In die Ou Testament het Egipte se Farao’s en die konings van Babilon geglo hulle is gode. In die vorige eeu het mense Adolf Hitler, Haile Selassie en ander diktators as messiase beskou. Volgens die media dink Julius Malema dat hy die messias van ons tyd is wat Suid-Afrika gaan red. In Noord-Korea dink Kim Jong-un se mense dat hy ‘n god is.
Is dit dan nie lasterend as my tema impliseer dat Donald Trump die Here se herder is nie? My punt is nie spesifiek dat Donald Trump die Here se herder is nie. Ek gebruik hom eerder as ‘n voorbeeld om te wys dat konings partykeer optree om die kerk te bevoordeel. En dit is daardie opsig wat hulle sy herders is. So leer Jes. 44:28 vir ons: “…Kores…is my herder, en hy sal alles volbring wat My behaag…” Dit is ook waaroor Jes. 45:1-13 gaan.
1. Kores en die nasies (v.1-8)
Keiser Konstantyn was die Here se herder in die 4de eeu n.C. Kort nadat hy oor ‘n deel van die Romeinse Ryk begin regeer het, het hy wette gemaak om die kerk te beskerm.
Op ‘n soortgelyke wyse was Kores die Here se herder. God het hom 150 jaar voor sy geboorte gekies. Hy was die gesalfde in God se regterhand (v.1, vgl. 1Sam. 24:6). Hy het God se volk uit Babilon bevry en die tempel in Jerusalem laat herbou (v.4, 13, 44:28).
Hy was ‘n voorskou van die Gesalfde of Messias aan God se regterhand (Ps. 110:1). Tydens die Messias se 33 jaar op aarde het God sy regterhand vasgehou om sy taak te volbring (Ps. 16:8).
God hou ook jou regterhand as jy in Jesus glo (41:13, Ps. 121:5). Hy hou dit wanneer jy beproef word, of as jy onseker, verward, angstig, bang, rigtingloos, hartseer, ens. is.
God het die nasies voor Kores oorwin en konings se gordels losgemaak sodat Kores oor hulle regeer het (v.1, 22:21, Job 12:21). Hy het stadshekke en paleisdeure oopgemaak sodat Kores maklik kon ingaan (v.1). Hy het voor Kores uitgetrek en die hoogtes (nasies en konings) voor hom gelyk gemaak (v.2, 2:14).
Ook in hierdie verband was Kores ‘n prentjie van God wat besig is om die Messias se vyande onder sy voete te plaas (Ps. 2:8-12, 110:1). Jesus sal regeer totdat al sy vyande onder sy voete is (1Kor. 15:25). Al lyk dit dus of die kerk verloor, sal dit op die einde triomfeer.
God sal die deure open en hindernisse verwyder, sodat lande soos Noord-Korea en Soedan nie vir altyd die evangelie sal kan uithou nie (v.1-2, Sag. 4:6-7, Mark. 11:23, Op. 3:7-8). ISIS sal nie die laaste lag hê nie, en die 10/40 venster sal nie vir altyd onder Islamitiese bewind wees nie. Dit behoort aan Jesus. Hy het die sterk man (Satan) gebind en sal terugvat wat die Vader aan Hom gegee het (Matt. 12:29, 28:18, Ps. 2:8). Koperdeure en ystertralies kan Hom nie keer nie (v.2, Ps. 107:16, Matt. 16:18).
God het verder vir Kores die skatte gegee wat die Babiloniërs en ander nasies in donker en geheime plekke weggesteek het (v.3). Deur hierdie voorspellings het Kores geweet dat die Here hom by die naam geroep het om sý taak uit te voer (v.3-5, 41:22-23). God het sy naam gekies en hom tot Israel se voordeel geroep (v.4, 1). God het vir Kores geken, al het Kores Hom nie geken nie (v.4-5).
Net so ken die Here jou. Hy het jou gekies en jou voor die skepping en jou geboorte liefgehad (Gal. 1:15, Ef. 1:4, 2Tim. 1:9). Moet dan nie sy liefde betwyfel wanneer dit met jou sleg gaan nie. Hy het jou van die ewige verlede af liefgehad (Jer. 31:3).
