Coram Deo Cover Image

Coming soon...

6 February 2020

Emosionele Probleme: Selfverwyt en Bitterheid

[column width="1/1" last="true" title="" title_type="single" animation="none" implicit="true"]

Image result for beating up myself

Genesis 50:15-21

Is daar donker dinge in jou verlede wat jy nie kan vergeet nie? Was jy seksueel losbandig, het jy ’n aborsie gehad, het jy bedrog gepleeg, het jy ’n dom ding gesê waaroor jy spyt is, het jy ’n baie verkeerde WhatsApp vir iemand aangestuur, het jy jou humeur verloor en dwaas opgetree? Miskien het jy nie sonde gedoen nie, maar iets het gebeur wat jy sukkel om te vergeet. Dalk sukkel jy om iets te vergeet wat iemand aan jóú gedoen het.

Hoe oorkom ’n mens pynlike ervarings van die verlede? Die Here het Gen. 50:15-21 in die Bybel laat opteken om ons te help.

 

1. Selfverwyt (v.15-18)

Jakob het 12 seuns gehad. Die tweede jongste een se naam was Josef. Jakob het hom voorgetrek. Hy het vir hom ’n veelkleurige kleed gegee. Terwyl die ander boeties die kleinvee moes oppas, kon Josef in die tent bly. Josef se boeties het hom gehaat. Hulle haat was so diep, dat hulle hom aan Midianitiese slawehandelaars verkoop het.

Hulle het vir hulle pa gelieg en gesê dat hy dood is. Jakob kon nie oor sy seun se ‘dood’ kom nie. Intussen is Josef as ’n slaaf in Egipte verkoop. Deur ’n klomp gebeurtenisse, het Josef uiteindelik tweede in bevel geraak in Egipte. Hy het voorspel dat daar sewe jaar van voorspoed sou kom, maar dat daar daarna sewe jaar van intense hongersnood sou volg. Die hongersnood het die hele antieke wêreld geraak. Deur die wysheid wat God hom gegee het, het Josef tydens die sewe jare van voorspoed koring opgegaar. Toe die sewe jaar van hongersnood aanbreek, was hy voorbereid en kon die mense oorleef.

Dit is tóé wat sy boeties Egipte toe gekom het om koring te koop. Hulle het hom nie erken nie (hulle het hom vir 22 jaar nie gesien nie). Josef het hulle stief behandel. Hy wou hulle toets om te sien of hulle verander het. Hy het een van sy broers in die tronk bewaar en die res van sy boeties huistoe gestuur. ‘As julle jongste boetie nie saam met julle kom nie, dan weet ek dat julle spioene is,’ het hy gesê. Die boeties het hulle jongste boetie Benjamin saamgebring. Uiteindelik het Josef homself aan hulle bekend gemaak. Hulle was stomgeslaan. Hulle kon nie glo dat dit Josef is nie. Hy het hulle verseker dat hy hulle vergewe het en dat die Here hom eintlik Egipte toe gestuur het om baie mense se lewens te red. Hy het hulle huistoe gestuur om hulle pa te gaan haal en hom saam met hulle gesinne Egipte toe te trek. ‘Ek sal vir julle sorg,’ het hy gesê.

Josef se boeties het huistoe gegaan en vir Jakob vertel dat Josef in Egipte is. Hy kon sy ore nie glo nie, maar toe hy die geskenke sien wat Josef saamgestuur het, het hy moed geskep. Hy en sy hele familie is Egipte toe. Daar het Josef vir hulle gesorg. Sewentien jaar later is Jakob oorlede. Josef en sy boeties het hulle pa in sy tuisland gaan begrawe (Gen. 37-50).

Na die begrafnis het Josef se broers gevrees dat hy hulle gaan terugkry (v.15, Spr. 28:1). Hulle gewetens het hulle vir 39 jaar gepla.1 Dit wys net hoe lank iets ’n mens kan pla; hoe lank iets onopgelos kan bly; hoe lank mense kan vat voordat hulle hulle sonde erken en berou het.

