Coram Deo Cover Image

Coming soon...

13 November 2017

Evolusie, rassisme en die beeld van God

Evolution and racism

Die rassehaat in ons land loop dik.  Tydens my verlof het ek baie daaroor gelees, gebid en dit met my vrou en kinders bespreek.  Elke nou en dan hoor ‘n mens van iemand wat a.g.v. rassistiese opmerkings in die moeilikheid beland.

 

Afrikaners dink dat dit eensydig is, terwyl die meeste Afrika stamme in die verlede onderdruk gevoel het.  Na hulle mening is kolonialisme en apartheid die twee groot sondebokke.

 

Dit het selfs in die kerk ‘n kwessie geraak.  Verlede jaar het ek ‘n e-pos ontvang waarin twee leraars mekaar oor die kwessie aangevat het.  ‘n Paar weke gelede het dit weer gebeur.  Ek glo dat ons op hierdie punt deur die wêreld beïnvloed is.

 

Rassisme kom uit ‘n evolusionistiese wêreld beskouing waarin die mens ‘n soort dier is.  Die meeste evolusioniste sal dit ontken, maar rassisme is heeltemal konsekwent met hulle beskouing van die mens.  Evolusioniste het nie rassisme uitgedink nie, maar hulle het verseker petrol op die vuur gegooi.

 

‘n Evolusionis van Harvard Universiteit het gesê dat rassisme geweldig toegeneem het toe die evolusie teorie in 1859 aanvaar is.[1]  Die subtitel van Charles Darwin se Origin of Species is, ‘The Preservation of Favoured Races in the Struggle for Life’.  Volgens sy boek, The Descent of Man, het sommige rasse verder in die evolusie proses gevorder as ander.

 

Vir 150 jaar reeds het die evolusie teorie rassisme bevorder.  Mense het dit gebruik om volksmoorde te regverdig en die Australiese Aborignes soos diere te jag.  In Amerika en Europa het hulle swart mense in hokke gesit om deur die publiek aanskou te word (Ota Benga in 1906 en Sara Baartman in 1810).[2]

 

Christene het ook in die strik getrap en rassisme uit die Bybel probeer regverdig.  Dink maar aan die stigma van die NG-Kerk en apartheid.  ‘n Paar dekades later het ons besef dat hulle hopeloos verkeerd was.

 

In 1994 het baie geglo dat Nelson Mandela ‘n tipe messias is wat gekom het om versoening te bewerk.  Maar na byna 25 jaar is dit duidelik dat daar nie versoening is nie.  BEE, regstellende aksie, die kwota stelsel, plaasmoorde en optogte waarin mense swart klere dra, wys dat die probleme nie opgelos is nie.

 

As daar ooit ‘n oplossing kom, moet dit by die kerk begin.  Die wêreld kan eenvoudig nie hierdie probleme oplos nie.  Vir duisende jare reeds het hulle probeer om vrede tussen die Jode en haar bure, die Hutu en die Tutsi, die Afrikaner en Afrika stamme te bewerk.  Die Verenigde Nasies het al hulle neus in hierdie sake gesteek, maar hulle was onsuksesvol.

 

Net Jesus Christus kan hierdie probleem oplos (Ef. 2:11-22, Kol. 3:11, Op. 5:9).  Ons moet ons aan Hom, sy Woord en die evangelie onderwerp.  As ons dit doen, sal dit ‘n kragtige getuienis vir die wêreld wees.  As hulle sien dat Jode en Palestyne, of sg. blankes en swart mense een is in Christus, sal hulle hulle ore spits.  Jesus self het tog gesê dat mense in Hom sal glo as hulle sien dat ons een is en dat ons mekaar liefhet (Joh. 13:34-35, 17:21).

 

As ons egter in die rasse haat deel, sal die wêreld vir ons lag en sê dat ons soos hulle is.  En as ons soos die wêreld is, moet ons nie wonder hoekom mense nie in die evangelie belangstel nie.  ‘n Onheilige kerk sal nooit ‘n onheilige wêreld vir die Here wen nie.

