Het jy gehoor hoe mense sê onderwysers werk net halfdag, kry ‘n goeie salaris, en het vier vakansies per jaar? Enige onderwyser en hulle familie weet dis nie waar nie. Ons dink verkeerd oor hulle. Dieselfde is dikwels die geval met geestelike leiers in die kerk. In 1 Korintiërs 4:6-21 leer Paulus ons om reg te dink oor hulle.
Moet hom nie verhef nie (v.6-13)
‘n Kollega en vriend het die grond aanbid waarop ‘n ouer leraar geloop het. Toe hy hom egter beter leer ken, besef hy dat dié dominee ‘n gewone mens met sonde en foute is. Ek het onlangs gaan kuier by ‘n dominee met ‘n baie goeie reputasie. Toe ons die afspraak reël het sy vrou in ‘n sms vir my gesê: ‘Moenie te veel verwag nie. Ons het groot kleivoete.’ Die gesegde lui: ‘The best of men are men at best.’ Dit is Paulus se punt in v.6-7.
Paulus het ‘hierdie dinge’ – die illustrasies van ‘n boer, bouer, dienskneg, en rentmeester – op homself en Apollos toegepas (v.6, 3:6-9, 10-15, 4:1-2). Dit het hy gedoen, sodat die Korintiërs hom en Apollos nie sou ophemel nie. Hulle moes nie verder dink as wat die Skrif (die Ou Testament aanhalings in hfst.1-3) toelaat nie: “dat julle aan ons kan leer om nie te dink bo wat geskrywe is nie” (v.6). Hulle moes nie in menslike wysheid roem en sê: ‘Ek is van Paulus,’ en ‘Ek is van Apollos’ nie (1:12, 3:4). Paulus noem hulle selfs ‘broers’ (v.6) om te wys dat hulle sy gelykes is, en hom daarom nie moet verhef nie. Alles wat ons het kom van God af, en daarom moet niemand in ‘n leier roem asof sý groep beter is as iemand anders s’n nie (v.7, Johannes 3:27).
Moenie jou geestelike leiers verhef nie. Vergeet van die illusie dat hulle super heilig is en min sondig. ‘n Paar vroue se woorde het by die dominee se vrou uitgekom: ‘Ek wonder hoe dit moet wees om met háár man getroud te wees?’ Hy het daarvan gehoor en gesê: ‘As hulle maar net geweet het watse groot sondaar ek is.’ Moenie die dominee aanbid nie; aanbid die Jesus wat hy verkondig. Jesus het gewaarsku:
“Maar julle, laat jul nie Rabbi noem nie, want een is julle leermeester: Christus, en julle is almal broeders. En julle moet niemand op die aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader, Hy wat in die hemele is. Julle moet julle ook nie leermeesters laat noem nie, want een is julle leermeester: Christus. Maar die grootste van julle moet jul dienaar wees. Wie homself verhoog, sal verneder word, en wie homself verneder, sal verhoog word.” (Matteus 23:8-12).
Hoekom moet jy hom nie verhef nie? As jy hom verhef sal jy na hóm kyk vir dit wat net Jesus kan gee. Jy sal belangstelling in die kerk verloor as hy in sonde val. Dit sal vir jou moeilik wees om ‘n nuwe dominee te aanvaar. Jy sal ook te veel van hom verwag, en sodoende druk op sy kinders sit om perfek te wees.
Toe my dogter klein was het sy vir my gevra: ‘Pa, besluit die president wat jy gaan word as jy eendag groot is?’ ‘Nee,’ het ek geantwoord, ‘jy besluit self.’ My seun het dit gehoor en gesê: ‘Het pa self besluit om niks te wees?’ Hy het groter waarheid gepraat as wat hy besef het, want ‘n geestelike leier is niks. Dit is Paulus se boodskap in v.8-13. Jesus het mos gesê:
“Julle weet dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen; maar só moet dit onder julle nie wees nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie.” (Matteus 20:25-28).
Paulus gebruik sarkasme in v.8: “Alreeds is julle versadig, alreeds het julle ryk geword, sonder ons het julle geheers. Het julle tog maar geheers, sodat ons saam met julle kon heers!” Die Korintiërs móés honger en dors gewees het vir geregtigheid (Matteus 5:6), maar was versadig. Hulle móés besef het dat hulle arm is sonder Jesus (Openbaring 3:17-18), maar het geroem asof hulle ryk is. Paulus het gewens dat Jesus weer sou kom, sodat hulle reeds almal saam kon heers as konings (v.8, Openbaring 5:10).
