Coram Deo Cover Image

Coming soon...

17 January 2020

Emosionele Probleme: Angs

[column width="1/1" last="true" title="" title_type="single" animation="none" implicit="true"]

Image result for panic attack

Filippense 4:4-9

Toe ek 16 was, het ek ‘n angsaanval gehad. Ek was anstig en kwaad, omdat my ouers nie geld gehad het om ons op ‘n skooltoer te stuur nie. Ek het vlak en vinnig asem gehaal, hartkloppings gehad, ‘n tantrum gegooi en begin huil. Die volgende dag het my ma my dokter te gevat. Toe ek hom vertel wat gebeur het, toe sê hy vir my: ‘Nee man, jy is mos mooi groot.’ Ek het verleë gevoel, maar hy was reg. Volgens die wêreld is angs iets wat met jou gebeur: ‘n angsaanval, of ‘n angsversteuring. Volgens die Bybel is angs iets wat jy doen; iets wat jy met die genade van die Here kan oorkom. Om te dit oorkom, moet jy die volgende doen:

  1. Verbly jou in die Here (v.4)

In 1988 is Bobby McFerrin se populêre lied, Don’t worry, be happy, vrygestel. As jy die lied se woorde lees, klink dit maar na ‘n goedkoop oplossing vir mense wat moeilike omstandighede beleef. Maar is Paulus se raad nie maar dieselfde as hy ons in v.4 beveel om altyd bly te wees nie (vgl. 1Tess. 5:16)? Nee, want hy sit nie op die strand in Hawaii as hy dit skryf nie, maar in die tronk (1:13-14, 17).

Hoe het hy dit reggekry om in sulke omstandighede bly te wees? Sy blydskap was nie in sy omstandighede gewortel nie, maar in die Here (v.4, vgl. 1:4, 18, 2:2, 17-18, 28-29, 3:1, 4:4, 10).

Wat beteken dit om jou in die Here te verbly? Dit beteken in eerste plek dat jy in die Here, of in Christus is (v.4, 7). Jy kan m.a.w. nie bonatuurlike blydskap en vrede hê as jy ongered is nie. As die Here jou egter gered het, het jy meer as genoeg rede om bly te wees:

God is jou Vader. Jesus is jou Herder, Verlosser en Vriend. Die Heilige Gees is jou Trooster. Jesus is in jou plek aan die kruis gestraf. Hy het jou gered en jou vergewe. Hy bid vir jou in die hemel. Hy kom weer om jou te haal, sodat jy by Hom kan wees. Hy beheer die skepping, die geskiedenis en alles wat met jou gebeur tot jou voordeel (Rom. 8:28). Hy het die Heilige Gees gestuur om in jou te woon, sodat jy, t.s.v. jou slegte omstandighede, blydskap kan hê (Hand. 13:52, Rom. 15:13, Gal. 5:22).

Dit is net moontlik as jy op die Here fokus (v.4) eerder as op jou omstandighede. Hoe so? Jou omstandighede verander. As jy dus volgens jou omstandighede leef, sal jou emosies soos die seisoene verander. As jy egter op die Here fokus, kan jy altyd bly wees, omdat Hý nie verander nie (Heb. 13:8).

  1. Doen goed aan ander (v.5a)

Wyle Martin Holdt het gesê: ‘As ek depressief voel, dan vat ek ‘n paar traktaatjies en gaan doen ek evangelisasie. Na die eerste paar gesprekke voel ek beter.’ Hoekom is dit so? Want met enige verkeerde emosie fokus jy op jouself. As jy ander bedien, verskruif jy die fokus en voel jy beter.

Dit geld ook vir angs. Daarom beveel Paulus ons in v.5a om vriendelik te wees teenoor almal. Die Griekse woord vir vriendelikheid [epieikeia, epieikēs] beteken ook matigheid, sagmoedigheid, geduld, soete redelikheid, toegeeflikheid, verdraagsaamheid, goedgunstigheid. As Christene moet ons daarvoor bekend staan dat ons, t.s.v. ons moeilike omstandighede, vriendelik is. Ons vreugde in die Here (v.4) moet sigbaar wees in ons optrede teenoor ander (v.5a).

