrou, ’n man met baie vroue, ’n man of vrou wat met ’n familielid getrou het, ’n saambly verhouding, ’n huwelik met iemand wat ’n geslagsverandering ondergaan het, enige soortgelyke geval.
[b] Deuteronomium 24 (v.7-8)
‘I’ve already made up my mind and not even the facts will convince me otherwise.’ So het die Fariseërs oor egskeiding gedink. Hulle het reeds besluit wat hulle wil glo, sodat Jesus se lering uit Genesis 1-2 geen verskil gemaak het nie. Hulle het Deuteronomium 24 aangehaal asof dit Genesis 1-2 kan veto. Wat hulle moes sê, is: ‘Genesis 1-2 is duidelik. Ons verstaan van Deuteronomium 24 moet seker verkeerd wees.’
Jesus het gewys waar hulle verkeerd is. Hulle het gedink Deuteronomium 24 sê dat ’n man sy vrou vir enige rede mag skei. Die waarheid is dat Moses nie ’n opdrag gegee het nie; hy het ’n toegewing gemaak. Dit het hy gedoen, omdat die mans hulle vroue vir enige rede geskei het. Hillel was reg. Deuteronomium 24 gaan nie oor seksuele sonde soos Shammai gesê het nie. Ons weet dit, omdat die vrou eers onrein geword het toe sy met haar tweede man trou (Deut. 24:4). Ons weet dit, want as iemand seksueel ontrou was, sou haar eerste man haar laat stenig het en nie geskei het nie (Lev. 20:10, Deut. 22:22).
Deuteronomium 24 gaan oor mans soos die Fariseërs wat God se instelling van die huwelik geminag het. Hulle het hulle harte teen Genesis 1-2 verhard, sodat hulle hul vroue onderdruk en vir enige rede geskei het (v.8). Om die vroue te beskerm, het God vir die mans gesê om ’n skeibrief te gee (v.8, Deut. 24:1). Dit sou maak dat die mans mooi dink: ‘As my vrou weer trou en haar tweede man sterf of van haar skei, mag ek haar nie terugvat nie (Deut. 24:1-4). Is dit wat ek wil doen?’ As jy van plan is om te skei, moet jy dieselfde vra: ‘Wil ek regtig skei?’ Moenie oorhaastige besluit nie, maar dink mooi voordat jy skei. Ek ken ’n vrou wat gou geskei is. Toe sy later spyt is, het haar man reeds met iemand anders getrou.
Vra vir jouself of jy Bybelse gronde het om te skei. Dink daaraan dat die huwelik ’n heilige instelling van God is, dat jy en jou maat een vlees is, dat jy nie die reg het om te breek wat God saamgevoeg het nie en dat God egskeiding haat. Moet jou maat nie met egskeiding dreig as julle baklei nie. Hoor wat ’n ouer leraar in ’n preek gesê het: ‘The d-word (divorce) is forbidden in our house.’ Werk deur julle verskille en kry hulp as julle dit nie self kan oplos nie. Met die hulpbronne tot jou beskikking (die Woord, die Gees, gebed en die kerk), kan enige twee gelowiges hulle probleme opklaar en ’n gelukkige huwelik hê.
[c] Die nuwe verbond (v.9)
Volgens die landswet mag jy skei as jou huwelik afbreek en berading nie help nie. Jy mag skei as jou maat ’n ongeneeslike geestesversteuring het. Ek ken twee mense wat op hierdie grond geskei is. ’n Vrou het haar man geskei, omdat hy vir baie jare depressief was. Nog ’n vrou het haar man geskei, omdat hy blykbaar aan skisofrenie gely het.6
Dit is nie die regering se reg om te besluit wat geldige en ongeldige redes vir egskeiding is nie. Dit is nie eers Moses wat besluit nie. God besluit. Dus het Jesus nie gesê: ‘Hillel of Shammai sê’ nie. Hy het nie eers gesê: ‘Moses sê’ nie. Hy het gesê: ‘Ék sê’ (v.9). Jesus self het die huwelik in Genesis 1-2 ingestel. Hy weet hoe dit werk. Om ’n gesonde huwelik te hê en te weet of jy mag skei of nie, moet jy nie na jou vriende en vriendinne luister nie. Moenie vir ’n sielkundige luister nie. Moenie jou ore vir kerklike sinodes en topverkoper Christelike boeke uitleen as hulle nie streng by die Bybel bly nie. Meet wat mense sê aan die Bybel (Hand. 17:11). Vra jouself of wat hulle sê in die teks staan: is dit duidelik of moet jy jou verbeelding gebruik?
Onder mense wat ernstig met die Bybel omgaan, is daar twee hoof sienings as dit by egskeiding kom. Volgens die eerste siening mag jy nooit skei en nooit hertrou nie. Volgens dié mense gaan Matt. 19:9 nie oor die huwelik nie, maar oor Bybelse verlowing wat slegs deur ’n amptelike skeibrief gebreek kon word. In Matt. 1:18-19 het ons ’n voorbeeld hiervan:
“Die geboorte van Jesus Christus het só gebeur. Toe Maria, sy moeder, reeds aan Josef verloof was, maar nog voordat hulle gemeenskap gehad het, het dit geblyk dat sy swanger geraak het uit die Heilige Gees. Omdat Josef, haar man, wetsgetrou was maar haar nie in die openbaar wou verneder nie, het hy besluit om in die geheim van haar te skei.”