Maar die teendeel was op dié tydstip waar: God het die apostels vertoon as ‘n skouspel vir mense en engele (1 Timoteus 5:21); soos gladiators wat voor almal in die teater die doodstraf gekry het (v.9, Romeine 8:36, Hebreërs 10:33). Vir Jesus se onthalwe het mense die apostels beskou as dwaas, swak en oneerbaar (v.10, 1:18, 2:3, Handelinge 26:24, 2 Korintiërs 11:29, 13:9). Paulus het tong-in-die-kies gesê dat die Korintiërs wys, sterk, en eerbaar was (v.10).
Die apostels was honger, dors, het ou klere gedra, is geslaan, was haweloos, en moes soos slawe met hulle eie hande werk – iets wat die Grieke verag het (v.11-12, 2 Korintiërs 11:23-27, Matteus 8:20, Handelinge 18:3, 1 Tessalonisense 2:9, 2 Tessalonisense 3:8). Verder het hulle ook hulle haters geseën , vasgebyt in vervolging, en dié wat hulle gelaster het met mooi woorde probeer wen (v.12-13, 1 Petrus 3:9). Hulle is beskou as die afskraapsel van die samelewing, as vullis (v.13). “U het ons ‘n uitvaagsel en ‘n wegwerpsel onder die volke gemaak.” (Klaagliedere 3:45).
Moenie jou dominee se werk verhef nie. Sommige dink: ‘Hy kry ‘n gratis huis en werk net twee ure per week.’ ‘n Meisie in Nelspruit het vir my gevra: ‘Wat dóén jy heel week?’ Ander dink dit moet lekker wees om ‘n titel te hê. ‘n Man wat afgestudeer het, het vir die sekretaresse gesê: ‘Ek is nie mnr. so-en-so nie, maar ds. so-en-so!’ Party wens dat hulle foto opgeblaas kan word en op die kerk se muur kan hang. Party dink die dominee is sy eie baas of is die baas van die kerk. Ander dink hy kry die offergawe. Ander sê weer: ‘Dit moet lekker wees om heeldag by mense te kuier; om koekies te eet en tee te drink.’
Sekerlik misbruik sommige geestelike leiers hulle posisie en ís hierdie dinge so. Maar as ‘n leraar getrou is, behoort hierdie dinge nie so te wees nie. Die waarheid is eerder dat die prediker soms soos Jeremia, Paulus en Timoteus wil opgee (Jeremia 20:9, Handelinge 18:9-10, 1 Timoteus 1:3, 2 Timoteus 1:6-8). Hy dra ‘n swaar las as mense in die gemeente ly, sondig, vals lering glo, stadig groei, of wegbly van die kerk af. Hy voel soos Paulus in 2 Korintiërs 11:28-29 en Galasiërs 4:19:
“Behalwe dit alles my daaglikse bekommernis, die sorg vir al die gemeentes. Wie is swak en ek is nie swak nie? Aan wie word ‘n struikelblok in die weg gelê en ek is nie aan die brand nie?... my kinders, vir wie ek weer in barensnood is totdat Christus in julle ‘n gestalte verkry.”
Dis vir hom baie harde werk om gereeld en getrou vir elkeen in die gemeente te bid (Kolossense 4:12). Hy moet dié wat hom slegsê seën, want die wêreld hou hom dop. Baie mense respekteer nie sy gesin of sy tyd met hulle nie. Hulle verwag dat hy altyd op bystand moet wees – sy gesin kan maar wag.
Mense wat die dominee se werk verhef moedig te maklik hulle kinders en kleinkinders aan om predikante te word, want ‘dis mos ‘n romantiese, eerbare, en goeie werk.’
Moet hom nie vergeet nie (v.14-21)
Dirk is ‘n skatryk sakeman. Hy het besluit om ‘n baba seuntjie aan te neem. Hy het vir dié seuntjie ‘n huis, goeie opvoeding, skoling, sekuriteit, en liefde gegee. Hy het met hom gespeel en saam vakansie gaan hou. Die seun het groot geword. Dirk het vir hom alles geleer oor besigheid. Uiteindelik het hy Dirk se besigheid oorgeneem. Toe Dirk oud word, het hy op ‘n siekbed gelê in die oue tehuis. Maar sy seun was te besig om geld te maak, en het nie tyd gehad om by hom te kuier nie. Hy het vergeet van die een wat goed was vir hom. Dit is waarteen Paulus waarsku in v.14-21.
Sy doel in v.8-13 was nie om die Korintiërs skaam te maak nie (v.14). Hy het wel later in die brief probeer om hulle te beskaam (6:5), maar hiér was dit nie sy doel nie. Hy wou hulle eenvoudig as sy liewe kinders vermaan (v.14, 1 Tessalonisense 2:11). In Christus het hy hulle geestelik pa geword deur die evangelie (v.15, Galasiers 4:19, Filemon 10). Hulle het onder sý prediking tot bekering gekom. Net soos ‘n kind sy pa na-aap, wou Paulus hê dat hulle sý nederige denke oor geestelike leiers moes na-aap: “Ek vermaan julle dan, word my navolgers.” (v.16). ‘n Leier wat waarlik deur die Here geroep is moet ook vir mense kan sê om sy voorbeeld na te volg.