Moenie jou stres op jou lewensmaat, kinders, familie, vriende, kollegas en ander mense uithaal nie. Mense moet eerder kan sien dat Christene stres anders hanteer as ongelowiges. As ons v.5a doen, sal mense begin vrae vra. Dit sal ons geleentheid wees om vir hulle te vertel van die hoop wat in ons is (1Pet. 3:15); om vir hulle te vertel dat ons ‘n goeie, soewereine en betroubare Vader in die hemel het; om vir hulle te sê hoe Jesus ons kom red het en hoe die Heilige Gees ons lewens verander het.

  1. Onthou dat die Here met jou is (v.5b)

Jasper is 5 jaar oud. Hy is bang om alleen deur die lang donker gang tot by sy kamer te loop. As sy pa egter by hom is, voel hy nie eers ‘n bietjie bang nie.

Is jy angstig oor jou slegte omstandighede? Die Here is met jou en Hy woon in jou (v.5b, 9, Jos. 1:9, Ps. 23:4, 119:151, Jes. 41:10, 43:2, 57:15, Matt. 28:20, Joh. 14:16-17, 23, Ef. 3:16-17, 19, Heb. 13:5). Jy is nie alleen nie en het geen rede om bang te wees nie.

  1. Weet dat angs sonde is (v.6a)

Ek het dit 20 jaar gelede vir die eerste in ‘n preek van John MacArthur gehoor. Ek was geskok. Ek het altyd gedink dat angs iets is wat jy kan nie help nie. Toe MacArthur egter verduidelik dat die Bybel ons beveel om nié angstig te wees nie en dat die oortreding daarvan sonde is (v.6a, Jak. 4:17), het dit vir my sin gemaak.

Volgens die wêreld word angs deur ‘n chemiese wanbalans in die brein veroorsaak. Daar is egter geen mediese bewyse hiervoor nie. Psigiaters weet dit en tog skryf hulle medikasie voor om die sogenaamde chemiese wanbalans te behandel [https://www.healthline.com/health/chemical-imbalance-in-the-brain#tests]. Volgens die Bybel is angs ‘n uitdrukking van ongeloof waardeur jy vir die Here sê dat jy Hom nie met jou probleme kan vertrou nie en dat jy dit liewer self sal probeer oplos (Matt. 6:30).

‘Maar as angs nie die gevolg van ‘n chemiese wanbalans is nie, hoekom help pille dan?’ wil iemand weet. Eintlik help pille in die meeste gevalle nié. Waar dit wel help, verlig dit die simptome van angs eerder as die angs self. In party gevalle kan dit die gevoel van angs onderdruk, maar dit beteken nog steeds nie dat dit mediese probleem is nie. Dit sou wees soos om te sê: ‘Drank en dwelms maak dat ek van my huweliksprobleme vergeet. Dit beteken dat my huweliksprobleme ‘n mediese probleem is.’

Miskien vra jy: ‘Maar kan sommige siektes nie angs veroorsaak nie? En as dit so is, wys dit nie dat angs ‘n mediese probleem is nie?’ Ek het in die vorige preek (oor depressie) gesê dat die mens se liggaam en siel mekaar beïnvloed. Kom ek illustreer dit as volg:

Sandra begin ewe skielik sleg slaap. Haar hartklop is heelwat vinniger as in die verlede [https://www.mayoclinic.org/diseases-conditions/hyperthyroidism/symptoms-causes/syc-20373659]. Sy is angstig en wonder of dit ‘n dreigende hartaanval is. Sy maak ‘n afspraak by die dokter. Hy sê dat sy ‘n ooraktiewe skildklier het wat te veel hormone afskei. Hy skryf vir haar medikasie voor. Sy voel beter, maar na ‘n paar weke raak dinge weer erger. Sy voel baie moeg, naar en duislig. Haar hare val uit. Sy kry hoofpyne en haar spiere pyn. Nou is sy eers angstig. Sy gaan terug dokter toe. Hy kom agter dat die pille nie met haar liggaam akkodeer nie. Hy verander die medikasie. ‘n Paar weke later is sy ‘n nuwe mens. Sandra het angstig gereageer op wat in haar liggaam aangaan. Haar angs is egter nie deur haar liggaam veroorsaak nie.

