Coram Deo Cover Image

Coming soon...

2 December 2012

Die wêreld se wellus vir mag

Chess king fallen“En toe koning Herodes dit hoor, was hy ontsteld en die hele Jerusalem saam met hom” (Matteus 2:3).

 

Antiochus Epifanes was 'n Griekse koning in die jaar 175 n.C.  Hy het die Jode uitgemoor en hom voorgeneem om hulle godsdiens wortel en al uit te kap.  Hy het varke op die altaar in Jerusalem geoffer, die Jode op 'n rustige Saterdag middag (die Sabbat) aangeval en uitgemoor, en die tempel aan die Griekse oppergod Zeus gewy.  'n Ou Joodse priester genaamd Mattatias Makkabeus het in opstand gekom en 'n revolusie teen Epifanes se heerskappy gelei.  Die vegtery het voortgeduur onder onder sy seuns Judas, Jonatan, en Simon Makkabeus.  Die eerste twee broers het gesterf, en Simon is deur sy eie skoonseun vermoor.  Die Makkabeër nageslag het nie meer omgegee oor 'n suiwer godsdiens en die aanbidding van Jahwe nie.  Vir hulle het dit gegaan oor mag.  Die Makkabeërs het hulle buurland Edom binnegeval en oorwin.  Daar het hulle 'n Edomitiese goewerneur aangestel:  Antipas, oupa van Herodes die Grote (die eindste koning in Matteus 2).  Toe Makkabeërs onder hulleself begin veg vir leierskap, het Rome Herodes se pa (Antipater) aangestel as leier in Judea.  Antipater het vir Herodes as viervors in Galilea aangestel.  'n Tyd later is Herodes as koning aangestel deur Octavius (later keiser Augustus).  Die Romeine het aan hom 'n weermag gegee om met die swaard sy koninkryk te vestig.  Toe Herodes Jerusalem wou omverwerp, was dit sy pa wat hom tot sy sinne gebring het.  Herodes het baie teaters, tempels (onder andere die tempel in Jerusalem), paleise, en monumente in en buite Jerusalem en Israel laat bou.

Maar die Jode het hom gehaat, omdat hy hulle godsdiens besoedel het en ook omdat hy van nie-Joodse afkoms was (uit Idumea – Edom).  Hulle wou hê dat 'n Jood uit die Makkabeër-familie oor hulle moes regeer.  Om die Jode se guns te wen het Herodes met 'n beeldskone Makkabeër-vrou, Mariamne, getrou.  Maar die Jode was steeds nie goedgunstig teenoor Herodes se heerskappy nie.  Herodes het sinies en agterdogtig begin raak.  As dit gelyk het of enigiemand 'n bedreiging was vir sy heerskappy, het hy hulle vermoor.  Toe hy Mariamne se broer vermoor het, het sy skoonma (Alexandra) hom aangekla by Antony en Cleopatra in Egipte.  Antony het gevra dat Herodes voor hom moes verskyn en verslag doen.  Voor hy Egipte toe is het hy vir sy swaer Josef gesê om vir Mariamne te vermoor indien hy nie sou terugkeer nie.  Met sy terugkoms het hy gehoor dat Josef egbreuk gepleeg het met Mariamne.  Sy het dit ontken, maar steeds het Herodes vir Josef vermoor.  Dié episode het homself in die toekoms herhaal.

Herodes het moeilikheid gehad met keiser Augustus en moes Rome toe gaan.  Hy het vir Sohemus gesê om sy vrou en skoonma te vermoor indien hy nie sou terugkeer nie.  Maar Sohemus het vir hulle gesê.  Toe Herodes van Rome terugkeer, is dit aan hom vertel dat sy vrou 'n verhouding het met Sohemus.  Herodes het vir Sohemus vermoor en na 'n skynverhoor vir Mariamne.  In 28 v.C. het hy sy skoonma Alexandra tereggestel.  Hy het toegesien dat sy seuns by Mariamne verwurg is toe hulle teen hom opgestaan het.  Nóg een van sy seuns het teen hom in opstand gekom en is vyf dae voor Herodes se dood vermoor.

