Coram Deo Cover Image

Coming soon...

13 January 2019

Dink reg oor die Sabbat

Related image

Jesaja 58:13-14

Ek het onlangs ‘n hoofstuk oor die Sabbat in Iain Murray se boek, Evangelical Holiness gelees. Nou, ‘n paar weke later, trek ek by Jes. 58:13-14 in my reeks. Wat volg is die slotsom van my studie oor die Sabbat.

 

  1. Watse dag van die week is die Sabbat?

Twee mense van die Sewendedag Adventiste het vurig op my lering oor die Sabbat gereageer. Ek het in ‘n vorige preek gesê dat die Nuwe Testamentiese Sabbat nie Saterdag is nie, maar Sondag. Ek staan by wat ek gesê het en wil tyd neem om my standpunt te verdedig.

In Gen. 1-2 het die Here ’n week met sewe dae geskep. Hy het vir ses dae gewerk en vir een dag gerus. Party mense sal sê dat die Here in Gen. 2:3 op die sewende dag gerus het, maar dat Hy eers in Eks. 20 gesê het dat die mens op die sewende dag moet rus.

Dit is egter nie die waarheid nie, want in Eks. 16 het God vir Israel gesê om op die Sabbat te rus. In Eks. 20:8 het die Here vir Israel gesê om die Sabbat van Gen. 2:3 te gedenk of te onthou. In Mark. 2:27 het Jesus gesê dat Hy in Gen. 2 reeds die Sabbat vir die mens gemaak het. Dit sal die patroon bly tot by die wederkoms (66:23).

Is die Sabbat Saterdag? Die Jode het dit so gevier, maar Eks. 20 sê eenvoudig dat die mens een dag uit sewe moet rus. In die Nuwe Testament het Jesus Homself Here van die Sabbat genoem. Hy het die Sabbat in Gen. 2 geskep, en het daarom die mag om te sê watse dag dit moet wees.

In die Ou Testament het die Here vir ses dae geskep en op die sewende dag gerus. In die Nuwe Tsetament het Hy ‘n nuwe skepping en die rus van verlossing verseker toe Hy op die eerste dag opgestaan het uit die graf (2Kor. 4:6, 5:17, Gal. 6:15). Dit was op die eerste dag wat die steen wat deur die bouers verwerp is, die hoeksteen geword het (Ps. 118:22, Hand. 4:11). Dit is dag wat die Here gemaak het, laat ons juig en daarin bly wees (Ps. 118:24).

Vir ons gaan dit oor meer as net ‘n dag van rus. Dit gaan oor die Sabbatsrus van verlossing deur die geloof (sien bv. Matt. 11:28 in die konteks van die Sabbat in Matt. 12:1-8. Sien ook Kol. 2:16-17, Heb. 4:3, 9-10). Dit is hoe die vroeë kerk Jesus se opstanding op die eerste dag van die week herdenk het (Hand. 20:7, 1Kor. 16:2). Eintlik is die Nuwe Testamentiese kerk sewe weke na Jesus se opstanding op ‘n Sondag gebore (Lev. 23:15-16)!

‘Maar wat van Jesus en Paulus wat op die sewende dag singoge toe gegaan het?’ wil iemand weet. Jesus het dit gedoen om die wet in ons plek perfek na te kom (Luk. 4:16). As Here van die Sabbat het Hy egter die dag van sy opstanding geheilig, sodat gelowiges nou daarop vergader om Hom te aanbid. Wat Paulus betref, het hy nie op Saterdae sinagoge toe gegaan omdat hy móés nie. Hy het dit eerder gedoen, omdat hy die Jode vir Jesus wou wen (1Kor. 9:20. Sien dieselfde beginsel in Hand. 21:26).

In die Ou Testament het gelowiges Saterdae as die Here se dag geheilig (v.13), maar in Op. 1:10 noem Johannes Sondag die Here se dag. Die Griekse konstruksie is dieselfde as in 1Kor. 11:20 waar Paulus van die ‘nagmaal van die Here’ praat. Jesus het die brood en die wyn m.a.w. afgesonder vir spesiale gebruik. Net so is Sondag ‘n dag wat die Here vir Homself afgesonder het.

