Lukas 15:11-32
’n Paar jaar gelede het ’n prentjie oor Kersfees op WhatsApp die rondte gedoen. Op die prentjie is daar ’n ‘holly’ en doringkroon langs mekaar. Onder die ‘holly’ staan daar: ‘Tis the season.’ Onder die doringkroon staan: ‘Tis the reason.’ Dit is goed opgesom. Dit is die rede vir Kersfees; hoekom Jesus aarde toe gekom het: om sondaars te red. Hier gee Jesus dit vir ons in storievorm.
1. Losbandigheid (v.11-20a)
Die storie begin so: “...’n Man het twee seuns gehad. Die jongste een van hulle het vir sy vader gesê, ‘Vader, gee my die deel van die eiendom wat my toekom.’ Hy het toe die besittings tussen hulle verdeel.” (v.11-12). Volgens Deut. 21:15-17 sou die oudste seun twee derdes van sy pa se eiendom erf en die jongste seun een derde. Die jongste seun wou sy erfdeel hê. Sy versoek was uiters disrespekvol. ’n Mens erf tog iets by jou ouers wanneer hulle doodgaan. Die seun het in effek gesê: ‘Ek wens pa is al dood; wanneer kry ek my erfgoed?’ So het hy plesier eerder as ’n verhouding met sy pa gesoek. Elke sondaar is so. Dit is hoekom meer mense op ’n Sondag fietsry, TV kyk, in die winkel is, kuier, slaap, hengel, werk of op die strand is as wat daar in die kerk is.
Die pa het sy seun se versoek toegestaan (v.12). ’n Kort tyd later het die seun na ’n ver land toe vertrek (v.13). Hy wou gou van sy pa af wegkom. Die feit dat hy alles saamgevat het (v.13) wys hy was nie van plan om terug te keer nie. Hy het na ’n ver land toe vertrek om so ver as moontlik van sy pa af weg te kom. Baie kinders van toegewyde Christen ouers is so: hulle kan nie wag om uit die huis uit te kom, sodat hulle nie meer op ’n Sondag in die kerk hoef te sit nie. Hulle wil van God en sy Woord af wegkom, sodat hulle ‘vry’ kan wees (v.13). Soos die verlore seun is hulle haastig om sonde te doen (Spr. 6:18b). Hulle draai hulle rug op God en dwaal na die ver land van sonde toe (v.13). Hulle lewe vir die oomblik en dink nie aan die hongersnood wat kom nie (v.13-14). Party ongelowiges dink aan hulle aftrede of ’n lewenspolis. Maar geen ongelowige dink gereeld aan die oordeelsdag en die ewigheid nie. Hulle lewe vir die hier en nou. Op die einde beland hulle waar die verlore seun was: hulle het niks, terwyl daar ’n hongersnood is (v.14).
Sonde is so: dit belowe plesier en sê die gras is groener aan die anderkant. Maar dit versadig nie. Dit los jou met niks. Jy bly leeg. Die Here bring jou laag en stroop jou van alles dat jy kan agterkom jy het Hom nodig. Selfs dan erken baie mense dit nie. Ten spyte van die seun se nood, het hy nie dadelik erken hy het sy pa nodig nie. Hy wou homself uit die gemors help: “Hy gaan werk toe by een van daardie land se inwoners, wat hom na sy boerdery gestuur het om sy varke op te pas.” (v.15). So probeer baie mense hulleself uithelp eerder as wat hulle na God toe draai. Hulle dink as hulle kerk bywoon, die Bybel lees, bid, arm mense help, sekere sondes uitskakel, sal hulle die Here se guns te wen (Fil. 3:4-6). Maar dit werk nie. Dit kan hulle gewete nie reinig nie. Dit vat nie die leegheid weg nie. So was dit vir die verlore seun. Hy het tussen die onrein varke beland en wou hulle kos eet (v.15, Lev. 11:7-8). Die Grieks (keration) verwys na karob peule van die Johannesbroodboom (v.16). Die peul se binnekant is sag, ruik soos stink kaas en smaak soet. As mens dit uitdroog en fynmaal, kan jy dit as ’n kaffeïen-vrye, diabeet-vriendelike plaasvervanger vir kakao gebruik. Dit is hoog in magnesium en het agt keer meer kalsium as melk. Mens kan die sade fynmaal en eet. Dit is ryk aan proteïene.1 Die verlore seun het hiervoor gewens, maar dit is van hom weerhou (v.16).
So los sonde en die duiwel jou met niks; nie eers ’n krieseltjie nie. ’n Onrein lewe tussen die varke help nie, aangesien geen onreine die koninkryk van God sal ingaan nie (Op. 21:27). Die seun moes met sy pa versoen raak. Hy het dit besef en geweet die oplossing lê by sy pa (v.17). So moet elkeen wat gered wil word tot sy sinne kom. Jy moet reg dink oor jou lewe, die dood, die ewigheid, God, Jesus se kruisdood vir sondaars en sy opstanding uit die dood.
