Coram Deo Cover Image

Coming soon...

28 January 2023

Die vreugde en smarte van die hemel en die hel

[column width="1/1" last="true" title="" title_type="single" animation="none" implicit="true"]

Lukas 16:24-26

Die storie begin by v.19: “Daar was ’n ryk man wat klere van purperstof en fyn linne gedra en elke dag swierig feesgevier het. Voor die ingang van sy huis het 'n bedelaar met die naam Lasarus gelê. Hy was oortrek van swere, en het daarna gesmag om iets te ete te kry wat van die ryk man se tafel afgeval het, maar slegs die honde het sy swere kom lek. Toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra om teen die bors van Abraham te rus. Die ryk man het ook gesterf en is begrawe. En toe hy, van waar hy in Hades gefolter word, sy oë ophef, sien hy Abraham in die verte, met Lasarus teen sy bors.” (v.19-23).

Vandag kyk ons na v.24-26. Engele en demone kyk met afwagting wanneer ek dié boodskap aflewer (Ef. 3:10, 1Pet. 1:12). Hulle weet dit is eenkant of anderkant toe, die hemel of die hel vir elkeen wat my hoor (2Kor. 2:16).

 

1. Die smarte van die hel

[a] Die hel is werklik (v.24)

Die ryk man se harde geroep (v.24, Gk. phōneō) wys hy was desperaat en wou sy lyding verlig (v.23-24). Laat sy noodkreet ’n heilige erns by jou opwek, sodat jy die hel nie ligtelik opneem, uitlag, ontken of grappies daaroor vertel nie. Dink mooi voor jy hel as los ’n woord gebruik: ‘Wat de hel dink jy doen jy? ... O hel!’ Moet ook nie jou lyding met die hel vergelyk nie: ‘Ek gaan deur hel.’ Jou lyding is erg, maar jy geniet nog sonskyn, reën en ander goeie gawes van bo. In die hel is dié dinge afwesig. Die hel is ’n aaklige realiteit. Dit is nie ’n plek vol goeie mense wat foute gemaak het nie, maar ’n plek vir onbekeerde sondaars wat presies kry wat hulle verdien (Rom. 2:6, 1Kor. 6:9-10, Gal. 5:19-21, 6:7-8, Op. 16:6-7). Die ryk man het dit geweet. Hy het nie gesê hy verdien nie om gestraf te word nie, maar was opsoek na verligting.

Laat die skrik van die hel jou tot bekering lei. Party mense dink dit is ongeldig om die evangelie so te deel. Hulle wil nie hulle kinders bang maak nie. Maar moet ons die waarheid van hulle weerhou? Toe ek in graad 2 was, het ek een aand in my bed gelê en huil. Ek was bang vir die hel. Tog het ek my nie van my sonde bekeer nie. Vrees vir die hel red niemand nie. Die Bybel gebruik dit egter as ’n afskrikmiddel om mense na Christus te dryf (Matt. 3:8, 10, 10:28). Ek ken ’n oom wat so tot bekering gekom het.

 

[b] Die hel is sonder genade (v.24)

Die ryk man het Abraham gevra om barmhartig te wees (v.24). Ongelukkig bereik God se genade sy vervaldatum in die hel. Die straf is sonder God se liefde, seën, goedheid en guns (Heb. 10:27 kontra Ps. 23:6). Gryp die kans terwyl jy dit het (Matt. 25:1-10, 2Kor. 6:2). As jy uitstel, kry die duiwel meer vat op jou en raak jy verhard.1 Reageer terwyl jou hart sag is, anders is jy dalk voor môre in die hel. Dit het met ’n jong besoeker aan Umgeni Road Baptist Church in Durban gebeur. William Duma (die leraar) het hom gereeld oor sy stand met Christus gevra, maar hy het gesê: ‘Ek is nog nie gereed nie.’ Een Sondag terwyl Duma preek, het die Here kragtig oor die gemeente gekom. Die jong man het op die punt van sy stoel gesit en as’t ware deur Duma gekyk. Na die diens het Duma na hom toe gestap en gesê: ‘Is jy gereed om Christus as jou Here en Verlosser te bely?’ ‘Nie vandag nie, het die man gesê. Ek is jonk en het nog baie tyd.’ Die man het omgedraai en weggeloop. Duma was baie hartseer. ’n Paar minute later het Duma ’n verskriklike slag gehoor. ’n Ouderling het by die gebou ingestorm en gesê: ‘Die jong man met wie jy gepraat het is sopas deur ’n kar getref en is op slag dood!’2

