Coram Deo Cover Image

Coming soon...

9 April 2022

Die sewe kruiswoorde van Jesus: Verlossing

Lukas 23:42-43

Ek wil jou vertel van ’n man wat die oggend op pad hel toe was en die aand by Jesus in die hemel. Wie is hy en hoe het dit gebeur? Luk. 23:42-43 sê vir ons: “Hy [die man aan die kruis langs Jesus] sê toe: ‘Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom!’ Jesus het hom geantwoord: ‘Amen, Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die paradys wees.’”1

 

1. Liefdevolle genade

In John Bunyan se boek, The Jerusalem Sinner Saved sê hy dat God groot sondaars red om vir die res hoop te gee.2 Dit is wat hier gebeur het. Hierdie man was ’n misdadiger; ’n boosdoener (v.32-33, Gk. kakourgos). Hy was lid van ’n bende wat mense ingewag, oorrompel en beroof het (Matt. 27:38, Gk. lēstēs, vgl. Luk. 10:30).

Die les is eenvoudig: Jesus kan groot sondaars red en het vir sulkes kom sterf. Hier is hoop vir die sondaar wat ver geval het; wat sy siel aan die duiwel verkoop en dink dat sy kans op redding verby is. Hier is hoop vir ouers wie se kinders ver weggedwaal het. Ek het onlangs ’n getuienis van so iemand gehoor. Die seun het in dwelms en ernstige misdaad betrokke geraak. Sy ouers het vir jare vir sy bekering gebid. Op die einde het die Here hom tot sy sinne gebring en hom gered.

By Jesus is daar selfs hoop vir die kollega of geliefde wat Hom uittart en met Hom spot. Volgens die Griekse teks van Matt. 27:44 het albei misdadigers dit aanhoudend gedoen. Later het een van hulle tot sy sinne gekom en om genade geroep (v.39-43).

Nog ’n les is dat Jesus partykeer mense op hulle sterfbed red. Ons sien by die misdadiger dat Jesus hom in die laaste oomblikke van sy lewe gered het. Ek weet van meer as een geval waar mense aktief en aggressief teen die Here was en op hulle sterfbed tot bekering gekom het. Solank die persoon nog lewe, is daar hoop. Moenie ophou bid nie.

Die teenkant is ook waar: moenie tot op jou sterfbed uitstel nie. Die ander misdadiger is hel toe (v.39)! Baie mense wat op hulle sterfbed lê, is so: hulle word al hoe harder. ’n Predikant het dit van die ou mense in sy dorp gesê. Ek het so iemand geken. Die man het aan kanker gesterf. Hy het baie gely. Tot aan die einde het hy sy hard teen die evangelie verhard. John Paton vertel van ’n ateïs wat op sy sterfbed gelê het. Toe Paton die evangelie met hom wou deel, het die man op hom gespoeg. Toe Paton vir die man wou bid, toe sê hy: ‘Pray for me to the devil!... I have hated God in life, and I will hate him in death!’ So is hy die ewigheid in.3 Dit is dwaas om tot op jou sterfbed uit te stel. Jy weet nie of jy ’n sterfbed sal hê nie. Wat as jy op slag dood is? Wat as jy ’n sterfbed het, maar voor die tyd jou verstand verloor, sodat jy die evangelie nie kan verstaan om daarop te reageer nie? Die Bybel sê:

“Dit is waarom elke getroue volgeling tot U moet bid terwyl die geleentheid daar is. Die geluid van ’n groot watervloed sal hom nie bereik nie.” (Ps. 32:6).

“Soek die Here terwyl Hy Hom laat vind, roep Hom aan terwyl Hy naby is. Die goddelose moet van sy pad afsien, en die boosdoener van sy planne. Hy moet na die Here terugkeer, sodat Hy hom genadig kan wees, en na sy God, want Hy vergeef oorvloediglik.” (Jes. 55:6-7).

“Want Hy sê: ‘Op die regte tyd het Ek na jou geluister, en op die dag van verlossing het Ek jou gehelp.’ Kyk, nou is die gunstige tyd, kyk, nou is die dag van verlossing!” (2Kor. 6:2).

