Coram Deo Cover Image

Coming soon...

18 December 2012

Die Tyrannosaurus Rex van Kersfees

T-Rex Christmas

“En ná die dood van Herodes het daar ‘n engel van die Here in ‘n droom aan Josef in Egipte verskyn en gesê:  Staan op, neem die Kindjie en sy moeder, en gaan na die land van Israel; want hulle is dood wat die lewe van die Kindjie gesoek het.  En hy het opgestaan, die Kindjie en sy moeder geneem en in die land van Israel gekom.  Maar toe hy hoor dat Archeláüs oor Judéa koning was in die plek van sy vader Herodes, was hy bevrees om daarheen te gaan.  En hy het ‘n goddelike waarskuwing in ‘n droom ontvang en na die streke van Galiléa teruggekeer.  En hy het gaan woon in ‘n stad met die naam van Násaret, sodat vervul sou word wat deur die profete gespreek is, dat Hy Nasaréner genoem sou word.” (Matteus 2:19-23).

 

Daar is seker nie 'n leser wat nie weet dat Tyrannosaurus Rex 'n vleisetende dinausorus was nie – 'n baie groot en wrede een.  En sekerlik weet selfs die oningeligte lesers dat hierdie uitgesterf het.  Herodes die Grote was 'n tiran (klink byna soos Tyrannosaurus) wat baie mense doodgemaak het.  Hy was die koning (Latyn Rex)van die Jode.  En soos Tyrannosaurus Rex is koning Herodes nie meer nie.  Maar die ware Koning van die Jode bestaan vir ewig – Jesus Christus.

 

Die Franse filosoof en ateïs, Voltaire (1694-1778), het gesê:  “One hundred years from my day there will not be a Bible in the earth except one that is looked upon by an antiquarian curiosity seeker.”  Waar is Voltaire vandag?  Nêrens.  En die Bybel?  Oral.  Herodes was op sy sterfbed toe hy 70 was.  Kort voor sy dood het hy 'n appel gesny en besluit om homself dood te maak met die mes.  'n Familielid het dit gesien en hom gekeer.  Hy het vreeslik gely sere en swere in sy ingewande.  Hy het gedurig stuiptrekkings gekry.  Hy het geweet dat die Jode hom gehaat het en sou jubel as hy dood is.  Daarom het hy beveel dat al die hoofde van die Joodse volk na hom toe moes kom.  Hy het hulle in die tronk gestop.  Hy het vir suster Salome opdrag gegee om die leiers te vermoor by sy dood, sodat die Joodse volk nie sou jubel by sy dood nie, maar sou treur.  Na sy dood egter kon die opdrag nie uitgevoer word nie.  Die Herodes wat vir Jesus wou doodmaak het nou self gesterf (v.19-20).  Herodes se liggaam is in pers toegedraai.  'n Goue kroon is op sy kop gesit en 'n goue septer in sy hand.  Die lykbaar waarop sy liggaam neergelê is was van soliede goud.  Dit was uitgelê met edelstene.  500 slawe het parfuum voor die lykbaar gedra (bogenoemde inligting uit Hendriksen, W.; Matthew:  New Testament Commentary; The Banner of Truth Trust; EDINBURGH; 1971; p.185-186).

Die bekende Britse wetenskaplike en ateïs, Richard Dawkins, sê in sy boek, The God Delusion, dat dit gevaarlik is om in God te glo.  Maar soos Herodes, Voltaire, en ander vyande van die Christelke geloof, sal Dawkins en sy boek vergaan.  God en sy Woord, sy raadsplanne en sy volk sal bly staan.  Die Bybel beskryf dit so:

God bestaan vir ewig; ons vergaan.  “...Here, U was vir ons ‘n toevlug van geslag tot geslag.  Voordat die berge gebore was en U die aarde en die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God.  U laat die mens terugkeer tot stof en sê:  Keer terug, o mensekinders!  Want duisend jaar is in u oë soos die dag van gister as dit verbyskiet, en soos ‘n nagwaak.  Weggespoel het U hulle; hulle word ‘n slaap; in die môre is hulle soos die gras wat weer uitspruit:  in die môre bloei dit en spruit weer uit; in die aand sny ‘n mens dit af, en dit verdor.  Want ons vergaan deur u toorn, en deur u grimmigheid word ons verskrik.  U stel ons ongeregtighede voor U, ons verborge sondes in die lig van u aangesig.  Want al ons dae gaan verby deur u grimmigheid, ons bring ons jare deur soos ‘n gedagte.  Die dae van ons jare – daarin is sewentig jaar, of as ons baie sterk is, tagtig jaar; en die uitnemendste daarvan is moeite en verdriet; want gou gaan dit verby, en ons vlieg daarheen.  Wie ken die sterkte van u toorn en u grimmigheid, ooreenkomstig die vrees wat aan U verskuldig is?  Leer ons om ons dae so te tel dat ons ‘n wyse hart mag bekom!” (Psalm 90:1-12).

