Coram Deo Cover Image

Coming soon...

11 December 2021

Die vergete God van ons vaders

Psalm 146

‘There is no doubt but that 99.9 per cent of our troubles as Christians is that we are ignorant of God.’ (Martyn Lloyd-Jones).1 Mense murmureer, aanbid afgode, vrees mense en lewe losbandig, omdat hulle God nie ken nie (106:7, 20-21, Deut. 8:19, Jes. 51:12-13, 1Tess. 4:5).

Die oplossing is om soos Moses, Jesaja, Jonathan Edwards, Martyn Lloyd-Jones, A.W. Tozer en R.C. Sproul ’n groot Godsbeeld te hê. Jy kan God nie as jou speelmaat sien of oppervlakkige lofliede sing asof Hy jou kêrel is nie. Ons moet die Here ken en Hom vrees. Hiermee sal Psalm 146 ons help.

 

1. Hy is lofwaardig (v.1-2)

Mense het al vir John MacArthur gevra hoekom hulle pragtige gesange sing. Sy antwoord is dat hulle nie anders kan nie. Kan ons hierdie groot God aanbid asof ons ’n rock konsert bywoon? “...laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees. Want onse God is ’n verterende vuur.” (Heb. 12:28-29, Ou Vertaling). Ons durf nie sing om net ’n lekker gevoel te kry nie.

Volgens die Bybel moet ons lofgesange op God fokus. Die laaste vyf Psalms begin en eindig met ‘Halleluja’ of ‘Loof die Here’ (Ps. 146-50). In v.1 is die werkwoord in ’n intensiewe bevelsvorm. Die Here wil hê jy moet Hom uit jou hart uit loof en dit met alles in jou doen. Hy het jou vir iets groter as jyself gemaak. Die duiwel verblind mense hiervoor (2Kor. 4:4). Hy wil jou in jouself keer, sodat alles oor jou gaan. Hoe lyk ek? Hoe voel ek oor myself? Wat dink ander van my? Maar om so te dink, kan jou nie versadig nie. Net as jy op die Here fokus en Hom prys, sal jy versadig wees. Dit is tog waarvoor Hy jou geskep het (Jes. 43:7, 21, Joh. 17:24).

Hoe kan jy van jouself af wegkeer na God toe? God moet jou hart vir sy Seun open. Hy moet die lig van Christus in jou hart skyn, sodat jy sy heerlikheid kan sien (2Kor. 4:5-6). Sodra jy Hom sien, sal jy skoon van jouself vergeet. Hoogmoed sal verswak as jy op jou gesig val en Hom bewonder (v.1). Om die Here min te loof en te dagdroom as jy tot Hom sing, wys dat jy Hom nie sien nie. Jy het ’n lae Godsbeskouing en rig jou gedagtes op jouself.

Ek dat die lering van die Psalm jou ’n beter idee van ware aanbidding gee. Dit is nie die ydele herhaling van woorde, harde instrumente, gekleurde ligte of ’n lied se wysie wat jou emosies moet opwek nie. Die waarheid van wie God is moet die gepaste emosie by ons wek. Emosie is nie ’n bysaak nie. Jy moet die Here uit jou hart en siel prys (v.1), anders word lofprysing ’n dooie ritueel. Passievolle lofprysing is die verskil tussen mense se aanbidding en ’n troupant of donderstorm s’n (Ps. 148). Laasgenoemde prys die Here deur te doen waarvoor Hy hulle gemaak het. Hulle dink nie daaraan dat hulle die Here prys nie. Ons doen. Om dan lofprysing te versaak, maak jou laer as ’n wurm. ’n Wurm doen waarvoor hy geskep is, terwyl jy jou skeppingsdoel mis.

Dit is God se wil dat jy Hom met jou hele lewe sal prys (v.2, Rom. 12:1, 1Kor. 10:31). Doen dit wanneer jy jonk is en wanneer jy oud is (148:12, Matt. 21:15-16, Luk. 2:37-38). Doen dit totdat jy op jou sterfbed lê en jou asem uitblaas. R.C. Sproul het dit gedoen. Toe sy familie rondom sy sterfbed staan, het hulle een van sy gesange op ’n CD gespeel. Hy kon skaars reageer, maar het geluister. Die laaste vers en die koortjie sê:

The beatific glory view
That now our souls still long to see
Will make us all at once anew
And like Him forever be

Lutes will sing
Pipers play
When we see Him face to face
On that day.