Angs kan ook tot siekte lei, maar dit beteken nog steeds nie dat dit ‘n mediese probleem is nie [Robert Smith (M.D.), The Christian Counselor’s Medical Desk Reference (Stanley, NC: Timeless Texts, 2000), 11]. Laat my toe om te verduidelik. Giel se werkskontrak verstryk oor 3 maande. Hy is 55 jaar oud en die kanse dat hy ‘n ander werk kry is nul. Hy lê in die aande wakker en kan nie slaap nie (Ps. 127:2, Dan. 6:18). Omdat hy angstig is, stuur sy brein seine na die liggaam om te veg, of vlug. Sy liggaam skei te veel aderenalien af, wat maak dat sy hart vinniger klop (Jer. 4:19). Die angs maak ook dat hy kort en vinnig asem haal, wat tot gevolg het dat sy liggaam nie genoeg suurstof kry nie en hy hiperventileer.

A.g.v. die angs sweet hy oormatig. Dit veroorsaak ‘n uitslag op sy vel en lei ook tot veranderinge in sy liggaamstemperatuur. Sy ingewande pyn; dit voel of sy maag draai (Jer. 4:19, Klaagl. 1:20). [Ibid., 47]. Hy ervaar skerp pyne in sy bors. Hy bewe en voel pap en moeg (Ps. 31:10, Jes. 35:3-4). Hy kry spanningshoofpyne en spierspasmas. Hy kry die meeste aande nagmerries. Hy voel duislig en naar. Sy mond voel droog. Hy sukkel om te konsentreer. Omdat sy gestel af is, kry hy griep [https://www.medicalnewstoday.com/articles/322510.php#complications]. Hy vrees dat hy baie ernstig siek is en gaan dokter toe. Die dokter gee vir hom medikasie, maar na ‘n bietjie ondervraging vind hy uit dat Giel baie angstig is oor sy werk.

Sien jy dus dat angs fisiese gevolge kan hê, alhoewel dit nie ‘n fisiese probleem is nie? Die oplossing vir angs is nie pille nie, maar om dit in die eerste plek as sonde te bely. Vra vergifnis dat jy die Here nie vertrou het nie. Bely ook alle ander sonde, sodat dit nie jou gewete pla en jy angstig voel nie (Ps. 25:17-18). Dit sal ook help as jy genoeg slaap kry, rus, oefen, of in die natuur kom om van stres te ontlaai. Hierdie dinge moet egter nie jou eerste toevlug wees nie—die Here moet.

Volgens Paulus moet ons oor niks besorg wees nie; nie oor jou werk, geld, oud word, die toekoms, jou vyande, die duiwel, die dood, jou kinders, dinge wat in die verlede gebeur het, beproewings, siekte, eksamens, die ekonomie, politiek, misdaad, slegte drome, die weer nie—oor niks nie (v.6a). Omdat God soewerein is, hoef jy nie angstig te wees nie. Hy is groter as alles en is al Een wat jy hoef te vrees.

  1. Bid oor alles (v.6b-7)

Soos Polyvalent die teengif vir ‘n mamba-byt is, is gebed die Bybel se teengif vir angs (v.6b). Bid oor alles eerder as om daaroor te stres. Vra ander om saam met jou te bid (v.6b, ‘julle’). Sê vir die Here wat jou pla (v.6b, 2Kon. 19:14-19, Ps. 62:9). Lê jou angs by sy voete neer, al moet jy dit vyftig keer per dag doen (Ps. 55:23, 1Pet. 5:7). Hy weet reeds wat jy nodig het, maar Hy wil hê jy moet Hom vertel (Matt. 6:8).

Wees egter versigtig dat jou bid-sessie nie in ‘n stres-sessie verander, waar jy oor die situasie top eerder as om daaroor te bid nie. Om stres te verhoed, moet jy met danksegging bid (v.6b). Sê vir die Here dankie dat Hy groter as die situasie is, dat Hy beproewings bring om jou meer soos Jesus te maak, dat Hy kan doen ver bo wat jy kan bid of dink, dat jou nie erger is nie, dat die dood die ergste ding is wat met jou kan gebeur en dat dit jou nie van Hom kan skei nie.