Verder leer die misdadiger se voorbeeld ons dat ’n mens gered word uit genade alleen deur geloof alleen in Christus alleen (Ef. 2:8-9). Die misdadiger het geen goeie werke gehad om op te roem nie. Hy is nie gedoop nie. Hy was nie lidmaat van ’n gemeente nie. Hy het nie ’n groot Bybelkennis gehad nie. Wat het ons om op te roem? Niks. Almal van ons is sondaars en verheerlik God nie (Rom. 3:23). Wat ons het, is ’n geskenk van God (1Kor. 4:7). Soos een van ons ouderlinge gereeld sê: ‘Genade; dit is alles net genade.’

Die misdadiger het dit besef en vir Jesus aangeroep (v.42). Hoe het hy Jesus se Naam geken? Die bordjie bo Jesus se kop het dit gesê. Dit het in Grieks, Aramees en Latyn gestaan (Matt. 27:37, Joh. 19:20). Die man het sy moedertaal geken en geweet wat Jesus of Yeshua beteken: Jahwe verlos. Hy het gehoor hoe die mense Jesus as die Seun van God, die Verlosser, die Messias en God se Uitverkorene spot (v.35, 39, Matt. 27:40, 43). Hy het besef dat hierdie beskuldigings waar is! Hy het gesien dat Jesus hulle nie terugkry nie, maar vir hulle bid (v.34, 1Pet. 2:23). Jesus se liefde is iets wat hy nie geken het nie, en dit het hom getrek. Hy was vol berou dat hy aanvanklik saam gespot het.

Wat is die les? Jesus se liefde kan die hardste harte breek. Ons moet dit aan mense verkondig en deur ons lewe wys om hulle vir die Here te wen. Martyn Lloyd-Jones vertel van ’n geval waar dit gebeur het. In 1946 tot 1947 was daar ’n watertekort in Cambridge. Mense het tou gestaan om water te kry. Die leier van die Kommunistiese Party het opgemerk dat ’n sekere Christen nie soos die res indruk om eerste te wees nie. Dit het so ’n indruk op haar gemaak dat sy tot bekering gekom en ’n oorsese sendeling geword het.4

 

2. Berouvolle gebed

Fred skryf in vir ’n kompetisie. Die prys is R20 miljoen. ‘Onthou my as jy die prysgeld wen,’ sê Hennie vir Fred. Hy bedoel nie dat Fred sy gesig of naam moet herroep nie, maar dat hy hom gunstig moet onthou. Fred moet vir hom ’n paar Rand gee. Dit is ook wat v.42 beteken: ‘Onthou my as ’n hulpelose sondaar wat redding benodig. Onthou my soos God vir Noag onthou het toe hy in die ark was (Gen. 8:1). Onthou my soos God Abraham se gebed vir Sodom onthou het, sodat Hy Lot daar uitgered het (Gen. 19:29). Onthou my soos God sy verbond met Abraham, Isak en Jakob onthou het (Eks. 32:13). Onthou my soos God Cornelius se gebede en hulp aan die armes onthou het (Hand. 10:31). Onthou my soos die Christene in vervolgde lande hulle broers en susters deur hulle gebede en materiële ondersteuning in die tronk onthou (Heb. 13:3).’

Die misdadiger het geweet hy is ’n groot sondaar wat God se straf verdien en hy het geweet dat Jesus onskuldig is (v.41). Hy het geweet Jesus kan hom van die straf red (v.42). Dit is ’n voorvereiste vir redding: sien jouself as ’n sondaar wat die hel verdien. ‘No one was converted without knowing that he needed to be,’ sê Iain Murray.5 Daardeur sê ek nie dat sonde oortuiging ewe intens is vir almal nie. Maar daar moet ’n basiese sondebesef wees alvorens jy gered kan word (Hand. 2:37). Waak net dat dit nie daar stop nie. Sondebesef is nie dieselfde as bekering nie. Dit is moontlik dat iemand onder sonde oortuiging kom sonder dat hy gered word (vgl. Mark. 6:20, Hand. 24:24-25). Met ware bekering sien die oortreder sy sonde raak en vra hy vir Jesus om hom te red (v.42).