Ons planne smelt soos ys; God se planne staan vas.  “Baie planne is in ‘n man se hart, maar die raad van die Here, dié sal bestaan.” (Spreuke 19:21).

Ons lewe is soos blomme en gras wat verlep en verdroog.  God se Woord staan rotsvas.  “Die gras verdor, die blom verwelk; maar die woord van onse God hou stand in ewigheid.” (Jesaja 40:8).

God se kinders is met Jesus verenig en is onsterflik.  “En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.” (Johannes 10:28).  “Jesus sê vir haar:  Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie.  Glo jy dit?” (Johannes 11:25-26).

Deur die geskiedenis het God die verspreide Jode terug gebring na hulle land toe.  Hy het dit ook in 1947 gedoen voordat die volk in 1948 onafhanklikheid verkry het (ongeag van wat jy oor die eindtyd glo – as jy in die soewereiniteit van God glo moet jy glo dat God in hierdie werk betrokke was).  God vir Josef in 'n droom gesê om terug te gaan Israel toe.  Net soos God sy eersgebore seun Israel (Hosea 11:1, Eksodus 4:22-23) na die Beloofde Land toe gelei het, het Hy nou sy eersgebore Seun Jesus teruggebring Israel toe (v.15, 20-21).

By sy dood het Herodes die ryk tussen sy drie seuns verdeel.  Herodes Antipas was viervors van Galilea, en Herodes Filippus I was viervors van Iturea en die land Trachonítus (Lukas 3:1).  Archelaüs het regeer oor Judea (v.22).  Toe Josef dit gehoor het was hy bang (v.22).  Hoekom?  'n Bietjie agtergrond sal dit duidelik maak.  Voor sy dood het Herodes 'n goue arend bo die groot tempelpoort opgerig.  Die Jode was onstuimig hieroor.  Die tweede gebod leer immers dat jy geen afbeelding van die skepping moet maak om dit te aanbid nie (Eksodus 20:4).  Verder was hulle woede gestook omdat die arend 'n simbool van Rome was (vir húlle was die arend baie nou verbind aan die oppergod Zeus).  Twee van die Jode se leiers, Mattias en Judas, het hulle studente beveel om die arend af te breek.  Die leiers en hulle leerlinge is gearresteer.  Nadat Herodes hulle skuldig bevind het is die leiers lewendig verbrand.  Ná Herodes se dood het Jode tydens die pasga in Jerusalem opstandig geraak oor hierdie insident.  Archelaüs het spoedig gereageer teen die opstand en 3000 Jode in Jerusalem vermoor (uit Hendriksen, p.187-188 en Edersheim, A.; The Life and Times of Jesus the Messiah; Grand Rapids; MICHIGAN; 1953; p.634).

Die Bybel sê jy kan vlug wanneer daar vervolging is.  Dis reg om soos Josef aan te beweeg wanneer jou geliefdes se lewens bedreig word (v.22-23, 10:23).  Maar dit is ook belangrik dat jy weet God is soewerein oor die land se owerhede.  “Hy tog verander die tye en die geleenthede; Hy sit konings af en stel konings aan...” (Daniël 2:21).  Nebukadnesar se belydenis was:

“En ná verloop van tyd het ek, Nebukadnésar, my oë na die hemel opgeslaan, en my verstand het in my teruggekeer, en ek het die Allerhoogste geloof en Hom wat ewig lewe, geprys en geëer, wie se heerskappy ‘n ewige mag en wie se koningskap van geslag tot geslag is.  En al die aardbewoners word as niks geag nie, en na sy wil handel Hy met die leër van die hemel en die bewoners van die aarde, en daar is niemand wat sy hand kan afslaan en vir Hom kan sê:  Wat doen U nie?  In dié tyd het my verstand in my teruggekeer; en wat die eer van my koningskap betref – my majesteit en my glans het in my teruggekeer, en my raadsmanne en my maghebbers het my opgesoek; en ek is in my koningskap herstel, en buitengewone grootheid is my toegevoeg.  Nou prys ek, Nebukadnésar, en ek roem en eer die Koning van die hemel:  al sy werke is waarheid en sy paaie is reg, en Hy kan verneder die wat in hulle trotsheid wandel.” (Daniël 4:34-37). 