Hy is die soewereine Here, EK IS WAT EK IS, onafhanklik, onveranderlik, en ewig (v.5). Kores moes Israel vrylaat sodat die nasies van oos tot wes kon weet Hy is die enigste God (v.5-6, 22, Ps. 113:3, Mal. 1:11, Op. 5:9, 7:9). Hy het lig en donker geskep, voorspoed en teëspoed (v.7). Hy het alles gemaak (v.7).
Dit beteken dat terminale kanker, die brand in Knysna, ‘n kind wat verdrink, die droogte in die Kaap, ‘n leeu wat ‘n mens vang nie buite sy beheer is nie (v.7, Deut. 28:23-24, Job 1-2, Ps. 148:8, 2Kon. 17:25, Klaagl. 3:37-38, Amos 3:6).
Maar wat van Satan en sonde? God het nie boosheid geskep soos wat ‘n Hindoe in Nelspruit vir my gesê het toe hy Jes. 45:7 lees nie. En tog gebruik die Here die duiwel en sonde om sy goeie planne uit te voer (Gen. 50:20, Hand. 2:23). As ek dit nie mis het nie was dit Walter Kaiser wat gesê het: ‘God uses sin sinlessly.’
Wat moet jou reaksie hierop wees? Moenie die Here beskuldig en Hom die outeur van sonde maak as jý self gekies het om te sondig nie (Jak. 1:13). Vrees Hom eerder wat alles beheer. Rus in Hom en weet jy is in goeie hande.
Hy is God wat sy geregtigheid en verlossing soos reën uit die hemel stuur, sodat dit goeie vrug voortbring soos die aarde ná ‘n lekker reënbui (v.8, 55:10-11, Hos. 10:12). Dit is gedeeltelik vervul toe God Kores gestuur het om die volk te bevry. Uiteindelik word dit egter in die Messias vervul:
- Hy het uit die hemel gekom om ons te red (v.8).
- Hy het die Heilige Gees uit die hemel gestuur om ons te wederbaar en goeie vrug in ons lewens voort te bring (v.8).
- Hy sal weer uit die hemel kom om ‘n nuwe hemel en aarde te skep waarin geregtigheid woon (v.8).
Het jy deel hieraan? Is jy van jou sonde en God se oordeel gered? Is jy ‘n nuwe mens, anders as voorheen (v.8, 2Kor. 5:17)? Dra jy die goeie vrug van bekering (v.8, Joh. 15:1-8, Gal. 5:22, Fil. 1:11)?
2. Die pottebakker en die ouer (v.9-13)
George Müller het vir weeskinders gesorg en die Here vertrou om vir hom geld te voorsien. Soms het hy groot bedrae gekry. Maar by tye het die Here bietjie vir bietjie voorsien. Hy het die Here vir beide geprys en dit as sý voorsiening beskou.
Israel het nie. Toe hulle uit Egipte trek toe gebruik die Here vir Moses en toe red Hy hulle deur die tien plae en die Rooi See wat oopgaan. Maar toe Hy hulle uit Babilon red toe gebruik hy die heidense Kores sonder enige wonderwerke. Om hierdie rede het hulle teen die Here gekla.
Maar wie is die pot om vir die Pottebakker te sê dat Hy verkeerd werk (v.9, 64:8, Gen. 2:7, Job 33:6, Ps. 2:9, Pred. 6:10, Jer. 18:1-6, 2Kor. 4:7)? En sal ‘n ongebore kind vir sy pa sê hoe en wat hy moet verwek (v.10)? Sal ‘n kind vir sy ma sê óf en wanneer sy swanger moet raak, en wat die kind se geslag moet wees (v.10)?
Net so kon Israel nie vir die Here voorskryf wat Hy met die werk van sy hande mag en nie mag doen (v.11). God het Kores, Israel en die mensdom gevorm, verwek en gebaar, en daarom kon Hy met hulle doen wat Hy wou (v.9-10).