Ek het eenkeer met ’n vrou gesels wat in sonde geleef het. Toe ek met haar daaroor praat, toe sê sy: ‘Los dit!’ Sy wou nie verder met my praat nie. Twee weke later toe kry ek die nuus dat sy aan ’n hartaanval gesterf het.

Moenie uitstel nie.

 

[c] Die hel is vol pyn (v.24-25)

Die ryk man wou hê Lasarus moes sy pyn verlig (v.24). Die feit dat hy sy naam geken het, wys hy was nie onkundig oor arme Lasarus buite sy hek nie (v.20-21). Nou het die ryk man sy hulp gevra, asof Lasarus sy kneg was. Maar net soos hy geen barmhartigheid aan Lasarus bewys het nie, het hy nou niks ontvang nie (v.24-25, Jak. 2:13). Hy het God glad nie erken nie, maar Abraham en Lasarus om hulp gevra (v.24). Hy wou bloot verligting hê en het geen berou oor sy sonde getoon nie. Selfs in die hel ignoreer mense vir Christus en daarom bly hulle vir ewig hopeloos. Hulle verkies die hel sonder Christus bo die hemel saam met Hom. Hulle soek net nie die pyn nie. Daarom het die ryk man gesê: “Vader Abraham! Wees my genadig, en stuur Lasarus om die punt van sy vinger in water te doop en my tong af te koel, want ek ly in hierdie vlam.” (v.24).

Hoe kon Lasarus ’n vinger hê en die ryk man ’n tong as hulle liggame in die graf was; as net hulle siele in die hemel en in die hel was? Party mense reken ons kry ’n tydelike liggaam in die hiernamaals, maar die Bybel sê dit nie. Ek dink liewer hierdie is ’n antropomorfisme. Dit beteken eenvoudig dat Jesus menslike terme gebruik, sodat ons kan verstaan. Dit is soos om van God se regterhand of sy oë te praat. God is ’n Gees en het nie ’n liggaam nie (Joh. 4:24). Tog skryf die Bybel menslike kwaliteite aan Hom toe, sodat ons beter kan verstaan. Jesus doen dieselfde wanneer Hy van die ryk man se tong en Lasarus se vinger praat.

Die beginsel wat uitstaan is dat die helse vuur ’n mens se siel kan pynig (v.23-24, Matt. 10:28). Soms beleef ons iets hiervan op aarde. Toe ’n vrou se seun selfmoord gepleeg het, toe sê sy: ‘Dit brand hier in my bors.’ Haar geestelike lyding het ’n fisieke pyn veroorsaak. In die hel is hierdie pyn ’n honderd keer erger as op die aarde. Dit hou vir ewig aan. Laat hierdie realiteit by jou insink en vrees God (12:5).

Party mense bevraagteken of die hel ewig is en sê God sal ongelowiges uitwis. Hulle sê dit onder andere, omdat Jesus van die hel as ’n vuur praat. ’n Vuur verteer tog dinge. Hout brand nie vir ewig nie; dit hou op brand sodra dit as geword het. Dit is ’n ongeldige argument, omdat God volgens Eks. 3:2 vuur kan laat brand sonder dat dit iets verteer.

