Coram Deo Cover Image

Coming soon...

3 September 2016

Dink anders oor die dood

Raising of Lazarus

Mense het verskillende menings oor wat met jou gebeur wanneer jy doodgaan. Ek het al mense ontmoet wat in reïnkarnasie glo:  wanneer jy doodgaan keer jy terug as iets anders.  Hierdie selfde mense glo dat jy jou identiteit verloor en in een of ander staat van bewustelose plesier of Nirvana ingaan.

 

Talle mense het al vir my gesê dat daar niks na die dood is nie. Ander glo weer dat jou siel saam met jou liggaam in die graf slaap, totdat die Here weer kom.  Die Katolieke glo in ‘n vagevuur waar die vlamme jou sonde wegbrand, sodat jy uiteindelik hemel toe kan gaan.  Ander glo dat jy in ‘n wagkamer sit, totdat Jesus weer kom en jou eindbestemming bepaal.

 

Party mense glo dat jy ‘n engel word. Om een of ander rede glo party Christene dat jy ‘n nuwe liggaam in die hemel sal hê (al het hulle ook gesien hoe die dooie mens se liggaam in die grond insak).  Die Bybel leer vir ons dat dié wat in Jesus geglo het hemel toe gaan wanneer hulle doodgaan.  Hulle liggame ontbind in die graf.  Wanneer Jesus weer kom, kom hulle siele saam met Hom.  Hy sal hulle liggame opwek en verheerlik, en hulle siele sal met hulle liggame herenig word.

 

Hoe weet ons wie reg is? Omdat Jesus volgens Jh.11 die opstanding en die lewe is, kan Hý vir ons sê.

 

Jesus en die dissipels (v.1-16)

Wat is die eerste ding wat ons bid wanneer een van ons geliefdes siek word? ‘Here, sal U hulle asseblief gesond maak?’  Hoekom genees die Here hulle nie altyd onmiddellik nie?  Dit is dikwels so dat Hy groter en wyser planne het as ons.  As ons Lasarus se familie en vriende was, sou ons ook gevra het dat die Here hom dadelik moes gesond maak.  En as die Here dit gedoen het, sou ons ‘n baie groter wonderwerk gemis het.

 

Hierdie hoofstuk gaan oor ‘n sekere Lasarus van Betanië wat siek was (v.1). Betanië was 2.8 km oos van Jerusalem (v.18).  Lasarus se naam beteken ‘hy vir wie God help’, en in hierdie hoofstuk sien ons hoe God hom gehelp het.

 

Lasarus het saam met sy twee sussies in Betanië gebly (v.1-2). Hulle name was Maria en Marta.  In 12:3 het Maria Jesus se voete met olie gesalf en dit met haar hare afgedroog (v.2).  In Lk.10:38-42 het sy by Jesus se voete gesit, terwyl Marta in die kombuis besig was.  Ons moenie vir Maria met Maria Magdalena verwar nie.

 

Die sussies het vir Jesus laat weet dat Lasarus siek is (v.3). Alhoewel hulle nie direk gevra het dat Jesus hom moet genees nie, het hulle geweet dat Hy hom liegehad het, en dat Hy iets aan die situasie sou doen (v.3, 21-22).  Toe Jesus die boodskap gekry het, het Hy gesê dat die openbaring van God se heerlikheid en nie die dood nie, die einddoel van Lasarus se siekte was (v.4, 9:3).  Christus se Godheid en sy heerlikheid moes sigbaar geword het in hierdie wonderwerk (v.4, 1:14).

 

Toe die nuus van Lasarus se siekte Jesus se ore bereik het, het Hy vir nóg twee dae oorkant die Jordaan gebly (v.6, 10:40). Partykeer verstaan ons nie hoekom die Here ons nie dadelik antwoord nie. Maar die Here is wyser as ons en weet wat Hy doen.

 

Hoekom het Jesus Hom nie dadelik gesond gemaak nie? Hy kon dit van ‘n afstand af gedoen het as Hy wou (4:50, Mt.8:13).  Dit was nie omdat Hy nie vir Lasarus en sy sussies lief was nie (v.5), maar omdat Hy God se heerlikheid vir hulle wou wys (v.4).  As Hy vir Lasarus gesond gemaak het, sou hulle God se heerlikheid gesien het.  Maar as Hy Hom uit die dood uit opgewek het, sou hulle dit baie duideliker gesien het.

 

Na twee dae het Jesus vir die dissipels gesê om weer saam met Hom na die suidelike provinsie van Judea toe te gaan (v.7, 10:22, 40). Die dissipels het dit nie verstaan nie.  ‘Hoekom wil U teruggaan as die Jode U net nou die dag probeer stenig het?’ het hulle gevra (v.8, 10:31).  ‘Om dit te doen is selfmoord.’

 

Maar die Jode het nie die uur van Jesus se dood bepaal nie – Hy en sy Vader het (7:30, 8:20, 10:18, Lk.13:32-33). Soos ‘n mens 12 ure daglig het om te werk, het Jesus nog ‘n paar ure van ‘daglig’ oorgehad voordat die ‘nag’ van sy kruisdood aangebreek het (v.9, 9:4).  As die dissipels in sy lig gewandel het, kon die Jode se donker en bose planne hulle nie laat struikel het nie (v.9, 12:35-36a).  Dié wie se harte donker was (soos die Jode en Judas s’n) sou gestruikel het (v.10).

