Coram Deo Cover Image

Coming soon...

5 April 2014

Evangelisasie-hulp vir bangbroeke

Fear Free Evangelism

Handelinge 4:1-31

Die meeste Christene is op een of ander tyd bang om die evangelie te deel.  Een sensus-opname sê dat 95% van alle Christene nog nooit die evangelie met iemand gedeel het nie.  Ek stuur nie e-posse aan wat sê:  ‘As jy nie skaam is vir Jesus nie, stuur hierdie e-pos aan vir 8 mense’.  Baie daarvan is in elke geval nonsens.  Ek praat hier van Christene wat nooit die evangelie deel nie, omdat hulle bang is vir verwerping.  Hoe help Handelinge 4 súlke mense?

Die tronk (v.1-4)

Die Sadduseërs het nie in die opstanding geglo nie (23:8).  Hulle het net die eerste 5 boeke van die Ou Testament geglo, en gedink dit sê niks oor die opstanding nie.  Jesus het hulle verkeerd bewys (Matteus 22:31-32).  Tog het hulle nogsteeds aan hulle liberale teologie vasgehou en kwaad geword toe die apostels die opstanding verkondig het (v.1-2).  Hulle het ook geweet dat 'n massa mense die Romeine se aandag sou trek.  Die Romeine sou vir die Sadduseërs sê:  ‘Hoekom laat julle toe dat die skare buite beheer raak?’  Indien die Sadduseërs in die moeilikheid beland het, kon hulle rykdom van hulle af weggeneem word.  Dít wou hulle nie hê nie.  Daarom het hulle saam met die tempel-kaptein (tweede in bevel naas die hoëpriester) die apostels gearresteer.  Die Joodse Raad het nie in die aand vergader nie.  Die apostels kon eers die volgende oggend voor hulle verskyn, en moes dus 'n nag in die tronk deurbring (v.3).

Dit is duidelik dat Satan die Christene probeer afskrik het.  Maar die teenoorgestelde het gebeur:  die kerk het gegroei.  Die mans alleen was nou meer as 5000 (v.4, 2:41).  Waar is die Christen-mans vandag?  Christene moet soos die apostels leer om vas te staan in die Here.  As óns dit nie doen nie, sal nuwe Christene versoek word om te vrees en op te gee (as Goliat val sal die res van die Filistyne vlug).  Onthou ook:  Satan en die wêreld mag miskien jóú mond stilmaak (v.3), maar hulle sal nooit die evangelie kan keer nie (v.4).  Al beland jy in die tronk – die evangelie sal nóg aanhou (2 Timoteus 2:9).  Is jy bang om die evangelie te deel?  Die evangelie sal aanhou, maar jý sal beskaam word.  Moenie bang wees of stilbly nie.  Jy het dalk min krag, maar vertrou op Sy krag.

Die hof (v.5-22)

Die volgende oggend het die apostels voor die Joodse Raad (die Sanhedrin) in Jerusalem verskyn (v.5-6, 15).  Die Raad het bestaan uit 71 lede.  Annas was die hoëpriester tussen 6 en 15 n.C.  Sy skoonseun Kajafas het by hom oorgeneem en gedien van 18-36 n.C. (Johannes 18:13, 24).  Die Jode het egter nog vir Annas as die leier erken.  Johannes, Aleksander en ander hoëpriesterlike familielede was teenwoordig.  Daar was skrifgeleerdes (prokureurs) en ouderlinge (volkshoofde), Fariseërs en Sadduseërs.  Die Romeine het oor Israel regeer, maar toegelaat dat die Raad kriminele sake kon verhoor.  Hulle kon nie die doodstraf gee nie, behalwe as 'n heiden in die tempel se binnehof ingeloop het (21:28, Johannes 18:31).  Die Raad het in 'n halfsirkel gesit en twee notuleskrywers gehad wat die uitslag van stemme moes opteken.  Jesus het voor hierdie selfde raad verskyn.  Petrus was vol van die Gees en sonder vrees (vergelyk dit met hoe bang hy was aan die einde van Matteus 26!).  Hy het eintlik die Ráád verhoor en aangekla(v.8-12).  Die Gees het die apostels gehelp wat om te sê.  Jesus het immers belowe:  “Maar wanneer hulle jul oorlewer, moenie julle kwel oor hoe of wat julle sal spreek nie, want dit sal julle in daardie uur gegee word wat julle moet spreek; want dit is nie julle wat spreek nie, maar die Gees van julle Vader wat in julle spreek.” (Matteus 10:19-20).