Nou kan 'n mens verstaan hoekom Herodes so onsteld is in v.3, nadat die wyse manne vra oor die koning van die Jode wat gebore is.  Dit maak sin dat hy gewetenloos is en talle babas vermoor in v.16.  Herodes weet hy’s nie die ware koning van die Jode nie.  Hy is 'n “poppekas koning” wat aangestel is deur Rome.  Jesus is 'n koning deur geboorte (v.2).  Hy is die nageslag van Dawid (1:1).  Van Hom sê die Skrif:  “Geseënd is die Koning wat kom in die Naam van die Here, vrede in die hemel en heerlikheid in die hoogste hemele!” (Lukas 19:38).  “...Rabbi, U is die Seun van God, U is die Koning van Israel!” (Johannes 1:50).  Soos Herodes is Jerusalem ontsteld, maar húlle vir 'n ander rede.  Hulle weet wat gebeur wanneer iemand Herodes se koningskap bedreig.  Die duiwel is los in Jerusalem.  Die volk vrees ook dat die Romeine Jerusalem omver sal werp as daar sprake van 'n nuwe koning is.  Die Romeine sal nie opstand duld nie.  Jesus is jare later gekruisig juis onder dié klag wat bo aan sy kruis vasgespyker was:  “Jesus van Nasaret, Koning van die Jode” (Matteus 27:37, sien ook Johannes 18:33-37, 19:1-3, 12, 14-15, 19-22).  In ons huidige vers in Matteus 2 is Jerusalem alles behalwe dit wat haar naam beteken:  die stad van vrede.

Dis nie net Herodes wat sy opponente vermoor, Mugabe wat vir Changerai uitskakel, Zuma wat Mbeki uitwerk, sluipmoordenaars wat die konings van die geskiedenis doodgemaak het, of Adolf Hitler wat moord- en maglustig was nie.  Sien jouself in Matteus 2.  Ons is die wat 'n lus het vir mag.  Kyk maar na die dinge waaroor ons dagdroom.  Ons dink aan onsself as belangrik.  Ons soek ander se goedkeuring en applous.  Ons wil mag hê en wens vir 'n belangrike posisie.  Ons soek status en wil dit kry deur beter karre, groter huise, of huise in 'n sekere woonbuurt.  Hoekom soek ons so graag promosie?  Ons hou daarvan om ander te beheer, om te voel ons het gesag.  Materialisme – die gejaag na geld – is die hartklop van ons samelewing, want geld is mag.  Die waarheid is (en ons wil dit nie te hard sê nie) dat die mens God van sy troon wil afskuif.  Ons wil God wees.  Satan wou homself verhef tot die hoogste posisie en het in sy hart gesê:  “Ek sal soos die Allerhoogste wees.”  En hy het die mens versoek om dieselfde te begeer:  “Julle sal soos God wees” (sien Genesis 3:5).  Die mens sal vir God doodmaak as hy kan.  Hy wil God se posisie hê.  Toe God uiteindelik as mens kom aarde toe, het die mens Hom vermoor.  Maar Jesus het uit die dood uit opgestaan.  En nou is Hy genadig en beveel elke mens om hom te bekeer van sy sonde.  Hy bring aan ons goeie nuus om te sê dat Hy regeer en dat ons aan sy heerskappy moet onderwerp (Jesaja 52:7).  Ons moet doen wat die ganse skepping aan die einde van die wêreld sal doen:  “sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.” (Filippense 2:10-11).  Christene moet soos Jesus wees en nie soos die wêreld nie:  “Maar Jesus het hulle na Hom geroep en gesê:  Julle weet dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen; maar só moet dit onder julle nie wees nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees.  En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie.” (Matteus 20:25-28).

Indien jy dit nie wil doen nie beskryf Openbaring 19:11-16 jou lot.

“Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ‘n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid.  En sy oë was soos ‘n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het ‘n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self.  En Hy was bekleed met ‘n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is:  Die Woord van God.  En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne.  En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige.  En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is:  Die Koning van die konings en die Here van die here.”

Ek dring by jou aan om die evangelie te glo, te verstaan, en te ervaar.  Wanneer jy dít gesmaak het sal jy 'n geseënde kersfees en vir ewig 'n geseënde lewe hê.

Kategorieë