 

Jesus het vir die dissipels gesê dat Hy Judea toe wil gaan omdat hulle vriend Lasarus geslaap het, en omdat Hy hom wou wakker maak (v.11). Die dissipels het gedink dat Hy van natuurlike slaap praat en nie van die dood nie (v.13).  ‘As hy slaap sal hy weer wakker word,’ het hulle gesê (v.12).  Hulle het geweet dat slaap goeie medisyne is.  Hulle het nie verstaan hoekom Jesus sy lewe in gevaar gestel het om vir Lasarus wakker te maak nie.

 

Jesus het toe reguit vir hulle gesê dat Lasarus dood is (v.13-14). Alhoewel die boodskapper vir Hom gesê het dat Lasarus siek is (v.3), het Hy deur Goddelike kennis geweet dat hy intussen gesterf het (1:48-49).  Maar vir die dissipels se onthalwe was Jesus bly dat Hy nie by Lasarus se siekbed was nie, want deur sy wonderwerk sou Hy hulle geloof versterk het (v.15).  Tomas of Didimus (‘die tweeling’) was dapper en lojaal, en daarom ook bereid om saam met Jesus te sterf (v.16, 8).

 

Soms dink mense dat die Here met groot dinge besig is (soos om die heelal instand te hou), en dat Hy nie tyd het of omgee vir mense se ‘klein’ probleme nie. Dit is amper asof Hy die god van deïsme is wat die wêreld gemaak het, maar nie verder daarin belangstel nie.

 

Maar Jh.11 wys vir ons anders. Jesus het omgegee vir een man wat in die klein dorpie van Betanië gebly het.  Hy sorg vir die mossies en het ook die hare op jou kop genommer (Mt.10:29-31).  Dan kan jy verseker weet dat dit vir Hom saakmaak wanneer een van sy kinders siek is of enige ander vorm van swaarkry moet deurmaak.

 

Jesus het ‘n spesiale liefde vir sy kinders (v.3, 5). Moet dan nie sy liefde in twyfel trek en wonder hoekom Hy sekere moeilike dinge in jou lewe toegelaat het nie.  Moenie dink dat Hy van jou vergeet het, omdat Hy nie dadelik jou gebede beantwoord nie (v.3, 6).  Partykeer vat Hy lank, omdat Hy iets groter wil doen as dit waarvoor jy gevra het (v.6, Ef.3:20).  Dít doen Hy omdat Hy jou geloof in Hom wil verdiep, versterk en laat groei (v.15).

 

Om by die konteks van die hoofstuk te bly, wil ek die voorbeeld van siekte gebruik. Party mense maak die fout om te dink dat genesing altyd die Here se wil is.  Ander dink weer dat dit altyd sy wil is dat gelowiges onmiddellik genees moet word.  Maar Jh.11 wys anders.

 

Hierdie hoofstuk wys vir ons dat dit nie verkeerd is om vir iemand se genesing te bid nie (v.3). En tog moet dit nie die prioriteit van ons gebede wees nie.  Die grootste doel in ons siekte is nie dat ons en ons geliefdes dadelik genees moet word nie, maar dat die Here se heerlikheid in ons siekte gesien moet word (v.4).  Dít is waarvoor ons moet bid.

 

As die Here dan die siek gelowige gesond maak, prys ons Hom. As Hy die siek gelowige van sy lyding bevry en Hom hemel toe neem, dan prys ons Hom.  Ons hoef nie bang te wees vir die dood nie.  Volgens Jesus is ‘n gelowige se dood so skadeloos soos slaap (v.11, Hd.7:60, 1 Ts.4:13-14). Wanneer ‘n gelowige sterf is dit asof hy of sy aan die slaap raak en onmiddellik by die Here wakker word (Lk.16:22, Fil.1:23, Ps.139:18).  Eintlik verloor jy nie eers jou bewussyn wanneer jy doodgaan nie (v.25, 2 Kor.5:8).  Eendag sal Jesus jou liggaam opwek so maklik soos wat jy iemand uit sy slaap uit wakker maak.

 

Alhoewel Jesus ons in die toekoms gaan opwek (5:28-29), gaan Hy dit waarskynlik nie nóú doen, soos wat Hy dit met Lasarus gedoen het nie. Ek vrees soms dat ons mense vir ewig hier wil hou, asof die realiteit van die dood nie bestaan nie.

 

Mense is kwaad vir die Here as Hy hulle ouers of kinders wegneem, maar wat verwag hulle? Het hulle gedink dat hulle geliefdes vir ewig op die aarde sou lewe?  Ander mense praat weer asof profeet X hulle geliefdes uit die dood uit sal opwek.  Wanneer ek dit hoor wonder ek of hulle liewer is vir hierdie wêreld en hulle familie, as vir Jesus en die hemel.