Sien jy jouself so, as ’n groot sondaar? Of sê jy dat jy ’n redelike goeie mens is (18:11-12, 21)? Ek kan jou nie verder help nie, behalwe om te sê dat jy jouself aan die Tien Gebooie en Jesus se bergprediking moet meet (Eksodus 20, Matteus 5). Vra jouself dan of jy nog dink dat jy goed is. As jy jou slegte hart sien, stel ek voor dat jy Johannes deurlees en jouself afvra wie Jesus is. Glo in Hom en jy sal gered word (Hand. 16:31). Erken Hom as jou Koning. Die misdadiger het dit gedoen. Die bordjie bo Jesus se kop het gesê dat Hy die koning is. Die spotters het dit gesê. Die doringkroon op Jesus se kop het dit gewys (v.37-38, 42, Matt. 27:29, 42). Die misdadiger het besef dat dit waar is: Jesus ís die Koning. Sy Ryk is groter as Israel en die wêreld, sodat die misdadiger Hom gevra het: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom!” (v.42). Hy wou by Jesus wees as Hy in die hemel aankom en as Hy in die toekoms na die aarde toe terugkeer (v.42, Ps. 24:7-10, 110:1, Matt. 16:28, Hand. 2:33-36).

Die misdadiger het dit vir homself gebid. Niemand kon namens hom glo nie en net so kan niemand namens jou in Christus glo nie. Jy kan nie op jou ouers se geloof staatmaak nie. Jy moet vir jouself glo. Het jy dit al gedoen?

 

3. Vreugdevolle bestemming

Het jy al die verduideliking van v.43 gehoor wat sê dat ons die komma op die verkeerde plek sit? Daar moenie staan: “Amen, Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” Dit moet eerder wees: “Amen, Ek sê vir jou vandag, jy sal saam met My in die paradys wees.” Sien jy die verskil? In die eerste geval staan die komma tussen ‘jou’ en ‘vandag’. In die tweede geval staan dit na ‘vandag’. In die eerste geval beteken dit die misdadiger sou dieselfde dag nog saam met Jesus in die paradys wees. In die tweede geval beteken dit niks van die aard nie. Jesus sê eenvoudig dat die man eendag saam met Hom in die paradys sal wees, maar hy sê nie wanneer nie.

Die rede vir die verskil, is omdat party mense in sieleslaap glo. Volgens hulle gaan jy nie hemel of hel toe wanneer jy sterf nie. Jou siel slaap saam met jou liggaam in die graf. Eers wanneer Jesus weer kom, maak Hy jou liggaam en siel wakker. Hierdie interpretasie van v.43 is verkeerd vir sewe redes:

1. Nêrens anders sê Jesus: ‘Waarlik, Ek sê vir jou vandag’ nie. Hy sê altyd: ‘Waarlik, Ek sê vir jou,’ en dan volg wat Hy gesê het.

2. Dit sou oorbodig wees om te sê: ‘Waarlik, Ek sê vir jou vandag’. Hy kon tog nie sê: ‘Waarlik, Ek sê vir jou gister of môre’ nie.

3. In Grieks sit mens ’n woord voor in die sin as jy dit wil beklemtoon. Na die inleiding (‘Waarlik, Ek sê vir jou’) sit Jesus ‘vandag’ voor in die sin. Hy wil beklemtoon dat die man dieselfde dag saam met Hom in die paradys sal wees.

4. Jesus was dieselfde dag nog in die paradys (v.46). Die man het saamgegaan (v.43).

5. Dit sou geen troos wees as Jesus bedoel het die man sal oor ’n paar duisend jaar saam met Hom in die paradys wees nie. Die troos het juis daarin gelê dat hy dieselfde dag by Jesus in die paradys sou wees.

6. Die misdadiger het Jesus gevra om hom by sy hemelvaart en wederkoms te onthou (v.42). Jesus het basies gesê hy hoef nie tot dan te wag nie. ‘Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.’ (v.43).

7. Die res van die Bybel sê dat gelowiges dadelik hemel toe gaan wanneer hulle sterf (16:22, Joh. 11:25-26, Hand. 7:56, 59-60, Rom. 14:8, 2Kor. 5:8, Fil. 1:21, 23, Heb. 12:23, 2Pet. 1:14-15, Op. 14:13).