Toe die laaste noot eindig, het Sproul sy asem uitgeblaas.2 Natuurlik het hy nie opgehou om die Here te prys toe hy die wêreld verlaat nie. Dit het net aangehou en vandag prys Hy nog steeds die Here (115:18, Op. 7:9-10, 15:3-4).

Is lofprysing deel van jou lewe? Indien nie, hoekom wil jy hemel toe gaan? Hoor Robert Murray McCheyne se woorde: ‘Heaven will be all praise. If you cannot praise God, you will never be there.’3 As die Here regtig jou God is, sal jy Hom prys (v.2).

 

2. Hy is nie ’n mens nie (v.3-5)

Het jy al ’n taxi met die volgende woorde in die agterruit gesien: Trust Nobody? In ’n sekere sin is dit onwaar. Jy kan nie agterdogtig lewe en nooit iemand vertrou nie. Hoe sal ’n huwelik of enige vriendskap werk as jy dit doen? Aan die ander kant is die woorde waar, want in die uiteindelike sin van die woord kan jy nie jou vertroue in mense stel nie.

Dit is wat v.3-4 beteken: “Moenie op vooraanstaandes vertrou nie, op ’n mens, by wie daar geen verlossing is nie. Sy asem gaan uit, hy keer terug na die grond; op daardie dag is sy planne daarmee heen.”4 Die Israeliete het dit dikwels gedoen. Soos die nasies rondom hulle, wou hulle ’n menslike koning hê (1Sam. 8). Toe die vyand vir hulle te sterk was, het hulle op ander lande se konings vertrou eerder as op die Here (2Kon. 16:7-9).

Moenie soos hulle wees en mense jou messias en verlosser maak nie: Maria, die voorvaders, Nelson Mandela, Kim Jong-un, die Pous, Mohammed, Anthony Fauci. Moenie so van jou kinders of ouers afhanklik wees, dat jy jou hele vertroue in hulle stel nie. Om mede-afhanklik (Eng. codependent) te wees, is meer as ’n sielkundige toestand—dit is afgodery. Vervloek is die een wat sy vertroue in mense stel (Jer. 17:5). Dit geld ook as jy jou vertroue op jou leraar of bekende predikers stel. ’n Jongman het vir my vriend gesê: ‘John MacArthur het nog nooit iets verkeerd gesê nie.’ Iemand anders het gesê: ‘Ek glo hierdie leerstelling, omdat Jonathan Edwards dit gesê het. Hy sal nie iets verkeerd sê nie.’

Om helde te hê, is nie sonde nie (Heb. 11). Om hulle egter te verafgod, is. Moenie te veel van mense maak nie. Hulle is sondaars, sterflik en hulle planne gaan saam met hulle graf toe (v.3-4, Gen. 3:19, Jes. 2:22, Rom. 3:23, 1Kor. 1:12-13, 3:4-7, Jak. 4:13-15).

Haal Jes. 48:11 en Joh. 3:27-30 aan as mense jou ophemel: “En my heerlikheid—aan geen ander sal Ek dit gee nie... ’n Mens kan niks ontvang as dit nie uit die hemel aan hom gegee is nie. Julle kan self getuig dat ek gesê het dat ek nie die Christus is nie, maar dat ek voor Hom uitgestuur is. Die een wat die bruid het, is die bruidegom, maar die vriend van die bruidegom wat daar staan en na hom luister, is baie bly oor die stem van die bruidegom. Daarom is hierdie blydskap van my volkome. Hy moet meer word, en ek minder.”

Prys die God van jou vaders eerder as wat jy jou vaders prys (v.1-4). Hoe sal hulle jou help as jy op jou sterfbed lê of as die versoekings vir jou te sterk raak? Net die Here kan jou help. Vertrou Hom vir ware geluk en seën: “Gelukkig is die mens wat die God van Jakob as sy hulp het, wie se hoop gevestig is op die Here, sy God” (v.5).

 

3. Hy is God (v.6-10)

Die Here is nie eerste plek God en daarna almagtig, getrou, regverdig en goed nie. Sy almag, getrouheid, geregtigheid en goedheid is deel van sy wese. Dit is wie Hy is.