 

Miskien kan ek maklik praat, omdat ek nog nie ‘n geliefde aan die dood afgestaan het nie. Ek verstaan dit en wil nie onsimpatiek wees nie.  Tog weet ek dat Jesus ons lyding ervaar het, en weet hoe om sy kinders te troos (Heb.4:15).  Ons troos lê nie primêr daarin dat Jesus ons geliefdes kan genees of dat Hy ons probleme kan wegvat nie.  Ons troos lê eerder daarin dat God ons liefhet (v.5), dat Hy sy heerlikheid in ons siekte en lyding sal openbaar (v.4), en dat Hy ons geestelik sal laat groei (v.15).

 

Jesus en Marta (v.17-27)

Die rabbi’s het geglo dat die dooie se siel vir drie dae naby die graf bly, in die hoop dat dit na die liggaam toe kon terugkeer. Op die vierdie dag het die liggaam begin om te ontbind, en het die siel dit finaal verlaat:  ‘For three days the soul hovers over the body, intending to re-enter it, but as soon as it sees its appearance changes, it departs.’[1]

 

Hierdie inligting help ons om v.17 beter te verstaan. Johannes probeer nie sê dat Jesus dieselfde as die Jode geglo het nie, maar eerder dat Hy vier dae gewag het om te wys dat Hy vir Lasarus kon opwek, toe daar nie meer hoop was nie.  Daar was geen twyfel dat hy dood was nie, en daarom kon Jesus se wonderwerk nie bevraagteken word nie.  Dit moes duidelik gewees het dat Hy nie bloot vir Lasarus uit ‘n staat van bewusteloosheid laat wakker word het nie.

 

Omdat Betanië so naby aan Jerusalem was, het baie van die Jode gekom om vir Maria en Marta te troos (v.18-19). Johannes sê dit om te wys dat die spanning hoog geloop het.  Dit was immers die Jode wat vir Jesus wou doodmaak (v.8, 10:31).  Johannes noem dit ook om te wys dat ‘n klomp mense die wonderwerk gesien het, en dat niemand enige gronde gehad het om vir Jesus te verwerp nie.

 

Marta het gehoor dat Jesus oppad was en het uitgegaan om Hom te ontmoet (v.20). ‘As U hier was sou my broer nie gesterf het nie,’ het sy met trane in haar oë gesê (v.21).  ‘Tog glo ek steeds dat God U gebede kan verhoor.’ (v.22).  Wat het sy met hierdie laaste stelling bedoel?

 

Dit kan tog nie beteken dat sy geglo het Jesus kan vir Lasarus opwek nie. In v.24 het sy dan gesê dat sy Jesus hom eendag sou opwek, en in v.39 sien ons dat sy nie die wonderwerk verwag het nie.  Haar woorde in v.22 beteken eenvoudig dat Jesus deur sy spesiale verhouding met die Vader iets goed uit hierdie slegte situasie kon bring.

 

Jesus het vir Marta verseker dat Lasarus uit die dood uit sou opstaan (v.23). Sy het bely dat hy op die laaste dag weer sou opstaan (v.24, Job 19:25-27, Jes.25:8, 26:19, Esg.37, Dn.12:2, Hos.13:14).  Jesus het vir haar gesê dat Hy die opstanding en die lewe is (v.25, 1 Jh.5:20).  Haar broer en elke ander gelowige se opstanding en lewe was gebasseer op syne (1 Kor.15:20, 23).  Die mag om geestelike lewe te gee, en die mag om gelowiges se liggame op te wek behoort aan Jesus (v.25, 1:4, 10:10, 17:2-3, 5:21, 28-29, 1 Kor.15:21).  Dié wat in Hom glo se liggame sal sterf, maar hulle siele sal in die hemel voortleef (v.25).

 

‘n Paar jaar gelede het ek te doen gekry met sieleslaap of psigosomnia. Ek het ‘n DVD gekyk waarin die ou een teks na die ander aangehaal het om te probeer wys dat gelowiges nié hemel toe gaan wanneer hulle doodgaan nie.  ‘Hulle siele slaap saam met hulle liggame in die graf totdat Jesus kom,’ het hy gesê.

 

‘n Paar maande later het ‘n vrou my kom sien. Sy was bekommerd, omdat sy op ‘n webtuiste afgekom het wat dieselfde sê.  ‘Ek het gedink my broer is in die hemel, maar nou weet ek nie meer nie,’ het sy gesê.  Ek het haar uit die Bybel uit reggehelp en vir haar gewys hoe dié webtuiste (net soos die DVD) die Bybel buite konteks aanhaal.

 

Hulle sê bv. dat Pd.12:7 niks te doen het met lewe na die dood nie. Salomo sê dat “die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het.”  Volgens hulle verwys die ‘gees’ na die dooie se asem wat hy uitblaas, en nie na sy siel wat in die hemel by die Here is nie.

 

Maar wat maak hulle dan met die vorige verse, want dáár sê Salomo dat die dooie na sy ewige huis toe gaan?  Is die graf die gelowige se ewige huis?  Of is die Here se teenwoordigheid in die nuwe Jerusalem sy ewige huis?  Alles in die Bybel dui aan dat die tweede opsie die regte een is.

