Image result for impatient

Jakobus 5:7-11

Ons lewe in ’n kits samelewing waar mense nie wil wag nie. As dinge nie teen jóú pas en volgens jóú voorkeure gebeur nie, dan raak jy ongeduldig. As die winkel jou nie dadelik help nie, ry jy na ’n ander winkel toe. Ons raak ongeduldig as ons iemand bel en hulle nie dadelik antwoord nie. Ons raak ongeduldig as ’n trok stadig voor ons ry, as ’n ongeluk die verkeer vertraag, as ons honger by die huis aankom en daar nie kos is nie, as ’n ou mens voor ons in die winkel loop, as die rekenaar hang, as die netwerk stadig is, as ons ouers nie dadelik koop wat ons wil hê nie, as ons siek is en nie kan werk nie, as ons oud is en die Here ons nie dadelik hemel toe vat nie. Ons wil vir niks wag nie.1

Die Here wil egter hê dat ons geduldig moet wees en daarom stuur Hy moeilike omstandighede en mense oor ons pad. Om daarteen te skop, sal nie dinge verander nie en daarom is dit die beste om op die Here te wag vir ’n uitkoms. Ons moet ook leer om vorentoe en agtertoe te kyk as ons die situasie reg wil hanteer. Wat bedoel ek? Kyk asb. saam met my na Jak. 5:7-11.

 

1. Kyk vorentoe (v.7-9)

Iemand wat presies weet hoe dinge gaan uitdraai, het meer geduld as iemand wat onseker is oor die toekoms. Iemand wat byvoorbeeld verseker weet dat sy siekte na tien dae verby gaan wees, sal dit verdra. As die persoon egter vir nege dae op ’n siekbed lê en nie weet hoe lank hy nog daar gaan wees nie, raak hy ongeduldig.

Omdat dit geestelik dieselfde werk, het Jakobus v.7-11 vir sy lesers geskryf. Hulle was Joodse Christene wat vir hulle geloof vervolg en oor die antieke wêreld verstrooi is (Jak. 1:1, Hand. 8:1, 4, 11:19). Omdat hulle haastig uit Jerusalem moes vlug, het hulle alles verloor. In hulle armoede, het hulle by ryk mense gaan werk soek. Dié het hulle verdruk, hof toe gesleep en hulle lone teruggehou (v.4-6, 1:2, 2:5-6). Gevolglik het hulle ongeduldig en bitter geraak: bitter teen hulle verdrukkers, geïrriteerd met mekaar en ongeduldig met die Here wat die vyand toegelaat het om hulle te verdruk.

Om hulle te help, het Jakobus hulle herinner dat die Here binnekort sou kom om hulle vyande te oordeel en hulle van die verdrukking te red (v.7-9). Hierdie vaste versekering oor wat binnekort sou gebeur, moes hulle help om geduldig op die Here te wag.

‘Maar hoe sou die versekering van die wederkoms wat duisende jare in die toekoms gelê het, hulle help?’ wil iemand weet. Ek is nie seker of Jakobus hier van die wederkoms praat nie. Die Griekse woord parousias beteken eenvoudig ‘koms’. Ek wonder dus of Jakobus nie miskien verwys na Jesus wat in 67-70 n.C. sou kom om die kerk se Joodse vervolgers in Jerusalem te oordeel nie? Dit het gebeur 35 jaar nadat die Christene uit Jerusalem verdryf is en 20 jaar nadat Jakobus sy brief geskryf het. Is dit nie dalk wat Jakobus bedoel het toe hy gesê het dat die Here se koms naby is nie (v.8-9)?

Ek weet dat sy woorde ook na die wederkoms kan verwys, omdat een dag by die Here soos ’n duisend jaar is en ’n duisend jaar soos een dag (2Pet. 3:8). Dit maak egter vir my meer sin as hy vir sy lesers sou sê om geduldig te wag, omdat die Here se oordeel oor Jerusalem in 67-70 n.C. naby was (v.8-9, Matt. 24:33-34). Dit is asof die Regter by die hof se deur gestaan het en gereed was om in te kom om die Jode te straf, omdat hulle sy kinders vervolg het.

