“1 So is dan voltooi die hemel en die aarde met hulle ganse leërmag. 2 En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het. 3 En God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak.” (Genesis 2).
'n DAG van rus
Die Sewende Dag Adventiste hou kerk op Saterdae. Maar deesdae is dit nie net hulle nie. Daar is ook sogenaamde ‘Christene’ wat wil terugkeer na die Ou Testamentiese wet. Soos die Galasiër-vals leraars sê hulle dat mense wat die wet streng onderhou meer aanvaarbaar is vir God. In effek glo hulle dat 'n mens gered word deur Christus plus wetsonderhouding. Aan die anderkant is daar mense wat sê dat die Sabbatswet seremonieel is en nie meer vir vandag geld nie. Hoe moet ons hierdie twee uiterstes antwoord?
Soos die bogenoemde teks wys is die Sabbat 'n skeppingsinstelling. In Genesis 1 noem Moses elke skeppingsdag een keer. Die term ‘sewende dag’ kom drie keer voor in v.2-3, om te wys dat dit 'n spesiale dag is. God het op hierdie dag gerus, die dag geseën en dit geheilig (v.2-3). God het ook met sy eie vinger in die Tien Gebooie geskryf dat ons die Sabbatdag heilig moet hou (Eksodus 20:8-11, 31:18). Hoekom rus Christene dan op Sondae as die Sabbat die sewende dag is. Deur die mens se sonde het God se perfekte skepping verval. God het 'n nuwe en beter skepping tot stand gebring toe Jesus op die eerste dag van die week opgestaan het. Die Skrif sê:
“Die steen wat die bouers verwerp het, het ‘n hoeksteen geword. Dit het van die HERE gekom; dit is wonderbaar in ons oë. Dit is die dag wat die HERE gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees.” (Psalm 118:24). Wanneer is die dag wat die Here gemaak het, die dag waarin ons moet bly wees? Dit is die dag toe die steen wat deur die bouers verwerp is, die hoeksteen geword het. Wanneer is dit? In die kruisiging het die ‘bouers’ Jesus verwerp; in sy opstanding het Hy die hoeksteen geword: “laat dit bekend wees aan julle almal en aan die hele volk van Israel dat deur die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, wat julle gekruisig het, maar wat God uit die dode opgewek het...Hy is die steen wat deur julle, die bouers, verag is, wat ‘n hoeksteen geword het.” (Handelinge 4:10-11). Jesus het op die eerste dag van die week opgestaan – op die Sondag (Matteus 28:1). Daarom is Sondag die dag wat die Here gemaak het, die dag waarin ons moet bly wees. Deur sy opstanding is ons weergebore en word ons ’n nuwe skepping: “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword...Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ‘n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode” (2 Korintiërs 5:17, 1 Petrus 1:3). Toe God die wêreld klaar geskep het, het Hy op die sewende dag gerus. Toe Hy die nuwe skepping bewerk het, het Hy op die eerste dag die ewige rus van verlossing ingegaan.
In Openbaring 1:10 praat Johannes van Sondag as die dag van die Here. Hierdie Griekste konstruksie word slegs op een ander plek in die Nuwe Testament gebruik: “die nagmaal van die Here” (1 Korintiërs 11:20). Dáár dui dit op gewone brood en wyn wat deur die Here afgesonder is toe Hy die nagmaal ingestel het. Net so is Sondag dan ’n spesiale dag wat die Here vir Homself afgesonder het; ’n dag waarin ons die Here se opstanding gedenk (cf. Psalm 118:24 hierbo). Op die dag van sy opstanding het Jesus met sy dissipels ontmoet (Johannes 20:19). Thomas was nie daar nie, maar moes wag tot die volgende Sondagaand, toe Jesus weer met hulle ontmoet het (Johannes 20:26)[1]. Die Nuwe Testamentiese kerk is nie toevallig op 'n Sondag gebore nie. Jesus se opstanding op die eerste dag het die Fees van die eerstevrug vervul (Levitikus 23:9-14, 1 Korintiërs 15:20, 23). Sewe weke later is die Fees van Weke (Pinkster) met die uitstorting van die Heilige Gees vervul. Omdat Jesus op die Sondag opgestaan het, sou Pinkster ook op 'n Sondag geval het. Hierdie spesiale aanbidding op Sondae kan ook gesien word in Handelinge 20:7 en 1 Korintiërs 16:1-2: “En op die eerste dag van die week, toe die dissipels vergader het om brood te breek, het Paulus hulle toegespreek...Wat die insameling vir die heiliges betref, moet julle ook so doen soos ek vir die gemeentes van Galásië gereël het. Op elke eerste dag van die week moet elkeen van julle self opsy sit en opspaar namate sy voorspoed is, sodat die insamelinge nie eers plaasvind as ek kom nie.” Let in die Korintiër-teks op dat die gemeentes van Galasië ook op Sondae vergader het om iets vir die Here se werk te gee. Selfs in Ou Testament feeste is spesiale sabatte dikwels op ander dae van die week gehou (lees gerus Levitikus 23). Hoekom kan die Sondag dan nie ook in die Nuwe Testament as 'n rusdag herdenk word om Christus se opstanding te vier nie?
