Coram Deo Cover Image

Coming soon...

30 October 2019

Die twee kante van verandering

Related image

Efesiërs 4:17-32

Soms praat mense van twee kante van dieselfde munt. Daarrmee verwys hulle na twee dinge wat soos teenoorgesteldes lýk, maar onlosmaaklik aan mekaar verbind is: die een kan nie sonder die ander nie.

Dit is ook hoe die twee kante van verandering is: jy het beide nodig om te verander. Laat my toe om eers die beginsel te bespreek en dan vir jou vyf voorbeelde te gee van hoe dit in die praktyk lyk.

 

  1. Die beginsel (v.17-24)

Karin se droom is om viool te speel in die Johannesburgse Filharmoniese Orkes. Sy stel nie belang in die teorie van musiek nie en wil sommer dadelik begin speel. As sy hard oefen, sal jy viool kan speel, maar omdat sy die teorie oorslaan, sal sy nooit in die orkes speel nie.

Partykeer is ons so: ons soek sewe praktiese stappe om te verander, maar wil nie die harde werk doen om eers ‘n fondasie te lê nie. Kom ons kyk dus na die beginsel van verandering. Die lering wat Paulus hier gee is nie bloot sy opinie nie, maar ‘n opdrag van die Here (v.17). In hierdie verse leer hy ons hoe ons dag na dag moet lewe, of wandel. Ons moet wandel soos dit by ‘n Christen pas (v.1): in goeie werke (2:10), in liefde (5:2), as kinders van die lig (5:8), en in wysheid (5:15).

Ons moenie soos die heidene wandel nie (v.17):

  • In sonde (2:2).
  • Leeg in hulle gemoed; rigtingloos en doelloos (v.17).
  • Verduister in hulle verstand; geestelik blind (v.18, Spr. 4:19, Rom. 1:21).
  • Vervreemd van die lewe van God; geestelik dood sonder die ewige lewe (v.18. 2:1).
  • Onkundig (v.18). Hulle verstaan nie geestelike dinge nie en ken God nie persoonlik nie (Joh. 17:3, 1Kor. 2:14).
  • Met harde harte van klip (v.18, Eseg. 36:26). Die rede hoekom hulle die Here nie ken nie, is omdat hulle nie wíl nie. Hulle verhard hulle harte teen die kennis wat Hy hulle deur die skepping en hulle gewetens gee (Rom. 1:18-25, 2:14-15).
  • Ongevoelig soos eelte op ‘n gimnas se hand (v.19). Hulle gewetens is so gevoelloos dat hulle sonde hulle nie meer pla nie (1Tim. 4:2).
  • Hulle gee hulleself oor aan die sonde, totdat die Here hulle uiteindelik daaraan oorgee (v.19, Rom. 1:18-32).
  • Ongebonde (v.19). Hulle leef volgens hulle sintuie. Hulle doen wat hulle wil en sê wat hulle wil (2:3). Daar is geen grense nie. Hulle het geen skaamte nie.
  • In hebsug (v.19). Hulle is gretig en kan nie wag om sonde te doen nie.
  • Allerhande onreinheid (v.19). Hulle wil elke soort onreinheid uittoets en dink selfs nuwe sondes uit (Rom. 1:30).

Jy het nie meer deel aan hulle sondes nie en het Christus nie so leer ken nie (v.20). Hy is rein en heilig en leer ons om so te wees. Jy het sy waarheid in die Woord gehoor en leef nou in Christus deur die geloof (v.21, Joh. 14:6, 17:17). Wat is sy waarheid? Jy het die sondige natuur uitgetrek wat jy by Adam geërf het; jy het jou daarvan bekeer (v.22). Jy begeer nie meer die sonde van jou vorige lewe nie (v.22, 17-19, 1Pet. 1:14). Die sonde het plesier belowe, maar dit het jou bedrieg en geruïneer (v.22, Jak. 1:14-15).

Jy het nuut geword in die gees van jou gemoed (v.23, Rom. 12:2). Jy het nie meer ‘n donker gemoed vol sonde nie (v.17-18). Jy dink nou anders oor God, Jesus, sonde, jouself, die kerk, die wêreld, alles. God se Gees en sy Woord het jou uitkyk en die manier waarop jy dinge beskou, verander.

Jy het jou ook met die nuwe mens beklee (v.24). Jy is weergebore en is ‘n nuwe skepping (v.24, 2:10, 2Kor. 5:17, Tit. 3:5). Jy het die ou mens vol sonde soos vuil klere uitgetrek en het heiligheid aangetrek soos skoon klere (v.22, 24). Jy het dit deur die doop bely (Rom. 6:4, Gal. 3:27).

Nou sien God weer sy beeld in jou soos voor die sondeval (Gen. 1:26-27). God se beeld is nóg in die ongelowige (Gen. 9:6, Jak. 3:9), maar dit is soos ‘n gebreekte spieël. Noudat jy gered is, maak Hy die spieël stukkie vir stukkie reg. Jy word al hoe meer soos Jesus in ware geregtigheid en heiligheid, totdat Hy weer sy beeld volmaak in jou sien (v.24, Rom. 8:29, 2Kor. 3:18, Kol. 3:10, 1Joh. 3:2).