 

Alhoewel ‘n gelowige se siel in die hemel sal voortleef, hoef ons nie tot dan te wag voordat ons die ewige lewe kan hê nie. Deur geloof in Jesus kan ons dit reeds in hierdie lewe hê (v.26, 3:36, 5:24-25, 6:47, 20:30-31).  Vir ons is die dood soos ‘n by sonder ‘n angel – dit kan ons nie steek nie en is maar net ‘n oorgang van die aarde na die hemel (v.26, 1 Kor.15:55).  Dit lei ons na ‘n voller lewe toe.  Daarom het Jesus gesê dat dié wat in Hom glo nooit sal doodgaan nie (v.26, 6:50, 8:51).  By sy wederkoms sal ons ook nuwe liggame kry wat nooit kan doodgaan nie (1 Kor.15:42-44).

 

Jesus het vir Marta gevra of sy hierdie dinge glo (v.26). Marta het nie die volle implikasie van Jesus se woorde verstaan nie.  Sy het egter bely dat die Vader vir Jesus gestuur het, en dat Hy die Here, die Messias en die Seun van God is (v.27, 20:30-31).

 

Die punt van Jh.11 is dan nié om te vra waar Lasarus se siel was terwyl hy vir vier dae in die graf was nie. Ons weet nie; die teks sê nie vir ons nie.  Die punt is eerder om vir ons te wys dat Jesus die opstanding en die lewe is (v.25-26).  En omdat dit so is, sal net dié wat in Hom glo in die hemel wees wanneer hulle doodgaan, en by sy wederkoms opgewek word tot die ewige lewe.

 

Dié wat nie in Hom glo nie, sal ná die dood in die hel beland (Lk.16:24-26, 2 Pt.2:4-9, Jud.6-7). By Jesus se wederkoms sal die goddelose aaklige liggame ontvang wat by die verskriklike omgewing van die hel pas (5:28-29, Dn.12:2, Jes.66:24).

 

Moet dan nie onder die illusie verkeer dat almal wat jy ken hemel toe gaan nie. Baie mense sal dit nie reguit sê nie, maar het jy al ooit ‘n ongelowige se begrafnis bygewoon en gehoor ‘dat hy nou in die hemel is’?  Het jy al op ‘n goddelose mens se grafsteen gesien dat ‘die Here sy Herder is’?  Volgens Jesus is dit net dié wat in Hom glo wat nou, na die dood, en by die wederkoms vir ewig sal lewe (v.25-26).

 

Hoe kan ‘n mens die afgryslikheid van die hel of die ewige dood ontsnap? Jy moet in Jesus en sy woorde glo (v.25-26).  Jy moet glo dat Jesus aan die kruis gesterf het en dat Hy dáár soos ‘n skild die swaard van sy Vader se oordeel oor ons sonde gekeer het.  Jy moet glo dat Hy die ewige lewe in jou siel en eendag ook in jou gestorwe liggaam kan gee, soos wat ‘n muurprop elektrisiteit na ‘n rekenaar toe deurgee.

 

Jy moet in jou hart glo dat Hy die Here is (v.27). Dit help nie net jy sê dit, maar leef asof jý die here van jou lewe is nie (Lk.6:46).  Soos ‘n dankbare slaaf moet jy jou knie voor hierdie goeie Meester buig, en doen wat Hý vir jou sê.  Jy moet glo dat Hy van God af kom:  dat Hy die Messias en die Seun van God is (v.27).  Glo jy dit (v.26)?

 

As jy dit met jou hele hart glo, dan lê jou troos nie daarin dat Jesus jou geliefdes kan genees of hulle van die dood kan red nie (v.21). Jou troos lê eerder daarin dat Jesus die opstanding en die lewe is (v.25).  Daarom kan jy glo dat dié wat in die Here gesterf het nie dood is nie, maar in die hemel lewe (v.25, Gn.5:24, Heb.11:5, 2 Kon.2:11, Mt.17:3, Lk.16:22, 25, 23:43, 46, 2 Kor.5:8, Fil.1:21, 23, Heb.12:23, Op.6:9).  God is immers nie die God van die dooies nie, maar van die lewendes (Mt.22:32).

 

Verder lê jou troos ook daarin dat die kanker of enige ander siekte nie die stryd gewen het nie, maar dat Jesus jou eendag uit die dood uit sal opwek om vir jou ‘n nuwe liggaam te gee (v.25). Dít is hoe jy oor die dood moet dink.

 

Jesus en Maria (v.28-37)

Die gemiddelde westerse mens spandeer 12 of meer jare om homself voor te berei vir die toekoms. Ons gaan skool toe en daarna universiteit toe.  Met die kennis wat ons opgedoen het werk ons totdat ons 65 is.  As ons onsself dan so deeglik vir 40 + jare se werk voorberei, moet ons onsself nie nóg beter voorberei vir ‘n ewigheid na die dood nie?