Die Adventiste sal vir jou sê dat Op. 1:10 nie van die Sondag praat nie, maar van die Saterdag [Predikantevereniging van die Wêreldkonferensie van die Sewendedag Adventiste, Sewendedag-Adventiste Glo... (Suider-Uitgewery, geen datum), 270]. Hulle is verkeerd. ‘n Vroeë Christen genaamd Ignatius van Antiochië (35-108 n.C.) het gesê dat Christene nie meer Saterdae vier nie, maar Sondae. Hy het ook gesê dat die Here se Dag Sondag is en nie Saterdag nie [Ignatius of Antioch, Letter to the Magnesians, par. 9]. Justinus die Martelaar (100-165 n.C.) en Tertullianus (160-220 n.C.) het dieselfde gesê [Justin, First Apology, 67. Tertullian, Ad Nationes, 1:13 & Apology, 16].

Sou die apostels self besluit het om die Sabbat te verander as Jesus gesê het hulle moet nét leer wat Hy hulle beveel het (Matt. 28:19-20)?

Om Jesus weekliks op ‘n Sondag te aanbid, help dat ons nie van sy opstanding vergeet nie. Daarom is dit ongesond om soos party kerke op Saterdae aande ‘n diens te hou vir die mense wat op ‘n Sondag hulle eie ding wil doen. Verder is dit jammer dat Christene in Moslem lande op Vrydae kerk toe moet gaan. Waar hulle ‘n keuse het, moet hulle dalk nog steeds op ‘n Sondag voor of na werk met ander gelowiges ontmoet en die Here aanbid.

Niemand van ons is in daardie posisie nie, en daarom moet ons onthou dat dit die Here se Dag is en nie die Here se uur nie. Gee daarom die hele dag aan die Here, sy Woord, sy mense en jou gesin. Moenie net vir Hom ‘n uur op ‘n Sondagoggend gee nie. Ek sal later vir jou wys hoe ‘n mens dit prakties doen.

Vir nou kan ek sê dat Sondag die Here se Dag bly, ook as jy met vakansie gaan. Die Here wil nog steeds hê jy moet Hom op jou eie, saam met jou gesin en ander gelowiges dien en aanbid. Kyk op die internet vir ‘n goeie kerk. As daar nie een is nie, kan jy ‘n preek op die internet aflaai en die dag saam met jou gesin in die Woord, gebed en geestelike dinge deurbring. Dit moet egter die uitsondering wees en nie die reël nie.

 

  1. Wat moet ons op die Sabbat doen?

Toe ek ‘n kind was, was die winkels toe op ‘n Sondag. Nou is Sondae so besig soos enige ander dag. Dit is nie hoe die Here dit wil hê nie. Wat moet jy dan op die Here se Dag doen? Moenie jou eie besigheid en plesiere najaag nie, maar verlustig jou in die Here (v.13). Sonder Hom sal Sondae vir jou vervelig en frustrerend wees. John Newton het gesê: ‘How dull the Sabbath day, without the Sabbath’s Lord’ [Aangehaal in Iain Murray, Evangelical Holiness (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2013), 164-165].

Hoe kan jy van jou besigheid of plesiere rus en jou in die Here verlustig op hierdie dag? Vat ‘n breek van jou gewone werk. Moenie so geldgierig wees dat jy sewe dae per week werk nie (v.13, Neh. 13:15-22, Amos 8:5-6). Moenie werk as jy dit kan help nie. Rus. Slaap vir twee ure as jy nie in die week tyd kry nie. Sien Sondae as ‘n geskenk van die Here (Mark. 2:27) waarin Hy jou 52 dae per jaar af gee! Beskou dit asof die Here vir jou sê: ‘Ek gee jou sewe dae se betaling vir net ses dae se werk.’

Maar wat as jou baas sê jy móét werk? Bid dat die Here in sy hart sal werk. Die beginsel van Spr. 21:1 geld hier: “Die koning se hart is in die hand van die Here soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil.” Praat met jou baas en verduidelik wat jy glo. Sê vir hom dat jy beter, harder en meer effektief sal werk as jy op ‘n Sondag rus. Bid vir ‘n ander werk as jou baas jou nie wil af gee nie. Om een dag per week te rus en R15 000 te verdien, is beter as om glad nie op ‘n Sondag te rus nie, maar R23 000 te verdien.

