Efesiërs 6:4
In 2019 het ons land se regering die redelike en matige tugtiging van kinders deur hulle ouers onwettig verklaar—selfs al is dit jou godsdienstige oortuiging.1 Geen ouer mag sy of haar kind pak gee nie. Die regering beskou dit op dieselfde vlak as kindermishandeling en sê dat dit ’n negatiewe uitwerking op kinders het.
In Noorweë is hulle nog strenger. In 2015 het die Noorweegse Barnevernet of Welsynsdienste ’n Romeense Christen-paartjie (Marius en Ruth Bodnariu) se vyf kinders vir sewe maande van hulle af weggevat toe dit uitkom dat die ouers hulle kinders pak gee. Na baie ondervraging en ondersoek, het dit duidelik geword dat die ouers se tug redelik en matig was en dat daar geen merke of skade aan die kinders was nie.2 Die hoofondersoek beampte het egter volgehou dat die ouers hulle kinders mishandel: ‘...a Christian upbringing is inherently violent,’ het sy gesê.3
Daar is belydende Christene wat hiermee saamstem. Byna twee jaar gelede het ’n predikant op Facebook geskryf dat die voorstanders van pak slae Deut. 25:1-3 op hulle kinders moet toepas as hulle konsekwent wil wees:
“As daar tussen manne ’n geskil is en hulle kom voor die regbank, en die regters vel die vonnis deur die regverdige gelyk te gee en die skuldige te veroordeel, dan moet die regter, as die skuldige tot lyfstraf gevonnis is, hom laat lê en daar voor hom die getal houe laat toedien wat sy oortreding verdien. Veertig houe mag hy hom laat toedien, nie meer as dit nie. Anders laat hy hom dalk baie meer houe as hierdie getal toedien, en word jou volksgenoot voor jou oë verkleineer.”4
Ek het gereageer deur te sê dat die regering en nie ouers nie, hierdie verse moet toepas. Hierop het die leraar ’n klomp slim redes gegee vir hoekom ons nie meer die Bybelse lering van pak slae moet aanvaar nie, maar die regering se riglyne moet volg. Hy het twee van my vorige preke oor pak slae gelees en gesê: ‘Jy is ’n tipiese fundamentalis wat nie ordentlike eksegese5 doen nie.’
Ek wil jou uitdaag om my lering oor pak slae aan die Skrif te meet en te bepaal of wat ek sê Bybels is of nie (vgl. Hand. 17:11). Indien dit nie in die Woord staan nie, moet jy dit weggooi. Maar as dit daar staan, het jy een van twee opsies: aanvaar en gehoorsaam die Bybel of verwerp dit as oudmodies. Indien jy laasgenoemde opsie kies, moet jy tevrede wees as die regering Christenskap en die Bybel self kriminaliseer.
1. Wie moet jou kinders tugtig?
Ek het al meer as een persoon gehoor sê: ‘My pa het ons nie getugtig nie; my ma was die kwaai een.’ Natuurlik moet kinders albei hulle ouers respekteer (v.1-2), maar volgens v.4 is dit veral die pa se plig om sy kinders te tugtig. Dit beteken nie die ma moet passief wees as haar kinders stout is nie. Sy moenie sê: ‘Wag tot jou pa vanaand by die huis kom!’ nie. Om so te sê is verkeerd. Pred. 8:11 sê: “Omdat ’n vonnis oor ’n bose daad nie gou voltrek word nie, daarom is mense se harte in hulle vol daarvan om kwaad te doen”. Tug dadelik jou kind as hy stout is en moenie vir jou man wag om by die huis te kom nie.
As albei ouers by die huis is, moet die pa die leiding neem (v.4). Hy moenie toelaat dat sy kinders die huis afbreek en dit aan sy vrou oorlaat om hulle te dissiplineer nie. Hy moenie toelaat dat hulle met hulle ma terugpraat en niks daaromtrent doen nie. Hy moet die Here vrees, sy gesin liefhê en hulle met ’n ferm hand lei. Dan sal sy kinders hom respekteer en luister wanneer hy praat. Hulle sal ook hulle ma respekteer as hy haar liefhet en beskerm. Hulle sal twee keer dink voor hulle ’n kans vat.