Moet dan nie glo wanneer mense vir jou sê dat dié wat nie op Saterdae kerk toe gaan nie, ongered is. Om so te sê impliseer direk dat die onderhouding van 'n sewende dag Sabbat jou red. Hierdie is nie die Bybelse evangelie van Christus alleen nie, maar 'n vals evangelie van Christus plus. Moenie meer maak van die spesifieke dag as van die rus wat heenwys na Christus nie: “Laat niemand julle dan oordeel...met betrekking tot ‘n sabbat nie, wat ‘n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus.” (Kolossense 2:16-17). Hoe rus 'n mens in Christus? Deur geloof en die evangelie:
“Want ons wat geglo het, gaan die rus in, soos Hy gesê het: Daarom het Ek in my toorn gesweer, hulle sal in my rus nie ingaan nie—alhoewel sy werke van die grondlegging van die wêreld af volbring is. Want Hy het êrens van die sewende dag so gespreek: En God het op die sewende dag van al sy werke gerus...Daar bly dus ‘n sabbatsrus oor vir die volk van God; want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne.” (Hebreërs 4:3-4, 9-10). Dit is duidelik dat die sabbatsrus in Hebreërs 4 met verlossing te doen het. En die verlossing is voltooi op die eerste dag, die dag van Jesus se opstanding, en nie op die sewende dag nie. Wat help dit jy volg ’n sekere dag slaafs na as jy nog nie die rus van verlossing ingegaan het nie?
'n Dag van RUS
'n Ma sien haar kind is moeg en sal moeilik by die skool konsentreer as hy nie dadelik gaan slaap nie. Maar die kind beskou slaap as 'n straf. Ons is baie keer soos kinders. God het bedoel dat rus 'n seën moet wees, maar soos die hardkoppige Israeliete beskou ons dit as 'n straf. Die Fariseërs was wetties hieroor en het hulle eie reëls as 'n las neergelê. Jesus het kom wys dat die Sabbat nie bedoel was as 'n straf nie, maar 'n seën: “Die sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die sabbat nie.” (Markus 2:27).
As God wou, kon Hy alles binne 'n sekonde geskep het. Die rus in Genesis 2:2 beteken nie dat God nooit weer gewerk het, of dat Hy uitgeput was nie. Die Skrif sê immers dat God nooit ophou om te werk nie, en dat Hy nie uitgeput kan raak nie (Jesaja 40:28, Johannes 5:17). Hoekom het God dan die wêreld in ses dae gemaak en op die sewende dag gerus? Hy het dit gedoen om 'n werk-rus siklus te skep vir die mens: “Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die sabbat van die HERE jou God; dan mag jy géén werk doen nie—jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie. Want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die HERE die sabbatdag geseën en dit geheilig.” (Eksodus 20:8-11). Ja, jou liggaam moet rus en jy moet tyd met jou gesin spandeer. Maar die rus vir jou siel moet prioriteit geniet. Daarom is dit nooit reg om op 'n Sondag langs die Vaaldam te sit of met familie te kuier ten koste van die gemeenskap van gelowiges en die prediking van die Bybel nie. Hier is sestien voordele vir Christene wat hierdie rusdag reg vier:
[1] Blydskap in die Here – goeie medisyne vir depressie. [2] Geestelike groei. [3] Hernude krag vir die week se werk. [4] Jou week begin goed – jy hoef nooit weer 'n blou Maandag te hê en te sê dat jou week sleg begin het nie. [5] 'n Gesonde huwelik en gesinslewe, omdat julle saam tyd spandeer. [6] Jy is uitgerus en sal nie so maklik uitbrand soos ander nie. [7] Jy leer afhanklikheid van die Here. God wil hê jy moet Hom vertrou om jou sewe dae se salaris te gee vir net ses dae se werk: “Kyk, omdat die HERE julle die sabbat gegee het, daarom gee Hy julle op die sesde dag brood vir twee dae. Laat elkeen bly waar hy is; laat niemand op die sewende dag van sy woonplek af weggaan nie.” (Eksodus 16:29). [8] God se voorsiening. As jy sy Koninkryk eerste stel sal Hy sorg dat jy die nodig kos en klere het (Matteus 6:33). Jy sal nie ekstra geld hoef te spandeer vir:
- Nóg petrol om werk toe te gaan nie.
- 'n Huweliksberader, omdat jy alewig werk en nie tyd met jou huweliksmaat spandeer nie.
