Coram Deo Cover Image

Coming soon...

22 April 2022

Die sewe kruiswoorde van Jesus: Lyding

Johannes 19:28-29

Met die onlangse vloede in KwaZulu-Natal het iemand my vertel dat hulle geen water het nie. Ek vind dit ironies: met so baie reën is daar geen water nie. Dit is omdat die pype weggespoel het en daar modder in die boorgate is.

Net so is dit ironies dat Jesus al die water bo, op en onder die aarde gemaak het, maar dors was. As Jesus wou, kon Hy die wolke beveel het om vir Hom water te gee.1 Maar Hy het nie. Hoekom was Hy dors? Johannes gee vir ons twee redes:

 

1. Om die Skrif te vervul

Party mense sê dat Jesus die Ou Testament geken het en met opset die profesieë vervul het, sodat dit sou lyk of Hy die Messias is. Dit is onwaar. Selfs al probeer mens om ’n profesie te vervul, sal jy dit nie regkry nie. Dan. 11:14 sê: “Die gewelddadiges van jou volk sal hulle laat geld om ’n visioen te verwerklik, maar hulle sal tot ’n val kom.” Geen mens kan so baie profesieë en die fyn besonderhede daarvan in homself vervul nie. Hoe verduidelik jy buitendien dat die einste mense wat Jesus as die Messias verwerp het, die profesieë oor Hom vervul het? “Want die inwoners van Jerusalem en hulle leiers het Hom nie herken nie; en deur Hom te veroordeel, het hulle die uitsprake van die profete, wat elke Sabbatdag gelees word, in vervulling laat gaan.” (Hand. 13:27).

Wyle Peter Stoner, wetenskap professor van Westmont College en Pasadena City College, het onteenseglik gewys dat Jesus die Messias is. Volgens Stoner is die kans dat net agt profesieë in een mens vervul word een uit ’n kwintiljoen (1017). Stoner verduidelik:

‘If you mark one of ten tickets, and place all the tickets in a hat, and thoroughly stir them, and then ask a blindfolded man to draw one, his chance of getting the right ticket is one in ten. Suppose that we take 1017 silver dollars and lay them on the face of Texas. They’ll cover all of the state two feet deep. Now mark one of these silver dollars and stir the whole mass thoroughly, all over the state. Blindfold a man and tell him that he can travel as far as he wishes, but he must pick up one silver dollar and say that this is the right one. What chance would he have of getting the right one? Just the same chance that the prophets would’ve had of writing these eight prophecies and having them all come true in any one man...’2

Dit is as daar net agt profesieë is. Daar is meer as vyftig. en volgens sommige ’n paar honderd.3 Heelwat van die profesieë is rondom Jesus se kruisdood vervul:

  • Die mense sou Hom verag en verlaat (Jes. 53:3, Joh. 19:15).
  • Een van sy vriende sou Hom verraai (Ps. 41:10, Joh. 13:18, 21).
  • Sy dissipels sou vlug (Sag. 13:7, Mark. 14:27, 50).
  • Sy verraaier sou sterf (Ps. 69:26, 109:9, Hand. 1:18, 20).
  • Hy sou tydens sy verhoor stil wees (Jes. 53:7, Matt. 27:12, 14).
  • Hy sou onregverdiglik verhoor word (Jes. 53:8, Mark. 14:55-59).
  • Hulle sou Hom gesel (Jes. 53:5, Joh. 19:1).
  • Hy sou so gemartel word dat Hy onherkenbaar is (Jes. 52:14, Mark. 14:65, Joh. 19:3).
  • Die mense sou Hom aan ’n kruis verhoog (Jes. 52:13, Mark. 15:25, Joh. 12:32) en spykers deur sy hande en voete slaan (Ps. 22:17, Jes. 53:5, Luk. 24:40).
  • Hulle sou sy klere verdeel en vir sy mantel sou hulle lootjies trek (Ps. 22:19, Joh. 19:23-24).
  • Hy sou saam met misdadigers gekruisig word (Jes. 53:12, Joh. 19:18).
  • Hy sou vir sy oortreders bid (Jes. 53:12, Luk. 23:34).
  • Sy vyande sou met Hom die spot dryf (Ps. 22:8-9, Matt. 27:39-44).
  • Sy Vader sou Hom verlaat (Ps. 22:2, Matt. 27:46).
  • Geeneen van sy bene sou gebreek word nie en hulle sou Hom met ’n spies deurboor (Eks. 12:46, Sag. 12:10, Joh. 19:31-37).
  • Hulle sou Hom in ’n ryk man se graf begrawe (Jes. 53:9, Matt. 27:57-60).
  • Hy sou weer uit die dood uit opstaan (Ps. 16:9-11, Matt. 28:1-10, Hand. 2:24-32).

Volgens v.28 het Jesus voor sy dood nog ’n profesie vervul: “Hierna het Jesus, omdat Hy geweet het dat alles reeds volbring is, en sodat die Skrif vervul sou word, gesê: ‘Ek is dors.’”