Omdat dit so was, moes die gelowiges lankmoedig, of geduldig wees (v.7). Hulle moes hulle vervolgers in die Here se hande los en die Heilige Gees se hulp vra om geduldig te wees (Gal. 5:22, 1Pet. 2:23). Hulle moes soos ’n boer wees wat sy land ploeg, dit bemes, die saad saai en geduldig vir die vroeë Oktober-reën wag om die saad te laat ontkiem, en vir die laat reën in Maart-April wat sou help om die gewasse te laat ryp word (v.7, Deut. 11:14, Joël 2:23). Vir die boer om ongeduldig te raak, sou nie help nie. Hy kon slegs doen wat hy moes, maar dan moes hy vir die reën wag.

Net so moet ons ons omstandighede en moeilike mense geduldig verdra. In die meeste gevalle is jy soos die boer wat nie sy situasie kan verander nie, maar wat geduldig vir die reën moet wag. Dit is terwyl ons hierdie moeilike mense, of omstandighede vedra, dat die vrugte van ons lewens ryp word. Die Here gebruik m.a.w. hierdie dinge om ons karakter te vorm en ons meer soos Jesus te maak (Rom. 5:3-5, Jak. 1:2-4). As jy ongeduldig onder die beproewing skop en skreeu, sal jy nie geestelik groei nie. Doen daarom wat jy moet en wag dan op die Here wat die uitkoms (die reën) beheer (v.7-8, Ps. 27:14, 1Pet. 5:6). Prakties beteken dit die volgende: 

  • Bid, beplan en werk hard. Wag dan op die Here om jou besigheid te laat optel.
  • Bid, wees eerlik in jou onderhandeling, kry die papierwerk reg, adverteer, teken die dokumente. Wag dan op die Here om die koop, of verkoop te laat deurgaan.
  • Bid, besoek die dokter en drink jou medisyne. Wag dan op die Here om jou gesond te maak.
  • Bid vir jou kinders, leer hulle die evangelie, voed hulle reg op, stel vir hulle ’n goeie voorbeeld, tugtig hulle as hulle sondig. Wag dan op die Here om hulle te red. Dit geld ook vir ’n rebelse kind, of vir jou familie, vriende en kollegas vir wie se redding jy bid.
  • Bid vir ’n werk, soek werk, stuur jou CV uit, bel plekke, gaan sien mense, maak planne en gaan vir onderhoude. Wag dan op die Here om vir jou werk te gee.
  • Bid vir ’n lewensmaat, volg Bybelse beginsels, maak vriende en gaan uit. Wag dan op die Here om vir jou die regte maat te gee.
  • Bid vir finansies, doen wat jy moet volgens die Bybel en stel planne in plek. Wag dan op die Here om vir jou te voorsien.
  • Bid vir mense se groei en leer hulle die Bybel. Wag dan op die Here om hulle te laat groei.
  • Bid, lees die Bybel en kom kerk toe as jy geestelik koud voel. Wag dan op die Here om jou verhouding met Hom te herstel (Jes. 8:17).
  • Bid, gebruik die Bybel, vra ander mense om vir jou bid en bly uit die duiwel se pad om versoeking te oorkom. Wag dan dat die Here vir die duiwel sê dat hy jou nie meer kan versoek nie. Dit geld ook vir beproewing (Rom. 12:12).

As jy nie geduldig op die Here wag nie maar sy hand probeer forseer, of Hom met trane of woede probeer manipuleer, het jy ’n verkeerde beeld van God. Jy is ongeduldig, omdat jy bang is dat die Here nie dinge sal uitwerk soos jý wil nie. Jy dink dat die Here nie goed, of wys is nie. Jy dink dat jy beter as die Here weet hoe en wanneer dinge vir jou moet uitwerk. Jy wil dinge in jou eie hand neem, omdat jy die Here nie vertrou nie.

Wag eerder geduldig op die Here as mense dit finansieel, of op ander maniere vir jou moeilik maak, of as jy deur ’n beproewing gaan waaraan jy niks kan doen nie (v.1-8, Ps. 37:7, 2Tim. 2:24). Versterk jou hart terwyl jy op die Here wag (v.8). Hoe doen ’n mens dit? Vra vir die Here krag om met ’n blymoedige hart op Hom te wag, terwyl jy nie nalaat om Hom te dank vir die goeie dinge wat Hy gee nie (Kol. 1:11-14). Herinner jouself dat die Here met jou is; dat Hy jou sal deurhelp; dat Hy weer gaan kom; dat Hy slegte mense gaan oordeel; dat Hy ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde sal skep waarin daar nie meer versoeking, of beproewings is nie.

