Johannes 19:26-27

Die wêreld is opsoek na liefde. Mens hoor dit in hulle liefdesliede. Maar hulle sal dit nie buite Christus vind nie, omdat Hy liefde en die uitdrukking van God se liefde is (1Joh. 4:8, 10). Deur Jesus se lewe en kruisdood het Hy ware liefde geïllustreer. Ons dit onder andere in Joh. 19:26-27.

 

1. Maria

Iemand het my eenkeer ’n video van ’n man met ’n spesiale bril op gewys. Deur die bril kon hy mense se seer sien. Toe hy byvoorbeeld na iemand in ’n restaurant kyk, het daar op die bril se lense gestaan: ‘Busy going through a divorce.’ Toe hy na ’n vrou kyk, toe staan daar: ‘I am dying of cancer.’ Jy kry die idee.

Jesus het mense so geken en gesien. So het Hy vir Maria by die kruis gesien (v.26). Sy stiefpa Josef was al oorlede. Nou moes Maria haar oudste Seun aan die kruis sien sterf. Jesus het haar hartseer, trane en pyn gesien. Hy het ’n swaard deur haar siel gesien gaan (Luk. 2:35). Hy het ’n vrou gesien wat Hom vir nege maande gedra het; ’n vrou wat die reputasie van ’n losbandige persoon gehad het, al was sy onskuldig (Matt. 1:18-19); ’n vrou wat haar aan die Here onderwerp het en sy Woord geglo het (Luk. 1:38, 45).

Hy het ’n nederige vrou gesien wat die Here gedank en geprys het (Luk. 1:46-55); ’n arm vrou vir wie daar nie plek in die herberg was nie (Luk. 2:7); ’n vrou wat nie ’n lammertjie kon bekostig nie en derhalwe ’n duif moes offer (Luk. 2:22-24). Hy het ’n vrou gesien wat nie alles omtrent die Messias verstaan het nie, maar haar oor Hom verwonder het (Luk. 2:19, 33, 51). Hy het ’n vrou gesien wat met haar baba Egipte toe moes vlug, omdat sy lewe in gevaar was (Matt. 2:13-14). Hy het ’n vrou gesien wat die wet gehoorsaam het (Luk. 2:22-24); ’n lojale vrou wat tot die einde daar was (v.25).

Wat sien Jesus wanneer Hy na jou kyk? Dalk ’n lewe van sonde, hartseer, verwarring, onsekerheid, angs of pyn? Jesus weet alles van jou (2:24-25). Hy ken jou diepste geheime. Sy hart vir jou is vol liefde. Ek weet dit op grond van sy deernis en ontferming vir siek, verlore en hulpelose mense. Ons sien dit aan die kruis. Sy hoof, liggaam, hande, voete, die kruis en die grond onder Hom was rooi van sy bloed. Hy het erger as Maria gely. Om haar te sien ly, het sy lyding vererger. Tog het Hy nie aan Homself gedink nie. Hy was besorg oor Maria. Sy liefde vir haar was selfloos en opreg. Hy was onder geen verpligting om sy hemelse heerlikheid te verlaat en mens te word nie. Hy het dit uit liefde vir ons gedoen, omdat Hy ons by Hom wil hê (Joh. 17:24). Nie dat ons aantreklik of lieflik is nie. Jesus het gekies om onvolkome sonder ons te wees (Ef. 1:23).

Laat sy liefde jou troos as jy deur ’n moeilike tyd gaan, of as die Here ver voel en nie dadelik jou gebede beantwoord nie. Moenie sy liefde betwyfel nie. Jy verdien die hel en tog het Hy sy lewe, laaste asem en laaste druppel bloed gegee om jou te verlos. Sal Hy vir jou ly en jou dan in jou tyd van nood verlaat (Rom. 8:32)? Sal Hy jou in jou verlore toestand liefhê (Rom. 5:8) net om jou minder lief te hê noudat jy sy kind is (Rom. 5:10)? As God is Jesus se liefde vir sy kerk oneindig (13:1, 15:9, Jer. 31:3, Ef. 3:18-19). Sy Goddelike liefde oor ons is soos sonstrale wat in ’n vergrootglas konsentreer (John Flavel).1 As die seun van Maria wat waarlik mens is (v.26, 1:14, Gal. 4:4), is Jesus se liefde vol medelye. Hy verstaan jou lyding:

[a] Hy het fisies gely. Mense het Hom geklap, met die vuis geslaan, sy baard uitgetrek, Hom gegesel, dorings in sy skedel gedruk, spykers deur sy hande en voete geslaan. Aan die kruis het Hy in sy eie bloed versmoor (Eng. asphyxiation).

[b] Hy het emosioneel gely. Mense het Hom uitgetart, gespot en op Hom gespoeg. Sy eie skepsels, volk, familie en vriende het Hom verwerp.

[c] Hy het geestelik gely. Satan en demone het Hom geteister. Sy Vader het Hom verlaat. Hy het ons sondeskuld en die straf vir ons sonde gedra.