Die verlore seun het vir homself gesê sy pa se dagloners het meer as hy (v.17). Hy het sy pa se vrygewigheid en goedhartigheid onthou. Dit het nie sin gemaak om ’n oomblik langer tussen die varke te sit nie. Dit maak nie sin om langer aan jou sonde vas te hou nie. Al waartoe dit gaan lei, is die dood (Rom. 6:23). Die seun se verligte verstand (v.17, vgl. Ef. 1:17-18, 4:17-18) het tot die reaksie van sy wil gelei (v.18). Dit is nie genoeg dat jy die oplossing raaksien nie; jou wil moet daarop reageer (v.17-18). Die seun het besluit om na sy pa toe terug te keer en sy sonde te bely. Hy sou erken dat hy teen sy pa en die hemel gesondig het (v.18). Hy wou nie soos baie mense sê: ‘My sonde maak niemand seer nie,’ maar hy het geweet dat hy hoofsaaklik teen God gesondig het (Ps. 51:6). Elke sondaar moet erken sy lewe kom van God af en dat hy teen God lewe (Dan. 5:23, Rom. 1:21).
Die seun sou vir sy pa sê hy is nie werd om sy kind te wees nie; dat hy niks verdien nie; dat sy pa hom niks skuld nie; dat hy hom kan afskryf; dat sy pa hom as ’n huurslaaf moet beskou (v.19). Wie gered wil word, moet erken God skuld hom niks nie, behalwe straf. As jou begeerte na God opreg is, sal jy soos die verlore seun by sy pa wil wees; al beteken dit jy is ’n huurslaaf (v.19). Soos die mossie en die swaeltjie hulle nes in God se huis het, sal jy bly wees om net ’n deurwagter in God se huis te wees (Ps. 84:4-5, 11). Jy besef met ander woorde die hemel gaan oor God eerder as oor die strate van goud. Die verlore seun het dit geweet. Dus wou hy nie net na die plaas toe teruggekeer nie, maar na sy pa toe (v.20a). Dit het nie by goeie intensies gebly nie, maar het oorgegaan tot aksie. Bekering beteken nie net jy dink nuut nie. Dit vereis dat jy aksie neem (Jak. 1:22, Rom. 10:13).
2. Liefde (v.20b-24)
Die pa het na sy seun verlang en hom op ’n afstand gesien aankom (v.20b). So ontferm God Hom oor stukkende sondaars; hy voel dit tot in sy ingewande (v.20b, Gk. splagchnizomai). Soos Johannes en Jakobus wens ek soms ek kan vuur uit die hemel roep om sondaars te verbrand (9:54). Ek vergeet dat ek self op ’n tyd verlore was. Ek soek meer van God se hart en sy ywer om verlorenes te red. Sien sy ywer in die verlore seun se pa wat hom tegemoet hardloop. Dit was teen die kultuur van die tyd vir ’n ou man om sy kleed op te tel en te hardloop. Maar die pa se liefde vir sy seun het hom gedring. Hy het hom omhels en aanhoudend gesoen (Gk. indikatief aktief) om te wys hy aanvaar hom as sy seun (v.20b).
“Die seun sê toe vir sy vader, ‘Vader, ek het gesondig teen die hemel en in u oë. Ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie.’ ” (v.21). Hy het nie by die deel gekom dat sy pa hom as ’n huurslaaf moet beskou nie (v.19b). Sy pa het hom onderbreek en vir die slawe gesê: “Bring gou ’n lang stola, die beste een, en trek dit vir hom aan. Gee vir hom ’n ring vir sy vinger en sandale vir sy voete.” (v.22). ’n Lang stola verwys na ’n kleed wat deur die hoëklas gedra is (v.22, Gk. stolēn tēn prōtēn). Die ring was ’n statussimbool en het gewys die seun kan met sy pa se gesag optree (v.22, Gen. 41:42, Est. 3:10, 8:2, Jak. 2:2). Die skoene aan sy voete het gewys hy is ’n seun en nie ’n slaaf nie (v.22, Jes. 20:4, Eseg. 16:10).
God doen dieselfde vir ons. Hy gee ons die kleed van sy geregtigheid en aanvaar ons as sy seuns (Jes. 61:3, 10, Sag. 3:3-5, Op. 7:13-14, Joh. 15:15, Rom. 8:15). Hy sit vir ons ’n feesmaal voor en oorlaai ons met seën (v.23, Ps. 23:5-6). Sy genade is groter as ons sonde (Rom. 5:20). Hy jubel dat ons weer lewe, dat Hy ons teruggevind het (v.24, 6, 9, Ef. 2:1, 5). Moenie sy gewilligheid om te red, betwyfel nie. Die feit dat Jesus mens geword en vir ons gesterf het, wys Hy red graag.
