Lukas 11:5-13
Toe iemand ’n sekere Walliese prediker oor gebed vra, toe antwoord hy: ‘God se manier is om presies te gee waarvoor ons vra. Daar is uitsonderings, maar die normale patroon met sy kinders is om hulle gunstig te antwoord.’
Is dit waar? Ja. Die Bybel noem God die verhoorder van gebed (Ps. 65:3), en volgens Luk. 11:5-13 gee Hy gewoonlik presies volgens ons versoeke.
1. Die eerste gelykenis (v.5-10)
In v.5-8 vertel Jesus die gelykenis van ’n man wie se vriend middernag by sy huis opdaag. Middernag verwys na die tydgleuf tussen 21:00 en 24:00 (Mark. 13:35). Die vriend het waarskynlik in die aand gereis om die hitte van die dag te vermy. Midde-Oosterse gasvryheid sou vereis dat hy sy vriend vir die nag inneem. Toe sy vriend onverwags opdaag, het hy nie genoeg kos gehad om voor te sit nie. Hy moes na ’n ander vriend se huis toe gaan om kos te vra. Toe hy daar aankom en aan die deur klop, toe loer sy vriend deur die venster en sê: ‘Ek en my hele gesin is al in die bed! As ek nou opstaan en vir jou iets gee, sal ek almal wakker maak!’ Toe hy uiteindelik opstaan, was dit nie om ’n vriendskap te red nie, maar omdat sy vriend in die knyp was en onbeskaamd aangehou vra het (v.8, Gk. anadeia).
Hoeveel te meer sal ons hemelse Vader nie ons behoeftes vervul as ons met volharding bid nie? Partykeer antwoord die Here nie dadelik nie. Hy toets die opregtheid van ons geloof (Matt. 15:21-28). Hy wil ons volharding en geloof leer. Donald Whitney sê: ‘Faith would never grow if all prayers were answered immediately.’1 Volharding bou jou verhouding met God. Iemand wat vinnig opgee wys daardeur dat hy God se gawes soek meer as vir Hom. So iemand gee op, sodra die Here ’n bietjie te lank vat om te antwoord (kontra Gen. 32:26). ’n Gebrek aan volharding wys dat jy nie regtig ernstig is oor jou versoek nie.
Jesus leer ons om aan te hou vra (v.9). Om te vra is ’n eenvoudige aksie. Jy hoef nie op jou hande en knieë voor die Here te kruip, asof Hy onwillig is nie. Vra opreg en met geloof. Die Here sal antwoord (v.9). Soek die Here self en jy sal vind. Dit geld vir die ongelowige (Spr. 8:17, Jes. 55:6-7, Heb. 11:6) en afgedwaalde gelowige wat Hom soek (Deut. 4:29, Jer. 29:12-14, Hos. 5:15), asook vir die gelowige wat meer van die Here soek (Spr. 2:4-5).
Hoe soek ’n mens die Here? Die Griekse woord (zēteō) verwys na iemand wat deur formele navraag soek, wat iets ondersoek om ’n vaste oplossing te kry, wat soek tot hy by die kern van die saak uitkom.2 Soek die Here tot jy Hom vind. Doen dit deur gebed (v.9) en die Woord (Dan. 9:2-3, Joh. 5:39). Moenie omdraai en wegloop as die Here lank vat om te antwoord nie. Klop totdat Hy oopmaak (v.9, 18:1-8). Is daar ’n persoon of saak vir wie jy opgehou bid het, waarvoor jy nie meer met ywer bid nie? “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.” (v.9).
Die duiwel wil jou verhinder om te bid. Volharding wen die dag en bring die antwoord. Dit is God se wapen waarmee jy die duiwel oorwin (Dan. 10:2, 12-14, Ef. 6:18). Gebed is soos druppels in ’n bak. Hou aan bid totdat die bak vol word. As elke gelowige so bid en die Here die bak uitgooi, word dit ’n magtige rivier (Op. 8:3-5, Andrew Murray).3 Hou aan bid en die Here sal antwoord: “Want die visioen wag nog vir die vasgestelde tyd; dit getuig van die einde en sal nie teleurstel nie. As dit talm, wag daarop, want dit kom vir seker, dit sal nie uitbly nie.” (Hab. 2:3).4
Spurgeon gee ’n illustrasie hiervan. ’n Pa het vir baie jare vir sy seuns en dogters se bekering bid. Die jare het aangestap en hulle het die wêreld meer liefgekry. Op die pa se sterfbed het hy ’n geweldige worsteling gehad. Hy het oor sy eie redding begin twyfel. Hy was bang dat dit sy kinders van die evangelie sou afsit. Maar dit het nie. Toe hy dood is en sy kinders hom begrawe, toe sê een van hulle vir die res: ‘Pa was ’n goeie man. Hy het op sy sterfbed geworstel. As hy so geworstel het, hoe erg sal die dood nie vir ons wees wat die Here verwerp nie?’ Al sy kinders het dieselfde gedink en tot bekering gekom.5
Is jy versoek om op te hou bid? Moenie ophou nie; die Here hoor jou: “Want elkeen wat vra, ontvang; en wie soek, vind; en vir wie klop, sal oopgemaak word.” (v.10). Bid jy oor ’n spesifieke saak? Twyfel jy of die Here sal antwoord? Hou ’n joernaal van God se antwoorde in die verlede, sodat dit jou in die hede sal aanmoedig om te bid (v.9-10).