 

[a] Almagtig (v.6a)

God het sy almag gewys toe Hy alles uit niks skep: “Hy wat hemel en aarde gemaak het, die see, en alles wat daarin is” (v.6, vgl. Gen. 1, Heb. 11:3). Hy het ontelbare seediere gemaak (104:24-25) en nog meer sterre (147:4-5, Jes. 40:26), Hy hang die aarde aan niks (Job. 26:7). Voor Hom is die berge, oseane en die hemelruim miniatuur (Jes. 40:12, 22). Wat is jou krisis? Vir die Here is dit maklik om op te los (115:3, 2Kon. 3:18, Matt. 3:9, Luk. 18:27, Ef. 3:20). Hy doen dit dikwels deur gebed (Matt. 21:21-22, Jak. 5:16). Vra Hom net.

 

[b] Getrou (v.6b)

Was iemand al ooit ontrou aan jou? Was jy al ontrou aan iemand? Die Here bly altyd getrou en lieg nie soos mense nie (v.6b, Num. 23:19, Deut. 7:9, 32:4, Ps. 89:1, Klaagl. 3:23, 1Kor. 10:13, 2Tim. 2:13, Tit. 1:2, Heb. 6:18, 10:23). Al verlaat jou vriende jou en laat mense jou in die steek—Hy sal nie. Hy is die Vriend wat nader is as ’n broer (Spr. 18:24). Hy sal altyd daar wees en nie toelaat dat iemand jou uit sy hand ruk nie (Joh. 10:28-29). Jy hoef nie bang te wees dat Hy jou deur sy vingers sal laat glip nie (Fil. 1:6, 1Joh. 2:25).

 

[c] Regverdig (v.7a, 9b)

William Wilberforce het vir 20 jaar gestry om slawehandel in die Britse kolonies stop te sit.5 Hierin het hy iets van God se hart gewys. Die Here haat onreg en verdrukking. Dit beteken nie Hy vat die knie vir Black Lives Matter nie. Volgens v.5 gaan dit hier oor verdrukte gelowiges eerder as or ’n sosiale saak in die algemeen. God let nie op mense se velkleur, geslag of politieke party nie. Hy kyk na die hart en let op dié wat Hom vrees (1Sam. 16:7, Hand. 10:34-35). Vir hulle bring Hy geregtigheid (v.7a) selfs al is dit eers op die oordeelsdag (2Tess. 1:6).

Roep daarom tot die Here teen die boelie, pedofiel, verkragter en vervolger. By die Here sal die oortreder nie wegkom soos in ’n wêreldse hof nie: “Sal God dan nie reg laat geskied aan sy uitverkorenes wat bedags en snags na Hom roep nie? Sal Hy hulle lank laat wag? Ek sê vir julle, Hy sal baie gou aan hulle reg laat geskied...” (Luk. 18:7-8).

As die Here nie mense se sonde oorsien nie, hoe sal ons die verdiende straf vryspring? Jesus het ons sonde op Hom geneem en reken sy volmaakte geregtigheid aan ons toe deur die geloof (2Kor. 5:21, Fil. 3:9). As jy Jesus verwerp en goddeloos bly, sal Hy jou in die hel werp (v.9b, 145:20, 1:6). Die hel is erger as wat jy jou kan indink. Mark Jones reken: ‘Nebuchadnezzar’s fiery furnace would be ice compared with the heat of God’s wrath.’6 R.C. Sproul sê: ‘The Château d’If [’n berugte tronk in Frankryk] is a luxury resort compared to hell.’7

Vlug van die komende oordeel (Matt. 3:7)—vlug na Jesus toe (1Tess. 1:10).

 

[d] Goed (v.7b-9)

Een van my kollegas het onlangs oor God se goedheid gesê: ‘God is nie goed, omdat hy goed doen nie. Hy doen goed, omdat Hy goed is. Al het God nie een goeie ding vir ons gedoen nie bly Hy in sy wese goed.’

Dit is waar. En tog word die Here se goedheid deur sy dade sigbaar (119:68). Hy wys byvoorbeeld sy goedheid daarin dat Hy die hele skepping voed (104:14-15, 21, 145:9, 15-16, 147:9, Matt. 5:45, Hand. 14:17). Hy doen dit in besonder vir sy kinders (v.5, 7b, 111:5, Matt. 6:25-34). Vertel Hom van jou nood (Matt. 6:11, Fil. 4:19). Toe ek eenkeer R1000 nodig gehad het, het ek die Here vertel. Toe ek van my knieë af opstaan, toe kom daar ’n vreemde vrou na ons huis toe aangestap (sy het my by ’n begrafnis gehoor preek). Sy het vir my ’n koevert gegee en gesê: ‘Die Here lê dit op my hart om hierdie vir jou te gee.’ Daar was R1000 in.