Omdat Josef se boeties bang was, het hulle vir hom ’n boodskap gestuur (v.16). Hulle het gehoop dat dit hom tyd sou gee om te dink. Dit is nie ’n slegte strategie nie, maar om nét ’n boodskap te stuur (hetsy deur ’n e-pos, ’n WhatsApp, of ’n brief) werk nie. Jy moet persoonlik met die persoon praat as jy kan (v.18). Dit is altyd die beste (2Joh. 12), omdat mense nie jou gesigsuitdrukking, emosies, stemtoon en liggaamshouding in ’n brief kan sien nie. Om persoonlik met iemand te praat, wys ook dat jy dit nie as ’n klein sakie beskou wat jy gou net wil afhandel nie, maar dat jy ernstig is om dinge uit te sorteer.

Volgens Josef se boeties het Jakob gesê Josef moet hulle vergewe (v.16-17). Hulle het geweet dat Josef ’n spesiale verhouding met sy pa gehad het (Gen. 37:3, 45:23, 46:29, 48:22, 50:1) en het gehoop dat ’n boodskap van hóm af die dinge sou doen. Maar was die boodskap regtig van Jakob af? Ons weet nie. Of die boodskap egter van hom af gekom het, of nie; hóé Josef se boeties hulle sonde bely het, was verkeerd. Jy kan nie iemand anders vra om jou sonde namens jou te bely nie. Jy moet self kom en erken dat jy verkeerd was.

Jy moet ook eerlik wees. Jy kan nie ’n halwe waarheid vertel nie (v.16). Dit beteken nie jy hoef alles te deel wat jy nog ooit oor die situasie gedink het nie. ’n Dwaas deel alles wat hy dink (Spr. 29:11). Wees eenvoudig eerlik. Erken wat jy verkeerd gedoen het en vra om vergifnis. Hoe doen ’n mens dit prakties? Die gesegde lui: ‘Private sin, private confession; secret sin, secret confession; public sin, public confession.’

Alhoewel ons nie weet of Jakob hierdie boodskap deur sy seuns gestuur het nie kan ons van een ding seker wees: Josef se boeties wóú dinge uitsorteer. Hulle het nie maar net jammer gesê nie, maar het om vergifnis gepleit (v.17). Dit is die regte manier. As jy net jammer sê, hang dinge in die lug. As jy egter om vergifnis vra, pak jy die skuld op jouself en verwag jy ’n reaksie.

Maar om net om vergifnis te pleit, is nie genoeg nie. Jy moet ook restitusie doen. Jy moet bv. die gesteelde goed terug gee. Dit mag miskien beteken dat jy jou in die gereg vasloop, maar jy wil eerder nóú met die sak patats uitkom as wat die Here oor jou frons, jy met ’n skuldige gewete rondloop, en jy buitendien op die einde uitgevang gaan word (Num. 32:23).

Erken jou sonde (v.17). Dit is die eerste stap tot herstel. Moenie vals berou hê en net die gevolge wil ontduik nie (2Kor. 7:10). Betoon eerder die ware berou van iemand wat kwaad is vir homself, wat God vrees, wat bereid is om die gevolge te dra, wat ywer aan die dag lê om dinge reg te maak en wat wegdraai van sy sonde (2Kor. 7:11). Moet egter nie net op die negatiewe fokus nie (wat jy nié moet doen nie), maar ook op die positiewe (wat jy móét doen). Iemand wat steel, moet bv. nie langer steel nie, maar hardwerkend, eerlik en mededeelsaam wees (Ef. 4:28).

Josef se boeties was so. In die verlede was hulle sleg (Gen. 34-38), maar nou het hulle verander, hulle sonde erken en hulle die God van hulle vader gedien (v.17, Gen. 42-50).

Leer hieruit dat dit nie genoeg is om reg te maak met ander mense nie. Jy moet in die eerste plek met die Here regmaak. Eintlik kan jy dít nie eers op jou eie regkry nie. Vra die Here om dit vir jou, in jou en deur jou te doen: deur sy kruisdood, wedergeboorte, regverdigmaking, aanneming en heiligmaking (Ef. 1:3-14, Fil. 2:12-13, 3:4-9). Laat dít jou grootste doel wees: nie om van selfverwyt ontslae te raak nie, maar om in ’n regte stand met God te kom en in ’n regte verhouding met Hom te lewe.