 

Omdat ek ‘n predikant is, het ek al by baie begrafnisse gepreek en ook baie trane gesien. Ek het gesien hoe sommige mense huil asof daar geen hoop is nie.  Ek het al gesien hoe ander mense huil omdat trane aansteeklik is, en nie omdat hulle die persoon goed geken het, en hulle hom of haar mis nie.  Ek het al gesien hoe gelowiges huil maar hoop het, omdat hulle die persoon weer gaan sien.

 

Ek self het al ‘n knop in my keel gekry wanneer ek die kis in die grond sien afsak (ja, ook by begrafnisse van persone wat ek nooit ontmoet het nie). Tog dink ek nie ek het al ooit ‘n begrafnis gelei waar iemand gehuil het, omdat hy of sy kwaad was dat daar iets so aaklig soos die dood is nie.  In die verse wat volg sien ons al hierdie reaksies, maar dit is veral die laaste een wat uitstaan.

 

Toe Marta klaar met Jesus gepraat het, het sy teruggegaan huis toe om vir Maria te roep (v.28). ‘Die Meester roep jou,’ het sy eenkant vir haar gesê (v.28).  Maria het gou opgestaan en na Jesus toe gegaan waar Hy buite die dorp vir haar gewag het (v.29-30).  Die Jode wat saam met haar in die huis was om haar te troos, het gesien hoe sy opgestaan het om uit te gaan (v.31).  Hulle het gedink dat sy emosioneel was en dat sy na die graf toe wou gaan om te huil; daarom het hulle haar gevolg (v.31).

 

Toe Maria by Jesus gekom het, het sy voor sy voete neergeval (v.32, Lk.10:39). Deur haar trane het sy vir hom gesê:  ‘Here, as U hier was sou my broer nie gesterf het nie’ (v.32).  Soos Marta in v.21, het sy geglo dat Jesus haar broer kon genees het.  Sy het egter nie daaraan gedink dat Hy hom uit die dood uit kon opwek nie.

 

Jesus het gesien hoe Maria en die Jode wat by haar was gehuil het (v.33). Volgens die Jode se tradisie moes selfs ‘n arm familie ten minste twee fluitspelers gehuur het, asook ‘n professionele vrou om die dooie te betreur (vgl. Mk.5:38, 40).[2]  Omdat hierdie ‘n ryk familie was (12:1-5), was daar heelwat meer fluitspelers en rouklaers om Lasarus se dood te betreur.

 

Toe Jesus almal se trane gesien het, was Hy diep in die hart getref (v.33). Die Grieks sê letterlik dat Hy met woede geblaas het soos ‘n perd [embrimaomai, Mk.14:5].  Hy was onsteld in sy diepste wese, omdat die Jode soos heidene getreur het wat nie in die opstanding glo nie, soos mense wat geen hoop het nie (v.33).  Hy was ook kwaad oor die tragiese gevolge van die mens se sonde:

 

“Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het” (Rm.5:12).

 

Jesus het dan nie gehuil (v.35) omdat Hy hartseer was nie. Hy het immers geweet dat Hy vir Lasarus wou opwek, en het vir die Jode gevra waar hulle hom begrawe het (v.34).  Die Jode het sy trane gesien en gedink Hy mis vir Lasarus.  ‘Kyk hoe lief het Hy hom gehad,’ het hulle gesê (v.36).  ‘Hoe kon Hy ‘n blinde man genees het (hfst.9), maar nie gekeer het dat Lasarus sterf nie?’ het ander in ongeloof gesê (v.37).

 

Moenie soos ‘n Moslem huil wat onseker is, of soos ‘n ateïs wat geen hoop het nie. Moenie soos Jakob wees wat geweier het om getroos te word toe hy gedink het Josef is dood nie (Gn.37:35, 42:36).  Huil jouself leeg (v.32), maar as jy ‘n Christen is kan jy jouself nie vir ewig in jou kamer toesluit of vir die res van jou lewe in die huis bly nie.  ‘n Tannie wat ek ken het haar dogter verloor.  ‘n Paar jaar later het ek haar gebel om te vra hoe dit gaan.  ‘Dit sal seker nooit weer goed gaan nie,’ het sy gesê.

 

Ek glo dat dit hartverskeurend moet wees om jou kind te verloor. Ek probeer nie sê dat ons onsimpatiek moet wees met dié wat geliefdes verloor het nie.  Jesus voel ons pyn en huil saam met ons (v.35, Jes.63:9, Heb.4:15).  Ek sê egter dat Christene nie moet treur asof Jesus nie bestaan nie, asof Hy nie die dooies kan opwek nie, en asof daar nie iets beter as hierdie wêreld is nie (v.33, 37, 1 Ts.4:13).

 

Dit is nie lekker om te hoor nie, maar ons moet onthou dat dié wat die Here geken het en nou in die hemel is, nie terug verlang na die aarde toe nie. Hulle is gelukkig waar hulle is.  Gun hulle dit en dink daaraan dat jy self ook eendag by hulle gaan aansluit.