Wat as jy nie altyd by die huis is nie en iemand anders jou kinders oppas? As dit familie, vriende of grootouers is, kan jy hulle toestemming gee om jou kinders te tug. Maar dan moet hulle verhouding met die kinders hê, omdat liefde die dryfveer vir Bybelse dissipline is en omdat pak slae teregwysing en onderrig insluit (v.4, Spr. 3:12, 29:15, Op. 3:19).
As die persoon wat jou kinders oppas ’n au pair of naskool juffrou is, moet jy versigtig wees. Jy kan hulle en jouself in die moeilikheid bring. Tug liewer jou kinders getrou by die huis en leer hulle om volwassenes te respekteer. Oor die algemeen moet jy jou taak nie op ander mense afskuif nie. Dit is jóú kinders en dus ook jóú verantwoordelik om hulle te tugtig (v.4). Jy het ’n spesiale verhouding met jou kind. Jy is nie net daar as hy in die moeilikheid is nie. Jy gee vir hom kos, vat hom met vakansie, is by sy sportbyeenkomste, leer hom die Woord, praat met hom as hy hartseer of bang is en sit langs sy bed as hy siek is.
Omdat jy ’n verhouding met jou kind het, is pak slae iets tussen die twee van julle. Dit is nie iets wat jy voor boeties, sussies, maats of kuiergaste doen nie. Jy wil nie jou kind verneder nie, maar hom help. Daarom tugtig jy hom nie in die winkel nie. Buiten dat jy probleme sal optel, is dissipline ’n persoonlike saak. Dit is nie almal se besigheid nie. Vat jou kind huistoe waar julle alleen is. Bly kalm, wys sy sonde uit en tugtig hom.
2. Wanneer moet jy hulle tugtig?
[a] Tugtig hulle konstant
Peter wil gewig verloor en spiere bou. Toe hy vir drie weke by die gym was en nie ’n verskil kon sien nie, toe sê hy: ‘Dit werk nie.’ Party ouers is so as dit by tug kom: as hulle na drie weke nie ’n verandering by hulle kinders sien nie, sê hulle pak werk nie. Daar is twee probleme met hierdie benadering:
a. Die hoofdoel van pak slae is nie om gemanierde kinders te hê nie, maar om jou kinders te leer om God te verheerlik (v.1).
b. Dissipline is ’n langtermyn projek. Die Griekse woord vir tug in Ef. 6:4 staan in die voortdurende tyd (ektrephete). Dit beteken dat jy jou kinders van kleins af aanhoudend en konsekwent moet dissiplineer. Jy kan nie jou kind wil tugtig as hy op 16 rebels uitdraai nie. Op 16 vrees hy nie meer ’n pak nie. Jy moet die boompie buig terwyl hy jonk is. ‘Tug hom vroeg’ sê Spr. 13:24 in die Hebreeus (shachar). As jy dit doen, sal die boompie reguit groei; jou kind sal na jou luister as hy ouer is. “Straf jou seun, dan sal hy jou rus gee; hy sal aan jou lewe genot verskaf.” (Spr. 29:17). Tedd Tripp sê: ‘Respectful teenagers are developed when they are 1, 2, 3, 4, or 5, not at 13, 14, 15, or 16.’6
Hoe vroeg moet jy jou kind tugtig? As hy oud genoeg is om jou gesag uit te daag deur sy rug styf te maak en ’n tantrum te gooi, is hy oud genoeg vir ’n pak slae. Vir klein kinders is een hou op die sitvlak genoeg. Ouer kinders kan 2 of 3 houe kry afhangende van die oortreding.
[b] Tugtig hulle dadelik
’n Mens sien dikwels ouers wat vier of vyf keer moet praat voordat die kind luister of hulle hom ’n pak gee. Om jou kinders so te tugtig help nie. Jy verloor jou humeur en tug hulle uit woede, terwyl die kind leer dat hy eers hoef te luister as jy jou stem verhef. Leer jou kind om dadelik te luister. Moenie eers tot tien tel of vyf keer praat nie. Moenie vir jou kind vra of hy ’n pak soek, hom met lekkers omkoop of op ’n ‘guilt trip’ sit nie: ‘Sies, jy maak mamma se hart seer.’ Praat een keer en tug die tweede keer. So bly jy in beheer van jouself en weet jou kind waar die grense is.
