Galasiërs 5:22
My broer is vriendelik en gaaf. Toe my oudste dogter klein was, was ’n seuntjie by ’n restaurant lelik met haar. Om my dogter te beskerm, het ek die seuntjie aangespreek. My broer het langs die kind gaan sit en met hom gepraat. Hy wou weet wat die seuntjie pla en het hom van Jesus vertel.
Toe my broer onlangs hoor iemand het in die kinderhuis grootgeword, het hy geduldig en liefdevol met die man gesels.
Toe hulle eenkeer by ons kuier, het my broer saam met my ’n tannie in die hospitaal besoek en mooi vir haar gebid.
Toe ek hom van die Jehova’s Getuies buite Checkers vertel, toe sê hy: ‘Moet hulle nie veroordeel nie. Koop vir hulle iets in die winkel. Doen dit ’n paar keer tot jy ’n verhouding met hulle opgebou het. Daarna deel jy die evangelie met hulle.’
’n Paar naweke gelede toe gee my broer sy hardloop tekkies vir ’n arm man.
Hoe word ’n mens gaaf en vriendelik?
1. Wat is vriendelikheid?
Die Grieks vir vriendelik (chrēstotēs) verwys na ’n opregte vriendelikheid. Die woord beteken jy is bruikbaar om goed te doen en ander se nood op die regte tyd aan te spreek.1 Die Griekse woord vervat vriendelikheid, gaafheid en goed in een.
Ongelowiges is uiterlik vriendelikheid en gaaf as dit hulle bevoordeel. Anders is hulle onvriendelik en ontbreek goedheid by hulle. Paulus sê: “Daar is niemand wat goed (chrēstotēs) doen nie, daar is selfs nie een nie.” (Rom. 3:12).
2. Waar begin vriendelikheid?
Vriendelikheid begin by God. Ons voorouers in Afrika en Europa het die skepping, afgodsbeelde en hulle voorvaders aanbid. Hulle het gesteel, mekaar doodgemaak en losbandig gelewe. Tit. 3:3 beskryf hulle lewe: “Want ons was ook voorheen onverstandig, ongehoorsaam, verdwaal, verslaaf aan allerlei begeertes en luste. Ons het in kwaadwilligheid en naywer geleef, ons was haatlik en het mekaar gehaat.”
As die Here wou, kon Hy hulle summier uitwis. Volgens Rom. 2:4 is die Here gaaf en gee Hy mense kans om hulle te bekeer: “Of verag jy die rykdom van sy goedheid (chrēstotēs), verdraagsaamheid en geduld, en besef jy nie dat God se goedheid (chrēstos) jou tot bekering wil bring nie?”
Om ons voorvaders te red en omdat Hy gaaf is, het God die evangelie vir hulle gestuur en deur hulle vir ons (Rom. 11:22, chrēstotēs). Ons ouers het ons die goeie nuus van ’n vriendelike God vertel wat sy Seun aarde toe gestuur het om ons van ons sonde en die hel te red: “Maar toe die goedheid (chrēstotēs) en menseliefde van God, ons Verlosser, verskyn, het Hy ons verlos—nie op grond van werke wat ons uit geregtigheid gedoen het nie, maar op grond van sy ontferming—by wyse van die afwassing deur die weergeboorte en vernuwing deur die Heilige Gees, wat Hy ryklik oor ons uitgegiet het deur Jesus Christus, ons Verlosser. So het ons, geregverdig deur sy genade, erfgename geword van die ewige lewe waarop ons hoop.” (Tit. 3:4-7).
Wat doen jy omtrent God se vriendelikheid? Het jy al deur sy Woord gesmaak en gesien dat Hy goed is (1Pet. 2:2-3, chrēstos)? Moenie jou Bybel in die laai of op die boekrak los en sê God is onvriendelik nie. Dan is jy soos ’n man in die oorlog. In sy kas lê ’n hoop verseëlde liefdesbriewe. Om te sê sy vrou het hom nie lief nie is onwaar. Net so moet jy die Bybel nie eenkant toe skuif en sê God is onvriendelik nie. As jy jou Bybel oopmaak, sal jy in Luk. 6:35 sien God is gaaf met die slegtes en ondankbares. Hy gee reën en vrugbare seisoene (Hand. 14:17). Lewe, asem en alles wat goed is, kom van Hom af (Hand. 17:25, Jak. 1:17). Bowenal het Hy sy unieke Seun gegee om vir ons sondes te sterf (Joh. 3:16).
In Christus bied God jou die hemel waar vriendelikheid al sy aksies motiveer. Ef. 2:7 sê: “sodat Hy in tye wat kom, bewys kan lewer van die allesoortreffende rykdom van sy genade deur sy goedheid (chrēstotēs) aan ons in Christus Jesus.”
Op aarde reeds is God se karakter oor ons vol vriendelikheid (Ps. 119:68, 31:20 [31:19], chrēstotēs, LXX). Hy gee ons sy Woord, ’n gemeente, sy liefde, ’n Hoëpriester wat vir ons intree, geestelike gawes, beproewings sodat ons geestelik kan groei, vergifnis, verlossing, die Heilige Gees, sy beloftes en veel meer.
Maar onttrek God nie sy vriendelikheid wanneer ons sondig nie? Ons sonde bedroef Hom (Ef. 4:30), maar sy vriendelikheid dryf Hom om ons te vergewe: “Aan die sondes van my jeug en my oortredings moet U nie dink nie; dink aan my in u troue liefde, omdat U goed (chrēstotēs, LXX) is, Here.” (Ps. 25:7).