Eers as dít reg is, kan jy met sekerheid weet dat die Here jou verlede afgeskryf het, sodat jy nou met ’n rein gewete kan lewe (Rom. 8:1, 1Kor. 6:11, 2Kor. 5:17, Heb. 9:24, 10:22). Jy hoef nie verder skuldig te voel nie, omdat dit wat in die eerste plek die skuldgevoelens veroorsaak het, vergewe is.

As jy reg is met die Here en met ander mense, maar nog steeds skuldig voel, is jy soos Josef se boeties in v.17. Josef het hulle reeds 17 jaar tevore vergewe (Gen. 45:4-5). Hy het sy liefde bewys, deurdat hy vir hulle gesorg het (Gen. 45:11, 47:12). Is dit enige wonder dat hy gehuil het toe hulle wéér om vergifnis gevra het en gesê het dat hulle sy slawe sal wees, net soos wat hulle hóm 39 jaar tevore as ’n slaaf verkoop het (v.17-18, Gen. 37)?

Soms is ons so en oordoen ons belydenis. Dit is asof jy nie die persoon glo wat vir jou gesê het: ‘Ek vergewe jou’ nie. Ons aanhoudende belydenis herstel nie die verhouding nie. Dit doen eerder afbreek, omdat ons indirek vir die persoon sê sy vergifnis is nie betroubaar, of voldoende nie.

Dit geld ook vir jou verhouding met die Here. Moenie aanhou om jou sonde te bely as jy reeds berou getoon het en vergifnis gevra het nie. Moet ook nie sê: ‘Ek weet die Here het my vergewe, maar ek kan myself nie vergewe nie.’ Iemand wat dit sê, is hoogmoedig en bedroef die Here. Dit is asof jy sê: ‘God se vergifnis en Jesus se kruisdood is nie genoeg nie. My standaarde is hoër as syne. Ek moet myself eers kan vergewe voordat ek ware vrede kan hê.’

Maar waar vereis die Bybel dat jy jouself moet vergewe? Eintlik kán jy dit nie doen nie, omdat Hy die enigste Een is wat mense se sonde kan vergewe. In plaas daarvan dat jy jouself dus probeer vergewe, of vir die duiwel luister wanneer hy vir jou sê dat jy nie vergewe voel nie, moet jy God se belofte van vergifnis aanvaar (Ps. 25:7, 103:12, Spr. 28:13, Jes. 1:18, 44:22, Miga 7:19, Ef. 1:7, Kol. 2:14, Heb. 10:17, 1Joh. 1:7, 9). Onthou dit veral wanneer jy gereeld die nagmaal gebruik.

Dalk sukkel jy om die sonde van die verlede uit jou gedagtes te kry. Martyn Lloyd-Jones se raad was dat jy nie verder oor die saak moet bid nie.2 Hoekom wil jy dit doen as die Here jou klaar vergewe het? Om oor die saak te bid, maak net dat jy gedurig oor die saak dink en angstig raak. Dit is onnodig.

Moet ook nie soos baie mense jou verlede deur drank, dwelms, pille, skokterapie, demoniese bevryding, of selfmoord probeer vergeet nie. Wat moet jy dan doen? As gedagtes oor die verlede in jou kop kom, neem dit gevange en verander dit in ’n dankgebed vir die Here se groot genade deur Jesus wat vir jou gesterf het (2Kor. 10:4-5, 1Tim. 1:12-17). Bid byvoorbeeld:

‘Vader, dankie dat U Jesus gestuur het om vir my te sterf. Dankie dat U my liefhet, selfs al het ek hierdie aaklige ding gedoen. Dankie dat U genade groter is as my sonde. Dankie dat U nie net hiérdie sonde vergewe het nie, maar elke ander sonde wat ek al gedoen het en nog gaan doen. Ek voel so klein in die lig van U groot genade. Prys U heilige Naam. Amen.’