Laat ons daarom nie teen mekaar sug, murmureer, of geïrriteerd raak nie (v.9). Moenie jou ongeduld en frustrasie oor jou omstandighede op ander mense, of op die Here uithaal nie (v.9, Num. 21:4-5). Verdra mekaar en wees lief vir mekaar, omdat dit een van die Here se oplossings teen ongeduld is (1Kor. 13:4, Ef. 4:2, Kol. 3:12, 1Tess. 5:14).

Moenie eers ongeduldig raak teen die mense wat jou onregverdig behandel nie, maar wag op die Here wat hulle sal vergeld (Spr. 20:22). As jy gedurig teen die Here en teen ander mense murmureer, sal jy saam met die verdrukkers geoordeel word (v.9, 4:11-12). Omdat murmering eintlik ’n klagte teen die Here is, neem Hy dit nie ligtelik op nie (Eks. 14-17). Vra daarom sy hulp om dankbaar te wees eerder as wat jy teen Hom murmureer (Fil. 2:14, 1Tess. 5:18).

 

2. Kyk agtertoe (v.10-11)

Toe ek ’n student was, het een van my professors gesê dat Job ’n gelykenis is en nie geskiedenis nie. Maar hoe help dit jou as jy deur ’n moeilike tyd gaan en ek vir jou sê: ‘Moenie bekommerd wees nie. Onthou dat Hansie en Grietjie ook onder hulle stiefma en die lelike heks gely het en dat dinge op die einde vir hulle uitgewerk het’?

Jy sal dink dat ek mal is, omdat ek jou uit ’n feëverhaal probeer bemoedig. Wat in stories gebeur en wat in die regte lewe gebeur, is nie dieselfde nie. Dit geld ook vir die verhale van die Ou Testament. As dit net stories was en nie geskiedenis nie, sou dit ons nie help nie. Dit is juis omdat dit geskiedenis is, dat Jakobus sy lesers daardeur kan bemoedig (v.10-11, Rom. 15:4, 1Kor. 10:11). Vat byvoorbeeld die profete wat in die Here se Naam gepreek het en vervolg is (v.10, Matt. 23:34-35, Hand. 7:52): 

  • Dink aan Moses wat telkemale deur sy eie mense verwerp is (Hand. 7:27, 35, 39-40).
  • Dink aan Agab en Isebel wat die lewe vir Elia moeilik gemaak het (1Kon. 18-19).
  • Dink aan Agab wat Miga gehaat en hom in die tronk toegesluit het (1Kon. 22).
  • Jeremia het sy lewe lank onder die volk gely (Jeremia).
  • Dink aan Daniël se jaloerse vyande wat toegesien het dat hy in die leeukuil beland (Dan. 6).
  • Dink aan Israel wat Hosea se preke verwerp het (Hosea).
  • Dink aan die priester Amasia wat vir Amos gesê het om op te hou preek (Amos 7:10-13).
  • Dink aan Sagaria wat in die voorhof van die tempel vermoor is (2Kron. 24:20-21).
  • Dink aan koning Herodes wat Johannes die Doper in die tronk laat toesluit het en hom onthoof het (Mark. 6:17-29).
  • Dink aan die Jode en die Romeine wat saamgespan het om vir Jesus te kruisig (Matt. 26-27).

Jakobus se punt is dat sy lesers in goeie geselskap is, omdat hulle soos Jesus en die profete vervolg is (v.10, Luk. 6:22-23). Soos Jesus en die profete, moes hulle geduldig tot in die hemel volhard (Heb. 11:32-12:3). Deur so te volhard, sou hulle gelukkig en geseënd wees (v.11, Matt. 5:10-12).

In die Here se oë is geduldige mense sterk mense. Hulle is soos die apostels, die profete, die martelare en Jesus wat onder die swaar las gebly het [v.11, Gk. hupomenō] en nie opgegee het nie. Hulle het nie teruggedraai toe hulle die kruis en die martelaarsvure sien nie, maar hulle het vasgebyt tot aan die einde. As hulle ingee het en die Here verloën het, sou ons hulle as swakkelinge beskou.

