Coram Deo Cover Image

Coming soon...

31 December 2015

Die voorbeeldige Christen

Following Jesus

Ken jy Christene van wie jy dink: ‘Ek wil soos hulle wees’?  Ek het dié week met ‘n vriend gepraat wat my van so iemand vertel het.  Die man is 83 jaar oud.  My vriend sê:  ‘Ons verskil oor baie dinge, maar ek sit hom agterna en wil graag ‘n vriendkap met hom hê.  Hy is só ‘n Godvresende man.  Ek wil by hom leer.’  Wat my vriend gesê het is presies wat 1 Korintiërs 16:15-24 sê ons moet doen.

 

Sy diensbaarheid (v.15-18)

In 1641 het Richard Baxter die leraar geword van ‘n kerk in Kidderminster, Engeland. Die dorp was goddeloos toe hy daar aankom.  Oor ‘n tydperk van 17 jaar het hy twee dae per week van huis tot huis gegaan, en elke gesin vir ‘n uur lank Bybel-vrae en antwoorde geleer (die kategisme).

 

Die kerk het so gegroei dat hulle vyf gallerye moes aanbou. Toe Baxter uit Kidderminster weg is, was daar uit 800 gesinne skaars een wat nié huisgodsdiens gehou het nie.  Uit die 600 mense wat in sy tyd lidmate geword het, het hy gesê daar was maar ‘n dosyn oor wie se opregtheid hy getwyfel het.[1]  Net soos die mense in v.15-18, was Baxter se lewe ‘n voorbeeld van Christelike diensbaarheid.

 

Paulus het gesê die Korintiërs moet onderdanig wees en respek hê vir sy diensbare medewerkers (v.15-16). Die kerk het geweet dat Stefanas en sy huisgesin die eerste bekeerlinge in die Achaje-provinsie was (v.15, 1:16).  Die Korintiërs moes hom en sy gesin respekteer en nie verag nie.  Hierdie gesin het hulleself hart en siel daaraan gewy om die heiliges in Jerusalem en Korinte te dien (v.15, 1-2).  Hulle het nie hulle eie eer of ‘n leiersposisie gesoek nie, maar wou eenvoudig diensbaar wees.  Hulle het waarlik in liefde gedien (v.14).  Die gemeente moes mense eer wat só gedien het en hard gewerk het tot op die punt van uitputting (v.16, Gk. kopiaō).  Paulus wou nie hê die Korintiërs moes ‘n ophef maak van predikers soos hy of Apollos nie (hfst.1), maar hulle moes almal eer wat getrou gedien het (v.16).

 

Paulus was baie bly oor die koms van Stefanas, Fortunatus, en Achaicus (v.17). Hierdie broers het seker gekom om gemeentenuus met hom te deel, en het heel moontlik die brief van 7:1 aan hom afgelewer.  Dit blyk dat hulle ook uit liefde gekom het om hom te bemoedig.  Hierdie broers se besoek het opgemaak vir die Korintiërs se afwesigheid – hulle het die hele kerk verteenwoordig (v.17, Filippense 2:30, Filemon 13).  Hulle besoek, geestelike gemeenskap, gemeente nuus het vir Paulus verfris soos koue water op ‘n bloedige dag (v.18, Romeine 15:32, Filemon 7, 20, Spreuke 25:25, 2 Korintiërs 7:13).  Hierdie broers se getroue diens het ook die Korintiër-Christene verfris (v.15, 18).

 

Hierdie is die tipe mense vir wie ons erkenning moet gee (v.18, Filippense 2:29). Gee erkenning deur hulle finansieel te vergoed, geskenke vir hulle te gee, briewe van bemoediging te skryf, of deur net dankie te sê.

 

Wees diensbaar. Voordat jy ander reg kan dien moet jy jouself verloën en Jesus volg (v.15).  Jesus het gesê:  “elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees.  En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees” (Matteus 20:26-27).  Die ongelowige wil gedien word:  “Julle weet dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen” (Matteus 20:25).  Die ongelowige wat wel dien, doen dit nie vir God nie, maar uit vrees vir straf of uit ‘n begeerte om gesien te word.  Hoe kan ‘n mens reg dien?

 

[1] Dien met ‘n gewillige hart, en nie om erken te word nie (natuurlik moet ons dié wat reg dien erken, maar om erken te word moenie jou motief wees nie).

 

[2] Wees bereid om hard te werk, want om met mense te werk is uitputtend (v.15).

 

[3] Dien met blydskap. Dink aan God se vreugde en ander se voordeel eerder as aan jou eie (v.15-18).  As jy so dien sal jy outomaties self bevoordeel word en bly wees.  Jou vreugde lê in God se vreugde en ander s’n.