Die Raad het vir die apostels gevra:  “Deur watter mag en deur watter naam het julle dit gedoen?” (v.7).  Petrus het met respek geantwoord, maar tong in die kies gesê:  ‘Word ons verhoor omdat ons 'n goeie daad aan iemand gedoen het?  Ons het die genesing gedoen in die Naam van Jesus – die Messias vir wie júlle gekruisig het.  Ja, ons word verhoor oor Jesus se opstanding, maar die waarheid is:  God hét Hom opgewek uit die dood.  Die Ou Testament het dit voorspel (Psalm 118:22).  Julle is die bouers wat hierdie steen verwerp het.  Maar God het gesorg dat Hy die belangrikste steen in die gebou word; die steen wat die mure en fondasie met mekaar verbind – die hoeksteen.  Al het julle Hom doodgemaak, moet julle dít weet:  Jesus herstel nie net enkels nie, maar harte ook.  Nét Hy kan dit doen.  Geen wonderwerk sal julle harte verander nie.  Maar die evangelie van Jesus kan (v.8-12).’

Die Raad was stom oor die dapperheid van hierdie ongeskoolde Galilese vissermanne (v.13, cf. Johannes 7:15).  Hulle het die apostels uitgestuur en 'n private vergadering gehou:  ‘Ons kan nie die wonderwerk ontken nie.  Maar ons kan ook nie 'n kans vat nie.  As Jesus se dissipels te veel raak, sal ons godsdienstige tradisie daarmee heen wees.  Die Romeine sal 'n probleem hê as die skare opgewonde raak en óns daarvoor blammeer.  Die beste is om vir die dissipels te sê hulle moet ophou preek in Jesus se Naam (v.14-18).’  Die apostels het geweet hulle moet die regering gehoorsaam (Romeine 13) – maar nét as hulle nie ongehoorsaamheid aan God beveel nie.  Die apostels het besluit om vir God te luister eerder as vir mense (v.19).  Hulle kon mos nie jok oor Jesus, sy Woord en hulle ervaring met Hom nie (v.20). Die Raad het hulle verder gedreig, maar het geen gronde gehad om hulle te straf nie (v.21-22).

Watse lesse leer ons uit hierdie verse?

  • Moenie bang wees om die evangelie te deel as die grootkoppe jou dreig nie.  Vra vir die Heilige Gees om jou te help (v.8).
  • Ja, toon respek (v.8), maar moenie bang wees om spesifieke sondes uit te wys nie (v.10-11):  gierigheid, bedrog, verslawing, poligamie, pornografie, seksuele immoraliteit, homoseskualiteit, ensovoorts.
  • Moenie bang wees om vals lering uit te wys nie (v.10, 2).
  • Moenie bang wees om te sê Jesus is die enigste Verlosser nie (v.12, Johannes 14:6).
  • Jy hoef nie kras of ongeskik te wees nie, maar wees vreesloos.
  • Vrees God meer as die gereg, al is daar ook gevolge.

Die biduur (v.23-31)

Die apostels het vir hulle Christen-vriende gaan vertel wat die Joodse Raad gesê het (v.23, 4).  Die gelowiges het dadelik gebid.  Hulle het nie in angs na die Here toe gehardloop nie, maar het geglo dat Hy die Skepper van alles is, en dat Hy alles beheer (v.24).  Hulle het die Skrif gebid.  Hulle het onthou hoe Dawid in Psalm 2 die Jode, heidene en hulle leiers se aksies voorspel het.  God het Jesus se kruisdood vooruit beplan.  Hulle het geweet dat God ook in beheer was van die episode met die Joodse Raad (v.25-28).  Hulle het gevra dat God hulle monde sou oopmaak en nóg wonderwerke sou doen (v.29-30).  God het hulle gebed beantwoord.  Die Heilige Gees het in krag op hulle neergedaal (soos in 2:1-4).  Hulle het met dapperheid die Woord verkondig, en die apostels het wonderwerke gedoen (v.31, 33, 5:12).

Laat ons dan meer gereeld saam bid vir evangelisasie.  Laat ons God se Naam eerste stel in ons gebede.  Laat ons die Skrif bid en glo.  En laat álmal van Jesus getuig – nie net die dominee op 'n Sondag nie (v.31).  Joel James het dit mooi geïllustreer.  As jy 'n piekniek hou, en jou hond die boereworsrolle wil eet, kan jy die probleem maklik uitsorteer:  maak jou hond aan die boom vas.  Maar as 'n klomp miere in die boereworsrolle inklim, moet jy skuif.  So moet dit met evangelisasie wees.

Ek het hierdie week 'n Amerikaanse prediker ontmoet.  Hy is passievol oor evangeliasie en die Bybelse evangelie.  Hy vertel hoe mense al water in sy gesig gegooi, en gay porn voor sy oë gehou het terwyl hy preek.  Mense sal jou ook opdraende gee as jy die evangelie deel.  Maar hou aan.  Mense wat bang is om te praat gaan hel toe (Matteus 10:32-33, Openbaring 21:8).  Moenie bang wees vir mense nie, maar vir God wat liggaam en siel in die hel kan werp (Matteus 10:28).  God sal met jou wees as jy jou taak uitvoer:  “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies...En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.” (Matteus 28:19-20).

Kategorieë