3. Is jy vriendelik?
Is jy onvriendelik, kortaf, nors, vyandig, onplesierig, aanvallend en suur met ander mense, sodat hulle jou vermy? Blameer jy dit op jou siekte, hormone, pille, depressie, kinderjare, persoonlikheidstipe, ouderdom of stresvolle omstandighede? Ek voel jammer vir jou pyn, maar daar is ander mense in jou skoene wat vriendelik is.
Kan ek jou sê hoekom jy onvriendelik is? Jy is nie vol van die Heilige Gees nie. Die vrug van die Gees is vriendelikheid (v.22). As die Heilige Gees jou vul, sal jy soos Jesus vriendelik wees en Paulus se riglyne in Ef. 4:31-32 volg:
“Laat vaar alle bitterheid en woede en gramskap en geskreeu en gelaster, saam met elke vorm van kwaad. Wees goedgesind (chrēstos) teenoor mekaar, met innige meelewing, terwyl julle mekaar vergewe, soos God in Christus julle ook vergewe het.”
Ek het dit by ’n man in ons gemeente gesien. Toe ek hom leer ken het, was hy was baie reguit en streng. Namate hy geestelik gegroei het, het hy gaaf en vriendelik geword. Toe iemand eendag op sy plek in die kerk sit, toe sê hy: ‘Dit maak nie saak nie; hy kan maar daar sit.’
4. Is God onvriendelik?
God is nie onvriendelik nie. Party mense dink Hy is. Gawe mense soos Nelson Mandela, Ghandi en moeder Teresa help ons uit die lyding wat God veroorsaak het.
Dit is onwaar. God het ’n perfekte wêreld gemaak en Hom in die mens verbly. In Genesis 3 het die mens sy rug op God gedraai en sy eie pad gekies. Pyn en lyding is ’n direkte gevolg van die sondeval. Almal van ons het teen God gesondig en die wêreld in ’n gemors gedompel (Rom. 1:18-32, 5:12, 8:19-21). God is kwaad oor ons sonde, maar Hy is ook vriendelik. Vir duisende jare al verdra Hy die mens wat teen sy Skepper in opstand gekom het. Aanhoudend strek God ’n hand uit, maar mense klap dit weg. Uiteindelik het God aarde toe gekom en mens geword. Deur sy hele lewe was Jesus vriendelik en gaaf met mense. Hy het die siekes genees en die armes gehelp. Daarna het Hy die straf vir ons sonde op Homself geneem. Kan jy na dit alles nog sê God is onvriendelik en mense is gawer as Hy?
As jy dit wil glo, sal God toelaat dat jy ’n vedraaide beeld van Hom het. Ps. 18:25-26 in die ESV sê: “With the merciful you show yourself merciful; with the blameless man you show yourself blameless; with the purified you show yourself pure; and with the crooked you make yourself seem tortuous.” (eie beklemtoning).
By die wederkoms sal slegte mense vir Jesus sê: “Ek was bang vir u, omdat u ’n streng man is; u vorder in wat u nie belê het nie, en u oes wat u nie gesaai het nie.” Jesus sal toelaat dat hulle dit glo en antwoord: “Met jou eie woorde sal ek jou veroordeel, jou slegte slaaf! Jy het geweet dat ek ’n streng man is, wat invorder wat ek nie belê het nie, en oes wat ek nie gesaai het nie.”
Hierdie mense se verdraaide Godsbeeld verander nie die feite nie: God is die vriendelikste Wese in die heelal.
5. Hoe moet jy op God se vriendelikheid reageer?
God wil hê ons moet sy vriendelikheid met ander mense deel. Ps. 145:7 sê: “Hulle sal die gedagtenis van u grote goedheid (chrēstotēs, LXX) laat uitstroom en jubel oor u geregtigheid.” (Ou Vertaling). Sal mense ons glo? Hulle sal as hulle ons gemeente en geestelike leiers se vriendelikheid sien (Kol. 3:12, 2Kor. 6:6, chrēstotēs). Selfs al kan ons nie hulle slim redenasies antwoord nie: hulle kan nie teen die vriendelikheid van Jesus in ons stry nie. Dit móét ’n indruk op hulle maak.
Toe my vriend eenkeer by Golden Gate was, het die ontvangsdame hom iets toegesnou. Hy was sagmoedig en vriendelik met haar, nogtans het sy lelik met hom gepraat. Hy het kalm gebly en mooi teruggepraat. Toe hulle in die kar klim, toe sê sy seuntjie: ‘Nou weet ek wat dit beteken om ’n Christen te wees: jy praat mooi met mense wanneer hulle met jou lelik is.’
Laat ons ’n lewe van vriendelikheid najaag: “Vertrou op die Here en doen die goeie (chrēstotēs, LXX), bewoon die land en waak oor betroubaarheid.” (Ps. 37:3).
As mense God se vriendelikheid deur ons wegstoot, sal Hy dit by hulle wegvat sodat hulle sy strengheid beleef (Rom. 11:22, chrēstotēs).
Moenie die geleentheid weggooi nie. Jesus kom vriendelik en gaaf na jou toe. Hy strek sy deurboorde hande uit en sê: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle, en leer van My, omdat Ek sagmoedig en nederig van hart is, en julle sal rus vind vir julle gemoed. Want my juk is draaglik (chrēstos) en my las is lig.” (Matt. 11:28-30). Sal jy sy hand vat of dit wegklap?
1 https://biblehub.com/greek/5544.htm