Ly jy fisies as gevolg van siekte of kroniese pyn? Ly jy emosioneel deurdat jy ’n geliefde aan die dood afgestaan het, verwerp is, geboelie word of depressief is? Ly jy geestelik deurdat jy vir jou geloof vervolg word, sterk versoeking ondergaan, onder die mag van sonde en die duiwel is? Voel dit vir jou of die hemel stil is? Jesus het medelye (Heb. 2:18, 4:15). Jou lyding en stryd trek Hom na jou toe soos ’n siek persoon se ellende ’n goeie dokter se deernis opwek (5:31-32). So was Jesus se liefde vir Maria. Die feit dat Hy haar ‘vrou’ noem, vat nie daarvan weg nie (v.26, 2:4). Eintlik was dit ’n baie respekvolle manier om iemand aan te spreek. Dit is soos as my vriend se kinders hulle ma ma’am noem.

Maar dit wys ook dat Maria en Jesus nie meer in ’n ma-seun verhouding staan nie. Gevolglik vereer ons haar nie as ’n tipe mede-verlosser (Eng. co-redemptrix) en middelaar soos die Katolieke doen nie. Jesus is die enigste Verlosser en Middelaar (Jes. 43:11, Joh. 14:6, 1Tim. 2:5). Deur sy kruisdood het Hy ’n volmaakte verlossing bewerk (Joh. 19:30). Hy het nie Maria se hulp nodig nie. Tog gooi ons haar nie weg nie. God het haar gekies om die Verlosser in die wêreld te bring en daarom is sy bo alle vroue bevoorreg (Luk. 1:35, 42).

Jesus het haar nie vergeet nie. Hy het ’n hart vir weduwees (Eks. 22:22-24, Ps. 68:6-7, 146:9) en daarom het Hy vir Maria voorsorg getref (v.26). Hy het dieselfde hart vir die weduwees in sy kerk. Hy sal jou nie verlaat nie, maar sal vir jou sorg net soos God vir die voëls sorg. Hoe doen Hy dit?

 

2. Johannes

’n Teologiese student het eenkeer in my teenwoordigheid van ’n ander student gesê: ‘Ek kan hom net in die veld sien stap, dan kry ek hom lief.’ Jesus het so gevoel oor Johannes. Johannes is die dissipel vir wie Jesus lief was (v.26, 21:20, 24). Jesus het hom liefgehad soos Hy Daniël liefgehad het (Dan. 9:23, 10:11, 19). Johannes was deel van die binnekring (Luk. 8:51, 9:28, 22:8, Mark. 14:33). Hy was Jesus se beste vriend (13:23).

Is dit omdat hy beter as die ander was? Nee. Hy was gebroke en vol sonde. Hy was ’n geharde visserman (Matt. 4:21). Saam met sy broer Jakobus was hy die seun van donder (Mark. 3:17). Hy het ’n misplaaste ywer gehad (Luk. 9:54). Hy was eng (Luk. 9:49). Hy was voorbaring en selfversekerd (Mark. 10:35-39). Jesus het hom in ’n liefdevolle en nederige dissipel verander.

Hoe het Hy dit gedoen? Johannes was bewus van Jesus se liefde vir hom. Hy het homself ‘die ander dissipel, die dissipel vir wie Jesus lief was’, genoem (v.26, 1:35-40, 18:15, 21:7). Hy kon homself nie so ver bring om sy eie naam te noem nie. Ek kan my voorstel dat hy vir homself gesê het: Wie is ek dat Jesus mý sou liefhê? Later het hy die kruis as Jesus se liefdesdaad vir hom verstaan; vir sy sonde en die wêreld s’n (3:16). Sy diep sin van Jesus se liefde het hom die apostel van liefde gemaak. Dit het hom gedring om God en sy naaste lief te hê. Hy het ander hierin aangemoedig (1Joh. 4:7-21). Dit het gebeur, omdat hy naby Jesus en sy kruis gebly het (v.26). Ja, in Getsemane het hy saam met die ander dissipels geval (Mark. 14:50). Maar hy het dadelik berou getoon en soos gom aan Jesus se sy gebly (v.26, 18:15). Van al die apostels was hy die enigste een by die kruis. Jesus se besondere liefde het by hom ’n reaksie van lojale liefde ontlok. Naas die vroue was Johannes eerste by die leë graf (20:4). Die vroue het die opgestane Jesus voor hom gesien, maar hy het eerste geglo, selfs toe hy nie gesien het nie (20:8, 29).

Hier is troos vir afgedwaalde skape. Johannes het Jesus verlaat. Toe hy na ’n rukkie terugkeer, toe ontvang Jesus hom as die geliefde dissipel sonder om hom te verwyt (v.26-27). Sal Hy dit nie vir jou doen nie? Nader tot God en Hy sal tot jou nader (Jak. 4:8). Deur Jesus se liefde kan jy soos Johannes wees: meer toegewyd as voor jy afgedwaal het. Jy sal soos ’n man wees wat ek ken. Hy het afgedwaal, maar toe die Here hom terugbring, was hy meer toegewyd as ooit. Jy sal soos ’n skaap wees wat wegdwaal. As die herder die skaap se been breek en vir ses weke op sy skouers dra, bly hy by die herder—hy dwaal nie weer af nie.

