Coram Deo Cover Image

Coming soon...

18 August 2018

Die vernedering en verhoging van Jesus Christus

Lion and suffering servant

Nog nooit het enigiets of iemand homself laer verneder as Jesus Christus nie. En nog nooit het God enigiets of iemand hoër verhef as Jesus Christus nie. Hy het laer gedaal as die seebodem en die stof, en hoër gestyg as berg Everest, die sterre en die hoogste hemel. Jes. 49:1-7 wys dit vir ons.

 

  1. Sy geboorte (v.1)

Dit is ‘n wonder dat die Oue van Dae, die ewige God, in tyd ingekom het om gebore te word (v.1b, Miga 5:1-2). Net soos wat God die apostels en profete van die moederskoot af geroep het (Jer. 1:5, Luk. 1:15, Gal. 1:15), het Hy Jesus van die moederskoot af geroep om die Messias te wees (v.1b, Ps. 22:11, Luk. 1:31-33). Hy het sy Naam gegee voordat Hy gebore is (v.1b). Sy Naam som sy Persoon, karakter en missie op. Jesus beteken ‘Jahwe verlos’, want dit is Hy wat sy volk van hulle sonde sou verlos (Matt. 1:21). Immanuel beteken ‘God met ons’, omdat Hy die ware God is wat mens geword het om onder ons te woon (7:14, Matt. 1:23, 28:20).

Maar Israel is nie die enigstes wat dit moes weet nie. Die eilande en die nasies wat ver van Israel se God af is moes dit weet (v.1a, 42:10, 12). Hulle was ver van Hom af, maar Jesus het hulle naby gebring deur sy dood (Hand. 2:39, Ef. 2:13). Daar is hoop vir jou afgedwaalde geliefdes wat ver van die Here af is (v.1). Daar is hoop vir die eilande wat ver van God af is: vir eilande soos Indonesië, die Maldives en die Comoros waar Islam die oorhand het. Daar is hoop as jy ver van God af is. Dalk voel dit vir jou of die Here ver van jou af is. Jesus het gekom om Hom naby te bring.

 

  1. Sy oorlog (v.2)

Wanneer ‘n film ‘n oorlog situasie uitbeeld, sê die slegte karakter vir sy soldate: ‘Take no prisoners. Kill them all.’ Jesus is nie so nie. Hy maak die rebelle dood wat nie die knie wil buig nie, maar vergewe en seën dié wat voor Hom buig; Hy gee hulle sy vrede en ontvang hulle in sy Koninkryk (Ps. 2:9-12). Sy mond en die woorde wat daaruit kom is die skerp swaard waarmee Hy dit doen (v.2). Met sy Woord oordeel Hy die rebelle en straf Hy hulle (Ef. 6:17, Op. 1:16, 19:15). Sy Woord bring ook verdeelheid, omdat sommige dit verwerp en ander dit aanvaar (Matt. 10:34-35, Luk. 2:34, Joh. 7:12, 30-31, 40-44, 10:19-21, 11:45-46).

Die Messias is in die skaduwee van God se hand, ‘n skerp pyl in sy pylkoker (v.2). Hy is dodelik akkuraat (Ps. 45:6). Hy was verborge in die pylkoker, totdat God Hom op die regte tyd uitgehaal het om sy taak te volbring (Rom. 5:6, Gal. 4:4). As God se swaard het Hy die Jode getref wat naby is, en as God se pyl die heidene wat ver is (Ef. 2:17). Hy het die sondige natuur in hulle doodgemaak. Daarna het Hy hulle weer lewend gemaak en hulle gered.

 Moenie die krag van die Heilige Gees en die Woord onderskat nie. Geen menslike filosofie is wyser as die Woord van God nie. Moet daarom nie jou eie denke en woorde met mense deel nie, maar God s’n. Dit is lewend en kragtig om harte te ontbloot en mense se sonde uit te sny (v.2, Heb. 4:12).

 

  1. Sy vernedering (v.3a)

Thomas Watson het gesê: ‘For Christ to be made flesh was more humility than for the angels to be made worms.’ [Thomas Watson, A Body of Divinity (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1958, 1965 [1692, 1890]), 196]. Jesus het Homself verneder. Hy was die Kneg wat God se wil uitgevoer het en gekom het om te dien (v.3a). Hy was arm. Hy is in ‘n stal gebore (Luk. 2:7). Sy ouers was arm (Luk. 2:24, Lev. 12:8).

Hy het nie sy eie huis besit nie (Luk. 9:58). As Hy iets nodig gehad het, het Hy dit geleen: ‘n donkie, ‘n muntstuk, ‘n bo vertrek en ‘n graf (Matt. 17:27, 21:2-3, 22:19, 26:18, 27:59-60). Hy het nie eers klere gehad toe Hy sterf nie (Joh. 19:23-24). Hy het arm geword sodat ons ryk kan word (2Kor. 8:9). Hy het nederig gedien en soos ‘n slaaf sy dissipels se voete gewas (Joh. 13). Hy het nederig op ‘n donkie gery (Matt. 21:5). Dit het Hy alles gewilliglik gedoen (Fil. 2:6-8).