Maar wat van Ps. 6:6, 115:17, Jes. 38:18? Volgens hierdie verse sal die dooies nie die Here prys nie. Dit gaan hier oor die Here wat mense in sy toorn vir hulle sonde straf (Ps. 6:2, 115:4-8, Jes. 38:17). As die Here hulle vergewe, sal hulle Hom vir ewig prys (Ps. 115:18).

Wat van Prediker 9 waar dit sê dat die dooies niks weet of doen nie? Volgens die konteks doen en weet hulle nie wat onder die son gebeur nie (Pred. 9:5-6, 9-10). Hulle weet met ander woorde nie wat op die aarde aangaan nie (Job 14:21, 2020).

Die dood het geen houvas op ’n gelowige nie (Heb. 2:14-15, Op. 1:18). Jesus lei jou deur die dood, sodat jy veilig by Hom is (Ps. 23:4). Jy is dadelik by Hom in die paradys as jy jou asem uitblaas (v.43). Wat is die paradys? Dit is nie ’n plek waar Ou Testamentiese gelowiges moes wag totdat Jesus gekruisig is en weer opgestaan het nie. Volgens die Bybel is Ou Testamentiese gelowiges dadelik van die aarde af hemel toe (9:30-31, 2Kon. 2:11, Ps. 17:15, Pred. 12:7, Matt. 22:32, Heb. 11:5).

Ander dink aan die paradys as ’n halfweg huis vir Nuwe Testamentiese gelowiges tot en met die wederkoms. Maar volgens Kor. 12:2-3, Op. 2:7, 22:14 is paradys ’n sinoniem vir die hemel. Die Griekse woord paradeisos kom van ’n Persiese woord wat ‘omheinde park of tuin’ beteken (vgl. Gen. 2:8, Pred. 2:5, LXX). Volgens Luk. 16:25 is dit ’n plek van troos. Volgens Paulus in 2Kor. 12:4 kon hy nie beskryf wat hy daar gehoor het nie. Wat van die dinge wat hy daar gesien het? Johannes praat daarvan. In die paradys of hemel het hy die Drie-Enige God gesien, miljarde hemelwesens, die mooiste musiek, ontelbare gelowiges, edelmetale, kosbare stene, die heerlikheid van God wat alles verlig, die boom van die lewe, vrugte, riviere en meer (Op. 4-5, 7, 21-22). Volgens Op. 21:1-2 sal die paradys na die aarde toe neerdaal wanneer Jesus weer kom. Dan sal Hy die nuwe hemel en aarde skep. Dit is basies die herstelde skepping van Genesis 1, ’n tipe tuin van Eden sonder die duiwel om te versoek, die boom van die kennis van goed en kwaad om te toets, of die moontlikheid om sonde te doen en te sterf. Dit is ’n perfekte nuwe wêreld vol lewe, liefde, heiligheid en geregtigheid (2Pet. 3:14). Dit is waarlik iets om na uit te sien.

Maar dit is nie die beste nie. Jesus het vir die misdadiger gesê: ‘Jy sal saam met My in die Paradys wees.’ (v.43). Sonder Jesus in die hemel sou dit hel wees (vgl. Eks. 33:14-16). Die beste deel van die hemel is dat jy die Koning in sy skoonheid sien (Jes. 33:17). Jy het nog nooit en sal ook nooit so iets sien en beleef nie. Jesus, die Vader en die Heilige Gees is wat die hemel hemel maak. Soos die misdadiger aan die kruis, het my oupa dit besef. Gedurende sy lewe het hy nie die Here gedien nie. Êrens voor die einde het hy tot bekering gekom. Op sy sterfbed het hy vir my pa gesê: ‘I am going to see Jesus. He might not say, “Well done, good and faithful servant,” but I am going to see Him.

Kan jy dieselfde sê? Sal jy Hom sien en eendag by Hom wees?


1  Aanhalings uit die 2020 Vertaling.

2  John Bunyan, The Jerusalem Sinner Saved (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2005 [1691])

3  John G. Paton: Missionary to the New Hebrides (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1965 [1889, 1891]), 44

4  D. Martyn Lloyd-Jones, Romans: Exposition of Chapter 12—Christian Conduct (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2000), 510

5  Aangehaal in Murray, The Old Evangelicalism (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2005), 22

Kategorieë