 

As ons mense vir die Here wil wen, moet ons hulle liefhê.  En om hulle lief te hê moet ons hulle sien soos die Here hulle sien.  Hoe is dit?  Gen. 1:26-27 wys vir ons.

 

Wat God se beeld nié is nie

Tydens my verlof het ek ‘n boek oor die prosperity gospel gelees.  Meer as ooit is ek oortuig dat dit glad nie met Christenskap geassosieer moet word nie, maar dat dit kulties en okkulties.  M.b.t. die mens wat na God se beeld gemaak is, sê Kenneth Copeland en Benny Hinn bv. dat Adam ‘n presiese kopie of afdruksel van God was, in vorm en grootte.[3]  Hulle verkondig onbeskaamd dat die mens ‘n god is, en dat hy God se gelyke is.[4]  Copeland sê:  ‘Adam, in the Garden of Eden, was God manifested in the flesh’.[5]

 

Om só te sê is eintlik om God na óns beeld te maak.  En om God na ons beeld te maak is niks anders as afgodery nie (Hand. 17:29).  Ons is ook soms skuldig hieraan.  Ons sê dinge soos:  ‘Die God wat ék aanbid...’  Partykeer skep ons ‘n god wat nie sal omgee as ons net ‘n bietjie sonde doen nie.  Ons skep ‘n god wat nie omgee dat mense hel toe gaan nie, ‘n god wat niks in jou lewe kan doen tensy jy vir Hom toestemming gee nie, ‘n god wat nie in die wêreld kan werk tensy ons Hom toelaat nie, ‘n god wat sekere reëls moet volg wanneer Hy teen die duiwel veg, ‘n god wat daar is om óns te dien, om vir óns materiële voorspoed te gee.

 

Ons maak ook ‘n afgod van allerhande dinge in die skepping:  kos, geld, plesier, ons liggame, ander mense, ons troeteldiere, en meer.  As jy enige iemand anders as die Drie-Enige, almagtige, ewige, genadige, alomteenwoordige, regverdige, heilige, liefdevolle, perfekte, heerlike, onveranderlike, soewereine, ens. God aanbid, aanbid jy ‘n afgod.  Jy het probeer om die Here na jóú beeld te maak, en het vergeet dat jy na sý gemaak is (v.26-27).

 

God se beeld beteken nie dat Hy ‘n liggaam het nie.  Ja, Hy het by tye in die Ou Testament in ‘n menslike liggaam verskyn (bv. aan Abraham in Gen. 18).  Ons weet ook dat Christus in Betlehem as ‘n mens gebore is, en dat Hy vir ewig een sal wees (Luk. 24:36-43, 1Tim. 2:5).  Jesus Christus is een Persoon met twee nature:  Hy is volkome God en volkome mens.  Sy Goddelike natuur is nie sy menslike natuur nie en andersom.  Die punt wat ek wil maak, is dat Jesus in sy menslike natuur ‘n liggaam het, maar dat die Drie-Enige God in sy essensie ‘n onsigbare Gees is wat nie ‘n liggaam het soos ons nie (Deut. 4:12, 15-18, Joh. 4:24, 1Tim. 1:17).  Wat beteken dit dan dat God ons na sy beeld gemaak het?

 

Wat God se beeld beteken

Ek het vir baie jare gewonder wat dit beteken dat ons na God se beeld gemaak is.  Ek het ook maar gedink dat dit iets met ons liggame te doen het.  ‘n Sem student het eendag in die klas met my gestry en gesê dat God ‘n liggaam het.  ‘n Familie-lid het ook vir my gesê dat God ‘n liggaam het, en dat Hy ‘n DNA het.