Jesus is groter as jou verlede3 en kan jou vergewe soos Hy Petrus vergewe het (Matt. 26:69-75, Joh. 21:15-19).

Dalk twyfel jy nie dat die Here jou kan vergewe nie. Jy wonder eerder wat jy moet doen, omdat die persoon teen wie jy gesondig het intussen oorlede is. Die Here weet dit. Los die saak by Hom en vra sy hulp om aan te beweeg. Jy hoef nie soos Josef se boeties voor mense te kruip en in die stof te lê nie (v.18). Jy is nie ’n slaaf van ander mense nie (v.18-19), maar van God (v.17). As mense jou nie wil vergewe nie, is dit op hulle gewete. Maak jy net seker dat jy jou sonde uit ’n opregte hart bely, dat jy jou bekeer en dat jy die Here se vergifnis aanvaar.

 

2. Bitterheid (v.19-21)

Om bitter te wees, is soos om gif drink en te hoop die ander persoon sterf. Josef was nie bitter nie. Hy het sy boeties gerusgestel en hulle vergewe (v.19). Hoe het hy dit reggekry om nie bitter te wees na alles wat sy broers hom aangedoen het nie? Hy het in die eerste plek geglo dat die Here regverdig oordeel (v.19, Ps. 37:5-6, Rom. 12:19, Jak. 4:12, 1Pet. 2:23). Die Here self sal die verkragter, pedofiel, moordenaar, slegte ouer, man wat jou aanrand, vrou wat seksueel ontrou is, oordeel. Vir die persoon wat hom of haar bekeer, het God die sonde aan ’n bloedige kruis geoordeel. Vir dié wat hulle nie bekeer nie, sal Hy hulle sonde in die hel straf.

Om die bitterheid verder teë te staan, het Josef onthou dat God soewerein is (v.20). Sy boeties het wel bose intensies teen hom gehad, maar die Here het goeie planne daarmee gehad (v.20). Josef het nie hulle sonde ontken nie. Hy het nie gesê: ‘Toemaar, dit was nie julle skuld nie.’ Nee, hy het erken dat hulle verkeerd was. Hy het egter nie op hulle sonde gefokus nie, maar op die Here wat hom vooruit gestuur het om koring op te gaar, sodat hy sy familie se lewens kon red en die Messias uit daardie geslag gebore kon word (v.20, Gen. 45:5, 8, Ps. 105:17).

Deur die Messias wat uit daardie geslag gebore is, het God ons sonde vergewe. Jou en my redding is dus ‘n direkte gevolg van Josef se tragedie! Josef het nie al hierdie dinge geweet, of besef nie. Hy het wel God se goeie hand agter die skerms sien werk. Daarom kon hy sy boeties vergewe en was hy nie bitter teen hulle, of teen God nie.

Ons moet dieselfde doen en glo dat die Here goed, regverdig, wys en soewerein is. Hy sal sorg dat die slegte dinge wat Hy in sy kinders se lewens toelaat, hulle bevoordeel en hulle meer soos Jesus maak (v.20, Rom. 8:28-29). Johannes Calvyn het gesê: ‘Whatever poison Satan produces, God turns it into medicine for his elect.’4

Dit geld nie net vir sonde wat jy in die verlede gedoen het, of vir dit wat iemand teen jou gedoen het nie. Dit geld vir enige pynlike ervaring in die verlede wat nié sonde was nie. Jy het bv. nie jou kind agter die kar gesien nie en bo-oor hom gery. Jou kind het terminaal siek geword en gesterf. Jy het die swembadhekkie hekke oop vergeet, sodat jou kind verdrink het. Jy kon die situasie nie keer nie en jy kan dit ook nie terugdraai nie. Moet egter nie kwaad wees vir die Here nie, maar vra vir genade om die verlede in sy hande te los en vrede te vind. Eien ook die beloftes van v.20, Rom. 8:28-29 vir jouself.