Is hierdie antwoorde vir almal? Dit is net as God jou Vader is (v.2). Ongelowiges het nie ’n verhouding met die Here nie. Hulle bid nie graag nie: “Wie is die Almagtige nou eintlik dat ons Hom moet dien? En wat baat dit ons as ons biddend by Hom pleit?” (Job 21:15). Ongelowiges bid net as hulle ’n krisis het. Soms hoor die Here hulle gebede (1Kon. 21:25-29), maar die norm is dat Hy hulle gebede ignoreer (1Pet. 3:12). Vir die gelowige is v.8-10 die norm: as jy jou versoeke met volharding aan Hom voorlê, sal Hy jou antwoord.
2. Die tweede gelykenis (v.11-13)
In v.11-12 vertel Jesus die gelykenis van ’n pa wie se seun iets te ete vra. As die seun vir ’n plat brood met meel bo-op vra, gee die pa hom nie ’n plat klip met fyn stof bo-op nie (Matt. 7:9). As hy vir ’n paling vra, gee sy pa hom nie ’n slang nie (v.11). As hy vir ’n kwartel eier vra, gee sy pa hom nie ’n klein wit skerpioen wat opgerol is nie (v.12). Die pa het sy kind lief en voorsien sy behoeftes. Ons Vader in die hemel is so. Hy belowe nie luuksheid nie (Jak. 4:3), maar Hy sal in jou behoeftes voorsien (v.3). Dikwels gee Hy meer as wat jy vra (Ef. 3:20).
Miskien sê jy: ‘Ek is ’n gelowige en die Here antwoord my nie gunstig nie.’ Meet jouself aan die volgende lys om te sien hoekom die Here jou nie antwoord nie:
- Die Here lei jou deur beproewing om jou te toets. Jy verstaan nie hoekom Hy jou nie antwoord nie (Job 23:8-9). Moenie dat dit jou afsit nie, maar hou aan bid (Job 23:17).
- Koester jy sonde in jou lewe? Die Here sal jou nie antwoord nie (Ps. 66:18).
- Ignoreer jy die hulpgeroep van die armes (Spr. 21:13)? Hoekom moet die Here jou antwoord?
- Verhard jy jouself teen die Here? Hy sal jou nie antwoord nie (Sag. 7:12-13).
- Bid jy om mense te beïndruk (Matt. 6:5)? Moenie ’n antwoord van die Here verwag nie.
- Weier jy om iemand te vergewe? Die Here sal jou ook nie vergewe nie (Matt. 6:15). Jou gebede sal onbeantwoord bly.
- Twyfel jy in die Here se goedheid, getroudheid of almag? Moenie iets verwag nie (Jak. 1:6-8).
- Is jy biddeloos? Genoeg gesê (Jak. 4:2).
- Bid jy selfsugtig? Jou gebede sal onbeantwoord bly (Jak. 4:3).
- Baklei jy met jou huweliksmaat (1Pet. 3:7)? Dit sal jou gebede verhinder.
- Bid jy buite of teen God se wil? Dan is die antwoord ‘nee’ (1Joh. 5:14-15).
Dit mag ook wees dat die Here jou brood gee, maar jy dink dit is ’n klip. Jy is soos ’n kind wat dink sy ouers wil hom benadeel as hulle nie nét lekkers vir hom gee nie. Later in sy lewe besef hy dat die vleis, groente en stysel hom bevoordeel het. Net so sal jy later besef dat jy ’n klip gevra het en dat die Here vir jou brood gegee het (Ps. 84:12, 2Kor. 12:7-10).
Die beste ouer is ’n sondaar (Rom. 3:23). As selfs jy weet hoe om goeie dinge vir jou kinders te gee, hoeveel te meer sal ons hemelse Vader nie goeie dinge gee as jy Hom vra nie (v.13). Is jy ’n beter ouer as die Here? Sal jy met opset slegte dinge vir jou kinders gee? Nee, jy sal nie (v.11-12). En hoekom sal die Here dit doen? Ons Vader is nie Siri of ’n ander selfoon toepassing (Eng. app) wat jou bevele uitvoer nie. Hy is nie ’n genie wat slegte of goeie dinge gee volgens dit wat jy uitspreek nie (‘lewe en dood spreek’). Hy is die Here wat alles weet (Matt. 6:8). Hy beveel ons om te vra, te soek en te klop (v.9-10). Hy wil hê dat jy jou hart voor Hom moet uitstort (Ps. 62:9), omdat Hy jou Vader is en jy sy kind.