Party sal sê die vuur is net ’n metafoor; ons moet dit nie letterlik opneem nie. Die ryk man het nie gedink dit is ’n metafoor nie. Hy het die pyn gevoel (v.24). Baie ander verse praat van die ewige en onblusbare vuur; van mense wat nooit ophou brand nie, maar vir ewig ly (Matt. 3:10, 12, 13:50, 25:41, Mark. 9:48, Op. 14:11, 21:8). Selfs al was die vuur ’n metafoor, maak dit die hel nie minder draaglik nie. John Piper sê: ‘...symbols are not overstatements but understatements of reality. Jesus did not choose these pictures [fire] to tell us that hell is easier than burning.’3 Thomas Watson sê: ‘Other fire is painted to this.’4 Liberales, die Jehovas Getuies en party evangeliese Christene haat die realiteit van ’n ewige hel. Hulle kan nie glo ’n God van liefde sal mense hel toe stuur nie. Party van hulle sê dit, omdat hulle familie ongered is. Die meeste ontken dit egter, omdat hulle ’n lae siening van God se heiligheid en die erns van sonde het.

’n Paar jaar gelede het ek ’n rugby wedstryd op Ellispark gaan kyk. Baie van die mense was dronk. Hulle het vieslike taal gebruik en pervers opgetree. Ek het verstaan hoekom die Here mense hel toe stuur. My eie donker hart en sonde van die verlede laat my besef dat die hel regverdig is. R.C. Sproul se Holiness of God en Mark Jones se Knowing Sin sal jou help om te besef dat die hel nie ’n oorreaksie of oorbodigheid aan God se kant is nie. In stede daarvan dat jy die hel twyfel, moet jy oor verlore mense treur, vir hulle redding bid, by hulle pleit om hulle te bekeer, en hulle uit die vuur ruk (Rom. 9:2-3, 10:1, 2Kor. 5:11, Kol. 3:5-6, Judas 23). Moenie dink jy sal borgtog of afslag kry, omdat jy gedoop is, lidmaat van ’n gemeente is, ’n predikant is, of Christen ouers het nie. Die ryk man het gehoop dit werk, omdat hy uit die fisieke nageslag van Abraham was (v.24-25, Matt. 3:9). Ongelukkig werk dit nie so nie. Jesus het vir die Joodse leiers gesê: “Slange, addergeslag! Hoe sal julle die oordeel van die Gehenna [die hel] ontvlug?” (Matt. 23:33).

Jesus is ons enigste hoop om gered te word. Hy het namens sondaars onder God se toorn aan die kruis gely (Matt. 27:46). Sy vergifnis en die voordele van sy lyding is beskikbaar vir elkeen wat in Hom glo (1Tess. 1:10, Sag. 3:1-5, 13:1, Fil. 3:9). Deur Hom sal jy nie net die fisieke pyn van die hel vryspring nie, maar die geestelike pyn. Ek verwys na jou gewete wat jou kasty. Die ryk man se geheue en gewete het hom gepynig. Hy het onthou dat hy Lasarus geïgnoreer het en vir homself gelewe het (v.25). Gelowiges het ook ’n geheue. In die hemel vergeet ons nie skielik wat op die aarde gebeur het nie (v.25). Beteken dit dan ons onthou ons sonde? Nee, omdat Jesus se bloed ons gewete reinig en God aan ons sonde nie meer dink nie (Heb. 9:14, 10:17, 22). Ons onthou dat ons sondaars was wat uit genade gered is (Op. 5:9), maar ons onthou nie die aaklige besonderhede van ons sonde nie (Jes. 65:17).