3. Godsdienstigheid (v.25-32)
Die oudste seun was in die veld waar hy sy erfdeel opgepas het (v.25). Toe hy naby die huis kom, toe hoor hy die feesviering (v.25). Hy het ’n slaaf nader geroep en gevra wat aangaan (v.26). Die slaaf het gesê dat sy verlore broer teruggekeer het, en dat sy pa die vetgemaakte kalf geslag het (v.27). Hieroor was die oudste seun woedend (v.28, 2). Godsdienstige mense is nog steeds so: ‘Ons het bazaar gehou en koek gebak om hierdie kerk te bou. Nou kom mense sommer van die straat af kerk toe. Wat as ons gemeente Engels word om hulle te akkomodeer? Hulle sal die kerk oorneem en alles waarvoor ons gewerk het, afbreek. Hulle moet hulle eie kerk kry; hierdie is ons kerk.’
Toe die pa sy seun se reaksie hoor, het hy uitgegaan en hom mooi gevra om in te kom (v.28b). Die pa het twee verlore seuns gehad: ’n losbandige seun wat teruggekeer het en ’n godsdienstige verlore seun by die huis. Christus red nie net prostitute en tollenaars nie, maar Fariseërs en kerkmense (v.1-2). Soos die oudste seun het die Fariseërs gedink hulle is reg met God: “Kyk, ek sloof my al soveel jare vir u af, en het nog nooit ’n opdrag van u verontagsaam nie...” (v.29a). Vir hulle was God ’n harde Meester wat baie eis (v.29, 19:21). Godsdienstige mense sien God nie as ’n Vader met wie hulle ’n verhouding kan hê nie. Hulle dink God skuld hulle, omdat hulle altyd reg lewe en Hom getrou dien (v.29). Hulle roem en vertrou op hulle godsdienstigheid (Fil. 3:4-6): “Ek dien die Here al baie jare (v.29)... Ek het vir veertig jaar lank Sondagskool gehou... Ek was vir jare ’n ouderling... Ek is al langer in die kerk as wat jy oud is, mannetjie!... Ek het koeksisters vir die vroue gebak... Ek gaan sedert 1992 elke jaar op ’n sendinguitreik Zimbabwe toe.’ Godsdienstige mense dien die Here uit hoogmoed. Of hulle vrees hulle sal die hemel mis. Hulle dien die Here nie uit liefde nie. Hulle kerkbywoning en stiltetyd is vreugdeloos; hulle doen dit uit pligsbesef. Hulle dien die Here vir wat hulle kan kry: “...’n bokkie...” (v.29). Die Bybel noem dit afgodery (Jak. 4:3-4). Hulle begeer nie om saam met die Here fees te vier nie, maar wil by hulle vriende wees (v.29). Hulle wil hemel toe gaan om by hulle geliefdes te wees eerder as by die Here.
Hulle dink hulle verdien beter as ander (v.30, 2, 18:11-12). Daarom praat die oudste seun van ‘jou seun!’ (v.30) eerder as ‘my broer’ (v.32). Solank jy dink jy is beter as ander kan jy nie gered word nie. Jy sien immers geen rede om jou te bekeer nie. Jy dink jy is nie so sleg nie, maar wat van jou privaat lewe en jou gedagtes (Ef. 5:12, Fil. 4:8)? Jou sonde is erger as ’n prostituut s’n. Jy sit weekliks in die kerk en geniet baie geestelike voorregte (vgl. v.31, 9:4-5, 1Kor. 10:1-4). Ten spyte daarvan bekeer jy jou nie. Moenie in jou sonde bly nie, maar wees bly dat God mens geword het om godsdienstige- en losbandige sondaars te red (v.32).
Die ouer broer wou niks weet nie, maar het hom teen sy pa verset. Toe sy pa na vele smeking terugdraai om die feesviering voort te sit, toe vat sy seun ’n hamer en spykers. Hy het sy pa kruisig en nie besef sy pa sterf vir sy en sy jonger broer se sonde nie (Jes. 53:4-6). Uiteindelik het sy pa se dood daartoe gelei dat baie van die Joodse godsdienstige leiers tot bekering kom (Hand. 6:7). Dan is daar hoop vir die godsdienstige en ongeredde kerkmense in jou familie. Dit is moeilik om hulle te bereik, omdat hulle dink hulle is reg met God. Tog sê Jesus: “Wat onmoontlik is by mense, is by God moontlik.” (18:27). ’n Ouderling se vrou het so tot bekering gekom. Vir baie jare het sy gedink sy is gered, totdat sy verdeeldheid in die kerk veroorsaak het. Die Here het haar sonde uitgewys en haar tot bekering gelei. ’n Predikant in Nelspruit het dieselfde ervaar. Na sy egbreuk het hy besef hy ken nie die Here nie. Hy het die Here aangeroep en tot bekering gekom. Dit is hoekom Jesus aarde toe gekom het. Sy liefde het Hom gedring om losbandige- en godsdienstige mense te red.
1 https://babylonstoren.com/blog/post/admiration-carob-tree en https://www.gardeninginsouthafrica.co.za/trees/carob-treeceratonia-siliqua. Sien ook https://www.internationalstandardbible.com/H/husks.html