Hy gee jou die Heilige Gees om jou te wederbaar, om in jou te woon en jou sy kind te maak (v.13, Joh. 3:5, Joh. 14:17, Rom. 8:15). Hy gee sy Gees vir alles wat jy nodig het (v.13). Bid jy vir ’n ongeredde geliefde? Die Heilige Gees sal iemand stuur om die evangelie met hom te deel (v.13, Hand. 8:29, 11:12). Bid jy vir vrymoedigheid om te getuig? Die Heilige Gees sal jou help (v.13, Hand. 1:8, 4:29, 31). Bid jy vir ’n siek persoon? Die Heilige Gees is die Een wat genees (v.13, 1Kor. 12:9). Bid jy vir jou huwelik? Die Heilige Gees sal jou help (v.13, Ef. 5:18, 22-33). Bid jy teen sonde in jou lewe? Die Heilige Gees sal jou leer om daarteen te veg (v.13, Rom. 8:13). Bid jy vir wysheid? Die Heilige Gees sal dit gee (v.13, 1Kor. 12:8). Bid jy vir sekerheid van redding? Dit kom van die Gees af (v.13, Rom. 8:16). Bid jy oor persoonlike lyding? Die Heilige Gees sal jou troos en jou help (v.13, Joh. 14:16, Rom. 8:26-27). Bid jy om iets in die Bybel te verstaan? Die Heilige Gees sal jou leer (v.13, Joh. 14:26, 16:13). Bid jy om meer soos Jesus te wees? Die Heilige Gees sal dit in jou werk (v.13, 2Kor. 3:18, Gal. 5:22-23).
Moenie net bid vir wat die Heilige Gees jou kan gee nie, maar bid vir die Gees self (v.13, Hand. 1:14, 2:1-4, Ef. 1:17). Vra die Gees om die Vader en die Seun na jou hart toe te bring, sodat jy sy liefde kan ken, gemeenskap met Hom kan hê en sy nabyheid kan voel (Joh. 14:23, Rom. 5:5, Ef. 3:16-19, 2Kor. 13:13, 1Joh. 1:3). Dit is die klimaks van gebed waartoe alles werk. As jy dit gesmaak het, gee jy nie om as jy bruinbrood kry, terwyl ander sjokoladekoek het nie. Jy soek die Gees self (v.13) en nie net wat Hy kan gee nie (v.9-10). Hiervoor kan jy nie die Here se arm draai nie. Die Heilige Gees is soewerein en doen wat Hy wil (Joh. 3:8). Bid vir die Gees (v.13), vul jouself met sy Woord (Ef. 5:18, Kol. 3:16) en wag. Vra God in jou binnekamer om die Gees na jou toe te stuur (v.13, Matt. 6:6, Rom. 15:13). As Hy jou gebed een keer beantwoord het, sal jy Hom gereeld in die binnekamer besoek. Jy sal ’n man of vrou van gebed wees; gemeenskap met God sal jou lewe word. Jy sal nie genoeg van die Here kan kry nie, maar sal altyd vir meer soek.
Ongelukkig kom dit nie goedkoop nie. Hiervoor moet jy voortdurend aan die hemel se deur klop, die Here soek en Hom hiervoor vra. Die Heilige Gees sal kom en jy sal nooit weer dieselfde wees nie.
Bely vandag as jy biddeloos was. Moenie langer uitstel nie. As jy jou sonde bely en vergewe word, sal die Heilige Gees na jou toe kom.
***
As ’n melaatse in Levitikus 14 gereinig is, het die priester bloed en daarna olie op sy regteroor, regterduim en regter groottoon gesmeer. Oral waar die bloed gegaan het, het die olie gevolg. Oral waar die bloed van Christus gaan, gaan die olie van sy Gees. Toe ek hierdie week ’n sonde aan die Here bely het, toe beleef ek dit. Toe die Here my sonde vergewe, was ek bewus van ’n verhoogde mate van die Gees se hulp in gebed, die studie van die Woord en gehoorsaamheid.
Daar het jy die sleutel tot beantwoorde gebed: God self. Wys jou gebedslewe dat jy Hom ken?
1 Donald Whitney, Spiritual Disciplines for the Christian Life (Colorado Springs, Colorado: NAVPRESS, 1991), 81
2 https://biblehub.com/greek/2212.htm
3 Andrew Murray, With Christ in the School of Prayer (New Kensington, PA: Whitaker House, 1981), 119
4 Aanhalings uit die 2020 Vertaling
5 Charles Spurgeon, On Prayer & Spiritual Warfare (New Kensington, PA: Whitaker House, 1998), 23-4