Coram Deo Cover Image

Coming soon...

14 December 2018

Ek glo in Kersfees

Related image

1Timoteus 3:16

Ek bedoel nie dat ek in Kersvader en sy takbokke of elwe glo nie. Ek bedoel eerder dat ek in die God glo wat mens geword het. Jesus se menswording en die res van die Bybel se lering oor Hom is sentraal tot die Christelike geloof. Dit bepaal hoe jy lewe. 1Tim. 3:16 sal vir jou wys wat ek bedoel.

 

  1. Hoekom bely ons?

Êrens in die middel van die 1900’s wou die Afrikaanse Baptistekerk (die ABK) ‘n geloofsbelydenis optrek. By die vergadering het een dominee die voorstel teëgestaan en basies gesê dat Baptiste per definisie nie ‘n geloofsbelydenis kan hê nie, aangesien elke persoon vry is om die Skrif te interpreteer soos hy dit verstaan.

Ons is nie Rooms-Katolieke wat glo dat net die priester die Bybel mag interpreteer nie. Maar ons kan ook nie sê dat geloofsbelydenisse onnodig en onbelangrik is nie. Indien jy m.b.t. ‘n teks of leerstelling tot ‘n gevolgtrekking kom wat nog niemand in die geskiedenis bereik het nie, is die kanse goed dat jy verkeerd is. En as jy dink dat jy nie ander mense se interpretasies van die Skrif benodig nie, moet jy Spurgeon se waarskuwing ter harte neem: ‘It seems odd, that certain men who talk so much of what the Holy Spirit reveals to themselves, should think so little of what He has revealed to others.’

Volgens Paulus is dit nie net die individu wat die waarheid van die Bybel bely en verkondig nie, maar die kerk in haar geheel (v.15). Die Griekse woord vir ‘onteenseglik’ [homologoumenos] beteken letterlik ‘op grond van algemene ooreenstemming’ (v.16). 1Tim. 3:16 is m.a.w. ‘n geloofsbelydenis van die vroeë kerk en nie maar net die interpretasie van twee of drie Christene nie (bv. 1Kor. 11:16, 14:33b).

Die waarheid is onteenseglik groot, omdat die God wat ons bely groot is. Niemand kan teen Hom of sy Woord stry en wen nie. Niks kan met die Bybel vergelyk nie. In vergelyking met die Bybel is die Koran en ander sg. ‘heilige’ boeke so flou soos ‘n kers teen die son.

Die beginsel in v.16a is dat geloofsbelydenisse belangrik is. Baie mense sê: ‘Ons glo net die Bybel.’ Dit is reg so, maar alle Christene sê dit en stem nie saam oor wat die Bybel beteken nie. Dus moet ons pen op papier sit en sê wat ons oor ’n spesifieke waarheid glo. Moet bv. nie net sê jy glo in Jesus of die doop nie, maar definieer wie Jesus is en wat jy met ‘doop’ bedoel (die besprinkeling van babas of die onderdompeling van gelowiges?).

Ons moet weet wat ons glo. Ons moenie meer melk drink nie, maar by die vleis van die Woord uitkom. Ons benodig goeie Bybelse lering wat nie net op die oppervlak hark nie, maar diep myn. Laat ons bid vir predikers wat die Bybel op hulle knieë bestudeer, dit gehoorsaam, en dit vir die kudde leer (Esra 7:10).

Dalk dink jy jy het nie lering nodig nie. 1Tim. 3:15-16, 4:6-16, 2Tim. 4:1-5 en soortgelyke tekste bewys die teendeel. As jy swak is in leerstelling sal jy nie godsalig of reg lewe nie (v.16). ‘n Gesonde lewe vloei uit ‘n gesonde leer (v.15-16, 6:3, Tit. 1:1); swak lering lei tot ‘n lewe van ongehoorsaamheid en sonde (1:11, 8-10).