Dus is die eerste tree van verandering nie om jouself deur 7, 10, of 12 stappe te verbeter nie. Jy moet eers die ou mens uittrek en die nuwe mens aantrek. Jy moet m.a.w. gered word. Bekeer jou en glo in Jesus. Baie mense wil sonder Hom verander. Hulle soek ‘n kits oplossing. Hulle wil nie hulle sonde los nie, maar net die gevolge daarvan, die mense rondom hulle en hulle omstandighede. Hulle soek nie vir Jesus nie, maar die voordele wat Hy gee. Maar wat help dit as jou omstandighede en almal rondom jou verander, terwyl jy dieselfde bly en is soos die ongelowiges in v.17-19? Sal die God wat jou gemaak het en jou aan die lewe hou, tevrede wees met jou op die oordeelsdag? Nee, Hy sal nie.

 

  1. Die toepassing (v.25-32)

Die Engelse spreekwoord sê: ‘You can’t see the wood for the trees.’ Dit beteken dat jy soveel op die detail let, dat jy die groter prentjie mis. Ek wil dit nie met v.25-32 doen nie. Ek kan ‘n preek oor elke vers maak. Vir eers wil ek egter hê dat jy die groter prentjie moet sien. Paulus gee vyf voorbeelde om te wys hoe ‘n Christen die ou mens moet aflê (v.22), nuut moet dink (v.23), en hom met die nuwe mens moet beklee (v.24).

Vers 25

Wat moet jy uittrek? Leuens. Moenie blatant lieg, wit leuens vertel, mense bedrieg, jou beloftes breek, oordryf, oneerlik wees, stilbly as jy die waarheid ken, mense vlei, of skynheilig wees nie.

Wat moet jy aantrek? Jy moet die waarheid praat (Sag. 8:16). Dit beteken nie jy hoef alles te sê wat jy dink nie (Spr. 15:28). Dit beteken eerder dat jy die waarheid in liefde moet spreek (Ef. 4:15, ESV).

Wat is die nuwe gedagtes wat jy moet dink? Ons is mekaar se lede en deel van dieselfde liggaam (v.16). As jy vir ander lieg, benadeel jy jouself (soos in ‘n huwelik, of huisgesin waar mense vir mekaar lieg). Volgens Johannes Chrysostomus (c. 349-407 n.C.) is dit asof jou oog jou voet bedrieg as daar slang in pad lê, of asof jou tong jou maag bedrieg as dit gif proe [Stuart Olyott, Alive in Christ: Ephesians Simply Explained (Darlington, England: Evangelical Press, 1994), 110].

Verse 26-27

Wat moet jy uittrek? Sondige toorn en uiting daaraan deur bakleiery, vuil taal, bitterheid, ens.

Wat moet jy aantrek? Regverdige toorn (Ps. 4:5, Matt. 21:12, Mark. 3:5, Joh. 2:15). Wees kwaad oor jou eie sonde en die samelewing s’n (bv. die transgender beweging, die NG Kerk se ondersteuning van homoseksuele huwelike, die vervolging van dr. Jacques de Vos wat ‘n vrou afgeraai het om ‘n aborsie te hê).

Maar wees versigtig, want selfs in jou toorn oor sonde kan jy verkeerd optree. Iemand kan bv. kwaad wees oor die samelewing se sonde en vloek. Of hy kan die woede in sy hart laat kook, sodat hy in die nag wakker lê en die volgende dag kwaad opstaan (v.26).

Wat is die nuwe gedagtes wat jy moet dink? Satan kan maklik ‘n voet in die deur kry as jy kwaad is (v.27). Hy sal jou versoek om moord te pleeg, pornografie te kyk of egbreuk te pleeg om jou maat te vergeld, te skinder, die persoon se reputasie swart te smeer, stilstuipe te kry, ens. Hoe langer jy dit los, hoe meer sal hy met jou kop smokkel. Woede lei tot baie ander sondes (Spr. 29:22).

Vers 28

Wat moet jy uittrek? Diefstal in al sy vorme: inbrake; die misbruik van jou werk se telefoon, petrol, voertuig, fotostaat masjien; oneerlikheid met jou huiswerk en toetse; tyd steel by jou werkgewer, omdat jy op Twitter, YouTube, Facebook, of WhatsApp is, of omdat jy te veel breek vir koffie; oneerlike besigheid; kul met belasting; die verbreking van kopiereg met rekenaar programme, DVD’s, fotostate, ens.

Wat moet jy aantrek? Werk hard (2Tess. 3:8). Doen goeie werk. Moet jou nie met sondige werk ophou nie, bv. diamante smokkel, dwelms verkoop, in ‘n kroeg werk, ‘n prostituut wees, ens. ‘Goeie werk’ verwys ook na eerlike werk. Moenie oneerlik wees nie, want dan steel jy nog steeds, al werk jy.