***

Die Here bevry die gevangenes (v.7). Hy het die Israeliete uit Egipte en Babiloniese ballingskap bevry. Hy het die apostels, asook vir Petrus en Paulus uit die tronk bevry (Hand. 5, 12, 16). Selfs waar gelowiges in die tronk sterf, vat Hy hulle hemel toe (Op. 2:10). Toe Christopher Love (1618-51) vir sy geloof in die tronk was, het hy voor sy teregstelling vir sy vrou gesê: ‘As soon as my head is severed from my body, it shall be united with Christ my Head in heaven.’8

Die Here bevry ons ook geestelik uit die tronk van Satan en sonde (Jes. 61:1, Luk. 4:18-19). “As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle werklik vry wees.” (Joh. 8:36). Daar is hoop as jy nog in die boeie van sonde is. Ek ken ’n vrou wat aan heroïen verslaaf was. Sy het R1000 per dag daarop spandeer. Sy was selfs ’n keer of wat in die tronk. Op ’n dag toe kry sy ’n oorweldigende begeerte om die Bybel te lees. Sy het begin en nooit weer opgehou nie. Die Here het haar gered. Vandag is dit al meer as tien jaar later. Sy is nog steeds skoon.

***

Die Here laat die blindes sien (v.8). Hy genees hulle van fisieke blindheid, maar dit word ’n les van die genesing van geestelike blindheid (Joh. 9, Hand. 9, 26:18, 2Kor. 4:4-6). Het die Here al jou oë oopgemaak? Indien nie, vra Hom om dit te doen (Matt. 20:33). Het jou geliefdes al die lig gesien? Indien nie, vra die Here om hulle oë te open: “die Here maak blindes se oë oop” (v.8).

***

Die Here help die wat neergeboë is weer regop—neergeboë onder die slawejuk van Satan, onder depressie, onder ’n sondelas, onder God se tugtiging (v.8, 145:14, 147:6). Moenie trots wees en dink jy kan self staan nie (2Kron. 16:12). Erken dat jy plat op die grond is en vra die Here om jou op te help (1Pet. 5:6).

***

’n Prediker het by ’n konferensie gesê dat God gelowiges meer en minder kan liefhê. Toe iemand my daaroor uitvra, het ek gesê dit is onsin. Ek verstaan nou wat hy bedoel het. Die Bybel onderskei tussen God se liefde van welwillendheid en sy liefde van tevredenheid. God het alle mense lief (Mark. 10:21, Joh. 3:16), maar die Bybel sê ook dat Hy die goddelose haat en die regverdige liefhet (5:6, 11:5, Spr. 15:9, Hos. 9:15). God se liefde van welwillendheid is konstant. Ons verdien dit nie. Jesus het vir ons gesterf toe ons nog sondaars was (Rom. 5:8). God se liefde van tevredenheid kan meer word. In v.8 lees ons dat Hy die regverdige liefhet.

Hoe moet jy hierdie waarheid toepas? Dank God vir sy onvoorwaardelike liefde in Christus. Soek egter na ’n dieper ervaring van sy liefde deurdat jy daarvoor bid en gehoorsaam is (v.8, Joh. 14:23, Rom. 5:5, Ef. 3:16-19).

***

’n Vaderlose seun het ’n Christelike kamp bygewoon. Die kamp het oor die Vaderhart van God gegaan. Die seun was baie hartseer, omdat sy pa dood is. Een van die kampleiers het met hom gepraat om hom te bemoedig, maar dit het nie gehelp nie. In ’n desperate poging om te help, het die leier gesê: ‘Kies ’n letter.’ Die seun het die letter ‘P’ gekies. ‘Watter Bybelboek begin met “P”? Psalms.’ ‘Kies ’n nommer,’ het die leier weer gesê. Die seun het nommer 10 kies. ‘Kies nog ’n nommer.’ Hy het 17 gekies. ‘Ps. 10:17 het die kampleier gesê.’