 

Ek het hierbo gewys dat God ‘n Gees is, en dat Hy nie ‘n liggaam het nie.  As God ‘n liggaam het, is sy voet op een plek en sy hand op ‘n ander plek.  In daardie geval kan Hy nie oneindig, ewig en alomteenwoordig wees nie.  Wanneer die Bybel van God se hande, voete, oë, ens. praat, is dit om óns te help om iets van sy vermoëns te verstaan.  Teoloë noem dit antropomorfismes (anthropos = mens, morphe = vorm).

 

God se beeld beteken eerder dat ons iets van sy karakter reflekteer, weerspieël of weerkaats.  God het die plante, voëls, visse en diere volgens hulle soorte gemaak (v.11-12, 21, 24-25), maar die mens het Hy na sý beeld en gelykenis gemaak (v.26-27).  Die mens is nie volgens die diere se soorte gemaak nie; hy is nie ‘n soort dier wat ver in die proses van evolusie gevorder het nie.  Hy is uniek en anders as enige ander skepsel.  Hy is ten minste op die volgende maniere soos God en daarom anders as die res van die skepping.[6]

 

[1] Kommunikasie

Soos die Here in v.26, kan ons op ‘n diep vlak kommunikeer.  Selfs ‘n kind se kommunikasie is meer ingewikkeld as ‘n walvis s’n.  Walvisse kom nooit bymekaar om die tekort aan plankton of kril te bespreek nie.  Papegaaie kan honderde klanke naboots, maar hulle kan nie Chinese grammatika ontleed nie.

 

[2] Heerskappy

Soos God, heers mense oor die skepping (v.26, 28, Ps. 8:7-9).  Eintlik heers die mens as God se verteenwoordiger.  Hy is ‘n rentmeester van die skepping wat aan God behoort.

 

[3] Geestelikheid

Voëls sing omdat God hulle so gemaak het.  Hulle dink nie bewustelik aan sy goedheid en majesteit nie.  Maar wanneer ons sing doen ons dit bewustelik omdat ons dankbaar is, en omdat ons die Here liefhet.  Ons kan ook bid, die Woord inneem en dit gehoorsaam, ander dien, en ander gelowiges se geselskap geniet.  Het jy al ‘n trop beeste gesien wat dit doen?

 

[4] Moraliteit

God is die oorsprong van moraliteit.  Hy bepaal wat reg en verkeerd is, wat moreel en immoreel is.  Soos God, is die mens ‘n morele wese wat tussen reg en verkeerd kan onderskei.  Ons het ‘n gewete.  Diere kan uit instink of vrees reageer, maar hulle het nie ‘n gewete wat hulle wakker hou as hulle jou roosbome oopgegrawe het nie.  Hulle doen nie sonde nie, en streef ook nie daarna om heilig te wees nie.  Ons kan sonde haat en daarna streef om die Here meer te ken en heilig te wees (Ef. 4:24, Kol. 3:10).

 

[5] Intellek

Diere kan dink en slim toertjies doen, maar hulle kan nie diep redeneer of abstrak dink nie; hulle kan dink, maar hulle kan nie dink dat hulle dink nie.  As ek met my hond oor die Anglo-Boere Oorlog praat, kyk hy vir die gras.  Sjimpansees is intelligent, maar hulle kan nie ‘n matriek wiskunde vraestel skryf nie.

 

[6] Skeppingsvermoë

Ons kan nie uit niks skep soos God nie, maar ons het die vermoë om kreatief en skeppend te wees.  Wewers (‘n soort voël) kan mooi neste maak, maar kan nie op die vlak van ‘n argitek bou en beplan nie.  ‘n Wewer se nes 100 jaar gelede lyk nog steeds soos ‘n wewer se nes vandag - hulle vorder nie tegnologies nie.  Diere kan nie ingewikkelde rekenaars en enjins ontwerp en bou nie.

 

[7] Onsterflikheid

‘All dogs go to heaven’?  Ongelukkig nie.  Diere gaan nie hemel toe wanneer hulle sterf nie (God sal wel diere op die nuwe aarde skep).  Die mens bestaan nie van die ewige verlede af soos God nie, maar as ons liggame gesterf het sal ons siele vir ewig bestaan.  “[God] has put eternity into man’s heart” (Pred. 3:11, ESV).