Onthou die vervulling van hierdie profesieë as jy ooit soos Johannes die Doper wonder of Jesus een is (Matt. 11:2-3). Om Jesus as die Messias en die Seun van God te ontken, is onlogies. Jy is besig om om die duidelikste feite in die wêreld te ontken. Moenie dat iemand jou oortuig dat die Bybel ’n feëverhaal is, of dat geloof ’n blinde sprong in die donker is nie. Daar is meer bewyse vir die waarheid van Jesus en die Bybel as vir enige antieke geskiedenis. As mense jou vra hoekom jy in Jesus en die Bybel glo, moet jy nie sê: ‘Want my ouers het my so geleer; dit is hoe ek groot geword het’ nie. Moenie op jou ouers se geloof staatmaak nie. Jesus en die Bybel moet vir jou persoonlik wes. Aanvaar dit as jou eie, omdat dit die waarheid is (Joh. 14:6, 17:17).

Vertel jou opponente van die profesieë; van hoe dit in detail vervul is. Herinner hulle daaraan dat geen antieke geskrif naastenby soveel manuskripte soos die Bybel het nie. Sê vir hulle dat die Bybel se manuskripte op verskillende tye en verskillende plekke gevind is en dat dit 99% ooreenstem.4 Jy hoef nie te wonder of die Bybel se lering oor Jesus waar is nie. Die profesieë van sy lyding en die res van sy lewe wys dit is waar.

 

2. Om ons dors te les

Een van my vriende hou van fietsry. Tydens ’n wedren het sy water opgeraak. Hy het gedehidreer. Hy het begin hallusineer en vir denkbeeldige mense gesê dat hy besig is om dood te gaan. In die hospitaal het hulle hom op ’n drip gesit. Genadiglik het hy dit oorleef.

Hoe het Jesus gevoel? Sy dors wys dat Hy waarlik mens was (v.28, 4:6-7, vgl. Ps. 50:12-13). Die Ou Testament het dit voorspel: “My krag het uitgedroog soos ’n potskerf, en my tong kleef aan my verhemelte; in die stof van die dood laat U my lê.” (Ps. 22:16, eie beklemtoning). Jesus se droë mond is ’n teken van dehidrasie. Met min water in sy liggaam sou Hy hoofpyne ontwikkel. Omdat sy liggaam niks kon uitsweet nie, sou Hy koorsig raak. Sonder water kan ’n mens se liggaam nie die gifstowwe uitskei nie. Dit sou Jesus se niere laat oppak. Die volgende stap is hallusinasie, skok, bewusteloosheid en die dood.5

Jesus se simptome het nie so ver gegaan nie. Maar Hy was baie dors. Kort voordat die soldate Hom gekruisig het, wou hulle Hom ’n suurwyn-, gal- en mirremengsel gee. Dit was ’n verdowingsmiddel om die spiere te verslap, sodat hulle die spykers met gemak deur sy hande en voete kon dryf (Spr. 31:6). Jesus wou dit nie vat nie (Matt. 27:34, Mark. 15:23). Hy wou by sy volle positiewe wees en die volle pyn vir ons sonde verduur.

Toe Hy aan die kruis gehang het, het die soldate weer vir Hom suurwyn aangebied. Dit was om Hom te spot (Luk. 23:36-37). ’n Mens kan byna sien hoe hulle die suurwyn tot naby sy mond bring en lag terwyl hulle dit wegvat. Dit herinner my aan ’n storie wat iemand my vertel het. Toe hy in die weermag was het hy ’n offierskursus gedoen. As deel van die kursus moes hy vir kilometers met sy uniform, rugsak en wapen loop. Na twee of drie dae was hy baie moeg. ’n Weermag voertuig het verby gery, terwyl een van die offisiere ’n Coke blikkie oopgemaak en voor die troepe op die grond uitgegooi het. Dit is omtrent wat die soldate in Lukas 23 met Jesus gedoen het.

Kort voor Hy gesterf het, het Jesus weer gesê dat Hy dors is (v.28). Hy het die laegraad, goedkoop suurwyn- en watermengsel op die grond gesien staan (v.29, Gk. oxos, Num. 6:3, LXX). Die soldate het met Jesus gespot toe hulle vir Hom die suurwyn aanbied (Ps. 69:22, Matt. 27:48-49). Jesus het nie hierop gereageer nie. Hy was so dors dat Hy, volgens die Griekse teks van v.30, aangehou drink het. Die soldate het die suurwyn in ’n spons op ’n hisop- of marjoleintak gesit (v.29). Hisop is ’n antiseptiese middel wat vir ontsmetting gebruik is (v.29). Dit was simbolies vir reiniging (Eks. 12:22, Lev. 14:1-7, Num. 19:18, Ps. 51:9, Heb. 9:19). Sonder dat die soldate dit bedoel het, het die spons op die hisoptak gewys dat Jesus die Lam van God is wat mense deur sy bloed reinig (1Joh. 1:7).

Wat is die sonde wat jou onrein maak? Bitterheid, woede, haat, jaloesie? Dalk wellus of ander vorme van seksuele sonde? Leuens, vuil taal, geskinder? Selfgesentreerdheid, selfbejammering, hoogmoed? Diefstal of verslawing? Biddeloosheid of kleingeloof? Maak jy ’n afgod van iets wat op sigself nie sonde is nie: geld, jou huwelik, jou kinders, sport of iets anders (Luk. 14:18-20)?