Johannes eggo hierdie belydenis:  “En Pilatus sê vir Hom:  Praat U nie met my nie?  Weet U nie dat ek mag het om U te kruisig en mag het om U los te laat nie?  Jesus antwoord:  U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie.  Daarom het hy wat My aan u oorlewer, groter sonde.” (Johannes 19:10-11).  Romeine 13:1 sê “...daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel”.  Jacob Zuma, Robert Mugabe, en Barak Obama is deur God aangestel.  Saam met Herodes en Archelaüs sal hulle soos vlieë sterf.  Jesus sal sy vyande oorwin.  Hy sal nooit sterf nie en vir ewig regeer.  “omdat ons weet dat Christus, nadat Hy opgewek is uit die dode, nie meer sterf nie.  Die dood heers oor Hom nie meer nie.” (Romeine 6:9).  Jesus se koningskap duur vir ewig en sy ryk sal strek van see tot see (sien Psalm 72).  Hy het en sal elke koninkryk tot stof vernietig, sodat sy ryk alleen op die laaste dag sal staan (sien Daniël 2).  Hy is die Koning van die konings en die Here van die here.

Hierdie waarhede moet ons dryf om meer gereeld Matteus 6:10a te bid:  “laat u koninkryk kom...”.  Ons moet bid dat sy Koninkryk in ons kom:  Hy moet oor ons harte heers en sonde in die nek slaan.  Bid:  “Laat u Koninkryk onder ons kom.”  Dit is 'n gebed vir die herlewing van die kerk en vir elke gelowige om in gehoorsaamheid te onderwerp aan Koning Jesus.  Bid dat sy Koninkryk deur ons kom:  die evangelie moet deur ons na die nasies toe versprei.  Jesus se Koninkryk moet vir ons kom.  Ons verlange na 'n nuwe aarde waarin reg en geregtigheid woon is veels te flou.  Ons moet meer daarvoor bid.

God bepaal of jy in Kempton Park of Kakamas woon; in Suid-Afrika of Sri Lanka.  “...terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het” (Handelinge 17:26).  “Kom nou, julle wat sê:  Vandag of môre sal ons na dié en dié stad gaan en daar een jaar deurbring en handel drywe en wins maak...In plaas dat julle sê:  As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen.” (Jakobus 4:13, 15).  Josef en Maria het wel voorheen in Nasaret gebly (Lukas 1:26, 2:4), maar dit was om die Skrif te vervul dat God toegesien het dat Jesus daar bly (sien ook Lukas 4:16).  Ons teks sê:  “En hy het gaan woon in ‘n stad met die naam van Násaret, sodat vervul sou word wat deur die profete gespreek is, dat Hy Nasaréner genoem sou word.” (v.23).  Met die ballingskap na Assirië toe was Galilea in duisternis.  Die profete het voorspel dat die lig weer daar sou skyn.  Met Jesus se inwoning in Galilea is hierdie profesie vervul (sien Matteus 4:14-16.  In hierdie verse skryf Matteus wel in 'n ander konteks, maar die waarheid geld ook vir die teks voor ons).