- Ekstra slytasie op jou kar nie.
- 'n Creche of iemand anders wat jou kind moet oppas, terwyl jy werk nie.
- Pille om die stres van 'n 24/7 werkslading te hanteer nie.
[9] God glimlag oor jou en sal jou nie tugtig nie. [10] Jou gewete sal jou nie pla, omdat jy opsetlik wegbly van gemeentelike samekomste nie. [11] Gesondheid. Jy sal nie ly aan allerhande stres-verwante siektes nie. [12] Kwaliteit werk. Omdat jy uitgerus voel, sal jy nie onnodige foute maak nie. [13] Harde werk. As jy weet jy gaan volgende week met vakansie, werk jy ekstra hard omdat jy nie onvoltooide werk met jou wil saamneem nie. As jy op Sondae rus is daar 'n ‘deadline’. Jy werk harder omdat jy nie onnodig werk na volgende week toe wil oordra nie (ek sê nie dat mense wat nie op Sondae rus nie hard werk nie. My punt is eerder dat 'n rusdag harde werk aanmoedig).
[14] Nederigheid en self-verloëning. 'n Trotse persoon dink hy is 'n tipe supermens wat nie rus nodig het nie. Die Christen wat op Sondae rus wil nie doen wat hy wil nie, maar wat God sê. Dit kweek nederigheid. [15] Dit vernietig afgodery. Om op die Sondag te rus herinner ons daaraan dat God die Skepper van alle dinge is. “Tussen My en die kinders van Israel is dit vir ewig ‘n teken; want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, maar op die sewende dag het Hy gerus en Hom verkwik.” (Eksodus 31:17). [16] Dit laat ons meer verlang na die ewige rus van die hemel: “En ek het ‘n stem uit die hemel aan my hoor sê: “Skryf salig is van nou af die dode wat in die Here sterwe. Ja, sê die Gees, sodat hulle kan rus van hul arbeid, en hulle werke volg met hulle.” (Openbaring 14:13).
God het beplan dat ons 52 dae in 'n jaar moet af hê. Dit is jammer dat ons dit nie gebruik nie. Dit is jammer dat party base dit gebruik, maar nie toelaat dat hulle werknemers rus, kerk toe gaan, en met hulle gesinne kan wees nie. Hulle behoort elke Sondag toe te laat dat hulle werkers hierdie voorreg geniet – ook tydens voorraad opname en maandeinde:
“Ses dae moet jy jou werk verrig, maar op die sewende dag moet jy rus, dat jou os en jou esel kan uitrus en die seun van jou slavin en die vreemdeling kan asem skep.” (Eksodus 23:12).
“Ses dae moet jy arbei, maar op die sewende dag moet jy rus. In die ploegtyd en in die oestyd moet jy rus.” (Eksodus 34:21).
“maar die sewende dag is die sabbat van die HERE jou God; dan mag jy géén werk doen nie—jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou os of jou esel of enige dier van jou, of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie; sodat jou dienskneg en jou diensmaagd kan rus soos jy. En jy moet daaraan dink dat jy in Egipteland ‘n slaaf was, en die HERE jou God jou daarvandaan uitgelei het deur ‘n sterke hand en ‘n uitgestrekte arm; daarom het die HERE jou God jou beveel om die sabbatdag te hou.” (Deuteronomium 5:14-15).
Hoe rus 'n mens op Sondae? Hier is 'n paar Bybelse opdragte en beginsels:
- Onthou die skepping: geniet die prag, stilte en vrede daarvan (Eksodus 20:11).
- Gebruik God se genade middele om te groei in heiligheid. Die Here se dag is afgesonder (‘heilig’) om te wys dat God ons vir Homself afgesonder het: “Spreek jy met die kinders van Israel en sê: Julle moet sekerlik my sabbatte onderhou, want dit is ‘n teken tussen My en julle in julle geslagte, sodat die mense kan weet dat Ek die HERE is wat julle heilig.” (Eksodus 31:13). Psalm 92 is 'n lied vir die Sabbat. Die Psalmis sê dat ons op hierdie dag in die Here moet groei: “Die regverdige sal groei soos ‘n palmboom; hy sal opgroei soos ‘n seder op die Líbanon. Geplant in die huis van die HERE, sal hulle groei in die voorhowe van onse God. In die gryse ouderdom sal hulle nog vrugte dra, hulle sal vet en groen wees” (Psalm 92:13-15).
- Onthou dat God jou uit slawerny gered het om in Hom te rus: “En jy moet daaraan dink dat jy in Egipteland ‘n slaaf was, en die HERE jou God jou daarvandaan uitgelei het deur ‘n sterke hand en ‘n uitgestrekte arm; daarom het die HERE jou God jou beveel om die sabbatdag te hou.” (Deuteronomium 5:15).