Tedd Tripp se lering op hierdie punt is behulpsaam: leer jou kinders om sonder verskoning, sonder terugpraat en dadelik na jou te luister.7 Jou kinders moenie sê: ‘Ek het nie gehoor nie.’ Toe my kinders klein was, het hulle dit gesê. As hulle die eerste keer nie geluister het nie, het my vrou gesê: ‘Roomys!’ Hulle het dadelik gereageer en gewys dat daar met hulle gehoor niks verkeerd is nie. ’n Pak slae sal die was in hulle ore smelt en hulle help om dadelik te luister as hulle in die vervolg jou stem hoor.
Wanneer jy ’n opdrag gee, moet jou kind nie sy oë rol, jou met ’n kwaai kyk uitdaag of eers doen wat hý wil nie. Onmiddellike gehoorsaamheid is wat die Here vereis: “Ek het my paaie bedink en my voete teruggebring na u bepalings. Ek het my gehaas en nie getalm om u bevele na te kom nie.” (Ps. 119:59-60).
Dalk sê jy: ‘As ek hierdie raad volg, sal ek hulle aanhoudend moet pak gee.’ Nie as jy konstant is nie. ’n Bybelse pak slae dryf jou kind na Jesus toe wat die sonde uit sy hart sal dryf: “Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof.” (Gal. 3:24). “Sotheid wat vas is aan die hart van ’n jong seun—’n lat wat straf, neem dit ver van hom weg.” (Spr. 22:15).
3. Hoe moet jy hulle tugtig?
Kort na die regering pak slae in huise verbied het, was daar ’n gesprek op Radio Kansel. Een van die deelnemers het gesê: ‘Wanneer die Bybel van die roede (’n lat) praat, moet ons dit nie letterlik verstaan nie. Dit is net ’n metafoor soos in Ps. 23:4: “your rod and your staff, they comfort me.” (ESV).’
Om die Bybel so te interpreteer, is ongeldig. Dit is soos om te sê dat Eks. 20:15 (‘Jy mag nie steel nie.’) ons nie verbied om te steel nie—dit is net ’n metafoor soos in 2Pet. 3:10 waar Jesus soos ’n dief in die nag kom.
Waar die Bybel tug en die roede aanmekaar koppel, is dit nie ’n metafoor nie. Dit gaan oor ’n pak slae: “Blows that wound cleanse away evil; strokes make clean the innermost parts.” (Spr. 20:30, ESV). “Moenie straf van ’n jong seun weerhou nie; as jy hom met ’n lat slaan, sal hy nie doodgaan nie. Jy slaan hom wel met ’n lat, maar jy red sy lewe van die doderyk.” (Spr. 23:13-14).
Party mense gee toe dat bogenoemde verse oor pak slae handel, maar sê: ‘Dit is die Ou Testament. Die Nuwe Testament beveel ons nie om ons kinders pak te gee nie.’ Ef. 6:4 beveel ons om dit te doen. Die Griekse woord vir dissipline of tug is paideia en verwys na ’n omvattende opvoeding:
- Dit verwys na instruksie waardeur ’n mens iemand help om regte gewoontes te vorm (Hand. 7:22, 2Tim. 3:16, paideuō, paideia).
- Dit verwys na teregwysing met ’n sagmoedige gesindheid (2Tim. 2:25, paideuō en Jes. 28:26 in die LXX, paideia)
- Dit verwys na lyfstraf (Luk. 23:16, Deut. 22:18 en Spr. 22:15 in die LXX, paideuō, paideia).8 Volgens Spr. 29:19 is woorde alleen onvoldoende—paideia is nodig (LXX).
Hoe pas ’n mens paideia op jou kinders toe? Maak seker dat jy vol van die Heilige Gees is, deurdat jy die Woord biddend inneem en toepas (v.4, 5:18, Kol. 3:16). As die Heilige Gees jou vul, sal jy jou kinders met die regte gesindheid opvoed en tugtig: “Maar die vrug van die Gees is: liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.” (Gal. 5:22-23). ’n Geesvervulde pa verloor nie sy humeur wanneer hy sy kinders tugtig nie. Hy mishandel hulle nie en rand hulle nie aan nie. Hy praat mooi om agter die kap van die byl te probeer kom: “The purpose in a man’s heart is like deep water, but a man of understanding will draw it out.” (Spr. 20:5, ESV).