Mag ons dan glad nie op ‘n Sondag werk nie? Volgens Joh. 5:17 werk die Here op ‘n Sondag. Dit gaan oor die soort werk wat jy doen. Jesus het werke van noodsaaklikheid en barmhartigheid gedoen (Mark. 3:1-6, Luk. 13:10-17). Wat beteken dit?

Dit beteken dat die dokter op ‘n Sondag ‘n kind help wat sy arm gebreek het. Dit beteken dat die chirurg ‘n vrou opereer wat ‘n hartaanval gekry het. Dit beteken dat die polisie skelms op ‘n Sondag vang, of dat die brandweerman ‘n huis blus wat besig is om af te brand. Dit beteken dat die dominee op Sondae preek. Dit beteken dat jy van die geleentheid gebruik maak om siek en arm mense te help.

Dit beteken dat jy jou hek swys as skelms dit op ‘n Saterdagaand breek. Dit beteken dat jy jou nie doodwerk in die kombuis nie, maar dat jy kos maak om ‘n ete saam met jou gesin en vriende te geniet (Mark. 2:23-28). Dit beteken dat jy nie al jou sake uitstel tot op ‘n Sondag as jy dit in die week kon doen nie. Hoekom móét jy op ‘n Sondag inkopies doen, brood koop of iets in die mall koop? Kon jy dit nie in die week gedoen het nie? Hoekom moet jý een van die duisende mense wees wat veroorsaak dat die winkel op ‘n Sondag oop bly en die werkers nie af kry om die Here te aanbid nie?

Werke van noodsaaklikheid en barmhartigheid beteken jy gee jou werkers af as jy ‘n besigheid het (Deut. 5:14). Dit beteken ook dat jy en jou kinders se skool hulle nie soos slawe moet dryf om sewe dae ‘n week te werk nie—gee hulle af sodat hulle liggame, siele, emosies en intellek kan rus (Eks. 23:12). Wat ek eintlik bedoel, is dat jy nie van jou kinders moet verwag om op Sondae te studeer, huiswerk te doen en te oefen nie.

Werke van noodsaaklikheid en barmhartigheid beteken verder dat jy nie sommer op ‘n Sondag sal reis as jy dit kan help nie. Aanbid die Here saam met ander gelowiges, eerder as wat jy die hele dag op die pad is. Ons moet egter oppas om nie reëls te maak wat die Here nie in die Bybel neerlê nie. Die punt is eenvoudig dat jou liggaam en siel verkwik moet raak. Dit is ‘n dag van gesamentlike aanbidding. Dit is ‘n dag om die Bybel meer te lees en te bid, en nie minder omdat jy vanoggend in die kerk was nie. Dit is ‘n dag om geestelike boeke te lees.

Dit is ‘n dag om by jou gesin te wees of ander gelowiges oor te nooi vir ete. Dit is ‘n dag om mekaar op te bou, mekaar te bemoedig en vir mekaar te bid. Dit is ‘n dag om rustig saam met jou gesin te gaan stap, in die swembad te ontspan en op die bed te lê. Dit is ‘n dag om weer in die aand saam met ander gelowiges te ontmoet by die aanddiens, om vir ‘n tweede keer verkwik te raak onder die Woord. Dit is ‘n dag om na die diens die Woord te lees en te bid voor jy gaan slaap.

Watse verskil sal dit in jou eie lewe, gesin, gemeente en die samelewing maak as elkeen van ons die Here se Dag so deurbring?