- Besing die Here se lof: “‘n Psalm. ‘n Lied vir die sabbatdag. Dit is goed om die HERE te loof en tot eer van u Naam te psalmsing, o Allerhoogste, om in die môre u goedertierenheid te verkondig en u getrouheid in die nagte; by die tiensnarige instrument en by die harp, by snarespel op die siter.” (Psalm 92:1-4).
- Vergader saam met die gelowiges: “Toe kom Hy in Násaret waar Hy opgevoed was; en soos Hy gewoond was, gaan Hy op die sabbatdag in die sinagoge en staan op om te lees.” (Lukas 4:16). “en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.” (Hebreërs 10:25).
- Aanbid die Here in jou stiltetyd (sien Psalm 92:2-3 hierbo).
- Getuig van God se goedheid: “om in die môre u goedertierenheid te verkondig en u getrouheid in die nagte” (Psalm 92:3).
- Bely jou sonde en bekeer jou daarvan. God haat dit as jy Hom in sy huis aanbid, terwyl jou hart vol van sonde is: “Bring nie meer skynheilige offergawes nie; gruwelike reukwerk is dit vir My. Nuwemane en sabbatte, die uitroep van samekomste—Ek verdra geen ongeregtigheid en feestyd nie!” (Jesaja 1:13).
- Wees bly. Moenie Sondae as 'n swaar las sien nie. Moenie sê: ‘Ek haat Sondae’ nie. Moenie wens dat die dag gou verby gaan, sodat jy jou wil kan doen nie. “As jy jou voet terughou van die sabbat—om nie jou sake op my heilige dag te doen nie, en as jy die sabbat ‘n verlustiging noem en die heilige dag van die HERE hooghou; en as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie geleentheid vir jou sake soek of ydele taal spreek nie; dan sal jy jou verlustig in die HERE, en Ek sal jou laat ry oor die hoogtes van die aarde en jou laat geniet die erfdeel van jou vader Jakob; want die mond van die HERE het dit gespreek.” (Jesaja 58:13-14). “[Julle] sê: Wanneer is die nuwemaan verby, sodat ons koring kan verkoop, en die sabbat, sodat ons die graanskuur kan oopsluit—om die efa te verklein en die sikkel te vergroot en bedrieglik te handel met ‘n valse weegskaal” (Amos 8:5). Die laasgenoemde teks wys hoe die Jode vroom was op die Sabbat, maar op die eerste werksdag daarna voortgegaan het om skelm besigheid te doen. In die moderne idioom: Sondag-soeker, Maandag-vloeker.
- Moenie wetties wees en selfregverdig op ander neersien nie. Om te sê dat 'n mens nie op Sondae kaart mag speel of na musiek mag luister nie, is om jou eie reëls te volg en nie God s'n nie. Dis klink amper soos die Fariseërs wat kwaad was toe die dissipels koring gepluk en Jesus mense gesond gemaak het op die Sabbat (cf. Matteus 12:2, 8, Lukas 13:14-16, 14:1, Johannes 9:14, 16).
- Doen goed en help dié wat in nood is: “Maar Hy sê vir hulle: Watter mens sal daar onder julle wees wat een skaap het, en as dit op die sabbat in ‘n sloot val, dit nie sal gryp en uithaal nie? Hoeveel meer is ‘n mens dan nie werd as ‘n skaap nie! So is dit dan geoorloof om op die sabbat goed te doen. Toe sê Hy vir die man: Steek jou hand uit! En hy het dit uitgesteek, en dit is herstel, gesond soos die ander een.” (Matteus 12:11-13). 'n Mens kan verstaan as polisiemanne, dokters of verpleegsters op 'n Sondag móét werk om mense se lewens te red.
- Vier die nagmaal en luister na die prediking van God se Woord (cf. Handelinge 20:7).
- Dra by tot die Here se werk (cf. 1 Korintiërs 16:1-2).
- Spoor ander gelowiges aan tot liefde en goeie dade: “en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.” (Hebreërs 10:24-25).
- Voer die mekaar-opdragte uit: bid vir mekaar, wees lief vir mekaar, dien mekaar, bemoedig mekaar, ensovoorts.
Eric Liddell (die film, Chariots of Fire handel oor sy lewe) was 'n Skotse atleet in die 1924 Olimpiese Spele. Hy het geweier om op 'n Sondag die 100 meter te hardloop. 'n Paar dae later het hy die 400 meter gehardloop, goud verwerf en die wêreld rekord gebreek. Wat iemand net voor die wedloop vir Liddell gesê het, geld ook vir ons: “die wat My eer, sal Ek eer” (1 Samuel 2:30).
[1] Die teks sê ‘agt dae later’. Die Jode sou van Sondag tot Sondag tel, en daarom praat Johannes van agt dae en nie van sewe nie.