‘n Sensusopname in die VSA het getoon dat mense wat swak lering ontvang nie juis anders as die wêreld lewe nie. Onder sulke mense is die egskeidingsyfer hoog, dra mense nie by tot God se werk nie, is hulle rassisties, het hulle seks voor die huwelik en dink hulle dat dit nie verkeerd is nie. Dieselfde sensus het getoon dat mense wat leerstellig sterk is se lewens anders as die wêreld s’n lyk. Die slotsom van die sensus was dat Bybelse lering belangrik is. Nie almal wat reg glo, leef reg nie. Maar niemand wat verkeerd glo, het eers die potensiaal om reg te lewe nie.

Wat bedoel Paulus met die verborgenheid van die godsaligheid? In die Bybel is ‘n verborgenheid iets wat in die Ou Testament weggesteek was, maar wat God in die Nuwe Testament geopenbaar het (bv. Rom. 16:25-26, Ef. 3:3-6, 9, 6:19, Kol. 1:26-27, 2:2). Jesus is die verborgenheid wat mense in die Ou Testament nie mooi verstaan het nie, maar wat in die Nuwe Testament aan ons verskyn het.

Dit opsigself is genoeg om te wys dat die evangelie waar is. Niemand kon dit uitdink nie. Wie kon uitdink dat die almagtige God ‘n baba word, terwyl Hy nog steeds volkome God is? Wie kon dink aan ‘n Messias wat nie sy vyande met blitse en donderslae oorwin nie, maar deur as ‘n misdadiger aan ‘n kruis te sterf? Wie kon dink aan ‘n boodskap waarin God se vergifnis nie deur goeie werke verdien word nie, maar as ‘n gratis geskenk gegee word aan dié wat in sy Seun glo? God alleen kon hierdie evangelie uitgedink het.

 

  1. Wat bely ons?

My ouma vergeet, maar onthou liede se woorde. Griekse kenners reken dat 1Tim. 3:16 deel van ‘n ou gesang is. Deur die eeue het gelowiges Bybelse waarhede in liede opgesom, sodat hulle dit makliker kan onthou. Wat bely ons volgens hierdie vers?

“God is geopenbaar in die vlees”

Die ewige God het mens geword (Joh. 1:1, 14, Fil. 2:6-7). Voor sy geboorte in Betlehem was Hy nie ‘n mens nie. In die Ou Testament het Hy by tye in ‘n menslike liggaam verskyn (Gen. 18, Rigt. 6, 13). Maar Hy het eers in Betlehem ‘n permanente menslike liggaam ontvang. Hy het ‘n menslike liggaam en siel gehad soos die res van ons (Matt. 26:38, Luk. 24:39, Joh. 13:21, Heb. 10:5).

Hy verstaan dus alles wat jy in jou liggaam en siel ervaar: pyn, hartseer, versoeking, alleenheid, sonde (ons sonde aan die kruis), die dood, ens. Vat daarom jou sorge vir Hom: Hy verstaan wat jy deurmaak.

‘n Vrou het eenkeer vir my gesê dat sy al ‘n studie van Jesus gemaak het, maar nie van die Vader nie. A.g.v. haar slegte verhouding met haar pa, het sy gesê dat sy nie eintlik die Vader ken nie. Ek het vir haar gewys dat sy die Vader ken. Jesus is een met die Vader en het Hom aan ons kom openbaar (Joh. 1:18, 10:30, 14:9, Kol. 1:19, 2:9). Bestudeer Jesus se Persoon en lewe as jy die Vader wil ken.

“[Hy] is geregverdig in die Gees”

Die Heilige Gees het gewys dat Jesus sondeloos, onskuldig en regverdig is. Deur die Gees is Jesus uit ‘n maagd gebore en het Hy nie ‘n sondige natuur gehad nie (Luk. 1:35, Heb. 7:26). Toe Hy gedoop is, het die Gees op Hom gekom en gewys dat Hy die Regverdige van God is (Matt. 3:16, Joh. 1:32-34, 3:34).