Hoe kom ’n mens by die wortel van jou kind se probleem uit? By ’n ouerskapseminaar9 het Paul Tripp voorgestel dat jy jou kind die volgende vrae vra voor jy hom tugtig:
1. Wat het gebeur?
2. Wat het jy gedink en gevoel?
3. Wat het jy toe gedoen?
4. Hoekom het jy dit gedoen—wat wou jy hê?
5. Wat is nou die gevolge van jou optrede?
As jy klaar die vrae gevra het, moet jy die tug toedien. Moenie dat hande, rompe of doeke in die pad kom nie. Die kind moet die pyn voel en sy sonde daarmee assosieer. Hy moet weet dat sonde pynlike gevolge het: “’n Strenge tugtiging is daar vir hom wat die pad verlaat; hy wat die teregwysing haat, sal sterwe.” (Spr. 15:10, Ou Vertaling, paideia).
Wanneer jy jou kind tugtig, moet jy hom wys wat hy verkeerd gedoen het en hom die regte pad uit God se Woord leer. In die Bybel gaan tug en vermaning saam. ’n Pak slae leer hom wat hy verkeerd gedoen het, terwyl vermaning hom reg leer.
“En vaders: Moenie julle kinders uittart nie, maar voed hulle op deur die dissipline en teregwysing van die Here.” (v.4).
“’n Lat en teregwysing gee wysheid; maar ’n jong seun aan homself oorgelaat, steek sy moeder in die skande.” (Spr. 29:15).
“En julle het die aansporing wat julle as kinders aanspreek, heeltemal vergeet: ‘My seun, moenie die dissiplinering van die Here geringskat nie, en moenie moedeloos word wanneer jy deur Hom bestraf word nie; want die een vir wie die Here liefhet, tug Hy, en Hy straf elke seun wat Hy aanneem.’” (Heb. 12:5-6).
As jou kind nie sy sonde wil bely of met jou wil praat nie, het die tug nie sy doel gedien nie. Jy moet die kind weer tugtig. Tug is effektief as die verhouding na die tyd herstel is. Dit geld ook van jou kant af: moenie jou kind op ’n afstand hou as jy hom klaar getug het nie. Omhels hom en verseker hom van jou liefde.
Iemand sal vra: ‘Lan ek my kind nie vir twee ure in die kamer laat sit of vir twee weke geen vriende toelaat nie?’ Volgens Ef. 6:4 moet jy jou kind in die tug van die Here opvoed. Nêrens sê die Bybel dat jy jou kind in die kamer moet toesluit nie. Dit is jou eie of iemand anders se metode; nie die Here s’n nie. Om jou kind vir ’n paar ure in die kamer toe te sluit, rek die straf uit en herstel nie die verhouding nie. As jy jou kind pak gee, is dit oor en verby en word die verhouding herstel.
4. Waarvoor moet jy hulle tugtig?
Party ouers gee hulle kinders pak as hulle giggel of per ongeluk die melk omstamp. Ef. 6:4 sê jy moet die Here se tug toepas (v.4). Jy moet jou kinders tugtig, omdat hulle Gód se reëls oortree en ongehoorsaam of disrespekvol was (v.1-2). Moet hulle nie tugtig, omdat hulle jóú irriteer nie. Jou kinders is nie jou eiendom nie. God het hulle vir jou gegee, sodat jy hulle vir Hóm sal grootmaak (Mal. 2:15). Doen dit deur hulle uit die Woord te leer wat Hy van hulle verwag. As hulle sonde doen, moet jy namens die Here optree en hulle tugtig.
Dit is goed dat jy die evangelie met hulle te deel as jy hulle klaar getugtig het. Sê vir hulle dat Jesus perfek in ons plek kom lewe het en dat Hy die straf vir ons sonde gedra het, sodat ons vergewe kan word en vry kan wees (2Sam. 7:14, Jes. 53:5, paideia). As ons in Jesus glo en sy Gees ontvang, sal Hy ons help om te lewe soos die Here wil hê (Eseg. 36:27, Heb. 8:10). As ons sonde doen, kan ons dit bely en vergewe word, omdat Jesus reeds die straf daarvoor aan die kruis gedra het (1Joh. 1:7, 9). Wys die evangelie vir jou kinders: lewe reg en bely jou sonde as jy verkeerd gedoen het.