Vir Israel wat die toekoms wou beheer het God gesê: ‘Wil julle nie asb. vir my sê wat Ek moet doen nie? Ek weet immers nie hoe nie, aangesien Ek maar net die mens, die heelal en die sterre geskep het (v.11-12, 40:22, 26, 42:5, Gen. 1-2, Ps. 147:4)!’
‘Basta!’ is wat my oom sou sê. God het alles geskep en beheer die geskiedenis. Hy het nie verkeerd gedoen om die heidense Kores op te wek nie (v.13). Hy het Kores se weë gelyk gemaak om Jerusalem te herbou en die Jode vry te laat (v.13, 2, 44:28). Kores het nie beloning of betaling gesoek nie (v.13), maar die Here van hemelse weermag het dit vir hom gegee (43:3-4).
Die Here is ook soewerein oor jou lewe. Jy het nie self gekies om te lewe nie. God het besluit. Hy het jou geslag, asook die dag en plek van jou geboorte gekies. Hy het ook voor jou geboorte gekies om jou te red; Hy het jou gekies nog voordat jy Hom gekies het (Joh. 1:12-13, 15:16, Hand. 13:48, Rom. 9:11-13). Soos die pottebakker en die ouer het die Here nie jou toestemming nodig gehad om jou nuut te maak en te red nie. Dit gaan oor die pottebakker en ouers se besluit, en nie oor die kleipot en kind wat gebore word nie (v.9-11, Rom. 9:14-18). Wat beteken dit prakties?
God kan maak wat Hy wil, soos Hy wil. Hy het alles geskep en kan ook met ons doen wat Hy wil. Dit is niks van jou besigheid as Hy Kores kies om Israel te bevry, of as Hy Jakob kies en nie vir Esau nie (v.9-11). Moet Hom dan nie bevraagteken nie:
“Maar tog, o mens, wie is jy wat teen God antwoord? Die maaksel kan tog nie vir die maker sê: Waarom het u my so gemaak nie? Of het die pottebakker nie mag oor die klei, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie?” (Rom. 9:20-21).
Buig eerder nederig en vra dat Hy jou genadig moet wees. Bid vir jou geliefdes, jouself, jou kinders en glo dat God net sal doen wat reg, goed, heilig, wys en regverdig is (Matt. 7:11, 11:25-27, Rom. 8:28). As jy nie voor sy soewereine wil buig nie, sal jy sleg daarvan afkom. Jy kan nie teen die Here stoei en wen nie (v.9a).
Moenie sy soewereiniteit uit die hand verwerp omdat dit logies vir jou nie sin maak nie, omdat jy dit nie met die mens se verantwoordelikheid kan versoen nie, omdat dit nie pas by hoe jy God sien nie, of omdat dit vir jou lyk of dit met ander tekste bots nie.
Wees eerder soos wyle dr. Martin Holdt. Hy het teen die soewereiniteit van God geskop, maar na ‘n worstelstryd het hy vir sy vrou gesê: ‘Ek het besluit om God se soewereiniteit in Rom. 9 te aanvaar soos dit is.’
Sy vrou het die vleismes laat val. ‘Maar wat van my pa?’ het sy gesê. ‘As dit van jou pa afhang is daar geen hoop nie, maar as dit van die Here afhang is daar hoop,’ het hy haar geantwoord.
God se soewereiniteit raak alles. Hy is soewerein oor nasies en die breë stroke van die geskiedenis, maar ook oor individue en spesifieke gebeure soos Kores wat God se volk bevry, Donald Trump wat in Amerika regeer, Cyril Ramaphosa wat die president van Suid-Afrika is, en die daaglikse gebeure in jou en my lewe.
Buig onder hierdie God se kragtige hand en sê dankie dat Hy jóú God is: “Welgeluksalig is die nasie wie se God die HERE is, die volk wat Hy vir Hom as erfdeel uitgekies het.” (Ps. 33:12).