Wees nederig soos Hy. ‘Moet jouself nie verhef, omdat jy ‘n duur huis het nie. Die aarde waarop jy trap is ryker as jy, en het goud en silwer in sy maag. Is jy aantreklik? Moet jouself nie verhef nie. Jy is maar net ‘n mengsel van suurstof en stof. Het jy vaardighede? Wees nederig. Die duiwel het meer kennis as jy. Het jy genadegawes? Wees nederig. Jy het dit nie uit jouself nie; dit is geleen. Is dit nie dwaas om hoogmoedig te wees oor ‘n ring wat jy geleen het nie?... Augustinus het gesê: “As God die engele nie gespaar het toe hulle hulleself verhef nie, sal Hy jou spaar wat maar net stof en verrotting is?”’ [Vry vertaal uit Ibid., 197-198].

Moet dan nie dink dat Hy jou diens benodig nie. Hy het gekom om te dien en benodig nie ons diens nie (Matt. 20:28, Luk. 22:27, 10:38-42, Hand. 17:25).

 

  1. Sy heerlikheid (v.3b)

God het sy heerlikheid kom wys in die Messias se nederige Persoon en karakter, sy eenvoudige lering en sy aaklige kruisdood, soveel soos in sy wonderwerke, sy opstanding, sy hemelvaart, sy troon en sy wederkoms (v.3b, Ps. 24:7-10, Matt. 17:5, 16:27, 25:31, Luk. 2:9, 14, 32, 24:26, Joh. 2:11, 12:28, 11:4, 40, 12:41, 13:31-32, 16:14, 17:1, 5, 24, Hand. 7:55, 1Pet. 1:11, 2Pet. 1:17, Heb. 1:3).

Moenie jou eie heerlikheid soek nie: ‘n honderd likes op Facebook (dis omtrent ons land se hele bevolking!), jouself as die middelpunt van die aandag, ‘n goue medalje, mense se applous, ens. Jou heerlikheid is nie so fantasties dat dit mense se bewondering versadig nie. Om mense met jouself te probeer beïndruk is soos iemand wat vir jou 175 fotos van sy kleinkind se verjaarsdag wys, en dink dat jy so opgewonde daaroor is soos hy. Soek eerder God se heerlikheid in Christus (v.3b). Dit versadig.

Jesaja noem die Messias ‘Israel’ (v.3b). Hy is die ware Israel wat gekom het om reg te maak waar die volk drooggemaak het. Hy het nie in die woestyn geval soos hulle nie (Matt. 4). Hy het nie die wet gebreek soos hulle nie. Hy het ‘n nuwe wet op die berg gegee en dit perfek nagekom (Matt. 5-7).

 

  1. Sy sukses (v.4)

Voel jy soms: ‘Vir wat dien ek getrou as daar geen vrug op my arbeid is nie?’ Ek voel partykeer so. Die Messias het so gevoel (v.4). Hy het alles vir die volk gegee, maar nogtans het hulle Hom verwerp (v.4, Matt. 23:37, Joh. 1:11, 5:40). NOGTANS... (v.4). Die Vader het gewys dat sy Kneg se werk nie tevergeefs is nie, maar dat Hy Hom sal beloon deur nasies te gee om Hom te aanbid (53:10-11, Ps. 2:7-8, 22:27-28, Op. 5:9, 7:9).

Moenie dink dat Jesus en die kerk sal misluk, of dat die mens se wil Hom sal keer nie (v.4). Byt vas wanneer dit lyk of jy tevergeefs vir die Here werk (v.4, 1Kor. 15:58). God sal sy doel bereik (55:11). Bid vir sukses en glo dat Hy dit sal gee (Ps. 118:25). Soos met die Messias sal Hy jou eendag beloon (40:10, 62:11, Rom. 2:6, 1Kor. 4:5, 2Kor. 5:10).

 

  1. Sy taak (v.5-6)

‘n Skerpskutter gaan in, doen die taak wat die offisier hom gee, en onttrek. Jesus was dieselfde. Hy het die taak gedoen wat sy Vader Hom gegee het (Joh. 4:34, 6:38). God het Hom sonder ‘n pa deur ‘n maagd in die wêreld ingebring (v.5, 1, Matt. 1:18, 20, Luk. 1:34-35). Hy het ‘n mens geword om mense te red (Heb. 2:17).

As die ware Israel (v.3) het Hy die afvallige Israel gered en teruggebring na God toe (v.5-6). Hy het o.a. gesterf om hulle redding te verseker in die toekoms (v.5-6, Eseg. 36:25-27, Rom. 11). Hy het gesterf om hulle terug te bring soos wat ‘n herder sy afgedwaalde skape terugbring (v.5-6, 53:6, Eseg. 34:5-6, 11-16, 1Pet. 2:25).

Israel het Hom egter nie dadelik geëer nie. Maar ten spyte daarvan het God Hom geëer (v.5, Matt. 3:17, Joh. 17:1, 5, 24, 2Pet. 1:17). Hy het aan Hom die krag gegee om wonderwerke te doen, te preek, vir ons sondes te sterf, op te staan, op te vaar hemel toe en sy vyande te oorwin (v.5, Ps. 110:1, Luk. 3:22, 4:14, Hand. 10:38, 2Kor. 13:14, Heb. 7:16).