God Archelaüs se diktatorskap en Josef se vrees gebruik om sy plan tot vervulling te bring:  Jesus moes in Nasaret, Galilea woon (v.22-23).  Wanneer Matteus praat van die profete wat gesê het “...dat Hy Nasarener genoem sou word” (v.23), het hy nie noodwendig een spesifieke vers in gedagte nie.  Jesaja 11:1 praat van die Messias as die loot uit die stomp van Isai.  Die Hebreeuse woord vir ‘loot’ is nêtser en mag dalk effens soos Nasarener klink.  Maar 'n meer gepaste is dat die Jode dikwels neerhalend gepraat het wanneer hulle iemand 'n Nasarener noem.  “En Natánael sê vir hom:  Kan daar uit Násaret iets goeds wees?  Filippus antwoord hom:  Kom kyk.” (Johannes 1:47).  “Hulle antwoord en sê vir hom:  Jy is tog nie ook uit Galiléa nie?  Ondersoek en sien dat daar geen profeet uit Galiléa opgestaan het nie.” (Johannes 7:52).  “Want ons het gevind dat hierdie man [Paulus] ‘n pes is en ‘n verwekker van oproer onder al die Jode in die wêreld en ‘n voorman van die sekte van die Nasaréners” (Handelinge 24:5).  Matteus verwys dus na die profetiese geskrifte waarin voorspel word dat mense met veragting van Jesus sou praat.  Die bekendste van hierdie voorspellings is Jesaja 53:2-4:  “Hy tog het soos ‘n loot voor sy aangesig opgespruit en soos ‘n wortel uit droë grond.  Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie.  Hy was verag en deur die mense verlaat, ‘n man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir wie ‘n mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom nie geag nie.  Nogtans het Hy óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte – dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was.”

Deur die geskiedenis het God swakheid gebruik.  Abraham was oud toe hy die pa geword het van Isak.  Jakob was die jongste broer en is deur God gekies.  Josef was die jongste van tien broers, maar het 'n leier in Egipte geword en baie lewens gered van die honger.  Moses het gehakkel maar het 'n groot leier geword.  Israel het gegroei van 'n individu tot 'n groot volk wat onstuitbaar was.  Rut was 'n Moabietiese weduwee, maar uit haar nageslag is Jesus gebore.  Dawid was 'n jong skaapwagter en die jongste van agt broers.  Hy het die magtigste koning van Israel geword en 'n reus verslaan.  Jeremia was te jonk om 'n profeet te wees, maar hy was een van die grootste profete in Israel.  Daniël was 'n tiener, maar is deur God gebruik in die Babiloniese en Persiese ryke.  Amos was 'n beesboer wat 'n magtige profeet geword het.  Maria was 'n jong en arm meisie.  Sy het die moeder van God se Seun geword.  Baie van die dissipels was vissermanne en een 'n tollenaar.  God het hulle gebruik om die Nuwe Testament te skryf.

Richard Dawkins (die ateïs waarna ek vroeër verwys het) verstaan nie hoekom God mens sou word om vir ons sondes te sterf nie.  “Kon Hy nie net die mens se sondes wegneem nie?”, vra hy in 'n debat met John Lennox.  Hy verstaan duidelik nie 1 Korintiërs 1:18-31 nie:  God gebruik juis swak mense en metodes, sodat niemand kan roem of sê dat die mens deur sy eie wysheid die evangelie boodskap uitgedink het nie.  God gebruik 'n swak kruisboodskap en Verlosser om mense soos Richard Dawkins se ‘wysheid’ te vernietig.  'n Musikant wat 'n meesterstuk op 'n gebreekte viool speel kry groter eer as een wat dit op die beste viool speel.  Iemand wat sterk is se krag word beter gesien as hy ‘n groot boom met 'n stomp byl afkap as met 'n sterk byl.  God kry meer eer as Hy sy kragtige dade deur swakheid toon.  God word mens en wys sy groot deur 'n krip, 'n Nasarener, 'n arm lewe, en 'n kruis.  Waar sou die eer wees as Hy in 'n paleis gebore is, in Rome gebly het, 'n ryk lewe gehad het, sy vyande met 'n magtige weermag platgevee het, en rustig in sy slaap gesterf het?  God gebruik swakheid!  Moet dit nie verag of uit die hand verdoem nie.  Maar roem daarin. Ook in jou eie swakheid.  “En Hy het vir my gesê:  My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring.  Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.  Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil.  Want as ek swak is, dan is ek sterk.” (2 Korintiërs 12:9-10).  Dit is dan nie Tyrannosaurus Rex Herodes wat die sterke koning van kersfees is nie.  Die swak baba van Betlehem; die man van Nasaret – Hý is die Koning van kersfees.  Laat ons dan in sy swakheid en sterkte roem.  Laat ons Hom aanbid wat nie sterf soos Herodes nie, maar lewe vir ewig en ewig.  Amen.

Kategorieë