Vra dan die Here vir krag om te volhard (2Tess. 3:5). Wees soos Job (v.11). Kan jy onthou wat met hom gebeur het? Hy het op één dag al sy kinders en besittings verloor. Kort daarna het hy sy gesondheid verloor. Sy vriende het teen hom gedraai. Hy het baie swaar gekry. Alhoewel hy nie altyd geduldig was nie, het hy aan die Here vasgehou (v.11, Job 1:21, 2:10, 13:15, 23:8-17). Op die einde het die Here sy doel met Job bereik, naamlik om hom te suiwer en in ’n dieper verhouding met Homself te bring (v.11, Job 23:10, 14, 42:2, 5-6). Die Here se einddoel was ook om hom twee keer soveel te gee as wat hy in die begin gehad het (v.11, Job 42:10, 12).

Jakobus se punt is om te wys dat ons lyding nie tevergeefs is nie. Op die einde sal jou karakter volmaak wees. Jy sal nie meer ’n ongeduldige, gefrustreerde en kwaai persoon wees nie. Jy sal vol liefde, ontferming en geduld wees. Jy sal in ’n goeie verhouding met ander mense lewe. Jy sal soos Jesus wees.

Dra dus die beproewing geduldig. Vyf minute in Jesus se teenwoordigheid sal opmaak vir al die probleme wat jy in hierdie lewe beleef het. Jy sal meer as net dubbel terugkry wat jy verloor het: die Here sal jou met al die skatte van die hemel beloon. As ons dít voor oë hou, sal ons nie ongeduldig raak nie. Jy sal soos iemand wees wat by padwerke staan, maar geduldig is omdat hy weet dat die Here hom van ’n ongeluk beskerm.

Iemand wat nié soos Jesus die einddoel voor oë hou nie (v.11, Heb. 12:2), sal ongeduldig raak en homself probeer uitred. Hy sal soos Abram en Sarai wees wat deur Hagar probeer het om ’n kind te kry (Gen. 16). Hy sal soos ’n enkel persoon wees wat nie meer op die Here wil wag nie en besluit om met ’n ongelowige te trou. Hy sal soos ’n man wees wat nie vir die Here se voorsiening wil wag nie en ’n miljoen Rand se skuld by die bank aangaan.

Om ongeduldig te wees, kan jou duur kos. Party van julle weet dit en is jammer daaroor. Vir jou wil ek sê dat die Here vol medelye en ontferming is (v.11, Eks. 34:6). As jy dit betwyfel, moet jy na die kruis kyk. Soos die Here voor jou bekering geduldig was met jou (1Tim. 1:16, 1Pet. 3:20, 2Pet. 3:9, 15), sal Hy Hom na jou bekering oor jou ontferm. Hy is lief vir jou en gee om vir jou. Hy sal elke tree van die pad by jou wees (al kan jy baie keer nie sien waarmee Hy besig is nie).

Soms moet die Here ons deur diep waters vat, sodat ons sy medelye en ontferming kan beleef (v.11). In sulke tye moet jy geduldig op die Here wag en aan sy beloftes vashou (Ps. 130:5-6, Jes. 30:18, 40:31, Klaag. 3:25).

Jy moet soos die 15-jarige Franse Hugenoot, Marie Durand (1715-1776) wees. Toe die Katolieke haar gevra het om haar Protestantse geloof te verloën, het sy geweier. Saam met 30 ander vroue het hulle haar vir 38 jaar in die Toring van Constance by Aigues-Mortes toegesluit. Sy het die ander vroue bedien, briewe geskryf en uiteindelik toestemming gekry om vir hulle die Psalms te lees. T.s.v. die druk om haar geloof te verloën, het Marie nie toegegee nie. Vandag nog staan die woord Register (weerstaan!) teen een van die tronksel se klippe. Marie is in 1767 vrygelaat.2

Mag Marie se voorbeeld en die voorbeeld van Jesus, Job, die apostels en die profete ons inspireer om geduldig deur die beproewing te volhard.


1  Stuart Olyott, Something Must Be Known and Felt (Bridgend, Wales: Bryntirion Press, 2014), 129-130

2  N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Vol. 4 (Fearn, Ross-shire: Christian Focus, 2016), 557. Sien ook John Piper, Future Grace (Leicester, England: Inter-Varsity Press, 1995), 171-172 en https://www.youtube.com/watch?v=B3auQAdWPBY