- “Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is.” (11:1).
- “Wees ook my navolgers, broeders, en let op die wat so wandel soos julle ons tot voorbeeld het.” (Filippense 3:17).
- “En wat julle geleer en ontvang en gehoor en in my gesien het, doen dit, en die God van vrede sal met julle wees.” (Filippense 4:9).
- “En julle het navolgers van ons geword en van die Here deurdat julle die woord in baie verdrukking ontvang het met die blydskap van die Heilige Gees” (1 Tessalonisense 1:6).
- “Nie dat ons nie die reg het nie, maar om onsself vir julle as ‘n voorbeeld te stel, dat julle ons kan navolg.” (2 Tessalonisense 3:9).
- “Laat niemand jou jonkheid verag nie, maar wees ‘n voorbeeld vir die gelowiges in woord, in wandel, in liefde, in gees, in geloof, in reinheid.” (1 Timoteus 4:12).
Paulus het selfs sy geestelike kind Timoteus gestuur, sodat hulle sy voorbeeld in Timoteus kon sien (v.17, 16:10, 1 Timoteus 1:2). In hom sou hulle Paulus se prediking in lewende lywe sien, want wat hy gepreek het het hy ook geleef (v.17). Dit was nie dat hy net van die Korintiërs verwag het om nederig en heilig te wees nie; hy het dit in ál die kerke gepreek en dit van hulle verwag (v.17, 7:17, 14:33).
Paulus het beplan om binnekort self na hulle toe te gaan (v.18-19, 11:34, 16:5-9). Hy het hom nie veel gesteur aan die woorde van dié wat gedink het hulle is wys nie. As hy by hulle was sou hy gou agterkom of dié mense regtig so ‘wys’ is. ‘n Mens leef immers nie heilig omdat hy ‘n groot mond het nie, maar omdat God se krag in hom werk (v.19-20, 2:4). Indien die Korintiërs berou gehad het oor hulle sonde, sou hy hulle met sagte woorde bemoedig. Maar as hulle in hulle sonde volhard het, sou hy hulle met ‘n roede slaan soos ‘n pa sy stoute seun tugtig (v.21, hfst.5, 2 Korintiërs 13:2, 10).
Moenie jou geestelike leiers vergeet nie. Soms dink mense die ouderlinge help ander geestelik en het self nie geestelike hulp nodig nie. ‘n Vriend en kollega het onlang getuig hoe baie dit vir hom beteken het toe ‘n lidmaat ‘sy dominee’ kom besoek het. Bid ook asseblief vir jou leiers; hulle het dit nodig (1 Tessalonisense 5:25). Volg jou leiers se voorbeeld in soverre hulle lewens met die Skrif ooreenkom en hulle Jesus navolg. Dit is baie dikwels so dat jy meer leer deur wat hulle doen as deur wat hulle sê: ‘It is more caught than taught.’ Ek kan daarvan getuig. Ek het baie meer uit my leraar se lewe geleer as uit sy prediking.
Ons moet hulle voorbeeld onthou en navolg selfs nadat hulle dood is. Dis die boodskap in Hebreërs 13:7: “Gedenk julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na.” Dit sou nie nodig gewees het om hulle te gedenk as hulle nog gelewe het nie. Ek kan verseker dinge uit wyle Martin Holdt se lewe onthou wat die moeite werd is om na te volg.
Wees versigtig dat jy nie ‘n leraar se lewe navolg as hy reg preek, maar self nie lewe wat hy verkondig nie: “Alles wat hulle dan vir julle mag sê om te onderhou, onderhou en doen dit; maar volgens hulle werke moet julle nie doen nie, want hulle praat en doen nie.” (Matteus 23:3).
Hoekom moet jy jou geestelike leiers nie vergeet? Want dit is makliker om ‘n tasbare en sigbare voorbeeld na te volg as ‘n abstrakte een wat net bestaan uit ‘n klomp idees.
Oor die Paasnaweek was ek by ‘n Baptiste konferensie in Cornelia in die Vrystaat. Tydens die kamp het twee mans die graf van die stigter van die ABK (J.D. Odendaal) gaan soek. Hulle het dit gekry en ander genooi om die volgende dag daarna te gaan kyk. Sy graf, sowel as sy 4 vroue s’n is met ‘n klipmuur omhein (hy was nie gelyk met al 4 getroud nie, maar het weer getrou na elkeen van sy vroue oorlede is). Die grafte is toegegroei met bosse en takke. Sy verlate graf is byna ‘n klein gelykenis van hoe ons dikwels ons geestelike leiers vergeet. Die Bybel sê ons moet hulle nie verhef. Maar dit sê ook ons moet hulle nie vergeet nie.