 

[8] Emosie

Ons weet dat diere emosies het.  Kyk gerus na hoe jou hond sy stert waai en om jou enkels dans as jy ná ‘n vakansie by die huis kom.  Diere se emosies is egter nie so kompleks soos ons s’n nie.  Wayne Grudem sê:  ‘After watching my son’s baseball game, I can simultaneously feel sad that his team lost, happy that he played well, proud that he was a good sport, thankful to God for giving me a son and giving me the joy of watching him grow up, joyful because of the song of praise that has been echoeing in my mind all afternoon, and anxious because we are going to be late for dinner!’[7]

 

God se beeld, sonde en verlossing

Toe Adam en Eva gesondig het, het hulle nie die beeld van God verloor nie.  Dit is egter beskadig.  Die spieël waarin God sy beeld gesien het, het in stukkies op die vloer geval.  God kan nog steeds dele van sy beeld in ongelowiges sien (Gen. 9:6, Jak. 3:9), maar dit is onduidelik.  ‘n Ongelowige kan bv. diep kommunikeer, maar sy kommunikasie is met vuil taal, leuens, murmurering, ens. besoedel.  ‘n Ongelowige kan tussen sonde en heiligheid onderskei, maar 9 uit 10 keer kies hy sonde.

 

Wanneer iemand tot bekering kom, tel God die spieël se stukke van die vloer af op.  Vir die res van jou lewe hier op aarde is die Here besig om die spieël aanmekaar te sit.  Stadig maar seker begin Hy weer sy beeld in jou sien.  Hy het jou gered om jou na sy beeld, na die beeld van sy Seun, te vorm (Rom. 8:29).  Sy beeld in jou word duideliker soos wat jy geestelik groei (2Kor. 3:18).  Wanneer Jesus kom sal die spieël herstel wees, sodat God weer sy volmaakte beeld in ons kan sien (1Kor. 15:49, 1Joh. 3:2).

 

God se beeld in die praktyk

Toe ek net in Kempton begin het, het ‘n besoeker na die preek vir een van ons lidmate gesê:  ‘So what?’  Sy bedoeling was dat ek die teks uitgelê het, maar dat ek dit nie toegepas het nie.  Dit was nie lekker om dit te hoor nie, maar hy was reg.  Dit help nie ons verstaan ‘n leerstelling (bv. God se beeld in ons), maar ons pas dit nie toe nie.  Hoe moet jy hierdie leerstelling in jou lewe toepas?

 

Verwerp die evolusie teorie wat sê dat die mens eintlik ‘n soort dier is, en dat daar nie ‘n verskil tussen mense en diere is nie.  Glo eerder dat God jou na sy beeld gemaak het, en dat jy nie soos die res van die skepping is nie.  Omdat mense dít verwerp en die evolusie teorie omhels, is bose dinge soos aborsie, genadedood, mensehandel, rassisme, moord, ens. aan die orde van die dag.  Hierdie sondes kom uit die mens se hart, maar soos ek hierbo gewys het, het evolusie dit aangevuur.

 

As evolusie waar is, maak dit nie saak of jy ‘n ongebore baba vermoor en of jy ‘n hoender se eier uit die nes vat nie.  Dit maak ook nie saak of jy ‘n gestremde mens deur sg. ‘genadedood’ vermoor, en of jy ‘n ou Labrador uitsit nie.  En wat maak dit saak of jy ‘n mens aan handelaars verkoop, en of jy ‘n perd verkoop?  As ‘survival of the fittest’ waar is, is mensehandel mos nie verkeerd nie?  En as die mens ‘n soort dier is, kan ons sê dat mense met donkerder (of ligter) velle meer waardevol is as ander, net soos wat ‘n sekere kleur Great Dane meer waardevol is as ander kleure.