Om nie bitter te raak nie, het Josef laastens sy broers getroos en belowe om vir hulle en hulle kinders te sorg (v.21). Hy het dit reeds in Gen. 45:11, 47:12 gedoen, maar hy wou sy boeties herverseker dat hy vir hulle omgee. Ek en jy moet dieselfde doen as ons bitterheid wil oorkom (Luk. 6:27-36, Rom. 12:14-21). Om dit reg te kry, sal dit help as jy onthou hoe jy die Here se vyand was en hoe Hy jóú vergewe het (Matt. 18:21-35, Luk. 23:34, Rom. 5:8, Ef. 4:31-32). Ken Sande sê: ‘Christians are the most forgiven people in the world. Therefore, we should be the most forgiving people in the world.’5

Wat sal gebeur as jy bitter bly en nie vergewe nie? Jou bitterheid sal tot baie ander sondes lei (Jak. 3:16). Die kanse is goed dat jy siek word (Spr. 14:30). Dalk sal jy selfs moord pleeg en op die einde hel toe gaan (Matt. 5:21-22, 1Joh. 3:15). Doen daarom moeite om die situasie te probeer oplos en vrede te maak (Rom. 12:18). Neem die eerste stap om die situasie uit te praat (Lev. 19:17, Matt. 5:23-24). Sluk jou trots en bely jou sonde as jy verkeerd was (Jak. 5:16). Leer om te vergewe as iemand teen jóú gesondig het (Luk. 17:3-4, Mark. 11:25). Vergewe soos die Here jou vergewe het: moenie weer die saak vir jouself, die oortreder, of vir ander mense ophaal nie (Kol. 3:13, Heb. 10:17).

Dalk klink hierdie dinge vir jou onmoontlik. ‘Ek kan die verlede nie vergeet nie,’ sê jy. As jy egter die Here vertrou en doen wat Hy in sy Woord sê, sal Hy jou die genade gee om die verlede te oorkom. Jy sal soos Corrie ten Boom (1892-1983) wees. Tydens die Tweede Wêreldoorlog het die Nazi’s haar en haar suster Betsie in Ravensbrück konsentrasiekamp in Duitsland gevange gehou. Betsie het in die konsentrasiekamp gesterf, terwyl Corrie dit oorleef het. Toe Corrie uitkom, het sy rondgetoer om mense van God se liefde te vertel. Nadat sy in München gepraat het, toe sien sy een van die soldate wat altyd by die deur gestaan en kyk het, terwyl die vroue stort. Na die praatjie het hy na haar toe gestap en gesê: ‘How grateful I am for your message, Fraulein. To think that, as you say, He has washed my sins away!’

Die soldaat het sy hand uitgesteek om Corrie s’n te skud. Sy kon haarself nie sover kry om haar hand uit te steek nie. Sy was kwaad, maar het besef dat dit sonde is. Sy het die Here gevra om haar te help om die man te vergewe, maar sy kon eenvoudig nie haar hand uitsteek nie. Sy het weer saggies gebid en die Here se hulp gevra. Toe sy haar hand uitsteek, toe vul die Here haar hart met sy liefde en vergifnis. Sy het die volgende groot les geleer: ‘When [Christ] tells us to love our enemies, He gives, along with the command, the love itself.’6

Met die Here se krag en genade kan ons ook ons sonde van die verlede bely, ander mense vergewe en die verlede in God se hande los (1Kor. 10:13, Fil. 4:13).


1  Sien Gen. 37:2, 41:29-30, 46, 53-54, 45:6, 47:9, 28

2  Iain Murray, Martyn-Lloyd Jones: The Fight of Faith (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1990), 409

3  Robert D. Jones, Bad Memories: Getting Past Your Past (Phillipsburg, New Jersey: P&R Publishing, 2004), 24

4  Aangehaal in Philip Eveson, The Book of Origins: Genesis Simply Explained (Darlington: Evangelical Press, 2001), 574

5  Ken Sande, The Peacemaker: Thrid Edition (Grand Rapids, Michigan: Baker Books, 1991, 2004), 204

6  Ibid., 218

[/column]

Kategorieë