Dit breek ’n goeie ouer se hart om sy kinders te tugtig. Dit is ook die Here se gesindheid wanneer Hy ons tugtig: “Hy verdruk en bedroef mensekinders teen sy sin.” (Klaagl. 3:33). Tog móét jy jou kinders tugtig. As jy dit nie doen nie, sal hulle met hulle sonde aanhou en sterf (1Sam. 2:25, 34, 3:13, 4:11, Spr. 23:13-14, Rom. 6:23).
5. Hoekom moet jy hulle tugtig?
Twee paartjies met jong kinders het by my ouers gekuier. My pa het die observasie gemaak: ‘’n Mens kan sien wie se kinders pak kry en wie nie.’
Nie dat goeie maniere of gehoorsaamheid die hoogste doel van tug is nie. Die hoogste doel is nie eers dat jou kinders gered word nie. ’n Pak slae kan hulle na Jesus toe wys, maar dit kan hulle nie red nie. Bybelse dissipline se hoogste doel is dat jý die Here gehoorsaam en jou kinders in sy weë opvoed (v.4). As jy dit getrou doen en jou kinders tot volwassenheid opvoed (v.4, ektrephō), sal jy die goeie vrugte pluk (Gal. 6:7-8). Jou kinders sal ’n sterk en gesonde karakter hê (Heb. 12:11). Hulle sal nie volwassenes wees wat nog steeds tantrums gooi as hulle nie hulle sin kry nie.
***
Daarmee dan God se lering oor dissipline. Laat ons nie slimmer as Hy probeer wees, sodat ons die metodes van moderne sielkunde volg nie. God weet die beste. Hý sê dat jy jou kind moet pak gee.
Tog is dit nie al wat jy moet doen nie. Pak slae is medisyne en moenie jou kind se dieet word nie; anders raak hy siek. William Gouge (1575-1653) het gesê: ‘[The rod] is the last remedy that a father can use—a remedy that may do good when nothing else can.’10 Wees daarom soos ’n goeie dokter wat eers ander middele probeer voordat hy opereer. Hy opereer net as daar nie ’n ander manier is nie.11
1 https://endcorporalpunishment.org/south-africa-prohibits-all-corporal-punishment/ en https://www.news24.com/parent/Family/Parenting/smacking-your-child-is-officially-illegal-in-sa-now-20171020
2 https://www.bbc.com/news/magazine-36026458
3 https://christianconcern.com/news/a-familys-four-year-european-legal-challenge-ends/
4 Tensy anders aangedui, kom aanhalings uit die 2020 Vertaling.
5 Eksegese verwys na ’n studie van die Bybelteks om uit te bring wat daar staan.
6 Tedd Tripp, Shepherding a Child’s Heart (Wapwallopen, PA: Shepherd Press, 1995, 2005), 133
7 Ibid., 134-5
8 Sommige geleerdes meen dat ons paideuō in Deut. 22:18 in ’n ander sin as paideia in Ef. 6:4 moet verstaan. ‘Ef. 6:4 gebruik paideia in die konteks van instruksie, terwyl Deut. 22:18 oor straf gaan.’ Die waarheid is dat paideuō in Deut. 22:18 instruksie insluit. Die oortreder leer om nie weer dieselfde fout te begaan nie, terwyl die res van die volk uit die man se straf leer om sy fout vermy. “Slaan jy ’n spotter, dan word ’n onkundige slim” (Spr. 19:25). “Wanneer mens ’n spotter beboet, word ’n onkundige wys” (Spr. 21:11).
9 Die titel van die seminaar is: Getting to the Heart of Parenting. Dit is op DVD beskikbaar by Good Neigbours Bookshop in Randburg en Augustine Bookroom in Pretoria (https://www.goodneighbours.org.za/shop/miscellaneous/miscellaneous-media/getting-to-the-heart-of-parenting-dvd/).
10 In Jeff Pollard & Scott T. Brown, A Theology of the Family (Wake Forest, North Carolina: NCFIC, 2014), 379
11 Ibid., 383