 

Maar terwyl ek dit sê moet ons verstaan dat die dood nie ‘n normale deel van die lewe is nie. Dit was nie deel van die oorspronklike plan nie.  Dit is ‘n vervloekte gevolg van die sondeval (Gn.2:17, 1 Kor.15:22).  Dit is ‘n vyand (1 Kor.15:26).

 

Ons moenie ‘n traak-my-nie-agtige houding inneem, omdat ons dit elke dag in die koerant sien nie. Dit behoort ons te ontstel (v.33).  Ons moet dit verag en uitsien na ‘n wêreld waar dit nie is nie (Op.21:4).  Ons moet seker maak dat ons daar gaan wees, en dat ons nie na die plek toe gaan waar mense vir ewig sterf, maar nooit dood is nie:  die tweede dood of die hel (Op.21:8).

 

Jesus en Lasarus (v.38-44)

Daar is mense wat daarin roem dat hulle die dooies opwek. ‘n Maand of wat gelede het ek gehoor van ‘n man wat gesê het dat hy al 500 mense uit die dood uit opgewek het.  Maar as hierdie mense regtig die dooies kan opwek, moet hulle iemand wat al vir vier dae in die graf is, lewendig laat uitkom.  Dit is tog wat Jesus gedoen het.

 

Toe Jesus by die graf aangekom het, was Hy kwaad oor die Jode se ongeloof (v.38, 37). Hy het vir hulle gesê om die klip weg te rol (v.39).  Antieke grafte het nie heeltemal soos ons s’n gelyk nie.  Dit was ‘n grot met ‘n groot klip wat voor die ingang gerol is (Jes.22:16, Mt.27:60).  Die klip het gekeer dat die reuk nie in die lug hang nie, en ook dat diere soos jakkalse nie aan die lyk gevreet het nie.

 

Omdat die lyk al vir vier dae in die graf was, het Marta geweet dat dit weens die warm klimaat ‘n slegte reuk sou afgee (v.39). ‘Moet asseblief nie dat hulle die klip wegrol nie,’ het sy vir Jesus gesê (v.39).  As sy maar net geweet het dat Hy van plan was om haar broer op te wek.  As sy in Jesus geglo het sou sy deur hierdie teken die Vader se heerlikheid in Hom gesien het (v.40, 4, 1:14, 2 Kor.4:6).

 

Toe hulle die klip klaar weggerol het, het Jesus opgekyk en God as sy eie Vader aangespreek (v.41, 5:18). Almal moes geweet het dat Hy die Seun van God is, en dat God sy gebede verhoor (v.41, 9:31).  Jesus het voor almal gebid om te wys dat die Vader sy stempel op Hom geplaas het, en om te wys dat Hy regtig van God af kom, en dat Hy hierdie wonderwerk met sy Vader se krag en met sý goedkeuring gedoen het (v.42, 12:30, 5:19, 14:10).

 

Jesus het met ‘n harde stem vir Lasarus geroep om uit die graf uit te kom (v.43). Hy het hard uitgeroep, sodat die Jode kon sien dat Hý die wonderwerk gedoen het.  En volgens sommige het Hy spesifiek vir Lasarus geroep, want as Hy dit nié gedoen het nie, sou al die dooies uit hulle grafte uit opgestaan het!  Maar nou het Lasarus opgestaan (v.44).  Hy het grafdoeke van linne om sy liggaam en kop gehad (v.44, 19:40, 20:7).

 

Die Jode het nie hulle dooies styf toegedraai soos ‘n Egiptiese mummy nie. Die dooie is op ‘n linnedoek neergelê (19:40, 20:5-6).  Dit was wyd genoeg om een keer om die liggaam te gaan, en so lank dat dit twee keer om die persoon se kop en voete gedraai kon word.  Die enkels was aanmekaar vasgebind, terwyl die arms met linnestroke aan die liggaam vasgedraai was.  Daar was ook ‘n kopdoek om die dooie se gesig (20:7).  Uiteindelik sou die dooie persoon soos ‘n sywurm se kokon gelyk het.[3]  Lasarus kon gehop of geskuifel het, maar het baie ongemaklik geloop.  Daarom het Jesus vir hulle gesê om die grafklere af te haal (v.44).

 

Jesus het vir Lasarus opgewek om vir die Jode sy heerlikheid te wys (v.40, 4). Hy wou vir hulle gewys het dat Hy die Messias en die Seun van God is (v.42, 20:30-31).  Is Jesus se heerlikheid die hoofdoel van dié wat sê dat hulle dooie mense opwek?  Vir my lyk dit eerder of hulle die lof en die eer vir hulleself soek.  Hulle vra duisende rande om by jou kerk se manne- of vroue ontbyt te praat, en verkoop graag hulle boeke waarin jy kan lees wat ‘die Here’ deur hulle gedoen het.  Hulle hou daarvan om op die voorblad van glanstydskrifte te wees, en deel graag hulle handtekeninge uit.  Dit is vir my baie vreemd dat die dooies wat hulle opgewek het nooit langs hulle by die kerkfunksie of in die glanstydskrif staan nie.