 

[d] Die hel is hopeloos (v.26)

God het ’n groot kloof tussen die hemel en die hel gevestig (v.26). Geen gevangene ontsnap uit die hel soos mense al uit Alcatraz ontsnap het nie. Niemand skuif oor van die hel na die hemel, of andersom nie (Ps. 1:5, 5:5, Hand. 4:12, Op. 21:27). Dit beteken dat ateïste en almal wat met hulle sonde aanhou nie hemel toe gaan soos Aartsbiskop Michael Ramsay gesê het nie.5

Is die Katolieke konsep van ’n vagevuur (Eng. purgatory) nie ’n moontlikheid nie? Ook nie. Die Katoliekekerk glo dat party mense in die vuur brand om hulle van hulle sonde te reinig. As hulle rein genoeg is, sal hulle hemel toe skuif. Die Bybel ken egter geen vagevuur nie. Daar is slegs ’n hemel en ’n hel met geen verkeer tussen die twee nie (v.26). Prakties beteken dit om vir die dooies te bid en namens hulle gedoop te word, is oneffektief en absurd (v.26, 1Kor. 15:29). Die Bybel weet niks van ’n tweede kans na die dood nie. Wat en waar jy is wanneer jy sterf, is jy vir ewig (v.26, Op. 22:11). Daar bestaan geen reïnkarnasie waarin jy na die dood as iets anders terugkom nie. Universialisme is ’n mite; dit is onwaar dat almal uiteindelik gered sal word en dat almal uit die hel na die hemel toe sal oorskuif. Heb. 9:27 sê: “...net soos dit bestem is vir mense om slegs een maal te sterf, en daarna kom die oordeel”.

 

2. Die vreugdes van die hemel

[a] Die hemel is vreugdevol (v.25)

Op die aarde loop die bokke op die bergtoppe in die sonskyn, terwyl Christus se skape in die vallei van slagting is (Thomas Watson).6 In die hiernamaals is dit omgekeer: “Maar Abraham antwoord, ‘Kind, onthou dat jy gedurende jou lewe die goeie ontvang het, soos wat Lasarus die slegte ontvang het. Nou word hy hier getroos, maar jy word gepynig.” (v.25). “Daarom, so sê my Heer, die Here: ‘Kyk, my diensknegte sal eet, maar julle sal honger ly. Kyk, my diensknegte sal drink, maar julle sal dors ly. Kyk, my diensknegte sal hulle verheug, maar julle sal beskaamd staan. Kyk, my diensknegte sal jubel met blye harte, maar julle sal om hulp roep met bedroefde harte; met ’n gebroke gees sal julle huil.” (Jes. 65:13-14). “Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste.” (Matt. 19:30, vgl. 20:16). Op aarde het die ryk man Lasarus nie ’n krummel gegee nie (v.21); daarom het hy in die hel nie ’n druppel gekry nie (v.24). Wat help iemand se weelde en rykdom (v.19) as die smarte van die hel vir hom voorlê en hy die vreugde van die hemel mis (v.23-25)? “Wat baat dit ’n mens immers as hy die hele wêreld as wins bekom, maar sy lewe verloor?” (Mark. 8:36).

Die teenoorgestelde is ook waar: as jy op die aarde vir Christus gely het, sal die hemel daarvoor kompenseer. Hoe meer jy gely het (v.20-21), hoe meer sal jy vertroos word (v.25): “Maak ons bly vir net so lank as wat U ons verdruk het, as die jare waarin ons teenspoed beleef het.” (Ps. 90:15 kontra Op. 18:7). Jou blydskap in die hemel sal jou lyding op die aarde oortref: “Ek is oortuig dat die lyding van die huidige tyd nie vergelyk kan word met die heerlikheid wat bestem is om aan ons geopenbaar te word nie” (Rom. 8:18). “Want ons ligte en tydelike verdrukking bewerk vir ons ’n gewigtige en allesoortreffende ewige heerlikheid” (2Kor. 4:17).

Die vreugdes van die hemel bly altyd nuut en vars; dit word nie oud nie (1Pet. 1:4). Ons sal nooit verveeld wees nie. Hoekom nie? God is ewig en oneindig. Hoe meer ons Hom ken, hoe meer sal ons ons verbly en hoe meer sal ons Hom liefhê. Hoe meer ons Hom liefhet, hoe beter wil ons Hom ken, hoe groter die blydskap en hoe meer sal ons Hom liefhê. So hou dit vir ewig aan.7 Vir ewig sal God die allesoortreffende rykdom van sy genade aan ons ontvou (Ef. 2:7). God se genade is soos ’n ui met ’n oneindige hoeveelheid lae. Jy bereik nooit die senter nie, maar ontdek altyd nuwe dinge.