 

[4] Moenie dink dit is net die ouderlinge se werk om te dien nie. Hoe sal jý dien in 2016?  Wat doen jy goed en geniet jy om te doen?  Waarvan sê ander:  ‘Jy doen dit goed?’  Gebed vir ander?  Finansiële bydraes?  Sang en musiek?  Rekenaars?  Klank?  Behulpsaamheid?  Skryf?  Versorging van siekes?  Organisering?  Kuns?  Kinders of babas oppas?  Mense vriendelik groet?  Administrasie?  Leierskap?  Kook?  D.I.Y.?  Armsorg?  Sendelinge ondersteun en bemoedig?  Evangelisasie?  Berading?  Enigiets anders?

 

Gebruik jou gawe om te dien. Moet ook nie vergeet om dankie te sê vir die mense wat so dien nie.  Hoekom moet jy diensbaar wees?  Want Jesus is so:  “die Seun van die mens [het] nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie.” (Matteus 20:28).  Wees soos Hy:  “Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het.” (1 Johannes 2:6).

 

Sy vriendelikheid (v.19-21)

In 2016 groet ons mekaar so in die straat: ‘Goeie dag.  Hoe gaan dit?  Goed dankie.  Dis goed om jou weer te sien.  Sê groete by die huis.’  In die eerste eeu het Christene mekaar so gegroet:  ‘Hoe gaan dit?  Hoe gaan dit met die situasie by die werk?  Is jou oom gesond?  En sy vrou?  Wat het toe met jou seun se siekte gebeur – ek bid nog gereeld daarvoor.  Wanneer laas het jy gehoor van jou pa in Spanje?  Vir hoe lank is julle in die stad?  Kom bly sommer vir die week by ons.’  Die lys van groete in Paulus se briewe is dus meer as net ‘n formaliteit.  Dit is ‘n egte belangstelling in ander mense se lewens.

 

Paulus het die Korintiërs bemoedig deur te sê die kerke in Asië sê groete (v.19). Dit moes ‘n groot troos gewees het in ‘n wêreld met min gelowiges.  Die Korintiërs het waarskynlik die Christene in hierdie kerke geken (net soos wat ons Baptiste uit ander gemeentes ken).

 

Aquila en Prisca (Priscilla) uit die kerk in Efese, asook die kerk wat in hulle huis byeengekom het, het hartlike groete gesê in die Here (v.19). Die Korintiërs het hierdie twee mense geken as gawe Christene wat vir Paulus in Korinte gehuisves het.  Hulle het intussen Efese toe getrek en hulle huis vir gemeentelike samekomste oopgestel (v.19, Handelinge 18:1-3, 18-19, Romeine 16:5).  Paulus nie net:  ‘Erken goeie dienaars nie,’ (v.18), maar hy doen dit self (v.19).

 

Al die broers wat saam met Paulus was het ook groete laat weet (v.20). Hy het gevra hulle moet dieselfde doen en mekaar met ‘n heilige soen groet (v.20).  Ons weet natuurlik dat hierdie die Midde-Oosterse soen op beide wange was:  mans het mans gesoen, en vroue het vroue gesoen.  Paulus praat van ‘n heilige soen om te wys dit is nie immoreel nie.  Hierdie vriendelike manier van groet sou die eenheid in die gemeente versterk (1:10-12).  Paulus het die voorbeeld gestel en self die gemeente gegroet (v.21).  ‘n Sekretaris het die brief namens hom geskryf (Romeine 16:22).  Hy het die slot met sy eie hand geskryf (v.21, 2 Tessalonisense 3:17).  Dit sou wys dat die brief regtig van hom af kom, maar dit sou ook wys dat die brief persoonlik is.

 

Wees vriendelik met mekaar en stel belang in mekaar se lewens. Pasop dat die wêreld se individualisme jou nie intrek, sodat jy van ander vergeet nie.  Pasop ook dat jy nie so besig is, dat jy nie tyd het vir ander nie.

 

Moet mekaar nie net oppervlakkig groet nie, maar stel belang in ander se lewens. Vra oor hulle welvaart en geestelike welstand.  Vra of jy vir iets kan bid en wees sensitief vir ander se pyn en lyding.  Bel die persoon as jy sien hy of sy lyk af.  Gaan kuier by die persoon.  Wees egter versigtig dat jy nie skinder nie.  Pasop ook dat jy nie op hierdie manier ‘n emosionele band vorm met iemand van die teenoorgestelde geslag nie.  Moet ook nie ander se geheime uitlap nie (behalwe as dit ‘n Matteus 18:16-17 geval is).  As jy mense se geheime uitlap sal hulle nie weer met jou praat nie, en verbrou jy ook die kans om vriende te wees.

 

Groet ander hartlik by die kerk. Wees bly om mekaar te sien.  Moenie net strak groet en gou gaan sit nie.  Gebruik die kans om mekaar te leer ken as ons na die diens tee drink, of as daar gemeente etes is.  Leer mekaar ken by Bybelstudies, die beradingklas, ens.  Stel belang in mekaar, sodat jy meer effektief kan bid en bedien.

 

Sy liefde (v.22-24)

‘n Bietjie meer as ‘n jaar gelede het ek ‘n oom ontmoet wat boemelaars in sy huis inneem en vir hulle sorg. As ek hom bel en vra hoe dit gaan, praat hy altyd met opregte erns oor hoe goed die Here is.  ‘n Tyd terug het ek hom gebel vir raad oor iemand wat my skade aangedoen het.  Hy het sê:  ‘Gee hom nog ‘n kans.’  Hy het toe met trane vir die persoon se redding gebid.