 

Natuurlik gebeur dit ook dat dié wat kamtig dood was en weer lewendig geword het, op hierdie maniere rondgaan om geld te maak. Hulle sal vir jou vertel hoe hulle vir vier ure in die hemel was, of hoe hulle siele bo hulle dooie liggame gesweef het.  Maar in al hierdie dinge is hulle en nie Jesus nie, die middelpunt.  Ek kan my nie indink dat Lasarus by ‘n pa en seun oggend in Jerusalem gaan vertel het hoe wonderlik sy buite-die-liggaam ervaring was nie.

 

Ons fokus is verkeerd. Die opstanding van die dooies in Jh.11 en in die toekoms gaan oor die heerlikheid van Jesus.  Jesus alleen kan iemand wat al vir vier dae in die graf was lewendig maak.  Hy alleen kan mense wat al tot stof vergaan het uit die graf uit opwek.  Hy alleen kan vir mense ‘n liggaam gee wat nie kan doodgaan, siek word, oud word, seerkry, moeg word of sondig nie (1 Kor.15:42-44).  Waar is die moderne profete wat dit kan doen?

 

Jesus en die Jode (v.45-54)

Volgens Griekse mitologie was Hades in beheer van die doderyk. In ou Engeland het die dood ‘n persoonlikheid aangeneem, en is dit die Grim Reaper genoem.  Hollywood het ons oortuig dat niemand soewerein is oor die dood nie, en dat dit ‘n mag is om gevrees te word.

 

Die Bybel leer egter vir ons dat God soewerein is oor die dood (Op.1:18). Hý het besluit dat Jesus in Jerusalem moes sterf (Lk.13:33), dat Hy tydens die Paasfees moes sterf (Mt.26:4-5), en dat Hy gekruisig moes word en nie gestenig nie (18:31-32).  En net so bepaal Hý die dag, plek en wyse van elke mens se dood (Job 14:5, Jer.15:2-3, Jk.4:13-15, Ps.139:16).  Omdat dit so is, hoef geen gelowige bang te wees vir die dood nie.

 

Baie van die Jode wat vir Maria en Marta kom troos het (v.19), het die wonderwerk gesien en in Jesus geglo (v.45, 20:30-31). Ander se harte was ongelowig en hard, sodat hulle Hom by die Fariseërs aangegee het (v.46).  Lg. het die Raad byeengeroep (v.47).  Teologies het die owerpriesters en die Fariseërs nie om dieselfde vuur gesit nie (Hd.23:8), maar in hulle haat vir Jesus was hulle een.

 

‘Wat nou?’ het hulle vir mekaar gevra (v.47). ‘Hierdie man doen baie tekens.  As Hy hiermee aanhou sal almal in Hom glo (12:18-19, Mk.15:10).  En as dít gebeur sal die Romeine dink dat Hy die leier van een of ander rebellie of dalk selfs ‘n koning is (6:15, 18:36-37).  Hulle sal die tempel verwoes en die volk uitwis.  Julle weet natuurlik wat dít beteken:  God se guns en ons posisie, rykdom en populariteit is daarmee heen.  As die tempel, die ark, Jerusalem en die volk bly staan, is ons veilig (Jer.7:4, 1 Sm.4:3, Mg.3:11, Lk.3:8).  Ons moet dan daarvoor sorg dat Jesus dit nie opmors nie.’  Só moet ons v.47-48 verstaan.  Is dit nie ironies dat die Romeine hulle tempel en die volk in 70 n.C. verwoes het, omdat hulle die Messias gekruisig het nie?

 

In daardie aaklige jaar van Jesus se kruisdood, was Kajafas die hoëpriester en dus ook die leier van die Joodse Raad (v.49). Hy is in 18 n.C. deur Valerius Gratus aangestel, en het tot in 36 n.C. sy amp gevul toe Vitellius hom onthef het.

 

Dit was hierdie Kajafas wat vir die Raad gesê het om vir Jesus dood te maak.  ‘Hoekom wonder julle nog wat om met Jesus te doen?’ het hy gesê.  ‘As ons Hom doodmaak het ons nie die Romeine op ons nekke nie.  Vir ons eie en ook die volk se toekoms is dit beter dat ons Hom doodmaak.  Ons moet tussen Jesus en die volk kies, maar albei kan nie bly lewe nie’ (v.50).

 

Omdat Kajafas die hoëpriester was het hy, sonder dat hy dit geweet het, oor Jesus se dood geprofeteer (v.51, Eks.28:30, Es.2:63, 2 Sm.15:27). Hy het nie die dieper betekenis van sy woorde verstaan nie.  God het Kajafas se bose planne gebruik om sy ewige raadsplan te vervul (Hd.4:27-28).

 

Kajafas het voorspel dat Jesus vir Israel en die heidene sou sterf (v.51-52). Jesus het gesterf om al die verstrooide kinders van God met hulle Vader te versoen, om al sy skape in een kraal te versamel, en om hulle na die Herder toe terug te bring (v.52, 10:15-16, Jes.49:6, 53:6, Ef.2:16, 1 Jh.2:2).

 

Toe die Raad klaar na Kajafas geluister het, het hulle ingestem dat dit die beste plan is. Van toe af het hulle planne gemaak om vir Jesus dood te maak (v.53, Mt.26:4).  Hulle het Hom skuldig bevind sonder dat hulle Hom eers verhoor het.