Wat is die nuwe gedagtes wat jy moet dink? Werk hard, sodat jy iets het om met die behoeftiges te deel, veral met medegelowiges wat sukkel (Hand. 20:35, Gal. 6:10). Die teenoorgestelde van steel is dus nie net om op te hou vat nie, maar om eerlik te werk sodat jy kan gee.

Verse 29-30

Wat moet jy uittrek? Vuil taal wat mense afbreek (vgl. 5:3-4).

Wat moet jy aantrek? Goeie woorde wat genade gee aan die persoon met wie jy praat, asook aan dié wat jou hoor (vgl. Kol. 4:6). Spreek die goeie woorde wat nodig is om mense op te bou (vgl. 1Tess. 5:11): bemoediging, troos, bedanking, komplemente, lering, goeie raad en aanmoediging. Gebruik die Bybel hiervoor.

Wat is die nuwe gedagtes wat jy moet dink? Afbrekende, vuil woorde bedroef die Heilige Gees en maak Hom hartseer (ook as jy dit op TV kyk). Hoekom wil jy die Heilige Gees bedroef as Hy die seël is wat wys dat jy God se kind is, dat jy die ewige lewe het, en dat die Here jou bewaar vir die finale Dag van Verlossing wanneer Jesus weer kom (v.30, 1:13-14, 2Kor. 1:22, Fil. 1:6)?

Verse 31-32

Wat moet jy uittrek? Bitterheid en boosheid: die kwaad binne jou. Woede en toorn: die kwaad in jou gesigsuitdrukking en liggaamstaal. Geskreeu en lastertaal: die uiting wat jy aan jou woede gee.

Wat moet jy aantrek? Vriendelikheid. Maak seker dat dit opreg is en dat jy nie ‘n aangeplakte glimlag het nie. Wees vol ontferming. Voel jammer vir die persoon wat teen jou oortree, eerder as wat jy hom haat en vir hom kwaad is. Vergewe mekaar. Moenie jou aandag en liefde terughou nie, maar los dit vir die Here om wraak te neem (Rom. 12:19).

Wat is die nuwe gedagtes wat jy moet dink? God het jou deur Jesus se kruisdood vergewe. Dink aan hoe baie jy teen Hóm gesondig het en onthou dan dat Hy jou vergewe. Vergewe ander soos Hy jou vergewe (Matt. 18:21-35). Hy het al jou sonde afgeskryf en haal dit nie weer op nie (Heb. 10:17). Om soos Hý te vergewe, moet jy nie ander mense se sonde vir jouself, vir hulle, of vir ander ophaal nie. As jy nie vergewe nie, sal die Here jou ook nie vergewe nie (Matt. 6:15).

Gee die saak aanhoudend vir die Here as jy sukkel om te vergewe. Gaan uit jou pad om vriendelik en vol ontferming te wees (v.32). Ek moes dit op die harde manier leer en kry dit nog steeds nie perfek reg nie. Kom ek vertel jou daarvan. Meer as 10 jaar gelede toe bel ‘n vrou my wakker op my dag af. Van die eerste woord af het sy my ingeklim. Sy het my karakter afgebreek en vir my gesê watse slegte persoon ek is. Dit het vir ‘n uur aangehou.

Daarna het ek met bitterheid gesukkel. Ek het die bitterheid bely, maar dit het teruggekom. Ek het met haar gesels om die saak te probeer oplos, maar die bitterheid wou nie wyk nie. Toe leer ek Ef. 4:31-32. Ek het besef dat ek die bitterheid probeer uittrek, sonder om vriendelikheid, ontferming en vergifnis aan te trek. Toe ek dít doen, toe verdwyn die bitterheid.

***

Dít is dan die twee kante van verandering: jy moet die sonde uittrek, die geregtigheid aantrek en op ‘n nuwe manier dink terwyl jy dit doen. Jy sal nie verander as jy net probeer om jou sonde te los nie. Jy móét dit met die goeie vervang. Jy sal ook nie sukses hê as jy net probeer om ‘n beter mens te wees nie. Jy móét jou bekeer en jou sonde bely.

Dit herinner my aan ‘n man en vrou wat ek lank gelede beraad het. Die vrou het haar sonde uitgetrek, maar nie gehoorsaamheid aangetrek nie. Sy sou haar man se vergifnis vra, maar het binne twee ure weer met hom baklei. Hy het die teenoorgestelde gedoen: hy het nooit sy skuld erken nie, maar sou die volgende dag vir haar koffie maak. Hulle kon nie hulle probleme oplos nie. Hulle moes leer om hulle sonde uit te trek en gehoorsaamheid aan te trek.

Doen dieselfde met jou eie sonde en vra die Here om jou te help. Miskien sal jy nie die verandering sien na die eerste, of selfs die tiende probeerslag nie. Maar as jy aanhou om hierdie verse toe te pas, kan ek jou waarborg jy sal verander.

Kategorieë