 

Ek hoef nie vir jou te sê dat dit belaglik is om so te redeneer nie.  Volgens die Bybel is die mens nie ‘n soort dier nie, maar kom alle mense van Adam af en is hulle na God se beeld gemaak (v.26-27, Hand. 17:26).  Ek het reeds gewys dat daar verskillende soorte plante, voëls en diere is (v.11-12, 21-25).  Dit is egter nie waar dat daar verskillende soorte mense is nie.  Mense kom van verskillende lande af, praat verskillende tale, en is uit verskillende families of stamme.  Maar daar bestaan nie so iets soos verskillende rasse nie.  Daar is net een ras, en dit is die menslike ras.

 

Om dan ‘n mens te onderdruk omdat hy anders as jy lyk, is sonde en ‘n direkte aanval op God se beeld.  Moenie grappe oor iemand maak of hom spot, omdat hy anders as jy lyk nie (dit geld ook vir rassistiese grappe).  Moenie kras woorde van ander nasies gebruik, en dink jy is beter as hulle nie (Jak. 3:9).  Dit bedroef die Here as jy enige mens hanteer asof hy nie na God se beeld gemaak is nie.  Dit geld ook vir gestremde mense.  As ons regtig Gen. 1:26-27 glo, sal ons nie eers daaraan dink om ‘n baba te aborteer omdat hy moontlik ‘down sindroom’ is nie.

 

Jy kan nie ‘n mens soos ‘n plant of ‘n dier behandel nie.  Om vir ‘n hond en vir ‘n mens ‘voetsek’ te sê, is nie dieselfde nie.  Om meer om te gee oor die renoster probleem as oor die moord op ongebore babas, wys dat daar fout is in jou hart.  Jy is deurmekaar en onderstebo; jy moet jou bekeer.

 

As hierdie preek negatiewe gevoelens en woede in jou hart laat opvlam, moet jy dit as sonde bely.  Vra vir die Here om jou te vergewe dat jy sy beeld in ander mense haat.  Vra Hom om jou te help, sodat jy kan doen wat reg is.  Glo dat Jesus se kruisdood voldoende is om sy beeld in jou te herstel, en ook om jou te help om ander lief te hê wat nie soos jy lyk nie.  Moenie God se liefde herdefinieer nie, maar doen wat die barmhartige Samaritaan in Luk. 10 vir sy vyand, die Jood, gedoen het.

 

In die vroeë 1990’s het my predikant in Louis Trichardt dit gedoen.  Hy het besluit dat die kerk oop moet wees vir mense uit alle nasies, en het dit so geadverteer.  Mense het op die advertensie gereageer.  Party het na die kerk toe gekom en tot bekering gekom:  Engelse, Vendas, Afrikaners uit ‘n ‘kleurling’ en ‘blanke’ agtergrond, Russe, Bulgare, Finne, Indiërs en Britte.  Dit was wonderlik.

 

Ongelukkig het nie almal so gedink nie.  Sommige mense in die dorp het vir die predikant dreigbriewe geskryf en op die kerk se stoep gelos.  Hulle het die Vendas sleggesê, en het gesê dat hy hulle omhels het.

 

Ek hoop van harte dat die mense wat hierdie preek lees en hoor, nie so sal reageer nie, maar dat jy die Here sal prys, omdat Hy ons en alle mense na sy beeld gemaak het.

 

[1] Stephen Jay Gould, Ontogeny and Phylogeny, 1977 https://answersingenesis.org/charles-darwin/racism/did-darwin-promote-racism/

[2] Ibid.

https://answersingenesis.org/charles-darwin/racism/darwins-garden/

https://en.wikipedia.org/wiki/Sarah_Baartman

[3] Hank Hanegraaff, Christianity in Crisis: 21st Century, Thomas Nelson: Nashville, p. 2, 25

[4] Ibid.

[5] Ibid.

[6] Wayne Grudem se Systematic Theology het my baie gehelp in hierdie verband (pp. 442-450).

[7] Ibid., p. 447

Kategorieë