 

Hy het Hom onttrek en saam met sy dissipels 20 km noord na Efraim toe gegaan (v.54). Deur dit te doen het Hy gewys dat geen hof die dag van sy dood sal bepaal nie, maar dat Hy en sy Vader in beheer was.  Hy het Efraim toe gegaan omdat Hy verantwoordelik was, en nie omdat Hy bang was nie.  Hy was nie fatalisties, sodat Hy gesê het:  ‘Ek en my Vader is soewerein, en daarom kan niks met my gebeur as Ek my hand in die leeu se hok insteek nie.

 

Om anders te dink oor jou eie dood, moet jy reg dink oor Jesus s’n.  As jy Hom verwerp, sal jy onder God se oordeel sterf, al probeer jy ook alles in jou vermoeë om dit te vermy (v.47-50).  Jy hét die getuienis van God se Woord en weet dus wie Jesus is.  Sy wonderwerke bewys dat Hy die Seun van God is.  Jy het geen gronde om dit te ontken nie.  Nie die Jode óf die Fariseërs het dit ontken nie (v.46-47, Hd.4:16).

 

Moet dan nie dink dat jy in Hom sal glo as jy ‘n wonderwerk sien nie. Jy sal nie, maar sal ‘n verskoning uitdink vir hoekom dit nie so kan wees nie.  As jy nie die Bybel se getuienis oor Jesus aanvaar nie, sal jy nie eers oortuig word as iemand voor jou oë uit die dood uit opstaan nie (v.46, Lk.16:31, Mt.28:11-15).  Wat moet jy doen?

 

Twee jaar gelede het ek die evangelie met ‘n man en sy vrou gedeel. Toe hulle tot bekering gekom het, het die man vir my gesê:  ‘Ek het al dikwels in die kerk gehoor dat Jesus vir ons sondes gesterf het, maar het dit nie verstaan nie.  Daar is baie Afrikaners wat van Jesus se kruisdood weet, maar hulle weet nie wat dit beteken nie.’  Om dan net te bely dat Jesus in ons plek gesterf het is nie genoeg nie (v.50).

 

Om gered te word moet jy die waarheid van die kruis verstaan en in jou hart aanvaar. Jy moet ten minste weet dat Jesus die straf gekry wat ons verdien (v.50-51, Jes.53:5).  Jy moet weet dat ons soos skape weggedwaal het, en dat Jesus aan die kruis gesterf het om ons terug te bring na die Herder toe (v.52).

 

Jy kan nie in vrede sterf voordat jy nie die gekruisigde en opgestane Verlosser deur geloof ontvang nie. Hoe sal jy op jou sterfbed lê as daar nie ‘n gekruisigde Messias tussen jou en die hel is nie?  Hoe sal jy in vrede doodgaan as jou sonde nie vergewe is nie, as Hy jou nie in die fontein van sy bloed gewas het nie?  Hoe sal jy op jou sterfbed gemeenskap met Jesus geniet as jy nie die soet en sappige vrugte van hierdie boom eet nie?  Hoe sal jy op jou sterfbed nie in die moeras van twyfel sink, as hierdie rots nie onder jou voete is nie?

 

Hoe kan jy voor ‘n heilige God staan as jou klere nie wit gebleik is in die bloed van die Lam nie? Hoe kan jy op jou sterfbed aan die Here vashou en Hom nie verloën, as Hy nie die arms van sy liefde om jou gevou het nie?  Hoe kan jy in die donker vallei van die dood ingaan as die helder lig van sy kruis nie jou pad belig nie?

 

Hoe kan jy in jou laaste oomblikke die Here loof as jou harp nie ingestem is teen die stemvurk van die kruis nie? Hoe kan jy op jou sterfbed die duiwel se versoeking afweer as jy jou swaard nie teen hierdie slypsteen skerpgemaak het nie?  Hoe kan jy in die finale minute van jou lewe hoop vir ‘n kroon as jy nie eers die pad van die kruis geloop het nie?  As jy met die hand van geloof aan Jesus se kruis vashou, sal jy soos die Metodiste wees van wie John Wesley gesê het:  ‘Our people die well.’

 

Ek het onlangs weer The Pilgrim’s Progress van John Bunyan gelees.  Aan die einde van die boek moes Christian en Hopeful deur die Rivier van die Dood gaan.  Christian het amper verdrink.  Hy het gedink dat die Here hom in sy sterwensure verlaat het.

 

Hopeful het hard gewerk om sy vriend se kop bo water te hou, en het hom aan die Woord van God herinner. Toe Christian reg gedink het, het die rivier se malende waters stil geword, en kon hulle met gemak oorgaan.  As jy met gemak oor hierdie rivier wil gaan, moet jy Bybels dink oor die dood.

 

[1] Rabbi Levi aangehaal in Leon Morris, The Gospel According to John, p.546, n.38

[2] D.A. Carson, The Gospel According to John, p.415

[3] Carson, Ibid, pp.418-419

Kategorieë