Die Gees het Hom gelei om in die woestyn deur die duiwel versoek te word (Matt. 4:1). So het die Gees gewys dat Jesus heilig is en nie in die duiwel se strik sal trap nie. Die Gees het Hom bekragtig om wonders te doen en so te wys dat Hy van God af kom (Matt. 12:28, Hand. 10:38). Die Gees het Hom uit die graf opgewek en sodoende gewys dat Hy onskuldig is (Rom. 1:4, 8:11). Die Gees wys nog steeds dat die wêreld vol sonde is en Jesus nie (Joh. 16:8-11). Jy dink onderstebo as jy in enige opsig dink dat Jesus verkeerd is en jy reg.

“[Hy] het verskyn aan engele”

Na die skepping het die hemelwesens Jesus aanbid (Jes. 6:1-3, Joh. 12:41, Fil. 2:6). By sy geboorte het die engele Hom aanbid (Luk. 2:8-14, Heb. 1:6). Na sy versoeking in die woestyn het hulle Hom gedien (Matt. 4:11). In Getsemane het ‘n engel Hom gedien en was die engele onder sy bevel (Matt. 26:53, Luk. 22:43). Na die opstanding was daar engele by die leë graf (Matt. 28:2-3).

Toe Jesus opgevaar het, was daar engele (Hand. 1:9-11). Toe Hy in die hemel ingaan, het die engele Hom aanbid (Ps. 24:7-9, Ef. 1:20-21, Op. 5:11-14). Hulle aanbid Hom vandag nog (Op. 7:11-12). Wanneer Hy weer kom, sal die engele aan sy sy wees (Matt. 25:31, 2Tess. 1:7). Die engele staan verwonderd oor Jesus (Ef. 3:10, 1Pet. 1:12).

Kyk hoe die engele Hom aanbid en vra jouself of lofprysing en aanbidding deel is van jou daaglikse lewe? Of het jy al vir dae, weke en maande nagelaat om Hom te aanbid? Hoe wil jy Hom in die hemel prys as jy dit nie eers op die aarde doen nie?

“[Hy] is verkondig onder die heidene”

Ons verkondig Jesus Christus en Hom as die gekruisigde (1Kor. 1:23, 2:2). Alle nasies, volke, stamme en tale moet Hom ken en aanbid (Op. 5:9, 7:9). Ons moet vir hulle sê om dit te doen (Matt. 28:19, Hand. 1:8). In Paulus se tyd het die evangelie die Romeinse Ryk bereik (Kol. 1:6, 23, Rom. 16:26), maar daar is nog onbereikte nasies wat van Jesus moet hoor. Dit is elkeen van ons se plig om die evangelie te leef en te verkondig. Vra die Heilige Gees om jou vrymoedigheid te gee om dit te doen.

“[Hy] is geglo in die wêreld”

Ons verkondig nie die evangelie sonder sukses nie. Oral in die wêreld glo mense in Jesus en word hulle gered (Rom. 1:16, Ef. 2:8-9). Volgens die Bybel sal nog nasies tot bekering kom en die Here aanbid (Ps. 86:9). Hoe getrou bid jy hiervoor? Hoe gereeld bid jy vir bekerings, sendelinge, die prediking van God se Woord, geleenthede om die evangelie te deel en vir herlewing?

“[Hy] is opgeneem in heerlikheid”

Nadat Jesus Homself verneder het in sy menswording, het die Vader Hom verhoog en verheerlik (Joh. 17:5, Hand. 2:34-36, Ef. 1:20-23, Fil. 2:9-11). Jesus is die heerlikheid van die hemel (Heb. 1:3). Die hemel gaan nie in die eerste plek oor jou geliefdes, of oor ‘n plek waar jy nie meer hartseer sal wees of sterf nie. Dit gaan oor Jesus. As dit vir jou vervelig klink, ken jy Hom nie goed nie. Jy is soos ‘n blinde man wat hom dood verveel by die Grand Canyon of die Switserse Alpe. Vra die Heilige Gees om jou oë te open, sodat jy Jesus kan sien. As jy Hom sien, sal die waarhede van 1Tim. 3:16 in jou hart oorloop. Jy sal nie anders kan as om te sing nie.

Kategorieë