Volgens hierdie siening mag mens ’n verlowing vir seksuele sonde verbreek, maar nie ’n huwelik nie (v.9). Wat my betref, hou hierdie siening nie water nie. Alhoewel v.9 Bybelse verlowing insluit, sluit dit nie die huwelik uit nie. Die Fariseërs het Jesus nie oor verlowing gevra nie, maar oor die huwelik. Jesus se aanhalings uit Genesis 1-2 en Deuteronomium 24 wys dat sy lering oor die huwelik gaan. In v.8 en 9 praat Jesus van ’n man wat van sy vrou skei. Ek verstaan nie mooi hoe v.8 oor die huwelik gaan en v.9 oor verlowing nie. Die dissipels het geweet dat Jesus in v.9 van die huwelik en egskeiding praat (v.10).
Indien v.9 oor verlowing gaan, beteken dit verloofdes moet amptelik skei as een party seksuele sonde gepleeg het. Dit beteken ook dat iemand ’n verlowing vir seksuele sonde mag breek, maar vir geen ander rede nie, want anders pleeg hy egbreuk (v.9). Ek ken ’n predikant wat een van sy lidmate onder kerktug geplaas het toe hy ’n verlowing verbreek. Volgens my was die predikant verkeerd, maar ten minste was hy konsekwent met die siening dat v.9 oor verlowing gaan.
Party van die mense wat glo dat v.9 oor verlowing gaan, sal sê dit geld nie vir ons nie, omdat vandag se verlowings nie soos in die Bybelse tyd werk nie. Indien iemand sê v.9 gaan oor verlowing en dat ons dit vandag so moet toepas, wil ek weet waar die Bybel ons beveel om die Jode se manier van verlowing te volg.
Soos ek dit het, gaan v.9 (soos 5:31-32) eerder oor getroude mense wat skei. Volgens Jesus is seksuele sonde die enigste gronde vir egskeiding tussen gelowiges (v.9). Die Griekse woord porneia sluit bloedskande (1Kor. 5:1), prostitusie (1Kor. 6:13, 18), homoseksualiteit (Jud. 7, ekporneuō) en enige vorm van seksuele sonde in (Ef. 5:3, 1Tess. 4:3). Dit geld ook vir seksuele sonde wat voor die huwelik plaasgevind het, soos as ’n man drie maande na sy troue uitvind dat sy vrou met ’n ander man se kind swanger is (vgl. 1:19).7
Dalk wonder jy of pornografie ’n geldige rede vir egskeiding is. Val dit onder v.9, aangesien Jesus dit egbreuk in die hart noem (5:27-28)? Persoonlik dink ek nie pornografie is ’n rede om te skei nie, net soos ek nie dink dat bitterheid—moord in die hart volgens 5:21-22 en 1Joh. 3:15—die doodstraf verdien nie. Waar pornografie tot seksuele sonde lei (wat waarskynlik die geval sal wees as dit nie ophou nie), is dit gronde vir egskeiding. Dit is nie egbreuk as die onskuldige party in so ’n situasie skei en weer trou nie (v.9, 5:32, Jer. 3:6-8). Waar twee gelowiges vir enige ander rede skei en weer trou, is dit egbreuk (v.9, 5:32, Mark. 10:11-12, Luk. 16:18, Rom. 7:3).
Maar wat as ’n man sy vrou aanhoudend slaan, as ’n vrou moord pleeg en tronk toe gaan, as ’n man sy kinders mishandel? Hierdie is nie voorbeelde van twee gelowiges wat getroud is nie, maar van ’n gelowige en ’n ongelowige. Ons sal volgende week hierna kyk (1Kor. 7:15). Wat die huwelik tussen gelowiges betref, is v.9 die enigste gronde vir egskeiding. Dit beteken nie jy móét skei nie, maar Jesus maak ’n toegewing. Deur die Here se genade kan so iemand ware berou en bekering toon. Met die Here se hulp kan jy die persoon vergewe en besluit om jou huwelik te herbou. Waar daar geen berou is nie en jy besluit om te skei, kan die Here jou deur die skeiproses help om ’n Christelike gesindheid te openbaar.
Die beste sal wees as jy en jou maat aan mekaar getrou bly en glad nie skei nie. Om te skei, verheerlik nie die Here nie en veroorsaak diep seer. ’n Geskeide man het vir my gesê: ‘It feels like someone has died.’
Onthou daarom die verbond wat jy met die Here en jou lewensmaat gemaak het: ‘in voorspoed en in teëspoed, in rykdom en armoede, in siekte en gesondheid sal ek jou liefhê en koester, totdat die dood ons van mekaar skei’.
1 https://www.divorcelaws.co.za/divorce-statistics.html
2 Ibid.
3 https://www.gotquestions.org/Christian-divorce-rate.html
4 Mishna: Gittin 9:9 (verkry by https://www.sefaria.org/English_Explanation_of_Mishnah_Gittin.9.10?lang=bi). Sien ook https://www.jewishencyclopedia.com/articles/5238-divorce
5 Aanhalings uit die 2020 Vertaling.
6 https://www.divorcelaws.co.za/divorce.html
7 Douglas Wilson, Reforming Marriage (Moscow, Idaho: Canon Press, 1995), 135