Wat sal gebeur as jy so bid? God sal jou met sy vrede vul; vrede te groot om te verstaan; vrede wat nie maar net die skaal van angs laat balanseer nie, maar wat ‘n duisend keer swaarder is (v.7, Rom. 15:13, Joh. 14:27, 16:33, Gal. 5:22). As jy hierdie vrede het, sal jy net weereens besef hoe wonderlik dit is om ‘n Christen te wees; wat ‘n voorreg dit is om aan Jesus te behoort (v.7). God se vrede sal soos ‘n soldaat oor jou hart en gedagtes waak (v.7). Dit sal keer dat verdere gedagtes van angs jou oorweldig en as jy in die aand jou kop op jou kussing neerlê, sal jy so rustig soos ‘n baba slaap.

  1. Bedink wat goed is (v.8)

Ek het eenkeer vir my broer gevra hoekom ‘n mens wiskunde en wetenskap nodig het as jy dit nie in jou lewe gaan gebruik nie. Sy antwoord het my gehelp: ‘SASOL verwag nie net dat hulle ingenieurs wiskunde en wetenskap moes hê nie. Hulle vereis dit selfs van dié mense wat op grondvlak werk en wat geen tersiêre opleiding het nie. Die rede hoekom hulle dit doen, is omdat wiskunde en wetenskap jou help om op ‘n sekere manier te dink.’

Geestelik werk dit dieselfde. As jy angstige gedagtes wil uitskakel, moet jy leer om ál jou gedagtes onder beheer te kry. Dit geld vir gedagtes van selfbejammering, hoogmoed, wellus, bitterheid, ens. (v.8). Daarom moet jy bedink wat waar is, edel is, regverdig is, rein is, lieflik is, loflik is (v.8). Die beste manier om hieraan te dink, is om aan Jesus se Persoon te dink. Wie is Hy?

  • Hy is die Waarheid wat geen leuen in Hom het nie.
  • Hy is eerbaar en het nog nooit iets oneerbaar gedoen nie.
  • Hy is regverdig en het geen ongeregtigheid in Hom nie.
  • Hy is rein; sondeloos volmaak.
  • Hy is lieflik; meer as enige engel, mens, of enige ander skepsel.
  • Hy is uitmuntend; sonder vlek, of enige fout in sy karakter.
  • Hy is so waardig dat die hele skepping Hom moet loof en prys.

As jy só op Jesus fokus, sal jy vrede hê (Jes. 26:3). ‘n Mens kry nie hierdie vrede deur soos ‘n Boeddhis jou gedagtes leeg te maak nie. Jy kry dit eerder as jy jou gedagtes met die Skrif en met Jesus se lieflike Persoon vul.

  1. Volg goeie lering (v.9)

Kinders leer uit wat hulle ouers sê en doen. Die Filippense het geleer om moeilike omstandighede te hanteer deur na Paulus te luister en deur sy lewe dop te hou (v.9, 3:17, 1Kor. 4:16, 11:1, Hand. 16:25). Deur Paulus se lering en voorbeeld te volg, kon die Filippense angs oorkom (v.9). ‘n Lewe van gehoorsaamheid sou hulle help om op die Here te fokus eerder as op hulle omstandighede. Dit sou hulle ook help om nie nóg meer skuldig en angstig voel soos iemand wat verkeerd doen nie.

Maar dan moet jy die Bybel se opdragte uitvoer en nie net weet wat dit sê nie (v.9). As jy dit getrou toepas, sal die Here nie net sy vrede in jou hart stuur nie (v.7). Hy sal persoonlik na jou toe kom (v.9). Dan sal jy wees soos ‘n ouer prediker na sy vrou se dood. Ek het ‘n brief van medelye aan hom geskryf. In sy antwoord het hy vertel hoe wonderlik die Here is en hoe hy Hom vir sy genade dank. Sy brief was vir my ‘n mooi voorbeeld van hoe ‘n gelowige hartseer en angs behoort te hanteer.

Natuurlik is daar nie 'n beter voorbeeld as Jesus nie. Toe Hy in Getsemane angstig was, het Hy sy hart voor die Vader uitgestort (Matt. 26:36-46). Volg sy voorbeeld: “Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.” (1Pet. 5:7).

[/column]

Kategorieë