Jesus kan jou deur sy bloed reinig. Bely jou sonde en praat die saak met Hom uit (Jes. 1:18, 1Joh. 1:9). Vra Hom om jou in ’n nuwe mens te verander (2Kor. 5:17). Paul Tripp vertel dat hy met woede gesukkel het. Selfs na sy bekering toe hy al in die bediening was, het hy daarmee gesukkel. Sy broer het dit onder sy aandag gebring. Hy het sy sonde bely en die Here gevra om hom te help. Ek het iets soortgelyk ervaar. Toe ek in die laerskool was, het ek ’n geweldige humeur gehad. Selfs na my bekering, toe ek in die hoërskool was, het ek gesukkel. Die Here het my gereinig en my gehelp om dit te oorkom.

Jesus gee nie net vir jou ’n skoon rekord nie (Kol. 2:14); Hy reinig jou hart (1Kor. 6:11). Deur die suurwyn en Jesus wat dors was, het Hy ons verhouding met die Vader kom herstel (1Pet. 2:25). Hoe doen Hy dit? Alhoewel Jesus letterlik suurwyn gedrink het, is die wyn ook simbolies van die beker van God se oordeel wat Hy namens ons moes drink (18:11, Mark. 14:36, Ps. 75:9, Jes. 51:17, Jer. 25:15-29, Op. 14:10-11). Omdat Jesus dit gedrink het, kry ons die beker van verlossing wat ons in die nagmaal sien (Ps. 23:5, 116:13, Luk. 22:20). Jesus was dors om ons dors te les (Jes. 41:17-18), sodat ons nie eendag in die hel sal dors wees nie (Luk. 16:24). Kom drink deur geloof van die lewende water en die bloed wat Jesus ons gee (6:53-56, 7:37-39, 19:34, Eks. 17:6, 1Kor. 10:4).

Moenie net by jou bekering daarvan drink nie, maar drink dit gereeld deur die Woord, die nagmaal, samesyn met ander gelowiges en gebed (Joh. 15:7, Hand. 2:42, 2Kor. 13:13, 1Joh. 1:3). Dit geld ook vir die lewe hierna waar ons vir ewig van die fontein van lewende water sal drink (Jes. 49:10, Op. 7:16-17, 21:6). Die wêreld glo dit nie en wil hulle dors met die dinge van hierdie lewe les (4:15-18). Dit werk nie; jy sal dors bly. Net Jesus kan jou dors les (Joh. 4:14). Kom drink verniet van die water wat Hy gee; sonder verdienste, goeie werke, godsdiens of geld (Jes. 55:1, Op. 22:17). Dit is verniet! Die enigste vereiste is dat jy jou dors moet erken. Vra Jesus vir die lewende water. Hy sal jou nie suurwyn gee nie (6:35, Matt. 5:6).

Dit geld nie net vir ongelowiges wat vir die eerste keer kom drink nie, maar vir die gelowige wat ’n droë tyd deurmaak en die Vader lanklaas naby gevoel het. Bid Ps. 42:2-3, 63:2 en maak dit jou eie:

“Soos n wildsbok wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God. My siel dors na God, na die lewende God. Wanneer kan ek in die tempel ingaan en voor God verskyn? ... God, U is my God, na U soek ek; my siel dors na U, my liggaam smag na U in ’n droë, uitgeputte land sonder water.”

As jy die Here met jou hele hart soek, sal jy Hom vind (Jer. 29:13, Luk. 11:9-13). Dit geld ook vir die geredde persoon wat die Here nog nooit so naby ervaar het nie. As Hy jou besoek, sal jy sien dat dit beter is as wanneer jy in die wildtuin stilsit en die wild tot naby jou kom en uit jou hand uit eet. Vir die Here om naby te kom is nie ’n vreemde verskynsel nie. Hy is immers jou Vader en jy sy kind. Om in sy teenwoordigheid te lewe, moet die norm wees. Dit is waarvoor Jesus aan die kruis gely het en dors was: om ons na die Vader toe te bring (1Pet. 3:18), sodat ons langs die lewende water kan woon en daagliks daaruit kan drink (Ps. 23:2).


1  C.H. Spurgeon, The Treasury of the Bible: New Testament—Vol. 2 (London: Marshall, Morgan & Scott, 1962), 665. Sien ook Mark Jones, Knowing Christ (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2015), 147-8

2  Peter W. Stoner, Science Speaks, ch. 3. Verkry by http://sciencespeaks.dstoner.net/Christ_of_Prophecy.html#c9

3  https://www.gotquestions.org/prophecies-of-Jesus.html en https://www.gordonconwell.edu/blog/jesus-in-the-old-testament/

4  Wayne Grudem, Systematic Theology (Nottingham, England: Inter-Varsity Press, 1994, 2007), 96

5  https://www.medicalnewstoday.com/articles/325174#summary

Kategorieë