Soos Johannes wil ek tot die einde by Jesus en die kruis bly. Hoe sal ons dit regkry? Neem jou kruis elke dag op en volg vir Jesus (Luk. 9:23). Luister na die getroue verkondiging van die gekruisde Christus (1Kor. 2:2). Herdenk gereeld Jesus se kruisdood in die nagmaal (1Kor. 11:23-26, Gal. 3:1). Roem in die kruis en prys die Here daarvoor (Gal. 6:14). Bely daagliks jou sonde op grond van Jesus se bloed wat vir jou gestort is (1Joh. 1:7, 9). As jy so by die kruis bly, sal jy jou sonde al hoe meer haat (Eseg. 36:31). Die sig daarvan sal jou nederig maak. Daar is nie plek vir hoogmoed by die kruis nie (Luk. 9:44-46). ’n Visie van die kruis sal jou beursie oopmaak. Jy sal vir die Here se werk gee, omdat Jesus sy lewe vir jou gegee het (2Kor. 8:9). Jy sal ander vergewe soos die Here jou vergewe het (Ef. 4:32). Jy sal jou vrou met opoffering liefhê soos Christus sy bruid liefgehad het (Ef. 5:25). Jy sal elke gelowige so liefhê (1Joh. 3:16-18). Deur die Gees sal jy God liefhê, omdat Hy jou eerste liefgehad het (Rom. 5:5, 1Joh. 4:19).

Kan jy sien hoe die kruis sentraal vir ’n gesonde geestelike lewe is? Die kruis is nie iets wat jy agterlaat, nadat jy tot bekering gekom het nie. Dit is iets wat jy gedurig onthou. Selfs as jy in die hemel is, sal jy Jesus vir sy kruisdood dank (Op. 5:9). Jesus is die middelpunt van die hemel. Hy deel nie die verhoog met Maria nie. Die feit dat Jesus haar Johannes se moeder noem (v.27), beteken nie sy is ons almal se ma nie. Sy was Johannes se ma, omdat hy haar ingeneem het. Dit het hy gedoen, omdat haar kinders ongelowig was (Joh. 7:5). Buitendien was Johannes Maria se susterskind (vgl. v.25, Matt. 27:56, Mark. 15:40). Hy was die apostel van liefde wat mooi na Maria sou omsien. Hy het Jesus onmiddellik gehoorsaam en vir Maria ingeneem (v.27). Kon hy anders in die lig van Jesus se groot liefde vir hom?

Eintlik gaan v.27 in die eerste plek nie oor Johannes se liefde vir Jesus nie, maar oor Jesus se liefde vir Maria deur Johannes. Net so wil Hy jou as ’n instrument gebruik om sy liefde aan ander te bewys. Het jy ’n weduwee in jou gesin of familie? Wys Jesus se liefde deur vir haar te sorg (1Tim. 5:16). As jy nalaat, is jy nie soos Jesus nie. Waarskynlik is jy nog ’n ongelowige (Matt. 15:5-9, 1Tim. 5:8). Ware geestelikheid is nie om in tale te praat nie. Dit is nie om hoendervleis te kry as jy iemand se getuienis hoor of ’n koortjie herhaal nie. Dit is om God met jou hele wese lief te hê en jou naaste soos jouself (Luk. 10:27). ’n Voorbeeld hiervan is om jou ma te versorg as sy ’n weduwee is (v.26-27). Dít is ware godsdiens wat die Here tevrede stel (1Tim. 5:4, Jak. 1:27).

Dit geld nie net vir gelowige kinders nie, maar vir ’n gemeente met weduwees wat niemand het om vir hulle te sorg nie (1Tim. 5:3-4). Aanvaar hulle as ’n moeder in die geloof (v.27, Rom. 16:13, 1Tim. 5:2). Jesus het dit vir Maria gereël (v.26-27). Daardeur het Hy haar geëer en namens ons die wet onderhou (Eks. 20:12, Spr. 23:22). Daarna het Hy vir ons ongehoorsaamheid (ook ons disrespek vir ons ouers) gesterf.

Kan jy die bloed oor sy gesig sien stroom en jou hart vir die persoon langs jou toesluit? Een van ons lidmate het onlangs met so iemand te doen gekry. Die man was bitter teenoor sy skoonma; so bitter dat hy die evangelie nie kon inneem nie. Weet jy van iemand wat jy vandag moet help of vergewe? Kan jy Jesus aan die kruis sien hang en ongeërgd wees? Sal jy omdraai en onveranderd wegloop?


1  John Flavel, The Love of Christ (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2011 [1639, 1862]), 127-8