 

Hy het my vertel hoe hy goed was vir ‘n boemelaar en vir hom gesorg het. Daarna het die ou leuens oor hom versprei en sy reputasie beskadig.  Hierdie man is soos Jesus, en het besluit hy gaan die persoon vergewe en weer in sy huis inneem en vir hom sorg.  Sy lewe is vir my ‘n voorbeeld van iemand wat Jesus en ander diep liefhet soos Paulus.  Hy is ‘n voorbeeld van iemand wat erns maak met Lukas 10:27:  “Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself.”

 

Paulus wou hê die Korintiërs moet die Here Jesus liefhê (v.22). Iemand wat Hom nie liefhet nie, sal vervloek wees in die hel as Jesus weer kom (v.22).  Hoe kan jy Hom nie liefhê as Hy sy lewe en alles vir jou gegee het?  Paulus was lief vir Jesus en kon nie wag om Hom te sien nie (v.22).  Hy het dus gevra dat Jesus gou moes kom (v.22).  Tot dan het hy gebid dat Jesus se genade by die Korintiërs sou wees, sodat hulle die brief kon gehoorsaam en reg lewe (v.23).  Paulus het hulle van sy liefde verseker, al moes hy hard met hulle praat in die brief (v.24).

 

Let op dat hy vir almal lief was – ook dié wat vir hom probleme gegee het, asook hulle wat vir Apollos en Petrus bo hom verkies het (v.24, 1:12).  Paulus se liefde vir hulle was in Christus:  dit het gevloei uit Jesus se liefde vir hom en sy liefde vir Jesus (v.24, 22, 1 Johannes 4:19).  Vir Paulus was Jesus alles.  Leon Morris sê:  ‘Paul’s last word to the Corinthians is Jesus.’[2]  Paulus sluit dan die brief af met ‘Amen’ (v.24).  Laat dit so wees.

 

Soos Paulus moet ons lief wees vir God en ons naaste. Hoe doen jy dit?  Begin by God.  Hy is liefde (1 Johannes 4:8).  Alle liefde begin by Hom.  Dink diep na oor sy Persoon en karakter (bv. Psalm 139, Jesaja 40).  Dink diep na oor hoe Hy sy liefde vir jou gewys het in die kruis (Johannes 3:16).  Dink na oor die hemel as ‘n wêreld van liefde (Openbaring 21-22).

 

God se liefde vir jou is soos die son wat in ‘n spieël skyn, sodat jou liefde vir Hom helder terug skyn. Sy liefde vir jou sal maak dat jy begeer om naby Hom te wees, net soos verliefdes mekaar se teenwoordigheid geniet.  Deur sy Gees sal Hy by en in jou wees (Johannes 14:23).  As jy vol is van die Gees, sal Hy maak dat jy God meer en meer liefhet (Galasiërs 5:22).

 

Jy sal sonde wíl los en niks wil doen wat Hom bedroef nie.  Jy sal Hom in alles wil gehoorsaam (Johannes 14:15).  Jou liefde vir Hom sal soos ‘n fontein in jou hart oorloop in strome van liefde vir jou naaste.  Jy sal jou naaste net wil goed doen (13:4-7, Romeine 13:8-10).

 

Hoekom moet jy so liefhê? God het jou hiervoor geskep.  Soos wat ‘n vis in die see lewe en voëls in die lug, moet God se liefde die atmosfeer wees waarin jy lewe.  Jou grootste vreugde lê hierin.  ‘What should delight the smell, but odours? or the appetite, but its delicious food? or the eye, but light, and what it showeth? and the ear, but harmony? And what should delight the soul, but God?’ (Richard Baxter).[3]

 

Jesus het nie sy lewe gegee vir die duiwel nie, maar vir sondaars. As jy Hom nie liefhet nie, is jy erger as die duiwel.

 

Alta is ‘n enkel ma met twee dogters in die laerskool. Sy het alewig mans wat by haar huis oorslaap.  Sy drink, gebruik dwelms, vloek, skinder, jok, en steel.  Na ‘n paar jaar begin beide dogters hulle ma se voorbeeld volg.  Toe sy met hulle baklei, het hulle gesê:  ‘Maar ma doen dit.’

 

Sal jy wil hê jou kinders en ander gelowiges moet die voorbeeld van jou lewe volg? Is jou lewe ‘n illustrasie van wat dit beteken om ‘n voorbeeldige Christen te wees?  Indien nie, kan God dit verander net soos wat Hy Paulus se lewe verander het:  2016 hoef mos nie dieselfde te wees as 2015 nie.

[1] Joel Beeke, Randall Pederson, Meet the Puritans, pp.62-64

[2] Tyndale New Testament Commentaries: 1 Corinthians, p.244

[3] The Practical Works of Richard Baxter, vol.1: A Christian Directory, p.124

Kategorieë