Maar die Here het Hom nie net gestuur vir Israel nie. Dit sou te klein wees (v.6). Hy het gesterf om die nasies te red (v.6, Mal. 1:11, Joh. 10:16, 11:50-52). Hy is die lig wat die nasies uit die duisternis van hulle onkunde en sonde bring (v.6, Joh. 8:12, 2Kor. 4:6, Kol. 1:13, 1Pet. 2:9).

Hy skyn ook sy lig deur ons (Matt. 5:16, Hand. 13:47, 26:18, Op. 1:20). Ons moenie in hierdie taak misluk soos Israel nie (Rom. 2:24). As ons nie die lig skyn nie sal Hy dit uitdoof en ons gemeente toemaak, sodat ons nie meer slegte getuies is nie (Op. 2:5).

 

  1. Sy veragters (v.7a)

Net soos wat jy ‘n spinnekop of ‘n slang verag, het Israel die Messias verag en verwerp (v.7a, 53:2-3, Ps. 22:7, Joh. 1:11). Hulle haat was so diep dat hulle Hom gekruisig het (Matt. 27:23). Die nasies se leiers het saamgewerk om Hom dood te maak (v.7, Hand. 4:27). Min het hulle geweet dat die Heilige God die Messias vir hulle sonde gestraf het, en dat Hy hulle daardeur verlos het (v.7).

Leef jy in sonde t.s.v. die kruis? Ignoreer jy die Here en leef jy vir jouself, t.s.v. die kruis? Koester jy sonde t.s.v. die kruis? Moenie! Dit is erg genoeg dat jy Hom verag het voor jou redding. Moenie daarmee aanhou nie. Sal jy die Seun van God ‘n tweede maal kruisig (Heb. 6:6)?

 

  1. Sy aanbidders (v.7b)

In C.S. Lewis se Chronicles of Narnia buig die konings en koninginne voor Aslan. Hy is die koning bo hulle. Jesus is ook so. Eendag sal almal sien dat die ‘swak’ Kneg eintlik die Koning van die konings is (Op. 19:16). Konings en prinse sal van hulle trone af opstaan en voor Hom buig as hulle sy heerlikheid sien (v.7b, 45:23, Ps. 2:10-12, 72:10-11, Fil. 2:10-11, Op. 21:24). Hulle sal nie meer spot nie, maar Hom aanbid.

 

They mock His name

And slight His Word as if He were a fable

They taunt my faith

And scorn me as if I were a fool

But feeble is their reproof

And firm is the final truth

That all their slandering

Doesn’t change a thing

For even at this very hour

If the Father pleases

Kings shall bow and adore

And nations kneel down before Him

And every tongue confess

That Jesus Christ is Lord

A fallen world sinks deeper still in shameless degradation

The crowds increase with those who sin and yet seem to prevail

But saints fight the faithful fight

Soon wrong will be made right

And every suffering sacrifice

For the cause of Christ

Will be rewarded on that day

When at the name of Jesus

Kings shall bow and adore

And nations kneel down before Him

And every tongue confess

That Jesus Christ is Lord

 

Jesus Christ is Lord

Kings shall bow and Christ is Lord

-Steve Green-

 

In sy getrouheid aan die uitverkore Messias het die Vader Hom as die Here en Verlosser van Israel verhef (v.7b, Hand. 2:36). Hy het Hom verhef bo elke owerheid, mag, heerskappy en krag, en alles aan sy voete onderwerp (Ps. 110:1, Ef. 1:21-22, Heb. 1:4).

Voel jy soms dat die skape in die donker vallei moet wy, terwyl die bokke in die sonskyn bo-op die heuwels speel? Wonder jy hoekom Christene swaar trek, terwyl ongelowiges sorgeloos is (Ps. 73)? Hoekom lyk dit of onreg besig is om te wen?

Moenie angstig wees nie. As jy in Jesus se vernedering deel, sal God jou saam met Hom verhoog. As die Hoof verhef word, kan dit nie anders as dat die liggaam ook verhef word nie. En as die Bruidegom verhef word, sal die bruid saam met Hom verhef word. Jy sal nie spyt wees dat jy saam met Jesus gely het nie (Rom. 8:17, Ef. 2:6, Op. 3:21). Die wêreld sal eendag voor jou buig en erken dat jy God se oogappel is (49:23, Sag. 2:8).

Die vernedering wat jy hier beleef weeg nie op teen die verhoging wat kom nie (Rom. 8:18). Jou swaarkry is so swaar soos ‘n klavier. Maar as jy die gewig daarvan met die gewig van die grootste sterre in die heelal vergelyk, weeg dit niks (2Kor. 4:17). So is al jou swaarkry in hierdie lewe so lig soos ‘n veer in vergelyking met die heerlikheid wat kom. Volhard daarom, “die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.” (Heb. 12:2).

Kategorieë