Volgens Jesaja is dit nie die Here se wil dat ons op die Sabbat ydele gesprekke moet voer nie (v.13). Jonathan Edwards (1703-1758) het gesê: ‘Resolved, Never to utter any thing that is sportive, or a matter of laughter, on the Lord’s day.’ [The Works of Jonathan Edwards: vol. 1 (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1974 [1834]), xxi]. Daar is ‘n tyd vir elke ding onder die son: “’n tyd om te ween en ’n tyd om te lag” (Pred. 3:4). Natuurlik kan ons op ‘n Sondag lag en bly wees. Ons moet egter nie ligsinnig wees as ons sopas oor die Here gesing het en sy Woord gehoor het nie. Dit is nie sonde om oor rugby te praat nie, maar is dit nie beter om die preek te bespreek en mekaar geestelik op te bou nie?

 

  1. Wat sal die gevolge wees as ons die Sabbat eer?

Wat sal gebeur as iemand wat hout kap nooit ‘n breek vat om te rus, water te drink en sy bly skerp te maak nie? Wat sal gebeur as jy aanhoudend werk en nooit ‘n blaaskans vat om geestelik en liggaamlik verfris te raak nie? Maar wat sal gebeur as jy 52 Sondae per jaar af vat om die Here te aanbid en jou liggaam te laat rus?

  • Jy sal geestelik groei.
  • Jy sal ‘n goeie gemoed hê.
  • Jy sal nuwe krag en ‘n helder brein hê vir die week se werk. Jy sal kwaliteit werk lewer en nie onnodige foute maaknie.
  • Jy sal goeie gesondheid hê.
  • Jy sal nie so maklik uitbrand of stresverwante siektes krynie.
  • Jy sal ‘n gesonde huwelik en huisgesin hê, omdat jullegeestelik groei en elke week ‘n hele dag saam spandeer.
  • Die Here sal gee wat jy nodig het, omdat jy sy Koninkryk eerste soek (Matt. 6:33).
  • Jy sal ‘n verlange hê na die ewige rus van die hemel (Op. 14:13).

‘n Bekende rympie sê:

 

A Sabbath well spent

Brings a week of content

And strength for the toils of the morrow;

But a Sabbath profaned,

Whate’er may be gained

Is a certain forerunner of sorrow.

[Aangehaal in Murray, Ibid., 169].

As jy die Here se Dag vir jou werk en plesiere gebruik, leer jy jou kinders dat Jesus een van vele opsies is. Hulle leer om Hom op ‘n waglys te plaas: Hy kan wag totdat jy klaar gedoen het wat jý wil. Om die Here se Dag te ontheilig is ook ‘n slegte getuienis vir die wêreld. Hulle leer dat Jesus nie die belangrikste is nie.

Dalk dink jy ek is wetties. Maar dan moet ons sê dat dit wetties is om die res van die Tien Gebooie te gehoorsaam: jy mag nie moord of egbreuk pleeg nie... Dalk dink jy nie dit is wetties nie, maar jy is bang dat jou kinders opstandig sal raak as jy die Here se Dag heilig. Miskien, maar dan lê die probleem in hulle harte en nie by die Here se Dag nie (Rom. 8:7-8).

Die kanse is egter beter dat hulle jou voorbeeld sal volg. Volgens John Paton (1824-1907) het hulle as kinders die Here se Dag geniet. Hulle het elke Sondag kerk toe gegaan en op pad huistoe oor die Here gepraat. Na ete het hulle die Bybel gelees en dit bespreek. Paton sê:

‘There were eleven of us brought up in a home like that; and never one of the eleven...has been heard, or ever will be heard, saying that the Sabbath was dull or wearisome to us... But God help the homes where these things are done by force and not by love!’ [John G. Paton: Missionary to the New Hebrides (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1965 [1889]), 15-17].

As jy die Here se Dag eer, sal Hy maak dat jy soos Paton se familie op die hoogtes van die aarde ry (v.14). Jy sal m.a.w. seën en voorspoed beleef (Deut. 32:13, Hab. 3:19). Jy en jou kinders sal ‘n goeie erfenis hê (v.14). Is dit nie wat jy vir hulle wil hê nie? Wees dan lief vir die Here se Dag. As jy nie die Here se Dag liefhet nie, moet Robert Murray McCheyne se woorde in jou ore weergalm: ‘a man does not love Jesus that does not love the Lord’s day.’ [Robert Murray McCheyne, The Passionate Preacher (Geanies House, Fearn: Christian Focus Publications, 1999), 28].

Kategorieë