Nog ’n vooruitsig is ons hereniging met geliefdes wat die Here geken het; ons vriendskap met gelowiges uit die Ou- en Nuwe Testamente, asook uit die geskiedenis en ander lande; ons gesprekke met engele; die heerlikheid van die hemelse Stad; die lofgesange van ’n massakoor aan die Vader, die Seun en die Heilige Gees (v.22, Matt. 8:11, Heb. 12:22-23, Op. 7:9-17, 14:1-5, 13, 21:9-21).

Sodra die hemel na die aarde toe neerdaal, sal Jesus alles nuut maak (Op. 21:1-7). Die Vader, die Seun en die Heilige Gees sal alles vul. Ons sal sy heerlikheid in die nuwe skepping geniet: berge, riviere, bome, vrugte, diere, edelstene, medegelowiges, hemelwesens, diensbaarheid, vriendskap, vrolikheid, werk, kultuur, lofgesange, gesondheid en ’n lewe sonder die duiwel, versoeking, sonde en dood (Jes. 33:24, Rom. 8:21, Op. 20:10, 21:9-22:5). Party Christene dink dit is ’n verkeerde uitkyk op die hemel en die nuwe aarde. Hulle dink dit is ongeestelik en dat ons op God moet fokus. Maar het Adam en Eva voor die sondeval op God gefokus as daar diere, riviere, berge en bome was (Genesis 1-2). Was hulle ongeestelik om hierdie dinge te geniet? Natuurlik sal ons Christus se heerlikheid direk aanskou en Hom bewonder (Joh. 17:24). Maar ons sal sy heerlikheid ook in die nuwe skepping bewonder en dit om sy ontwil geniet. In die hemel en op die nuwe aarde sal ons 1Kor. 10:31 ten volle verstaan en kan uitvoer: “Of julle dan eet of drink of enigiets anders doen, doen alles tot eer van God.” In Christus is die Vader, die Heilige Gees, die hemel, die nuwe aarde en alles ons s’n (Joh. 14:2-6, 1Kor. 3:21-23).

 

[b] Die hemel is veilig (v.26)

Soos die ryk man nie na die hemel kon oorskuif nie, kon Lasarus nie hel toe gaan nie (v.26). Geen gelowige kan soos Satan en die gevalle engele sy plek in die hemel verloor en in die hel gewerp word nie (v.26, vgl. Ef. 1:13-14, Joh. 10:28-29, Rom. 8:38-39). Beskou vandag as jou kans om kante te ruil, want as jy eers gesterf het is jou kans verby. As jou besigheid of ’n verhouding misluk het, kan jy weer probeer. Met die dood is dit anders: as jy jou laaste asem uitgeblaas het, is dit neusie verby. Daarom, Carpe Diem! Gryp die dag aan; gryp die geleentheid! Doen dit voor die uurglas van jou lewe uitloop.


1  Thomas Watson, The Lord’s Prayer (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1960, 1965 [1692, 1890]), 113, 145

2  Mary Garnett, Take Your Glory, Lord: William Duma—His Life Story (Self-published, 1979), 163-4.

3  John Piper, Brothers, We Are Not Professionals (Nashville, Tennessee: Broadman & Holman Publishers, 2002), 114.

4  Thomas Watson, The Ten Commandments (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1959, 1965 [1692, 1890]), 195.

5  Iain H. Murray, D. Martyn Lloyd-Jones: The Fight of Faith (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1990), 428

6  Thomas Watson, A Body of Divinity (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1958, 1965 [1692, 1890]), 63.

7  The Works of Jonathan Edwards: Vol. 2 (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1974 [1834]), 618

[/column]

Kategorieë