Terwyl hy daarheen blaai, het hy gebid: ‘Here, asseblief laat dit werk!’ Hy het geweet dat dit nie ’n goeie manier is om Bybelverse te kies nie, maar die Here was genadig. Ps. 10:17-18 sê: “U het gehoor wat die verdruktes graag wil hê, Here. U versterk hulle harte, U oor luister aandagtig om aan die weeskind en die onderdrukte reg te laat geskied...” Die leier was net so verbaas soos die seun. Dit het die seun bemoedig, sodat hy weer sy kop kon optel.

Die Here gee om vir die vreemdeling, weduwee en vaderlose (v.9, 10:14, 17-18, 68:6-7, Eks. 22:21-24, 23:9, Lev. 19:9-10, 33-34, Deut. 10:18-19, 14:28-29, 24:17-21, Rut, Jer. 49:11, Hos. 14:3, Luk. 7:12-15). Sy hart is nog dieselfde. Hy wil hê ons moet soos Hy wees, sodat ons vreemdelinge verwelkom (119:19, Matt. 25:43, Rom. 15:7). In ons eie gemeente beteken dit ons moet besoekers welkom laat voel en hulle nie ignoreer nie. Moenie dat hulle eenkant staan wanneer ons tee drink nie. Laat ons ook die weduwees en weeskinders help (Jak. 1:27). Het jy weduwees in jou familie? Help hulle (1Tim. 5). Kan jy êrens by ’n kinderhuis betrokke raak? In die vroeë kerk het hulle dit gedoen.9 Hopelik het ons die geleentheid om by ’n kindershuis in Kemptonpark betrokke te raak. Een van my vriende is daar betrokke. Wanneer hy hierdie week by my kom kuier, wil ek vra hoe ons betrokke kan raak.

***

[e] Ewig en soewerein

God se ewigheid en soewereiniteit is slegte nuus vir die goddelose (v.9-10a). Wanneer die Here hulle straf, is daar vir hulle geen uitkoms nie. Die straf is ewig (Op. 14:10-11). Met verwysing na die hel het Robert Murray McCheyne gesê: ‘the bars are the justice and holiness of God.’10

Vir die regverdige is God se ewigheid en soewereiniteit goeie nuus, omdat Hy vir altyd volgens sy karakter in v.6-9 sal optree. Hy sal sy onderdrukte kinders permanent uit die verdrukking red. Hy sal ’n nuwe hemel en aarde skep waarin geregtigheid woon (2Pet. 3:13). Laat ons die Here hiervoor prys (v.10). Prys die God van ons vaders.

He is fierce and He is tender

He’s our Judge and our Defender

And He calls us to surrender

For He loves us to the core

He is frightening and resplendent

He is present and transcendent

He’s enmeshed and independent

And He cannot love us more

 

He’s a comfort and a terror

A destroyer and repairer

He’s more terrible and fairer

Than our mortal tongues can say

 

He is hidden and revealing

He’s appalling and appealing

He’s our wounding and our healing

And He will not turn away

 

He is wild, He is wonder

He is whispering and He is thunder

He is over, He is under

And He suffered for our gain

 

He’s a comfort and a danger

He’s a Father and a stranger

He’s enthroned and in a manger

And He says we’re worth His pain

                         —Steve Green

Soek hierdie God en ken Hom. Jy sal nooit weer dieselfde wees nie.


1  Martyn Lloyd-Jones, Revival (Wheaton, Illinois: Crossway, 1987), 217

2  Stephen J. Nichols, R.C. Sproul: A Life (Wheaton, Illinois: Crossway, 2021), 275-6

3  Robert Murray McCheyne, Sermons of M’Cheyne (London: The Banner of Truth Trust, 1961, 1972), 21

4  Aanhalings uit die 2020 Vertaling.

5  John Piper, Amazing Grace in the Life of William Wilberforce (Wheaton, Illinois: Crossway Books, 2006)

6  Mark Jones, God Is: A Devotional Guide to the Attributes of God (Wheaton, Illinois: Crossway, 2017), 195

7  Nichols, ibid., 320

8  https://www.apuritansmind.com/puritan-favorites/christopher-love/the-life-and-death-of-christopher-love/

9  Alvin Schmidt, How Christianity Changed the World (Grand Rapids, Michigan: Zondervan, 2001, 2004), 53, 132. Sien ook Justin Martyr, First Apology, par. 67. Verkry by https://www.newadvent.org/fathers/0126.htm en Tertullian, Apology, par. 39. Verkry by https://www.newadvent.org/fathers/0301.htm

10  M’Cheyne, ibid., 170

Kategorieë